Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 8 Junie 2016

1.1. Ons het kennis geneem van die internasionale graderingsagentskappe Fitch, Standard & Poor's en Moody's se graderings vir Suid-Afrika, wat die land se beleggingsgraad-kredietgradering en stabiele vooruitsigte bevestig het. Die graderings bevestig die voortgesette werk deur die Regering om die ekonomie reg te ruk en gee die land die nodige ruimte om planne hiervoor uit te voer.

1.2. Die toegewyde werk van Suid-Afrikaners aangevoer deur die Regering, die sake- en arbeidsektore, het verseker dat Suid-Afrika rommelstatus vrygespring het. Suid-Afrika is besig om programme van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) in werking te stel wat sal verseker dat die land 'n beleggingsbestemming bly. Dit dui daarop dat as ons saamwerk, ons die ekonomie weer op dreef kan kry, beleggings lok en broodnodige werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners skep.

1.3. Ondanks die feit dat Suid-Afrika se reële bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal van 2016 met 1,2% ingekrimp het, volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA), is die Regering reeds besig met belangrike ingrypings in dié sektore wat die meeste geraak word, soos landbou, vervoer, elektrisiteit en mynbou, wat tans deur Operasie Phakisa aandag geniet, om beperkings op groei uit die weg te ruim.

1.4. Die sentralisering van skattings vir BBP is nou in SSA gevestig. Wat betref die verantwoordelikheid vir die jaarlikse en kwartaallikse samestelling en verspreiding van Suid-Afrika se nasionale rekeningstelsels, was SSA in die verlede verantwoordelik vir die jaarlikse en kwartaallikse produksiegebaseerde skattings van die BBP, terwyl die Suid-Afrikaanse Reserwebank die kwartaallikse uitgawes gegrond op skattings van die BBP, bekend gemaak het.

1.5. Die Regering gee aandag aan  landsburgers se behoeftes en as ons saamwerk, kan ons die lewens van Suid-Afrikaners verander. Die watersuiweringsaanleg ter waarde van R116 miljoen in Steytlerville, buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap, sal watertekorte die hoof bied. Dit is deur die Departement van Handel en Nywerheid (dti) van stapel gestuur deur sy Kritieke Infrastruktuurprogram, die Departement van Water en Sanitasie en die Baviaans Plaaslike Munisipaliteit.

Suid-Afrika is 'n waterskaars land en die nuwe watersuiweringsaanleg sal kapasiteit uitbrei sodat die gemeenskap en sakeondernemings ongeveer 24 liter per sekonde teenoor agt tot 10 liter kan kry. Dit is voldoende om vir die volgende 15 jaar aan die vraag na water in Steytlerville te voldoen.

Die nuwe aanleg is ook deel van die breë ekonomiese ontwikkeling van die dorp en bring stabiliteit vir boere, kleinskaalse ondernemings en beleggers. Die befondsing van die Departement van Handel en Nywerheid aan die Baviaans Plaaslike Munisipaliteit vir die infrastruktuur het plaaslik 'n geskatte 238 werksgeleenthede in die bousektor geskep. Die plan is daarop gemik om ekonomiese groei te stimuleer en broodnodige werkgeleenthede te skep.

1.6. As deel van die Regering se Spoorvernuwingsprogram verwelkom die Kabinet die die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se toetsing van die nuwe X'Trapolis Mega-pendeltreine.

Die moderne nuwe treine sal na verwagting in Oktober in diens gestel word. Die treine het outomatiese deure, oop gange dwarsdeur die trein, lugversorging en kringtelevisie vir beter passasiersveiligheid.

Treine verbind Suid-Afrikaners en speel 'n belangrike rol in openbare vervoer en die stimulering van ekonomiese groei.

1.7. Ter ondersteuning van kleinsakeontwikkeling het die Tesourie en die Swart Besigheidsraad 'n instapsentrum daargestel wat kleinsakeondernemings sal bystaan met registrasie op die sentrale verskaffersdatabasis (SVD), e-tendernavrae en ander kliëntedienste van die nasionale Tesourie.

Dit gaan administratiewe rompslomp aansienlik verminder en maak dit makliker vir sakeondernemings, veral kleinsakeondernemings, om by ekonomiese geleenthede te baat en tot die ontwikkeling van ons ekonomie en die land by te dra.

1.8. Ons moedig voornemende en huidige diensverskaffers aan om op die SVD te registreer. Dit is die bron van alle inligting oor diensverskaffers vir alle regeringsfere. Die sentralisering van die verskaffersdatabasis het dit ten doel om duplisering te verminder vir verskaffers en die Regering en terselfdertyd elektroniese verkrygingsprosesse moontlik te maak.

1.9. Die Nasionale Werkfees, wat 'n bykomende bydrae tot die skepping van behoorlike indiensneming gemaak het deur middel van ekonomiese groei, het onlangs plaasgevind onder die tema: "Werkspitsberaad en Werkfees - my werk my toekoms", wat werkloses met sagte vaardighede, inligting en eerstehandse werksoekgeleenthede bemagtig, veral wat betref verdere leer, selfindiensneming, koöperasies en gemeenskapswerkprogramme.

1.10. Die deurvoer van die Onteieningswetsontwerp in die Parlement bied regsekerheid aan die Staat om die program van radikale sosio-ekonomiese transformasie in werking te stel om die grondkwessie op te los. Dit definieer die "administratiewe billike proses" wat enige onteieningsowerheid moet volg. Die Onteieningswetsontwerp en voorsiende wet maak voorsiening vir prosedures doeltreffendheid, sekerheid en vinniger onteienings in openbare belang, insluitende grondrestitusie. Die wetsontwerp maak daarvoor voorsiening dat 'n persoon of gemeenskap wat oor eeue heen van sy/hulle grond verdryf is, geregtig is op restitusie op die betrokke eiendom of andersins billike vergoeding.

Dit stel reëls waarvolgens die Regering op grond "in openbare belang" en "vir openbare doeleindes" kan aanspraak maak. Die Wetsontwerp volg die Handves van Regte en Eiendomsklousulekriteria wat oorweeg moet word in geval van vergoeding vir onteiening. Dit maak ook daarvoor voorsiening dat eienaars redelik en billik vergoed word.

Sodra die wet onderteken is, vervang die wetsontwerp die ou Onteieningswet, 1975 (Wet 63 van 1975).

1.11. Die Presidensiële Adviesraad oor Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging, wat onlangs vergader het, fokus op inklusiewe groei. Die adviesraad sal in noue samewerking met die Presidensiële Professionele Werkgroep, wat deur President Jacob Zuma in die lewe geroep is, verseker dat kwessies wat swart professionele mense raak, aandag geniet

Die vergadering is nog 'n aanduiding van die gees van eenheid en samewerking om inklusiewe ekonomiese groei te stimuleer, met inagneming van die doel van SEB, sodat ons vordering kan maak met transformasie en 'n nie-rassige ekonomie.

1.12. Suid-Afrika gaan vir die eerste keer aan 'n tweedaagse VIII Internasionale Inligtingstegnologieforum in Khanty-Mansiysk, Rusland, deelneem en deur Minister Faith Muthambi teenwoordig word. Die forum vind vanaf 8 tot 9 Junie 2016 plaas en gebruik wetenskap en tegnologie om van die grootste uitdagings in ons onderwys- en gesondheidstelsels die hoof te bied. Afgevaardigdes by die forum sluit in verteenwoordigers van die sakesektor, professionele verenigings, navorsers, opvoedkundiges en IT-kundiges van BRICS-lidlande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika).

1.13. Die 5de jaarlikse Afvalbestuur-khoro, oftewel konferensie, onder leiding van die Minister van Omgewingsake onder die tema "Die bevordering van innovering en Stimulering van Ondernemingsontwikkeling" het ten doel om dienslewering te verbeter en 'n snelle ommeswaai van afvalbestuursprogramme te weeg te bring, om sodoende die ekonomie te stimuleer, en om meer gemeenskappe by die hoofekonomie te betrek, deur toegang tot werksgeleenthede in die afvalsektor te versnel.

1.14. Die vrystelling van uitkomste van die plaaslikeregeringsoudit vir 2014/15 toon ’n verbetering van ouditresultate van munisipaliteite van 2010/11 tot 2014/15.

Die getal munisipaliteite wat ongekwalifiseerde oudits ontvang het, het van 13 na 54 gestyg. Daarbenewens het ’n verdere 18 munisipaliteite skoon oudits ontvang, wat die totale aantal skoon oudits vir die huidige tydperk op 72 te staan bring. Daar was 'n aansienlike daling in negatiewe oudits en vrywarings van munisipaliteite, wat van meer as 30% in 2010/11 na ongeveer 11% in die huidige boekjaar afgeneem het.

Hierdie verbetering is te danke aan die Terug na die Basiese Beginsels-program, Operasie Skoon Oudit, beslissende leierskap, verbeterde finansiële en prestasiebestuur en rekordhouding.

1.15. Die Kabinet neem kennis van die uitspraak van die Appèlhof wat verklaar het dat die digitale-uitsaaimigrasiebeleid in 2015 onwettig en ongeldig is en tersyde gestel is. Die Presidensie, en die departemente van Kommunikasie; Telekommunikasie en Posdienste; Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling; asook Handel en Nywerheid sal die Regering oor die volle implikasies van die uitspraak adviseer.

1.16. Met die plaaslike regeringverkiesings wat op Woensdag, 3 Augustus 2016 gehou word, moet alle politieke partye hulle by die verkiesingsgedragskode hou, wat deur alle partye onderteken is. Dit verbind alle partye wat aan die verkiesing deelneem om by te dra om 'n vry en regverdige verkiesing te verseker. Politieke partye en ondersteuners moet by die Grondwet hou en diegene wat hulle aan misdaad skuldig maak, sal die volle mag van die gereg moet trotseer.

In die lig van die onlangse politieke onverdraagsaamheid, het die Minister van Polisie 'n multidissiplinêre taakspan in die lewe geroep bestaande uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Misdaadintelligensie, Speurdienste, die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) en Forensiese Dienste om die visie van die Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk se Uitkoms Drie te onderlê, wat bepaal dat "alle mense in Suid-Afrika veilig moet wees en moet voel".

1.17. Rakende die kwessie van die terreurwaarskuwing wat deur die Ambassade van die Verenigde State van Amerika (VSA) in Pretoria uitgereik is, benadruk die Kabinet die verklaring deur die Presidensie dat die Sekerheidsgroepering onlangs vergader het om die kwessie verder te bespreek om voortgesette veiligheid vir almal in die land te verseker.

Daarbenewens voer die Suid-Afrikaanse Regering steeds gesprekke om die saak met die VSA se regering te bespreek as deel van deurlopende samewerking op die gebied van veiligheid tussen die twee lande. Suid-Afrika en die VSA geniet steeds sterk en hartlike verhoudings op verskeie gebiede, insluitend politieke, ekonomiese, maatskaplike en veiligheidskwessies.

1.18. In Junie vanjaar vier ons die 40ste herdenking van die 16 Junie 1976-opstand, wat die sosio-politieke landskap in Suid-Afrika indringend verander het.

President Zuma sal die opening van die die Nasionale Jeugdag-verrigtinge by Orlando-stadion in Soweto op 16 Junie 2016 waarneem, onder die tema: "Die jeug neem Suid-Afrika vorentoe".

Hoogtepunte sluit in die President se toespraak en die kranslegging by die Hector Pieterson-gedenkteken.

'n Spesiale mediakonferensie sal op Dinsdag, 14 Junie 2016, gehou word waartydens verdere besonderhede oor die program vir Jeugdag bekend gemaak sal word. Ministers en adjunkministers was druk besig om deur die loop van die maand met mense, veral die jeug, gesprek te voer en hulle aan te moedig om geleenthede in verskeie sektore aan te gryp sodat hulle hul lewens kan verbeter en doeltreffend tot die ontwikkeling van die ekonomie en die land kan bydra. Die programme van ministers betrokke by die Jeugmaandprogram sal op die Regering se webwerwe en sosialemediaplatforms bekend gemaak word.

1.19. Met die aanvang van die inisiasietydperk, maak baie jong mans hulle gereed vir die ritueel waartydens hulle volwassenheid sal betree.

Die Regering, onder leiding van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DKRTS), werk saam met instansies en belanghebbendes in tradisionele leierskap aan die Geen Sterftes-veldtog met die tema "Ons koester ons tradisie, ons waardeer die lewens van ons jeug", om te verseker dat daar geen sterftes in die 2016 inisiasie-seisoen sal wees nie.

Gesinne, ouers en voogde moet seker maak dat die jong mans slegs wettige inisiasieskole besoek, waar voorafgoedkeuring gedoen is, chirurge goed opgelei is en aan ouers bekend is. 

Gemeenskappe word versoek om enige onwettige aktiwiteite by 0800 111 166 of #zero tolerance on initiation deaths aan te meld.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die President van die Republiek van Suid-Afrika, Jacob Zuma, is tot die Staatshoofde-hoëvlakpaneel oor Water verkies. Die Direkteur-generaal van die Departement van Waterwese en Sanitasie is aangestel as sjerpa ('n staatsamptenaar of diplomaat wat voorbereidende werk voor 'n spitsberaad onderneem) vir die president as lid van die hoëvlakpaneel oor water.

Die Adviesraad oor Water en Sanitasie van die Verenigde Nasies se Sekretaris-generaal het aanbeveel dat uitgesoekte staatshoofde op die hoëvlakpaneel moet dien om voorspraak te maak oor water en gepaardgaande aanpassings in navolging van die aanvaarding van die 2030-ontwikkelingsagenda deur die VN-sekretaris-generaal in September 2015.

Die paneel gaan die inwerkingstelling van die volhoubare ontwikkelingsdoelwit 6 (skoon water en sanitasie) versnel. Die doelwit fokus opnuut op die wesentlike invloed wat klimaatsverandering op die watersiklus het. In die lig hiervan en die volgehoue droogte in die land, word Suid-Afrikaners aangemoedig om betrokke te raak by die opruiming van riviere, strome en vleilande op 18 Julie, as deel van die jaarlikse Mandeladag-vieringe.

2.2. Die Kommunikasiestrategie van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se Visie 2030 beklemtoon die inwerkingstelling van die NOP en sal die impak van die NOP op Suid-Afrikaners bekend maak. 'n Spesiale mediakonferensie sal gehou word om die kommunikasiestrategie, gebruik van die logo, handelsmerkriglyne en-toepassing bekend te stel om ’n eenvormige kommunikasiebenadering tussen alle staatsdepartemente en implementeringsagentskappe te verseker. 

2.3. Die Verslag oor die Omvang van Verwoestyning in Suid-Afrika en die invloed daarvan op die landelike ekonomie en verwante strategieë om hierdie uitdagings te pak.

Die gevolge van verwoestyning, die agteruitgang van grond en droogte belemmer pogings om armoede uit te wis, voedselsekuriteit te beskerm, die gehalte en hoeveelheid water te verbeter, veerkragtigheid en aanpassing by klimaatsverandering deur te voer, asook om volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig.

In dié verband, het Suid-Afrika 'n aantal wetgewende instrumente, beleid, strategieë en praktiese programme bekend gestel om die kwessie van verwoestyning en grondagteruitgang op alle vlakke te pak. Hierdie ingrypings dra by tot bewaring en sosio-ekonomiese opheffing. Daarbenewens skep dit werkgeleenthede, bevorder vaardigheidsontwikkeling en verbeter mense se lewensbestaan.

2.4. Die vrystelling van die verslag dra by tot die erkenning van die Wêrelddag om Werwoestyning en Droogte te Pak op 17 Junie, soos deur die Algemene Vergadering van die VN afgekondig. Vanjaar fokus die viering van Wêrelddag om Werwoestyning en Droogte te Pak op die belangrikheid van die herstel van inklusiewe samewerking en die rehabilitasie van swak grond om die algehele doelwitte van volhoubare ontwikkeling te bereik. Hierdeur voldoen Suid-Afrika aan sy verpligtinge ingevolge die VN se Konvensie oor die Bestryding van Verwoestyning.

2.5. Die reaksieverslag rakende kwessies van die VN-komitee oor die Regte van die Kind is goedgekeur. Dit hou verband met die tweede verslag oor die inwerkingstelling van die Konvensie oor die Regte van die Kind en die opsionele protokol oor kinderhandel, kinderprostitusie en kinderpornografie.

Dit sal tydens die 73ste sessie van 13 tot 30 September 2016 in Genève oorweeg word. Die Kabinet neem kennis van die begin van die data-insamelingsproses vir die volgende stel periodieke verdragverslae rakende die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind en die VN se Konvensie oor die Regte van die Kind, wat teen 7 Januarie 2017 en 15 Julie 2017 onderskeidelik ingedien moet word.

2.6. Die aanbevelings en voorstelle van die Omvattende Verslag oor die Hersiening van die Inwerkingstelling van die Witskrif vir Maatskaplike Welsyn van 1997 is goedgekeur. Dit sal die hersiene Witskrif vir Maatskaplike Welsyn bespoedig, wat fokus op die Regering se prioriteit om sorgsame, volhoubare en veilige gemeenskappe wat saamstaan te bou.

Die aanbevelings fokus op die prioriteite in die NOP, wat maatskaplike beskerming en ontwikkelingsgerigte maatskaplike welsyn beskou as 'n progressiewe manier om maatskaplike ontwikkeling te bereik. Die inwerkingstelling hiervan sal die lewens van kwesbare mense en dié wat in uiterste armoede leef, veral vroue, kinders en mense met gestremdhede positief beïnvloed. Dit sal verseker dat hierdie groepe toegang kry tot spesifieke maatskaplikeontwikkelingsdienste wat nodig is om hul lewenstandaard en welsyn te verbeter.

2.7. Suid-Afrika gaan saam met die Republiek van Botswana 'n gewysigde verdrag oor uitlewering onderteken, ingevolge artikel 231 (1) van die Grondwet.

Dit is daarop gemik om meer doeltreffende samewerking tussen Suid-Afrika en Botswana te bewerkstellig, en uitleweringsversoeke van Botswana, waar die doodstraf 'n moontlike vonnis is, te vergemaklik.

Dit benadruk die feit dat Suid-Afrika nie 'n veilige hawe vir misdadigers is nie en maak daarvoor voorsiening om voortvlugtigdes uit te lewer en wetstoepassing ter voorkoming, ondersoek en aanklag van misdaad te vergemaklik.

2.8. Die SAPD sal binnekort een jaarlikse omvattende verslag publiseer en misdaadstatistiek kwartaalliks bekend maak. Die jaarlikse omvattende verslag sal die veranderinge in misdaadstatistiek akkommodeer wat mag voortspruit uit gehalteversekering en veranderinge met betrekking tot die status van die gevalle wat gedurende die jaar onder oorweging mag plaasvind.

Die gereelde bekendmaking van statistiek sal regeringsbesluitneming verbeter om misdaadtendense te pak. Dit strook met die beginsels van die NOP, wat bepaal dat mense in Suid-Afrika moet help om veiliger gemeenskappe te bou.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars sal aan die Parlement voorgelê word. Die Wet op Outeursreg, 1978 (Wet 98 van 1978) en die Wet op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars, 1967 (Wet 11 van 1967) is verouderd en dek nie verwikkelinge op multilaterale vlak nie en oorweeg of hanteer ook nie digitale kwessies nie.

Dit strook met die NOP se oogmerke om innovering en produktiwiteit te verbeter, asook groter klem op 'n kennisekonomie en beter benutting van vergelykende en mededingende voordeel. Die huidige beleidshersiening spruit uit die behoefte dat wetgewing intellektuele goedere, die digitale era en ontwikkelings op multilaterale vlak moet dek. Dit beskerm ook 'n eenbeleidsbenadering op nasionale en internasionale vlak van die Regering. Hierdie hersiening dek ook die belangrikste buigsaamhede op die gebied van outeursreg en beskerming van uitvoerende kunstenaars.

4. Komende gebeure

4.1. Die Interministeriële Komitee is in 'n gevorderde stadium om voorbereidings te tref vir die aanbieding van die 21ste Internasionale Vigskonferensie, wat van 18 tot 22 Julie 2016 in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban gehou sal word, en deels deur die Regering en die Internasionale Vigsvereniging aangebied sal word.

Suid-Afrika is gereed om die konferensie aan te bied, wat ook die toerismebedryf, klein-, medium- en mikro-ondernemings, en die informele handelsektor 'n hupstoot sal gee.

Die konferensie bied 'n belangrike geleentheid vir die land om sy suksesse ten toon te stel in die aanpak van kwessies oor MIV en vigs. Dit het wêreldwye betekenis aangesien dit tussen 18 000 en 20 000 deelnemers uit 180 lande lok. Wêreldleiers van regerings, politieke leiers, nyweraars, die burgerlike samelewing, ontwikkelingsvennote en akademiese instellings sal deelneem.

Die volgende vergadering van die interministeriële komitee sal in Durban gehou word waartydens geriewe ook geïnspekteer sal word. 'n Spesiale mediakonferensie sal op Maandag, 13 Junie 2016 gehou word.

4.2. President Zuma sal 'n Presidensiële Siyahlola-moniteringsbesoek aan Kwaggafontein in Mpumalanga op Vrydag, 10 Junie 2016 onderneem.

Die besoek volg op die President se interaksie met Suid-Afrikaners in Februarie 2016 in Marabastad in Pretoria waartydens pendelaars kwessies oor dienslewering in Kwaggafontein bespreek het.

Die Presidensiële Siyahlola-moniterinsprogram sal president Zuma en regeringsleiers in staat stel om  die suksesse en uitdagings in die gebied eerstehands te beskou. Die President sal ook gebruik maak van die besoek om verder te reageer op die uitdagings waarmee inwoners in die Thembisile Hani Plaaslike Munisipaliteit te kampe het.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet wens die volgende mense en instansies geluk en wens hulle alles van die beste toe:

a. David Gatebe en Charné Bosman nadat hulle die 2016 Comrades-maraton in onderskeidelik die kategorieë vir mans en vroue gewen het. Gatebe het intussen 'n nuwe rekord in die padwedloop vir mans van vyf uur en 18 minute geslaan.

b. Die aankondiging dat Volkswagen Suid-Afrika se aanleg in Uitenhage in die Oos-Kaap bekroon is as die beste fabriek in Volkswagen se wêreldwye produksienetwerk in 2015. VWSA het die hoogste indekstelling van 113,2% onder 13 aanlegte in die wêreld.

c. Die 301 Suid-Afrikaanse brandbestryders van die Departement van Omgewingsake se Werk aan Brande-program, wat na Kanada gereis het om die owerhede daar by te staan om 'n veldbrand, wat al vir 'n maand lank buite beheer is, te help bestry. Kabinet wens hulle alle sukses en 'n veillige terugreis toe. 

d. Die toekenning van die Orde van Verdienste aan Minister Derek Hanekom. Dit is die hoogste eerbetoon wat Duitsland aan individue vir hul politieke, ekonomiese, maatskaplike en intellektuele prestasies gee. Dit is toegeken uit erkenning vir sy bydrae tot samewerking tussen Duitsland en Suid-Afrika tydens sy termyn as Minister van Wetenskap en Tegnologie. 

e. Die Kabinet wens ook alle praktiserende Moslems 'n geseënde Ramadaan toe.

5.2. Ons betuig ons meegevoel aan die volgende:

a. Die Sahrawi-mense na die afsterwe van President Mohamed Abdelaziz.

b. Die Browde-familie na die afsterwe van Advokaat Jules Browde SC wat duisende mense verteenwoordig het teen uitsetting uit hul huise ingevolge die Groepsgebiedewet tydens die hoogtepunt van politieke onderdukking tydens apartheid. Advokaat Browde het verskeie antiapartheidsaktiviste verteenwoordig, onder wie die voormalige ANC-presidente Nelson Mandela en Oliver Tambo. Hy was ook 'n stigterslid van Regslui vir Menseregte.

c. Die familie, vriende en godsdienstige gemeenskap na die afsterwe van Dr Simon Gqubule. Hy was een van die voorste godsdiensleiers, akademici en staatmakers van die bevrydingstryd. President Zuma het dr. Gqubule op 28 April 2016 bekroon met die Orde van Luthuli in Silver uit erkenning vir sy uitstekende bydrae tot die vryheidstryd en op die gebied van onderwys en godsdiens.

d. Die familie en vriende van die veteraanakteur en regisseur Nyembezi Kunene, wat ná 'n lang siekbed oorlede is. Kunene het 'n roemryke loopbaan gehad en het aansienlik bygedra tot die bevordering van die plaaslike rolprentbedryf.

e. Die familie en vriende van die voormalige Bafana Bafana-afrigter, Ted Dumitru, wat 'n voortreflike loopbaan gehad het in die afrigting Kaizer Chiefs, Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates. Hy het ook Bafana Bafana vir die 2006-Afrikanasiesbeker afgerig .

f. Die familie, vriende en burgers van Nigerië na die verlies van die Nigeriese sokkerlegende, Stephen Keshi. Hy het die Afrikanasiesbeker as 'n speler en afrigter gewen en bygedra tot sokker in Afrika en die wêreld.

g. Ons sluit by die res van die wêreld aan en bring hulde aan die voormalige swaargewig-bokskampioen en internasionale sport-ikoon Muhammad Ali. Ali was 'n inspirasie vir baie mense oor die wêreld heen en het sy posisie gebruik om burgerregte, geregtigheid en gelykheid te bevorder.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en toepaslike uitklarings.

6.1. Nasionale Bemagtigingsfonds:

Me Philisiwe Mthethwa heraangestel as Uitvoerende Hoof.

6.2. Kleinsakeontwikkelingsagentskap:

Me Nondumiso Mandisa Tshikwatamba as die Uitvoerende Hoof.

6.3. Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid:

Mnr Thokozani William Magwaza as die Uitvoerende Hoof.

6.4. Departement van Landbou, Bosbou en Visserye:

Mnr Michael Mlengana as Direkteur-Generaal.

Navrae:
Me Nebo Legoabe
(Waarnemende Direkteur-Generaal van GCIS)
Sel: 082 453 2874

Share this page

Similar categories to explore