Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 28 Februarie 2018

Verklaring oor die  Kabinetsvergadering van 28 Februarie 2018

Die Kabinet het op Woensdag, 28 Februarie 2018, by Tuynhuys, Kaapstad, vergader.

A. Kwessies in die omgewing

1.  Nasionale Begrotingsrede

1.1. Die Kabinet waardeer die uitsprake van oorweldigende vertroue in die 2018 Nasionale Begroting, wat verlede week in die Parlement, Kaapstad ter tafel gelê is. In die onlangse gees van die hernuwing wat ons wonderlike nasie herbesiel het, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om in vennootskap met die regering te werk om ons ekonomie te help groei en broodnodige werksgeleenthede te skep.
1.2. Die afname in besteding van R85 miljard oor die volgende drie jaar is ’n aanduiding van die regering se verbintenis tot fiskale versterking en die  verstandige toewysing van hulpbronne om die ekonomie te laat groei.
1.3. Die stappe wat aangekondig is om die tempo van skuldoploping te verlangsaam en die begrotingstekort in bedwang te hou, verbeter ons fiskale raamwerk aansienlik en versterk Suid-Afrikaners se vertroue in die toekomsvooruitsigte vir ons ekonomie.
1.4. Die Kabinet is vol vertroue dat die ingrypings in ons land se ekonomiese groei weerspieël sal word, sy ekonomiese posisie sal herbevestig en sy beleggingsgraderingstatus sal vrywaar.
1.5. Die 2018 Nasionale Begroting ondersteun die armes in ons gemeenskap deur middel van ’n omvattende maatskaplike-hulpprogram en gratis tersiêre onderwys vir studente uit arm huishoudings.
1.6. In reaksie op die kommer wat uitgespreek is oor die verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW), oorweeg die Kabinet dit om die lys van basiese goedere wat ’n nultarief het, uit te brei.

2. Nelson Mandela Eeufeesviering

2.1. Die Kabinet sluit hom aan by President Cyril Ramaphosa se beroep op Suid-Afrikaners om ’n gedeelde verbintenis om mense te dien te herbevestsig, terwyl ons die eeufeesherdenking van die geboorte van voormalige president Nelson Mandela vier. Madiba was die eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika en sou op 18 Julie 2018 100 jaar oud geword het.
2.2. Madiba is ’n wêreldwye ikoon wat internasionaal as ’n kampvegter vir menseregte, nie-rassisme en nie-seksisme geëer word. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel om Suid-Afrikaners te verenig en het demokratiese eenheid regoor Afrika en die res van die wêreld geïnspireer.
2.3. Die eerste viering van Nelson Mandela se eeufees het in Januarie 2018 gedurende die Afrika-unie se beraad in Addis Abeba, Ethiopië, plaasgevind.  Verskeie geleenthede sal vanjaar regdeur die land gehou word om oor die lewe van Tata Madiba te besin.
2.4. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle by die eeufeesvierings aan te sluit by hul werkplekke, skole, kerke en burgerlike organisasies. Dit doen ’n beroep op elkeen van ons om vanjaar die waardes van Nelson Mandela na te streef deur op ons onderskeie maniere te werk om ’n verenigde, nie-rassistiese, nie-seksistiese en welvarende land te bou.
2.5. Die land vier ook die eeufees van een van die groot dogters van die Afrika-vasteland, Mama Albertina Sisulu, wat haar lewe aan die emansipasie van vroue en die bevryding van Suid-Afrika gewy het. Die Kabinet sal tydens die volgende vergadering ’n program vir die eeufeesviering van Mama Albertina Sisulu uiteensit.

3. Droogte

3.1. Die Kabinet waardeer die onvermoeide pogings van die Interministeriële Komitee oor Droogte, in samewerking met belanghebbers in alle sfere van die regering en die samelewing, om die hardnekkige droogtetoestande waaronder verskeie dele van die land gebuk gaan, die hoof te bied.
3.2. Benewens die feit dat Suid-Afrika ’n waterskaars land is, beïnvloed die uitwerkings van klimaatsverandering steeds die reënpatrone, wat veroorsaak dat ons damvlakke laag bly. 
3.3. Die Interministeriële Taakspan oor Droogte fasiliteer steeds werk tussen die nasionale regering, provinsies en munisipaliteite in alle gebiede wat deur die droogte geraak word. Dit sluit in die implementering van kort-, medium- en langtermynmaatreëls om die potensiële uitwerking van hierdie droogte te bestuur en te verlig.
3.4. Die regering het fondse beskikbaar gestel om die provinsies wat deur die droogte geraak word, van korttermynhulp te voorsien. Dit het naamlik ’n bystandstoelae ter waarde van R473 miljoen en 'n bykomende R6 miljard in die 2018/19- finansiële jaar bewillig om waterinfrastruktuur in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap aan te vul.
3.5. Die Kabinet doen ’n beroep op almal om steeds met die regering saam te werk om water te bespaar deur dit op ’n verantwoordelike en spaarsamige manier te gebruik. Die Kabinet bly daartoe verbind om Suid-Afrika ’n voorkeurland vir besoekers sowel as potensiële beleggers te maak. 

4. Polisiemoorde

4.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van die vyf polisiebeamptes en ’n voormalige soldaat wat onlangs wreedaardig vermoor is in ’n aanval op die Ngcobo Polisiestasie in die Oos-Kaap.
4.2. Die Kabinet veroordeel ten sterkste enige sinlose moord op ons geregsdienaars.  Die verlies van elke enkele polisiebeampte, soldaat of enige ander persoon wat ons samelewing en ons mense beskerm is onaanvaarbaar.
4.3. Die Kabinet het hom deur die Minister van Polisie verbind om alles in sy vermoë te doen om ons polisiestasies van die nodige hulpbronne te voorsien en te bemagtig om sulke aanvalle in die toekoms te voorkom.
4.4. Die Kabinet doen verder ’n beroep op ouers en die breër samelewing om te verseker dat kinders te alle tye veilig gehou word en om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om die regte van ons kinders te beskerm. Enige vorm van mishandeling teen ’n kind moet onmiddellik aan die kaak gestel en gerapporteer word. Deur met mekaar saam te werk, kan ons ons gemeenskappe veilig hou en verseker dat misdadige elemente nêrens ’n wegkruipplek het nie.

B. Kabinetsbesluite

1. Die Kabinet keur die Konsep- Hersiene Witskrif oor Nasionale Vervoerbeleid goed vir publikasie en openbare kommentaar. Die beleid beoog om ’n vervoerstelsel te voorsien wat met ander verwante sektorplanne geïntegreer is met die oog op die verlaging van pendelkoste sowel as die koste verbonde aan die bedryf van sakeondernemings. Dit bring ook die land se vervoerplanne in ooreenstemming met internasionale vervoertendense.
2. Die Kabinet keur die Groenskrif oor Paaiebeleid vir Suid-Afrika goed vir publikasie en openbare kommentaar. Die beleid voorsien die oorkoepelende raamwerk wat verseker dat Suid-Afrika se paaie beter bestuur word, veiliger is en alle vervoermiddele insluit om ’n volhoubare benadering tot paaiebestuur te bied. Dit dien as riglyn vir die padregulasies, infrastruktuur, veiligheid, padbefondsing en nie-gemotoriseerde vervoer.
3. Die Kabinet is ingelig oor die bevindings van die 2015/16 Nasionale Opname van Navorsing en Eksperimentele Ontwikkeling (N&O-opname). Navorsing en ontwikkeling vorm ’n integrale deel van die land se sosio-ekonomiese ontwikkeling. Hierdie opname bestaan uit gesamentlike pogings van die regering, die nywerheidsektor en navorsingsinstellings. Die verslag is beskikbaar op die webtuiste van die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DST): www.dst.gov.za.
4. Die Kabinet verleen sy goedkeuring aan die ontwerpe van die 2018 gedenkversamelaarsmuntreeks, wat deur die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy uitgereik sal word. Die 2018-ontwerpversameling sal die Nelson Mandela Eeufeesviering herdenk. Hierdie versameling is voorafgegaan deur die 2017-gedenkmunte wat Suid-Afrika onder die tema Vryheid, Demokrasie en Kulture, gevier het.

C. Wetsontwerpe

1. Die Kabinet keur die voorlegging van die  Wetsontwerp op Gebruiklike Inisiasie van 2018 aan die Parlement goed. Die Wetsontwerp is daarop gerig om die beheeraspekte van gebruiklike inisiasie te beskerm, te bevorder en te reguleer. Dit voorsien nasionale norme en standaarde wat gerig is op die beskerming van lewe en die voorkoming van beserings en alle vorme van mishandeling van inisiasie-kandidate.
2. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk van 2016 aan die Parlement goed. Die Wetsontwerp, wat die Wet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, 2008 (Wet 67 van 2008) wysig, versterk die Wet deur die verbetering van maatreëls vir die hantering van wanvoorstelling, die toerekening van gevolge aan persone wat hul kwalifikasies wanvoorstel of organisasies wat ongeldige kwalifikasies uitreik.
Dit stel ook regulasies voor  om te verseker dat bedrieglike kwalifikasies na die betrokke professionele liggame verwys word (databasis van individue wat hul kwalifikasies wanvoorgestel het). Dit handel ook oor die akkreditasie van buitelandse kwalifikasies.
3. Die Kabinet keur die Wetsontwerp op Spoorwegveiligheid van 2017 goed vir publikasie en openbare kommentaar. Die Wetsontwerp is gerig op die verbetering van spoorwegveiligheid en skep ’n beheerstruktuur vir toesighouding oor die werk van die Spoorwegveiligheidsreguleerder van Suid-Afrika. Dit is ook in ooreenstemming met die Nasionale Spoorwegbeleid met betrekking tot die versterking van veilgheidsmonitering, en die bevordering en afdwinging van veiligheid in ons spoorweë.
4. Die Kabinet keur die Konsepwetsontwerp op die Ekonomiese Regulasie van Vervoer van 2017 goed vir publikasie en openbare kommentaar en oorlegpleging. Die Wetsontwerp is gerig op die regstelling van die regulerings- en kapasiteitsleemtes rakende die voorsiening van ’n koste-effektiewe en doeltreffende vervoerstelsel.

D. Toekomstige Gebeure

1. As voorsitter, sal Suid-Afrika van 1 tot 2 Maart 2018 gasheer wees vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Ministers van Arbeid, Werkverskaffing en Maatskaplike Sekerheid, by Kaapstad se Internasionale Konvensiesentrum. Die tema van die konferensie is: “Horison behoorlike werk: Bevordering van konnektiwiteit, samehorigheid en inklusiwiteit”. Deelnemers sal maatskaplike vennote insluit soos die georganiseerde sakesektor, arbeid en die gemeenskap.
2. President Ramaphosa sal in sy hoedanigheid as die Voorsitter van die SAOG van 2 tot 3 Maart 2018 raadgplegende besoeke bring aan Angola, Botswana en Namibië. Hy sal vergesel word deur die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Lindiwe Sisulu en die  Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Nosiviwe Maphisa Nqakula.
3. Suid-Afrika sal van 7 tot 9 Maart  2018 as medegasheer optree van die 17de Wêreldkonferensie oor Tabak en Gesondheid (WCTOH) in Kaapstad met die tema "Verenig die Wêreld vir ’n Tabakvrye Generasie". Dit is die eerste keer dat die konferensie in Afrika aangebied word. Die WTCOH bepleit besliste en toegewyde optrede en bied ’n platform aan regerings, burgerlike organisasies, agentskappe van die Verenigde Nasies, internasionale organisasies, gesondheidswerkers en ander belanghebbers om gedeelde kennis en ervarings te bespreek, veral met betrekking tot die jeug en vroue wat aan tabakgebruik blootgestel word. Die aanbied van die konferensie dra by tot die bereiking van die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwitte deur bewustheid te skep van en opvoeding te voorsien oor die skadelike gevolge van tabakgebruik, en die behoefte aan die verskerping van tabakbeheermaatreëls.
4. Die OVK sal Kiesersregistrasiesentrums op 10 en 11 Maart open sodat stemgeregtigdes kan registreer of hul registrasiebesonderhede kan nagaan. Die Kabinet doen ’n ernstige beroep op alle stemgeregtigde burgers om hul stemlokale te besoek om die kiesersrol op datum te bring ter voorbereiding van die algemene verkiesing in 2019. Die Kabinet doen in die besonder ’n beroep op kiesers wat vir die eerste keer kwalifiseer om te stem om te verseker dat hulle hul grondwetlike demokratiese reg om te stem uitoefen deur te gaan registreer om te stem. Hierdie registrasienaweek is ’n mylpaal wat voortvloei uit ’n tweejaarprojek om die woonadresse van alle geregistreerde kiesers te verkry. Die stemlokale sal tussen 08:00 en 17:00 oop wees om nuwe kiesers te help registreer om te kan stem, sowel as om geregistreerde kiesers wat verhuis het te help om in hul toepaslike stemdistrik te herregistreer en hul adresbesonderhede op die kiesersrol by te werk.

E. Boodskappe

1. Die Kabinet wens al die onderwysers geluk wat by die 18de Nasionale Onderwystoekennings, wat op Saterdag 17 Februarie 2018 in Johannesburg plaasgevind het, vereer is. Die toekennings erken voortreflike onderwys en leierskap in verskeie kategorieë, insluitend die Nelson Mandela Lewenslange Prestasietoekenning en die Professor Kader Asmal-toekenning.
2. Die Kabinet betuig sy meegevoel met Adjunkminister Obed Bapela met die heengaan van sy vrou Constance Bapela, wat ten tyde van haar afsterwe as raadslid gedien het.
3. Die Kabinet betuig saam met President Ramaphosa sy meegevoel met die familie, vriende en kennisse van die politieke ekonoom en skrywer, prof Johannes “Sampie” Terreblanche, wat op die ouderdom van 84 oorlede is.
4. Die Kabinet wens Minister Naledi Pandor geluk dat sy deur die Universiteit van Leiden in Nederland erken word as ’n Oort Besoekende Ereprofessor van Sterrekunde en Ontwikkeling. Dit is ’n erkenning van die minister se buitengewone prestasie in die aanwending van wetenskap, in die besonder sterrekunde, as ’n instrument vir globale ontwikkeling tot voordeel van die samelewing.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Me Lerato Mataboge as Adjukdirekteur-generaal (ADG): Handel en Belegging Suid-Afrika, Departement van Handel en Nywerheid (die dti).
2. Me Shandokane Evelyn Masotja as ADG: Verbruiker- en Korporatiewe Regulering, die dti.
3. Me Vuyelwa Vumendlini as ADG: Internasionale en Streeks- Ekonomiese Beleid, Nasionale Tesourie.
4. Mnr Joseph Tebogo Leshope as Hoofbedryfsbeampte van SENTECH.
5. Me Vuyo Zitumane as Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Amatola Water.
6. Adv Seeng Catherine Ntsaba-Letele as Hoofombudsman van die Gemeenskapskema-ombudsdiens.
7. Mnr Edward Mamadise as HUB van die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies.
8. Dr Sagren Moodley as die verteenwoordiger van die DST op die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe.
9. Heraanstellings op die Patente-eksamenraad:
    a. Me Shanaaz Tiry Mahomed;
    b. Me Sandra Cleiland;
    c. Prof Christiena Maria van der Bank; en
    d. Adv Nhlanhla Paul Sibisi.

Navrae:
Phumla Williams
(Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore