Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 3 September 2014

1. Implementering van die Regering se sleutelprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die amptelike opening deur President Zuma van die Dr Harry Surtie Hospitaal in Upington, Noord-Kaap, op 2 September 2014. Dit volg vier dae nadat 'n nuwe hospitaal deur die Minister van Gesondheid Dr Aaron Motsoaledi in Natalspruit, Gauteng geopen is. Dit tel onder baie belangrike mylpale in die Regering se Nasionale Infrastruktuurprogram wat sal toesien dat 43 hospitale en 213 klinieke oor die volgende vyf jaar gebou word om aan die vereistes van die Nasionale Gesondheids-versekeringstelsel te voldoen.

1.2. Die Kabinet prys die onlangse inhegtenisneming en beslagleggings onder Projek Darling en die inhegtenisneming van 'n bende wat na bewering vragmotors gekaap het. Projek Darling het daartoe gelei dat onwettige diamante teruggevind is en beslag gelê is op bates ter waarde van R50 miljoen, 15 huise en buitelandse valuta ter waarde R43 miljoen.

Die polisie sal later hierdie maand die jaarlikse misdaadstatistieke bekendmaak. Hierdie syfers is gegrond op die werklike aantal gevalle wat by die polisie aangemeld is, en sal suksesse en uitdagings weerspieël.

Die publikasie van hierdie syfers stel ons in staat om by ingeligte besprekings betrokke te raak oor hoe om vennootskappe met die gemeenskap rondom die Regering se omvattende anti-misdaad strategiese ingrypings te versterk. Om misdaad in die land suksesvol te bekamp, doen die Kabinet 'n beroep op gemeenskappe om hul deel by te dra deur misdaad aan te meld en gemeenskapsveiligheidsforums te ondersteun, want die stryd teen misdaad verg die pogings van die hele gemeenskap.

Die Regering veroordeel die wrede aanvalle teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens terwyl hulle aan diens was. Op Sondag 7 September 2014, sal die Regering hulde bring aan hierdie polisiebeamptes wat hul lewens verloor het terwyl hulle hul plig gedoen het. Die Kabinet nooi die volk om ook hulde aan dié beamptes te bring wat gesterf het terwyl hulle probeer het om die wet toe te pas.

1.3. Die Kabinet verwelkom die aankondiging van 'n R2 miljard Aqua-boerdery by die Coega Industriële Ontwikkelingsone in die Oos-Kaap, wat teen 2020 80 hektaar aan perlemoenboerdery sal toeken, en sowat 2 080 permanente werkgeleenthede sal skep. Hierdie projek is deel van Operasie Phakisa wat poog om die ekonomiese potensiaal van Suid-Afrika se oseane te ontsluit. Die projek het die potensiaal om sowat R177 miljard tot die ekonomie by te dra en tot een miljoen werkgeleenthede teen 2033 te skep. Die Kabinet moedig meer beleggers aan om in vennootskap met die Regering in nuwe ekonomiese groeigeleenthede te belê.

1.4. Die Kabinet waardeer die teenwoordigheid van 'n span Suid-Afrikaanse mediese kundiges in die Wes-Afrikaanse state van Guinee, Sierra Leone en Liberië wat help om die verspreiding van die Ebola-virus te beveg. Hierdie span van hoogs-opgeleide spesialiste is toegerus met 'n mobiele laboratorium en is reeds vir die afgelope twee (2) weke daar om te help om die siekte regdeur die streek te diagnoseer. 

1.5. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van Fase 1A, wat die Pongolapoort Grootmaat-watervoorsieningsprojek genoem word. Die onderneming, wat 'n geraamde R1,5 miljard kos, sal lei tot die voorsiening van drinkbare water en die installasie van grootmaat-water en verspreidingsnetwerke na 134 864 mense binne 16 200 huishoudings. Die projek sal ook water voorsien aan die gemeenskap van die Jozini Plaaslike Munisipaliteit in KwaZulu-Natal.

2. Sleutel-Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het die bekendstelling van die konsep Geïntegreerde Stedelike Ontwikkelingsraamwerk vir konsultasie met belanghebbendes en vir inter-regerings wisselwerking goedgekeur. Dit sal poog om konsensus oor die agenda vir stedelike transformasie in Suid-Afrika te bewerkstellig. Die raamwerk is 'n reaksie op President Jacob Zuma se versoeke vir 'n nasionale geïntegreerde stedelike ontwikkelingsraamwerk om die nalatenskap van apartheidsruimtelike patrone te hanteer en munisipaliteite te help om snelle verstedeliking doeltreffend te bestuur. Die visie van die raamwerk is om leefbare, inklusiewe en veerkragtige stede en dorpe te bevorder. Dit sal die nalatenskap van ruimtelike skeiding op 'n rasse- en ekonomiese basis aanpak en meer geïntegreerde, samehangende stede en dorpe skep.

2.2. Die Kabinet het Suid-Afrika se Nasionale Verslag oor Behuising en Stedelike Ontwikkeling wat aan die Verenigde Nasies se Konferensie (Habitat III) in 2016 voorgelê sal word, goedgekeur. Die eerste VN voorbereidende konferensie word op 17 en 18 September 2014 gehou. Hierdie verslag sal na verwagting 'n “Nuwe Stedelike Agenda” vir die 21ste eeu genereer om die uitdagings waarmee ontwikkelende en ontwikkelde lande gekonfronteer word die hoof te bied, met erkenning aan die toenemende belangrike rol van stede ten opsigte van globale kwessies, soos klimaatsverandering, rampe, ekonomiese ontwikkeling en menseregte. Voorbereidings vir Habitat III val saam met die ontwikkeling van Suid-Afrika se Geïntegreerde Stedelike Beleidsraamwerk en die aanvang van voorbereidings vir ons Groenskrif oor Menslike Nedersettings.

2.3. Die Kabinet het die vestiging van die Staat se Agentskap vir Eeiendomsbestuur, wat toesig hou oor die bestuur van Regeringseiendom, goedgekeur. Dit sal 'n Regeringskomponent-entiteit onder die kuratorskap van die Minister van Openbare Werke wees. Minister Nxesi sal meer breedvoerig hieroor uitwei.

2.4. Die Kabinet het die gewysigde Beleid oor die Aanstelling van Insolvensie-praktisyns wat in die Staatskoerant gepubliseer sal word, goedgekeur. Die beleid fokus op die bevordering van konsekwentheid, regverdigheid, deursigtigheid en die bereiking van gelykheid vir persone wat voorheen deur onbillike diskriminasie benadeel is. Die grootste verandering wat deur die wysiging aangebring word met die oog om transformasie te bevorder, is die verwydering van die stelsel wat Rekwisisie genoem word. Die beleid sal slegs van toepassing wees op aanstellings in terme van die Insolvensiewet, die Maatskappywet en die Wet op Beslote Korporasies.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Onteieningswetsontwerp, 2014 in die Parlement ter tafel gelê mag word. Die Onteieningswet, 1975 voordateer die Grondwet van 1996, wat dit noodsaaklik maak om die oorkoepelende wetgewing wat die onteiening van eiendom aan die waardes en bepalings van die Grondwet koppel, in lyn te bring. Minister Nxesi sal meer breedvoerig hieroor uitwei.

4. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet is bemoedig deur die positiewe ekonomiese groei wat in die tweede kwartaal van die jaar aangeteken is, ondanks die moeilike ekonomiese toestande in die land en in die buiteland. Die tempo van ekonomiese groei bly te swak om die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid die hoof te bied. Die Regering bespoedig die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan om ons strukturele uitdagings aan te pak, ons groeipotensiaal permanent te verhoog en werk vir ons mense te skep. In dié verband, bou ons belegging in infrastruktuur – elektrisiteit, vervoer, water, paaie, skole en hospitale – 'n platform vir vinniger, meer inklusiewe ekonomiese groei.

Die jaarlikse volume van kapitaalinvestering deur openbare ondernemings het oor die afgelope 10 jaar met meer as 260 persent in reële terme toegeneem. Plaaslike regerings se jaarlikse besteding aan infrastruktuur het sedert die laat 1990's in reële terme verdubbel. Die openbare sektor het sedert 2009/10 meer as R1 triljoen in infrastruktuur belê. Na verwagting sal die groei in die tweede helfte van die jaar sterker wees namate die mynbou- en vervaardigingsektor herstel. En die Regering sal voortgaan om met die sake- en arbeidsektor saam te werk om 'n omgewing te skep wat bevorderlik is vir belegging en ekonomiese groei.

4.2. Die Kabinet veroordeel die onlangse dade en uitsprake wat in teenstelling met ons grondwetlike waardes, geweld aanhits en dreig om die vordering wat ons as 'n land gemaak het uit te wis. Die onlangse vlaag van vandalisme op busse in die Wes-Kaap word ook ten sterkste veroordeel.

Die Kabinet loof ouers wat dit op hulself geneem het om te verseker dat kinders in die Noord-Kaap terug gaan skool toe. Die Kabinet bedank ouers wat ingegryp het oor die toekoms van hul kinders en doen 'n beroep dat die belang van die kinders nooit weer in die gedrang gebring moet word of gebruik moet word om vir gemeenskapskwessies te onderhandel nie. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om die reputasie wat die land het om by konstruktiewe dialoog betrokke te raak en om kwessies op te los ongeag wie betrokke is, te beskerm, sodat Suid-Afrika vorentoe kan beweeg.

4.3. Die Kabinet verwelkom die beslissende optrede deur die SAOG se liggaam vir vrede en veiligheid tydens die onlangse politieke krisis in Lesotho en bevestig sy onvoorwaardelike steun aan die SAOG se standpunt wat alle pogings om ongrondwetlike veranderinge van die regering teweeg te bring, verwerp. Die Kabinet doen 'n beroep op alle rolspelers om saam te werk om demokratiese orde in Lesotho te herstel en om die Padkaart waaroor met die SAOG-liggaam ooreengekom is, ten volle te implementeer.

4.4. Die Kabinet het kennis geneem van die bedanking van die Voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, adv Pansy Tlakula. Haar bedanking moet gesien word teen die agtergrond van 'n suksesvolle 2014 Algemene Verkiesing wat sy bestuur het. Sy het 'n belangrike bydrae gelewer om te verseker dat ons demokrasie sterk bly. Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor Adv Tlakula se werk, bedank haar vir haar onbaatsugtige bydrae tot ons demokrasie en wens haar alles van die beste toe.

4.5. Die Kabinet verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof, wat bevestiging dat die Regering se beleid oor regstellende aksie korrek is. Die Regering staan by sy program om sosiale ongelykhede reg te stel, veral in die werksomgewing. Hierdie beslissing bevestig ook dat regstellende aksie saam met ander wette oor gelyke indiensneming, transformasie bevorder en voorheen benadeeldes bemagtig.

5. Toekomstige gebeure

5.1. Die Department van Basiese Onderwys sal die vierde Jaarlikse Nasionale Assesserings (ANA) van 16 tot 19 September 2014 onderneem om die vordering van leeruitkomste onder leerders van Graad 1 tot 6 en Graad 9 na te spoor as deel van pogings om die gehalte van onderwys te verbeter. Vanjaar (2014) loods die Departement van Basiese Onderwys ook die assessering van 'n proefgroep van leerders in Graad 7 en 8 en die besluit oor hierdie assessering sal in 2015 geneem word.

Die ANA-toetse genereer gestandaardiseerde bewyse om die sukses te monitor van verskeie ingrypings deur die Regering om geletterdheid en syfervaardigheid by leerders te verbeter, en stel onderwysers ook in staat om areas waar bykomende ondersteuning nodig is, te identifiseer. Die Kabinet moedig ouers en voogde aan om hul kinders te ondersteun en om te verseker dat die resultate gebruik word om enige ontwikkelingsareas aan te pak. Die ANA-rooster en -hulpbronne vir 2014 is beskikbaar by: www.education.gov.za

5.2. Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Gugile Nkwinti sal gasheer wees vir die 2014-Grondbesitberaad, wat van 4 tot 6 September 2014 by die Birchwood Hotel en die OR Tambo-konferensiesentrum in Boksburg, plaasvind. Die beraad sal fokus op maatreëls vir die omkeer van die land se koloniale en apartheidsverlede, wat veroorsaak het dat meer as 75 persent van die swart bevolking geen grond of eiendom besit nie, ongeskool is en nie veilige eiendomsregte het nie. Die Kabinet doen 'n beroep op belanghebbendes om met die Regering saam te werk, en om verbintenisse wat gemaak is om veilige eiendomsreg te verseker, te implementeer.

5.3. Die program vir Staatsdiens-maand, wat van 1 tot 30 September 2014 gevier word onder die tema "Herontwerp staatsamptenare se werkmetode: Batho Pele – Mense Eerste", sal daarop fokus om veral die voorste linie van dienslewering te verskerp. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om staatsamptenare of regeringsinstellings wat buitengewoon presteer, te eer deur hulle te nomineer vir die Nasionale Batho Pele Uitnemendheidstoekennings voor die sluitingsdatum van 30 September 2014.

5.4. Erfenismaand word van 1 tot 30 September 2014 gevier onder die tema "Vier 20 Jaar van Demokrasie: Vertel jou storie wat Suid-Afrika vooruit laat gaan". Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om ons ryk natuurlike en kulturele erfenis, diverse oortuigings en tradisies te vier as 'n volk wat verenig is in die strewe na 'n gedeelde identiteit. Vanjaar se Erfenismaand vind plaas teen die agtergrond van ons 20 Jaar van Vryheid-vieringe, wat ook ons kollektiewe geheue van die stryd om 'n nasionale identiteit te vestig, bevorder.

Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners, veral die land se  jeug, aan om 'n gemeenskaplike erfenis te koester en om ons diverse kulturele erfenis te gebruik om nasiebou, inklusiewe burgerskap en sosiale samehorigheid te bevorder. Suid-Afrikaners word ook aangemoedig om ons natuurlike erfenis te verken deur nasionale parke van 8 to 12 September 2014 gratis te besoek as deel van die 9de jaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) Week. Die Kabinet ondersteun ook die beroep wat die Parlement op alle Suid-Afrikaners doen om ons nasionale erfenis te beskerm.

5.5. Die Kabinet wens Bafana Bafana voorspoed toe met twee belangrike wedstryde, een teen Soedan op 5 September in Khartoem wat 'n kwalifiseerder vir volgende jaar se kontinentale pronkstuk is, en een teen Nigerië op 10 September 2014 in Kaapstad. Die Kabinet wens Banyana Banyana en Amajita ook geluk, en wens hulle sterkte toe vir die belangrike toernooie wat hulle sal speel. Banyana Banyana speel in die 9de rondte van die Afrika-Vrouekampioenskap wat in Oktober in Namibië plaasvind, en is ook op die punt om te kwalifiseer vir die 2015 FIFA Vroue-wêreldbekertoernooi in Kanada. Amajita, die onder-20 nasionale span, het intussen vir die 2015-Afrika-kampioenskap in Senegal gekwalifiseer. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie spanne in hul soeke na oorwinning te ondersteun.

Die Kabinet verwelkom deelnemers van regoor die wêreld na die 4de Kyokushin Karate Wêreldbekertoernooi wat op 6 September 2014 by die Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban gehou word. Die toernooi sal amptelik deur President Jacob Zuma geopen word en poog om karate te bevorder as 'n sport vir die jeug, gegewe die voordele wat dit inhou vir die kweek van self-dissipline, self-verdediging, en die vermoë om te fokus, asook vir die bevordering van maatskaplike misdaadvoorkoming.

5.6. Die Kompetisie-kommissie sal die Agtste Jaarlikse Konferensie en Vyftienjaar-viering van 4 tot 5 September 2014 belê. Minister Ebrahim Patel sal die konferensie amptelik open en afgevaardigdes verwelkom, insluitend dié van kompetisie-agentskappe regoor Afrika en een plaaslike kompetisie-agentskap, die Statebond vir Oos- en Suider-Afrika se Kompetisie-kommissie.

6. Aanstellings

6.1. Die Kabinet stem saam met die aanstelling van mnr Attwell Sibusiso Makhanya as die Hoof Uitvoerende Beampte van Mhlathuze Water.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore