Toespraak deur president Cyril Ramaphosa oor planne om die elektrisiteitskrisis op te los

Toespraak deur president Cyril Ramaphosa oor planne om die elektrisiteitskrisis op te los  Uniegebou, Tshwane

My mede-Suid-Afrikaners,

Ek wil u vanaand toespreek oor die energiekrisis wat ons nasie in die gesig staar.

Die afgelope drie weke het lang kragonderbrekings weens beurtkrag ons almal se lewens ernstig ontwrig en groot skade aan die ekonomie veroorsaak.

Die daaglikse kragonderbrekings het tot groot ongerief vir miljoene huishoudings gely en groot uitdagings vir besighede tot gevolg gehad.

Na meer as ‘n dekade van onbetroubare kragvoorsiening is Suid-Afrikaners met reg gefrustreerd en kwaad.

Hulle is keelvol.

Ons het dus ‘n paar ingrypende planne beraam om die krisis op te los.

Die krisis wat ons in die gesig staar, vereis dat ons kragtige, dapper en besliste stappe neem om die elektrisiteitstekort aan te vul.

Dit is ‘n oproep aan alle Suid-Afrikaners om deel te wees van die oplossing; om op enige moontlike wyse by te dra om die energieskaarsheid in Suid-Afrika te beëindig.

As regering gaan ons ‘n aantal planne aankondig om die onmiddellike krisis op te los.

Ek het die afgelope tien dae uitgebreide samesprekings met Eskom se uitvoerende bestuur, bestuurders van kragstasies en voormalige Eskom-personeel gevoer.

Ek het ook vergaderings gehad met arbeidsfederasies, Business Unity South Africa, die Black Business Council, gemeenskapsleiers en verskeie kundiges in die energiesektor.

Ek het ook vanoggend met leiers van politieke partye vergader. Ek is dankbaar vir die waardevolle insette en voorstelle wat deur almal gemaak is.

Hierdie vergaderings het ons gehelp om ‘n reaksieplan op te stel en te verseker dat alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing help om die probleem op te los aangesien dit ‘n nasionale krisis is.

Almal met wie ek gepraat het, het gesê dit is nou die tyd waar die land moet verenig om die uitdaging die hoof te bied.

Die stel bykomende stappe wat ek gaan aankondig, is:

Eerstens daarop gemik om Eskom se bestaande vloot kragstasies te verbeter.

Tweedens sal dit die verkryging van nuwe opwekkingskapasiteit versnel.

Derdens is dit daarop gemik om private belegging in opwekkingskapasiteit ingrypend te vergroot.

Vierdens is dit ontwikkel om besighede en huishoudings in staat te stel om in sonpanele vir dakke te belê, en

Laastens is dit daarop gemik om die elektrisiteitsektor fundamenteel te transformeer en dit vir toekomstige volhoubaarheid te posisioneer.

Mede-Suid-Afrikaners,

Om doeltreffend te kan reageer, moet ons eers die probleem verstaan.

Suid-Afrika het kapasiteit geïnstalleer om ongeveer 46 000 MW se elektrisiteit op te wek, en in piektye gebruik ons ongeveer 32 000 MW se elektrisiteit.

Daar is egter slegs 60% van hierdie bestaande vermoë op enige gegewe tydstip beskikbaar weens sommige eenhede wat beplande onderhoud ondergaan en ander wat onbeplande onderbrekings ervaar.

Baie van ons kragstasies is lank gelede gebou.

Die gemiddelde ouderdom van Eskom se kragstasies is 35 jaar. Oor die algemeen neem kragstasies se werkverrigting af soos hulle ouer word.

Die konstruksie aan ons jongste kragstasies, Medupi en Kusile, het laat begin en hulle het verskeie vertragings asook ontwerpfoute ondervind.

Daar word aandag aan hierdie uitdagings gegee.

Weens bogenoemde probleme het Eskom noodsaaklike onderhoudswerk uitgestel om die ligte aan te hou, wat nou veroorsaak dat kragstasies onklaar raak of onderbrekings ondervind.

Die werkverrigting van sommige van Eskom se kragstasies is verswak deur uitgebreide diefstal, bedrog en sabotasie.

Na jare van staatskaping en wanbestuur is ‘n bekwame en doeltreffende bestuurspan hard aan die werk om die kragverskaffer om te keer en jare se agteruitgang om te draai.

Ten spyte daarvan staar ons nog steeds ‘n elektrisiteitstekort van tot 6 000 MW in die gesig.

In die afgelope weke het ‘n kombinasie van faktore gelei tot die verlies van 18 000 MW in opwekkingsvermoë, wat Eskom gedwing het om fase 6-beurtkrag in te stel.

Eskom moes dit instel om te keer dat die elektrisiteitsnetwerk in duie stort en om seker te maak dat ons nooit ‘n algehele ineenstorting het nie.

Die faktore wat tot die jongste beurtkrag gelei het, sluit in ‘n aantal eenheidfalings by sommige kragstasies.

Ons het ook skade gehad aan die transmissielyn vanaf die Cahora Bassa-dam in Mosambiek, en daar is ook gevalle van opsetlike skade aan toerusting gerapporteer.

Spanne binne Eskom het hard gewerk om opwekkingseenhede wat gebreek het, weer die afgelope week aanlyn te bring en die nasionale netwerk te stabiliseer.

Weens hulle harde werk het die stelsel se vooruitsig oor die afgelope week verbeter.

Die ooreenkoms wat tussen Eskom en die werkers bereik is, het dit moontlik gemaak dat kritieke herstelwerk gedoen kon word aan die eenhede wat gebreek het en dat normale elektrisiteitsopwekking kon voortgaan.

Vordering is ook deur wetstoepassingsagentskappe gemaak om sabotasie, diefstal en bedrog by Eskom se kragstasies en ander sleutelinstallasiepunte aan te pak.

Alhoewel hierdie optrede om die elektrisiteitsopwekking te stabiliseer verligting van die huidige beurtkrag gebring het, bly die netwerk kwesbaar en onstabiel.

Die elektrisiteitstekort plaas ‘n massiewe beperking op ekonomiese groei en werkskepping.

Dit skrik beleggers af en verlaag ons ekonomie se mededingendheid.

Ons as administrasie het reeds belangrike stappe geneem om die opwekkingsvermoë te verhoog en ons energie-aanbod te diversifiseer.

Een van die eerste stappe wat ons geneem het om aandag te gee aan die elektrisiteitstekort, was om die hernubare-energieverkrygingsprogram van 2018 te laat herleef.

Sedertdien is meer as 2 000 MW son- en windkrag tot die netwerk toegevoeg d.m.v. bodvenster 4 van die program.

‘n Verdere 2 600 MW in opwekkingsvermoë is bekom deur bodvenster 5 wat vanaf vroeg 2024 kapasiteit tot die netwerk sal byvoeg.

Ons het begin om opwekking te diversifiseer deur partye buite Eskom toe te laat om elektrisiteit op te wek.

In Junie verlede jaar het ons die lisensiëringsdrempel vir nuwe onafhanklike opwekkingsprojekte verhoog van 1 MW tot 100 MW.

Hiermee val die lisensievereistes vir opwekkingsprojekte tot en met 100 MW wat aan die netwerk gekoppel is, weg.

Hierdie maatreël maak dit vir opwekkers moontlik om elektrisiteit aan een of meer kliënte te verkoop, bv. fabrieke, myne of datasentrums.

Ons het ook die regulasies verander om munisipaliteite in staat te stel om krag onafhanklik aan te koop.

‘n Aantal munisipaliteite is reeds besig om dit te doen.

Eskom het onlangs grond langs sy kragstasies in Mpumalanga beskikbaar gestel vir hernubare-energieprojekte, wat 1 800 MW in nuwe kapasiteit sal ontsluit.

Eskom het ook nog addisionele grond geïdentifiseer wat hulle vir hierdie doel sal beskikbaar maak.

Dit is ingrypende stappe en sal ‘n verskil maak in die maande en jare wat voorlê.

Die onlangse beurtkrag het egter duidelik getoon dat die stappe wat ons geneem het en mee voortgaan, nie genoeg is nie.

Daarom implementeer ons bykomende maatreëls om energiesekerheid oor die langtermyn te verkry en beurtkrag vir altyd te beëindig.

Eerstens is ons besig om Eskom reg te ruk en die werkverrigting van ons bestaande vloot kragstasies te verbeter.

Eskom se elektrisiteitsopwekkingsvloot het oor tyd afgeneem.

Ons het nou besluit dat Eskom se begroting vir kritiese instandhouding oor die volgende 12 maande verhoog sal word om die betroubaarheid van sy opwekkingsvermoë te verhoog.

Die burokratiese rompslomp wat dit moeilik gemaak het vir Eskom om onderdele en toerusting vir instandhouding binne die toegelate tyd aan te koop, word ook uitgeskakel.

Een van die uitdagings waarmee Eskom te make het, is ‘n tekort aan vaardige personeel en ingenieurs.

Die kragverskaffer is nou besig om vaardige personeel te werf, insluitende voormalige senior bestuurders en ingenieurs van Eskom wat tans in die privaat sektor werk.

Hierdie opgeleide personeel sal verskeie ander personeellede ondersteun en help om te verseker dat operasionele en onderhoudsprosedures van wêreldgehalte weer ingestel word.

Eskom sal oor die volgende drie maande addisionele stappe neem om nuwe opwekkingsvermoë op ‘n dringende basis tot die netwerk toe te voeg.

Surpluskrag sal onmiddellik vanaf bestaande onafhanklike kragprodusente aangekoop word.

Dit is kragstasies wat meer kapasiteit kan opwek as wat nodig is en hulle kan nou hierdie oortollige krag aan Eskom verskaf.

As deel van die oplossing van die tekort aan megawatt, gaan Eskom nou ook addisionele energie vanaf bestaande private opwekkers aankoop, soos myne, papiermeule, winkelsentrums en ander private entiteite wat surpluskrag het.

‘n Aantal van ons buurlande in Suidelike Afrika, soos Botswana en Zambië, het meer elektrisiteit as wat hulle benodig.

Eskom gaan nou krag vanaf hierdie lande invoer deur middel van die Suid-Afrikaanse Kragpoel-reëling.

Eskom sal ook gebruik maak van tussentydse kragoplossings soos mobiele kragopwekkers, om die opwekkingsvermoë vir ‘n beperkte tydperk aan te vul.

Eskom gaan ook ‘n program van stapel stuur wat die doeltreffende gebruik van energie deur verbruikers in piektye aanmoedig om die aanvraag te verminder.

Ons het in die verlede al gepraat oor Eskom se massiewe skuldlas wat tans naby aan R400 miljard rand staan.

Die skuld bly ‘n massiewe las op Eskom se vermoë om sy talle uitdagings die hoof te bied.

Die Nasionale Tesourie werk hard daaraan om ‘n volhoubare oplossing vir Eskom se skuld te finaliseer.

Die Minister van Finansies sal in breë trekke verduidelik hoe die regering hierdie saak op ‘n doeltreffende manier gaan hanteer wanneer hy die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring in Oktober voorlê.

Ons sal gebruik maak van klimaatbefondsing wat deur die Just Energy Transition Partnership voorsien is om in die netwerk te belê, sowel as in die hergebruik van kragstasies wat die einde van hul leeftyd bereik het.

Eskom gaan sy eerste sonkrag- en batterybergingsprojekte by Komati, Majuba, Lethabo en talle ander kragstasies oprig. Dit sal oor die 500 MW tot die netwerk byvoeg.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ‘n spesiale wetstoepassingspan op die been gebring om Eskom te help om misdaad en korrupsie te bestry.

Oor die afgelope paar dae is ‘n aantal mense in hegtenis geneem en verskeie ander word reeds vervolg vir korrupsie en bedrog met betrekking tot Eskomkontrakte.

Met die verbetering in die regulatoriese omgewing en mobilisering van die samelewing, sal Eskom in ‘n goeie posisie wees om sy onderhouds- en beleggingsprogramme uit te voer.

Daar kan nie meer verskoning gemaak word nie.

Hierdie stappe sal ons in staat stel om beurtkrag in die toekoms tot laer fases te beperk, en die risiko van sulke drastiese beurtkragfases in die toekoms te beperk.

Om beurtkrag te beëindig, moet ons egter dringend baie meer opwekkingsvermoë aan die netwerk toevoeg.

Ons tweede prioriteit is dus die verkryging van nuwe opwekkingsvermoë uit hernubare bronne, gas en batterye.

Die betrokke regeringsdepartemente werk nou saam om seker te maak dat alle projekte van bodvenster 5 van die hernubare-energieprogram se konstruksie op skedule kan begin.

Dit sluit in ‘n pragmatiese benadering tot die vereistes vir plaaslike verskaffing vir hierdie projekte deur die behoefte om nuwe kapasiteit so vinnig as moontlik te bou, ‘n prioriteit te maak.

Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging tesame met die kantoor van onafhanklike kragverskaffers sal meer besonderhede in die komende dae bekendmaak.

Die hoeveelheid nuwe opwekkingsvermoë wat deur bodvenster 6 bekom sal word vir wind en sonkrag, sal verdubbel vanaf 2 600 MW tot 5 200 MW.

Ons sal ‘n oproep vir voorleggings vir batteryberging in September vanjaar vrystel en ‘n verdere versoek vir gaskrag so gou as moontlik daarna.

Die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie sal ‘n bepaling vir die oorblywende toekennings in die geïntegreerde hulpbronplan van 2019 uitreik, en sal die opening van verdere bodvensters bespoedig.

Om seker te maak dat effektiewe beplanning plaasvind, word die land se geïntegreerde ontwikkelingsplan hersien om die behoefte aan addisionele opwekkingsvermoë te reflekteer, asook ons verbintenis tot ons verpligtinge t.o.v. klimaatsverandering.

Derdens is ons besig om private beleggings in opwekkingsvermoë te versnel.

Ons het verlede jaar aangekondig dat die lisensiedrempel na 100 MW verhoog word.

Hierdie besluit is oraloor verwelkom. Dit het ‘n pyplyn van meer as 80 bevestigde privaatsektorprojekte ontsluit met ‘n gesamentlike vermoë van oor die 6 000 MW.

Ons werk reeds saam met die bedryf om die mees gevorderde projekte te versnel, waarvan verskeie reeds met konstruksie begin het.

Hierdie veranderinge het die opwekkingslandskap fundamenteel verander.

In navolging van die sukses van hierdie hervorming en die entoesiasme wat deur die private sektor getoon word, gaan ons heeltemal wegdoen met die lisensiëringsdrempel vir onafhanklike opwekking.

Dit sal groter private belegging in elektrisiteitsopwekking moontlik maak.

Alhoewel lisensies nie nodig sal wees nie, sal alle nuwe opwekkingsprojekte nog steeds by die reguleerder moet registreer en aan die tegniese vereistes om aan die netwerk te koppel sowel as aan ons omgewingswetgewing moet voldoen.

Een van ons grootste uitdagings in die toevoeging van opwekkingsvermoë tot die netwerk is die tyd wat dit vir enige energieprojek neem om die nodige goedkeuring te kry voordat konstruksie kan begin.

Die proses van ontwerp tot kommersieel operasioneel het geneig om tot drie jaar te neem weens die lang regulatoriese prosesse en rompslomp wat gevolg moes word.

Alhoewel die huidige wetgewing voldoende is in gewone tye, vereis die huidige krisis dat ons vinniger en meer beslis optree.

Ons sal dus spoedig spesiale wetgewing in die parlement ter tafel lê om die wetlike en regulatoriese struikelblokke wat in die pad staan van nuwe opwekkingsvermoë vir ‘n beperkte tyd, te bespreek.

Ons het hierdie kwessie vanoggend met die leiers van die politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig word, bespreek.

Daar was breedweg eenstemmigheid dat hierdie proses verhaas moet word as die spesiale wetgewing in die parlement te tafel gelê is.

Ons sal in die tussentyd wegdoen met sekere regulatoriese vereistes of dit meer vaartbelyn maak waar dit moontlik is om binne die bestaande wetgewing te doen.

Dit sluit in die vermindering van regulatoriese vereistes vir sonkragprojekte in areas waar daar lae of medium omgewingsensitiwiteit is.

Dit beteken ook dat Eskom kraglyne en substasies kan uitbrei sonder om omgewingsgoedkeuring te kry in areas met lae of medium omgewingsensitiwiteit en binne die strategiese elektrisiteitskorridors.

Ons is ook besig om ‘n enkele deurgangspunt vir alle energieprojekaansoeke te vestig om seker te maak dat daar koördinering van goedkeuringsprosesse regoor die regering is.

Ek het departemente en entiteite opdrag gegee om alle bestaande tydraamwerke te hersien en te verseker dat ons alle aansoeke op ‘n dringende basis verwerk.

Hierdie maatreëls is verkieslik bo die uitroep van ‘n ramptoestand of selfs ‘n noodtoestand, soos sommige mense voorgestel het.

Hierdie intervensies sal ons in staat stel om te doen wat nodig is om die nuwe opwekkingskapasiteit te verhaas terwyl ons die regte van alle Suid-Afrikaners beskerm en die oppergesag van die reg respekteer.

Ons het nie ‘n noodtoestand of nasionale ramptoestand nodig nie om voor-die-handliggende regulasies te implementeer wat behoort te help om ons energiekrisis op te los.

Vierdens is ons van plan om besighede en huishoudings in staat te stel om in sonpanele op hulle dakke te belê.

Suid-Afrika het ‘n oormaat sonlig wat ons kan aanwend om elektrisiteit op te wek.

Daar is beduidende potensiaal vir huishoudings en besighede om sonpanele op dakke te installeer en hierdie krag aan die kragnetwerk te koppel.

Om mense aan te moedig om sonpanele op hul dakke te installeer, gaan Eskom reëls en ‘n prysstruktuur saamstel – bekend as ‘n invoertarief – vir alle kommersiële en residensiële installasies op die netwerk.

Dit beteken dat diegene wat sonpanele in hulle huise of besighede kan installeer of reeds geïnstalleer het, in staat sal wees om surpluskrag wat hulle het aan Eskom te verkoop.  

Ons doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om elektrisiteit spaarsamig te gebruik soos wat ons poog om beurtkrag te beëindig en meer energie uit die netwerk te haal.

Laastens is ons besig om die elektrisiteitsektor fundamenteel te transformeer en dit vir volhoubaarheid in die toekoms te posisioneer.

Ons het in die verlede gepraat oor die herstrukturering van Eskom, wat tot drie entiteite sal lei, naamlik ‘n opwekkingseenheid, ‘n elektrisiteitstransmissie-eenheid en ‘n elektrisiteitsverspreidingseenheid.

Eskom het ‘n onafhanklike transmissiemaatskappy opgerig en is op koers om sy opwekkings- en verspreidingsbesighede teen die einde van 2022 te skei.

Ons sal spoedig direksies vir die transmissie- en opwekkingseenhede aanwys.

Breër hervorming om ‘n mededingende elektrisiteitsmark te vestig, sal bespoedig word deur die finalisering van die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering om belegging deur die private sektor moontlik te maak.

Hierdie veranderinge sal die struktuur van die elektrisiteitsektor vir toekomstige generasies radikaal verander.

Baie ander lande het hierdie roete gevolg en kon dit regkry om elektrisiteitsopwekking te stabiliseer.

Dit sal ons energiebronne diversifiseer en ons voorsieningsekerheid verbeter.

Hierdie veranderinge sal meer kragopwekkers, privaat én in staatsbesit, toelaat om op gelyke voet mee te ding.

Die netwerk sal in staatsbesit bly.

Eskom sal voortgaan om die steunpilaar van ons land se energiebedryf te wees terwyl ons sy doeltreffendheid, finansiële volhoubaarheid en werkverrigting verbeter.

Om seker te maak dat hierdie maatreëls op ‘n gekoördineerde wyse geïmplementeer word, het ek ‘n nasionale energiekrisiskomitee op die been gebring.

Die voorsitter van die komitee is die direkteur-generaal in die presidensie, en bring al die departemente en entiteite wat betrokke is in die verskaffing van elektrisiteit, bymekaar.

Die nasionale energiekrisiskomitee sal kennis put uit die beste beskikbare kundigheid in die besigheidswêreld, arbeid, professionele ingenieurswese en gemeenskapsgebaseerde organisasies.

Die betrokke minister sal op ‘n gereelde basis direk aan my rapporteer om te verseker dat ons vinnig beweeg om hierdie planne te implementeer.

Mede-Suid-Afrikaners,

Die maatreëls wat ek geskets het, is nie net om ons onmiddellike behoeftes aan te spreek nie.

Ons uiteindelike doelwit is om langtermyn energiesekerheid te verkry sodat ons nooit weer ‘n elektrisiteitstekort hoef te hê nie.

Ons poog om dit te doen deur Eskom te vestig en aanlegte se werkverrigting te verbeter, ‘n mededingende elektrisiteitsmark te vestig en sodoende die weg te baan vir private belegging in opwekkingsvermoë en ons belegging in hernubare energie te vergroot.

Hierdie maatreëls is nodig om ons ekonomie te laat herleef en werk te skep.

In die proses sal ons ons land posisioneer as ‘n leier in die oorgang na nuwe en volhoubare energiehulpbronne en sodoende die krisis omkeer in ‘n geleentheid vir toekomstige groei en veerkragtigheid.

Net soos wat die regering sy kant bring, doen ek ‘n beroep op die besigheidsektor, arbeid en die hele samelewing om by ons aan te sluit in hierdie poging.

Dit sluit in die dringende implementering van die Eskom Sosiale Kompak en die versterking van die verbintenisse en konkrete stappe wat deur alle sosiale vennote geneem behoort te word.

Net soos was ons saamgestaan het in die nasionale plan om die Covid-19-pandemie te stuit, moet ons nou saamstaan waar ons kan.

As huishoudings kan ons elektrisiteit spaarsamig gebruik.

Ons moet vir dienste betaal en onwettige aansluitings verhoed.

Ons moet aansluit by ‘n massiewe uitrol van sonpanele op dakke en deel wees van die oplossing.

Besighede moet hulle verbruik verlaag deur groter energiedoeltreffendheid.

Besighede moet geleenthede aangryp wat geskep is en belê in opwekkingsprojekte.

Die arbeidsektor moet betrokke raak in ‘n gees van vennootskap, wel wetende dat die bereiking van energiesekerheid die belangrikste ding is wat ons kan doen om bestaande werksgeleenthede te beskerm en nuwe poste te skep.

Ek het verlede naweek die Tutuka-kragstasie in Mpumalanga besoek waarvan die werkverrigting baie sleg deur kriminele aktiwiteit beïnvloed is.

Ons het gehoor dat onderdele vir onderhoud gesteel word en weer terugverkoop word aan Tutuka en ander kragstasies.

Ons is vertel van voortgaande diefstal van olie op ‘n massiewe skaal en die opsetlike beskadiging van toerusting sodat Eskom toerusting van privaat kontrakteurs moet inhuur.

Wat by Tutuka en ander kragstasies gebeur, is opsetlike sabotasie deur goed georganiseerde kriminele sindikate wat die kragverskaffer vernietig en ons ekonomie skade berokken.

Na my besoek aan Tutuka het ek met al Eskom se kragstasiebestuurders vergader.

Ek was beïndruk met die diversiteit van hierdie groep mans en vroue en hulle verbintenis om die regte vaardighede in te kry en te verseker dat hulle ‘n onderhoudsfilosofie handhaaf.

Ons is die spanne by hierdie kragstasies groot dank verskuldig vir hulle optrede.

Hulle stel ‘n puik voorbeeld vir die res van ons.

Die maatreëls wat ons vanaand aankondig tesame met die stappe wat ons reeds gedoen het, sal die einde van beurtkrag verhaas.

Dit sal ons land op ‘n duidelike pad na betroubare, bekostigbare en volhoubare energieverskaffing plaas.

As ons saamwerk, as ons mekaar verantwoordbaar hou, as ons ons sperdatums haal en ons verbintenisse nakom, sal ons die energiekrisis beëindig en die toestande skep vir groei en werkskepping.

Meer nog, ons sal wys dat ons die uitdaging aangryp om ons geliefde land te herbou.  

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore