Ouderdomspensioen

Oor
Wat om te doen
Tydsduur
Hoeveel kos dit
Vorms om in te vul
Kontakbesonderhede

 

 

Oor die toelae vir ouer persone

Jy kan ’n toelae ontvang om jou te help wanneer jy oud is. ’n Toelae vir ouer persone word betaal aan persone wat 60 jaar of ouer is. Hierdie toelae is in die verlede ’n ouderdomspensioen genoem.

Hoe weet jy of jy kwalifiseer?

Jy moet: 

  • ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner wees
  • in Suid-Afrika woon
  • nie enige ander maatskaplike toelae vir jouself ontvang nie
  • nie in ’n staatsinstansie versorg word nie
  • nie meer as R86 280 verdien indien jy enkellopend is nie of R172 560 indien jy getroud is nie
  • nie bates besit wat meer as R1 227 600  indien jy enkellopend is nie of R2 455 200 indien jy getroud is nie.

Hoeveel sal jy kry?

Die maksimum bedrag wat jy sal kry, is R2 080 per maand. Indien jy ouer as 75 is, sal jy R2 100 kry.

Hoe sal jy betaal word?

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) sal die toelae aan jou betaal op een van die volgende maniere:

  • kontant by ’n spesifieke betaalpunt op ’n spesifieke dag
  • elektroniese deposito na jou bank- of Posbank-rekening (die bank mag ’n fooi hef vir die diens)
  • instansies (bv. ouetehuise).

Let wel: Indien jy nie self die geld kan afhaal nie, kan jy ’n gevolmagtigde by die SASSA-kantoor aanstel, of aan iemand volmag gee om die toelae namens jou af te haal.

Wanneer kan die toelae hersien word?

SASSA kan besluit of ’n toelae hersien moet word. Jou inkomste, soos verklaar wanneer jy aansoek doen om die toelae, sal die basis van hierdie besluit vorm. Jy sal drie maande voor die tyd in kennis gestel word van die datum waarop die hersiening sal plaasvind of van die datum waarop die lewensertifikaat benodig word. Indien jy geld via die bank, ’n instansie of gevolmagtigde ontvang, moet jy elke jaar ’n lewensertifikaat by die SASSA-kantore indien.  

Wanneer kan die toelae opgeskort word?

Die volgende kan lei tot die opskorting van jou toelae:

  • wanneer jou omstandighede verander
  • die uitkoms van ’n hersiening
  • indien jy versuim om saam te werk wanneer jou toelae hersien word
  • wanneer jy bedrog pleeg of jouself verkeerd voorstel
  • indien daar ’n fout gemaak is toe jou toelae goedgekeur is.

Wanneer sal die toelae verval?

Die toelae sal verval indien jy: 

  • sterf
  • in ’n staatsinstansie opgeneem word
  • vir drie opeenvolgende maande nie eis nie
  • die land verlaat.

Indien jy toegelaat word by ‘n instansie wat ‘n kontrak het met die staat om vir jou te sorg en jou te onderhou, sal die maatskaplike toelaag verminder word tot 25% van die maksimum bedrag van die toelaag vanaf die vierde maand na die begunstigde se toelating tot die instansie. Die verminderde toelaag word onmiddellik heringestel word vanaf die datum waarop jy uit die instansie ontslaan word.

Ouderdomspensioen

Wat om te doen

  • Gaan na jou naaste kantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) en neem die volgende saam:
    • Jou 13-syfer- staafkode identiteitsdokument (ID). Indien jy nie ’n ID het nie:
      • moet jy ’n beëdigde verklaring aflê in die standaard-SASSA-formaat in die teenwoordigheid van ’n Kommissaris van Ede wat nie ’n SASSA-amptenaar is nie
      •  moet jy ’n beëdigde verklaring voorsien deur ’n persoon van aansien (soos ’n raadslid, tradisionele leier, maatskaplike werker, dominee of skoolhoof) wat jou naam en ouderdom kan bevestig.
      • Die SASSA-amptenaar sal jou vingerafdrukke neem. Jy sal na die Departement van Binnelandse Sake verwys word om aansoek te doen vir ’n ID, selfs al word jou aansoek verwerk. Indien jy nie ’n ID-boek kry nie, sal jou toelaag opgeskort word.
    • bewys van jou huwelikstatus, indien van toepassing
    • bewys van woonadres
    • bewys van jou inkomste en/of dividende (indien enige)
    • bewys van jou bates, insluitend die waarde van die eiendom wat jy besit
    • bewys van jou privaat pensioen (indien enige)
    • drie maande se bankstate
    • indien jy gewerk het, jou Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) “blou boek” of sertifikaat van ontslag vanaf jou voormalige werkgewer
    • indien jou eggenoot binne die afgelope vyf jaar oorlede is, ’n afskrif van die testament en die eerste of finale likwidasie- en distribusierekeninge, waar van toepassing.

Let wel: Indien jy te oud of te siek is om na die kantoor toe te gaan om aansoek te doen, kan ’n familielid of vriend namens jou aansoek doen. Die persoon behoort ’n brief van jou en/of ’n doktersbrief te neem wat aandui hoekom jy nie self die kantoor kan besoek nie.

  • Voltooi die aansoekvorm in die teenwoordigheid van die SASSA-amptenaar (let daarop dat slegs jy, as aansoeker, of ’n SASSA-amptenaar die aansoekvorm kan voltooi).
  • Jy sal ’n kwitansie ontvang. Hou dit as bewys dat jy aansoek gedoen het.

Wat as jou aansoek nie goedgekeur word nie?

Indien jou toelae nie goedgekeur word nie, sal SASSA jou in kennis stel dat die aansoek nie suksesvol was nie.

Indien jy nie met die besluit saamstem nie, kan jy appèl aanteken by die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling. Jy moet binne 90 dae vanaf kennisgewing dat die aansoek onsuksesvol was, appèl aanteken.

Tydsduur

  • Dit kan tot drie maande neem om ’n aansoek te verwerk.
  • Indien jou toelae goedgekeur word, sal jy betaal word vanaf die datum waarop die aansoek ingedien is.

Hoeveel kos dit

Die diens is gratis.

Vorms om in te vul

Die aansoekvorm is nie aanlyn beskikbaar nie, maar jy kan dit by u naaste kantoor van maatskaplike sekerheid (SASSA) kry.

Wie om te kontak

Die Suid Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA)

SASSA Toll free: 0800 60 10 11
Email:  GrantEnquiries@sassa.gov.za  

Share this page