Verklaring deur president Cyril Ramaphosa oor vordering in die nasionale poging om die COVID-19-pandemie te bestry 

Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is presies 15 maande sedert ons ‘n Nasionale Ramptoestand afgekondig het in reaksie op die coronavirus-pandemie. 

Ons het nog nooit voorheen ‘n gesondheidskrisis van hierdie omvang gehad nie, en ook nie een wat so langdurig is nie.

Dit is te verstane dat baie Suid-Afrikaners nou moeg en uitgeput is.

Ons treur oor die groot lewensverlies en ons sukkel om die groot impak wat die pandemie op die bestaansmiddele van miljoene mense gehad het, te hanteer.

Ek weet dat ons ongeduldig raak met die beperkings wat op ons geplaas is.
Ek verstaan heeltemal dat julle besorg is oor die beperkings op julle vryheid om te reis, bymekaar te kom, te sosialiseer, te aanbid en in sommige gevalle om ‘n bestaan te maak. 

En tog weet ons dat hierdie beperkings doeltreffend was om die verspreiding van die virus in bedwang te hou.

Ons het twee vernietigende golwe van infeksie beleef en deurleef. 

Maar deur saam te werk, het ons die infeksiesyfer afgebring en groot lewensverlies voorkom.

Ons weet dat, alhoewel die laaste 15 maande uiters moeilik was, ons begin het om te herstel en te herbou. 

Alhoewel ons massa-inentingsprogram ‘n paar terugslae beleef het, tel dit nou spoed op en is ons uiteindelik besig om die siekte onder beheer te kry.

Maar alhoewel ons rede het om te hoop, het ons nog steeds ‘n berg om uit te klim. 

Daar is ‘n derde golf van infeksie voor ons deur. Ons moet hierdie nuwe golf van infeksie in bedwang hou.

Sedert ek twee weke gelede met julle gepraat het, het die gemiddelde aantal daaglikse nuwe infeksies verdubbel. 

Toe het ons ongeveer 3 700 daaglikse infeksies aangeteken. 

Oor die afgelope sewe dae het ons ‘n gemiddelde van 7 500 daaglikse infeksies aangeteken. 

Hospitaaltoelatings weens COVID-19 oor die afgelope 14 dae is 59% hoër as in die voorafgaande 14 dae. 

Die gemiddelde aantal mense wat daagliks aan COVID-19 sterf, het met 48% toegeneem vanaf 535 twee weke gelede tot 791 in die afgelope sewe dae. 
Met uitsondering van die Noord-Kaap, ervaar al die provinsies stygende infeksies.

Vier provinsies – Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap – is amptelik in die derde golf, terwyl die ander daarheen op pad is.

Die proporsie COVID-uitslae wat positief is – die sogenaamde positiwiteitskoers – hou aan styg in Gauteng, Limpopo, die Wes-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Van almal word Gauteng die ergste geraak.

Byna tweederdes van nuwe gevalle die afgelope week is in Gauteng aangemeld.

Die toename in infeksies in Gauteng is nou vinniger en die styging skerper as gedurende dieselfde tydperk tydens vorige golwe. 

Dit is ‘n kwessie van dae voordat die aantal nuwe gevalle in Gauteng die piek van die vorige golf sal oorskry. 

Private hospitale in die provinsie het aangedui dat hulle naby hulle kapasiteit is. 
Ons moet vinnig en beslis optree om lewens te red.

En om dit te doen, moet ons na die basiese beginsels terugkeer. 

Ons moet onsself herinner hoe die virus versprei word sodat ons elkeen seker maak dat ons op ‘n manier optree wat die kans van oordrag verminder.

Ons moet nie die basiese voorsorgmaatreëls verontagsaam wat ons weet noodsaaklik is nie. Ons wetenskaplikes sê dat dit deur ons gedrag is wat die virus versprei word. 

Ons moet onthou dat baie mense wat met COVID-19 geïnfekteer word, nie enige simptome toon nie. 

Die persoon wat dalk langs jou in ‘n taxi sit, of ‘n kollega, ‘n vriend of selfs ‘n familielid by ‘n sosiale byeenkoms, mag geïnfekteer wees. 

Jy kan geïnfekteer word wanneer jy saam met ‘n taxi ry wat nie oop vensters het nie. 

Jy kan die virus van ‘n kollega kry wat nie sy mond én neus met sy of haar gesigmasker bedek nie.

Jou vriend of familielid het dalk nie sy of haar hande gewas of ontsmet voordat hulle vir jou ‘n drankie of ‘n bord kos aangegee het nie, en dan kan jy geïnfekteer raak. 

Jy gaan kuier dalk by jou bejaarde ouers of grootouers en besef nie jy is geïnfekteer nie, en steek hulle dan aan. 

Jy gaan kuier dalk by jou familielid wat diabetes, hoë bloeddruk of ‘n ander onderliggende toestand het en steek hulle aan, al voel jy heel gesond. 

Jy gaan dalk kerk toe of na die moskee, of na ‘n restaurant vol mense of ‘n winkelsentrum, en die hele tyd steek jy mense aan of stel jy ander mense se lewens en gesondheid in gevaar. 

Dit is ongelukkig so maklik soos dit om die siekte te versprei. 

As ons weet dat ons in kontak was met iemand wat met COVID-19 geïnfekteer is, moet ons die protokol volg om vir tien dae te isoleer, ongeag hoe ongerieflik dit ook al vir ons mag wees. 

Dit is een van die beste maniere om te voorkom dat die virus verder versprei.

Basiese gedragsveranderinge kan ‘n reuseverskil maak. 

Ons het al baie hieroor gepraat, maar dit moet herhaal word, want ons raak dikwels laks in ons optrede. 
Ons moet meer toegewyd, meer konsekwent en meer bewus van ons aksies wees. 

As ons versigtig en toegewyd is, kan ons oordrag beperk en die infeksietempo laat daal. 

Hoe minder mense op enige gegewe tydstip geïnfekteer is, hoe minder mense kan siek raak, hoe minder mense hoef gehospitaliseer te word, hoe minder mense het ISE-sorg nodig en hoe minder mense het ventilators nodig.

Ons weet uit die vorige twee golwe van infeksie, en uit ondervinding van regoor die wêreld, dat wanneer gesondheidsorgfasiliteite oorweldig is, daar groter lewensverlies is. 

Ons prioriteit is nou om seker te maak dat daar genoeg hospitaalbeddens, genoeg gesondheidswerkers, genoeg ventilators en genoeg suurstof is om die bes moontlike diens aan elke persoon te gee wat dit nodig het. 

Die massiewe golf van nuwe infeksies beteken dat ons weer eens strenger moet wees met die beweging en samekoms van mense. 

Ons moet die nakoming strenger afdwing en strenger stappe neem teen diegene wat nie by die regulasies hou nie.

In die lig van die stygende infeksies het ons dus besluit om die land na Vlak 3 te beweeg.

Dit sal later vanaand van krag word wanneer die regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is. 
Dit beteken:
- Die aandklokreël geld vanaf 10 PM tot 4 AM.
- Nienoodsaaklike instellings soos restaurante, kroeë, en gimnasiums sal teen 9 PM moet sluit om hulle werknemers en kliënte kans te gee om tuis te wees voordat die aandklokreël ‘n aanvang neem. 

- Alle byeenkomste word beperk tot ‘n maksimum van 50 mense binnenshuis en 100 mense buite. 
Waar die lokaal te klein is om hierdie aantal mense met voldoende sosiale afstand te akkommodeer, mag nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie. 

Dit sluit in godsdienstige, politieke en sosiale byeenkomste, sowel as restaurante, kroeë, tavernes en soortgelyke plekke.

- Begrafnisse mag nie deur meer as 50 mense bygewoon word nie en alle sosiale-afstand- en gesondheidsprotokolle moet gehandhaaf word. 

Nagwake en byeenkomste voor en na ‘n begrafnis (after tears) word nie toegelaat nie. 

- Die verkoop van alkohol vir verbruik weg van die perseel word slegs toegelaat tussen 10 AM en 6 PM vanaf Maandag tot Donderdag.

Dit sluit openbare vakansiedae uit. 
Alkoholverkope vir verbruik op die perseel (soos restaurante) word toegelaat volgens die perseel se dranklisensie, tot en met 9 PM. 

Die verbruik van alkohol in openbare ruimtes soos strande en parke, word verbied. 

Ons het deurgaans probeer om in ons respons tot die pandemie maatreëls in te stel wat in proporsie tot en toepaslik is vir die bedreiging wat die infeksie inhou. 

As ons te vinnig optree of maatreëls instel wat te streng is, sal die ekonomie daaronder ly. 

Terselfdertyd loop ons die risiko om beheer oor die virus te verloor as ons te laat optree of nie sterk genoeg aksie neem nie. 

Ons het dus die data fyn dopgehou en na die raad van die kenners en wetenskaplikes geluister. 

Die maatreëls wat ons nou in plek stel, is geskik vir die vlak van risiko en noodsaaklik om lewens te red. 

Tesame daarmee bly verskeie belangrike maatreëls steeds in plek.

Dit bly verpligtend vir elke persoon om ‘n gesigmasker te dra wat die neus en mond bedek wanneer die persoon in ‘n openbare plek is. 

Dit is ‘n kriminele oortreding as jy dit nie doen nie. 

Die eienaars en bestuurders van openbare geboue, winkelsentrums, winkels, restaurante, taxis en busse is almal verantwoordelik om seker te maak dat die mense op hulle perseel of in hulle voertuie maskers dra.

Hulle moet toesien dat die toepaslike sosialeafstandmaatreëls in plek is en nagekom word. 

Dit is belangrik om te onthou dat dit ‘n kriminele oortreding is as die aantal mense op jou perseel die maksimum aantal kliënte of werknemers wat daar mag wees vir behoorlike sosiale afstand, oorskrei.

Die skuif na Vlak 3 sal verskeie aspekte van ons lewens beïnvloed en mag vereis dat ons veranderinge aanbring aan aktiwiteite wat ons beplan het. 

Dit sluit in, byvoorbeeld, reëlings vir Jeugdagvieringe, wat geskeduleer isg om môre in Pietermaritzburg plaas te vind.

Dit sal nou ‘n hibridiese geleentheid wees, met ‘n aansienlik verminderde aantal mense wat dit fisies bywoon, en ‘n virtuele toespraak deur die president. 

Ons elkeen het die verantwoordelikheid om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om onsself en ander te beskerm.

Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om die risiko vir onsself en vir ander te beperk. 

Ons is almal daarvan bewus dat die inentingsprogram verskeie vertragings ervaar het. 

Ons eerste terugslag was toe ons wetenskaplikes, nadat ons eerste besending entstof hier aangekom het, bevind het dat die AstraZeneca-entsof, wat ons van die Seruminstituut van Indië bekom het, nie voldoende beskerming bied teen die variant wat hoofsaaklik in Suid-Afrika voorkom nie.

Ons is ook negatief geraak deur die wêreldwye tekort aan entstof. Dit het inentingsprogramme regdeur Afrika en in talle ander lae- en middelinkomste-lande aan bande gelê.

Ná die AstraZeneca-terugslag het dit geblyk dat die Johnson & Johnson-entstof die beste opsie vir ons land is, aangesien dit beskerming bied teen die variant en dit net ‘n enkeldosis vereis. Boonop is dit makliker om te berg en te vervoer. 

Die verskaffing van die Johnson & Johnson-entstof is egter opgeskort toe ‘n ondersoek van stapel gestuur is na die besmetting van die bestanddele by ‘n verskaffer se fabriek in Baltimore in die Verenigde State. 

Tot op hede het ons massa-inentingsveldtog dus staatgemaak op die Pfizer-entstof wat twee dosisse verg. 

Desondanks het 480 000 gesondheidswerkers die Johnson & Johnson-entstof tot op hede ontvang as deel van Fase 1 van ons program. 

As deel van Fase 2 het nog 1,5 miljoen gesondheidswerkers en mense bo die ouderdom van 60 die eerste dosis van die Pfizer-entstof ontvang. 
Dit bring die totale aantal mense wat ‘n entstofdosis ontvang het, op byna 2 miljoen te staan. 

Die tempo van inentings het stelselmatig begin toeneem en ons ent nou ongeveer 80 000 mense per dag by oor die 570 persele in die openbare en private sektor in.
Hierdie getal sal vinnig oor die volgende paar weke toeneem, aangesien ons poog om soveel as moontlik kwesbare mense te beskerm.

Die probleme met die Johnson & Johnson-entstof is nou opgelos. 

As gevolg van hierdie probleme, is tweemiljoen dosisse wat reeds vervaardig is, onbruikbaar. 

Die Aspen-aanleg in Gqeberha in die Oos-Kaap kan nou voortgaan om nuwe dosisse te vervaardig. 

Die maatskappy het hom daartoe verbind om vervaardiging beduidend te bespoedig en binne die volgende paar dae entstof aan die land te begin verskaf. 

Ons het tot op datum byna 2,4 miljoen Pfizer-entstofdosisse ontvang. 

Ons verwag dat ons teen die einde van Junie reeds 3,1 miljoen Pfizer-dosisse behoort te ontvang. 

Ons het ‘n aanduiding van Johnson & Johnson gekry dat hulle verwag om teen die einde van die maand ongeveer 2 miljoen entstowwe aan Suid-Afrika te lewer.

Die eerste dosisse wat ons van Johnson & Johnson ontvang, sal gebruik word om die opvoeders in ons skole in te ent, en daarna die sekuriteitspersoneel wat in die voorste linies werk.

Nou dat die vertraging in die verskaffing van entstowwe grootliks opgeklaar is, is ons onmiddellike taak om die inenting van diegene bo 60 jaar so spoedig moontlik af te handel.

Daar word beraam dat ons tans oor die kapasiteit beskik om ten minste 150 000 mense per dag in te ent en ons beplan om dit te sou spoedig moontlik na 250 000 mense per dag te verhoog. 

Ek doen daarom ‘n beroep op elke persoon in die land wat ouer as 60 is, om sonder verwyl te registreer – hetsy aanlyn, per SMS, telefoon of in persoon – en om sonder verwyl ingeënt te word. 

Ek doen ‘n beroep op al die ander mense – as jy iemand ouer as 60 jaar ken wat nog nie ingeënt is nie – om hulle asseblief te help om te registreer en ingeënt te word.

Soos wat ons sien dat die infeksiekoers regoor die land aan die styg is, is daar een statistiek wat vir ons ‘n rede gee tot hoop.

Tydens die toename in die tweede golf van infeksie vroeg in Desember verlede jaar, was daar op dieselfde tydstip in die golf 640 gesondheidsorgwerkers wat met COVID-19 geïnfekteer was oor ‘n sewedagtydperk.

Oor die laaste sewe dae is slegs 64 gesondheidsorgwerkers geïnfekteer. 

Alhoewel ons onwrikbaar moet wees in ons vasberadenheid om te verseker dat geen gesondheidsorgwerkers geïnfekteer word nie, is dit ‘n beduidende afname in infeksies, wat toegeskryf kan word aan die sukses van die eerste fase van ons inentingsprogram. 

Dit is ‘n bewys dat die inentings werk. 

Dit moet ons motiveer om die ontplooiing van entstowwe te versnel en seker te maak dat alle mense wat tans vir die inenting kwalifiseer, registreer en dit ontvang.

Vyftien maande gelede, toe ek die nasie uit die Uniegebou toegespreek het, het ek gesê: “Hierdie epidemie sal verbygaan.” 

“Maar dit sal van ons afhang hoe lank dit gaan duur, en hoe lank dit vir ons ekonomie en ons land gaan neem om te herstel.

“Dit is waar dat ons ‘n ernstige noodtoestand in die gesig staar.

“Maar as ons saamstaan, as ons nou optree, en as ons doelbewus optree, sal ons dit oorkom.”

Na al die tyd wat verloop het, na alles wat ons deur is, na alles wat ons gedoen en bereik het as ‘n nasie, bly hierdie woorde nog steeds waar.

Ons het so baie as ‘n nasie deurgemaak en ons het geseëvier. 

Ons sal nie oorweldig word deur onsekerheid, vrees of swaarmoedigheid nie.

Ons sal nie afgeskrik word deur die omvang of kompleksiteit van die taak voor ons nie. 

Ons kan nou ‘n weg uit hierdie pandemie begin sien.

Maar daar is nog baie wat gedoen moet word. 
Ons het getoon dat ons oor die middele en die wil beskik om hierdie virus te bestry.

En ek is meer as ooit tevore vol vertroue dat ons sal slaag. 

God seën Suid-Afrika en beskerm sy mense.

Baie dankie.

Share this page

Similar categories to explore