Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Dinsdag, 1 Augustus 2017

Die Kabinet het op Dinsdag, 1 Augustus 2017 by die Sefako M Makgatho Presidensiële Gastehuis in Pretoria vergader.

1.Kabinetsbesluite

1.1. Suid-Afrika herdenk Vrouemaand in Augustus, as ’n huldeblyk aan meer as 20 000  vroue wat op 9 Augustus 1956 ’n optog na die Uniegebou gehou het om protes aan te teken teen die uitbreiding van paswette na vroue.
Die Nasionale Vrouedagviering sal by die Galeshewe Stadion, Kimberley in die Noord-Kaap plaasvind. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die tema vir vanjaar se feesvieringe  as die “Jaar van OR Tambo: Vroue verenig om Suid-Afrika vorentoe te beweeg”. Die Kabinet doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om die rol van vroue in ons samelewing gedurende Augustus te vier.

1.2. Die Kabinet is ingelig oor die driejaarprogram wat deur die Beweging vir Morele Regenerasie (BMR) van stapel gestuur gaan word. Die BMR het die mandaat om die program, wat daarna streef om die innerlike morele krag van ons samelewing te herstel en te fasiliteer, aan te moedig en te koördineer. Hierdie beweging streef daarna om die gees van Ubuntu/Botho te laat herleef deur die benutting van die regering en burgerlike samelewing se hulpbronne.
Die Kabinet verleen goedkeuring aan die BMR se driejaar- operasionele program en ’n gefaseerde benadering om die morele regenerasieprogram in die hoofstroom van die regering op te neem.

1.3. Die Kabinet verleen goedkeuring dat Suid-Afrika ’n bod indien om die 2023 Rugbywêreldbeker (RWB) aan te bied. Dit sal weereens aan Suid-Afrika die geleentheid bied om die land aan die internasionale gemeenskap te vertoon. Suid-Afrika het al voorheen wêreldklasgeleenthede soos die Afrika Spele, die Krieketwêreldbeker, die 2010 FIFA World CupTM, sowel as talle internasionale konferensies aangebied. Ons land het baie uit hierdie ervarings geleer, in die besonder die kosteoorskrydings en samespanning wat met 2010 gepaard gegaan het. As gevolg hiervan, het die regering geweier om ’n blanko tjek te teken, wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika sy bod om die Statebondspele aan te bied teruggetrek het.

Die Kabinet is ingelig oor die byvoordele van so ’n geleentheid. Suid-Afrika beskik reeds oor die nodige infrastruktuur om die toernooi aan te bied sonder om ’n begroting vir infrastruktuurontwikkeling toe te wys. Sport word allerweë as een van die doeltreffendste dryfkragte van nasiebou beskou, en die rugbysportprogramme sal maatskaplike samehorigheid bevorder. Die programme wat in aanloop tot 2023 regdeur die land aangebied gaan word, sal ’n blywende nalatenskap vir die ontwikkeling van rugby in onderontwikkelde gemeenskappe laat.

Die Kabinet verleen goedkeuring aan die algehele voorgestelde pakket vir hierdie toernooi; dit is ’n ekonomiese bod wat die druk op die fiskus sal beperk en ekonomiese aktiwiteit, werkverskaffing en bemagtiging sal stimuleer.

Die toernooi sal daartoe bydra om ons ekonomie te stimuleer deur regeringsprioriteite te ondersteun, veral met betrekking tot voorkeurverkryging en voldoening aan die Handves vir Sporttransformasie, sowel as die deel van winste wat daaruit voortspruit. Die geleentheid sal verder ook ons toerisme- en gasvryheidsektor ’n hupstoot gee.

Die Kabinet verleen goedkeuring vir die instelling van ’n interministeriële komitee (IMK) vir RWB 2023. Die IMK sal die bodproses vir die RWB aanvoer en toesien dat die land ekonomies by hierdie geleentheid baat. Die Minister van Sport en Ontspanning, mnr Thulas Nxesi, sal ’n afsonderlike media-inligtingsessie hou om die bodproses verder te verduidelik.

1.4. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die  Suid-Afrikaanse Konsepbeleid oor Intellektuele Eiendom (IP) – Fase 1 (2017) in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.
Dit is in reaksie op die Nasionale Ontwikkelingsplan se oproep om groter klem op innovering, verbeterde produktiwiteit, meer intense nastrewing van ’n kennisekonomie en beter benutting van vergelykende en mededingende voordele.
Die IP-beleid is ’n belangrike beleidsinstrument vir die bevordering van innovering, tegnologie-oordrag, navorsing en ontwikkeling, kreatiewe uitdrukking, verbruikersbeskerming, nywerheidsontwikkeling en meer algemeen, ekonomiese groei.

1.5. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Konsepgroenvervoerstrategie vir openbare kommentaar gepubliseer word. Hierdie strategie sal die hoeksteen van beleidsontwikkeling in die vervoersektor rakende die vermindering van kweekhuisgasvrystellings vorm. Die strategie het ten doel om die nadelige uitwerking van vervoer op die omgewing te beperk, terwyl dit ook in huidige en toekomstige behoeftes ooreenkomstig die beginsels van volhoubare ontwikkeling voorsien.

Vervoerstelsels vorm die ruggraat van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese aktiwiteite, omdat dit die beweging van mense en goedere moontlik maak. Kweekhuisgasvrystellings deur die vervoersektor maak egter 10,8% van die land se totale vrystellings uit, en padvervoer is vir 91,2% van hierdie vrystellings verantwoordelik. Suid-Afrika het hom verbind tot ’n mikpunt vir die vermindering van kweekhuisgasvrystellings van 34% teen 2020, en 42% teen 2025.

1.6.Die Kabinet verleen goedkeuring vir die heropening van die Departement van Binnelandse Sake se heraansoekproses vir huidige houers van Zimbabwiese Spesiale Permitte onder bepaalde voorwaardes. Die aanvanklike Spesiale Bedeling vir Zimbabwiërs is in April 2009 goedgekeur om Zimbabwiese burgers wat onwettig in Suid-Afrika was, te dokumenteer. Hulle permitte verval op 31 Desember 2017. Die Minister van Binnelandse Sake, prof Hlengiwe Mkhize, sal ’n afsonderlike inligtingsessie hou om die voorwaardes en die proses wat gevolg moet word te verduidelik sodra die heraansoekproses heropen.

1.7. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se ontwerpe vir die 2017 gedenkkleurmuntreeks: Blomme en Voëls van die Kaapse Weskusbiosfeerreservaat. Dit is bykomend tot die gedenk- en sirkulasiemuntreekse wat in 2017 uitgereik gaan word.

2. Wetsontwerpe

2.1.Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Wysigingswetsontwerp op Registrasie van Aktes van 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit wysig die Wet op Registrasie van Aktes, 1937 (Wet 47 van 1937) met die oog op die verbetering van die toepassing en implementering van die Wet. Die Wetsontwerp sal ook die administrasie en registrasie van aktes stroomlyn en verbeter.

3. Simpatiebetuigings

Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die families van die twee sokkerondersteuners wat op Saterdag, 29 Julie 2017 tydens die stormloop by die FNB-stadion gesterf het. Die President het ’n ministeriële komitee van ondersoek onder voorsitterskap van die Minister van Sport en Ontspanning, mnr Thulas Nxesi, ingestel om die omstandighede wat tot die tragedie gelei het te ondersoek.

4. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

4.1 Mnr Lefentse Cuitzen Radikeledi word heraangestel as verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie op die Direksie van die Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika SOC Beperk.
4.2 Verlenging van die ampstermyn van me Thabang Charlotte Christine Mampane as die Kommissaris van die Nasionale Loterykommissie (NLK).
4.3 Prof Ntshengedzeni Alfred Nevhutanda word heraangestel as Voorsitter van die NLK.
4.4 Me Fadila Ethne Lagadien as ’n lid van die Verspreidingsagentskap vir Kuns, Kultuur en Nasionale Historiese, Natuurlike, Kulturele en Argitektoniese Erfenis van die Direksie van die Nasionale Loterykommissie.
4.5 Mnr Sunrise Vusumuzi Mkhize as Direkteur-Generaal (DG) van die Departement van Kuns en Kultuur.  
4.6 Me Thathakahle Jordan-Dyani as Adjunk-DG: IKT Internasionale Aangeleenthede en Handel by die Departement van Telekommunikasie en Posdienste.
4.7 Heraanstelling en aanstelling van nie-uitvoerende direkteure van die Direksie van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika vir drie jaar (tot 31 Julie 2020):
4.7.1 Me Anuradha Sing (heraanstelling);
4.7.2 Me Gugu Mtetwa (heraanstelling);
4.7.3 Prof Mark Swilling (heraanstelling);
4.7.4 Me Zanele Monnakgotla (aanstelling);
4.7.5 Mnr Lufuno Motsherane (aanstelling);
4.7.6 Me Bulelwa Ndamase (aanstelling);
4.7.7 Me Pinkie Nqeto (aanstelling);
4.7.8 Me Letlhogonolo Meko (aanstelling); en
3.7.9 Mnr Blessing Mudavanhu (aanstelling);
4.8 Aanstelling en heraanstelling van nie-uitvoerende direkteure van die Direksie van die Openbare Beleggingskorporasie SOC Beperk vir drie jaar (tot 31 Julie 2020):
4.8.1 Dr Xolani H Mkhwanazi (Adjunk-voorsitter) (aanstelling);
4.8.2 Me Mathukana Mokoka (aanstelling);
4.8.3 Me Dudu Hlatshwayo (heraanstelling);
4.8.4 Me Sibusisiwe N Ngubane (heraanstelling); en
4.8.5 Dr Trueman Goba (heraanstelling).

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore