Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 30 August 2023

A. Kwessies in die omgewing

1. BRICS XV-spitsberaad en die Johannesburg II-verklaring

1.1. Suid-Afrika het 'n suksesvolle BRICS XV-beraad aangebied, waartydens die geskiedkundige Johannesburg II-verklaring aanvaar is.
1.2. Die Kabinet het sy waardering uitgespreek teenoor die Suid-Afrikaanse span wat behendig deur ons Staatspresident, Sy Eksellensie Cyril Matamela Ramaphosa gelei is; hy het verseker dat die beraad beide inhoudelik en logitisties ’n groot sukses was.
1.3. Die President sal die nasie toespreek oor die suksesvolle BRICS XV-beraad, sowel as oor ander belangrike sake.

2. Staatsbesoek deur die President van China

2.1. Suid-Afrika was op Dinsdag 22 Augustus 2023, voor die aanvang van die BRICS-beraad, gasheer tydens 'n staatsbesoek van Sy Eksellensie, President Xi Jinping van die Volksrepubliek China. Dié staatsbesoek het ook 25 jaar van diplomatieke betrekkinge tussen die Republiek van Suid-Afrika en die Volksrepubliek China gevier.
2.2. Die Volksrepubliek China is tans Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.
2.3. China het voorheen noodkragtoerusting ter waarde van R167 miljoen geskenk en het sedertdien ’n bydrae van R500 miljoen vir ontwikkelingshulp beskikbaar gestel.
2.4. Die Kabinet het die ondertekening van verskeie ooreenkomste en memoranda van verstandhouding tussen die Suid-Afrikaanse regering en die Volksrepubliek China op die gebied van handel, energie en hoër onderwys verwelkom.
2.5. Onder die ondertekende ooreenkomste is die China-Afrika-ontwikkelingsfonds tussen die IDC en die Bank van China. Hierdie fonds sal verhoogde beleggings in Suid-Afrika stimuleer.
2.6. Die Kabinet het ook die heropening van die Chinese mark vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse beesvleis, benewens die uitvoer van Suid-Afrikaanse avokado's na China, verwelkom. Hierdie uitvoerooreenkomste sal nuwe geleenthede vir ons plaaslike produsente, insluitend kleinskaalse boere, ontsluit.
2.7. Suid-Afrika onderhandel met BYD, die Chinese motorvervaardiger en die wêreld se grootste elektriese voertuigvervaardiger, vir die moontlike oprig van 'n vervaardigingsaanleg in Suid-Afrika. Dit is bykomend tot die oprigting van die BAIC-vervaardigingsaanleg (nog 'n Chinese motorvervaardiger) in Suid-Afrika.

3. Hoogtepunte in die ekonomie

3.1. Kwartaallikse Arbeidsmagopname

3.1.1. Die Kabinet verwelkom die resultate van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal soos vrygestel deur Statistieke Suid-Afrika; dit dui 'n effense afname in die werkloosheidsyfer van 32,9% in die eerste kwartaal tot 32,6% in die tweede kwartaal aan.
3.1.2. Die Kabinet is ook tevrede dat 154 000 nuwe werksgeleenthede in die tweede kwartaal geskep is, wat die aantal werkende mense op 16,3 miljoen te staan bring. Dit is die 7de kwartaal van opeenvolgende toenames in indiensneming, wat Suid-Afrika nader aan die pre-Covid-19-indiensnemingsyfer van 16,4 miljoen laat beweeg.
3.1.3. Die Kabinet het ook kennis geneem van die “green shoots” met die vermindering van jeugwerkloosheid met 131 000 en 'n toename van 105 000 in die aantal werkende jeugdiges tot 5,7 miljoen.

3.2. Verbruikersprysinflasie (VPI)

3.2.1. Die Kabinet het verder verslae deur StatsSA verwelkom dat die jaarlikse Verbruikersprysinflasie in Julie 2023 tot 4,7% verlangsaam het, van 5,4% in Junie 2023.
3.2.2. Die jaarlikse inflasiekoers vir goedere was 5,5% vir Julie 2023 vanaf 6,3% in Junie 2023, terwyl die inflasiekoers vir dienste 4,0% laer was vanaf 4,5% in dieselfde tydperk.

4. Agro-energiefonds sal landbou en die landbousakesektor ondersteun

4.1. Op 27 Augustus 2023 het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, in samewerking met die Land Bank, 'n Landbou-energiefonds van R1,21 miljard geloods ter ondersteuning van die landbou- en die landbousakesektor om alternatiewe energiebronne te installeer en voort te gaan met die vervaardiging van voedsel, vesel en drank.
4.2. Die sektor is een van die intensiewe energiegebruikers en is van kritiese belang vir die stabiliteit van Suid-Afrika se voedselsekuriteit, uitvoerverdienste en indiensneming; dit maak dus hierdie regeringsingryping noodsaaklik om volhoubaarheid te verseker.
4.3. Die Fonds is inklusief en sal boerdery-sakeondernemings van alle groottes ondersteun in 'n benadering van vermengingsfinansiering, met die Land Bank wat die fonds bestuur. Die Fonds sal ook alle landbou- en landbou-sakeaktiwiteite insluit wat energie-intensief is.

5. Implementering van die Staatskapingskommissie se aanbevelings

5.1. Die herstel van bates van die Nasionale Vervolgingsgesag is R10,2 miljard in die huidige MTBR-tydperk en R2,55 miljard daarvan hou verband met staatskaping.
5.2. Die Kabinet het agt van die 14 nuwe wetswysigings wat in ons implementeringsplan geïdentifiseer is, goedgekeur en in die Parlement ter tafel gelê. Werk gaan steeds voort om te verseker dat diegene wat vir staatskaping verantwoordelik is, tot verantwoording geroep word.

6. Die styd teen misdaad, korrupsie en onwettige immigrasie

6.1. Die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wys dat ons as 'n samelewing meer moet doen om die plaag van misdaad die hoof te bied. Die Kabinet doen 'n beroep op almal om by die stryd betrokke te raak en om saam te werk om ons huise, werkplekke en openbare ruimtes veiliger vir almal te maak.
6.2. Die Kabinet het die uitbreiding van die geïntegreerde misdaadbestrydende “Operasie Shanela” na ander provinsies, insluitend die Noord-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, verwelkom.
6.3. Die Kabinet het kennis geneem van die onlangse skuldigbevinding en vonnisoplegging van ses mans wat daarvan beskuldig is dat hulle die teenkorrupsie-fluitjieblaser, me Babita Deokaran, in Augustus 2021 vermoor het. Die Kabinet het 'n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om verder ondersoek in te stel en te verseker dat die meesterbreine agter die moord aan die kaak gestel word.
6.4. Die Kabinet het die geïntegreerde benadering tot misdaadbekamping geprys. Dié benadering het onlangs daartoe gelei dat die Departement van Binnelandse Sake 67 burgers van Pakistan, wat op Sondag 13 Augustus 2023 die land onwettig by die OR Tambo Internasionale Lughawe wou binnekom, onderskep het.

7. Transforming MENtalities-spitsberaad 2023

7.1. The Transforming MENtalities-spitsberaad wat onlangs ten einde geloop het, het 'n onuitwisbare indruk op 1 500 deelnemers gemaak. Met sy kragtige betrokkenheid en insiggewende besprekings, is dit gereed om die weg te baan vir die transformasiebehoeftes van mans en seunsgedrag. Die beraad, wat by die Birchwood Hotel en OR Tambo-konferensiesentrum gehou is, het vise-kanseliers van universiteite; dekane, prinsipale en raadsvoorsitters van TVET-kolleges;  studente-ondersteuningstrukture en -leierskap; hoofuitvoerende beamptes van SETA's; entiteite van die departemente van hoër onderwys en wetenskap en innovasie; beleidmakers; oorlewendes; portuuropvoeders en veranderingmakers, verenig deur 'n gedeelde verbintenis tot die aanpak van geslagsgebaseerde geweld binne die naskoolse onderwys- en opleidingsektor.
7.2. Die beraad is aangebied deur “HIGHER HEALTH” en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) namens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en die Departement van Wetenskap en Innovasie. Die doel was om die sektorleierskap te betrek by die transformasie van mentaliteite en die hoofoorsake van geslagsgebaseerde geweld die hoof te bied.
7.3. Bewyse en data dui daarop dat mansgedrag een van die hoofoorsake van geslagsgebaseerde geweld is en die beraad het ’n oproep op mans en seuns gedoen om deel van die oplossing te wees.
7.4. Die beraad het ’n beroep gedoen vir die ontwikkeling van meer portuuropvoeders en kampvegters oor al ons kampusse heen, om as veranderingsagente te werk om MENtaliteite te transformer. Meer mans-dialoog moet ook oor alle instellings heen plaasvind, wat geslagstudies insluitend geslagsgebaseerde geweld, geslagsgelykheid, geslagsdiversiteit en transformasie van MENtaliteite as ’n mede-kurrikulum insluit saam met die hoofkirikulum in die Naskoolse Onderwys- en Opleidingsektor.

8. Elektrisiteit

8.1. Die Kabinet het die jongste nuus oor die elektrisiteitsituasie in die land gekry en kennis geneem van veslae oor die voortgesette verbetering in die beskikbaarheid van elektrisiteit.
8.2. Hoewel beurtkragfases in die laaste paar dae tot fase 4 gestyg het, het die situasie sedertdien verbeter met die terugkeer van eenhede na opwekking; en Eskom vermider steeds geleidelik die beurtkragfases.
8.3. Die Kabinet het kennis geneem dat daar gemeenskappe is wat weens kragonderbrekings en nie deur beurtkrag nie, geen elektrisiteit het nie. Hierdie kragonderbrekings word veroorsaak deur stelseloorlading weens onwettige verbindings, diefstal of vandalisme van substasies en transformators, asook vandalisme van verspreidingslyne. Die gemeenskappe wat geraak word, sluit in dié in dele van Soweto, dele van Thembisa, KwaThema, Komane, Taung en Ditsobotla.
8.4. Die Minister van Elektrisiteit en die Departement van COGTA het begin met 'n program om met die gemeenskappe wat hierdeur geraak word in gesprek te tree om ooreen te kom oor maatreëls wat die vervanging van beskadigde infrastruktuur moontlik sal maak. Dit hou verband met die verbod op onwettige verbindings, gemeenskapsvennootskappe in die beskerming van elektrisiteitsinfrastruktuur, en betaling vir elektrisiteitsvoorsiening.
8.5. Suid-Afrika se ooreenkoms met Chinese maatskappye rakende ooreenkomste wat onlangs geteken is, sal 'n beduidende rol speel in die bekendstelling van elektrisiteitsinfrastruktuur met selfbehoudvermoë.

9. Konsepwetsontwerp op die Wes-Kaapse Provinsiale Bevoegdhede

9.1. Die Kabinet is ingelig oor die ongrondwetlike konsepwetsontwerp op die Wes-Kaapse provinsiale bevoegdhede.
9.2. Die Konsepwetsontwerp oortree die bepalings van Bylaes 4 en 5 van die Grondwet wat magte en funksies uiteensit, insluitend gelyktydige bevoegdhede van beide die provinsiale en die nasionale uitvoerende gesag.
9.3. Die Kabinet het opgemerk dat hierdie konsepwetsontwerp 'n poging is om terug te keer na die Demokratiese Party (voorloper van die Demokratiese Alliansie) se voorkeur federale benadering wat poog om 'n verenigde en inklusiewe Suid-Afrika te ondermyn.
9.4. Dit is opmerklik dat die Wes-Kaapse konsepwetsontwerp die uitsluiting van toegang tot dienste deur die groot swart gemeenskappe, soos onder meer Khayelitsha, Gugulethu, Nyanga, Langa, die Kaapse Vlakte, Delft, Sentraallyn, ignoreer.
9.5. Die Kabinet het die Ministers van Justisie en COGTA opdrag gegee om met die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek te tree in ooreenstemming met die toepaslike geskilbeslegtingsmeganismes soos voorsien in artikel 146 van die Grondwet en die toepaslike inter-regeringsraamwerk.

B. Kabinetsbesluite

1. Verlenging van die Taxi-hulpfondsuitbetaling

1.1. Die Kabinet het die verlengingstydperk vir die uitbetaling van die Taxi-hulpfonds vir nog 12 maande goedgekeur. Die verlenging sal die Departement van Vervoer genoeg tyd gee om die talle taxi-operateurs wat nog die hulpfondse moet ontvang, by te staan. Tot op hede is 88 580 taxi-operateurs bygestaan.
1.2. Die fonds is gestig om minibustaxi's, taxi's en e-roeptaxi’s by te staan wat finansieel benadeel is tydens die koronaviruspandemie se harde inperkings, in ooreenstemming met gestipuleerde kriteria.

2. Groenskrif oor die Ontwikkeling van Toerisme in Suid-Afrika

2.1. Die Kabinet het die publikasie van die Groenskrif oor die Ontwikkeling van Toerisme vir openbare kommentar goedgekeur. Die beleid is daarop gerig om toerisme in Suid-Afrika te bevorder en die struikelblokke wat groei in toerisme verhinder die hoof te bied.
2.2. Die beleid sal landelike en buitestedelike toerisme bevorder deur die profilering en sigbaarheid van landelike produkte aan te moedig. Beleidsvoorstelle fokus ook onder meer op toerismebestuur en samewerking; veiligheids- en sekuriteitsbestuur; transformasie; en die gebruik van tegnologie.
2.3. Die publiek het 90 dae om kommentaar te lewer oor die beleid. Die Groenskrif is beskikbaar op www.tourism.gov.za

3. Nasionale Beleid oor die Teater en Dans

3.1. Die Kabinet het die Nasionale Beleid oor Teater en Dans goedgekeur. Die beleid poog om die histories geïnstitusionaliseerde ongelykhede en teenstrydighede, wat met rasse- en ekonomiese toetrede tot die teater en dans verband hou, die hoof te bied.
3.2 Die beleid het ten doel om 'n visie en praktiese beleide, strategieë, implementeringsmeganismes en tydraamwerke te vestig, wat sal lei tot 'n volhoubare en lewendige teater- en danssektor in al nege provinsies, met Suid-Afrikaanse dans- en teaterskeppers wat die land met trots in Afrika en wêreldwyd verteenwoordig.

4. Moniteringsverslae oor noodsaaklike voedselpryse

4.1. Die Mededingingskommissie het noodsaaklike voedselpryse gemonitor weens kommer oor prysverlagings wat sedert die verklaring van die ramptoestand in Maart 2020 geopper is.
4.2 Die voortgesette monitering van noodsaaklike voedselpryse word gemotiveer deur die behoefte om bekostigbare en toeganklike noodsaaklike voedselprodukte vir verbruikers te verseker.
4.3 Die kommissie het kennis geneem van die 'vuurpyl en veer'-effek, waar pryse vinnig styg, dikwels meer as kostestygings, en stadig afneem sodra kostedruk afneem. Dit het ook die aandag gevestig op die gekonsentreerde aard van die voedsel- en kleinhandelmarkte as 'n kommerwekkende bydraende faktor.
4.4 Die Kabinet het kennis geneem van die kommissie se aanbevole maatreëls, insluitend marknavrae om strukturele eienskappe in die mark, wat tot hoë voedselpryse en lae vlakke van mededinging lei, die hoof te bied.
4.5 Die Kabinet het goedgekeur dat die Ekonomiese Kluster 'n aksieplan moet instel oor voedselpryse, voedselsekerheid en toegang tot voedsel.

C. Aaanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Me Nosiphiwo Mzamo as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Staatsdiamanthandelaar.
2. Mnr Loyiso Tyabashe as die HUB van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (heraanstelling).
3. Aanstelling van nie-uitvoerende lede om vir 'n tydperk van drie jaar op die Raad van die Hawensreguleerder te dien

3.1 Mnr Aubrey Ngcobo as Voorsitter
3.2 Me Lauriette Lynne Sesoko
3.3 Adv. Derrick Jeffrey Block
3.4 Me Thembela Beryl Taboshe
3.5 Mnr Abdul Qadir Chogle
3.6 Dr Percy Derrick Manzini
3.7 Me Princess Mangoma
3.8 Me Sizakele Makhanya
3.9 Me Ntebaleng Rolland Setlako
3.10 Me Marcia Xolisile Mkhari
3.11 Me Leanda Marsha Mtshali – heraanstelling

4. Aanstelling van nie-uitvoerende direkteure op die raad van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA) vir 'n tydperk van drie jaar

4.1 Mnr Mahesh Fakir – Voorsitter
4.2 Mnr Tau Morwe – Adjunkvoorsitter
4.3 Adv Aurelia Nosipho Sobekwa
4.4 Dr Natalie Skeepers
4.5 Me Nogolide Feziwe Nojozi
4.6 Mnr Sihle Nguse

D. Toekomstige gebeure

1. Erfenismaand

1.1. Erfenismaand word gehou onder die tema: “Vier ons kulturele diversiteit in ’n demokratiese Suid-Afrika”. Gemeenskappe word versoek om Erfenismaand in September te gebruik om ons nasie te verenig, terwyl ons, ons ryk erfenis en diversiteit vier.

2. Staatsdiensmaand

2.1. Die Staatsdiens vier Staatsdiensmaand tussen 1 en 30 September 2023. Die maand is daarop gerig om ons te herinner aan wat dit is om te dien, en bied ons 'n geleentheid om na te dink oor hoe staatsamptenare die lewens van gemeenskappe kan beïnvloed en verander.

3. Thusong Dienssentrumweek

3.1. Vanjaar se jaarlikse Thusong-dienssentrumweek vind van 18 tot 22 September 2023 plaas. Suid-Afrikaners word genooi om die verskeidenheid dienste by hul plaaslike Thusong-dienssentrum, 'n eenstopdienspunt wat regeringsinligting en -dienste nader aan mense bring, te verken.

4. Nasionale Polisieherdenkingsdag

4.1. Ter ere van ons helde en heldinne wat in die uitvoering van hul pligte oorlede is, word die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Nasionale Gedenkdag vanjaar op Sondag 3 September by die Uniegebou in Pretoria gehou. Die Nasionale vlag sal op die dag van dié geleentheid halfstok hang.

E. Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:

  • Me Natasha Joubert, die nuutgekroonde Mej Suid-Afrika 2023 met die begin van haar bewind as Mej Suid-Afrika. 
  • Mnr Brad Binder, wat tweede by die Oostenrykse MotoGP geëindig het.
  • Die Springbokke met hulle oorwinning oor die All Blacks. Hulle word sterkte toegewens in die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi
  • Indië, wat die eerste land geword het om 'n ruimtetuig suksesvol naby die suidpool van die maan te laat land.
  • Zimbabwe-verkiesing

Die Kabinet het die mense van Zimbabwe gelukgewens met die uitoefening van hul demokratiese reg om te stem en het sy verbintenis herhaal om saam met Zimbabwe te werk om die streek en die vasteland te versterk.

2. Meegevoel

Die Kabinet het sy meegevoel uitgepsreek teenoor die naasbestaandes en vriende van:

  • Mnr Derek Watts (74), die veteraan televisie-aanbieder en joernalis wat onthou sal word as die gesig van die gereelde TV-program Carte Blanche, en vir sy toewyding aan ondersoekende joernalistiek.
  • Me Sylvia Ncediwe Mdunyelwa, die jazz-sanger en akteur, wat saam met wyle Victor Ntoni en die Ngcukana-broers, Winston Mankuku, Nick Carter en Merton Barrow gewerk het.
  • Die naasbestaandes en vriende van die van 76 mense, wat gesterf het toe ’n gebou in Marshaltown in Johannesburg afgebrand het.

Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemede Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore