Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 10 Mei 2023 

A.    Kwessies in die omgewing

1.    10 Mei – 29ste herdenking van die inhuldiging van die eerste demokraties verkose president

1.1.    Dié Kabinetsvergadering het presies 29 jaar na die dag toe President Nelson Mandela op 10 Mei 1994 as die eerste president van ʼn demokratiese Suid-Afrika ingehuldig is, plaasgevind. Na drie en ʼn half eeue van kolonialisme en afsonderlike ontwikkeling waar mense se reg om toegang tot basiese dienste deur hul velkleur bepaal is, het ʼn demokratiese Suid-Afrika inklusiewe ontwikkelingsdoelwitte gestel om ʼn welvarende, nie-rassige, nie-seksistiese en gelyke samelewing tot stand te bring.  
1.2.    Hoewel heelwat vordering sedert 1994 gemaak is, moet baie meer nog gedoen word om die land se ontwikkelingsdoelwitte te verwesenlik.
1.3.    Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het ʼn opgegradeerde reeks banknote en munte uitgereik wat ons grondwetlike demokrasie vier en hulde aan ons geliefde Madiba bring.

2.    Presidensiële Gesondheidspitsberaad

2.1.    Die tweede Presidensiële Gesondheidspitsberaad wat van 4 tot 5 Mei 2023 plaasgevind het, het op die nege pilare van die 2019 Presidensiële Gesondheidsooreenkoms gefokus, naamlik: menslike hulpbronne; toegang tot medisyne, entstowwe en gesondheidsprodukte; infrastruktuur; privaatsektorbetrokkenheid; gehalte-gesondheidsorg; openbare sektor finansiële bestuursverbeterings; staatsbestuur en leierskap; gemeenskapsbetrokkenheid; inligtingstelsels en pandemiese paraatheid. 
2.2.    Een van die beraad se uitkomste was die hernieude verbintenis om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel. Dit is deel van ʼn program om ongelykhede in toegang tot gesondheidsorgdienste te verminder deur die finansiële las vir toegang tot gesondheidsorgdienste te verlig.
2.3.    Die Kabinet verwelkom die aanvaarding van maatreëls wat nodig is om die gesondheidstelsel aan te pas en die NGV-hervormings te versnel. Dit bring ons gesondheidsorgstelsel nader aan sy doelwit om ʼn beter diens aan Suid-Afrikaners te lewer.

3.    Energie

3.1.    Die regering werk nou saam met Eskom om die herstel van eenhede te bespoedig wat die afgelope dae tot Fase 6-beurtkrag gelei het en vordering in die program om energiesekerheid in die land te verbeter, vertraag het.
3.2.    Daar word tans verbete by Eskom gewerk om die kragvoorsiener se kragbeskikbaarheidsfaktor te verhoog deur beduidende instandhouding, die maksimum gebruik van oopsiklus-gasturbines, die verkryging van bykomende opwekkingskapasiteit uit private beleggings in hernubare energie, en om groter bewustheid oor aanvraagbestuur deur groot elektrisiteitsgebruikers en huishoudings, te skep. 
3.3.    Sabotasie teister steeds Eskom se infrastruktuur en die voortgesette ontplooiing van 880 SANW-lede om verskeie Eskom-kragstasies te beveilig, is derhalwe deel van maatreëls om te voorkom dat sulke dade die nasionale netwerk in duie laat stort.  
3.4.    Die Kabinet het die besluit verwelkom om teen die onlangse uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria te appelleer, wat Eskom opdrag gegee het om openbare instellings, insluitend skole, klinieke, hospitale en polisiestasies, van beurtkrag vry te stel, op grond van die implikasies van hierdie uitspraak. 
3.5.    Die Kabinet herinner Suid-Afrikaners daaraan om steeds elektrisiteit te bespaar ter ondersteuning van die nasionale teiken om 1000MW te bespaar.

4.    Infrastruktuurontwikkeling 

4.1    Suid-Afrika se infrastruktuurveldtog om die ekonomie te laat herleef en werk te skep, kry steeds momentum. Die Minister van Vervoer, Me. Sindi Chikunga, het in dié verband die bal aan die rol gesit vir die Ashburton-wisselaarprojek ter waarde van R2,4 miljard in Msunduzi-munisipaliteit in KwaZulu-Natal. Dit sal die naatlose beweging van vrag vanaf Durban-hawe na die binneland en die SAOG-streek verbeter.
4.1.    Die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Mnr. Sihle Zikalala, het 13 klein hawens wat deur die regering se R501 miljoen Herstel- en Instandhoudingsprogram vir Klein Hawens opgeknap is, oorhandig. Die opknapping van dié hawens sal hul doeltreffendheid verhoog en die plaaslike visserysektor en ander sektore in plaaslike ekonomieë beter bedien.

5.    Toesigbesoek aan Jagersfontein

5.1.    Adjunk-president Paul Mashatile het ʼn toesigbesoek aan Jagersfontein, Kopanong Plaaslike Munisipaliteit in die Xhariep-distrik van die Vrystaat gebring om terugvoer te gee oor die doeltreffende en billike voorsiening van water, en die hervestiging van gemeenskapslede wat geraak is deur die ramp wat veroorsaak is toe die damwal gebars het.  
5.2.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle mynmaatskappye om hul uitskotdamme of mynuitskotstortingsdamme op die Departement van Water en Sanitasie se databasis te registreer om aan damveiligheidsregulasies te voldoen.
5.3.    Die Departement van Water en Sanitasie is tans besig is om die databasis van alle uitskotdamme of mynuitskotstortingsdamme in die land by te werk wat aan die vereistes voldoen om as “damme met veiligheidsrisiko” geklassifiseer te word. Stuur ʼn e-pos aan greylingjm@dws.gov.za vir bykomende inligting oor uitskot-/ mynuitskotstortingsdamme.

6.    Afrika Reis-indaba

6.1.    Afrika se 2023 Reis-indaba is tans aan die gang by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban, met ʼn diverse verteenwoordiging van Afrika se toerismebedryf, bestaande uit meer as 20 Afrika-lande wat deelneem en meer as 350 toerismeprodukte uitstal.
6.2.    Die geleentheid dien as ʼn beslissende platform vir industriedeskundiges om byeen te kom, insigte te deel en vennootskappe te smee wat groei sal bevorder.  
6.3.    Suid-Afrika is trots op die ondersteuning wat die regering aan klein-, medium- en mikro-ondernemings, ondernemings in besit van vroue en die jeug in die toerisme- en gasvryheidsektor gee. 

7.    Begrotings 

7.1.    Staatsdepartemente het begin om hul begrotings voor te lê, wat staatsrekenskap van die werk wat ʼn departement oor die boekjaar onderneem het, gee.
7.2.    Die Parlement se begrotingsprogram is op die webwerf beskikbaar: www.parliament.gov.za/parliament-programme.  
7.3.    Begrotingsdebatte (Uitgebreide Openbare Komitees - UOK) Rooster vanaf 16 Mei 2023 tot 19 Mei 2023.

UOK vir Minerale Hulpbronne en Energie

(Media-inligtingsessie 13:00 Bevestig)

16 Mei 23

Good Hope-kamer   10:00 tot 15:15

UOK vir Water en Sanitasie

(Media-inligtingsessie 08:30-09:30 MBW)

16 Mei 23

M46 10:00 tot 12:15

UOK vir Staatsdiens en Administrasie (Nasionale Skool vir die Regering en Staatsdienskommissie

(Media-inligtingsessie 10:00-11:00 MBW)

16 Mei 23

Good Hope-kamer 14:00 tot 16:15

UOK vir die Regering se Kommunikasie- en Inligtingsdiens

(Media-inligtingsessie 12:00-13:00 MBW)

16 Mei 23

M46 14:00 tot 16:15

UOK vir Kleinsake-ontwikkeling

(Media-inligtingsessie 14:00-15:00 MBW)

16 Mei 23

Good Hope-kamer 16:30 tot 18:15

UOK vir die Nasionale Tesourie

(Media-inligtingsessie 15:00-16:00 MBW)

16 Mei 23

M46 16:30 tot 18:15

UOK vir Vervoer

(Media-inligtingsessie 12:00-13:00 MBW)

17 Mei 23

Good Hope-kamer 15:00 tot 17:15

UOK vir Kommunikasie en Digitale Tegnologieë

(Media-inligtingsessie 11:00-12:00 MBW)

17 Mei 23

M46 15:00 tot 17:15

UOK vir Binnelandse Sake

(Media-inligtingsessie 09:00-10:00 MBW)

17 Mei 23

Good Hope-kamer 17:30 tot 19:00

UOK vir Basiese Onderwys

(Media-inligtingsessie 09:00-10:00 MBW)

18 Mei 23

Good Hope-kamer 14:00 tot 16:15

UOK vir Korrektiewe Dienste

(Media-inligtingsessie 11:00-12:00)

18 Mei 23

Good Hope-kamer 16:30 tot 18:15

UOK vir Beplanning, Monitering en Evaluering

(Media-inligtingsessie 10:00-11:00 MBW)

18 Mei 23

M46 16:30 tot 18:15

UOK vir Bosbou, Visserye en die Omgewing

(Media-inligtingsessie 08:30-09:30 Bevestig)

19 Mei 23

Good Hope-kamer 10:00 tot 12:15

Staatsveiligheid

(Media-inligtingsessie 13:00 -14:00 MBW)

19 Mei 23

  M46 10:00 tot 12:15

8.    Munisipale skuldverligtingspakette

8.1.    Die Minister van Finansies het ʼn skuldverligtingspakket ingestel wat historiese munisipale skuld aan Eskom afskryf om te help om inkomste by munisipaliteite beskikbaar te stel om betroubare basiese dienste te lewer. Daar sal van munisipaliteite verwag word om streng vereistes met 33 voorwaardes na te kom om te kwalifiseer. 
8.2.    Dié voorwaardes behels die handhawing van minimum gemiddelde inkomste-invorderingsteikens vir elektrisiteit en waterdienste en die afkamping van alle elektrisiteit-, water- en sanitasie-inkomste wat ingesamel word. Eskom se lopende rekening moet ook eerste betaal word en daarna die lopende rekening vir grootmaatwatervoorsiening voor enige ander maandelikse betalings gedoen word.   

9.    Afrika-agenda 

9.1.    President Cyril Ramaphosa het aan die 11de hoëvlaksessie van die Streekstoesigmeganisme van die Vredes-, Sekuriteits- en Samewerkingsraamwerk (PSC) vir die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Groot Mere-streek, in Burundi deelgeneem, as deel van die bevordering van die Afrika-agenda om geweld teen 2030 te beëindig.
9.2.    President Cyril Ramaphosa het ook die Buitengewone Organ Troika Summit Plus in Namibië bygewoon. Die beraad het ʼn verslag van die SAOG se Veld-evalueringsending in die Oos-Demokratiese Republiek van die Kongo ontvang en het die streek se reaksie op die toenemende sekuriteit- en humanitêre situasie in oënskou geneem. Die beraad het ooreengekom dat die AU die verskillende vredespogings en die verbetering van sekuriteit in die Oos-DRK moet koördineer.
9.3.    Die Kabinet verwelkom die begin van voorafgesprekke oor samesprekings tussen die Soedannese weermag en die Snelondersteuningsmagte (Rapid Support Forces), wat op 6 Mei 2023 in Djedda, Saoedi-Arabië begin het. ʼn Vreedsame Soedan, gelei deur ʼn burgerlike regering, is noodsaaklik nie net vir Soedan nie, maar ook vir die hele streek en die vasteland. Die Kabinet doen dus ʼn beroep op albei partye om ʼn ooreenkoms te beding om die konflik te beëindig en die lyding van die Soedannese mense te verlig.
9.4.    Die Kabinet is verheug dat alle Suid-Afrikaners wat aangedui het dat hulle uit die konflikgeteisterde Soedan wil terugkeer, nou tuis is en oor die hulp wat die Suid-Afrikaanse inisiatief aan ons buurlande verleen het. 

10.    Handelskwessies

10.1.    Die Kabinet is ingelig oor verwikkelinge rakende handelskwessies en het kennis geneem dat Suid-Afrika se totale uitvoere vir Maart 2023 op R184 miljard te staan gekom het. Die vervaardigingsektor het die beste presteer met ʼn bydrae van meer as R85 miljard deur ons vervaardigde produkte, die mynbousektor het R84 miljard bygedra en die landbousektor het R11 miljard bygedra.
10.2.    Dié aansienlike bedrae, hoewel effens laer as in Maart 2022, dui aan hoe sterk die Suid-Afrikaanse ekonomie selfs in die tydperk van lae ekonomiese groei bly. Altesaam R41 miljard van dié uitvoere is na ander Afrika-lande, wat die vordering aandui wat Suid-Afrikaanse nywerhede maak om hul markte regoor die vasteland uit te brei.
10.3.    Die markte waar handel toegeneem het sluit China, België, Italië en die Verenigde Arabiese Emirate in, wat die direkte voordele van Suid-Afrika se ekonomiese diplomasie aandui.

B. Kabinetsbesluite 

1.    Nasionale Geïntegreerde Strategie vir die Bekamping van Onwettige Handel in Wild (NISCWT)

1.1.    Die Kabinet het die Nasionale Geïntegreerde Strategie vir die Bekamping van Onwettige Handel in Wild (NISCWT in Engels) goedgekeur. Die strategie is die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Sy primêre doel is om wetstoepassingstrukture met die nodige hulpmiddels te bemagtig om die toenemende plaag van onwettige handel in wild in die land, wat ʼn bedreiging vir die land se nasionale veiligheid inhou, te verminder en te voorkom.
1.2.    Die strategie maak tasbare voorstelle om die bekwaamheid van wetstoepassing in die land te verbeter, insluitend ʼn spesifieke fokus op die ondersoek en vervolging van wildhandelsindikate. Die NISCWT is op die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing se webwerf by www.dffe.gov.za gepubliseer.

2.    Suid-Afrika se benoemde kandidaat as ʼn regter van die Internasionale Geregshof (IGH)

2.1.    Die Kabinet het die benoeming van professor Dire Tladi as Suid-Afrika se kandidaat vir verkiesing as die Regter van die Internasionale Geregshof (IGH) tydens die November 2023-verkiesing van dié liggaam goedgekeur.
2.2.    Dire Tladi is professor in internasionale reg aan die Universiteit van Pretoria en dien as president van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Regsvereniging en uitvoerende lid van die Internasionale Regsvereniging. Hy het gedien as voorsitter van die Internasionale Regskommissie, ʼn orgaan van die VN wat algemeen beskou word as ʼn liggaam waaruit kandidate vir die IGH gekies word, gedien. Hy was voorheen Regsadviseur van die Suid-Afrikaanse Sending in New York en Spesiale Raadgewer vir Suid-Afrika se ministers van Buitelandse Sake.

3.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

Nuwe aanstellings in die Raad van die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure.

(a)    Me. Precious Nompumelelo Sibiya; and 
(b)    Mnr. Mojalefa Mosala. 

Aanstellings in die Tussentydse Raad van Umngeni-waterraad.  

(a)    Me. Khulekelwe Glynnis Mbonambi;
(b)    Mnr. Mzimkulu Msiwa;
(c)    Me. Sylvia Thandazile Mhlongo;
(d)    Me. Hlengiwe Patricia Majozi;
(e)    Mnr. Mfanveli James Ndlovu;
(f)    Mnr. Sibusiso Wycliff Mkhize; en
(g)    Adv. Lavan Gopaul.

C.    Wetsontwerpe

1.    Wysigingswetsontwerp op Korrektiewe Dienste, 2023

1.1.    Die Kabinet het die voorlegging aan die Parlement van die Konsepwysigingswetsontwerp op Korrektiewe Dienste van 2023 goedgekeur.
Die wysigings is ʼn reaksie op die Grondwetlike Hof-uitspraak wat in Desember 2020 in die saak Sonke Gender Justice NPC v. die President van die Republiek van Suid-Afrika en andere gelewer is.
1.2.    Die wysigings verskans die onafhanklikheid van die Regterlike Inspektoraat van Korrektiewe Dienste soos in Artikel 7(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, oorweeg. Dit is om die toepassing van die Artikels 88A(1)(b) en 91 van die Wet op Korrektiewe Dienste, 1998 (Wetnr. 111 van 1998) te bewerkstellig.
1.3.    Die voorlegging van die konsepwetsontwerp is dus daarop gemik om regstellende maatreëls te tref vir die ongeldigheid van die sekere artikels van die Wet, soos deur die Grondwetlike Hof uitgewys.  

2.    Wetsontwerp op Openbare Verkryging

2.1.    Die Kabinet het die voorlegging van die Konsepwetsontwerp op Openbare Verkryging aan die Parlement goedgekeur. Die Wetsontwerp herroep die Raamwerkwet op Voorkeurverkrygingsbeleid van 2000 (Wetnr. 5 van 200).
2.2.    Die konsepwetsontwerp het ten doel om ʼn enkele raamwerk vir openbare verkryging te skep en fragmentasie in wette wat met openbare verkryging handel, uit te skakel.
2.3.    Die belangrikheid van die Konsepwetsontwerp op Verkryging is dat dit voorsiening maak vir die bevordering van ons nasionale doelwitte soos transformasie, die bemagtiging van vroue, jeug en mense met gestremdhede.
2.4.    Dit maak ook voorsiening vir die bevordering van lokalisering en die ondersteuning van plaaslike innovasie en navorsing, en gee voorkeur aan verkryging van klein- en mediumondernemings in Suid-Afrika. 

D.    Komende gebeure

1. Internasionale agenda

1.1.    President Cyril Ramaphosa sal op 12 Mei 2023 gasheer vir die president van Bulgarye, mnr. Rumen Radev, se werksbesoek, wees. Die besoek sal daarop fokus om politieke en handelsbetrekkinge, asook kulturele uitruiling tussen Suid-Afrika en Bulgarye op te bou. Bulgarye is steeds ʼn beduidende handelsvennoot en Suid-Afrika het in 2022 R1,96 miljard se goedere na Bulgarye uitgevoer.
1.2.    President Ramaphosa sal ook op 16 Mei 2023 die Eerste Minister van die Republiek van Singapoer, mnr Lee Hsien Loong, op ʼn amptelike besoek aan Suid-Afrika ontvang. Die besoek sal op die versterking van die bestaande verhouding tussen die twee lande, fokus. Suid-Afrika het in 2022 R10,3 miljard se produkte na Singapoer uitgevoer, met Suid-Afrika wat ʼn surplus genoteer het. Belangrike Suid-Afrikaanse produkte wat na Singapoer uitgevoer word, sluit onder andere natuurlike aluminium, gesinterde dolomiet en Portland-sement in. 

2.    Komende deelname aan globale gebeure in die omgewing

2.1.    Die Kabinet het Suid-Afrika se onderhandelingsmandaat en deelname aan die tweede Sessie van die Interregeringsonderhandelingskomitee (INC 2 in Engels) vir die Internasionale Bindingsinstrument oor Plastiekbesoedeling, insluitend mariene omgewings, wat van 29 Mei tot 2 Junie 2023 in Parys, Frankryk gehou sal word, goedgekeur. Die INC is verantwoordelik vir die ontwikkeling van ʼn wêreldwye ooreenkoms oor plastiekbesoedeling, insluitend die mariene omgewing.
2.2.    Die Kabinet het ook Suid-Afrika se onderhandelingsmandaat vir die 35ste byeenkoms van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Opvoedkunde, Wetenskap en Kultuur se Man en Biosfeerprogram Internasionale Koördineringsraad (UNESCO MAB ICC in Engels), wat van 12 tot 16 Junie 2023 in Parys, Frankryk plaasvind, goedgekeur.
2.3.    Die mandaat van die UNESCO MAB ICC is om omgewingsvriendelike optrede te bevorder op maniere wat nie skadelik vir die omgewing is nie. Suid-Afrika het in 1995 by die Sevilla-konferensie in Spanje aan die MAB-program begin deelneem. Suid-Afrika is tans in die implementeringsfase vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Biosfeerreservaatstrategie, wat as riglyn dien vir die implementering van die MAB-program oor alle vlakke van biosfeerreservaatbestuur.

3.    Besoek van Colombia se adjunkpresident aan Suid-Afrika.

3.1.    Vise-president Paul Mashatile sal op Vrydag 12 Mei 2023 vir ʼn amptelike besoek medegasheer wees vir sy Colombiaanse eweknie, Haar Eksellensie Mev. Vice Francia Elena Márquez, adjunkpresident van die Republiek van Colombia. Die besoek is daarop gemik om bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Colombia te versterk, terwyl Colombia ʼn meer intensiewe verbintenis met die Afrika-vasteland begin.

4.    Komende media-inligtingsessies deur lede van die Nasionale Uitvoerende Raad.

4.1.    Die Minister van Elektrisiteit, Dr Kgosientsho Ramokgopa, sal die media op Vrydag 12 Mei 2023 om 14:00 inlig oor vordering met die implementering van die Energie-aksieplan (EHP). Dié gereelde weeklikse inligtingsessies bied ʼn geleentheid om die media en die nasie op hoogte te hou van vordering wat die afgelope week in die hantering van beurtkrag gemaak is. Dit verduidelik en gee ook rekenskap oor die faktore wat tot onlangse voorvalle van beurtkrag bygedra het.

5.    Afrika-maand.

5.1.    Suid-Afrika vir in Mei Afrika-maand, wat die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963, vandag bekend as die Afrika-unie (AU), herdenk. ʼn Belangrike doel van die AU is die bevordering van vrede en stabiliteit op die vasteland. 

6.    Wêreld Tafeltenniskampioenskap

6.1.    Die 2023 finaal van die ITTF Wêreldtafeltenniskampioenskap word van 20 tot 28 Mei gehou.
6.2.    Die geleentheid sal by die Durbanse Internasionale Konferensiesentrum aangebied word, wat die mans- en vroue-enkelspel, asook die mans-, vrouens- en gemengde dubbelspel-byeenkomste aanbied. Die Kabinet wens al die deelnemers sterkte toe vir dié wedstryde.
6.3.    Die eindrondte van die ITTF Wêreldtafeltenniskampioenskap sal ʼn mylpaal-geleentheid in die geskiedenis van tafeltennis wees, aangesien dit vir die eerste keer in meer as 80 jaar op Afrika-bodem gehou sal word.

7.    Netbalwêreldbeker

7.1.    Met 81 dae oor voor die Netbal Wêreldbeker, doen die Kabinet ʼn beroep op Suid-Afrikaners om die gasheerland-geesdrif aan die gang te hou met Netbal-Vrydae.

8.    Toesig oor distriksontwikkelingsprogram

8.1.    President Cyril Ramaphosa sal op 19 Mei 2023 voorsitter wees by die agste Presidensiële Imbizo oor die Distriksontwikkelingsmodel (DOM) in die Wes-Kaapse Wynland-distrik. Dit is deel van die regering se pogings om dienslewering te verbeter om en gemeenskappe en die burgerlike samelewing in die algemeen te mobiliseer om deel daarvan te wees om Suid-Afrika saam te ontwikkel en om niemand agter te laat in dié poging nie.
8.2.    Lede van die Uitvoerende Raad sal binnekort met die volgende been van die Imbizo-program begin as deel van interaktiewe betrokkenheid wat die regering nader aan die mense sal bring om deelnemende demokrasie te bevorder en frontlinie- en ander diensleweringsknelpunte op te los. 

E.     Boodskappe

1.    Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en voorspoed oor aan: 

  • Me. Kirsten Neuschäfer vir haar oorwinning in die gesogte Golden Globe-seiljagwedvaart waartydens sy byna 235 dae sonder GPS en ander tegnologie gevaar het. Sy was die enigste vroulike deelnemer en is die eerste vrou om ʼn solo-om-die-wêreld-wedren te wen. 

2.    Meegevoel 

  • Die Kabinet het sy medelye oorgedra aan die familie en vriende van: 
  • Die Nederlandse anti-apartheidsaktivis, mnr. Klaas de Jonge, ʼn toegewyde vryheidsvegter en ontvanger van die Nasionale Orde van die Metgeselle van OR Tambo. De Jonge word daarvoor onthou dat hy asiel gesoek het in die Nederlandse Ambassade, waar hy vir twee jaar gewoon het om inhegtenisname deur die apartheidspolisie te ontduik. Hy word verder onthou vir sy konflikoplossingswerk in baie lande op die vasteland.
  • Energiekenner, mnr. Ted Blom, wat ʼn ywerige en beredeneerde kommentator oor energiebeleid was.
  • Sersant Lwando Lawrence Bunga, Sersant Mario Nel en Konstabel Lefaka, die drie beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat die afgelope week om die lewe gebring is terwyl hulle hul pligte in hul onderskeie distrikte in Nelson Mandela Metro en Buffalo City Metro in die Oos-Kaap en Atteridgeville, Gauteng, uitgevoer het. Hierbenewens is twee ander beamptes gister om die lewe gebring. Die Kabinet veroordeel die moorde op wetstoepassers en beskou dit as ʼn direkte bedreiging vir ons nasionale veiligheid. Die Kabinet het wetstoepassers opdrag gegee om hemel; en aarde te beweeg in die vervolging van die misdadigers wat ons wetstoepassers om die lewe bring nie.
  • Suid-Afrika se geliefde gholf-legende, mnr. John Bland (77), wat 36 titels ingepalm het in ʼn roemryke loopbaan wat oor baie dekades gestrek het.

Navrae: Mnr. Michael Currin
Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 082 462 7896

Share this page

Similar categories to explore