Verklaring oor die virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag 26 Augustus 2020

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Koronavirussiekte (COVID-19) Waarskuwingsvlak 2

1.1.    Die skuif van waarskuwingsvlak 3 na waarskuwingsvlak 2 van die nasionale inperking met ingang van 18 Augustus 2020, het tot die welkome verslapping van beperkings op sommige sosio-ekonomiese aktiwiteite gelei. Hierdie belangrike oorgang sal ons ekonomie noowendig laat herleef en tot die skepping van broodnodige werkgeleenthede bydra, veral in die toerisme- en gasvryheidsbedryf.

1.2.    Waarskuwingsvlak 2 sal ministers in staat stel om voor die twee huise van die Parlement, naamlik die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies te verskyn om onder meer parlementslede se vrae te beantwoord.

1.3.    Hoewel 'n 'tweede vlaag' van infeksies soos deur verskeie ander lande ervaar word, altyd 'n moontlikheid bly, kan ons dit verhoed deur ons kollektiewe optrede oor die volgende paar weke en maande; dit sal ook bepaal hoe vinnig ons vooruitgaan. Die Kabinet doen 'n beroep op almal om spesiale voorsorg te tref, verantwoordelik op te tree en die regte dinge te doen, sodat ons 'n tweede vlaag afweer.

1.4.    Die regering werk saam met sosiale vennote en gemeenskappe om seker te maak dat distrikte voldoende hulpmiddels het en deeglik voorberei is om die verspreiding van die virus te stuit.     

1.5.    Ons nasie het beduidende vordering gemaak met die stryd teen die pandemie. Ons goeie werk word ongelukkig ondermyn deur die roekelose optrede van sommige mense wat weier om persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar om die verspreiding van die virus te voorkom. Diegene wat onder die invloed van alkohol bestuur en roekeloos optree, stel onskuldige mense se lewens in gevaar.

1.6.    As gevolg van sulke roekelose gedrag, treur ons hierdie week oor die ontydige dood van drie Tshwane-metropolisie-offisiere wat die afgelope naweek hul lewens in 'n tragiese ongeluk met 'n dronk bestuurder verloor het. Hierdie noodlottige ongeluk is 'n wekroep vir ons almal, afsonderlik en gesamentlik, om na te dink oor wat ons kan doen om verantwoordelik op te tree en ons rol te speel om alkoholmisbruik te bedwing.

1.7.    Die Kabinet doen 'n beroep op almal in Suid-Afrika om steeds die gesondheidsprotokolle na te kom, selfs tydens waarskuwingsvlak 2. Ons almal moet sosiale distansiëring toepas, 'n masker dra wanneer ons in die openbaar is, en gereeld ons hande met seep en water was, of 'n hand-ontsmetmiddel met ’n alkoholbasis gebruik.

2.    Terug skool toe en tersiëre instellings

2.1.    Die Kabinet het die afgelope Maandag die heropening van laer- en hoërskole onder die Departement van Basiese onderwys verwelkom. Graad 6- en 11-leerders het Maandag na hul klasse teruggekeer, terwyl graad 7- en 12-leerders verlede maand teruggekeer het ná die tydelike sluiting van skole om die moontlike verspreiding van COVID-19 te voorkom.

2.2.    Die Kabinet verwelkom ook die aankondiging dat alle universiteite onder waarskuwingsvlak 2, die gekontroleerde terugkeer van studente na kampusgebaseerde onderrig moontlik sal maak volgens die kriteria wat in die Staatskoerant (Vol 660, No 43414) op 8 Junie 2020 gepubliseer is. Volgens die vereiste kriteria, sal 'n maksimum van 66% van die studente onder vlak 2 van die inperking, toegelaat word om na universiteitskampusse terug te keer.

2.3.    Dit verwelkom ook die trapsgewyse terugkeer van studente wat aan tegniese en beroepsgerigte onderwys- en opleidingskolleges studeer, die heropening van gemeenskapsonderwys- en opleidingsentrums en die terugkeer van personeel na hul werkplek. Dit sal gedoen word ooreenkomstig die gedetailleerde COVID-19-bestuursplanne regoor die sektor om die voortgesette veiligheid van studente en personeel te verseker, terwyl groter toegang tot kampusonderrig en -leer vir meer studente moontlik gemaak word.

3.    Teen-korrupsie

3.1.    Die Kabinet beklemtoon sy onderneming om die bewerings van korrupsie rakende die verkryging van COVID-19-verwante goedere vinnig deur wetstoepassers, soos die Spesiale Ondersoekeenheid, te laat ondersoek. Diegene wat aandadig is aan hierdie korrupsie, sal swaar gestraf word, en geld wat deur gewetenlose ondernemings en individue by die staat gesteel is deur die pryse van persoonlike beskermende toerusting op te blaas, sal verhaal word.

3.2.    Die Kabinet is ook tevrede met die vordering wat deur die Komitee van Ministers onder voorsitterskap van Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, gemaak is. Daar word van die span ministers verwag om die samestelling van al die COVID-19-aankope te koördineer en vir die publiek toeganklik te maak. Ter wille van deursigtigheid het die webwerf van die Nasionale Tesourie (www.treasury.gov.za) die inligting van die meeste departemente en entiteite wat die vereistes ten volle nagekom het, gepubliseer.

3.3.    Die Nasionale Tesourie sal voortgaan om die voorgelegde inligting vir verdere verwerking te verfyn. Die Kabinet bevestig dat die wetstoepassingsagentskappe steeds verantwoordelik sal wees vir die ondersoekwerk.

3.4.    Die  Samesmelingsentrum, wat die werk van alle wetstoepassingsagentskappe koördineer, bly op koers om sy eerste ses-weeklikse verslag in die eerste week van September 2020 aan president Cyril Ramaphosa voor te lê.

3.5.    Die Kabinet sal die nodige steun aan alle wetstoepassingsagentskappe gee. Hulle sal onder meer die nodige hulpbronne kry om optimaal, onafhanklik, sonder vrees, voorkeur of vooroordeel te funksioneer om die ondersoek en vervolging van korrupsieverwante sake sonder enige verdere vertraging te vergemaklik.

3.6.    Die plaag van korrupsie, wat in die blatante diefstal en plundering van staatshulpbronne manifesteer, is die grootste kanker in die samelewing wat die potensiaal het om die publiek se vertroue in die regering se daadwerklike pogings om mense se lewens te verbeter, aftakel. Die Kabinet veroordeel alle dade van korrupsie ten sterkste en is vol vertroue dat alle kwaaddoeners uiteindelik sonder vrees of voorkeur vervolg sal word.

3.7.    Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om korrupsie by die Nasionale Teen-korrupshulplyn by 0800 701 701 aan te meld.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Opleidingdprogramme vir lede van die Uitvoerende Raad en senior bestuurders in die Staatsdiens

1.1.    Die Kabinet verleen goedkeuring aan twee opleidingsprogramme wat uitvoering gee aan die verbintenis om die staat se kapasiteit te verhoog. Die eerste is die Ekonomiese Bestuur-lenteskoolopleiding vir lede van die Uitvoerende Bestuur uit alle regeringsfere. Dit is ontwerp om leersperspektiewe te verbreed deur analise en kritiese besinning oor die aard van die regering se uitdagings. Dit word deur die Nasionale Regeringskool gelei, in samewerking met die Wits School of Governance en die OR Tambo School of Leadership.

1.2.    Die tweede program is ontwerp vir departementshoofde. Dit bestaan uit drie komponente, naamlik 'n Uitvoerende Induksieprogram, Uitvoerende Onderwysprogram en 'n nuwe program met die naam Etella. Hierdie programme word deur die Nasionale Regeringskool, in vennootskap met die University College London, aangebied.  

2.    Aanbied van die 2020 Internasionale Maritieme Organisasie (IMO) word uitgestel

2.1     Weens die COVID-19-pandemie, keur die Kabinet goed dat die aanbied van die IMO en die parallelle geleentheid van Wêreld Maritieme Dag, wat in Oktober 2020 sou plaasvind, tot Oktober 2021 uitgestel word. Die Kabinet het die aanbied van hierdie geleentheid in November 2015 goedgekeur.

C.    Wetsontwerpe

1.    Wysigingswetsontwerp op Landbouprodukagente van 2018

1.1.    Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Landbouprodukagente van 2018 aan die Parlement goed. Die wysigings poog om die regte van produsente teen ongereguleerde aspekte van varsprodukagente te beskerm. Sodra die wet goedgekeur is, sal agente onder meer verplig word om waarborgversekering uit te neem en trustrekeninge te hou.
1.2.    Die wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word, is ten volle met alle betrokke belanghebbendes bespreek. Die veranderinge sal ook geleenthede vir toegang tot markte vir kleinboerprodusente sowel as voorheen benadeelde markagente, handelaars en straatsmouse verbeter.

2.    Wysigingswetsontwerp op Deeltitels

2.1    Die Kabinet keur die voorlegging van die wetsontwerp aan die Parlement goed. Die wetsontwerp wysig die Wet op Deeltitels, 1986 (Wet 95 van 1986), wat voorsiening maak vir die daarstelling van deeltitelskemas. Die voorgestelde wysigings bied duidelikheid en beskerm ook huurders van eiendomme wat volgens die deeldtitelooreenkoms bestuur word.

3.    Wysigingswetsontwerp op die Kieswet van 2020

3.1.    Die Kabinet keur die indiening van die Wysigingswetsontwerp op die Kieswet van 2020 aan die Parlement goed. Die wetsontwerp wysig drie stukke wetgewing, naamlik die Wet op die Verkiesingskommissie, 1996 (Wet 51 van 1996); die Verkiesingswet, 1998 (Wet 73 van 1998), en die Plaaslike Regering Munisipale Verkiesingswet, 2000 (Wet 27 van 2000).
3.2.    Die voorgestelde wysigings sal die bestaande wetgewende meganismes verbeter. Die wysigings sal, onder meer, innovasies in verkiesingspraktyke bekendstel, in ooreenstemming met die beste praktyke om die Onafhanklike Verkiesingskommissie se doeltreffendheid in die bestuur van verkiesings te verbeter.

D.    AANSTELLINGS

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1.    Verlenging van Mnr Hubert Mathanzima Mweli se kontrak as Direkteur-Generaal van die Departement van Basiese Onderwys vir ’n tydperk van vyf jaar.

2.    Direksie van die Suid-Afrikaanse Poskantoor:
a.    Mnr Emmanuel Lekgau;
b.    Me Nolitha Pieters;
c.    Mnr. Sandile Phillip;
d.    Mnr Sipho Majombozi; en
e.    Me Yvette Lillian Mavivi Myakayaka-Manzini.
3.    Nie-uitvoerende direkteure van die Postbank SOC Beperk:
a.    Mr Gcobani Mancotywa;
b.    Mr Darwin Zinzile Nkonki;
c.    Mr Thabile Wonci; and
d.    Adv Leigh Hefer-Hendrikse.

Navrae: Me Phumla Williams –Kabinetswoordevoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore