Verklaring van die Kabinetsvergadering van 18 September 2013

  • 23 Sep 2013

    1. Die Kabinet se standpunt oor prominente kwessies in die huidige omgewing

    1.1 Onder President Jacob Zuma se leierskap loods die Regering die land se multimiljoenrand openbare infrastruktuurprogram wat daarop gemik is om werksgeleenthede te ontsluit en dienste aan alle Suid-Afrikaners te verskaf.

    Deur hierdie program is die Regering getrou aan sy verbintenis om meer werksgeleenthede te skep. Sedert die aanvaarding van die Nuwe Groeipad het werksgeleenthede met 750 000 toegeneem. Net minder as die helfte hiervan is deur die openbare sektor geskep, veral gesondheidswerkers, onderwysers en die polisie.

    Hierdie program prioritiseer die ontwikkeling van kleinsakeondernemings wat as 'n belangrike komponent vir die ontsluiting van ekonomiese geleenthede beskou word.

    Die Kabinet betuig sy dank teenoor alle sektore wat met die Regering saamspan om sy massiewe infrastruktuurontwikkelingsinsiatief uit te voer en vra vir verdere samewerking om werkskepping te bespoedig en om die land se ekonomie en samelewing te transformeer.

    As deel van die inwerkingstelling van die openbare infrastruktuur open President Zuma op 20 September die Grootvlei-kragstasie en inspekteer die spoorlynkonstruksieperseel in Mpumalanga.

    Die Kabinet verwelkom die oprigting van die nuwe Sol Plaatje Universiteit in Kimberley in die Noord-Kaap. Die bou van die universiteit begin einde September 2013. Die universiteit is 'n mylpaal in die groei en ontwikkeling van Suid-Afrika se tersiêre onderwyssektor. Die sooispitplegtigheid lui die aanvang van die bouwerk aan die kampus in. Die ontwikkeling van die nuwe universiteit is geïdentifiseer en geprioritiseer binne die strategies-geïntegreerde projekte (SIP 14) deur die Presidensiële Infrastruktuurkoördineringskommissie (PICC).

    1.2  President Jacob Zuma en die Kabinet, bring op 29 September 2013 hulde aan Suid-Afrika se senior burgers by die Sefako M Makgatho Presidensiële Gastehuis in Pretoria. Die geleentheid huldig die bydrae wat senior burgers tot die ontwikkeling van die gemeenskappe en die land gelewer het. Dit lui die begin van die Week vir Ouer Persone in wat op 6 Oktober ten einde loop en as Grootouerdag bekend staan.

    1.3  President Jacob Zuma spreek die Algemene Debat van die 68ste Sessie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering (UNGA68) op 24 September 2013 in New York toe. Vanjaar se tema is: The Post-2015 Development Agenda: Setting the Stage! en fokus op die Milleniumontwikkelingsdoelwitte (MDGs) met 2015 as die teikendatum, asook die Ontwikkelingsagenda met 'n oog op die toekoms.

    Die UNGA68 bied aan Suid-Afrika 'n platform om ons strategiese benadering vir die bereiking van die MDGs en Post-2015 Development Agenda te bevorder. Ons deelname word ook gerig deur Suid-Afrika se nasionale belang en prioriteite, en ons verbintenis tot die streek en die kontinent.

    1.4  Die Kabinet veroordeel ten sterkste die sabotering van die elektrisiteitsvoorsiening deur onwettige stakings wat gelei het tot kragonderbrekings in Johannesburg. Sulke dade op 'n tydstip dat die land daaraan werk om sy elektrisiteitsvoorsiening te stabiliseer kan nie geïgnoreer word nie en moet met die volle mag van die reg beveg word.

    1.5  Die vrystelling van Suid-Afrika se jaarlikse 2012/13 Nasionale Misdaadstatistiek herbevestig ons oortuiging dat samewerking ons sal help om ons doelwit van misdaadvrye samelewing te bereik, wat beleggings lok en wat op sy beurt vrede en stabiliteit in ons gemeenskappe sal verseker.

    Die Kabinet doen 'n beroep op alle rolspelers om op konstruktiewe wyse met die bevindinge om te gaan. Die Regering stel hierdie statistiek een maal per jaar vry hoofsaaklik om die jongste inligting oor die stryd teen misdaad in die land aan die publiek bekend te stel, en ook om die huidige strategieë in misdaadbestryding te hersien. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gebruik ook op daaglikse basis misdaadstatistiek as bestuurshulpmiddel vir operasionele planne.

    Die Kabinet loof die onvermoeide pogings deur die SAPD en alle georganiseerde gemeenskapsliggame wat in vennootskap met die Regering optree in die stryd teen misdaad. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om betrokke te raak by die stryd teen misdaad. Deur saam te werk, sal ons verseker dat Suid-Afrika se burgers veilig en beskermd voel.   

    1.6 Die Kabinet spreek ernstige kommer uit oor die onlangse vlaag gruwelike padongelukke. Sulke ongelukke laat gesinne sonder heenkome en het 'n ernstige negatiewe uitwerking op die ekonomie. Die Kabinet doen 'n beroep op alle motoriste om te verseker dat hulle voertuie padwaardig is en dat hulle verantwoordelik agter die stuurwiel sal optree. In die lig hiervan doen die Kabinet 'n beroep op verkeersowerhede om voort te gaan met hul benadering van onverdraagsaamheid teenoor onpadwaardige voertuie en dronkbestuur. Die Kabinet versoek ook voetgangers om die verkeersreëls na te kom.

    1.7 Die Kabinet vra alle Suid-Afrikaners om Erfenisdag op 24 September 2013 te vier deur verskille plekke dwarsoor die land waar ons ryk en diverse erfenis uitgebeeld word, te besoek. Dit is ter viering van ons 20 jaar van vryheid. Daar word 'n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners, skole, besighede en gemeenskappe om die vlag hoog te laat wapper as simbool van ons viering van 20 jaar van vryheid en om die Freedom Friday-veldtog wat op 20 September geloods is, te ondersteun.

    1.8 Die Kabinet wens Lucas Sithole geluk met sy oorwinning in die rolstoel vierwiel enkeltitel by die Amerikaanse Ope Tennistoernooi in New York. Sithole het ná die oorwinning met een plek tot tweede plek opgeskuif. Dit was die eerste groot titel van die Internasionale Tennisfederasie wat 'n Afrikaan en 'n Suid-Afrikaner inpalm.  

    Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om gestremde atlete te ondersteun. Ons is trots op die wêreldklasprestasies wat hulle lewer en die feit dat hulle ons almal aanspoor om groter hoogtes te bereik.  

    1.9 Die Kabinet verwelkom die beraad van die Nasionale Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE) wat van 3 tot 5 Oktober 2013 plaasvind. Die tema is: 'n Dekade van Ekonomiese Bemagtiging.

    Die beleidsinstrument vir Swart Ekonomiese Bemagtiging is wesentlik 'n strategie vir groei wat daarop gemik is om die ekonomiese basis van die land te vergroot deur ongelykheid te teiken, wat die swakste plek van die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Die beraad sal die vordering met die implementering van BBBEE wat volg op die 10de herdenking sedert die BBBEE Wet in 2003 aanvaar is. Korporatiewe rolspelers, vakbondverteenwoordigers, politieke partye en burgerlike organisasies sal deur middel van die gewysigde BBBEE Wet en die verfynde BBBEE-gedragskodes en goeie praktyk deelneem aan die kartering van Suid-Afrika se derde herhaling van swart ekonomiese bemagtiging.

    1.10 Die Kabinet loof die Departement van Sosiale Ontwikkeling vir hul nuwe strategie om dienslewering te verbeter, genaamd Projek Mikondzo wat uitgebrei sal word tot sosiale dienste aan die armes en kwesbares in al die uithoeke van Suid-Afrika. 

    Tydens Sosiale-ontwikkelingsmaand, voer die Departement Sosiale Ontwikkeling saam met sy agentskappe, die Suid-Afrikaanse Sosiale Agentskap en die Nasionale Ontwikkelingsagentskap Projek Mikondzo verder na die 1 300 armste wyke in 23 distriksmunisipaliteite soos deur die Kabinet geïdentifiseer en geprioritiseer.

    1.11 Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die  Imbizo-fokusweek vanaf 7 tot 13 Oktober 2013.

    Ná die sukses van die Junie 2013 Nasionale Imbizo-fokusweek, sal hierdie tweede fokusweek 'n platform bied vir Politike hoofde om by die publiek betrokke te raak. 

    Hierdie tydperk bied nog 'n manier vir burgers om van aangesig tot aangesig met lede van die Uitvoerende Raad in gesprek te tree; om suksesse te vier; en om uitdagings ten opsigte van die implementering van staatsprogramme aan te spreek. Die plekke en program vir die week sal mettertyd aangekondig word.

    2 Sleutelbesprekings en besluite deur die Kabinet

    2.1 Die Kabinet keur die Nasionale Beleid vir Voedsel- en Voedingsveiligheid, die Huishouding Voedsel en Voedingstrategie en die Fetsa Tlala-voedselproduksie-ingryping goed.

    Die Nasionale Beleid beoog om te reageer op die talle uitdagings wat verband hou met voedselonsekerheid in Suid-Afrika. Dit word ondersteun deur spesifieke ingrypingstrategieë om die uitdaging van voedseltekorte in huishoudings te takel, en ook om voedselproduksie te vergroot ten einde honger teen die einde van 2030 te stop. Die strategie en die Fetsa Tlala-voedselproduksie is interdepartementele programme wat ten grondslag aan die beleid lê.

    Die beleid en programme sal tydens 'n veldtog uiteengesit word.

    2.2  Die Kabinet keur die Raamwerk vir Suid-Afrika se betrokkenheid by die  Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) vir die tydperk 2013/14–2016/17 goed.

    Suid-Afrika beoog om hierdie verbintenis te gebruik om drie sleuteloogmerke te bereik:
    i) groter, inklusiewe ekonomiese groei, 'n voorvereiste om werkloosheid, armoede en ongelykheid te bekamp
    ii) 'n vaardige en bevoegde werksmag, om die nasionale ontwikkelingsteikens te bereik
    iii) die bevordering van die Afrika Agenda, waar Suid-Afrika daarna sal streef om groter invloed uit te oefen in die wêreldagenda waaruit Afrika-ekonomieë voordeel kan trek.

    OECD-lande bly sleutelhandels- en beleggingsvennote vir Suid-Afrika. Daar word beraam dat die OECD-lande in 2011 bygedra het tot meer as 65% van die wêreld se Bruto Binnelandse Produksie.

    Die benadering bied 'n raamwerk vir regeringsdepartemente om hulle onderskeie ooreenkomste met die OECD te beheer. Hierdie groter koördinering in die Regering sal help dat optimale voordeel uit die vennootskap verkry word.

    3 Wetsontwerpe

    3.1 Die Kabinet keur goed dat die Werkbelastinginsentief Wetsontwerp vrygestel word vir openbare kommentaar.

    Die Wetsontwerp stel 'n aansporing voor wat hoofsaaklik daarop gemik is om werkgewers aan te moedig om jong en minder ervare werksoekers in diens te neem. Die aansporing is een van vele wat ressorteer onder die sambreel van die Regering se strategie vir jeugindiensneming en sal bestaande regeringsprogramme komplementeer.

    Die aansporing op jeug indiensnemingsbelasting teiken jong mense wat die werksmark betree en wat minder as die persoonlike-inkomstebelastingdrempel verdien. Sodoende  word individue wat minder vaardig is en minder verdien en wie se vooruitsigte om 'n werk te kry nie so goed is nie, geteiken. Die insentief skep toestande wat bevorderlik is vir werkskepping en wat die vooruitsig op werk vir sulke gemarginaliseerde werkers verbeter.

    'n Inligtingsessie word beplan om die Wetsontwerp te bespreek.

    3.1 Die Kabinet keur goed dat die Konsepwetsontwerp van Grondbestuurkommissie,   2013 vrygestel word vir openbare kommentaar.

    Hierdie Wetsontwerp poog onder andere om die Grondbestuurkommissie te vestig. Daar sal van die Grondbestuurkommissie verwag word om geskille oor grondbesit te beoordeel ten opsigte van twee of meer eiendomsbewyse wat vir dieselfde stuk grond uitgereik is. 

    Daar word ook van die Kommissie verwag om 'n databasis op te stel en by te werk van alle Staatsgrond wat geregistreer is op 'n staatsdepartement se naam insluitende enige opgemete ongeregistreerde grond.

    3.2 Die Kabinet keur die indiening van die Regshulpwetsontwerp, 2013 by die Parlement goed.

    Die Wetsontwerp beoog om die Regshulpwet, 1969 (Wet 22 van 1969) te herroep in ooreenstemming met heersende omstandighede, veral die nuwe grondwetlike bedeling en om die toepassing daarvan meer vaartbelyn te maak.

    Die Wetsontwerp het ten doel om die doeltreffendheid en doelmatigheid van Regshulp Suid-Afrika te vergroot wat weer op sy beurt 'n positiewe uitwerking op die samelewing as geheel het. Dit kan gekoppel word aan die sleuteloogmerke om 'n sosiale sekuriteitstelsel wat sosiale beskerming aan die armes en ander groepe wat in nood verkeer versterk, asook die verwesenliking van 'n ontwikkelde, bevoegde en etiese Staat wat sy burgers met waardigheid behandel.

    3.3 Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Wetsontwerp op Internasionale Gesondheidsregulasies, 2013 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp beoog om die Wet op Internasionale Gesondheidsregulasies, 1974 (Wet 28 van 1974) te herroep en om ook die Internasionale Gesondheidsregulasies, 2005 in nasionale wetgewing te inkorporeer.

    Die Internasionale Gesondheidsregulasies (2005) is internasionale wetgewing  wat die land help om saam te werk om lewens en lewensmiddele te red wat veroorsaak word deur gebeure wat verband hou met die internasionale verspreiding van siektes en ander gesondheidsrisiko's.

    3.5 Die Kabinet keur die instelling van die Medisyne en Verwante Middels Wysigingswetsontwerp, 2012 goed. Die Wysigingswetsontwerp wysig die Wet op Medisyne en Verwante Middels, 1965 (Wet 101 van 1965) soos gewysig deur Wet 72 van 2008.

    Toegang tot gehalte-, bekostigbare en veilige medisyne en mediese apparaat is kritiek vir openbare gesondheid en dra daartoe by dat die Regering se mikpunt om Suid-Afrikaners se lewensverwagting te verleng, bereik kan word.

    3.6 Die Kabinet keur die publikasie goed van die Wetsontwerp op die Beheer van Bemarking van Alkoholiese Drank, 2013 in die Staatskoerant vir openbare kommentaar. Alkohol belemmer die Regering se strewe na 'n lang en gesonde lewe vir almal. Die Wetsontwerp beoog om skade wat verband hou met alkohol te verminder deur die bemarking van alkoholiese drank te beheer.

    Alhoewel die Regering nie alkohol kan verbied nie, is dit nie eties om alkoholgebruik deur die publiek aanmoedig nie en veral die jeug te laat glo dat hulle lewens verryk sal word daardeur nie, terwyl dit in werklikheid die teenoorgestelde uitwerking sal hê.

    Hierdie ingryping moet nie in isolasie gesien word nie, maar as deel van omvattende maatreëls deur die Regering om alkohol-verwante skade te verminder.

    Die Wetsontwerp sal tydens 'n inligtingsessie uiteengesit word.

    3.7 Die Kabinet keur goed dat twee wetsontwerpe in die Staatkoerant geplaas word vir openbare kommentaar. Albei van hulle wysig die Kinderwet,  2005 (Wet 38 van 2005) soos gewysig deur Wet 41 van 2007 kragtens artikel 75 van die Grondwet en artikel 76.

    Die Wetsontwerp beoog om 'n definisie van 'n seksuele oortreding in te sluit om te verseker dat enige persoon wat skuldig bevind word aan enige seksuele oortreding soos gedefinieer in die Strafreg (Seksuele oortredings en verwante sake) Wysigingswet, 32 van 2007, as ongeskik om met kinders te werk geag word.
    Die Wetsontwerp bring ook die Wet in ooreenstemming met 'n uitspraak in die Grondwethof wat voorsiening maak vir geregtelike ondersoek van 'n besluit om 'n kind te verwyder en in tydelike sorg te plaas met of sonder 'n hofbevel binne 'n spesifieke tydsbestek.

    Die Tweede Wysigingswetsontwerp op Kinders, 2013 beoog om te verseker dat alle kinders dienste en voordele geniet wat daarop gerig is om toegang tot welsynsorg en veiligheid te fasiliteer en sodoende 'n doeltreffende welsynstelsel te skep. Dit beoog ook om 'n veilige en beskermde omgewing vir die plasing van kinders wat in nood verkeer en beskerming benodig, te skep.

    4 Aanstellings

    4.1 Die Kabinet keur die volgende aanstellings in die Departement Waterwese goed:
    a) Mnr Johannes David Mahlangu in die pos van Adjunk Direkteur-Generaal: Korporatiewe Dienste.
    b) Mnr Anil Bijman Singh in die pos van Adjunk Direkteur-Generaal: Regulasies en Voldoening.
    c) Me Deborah Gabaakelwe Mochotlhi as Adjunk Direkteur-Generaal: Beplanning en Inligting. 

    4.2 Die Kabinet keur die volgende aanstellings in die Departement Arbeid goed:
    a) Me Agnes Moiloa in die pos Hoofbedryfsbeampte.
    b) Mnr Thobile Maxin Lamati in die pos van Adjunk Direkteur-Generaal: Inspeksie en Versterkingsdienste.

    4.3 Die Kabinet keur die aanstelling van die volgende persone in die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (SITA) se direkteursraad goed:
    a) Dr Anna Mokgokong
    b) Adv Mantshare Beatrice Matlejoane
    c) Adv Thabani Masuku
    d) Mnr Zukile Nomvete
    e) Me Seadimo Chaba
    f) Mnr Ganelang Zeth Malele
    g) Mnr Graeme Alvan Victor
    h) Me Nozipho January-Bardill
    i) Me Sindi Mabaso-Koyana
    j) Me Vuyokazi Felicity Mahlati
    k) Mnr Stadi Mngomezulu
    l) Me Michelle Oddette Williams
    m) Mnr David  Clephane Niddrie  (Verteenwoordiger vir Kommunikasie)
    n) Mnr Nkhangweleni Walter Mudau (Verteenwoordigende DPSA)
    o) Mnr Geoffrey Rothschild.

    4.4 Die Kabinet keur die heraanstelling van die volgende lede goed as lede van die Raad op Finansiële Dienste:
    a) Me Jabu Mogadime.
    b) Me Hilary Wilton (Adjunk-voorsitter).
    c) Professor Phillip J Sutherland.
    d) Me Zarina Bassa.
    e) Me Di Turpin.
    f) Mnr Ismail Momoniat.
    g) Mnr Olano Makhubela (Alternatief).
    h) Me Dudu Msomi.
    i) Mnr Abel Sithole (Voorsitter).

    4.5 Die Kabinet neem kennis van die heraanstelling van Me Hlonela Lupuwana as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Kleinondernemingsontwikkelingsagentskap vir 'n tydperk van vyf jaar.

    4.6 Die Kabinet neem kennis van die heraanstelling van Dr Prins Nevhutalu as die Voorsitter van die Raad van die Nasionale Metrologie-instituut van Suid-Afrika.

    4.7 Die Kabinet keur die volgende aanstellings op deeltydse grondslag vir 'n tydperk van nie meer as drie jaar in die Weermag se Dienskommissie goed:
    a) Me Magirly Rebecca Mokoape.
    b) Me Lindiwe Daphney Zulu.
    c) Me Dipuo Mvelase.

    Uitgereik deur die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
    Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
    Kontaknommer: 083 501 0139
     

    Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore