Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 5 Maart 2014

1.  Die Kabinet se besluite oor huidige kwessies en toekomstige gebeure

1.1 Die Kabinet bevestig President Jacob Zuma se beroep op die Regering, asook die sake- en arbeidsektor om saam te werk om ons ekonomie te laat groei teen 'n koers wat ons in staat sal stel om meer werk te skep.

Die Staatsrede en die Begrotingstoespraak het die grondslag vir die verskerpte implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan oor die volgende termyn van die nuwe administrasie gelê.

Die 21ste Nasionale Begroting van hierdie demokratiese bestel bevat goeie nuus oor hoe ons die land transformeer en die vordering wat ons maak om die sleuteluitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid die hoof te bied – en nog belangriker, om dit binne ons beperkte hulpbronne te doen.

1.2 Die Kabinet het sy afkeur uitgespreek oor die onlangse moorde van twee tienermeisies wat verband hou met die beweerde bevordering van kultus-verwante rituele. Sulke praktyke word glad nie in ons land geduld nie. Die reg om te lewe is in die Grondwet verskans en enige persoon wat aan ’n misdaad skuldig bevind word, sal die volle gesag van die wet in die gesig staar.

1.3 Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners en maatskappye wat energie-besparingsinisiatiewe in werking gestel het, veral in tye toe die nasionale netwerk onder druk was. Hoewel die land die vermoë het om aan die huidige vraag te voldoen, word alle elektrisiteitsverbruikers aangemoedig om energiebesparing as ’n lewenswyse aan te neem.

1.4 Die Kabinet wens alle skole en onderwysers, wat vir die Nasionale Onderwystoekennings 2013 genomineer is, geluk: die Via Afrika People's Choice Awards, wat op 6 Maart 2014 by die Birchwood Konferensiesentrum in Gauteng gehou word, is maar net een van die maniere waarop die Departement van Basiese Onderwys erkenning gee aan toegewyde en simpatieke onderwysers en hulle aanmoedig in hul pogings om leerders as verantwoordelike burgers van 'n demokratiese, nie-rassige en nie-seksistiese Suid-Afrika te ontwikkel. Die Kabinet bevestig ook die reg van kinders om in 'n veilige en bevorderlike omgewing te leer.

1.5 Die Kabinet verwelkom die Departement van Wetenskap en Tegnologie se volgehoue ondersteuning van die Nasionale Wetenskapfees, wat as die SciFest Africa bekend staan, en van 12 tot 18 Maart 2014, in Grahamstad in die Oos-Kaap, gehou word onder die tema "in die ruimte in". Hierdie jaarlikse geleentheid bevorder wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde as loopbaangeleenthede vir ons jeug en smee ’n beter begrip van hierdie studierigtings onder Suid-Afrikaners. Die Regering gaan voort om die studie van Wiskunde en Natuur-en Skeikunde te prioritiseer en te bevorder as deel van die ontwikkeling van die noodsaaklike vaardighede wat nodig is vir ons ontwikkelende ekonomie.

1.6 Die Kabinet verwelkom die aankondiging wat deur die CAPRISA Consortium gemaak is oor die ontdekking van kragtige nuwe MIV- teenliggame. Die navorsing fokus op hoe die liggaam van 'n KwaZulu-Natalse vrou gereageer het op haar MIV-infeksie deur kragtige teenliggaampies te vervaardig. Die studie, wat in die gerekende vaktydskrif Nature gepubliseer is, beskryf hoe die ondersoekspan hierdie teenliggame in die vrou se bloed gevind en geïdentifiseer het en dit in die laboratorium gekloon het. Die gekloonde teenliggame is toe in ’n reeks eksperimente in die laboratorium gebruik om die pad, wat die vrou se immuunstelsel gevolg het om hierdie kragtige teenliggame te vervaardig, toe te lig. Die nuwe insigte wat van dié KwaZulu-Natalse vrou verkry is oor die mens se immuniteitsreaksie teen MIV bring hoop vir toekomstige strategieë vir die voorkoming en behandeling van MIV. Hierdie ontdekking is nie 'n geneesmiddel vir MIV/vigs nie en die Regering doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om hulle steeds vir MIV te laat toets of om voort te gaan met die antiretrovirale behandeling vir MIV-positiewe mense.

1.7 President Jacob Zuma sal die hoofrede by vanjaar se Menseregtedag-vierings op 21 Maart 2014 lewer, onder die tema "Ons vier 20 jaar van die verandering van lewens deur menseregte!" wat by die Sharpeville Krieketgrond in Gauteng gehou word. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die feit te vier dat hulle in ’n land woon, wat waarborg dat die menslikheid van geen Suid-Afrikaner, ongeag ras, geslag, geloof of seksuele voorkeur, nooit weer weggeneem sal word nie. Ons het almal 'n verantwoordelikheid om te verseker dat ons menseregterekord en geskiedenis van menseregte bewaar en versterk word vir toekomstige geslagte.

1.8 Nasionale Waterweek sal op 14 Maart in Bosbokrand bekend gestel word en verskeie verwante geleenthede sal tot 23 Maart 2014 aangebied word. Tydens die bekendstellingsgeleentheid sal die pompe by Vertikale Skag Suid van die ou ERPM-myn geïnstalleer word om die probleem van suur mynwater in die Sentrale Witwatersrandkom te hanteer. Gedurende die res van die week sal die oorhandiging van watersuiweringswerke en grootmaat-watervoorsieningsprojekte in verskeie provinsies plaasvind. Vanjaar se tema is "Water is Lewe – 20 Jaar van Waterlewering vir Sosiale en Ekonomiese Ontwikkeling." Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om water te bespaar en wys op die noodsaaklikheid van die volhoubare bestuur van hierdie skaars hulpbron om toegang tot water vir nog baie Suid-Afrikaners te verseker.

1.9 Die Kabinet is op die hoogte van die suksesvolle eerste Presidensiële Jeugindaba wat vanaf 28 Februarie tot 3 Maart in Ekurhuleni gehou is. Die Indaba is deur die Presidensie, die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling (EDD) en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) aangebied. Die Indaba het uitvoering gegee aan die Jeug-indiensnemingsakkoord wat in April 2013 deur die Regering, die sake- en arbeidsektor onderteken is. President Jacob Zuma was die hoofspreker by die Indaba, wat deur minstens 500 jong mense van al die provinsies bygewoon is. Verskeie ministers het aan paneelbesprekings deelgeneem om jongmense in te lig oor die Regering se programme vir jeug-indiensneming. Daarbenewens is daadwerklike strategieë aangeneem wat sal toesien dat die President en verskeie ministers voortdurend met die jeug sal saamwerk om werk te skep. 

1.10 Die Kabinet neem kennis van die suksesvolle Nasionale Raadplegende Konferensie oor die Nasionale Geïntegreerde Inligting- en kommunikasietegnologie (IKT)-beleid Groenskrif, wat op 3 Maart 2014 gehou is en goed bygewoon is. Die Kabinet moedig die publiek aan om aan die provinsiale verhore oor die Groenskrif, wat op 7 Maart in Rustenburg begin, deel te neem. Die Groenskrif sal tot die finalisering van die Witskrif teen die middel van die jaar lei, wat as raamwerk sal dien vir die verandering van wetgewing op so ’n wyse dat dit die ingrypende veranderinge in IKT in die afgelope jaar in ag sal neem. 

1.11 Die Kabinet neem met blydskap kennis dat sedert die aanvaarding van "SA Connect" – die breëband-beleid-en-strategie – op 4 Desember 2013, 782 skole met rekenaars en kuberlaboratoriums verbind is, die Ikamva e-Skills-Instituut bekend gestel is, en die Nasionale Breëbandadviesraad gestig is.

1.12 Die Departement van Omgewingsake sal die 11de Konferensie van Partye (COP11) van 17 tot 21 Maart 2014 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aanbied onder die tema: "Die Bevordering van Blou Groeikrag in Afrika: Vir die Volhoubare Bestuur van Mariene Hulpbronne". Die tweejaarlikse COP11 bring omgewingsministers van 22 nasies bymekaar, wat onder die Konvensie vir Samewerking in die Beskerming, Bestuur en Ontwikkeling van die Mariene- en Kusomgewing van die Atlantiese Kus van die Wes-, Sentraal-en Suider-Afrika-streek val. Die 2014-konferensie sal aktiwiteite en besluite, wat in 2012/13 uitgevoer is, hersien, die begroting vir 2014/15 bespreek, en uitspraak lewer oor optrede om die verdrag en aksieplan te implementeer. Dit sal ook bepaal hoe die partye die “Blou Groeikrag”-begrip kan aanneem as ’n manier om mariene- en kushulpbronne volhoubaar te bestuur.

1.13 Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse onder-19-kriektspan geluk met die besondere prestasie wat hulle behaal het deur hul eerste Internasionale Krieketraad (IKR) onder-19-Wêreldbekertoernooi in Dubai te wen. Die span se inspirerende prestasie dien as motivering vir alle jong sportgeesdriftiges om na groter hoogtes te streef.

1.14 Die Kabinet neem kennis van Internasionale Vrouedag, wat op 8 Maart 2014 plaasvind. Die dag bied 'n geleentheid aan Suid-Afrikaners om hulde te bring aan die prestasies en opofferings van Suid-Afrikaanse vroue in ons gemeenskappe. Suid-Afrikaners moet besin oor die vordering wat deur gemeenskappe, die samelewing en die land oor die algemeen gemaak is om die regte van vroue te bevorder.

Hoewel die Grondwet die grondslag van waardes en beginsels bepaal, is dit almal se verantwoordelikheid om vroue te beskerm en te verseker dat hulle bemagtig word om as gelyke burgers aan die ontwikkeling van ons ekonomie en die land deel te neem.

2.  Kabinetsoorwegings en goedkeurings

2.1  Die Kabinet het die aanvang van 'n breër konsultasieproses wat ten doel het om meer professionele gegradueerdes op te lei, goedgekeur. Dit sal ’n raamwerk vir beter interaksie, koördinering en samewerking tussen professionele liggame, gehalterade, die nywerheid, instellings vir hoër onderwys en die Regering daarstel.

Dit sal ook bydra tot die ontwikkeling van 'n vaardige en bekwame arbeidsmag om 'n inklusiewe weg na groei te ondersteun.

2.2  Die Kabinet het die Wysigingswetsontwerp op Werkloosheidsversekeringsfondse 2014 vir voorlegging aan die Parlement goedgekeur. Dit is die tweede wysiging van die Wet op Werkloosheidsversekering, 2001 (Wet 63 van 2001).

Die wysigings dra verder by om die skadelike ekonomiese en sosiale gevolge van werkloosheid te verlig deur aan die Internasionale Arbeidsorganisasie se standaarde te voldoen, met inbegrip van leerders in leerskappe en staatsamptenare wat tans nie kragtens die wet gedek word nie.

Implementering van die Wysigingswet van 2014 sal onder meer die tydperk van die betaling van voordele aan bydraers, van agt tot 12 maande verleng, om hulle te help om alternatiewe werk te soek en voordele oor 'n langer tydperk te verdien.

’n Bydraer sal ook ’n verlengde tydperk, van ses tot 12 maande kry om ’n eis in te dien. Dit sal ook voorsiening maak vir die aanwysing van begunstigdes in die geval van doodsvoordele.

3. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:

3.1 Mnr Daan du Toit as Adjunk-direkteur-generaal: Internasionale Samewerking en Hulpbronne by die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

3.2 Mnr Garth Strachan as Adjunk-direkteur-generaal: Nywerheidsontwikkelingsbeleid by die Departement van Handel en Nywerheid.

3.3 Me Malebo Mabitje-Thompson Adjunk-direkteur-generaal: Nywerheidsontwikkelingsaansporing-administrasie by die Departement van Handel en Nywerheid.

3.4 Raad van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsassosiasie (SASRIA) Korporasie in Staatsbesit (SOC) Beperk
a) Heraanstelling van Mnr Cedrick Mnwabisi Masondo as Besturende Direkteur en as Uitvoerende Direkteur in die Raad.
b) Heraanstelling van Me Karen Pepler as Uitvoerende Direkteur in die Raad.
c) Aanstelling van Me Tando Mbatsha as Nie-Uitvoerende Direkteur.
d) Aanstelling van Me Tshwarelo Moutlane as Nie-Uitvoerende Direkteur.

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore