Verklaring oor die Kabinetsvergadring van Woensdag 28 Februarie 2024

A. Kwessies uit die omgewing

1. Ekonomie
1.1  Nasional Begrotingstoespraak

1.1.1. Die Kabinet het die 2024 Nasionale Begroting verwelkom, wat die regering se vasberade verbintenis om die land se ekonomie konsekwent te bestuur en moeilike besluite te neem wat nodig is om die tekort te balanseer terwyl ekonomiese groei bevorder word, weerpieël.
1.1.2. Die Nasionale Begroting bevorder steeds kritieke prioriteite en ondersteuning vir ons nasie se kwesbaarste mense. Dit verskaf maatskaplike bystand om die lewensomstandighede van arm, kwesbare en minderbevoorregte Suid-Afrikaners te verbeter. Dit sluit werklose Suid-Afrikaners in, asook wees- en kwesbare kinders wat in omstandige woon waar kinders aan die hoof van die huishouding is.
1.1.3. Die konsolidasie en tertafellegging van die 2024 Nasionale Begroting is 'n belangrike deel van Suid-Afrika se oop en verantwoordbare stelsel van demokrasie. Die Kabinet is vol vertroue dat die Nasionale Begrotingstoekennings na ekonomiese winste sal lei, wat ons ekonomiese status sal herbou.

1.2. Openbare-Private Vennootskap
1.2.1. Die Kabinet verwelkom die eerste in sy soort openbare-private vernootskapooreenkoms tussen Sasol en Transnet Freight Rail, wat daarop gemik is om die betroubaarheid van spoorvervoer  te verbeter. 
1.2.2. Kragtens 'n vyfjaar-ooreenkoms sal Transnet Freight Rail sy vloot van 128 ammoniaktenkwaens gebruik om ammoniak van Sasol-fasiliteite aan kliënte te lewer en in ruil daarvoor sal Sasol die instandhouding- en herstelprogram van die vloot finansier.
1.2.3. Die vennootskap bevorder werk aan die land se Vraglogistieke Padkaart om die sektor volkome te hernu. Hierdie vennootskap is ’n aanduiding dat ons saam ons dringendste uitdagings kan oorkom.

1.3. Kwarttaalikse Arbeidsmagopname (QLFS)
1.3.1. Statistiek Suid-Afrika se onlangse QLFS, wat 'n effense styging in die land se werkloosheidsyfer in die vierde kwartaal van 2023 getoon het van 31,9% in die derde kwartaal tot 32,1%, motiveer die regering om sy pogings om meer mense na werksgeleenthede te lok, te verdubbel.
1.3.2. Hoewel ons ekonomie steeds werk skep, is dit nie op die vlak waarna die regering mik om die uitdaging van werkloosheid die hoof te bied nie. Die QLFS het getoon dat indiensneming in die informele sektor met 124 000 toegeneem het, in finansies met 128 000 poste, vervoer met 57 000, mynbou met 37 000 poste en private huishoudings met 18 000 poste.
1.3.3. Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore om die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan te ondersteun, wat help om werk- en bestaansgeleenthede aan miljoene Suid-Afrikaners te voorsien.

1.4. 20ste Herdenking van die Uitgebreide Openbare Werke Program (EPWP)

1.4.1. Die jaar 2024 is die herdenking van die EPWP se 20ste bestaansjaar. Die program verteenwoordig een van Suid-Afrika se suksesverhale van massa openbare indiensnemingprogramme en is verreweg een van die grootste armoedeverligtingsinisiatiewe. 
1.4.2. Die Kabinet is inligelig oor die implementering en prestasies van die EPWP, 'n vlagskip-regeringsprogram wat sedert sy ontstaan miljoene werksgeleenthede aan werklose Suid-Afrikaners gebied het.
1.4.3. Die EPWP het oor die afgelope 20 jaar meer as 14 miljoen werksgeleenthede geskep, wat dit die grootste deurlopende openbare indiensnemingsprogram ter wêreld maak. Hierdie mylpaal is bereik deur voortdurende vennootskappe met die private sektor en die burgerlike samelewing. Dié werksgeleenthede het bygedra tot vaardigheidsontwikkeling vir die deelnemers aangesien dit geskep is vir 'n reeks EPWP-projekte in toerisme-, landbou-, infrastruktuur-, en maatskaplike projekte, asook projekte wat deur vroue gelei is.
1.4.4. Die Kabinet is ingelig dat 4 609 000 werksgeleenthede geskep is gedurende Fase 4-mediumtermyn van die EPWP, wat die tydperk 2019/2020 tot 2022/23 dek. Hierdie geal verteenwoordig 'n 92%-prestasie teenoor die teiken wat deur die Sesde Administrasie gestel is om vyf miljoen werksgeleenthede te skep. Planne is in plek om die oorblywende 390 973 werksgeleenthede teen Maart 2024 te skep.
1.4.5. Die drie provinsies wat die meeste werksgeleenthede uit die total van 
4 609 000 geskep het, is KwaZulu-Natal, wat verantwoordelik is vir 1 064 000 werksgeleenthede (23%), gevolg deur die Oos-Kaap met 903 789 (20%) en die Wes-Kaap met 508 954 (11%).
1.4.6. Hoewel die meeste van hierdie geleenthede oor die korttermyn tot mediumtermyn stek, het sommige tot permanente indiensneming gelei. Syfers dui ook daarop dat meer as 20% van die deelnemers werk gekry het buite die UOWP.
1.4.7. Talle vorige EPWP-deelnemers het diplomas in loopbaanrigtings soos professionele kookkuns suksesvol voltooi en sommige is permanent in die gasvryheidsbedryf aangestel. Benewens werksgeleenthede, dra die EPWP ook baie meer by in terme van dienslewering en verbetering van geriewe in gemeenskappe en 'n beter lewenskwaliteit.
1.4.8. Meer as R52 miljard is aan EPWP-deelnemers oorgedra as lone vir werk wat in Fase IV gedoen is.
1.4.9. Daarbenewens is meer as 600 besighede deur die program gestig.

2. Regeringsake

1. Algemene verkiesing 2024
2.1.1. Die Kabinet het president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Woensdag 29 Mei 2024 die datum vir die Algemene Verkiesing is, verwelkom. Dit volg op raadpleging met die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika en al nege provinsiale premiers oor die stand van gereedheid vir die nasionale en provinsiale verkiesings.
2.1.2. Die Kabinet doen 'n beroep op almal, veral die jeug, om hul stemreg uit te oefen. Jare se ongekende opoffering en stryd vir ons vryheid het in 1994 stemreg vir die meerderheid Suid-Afrikaners verseker. Ons stryd om vryheid het die reg vir elke Suid-Afrikaner om aktiewe deelnemers aan ons demokratiese stelsel te wees verwesenlik.
2.1.3. Vanjaar se verkiesings val saam met die viering van 30 jaar van vryheid, wat 'n belangrike mylpaal vir Suid-Afrika is, aangesien dit ons die geleentheid bied om oor ons suksesse te besin en na oplossings te soek om ons oorkombare uitdagings die hoof te bied.

2. Presidensiële eThekwini Werkgroep
2.1. Die Kabinet het kennis geneem van President Ramaphosa se vergadering met die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid op Vrydag 23 Februarie 2024. Verskeie inisiatiewe is bespreek wat deur die nasionale regering gelei is om die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit te help om die huidige water-, elektrisiteit- en infrastruktuuruitdagings die hoof te bied.
2.2. Die President het ook die Presidensiële eThekwini-werkgroep gestig om spoedige oplossing van kwessies wat die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit raak, te versnel. Die groep – bestaande uit ministers, die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit en sakeleiers – sal gereeld vorderingsverslae aan die President voorlê.

2.3. 14de Beleidsdialoogforum (PDF) van die Internasionale Taakspan oor Onderwysers vir Onderwys
2.3.1. Die Kabinet het kennis geneem van die land se suksesvolle aanbieding van die 14de PDF van die Internasionale Taakspan oor Onderwysers vir Onderwys in Sandton, Johannesburg, op Maandag 26 Februarie 2024. Dit het onderwysbelanghebbendes van regoor die wêreld bymekaar gebring vir voorspraak, kennisuitruiling en die monitering van vordering om Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 4 oor kwaliteit onderwys te bereik.
2.3.2. Die PDF het 'n hoëvlakpaneelverslag oor die onderwysprofessie vrygestel en ook die globale verslag oor onderwystekorte bekendgestel.

3. Misdaadbekamping
3.1. Die Kabinet prys die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul onvermoeide werk wat gelei het to die inhegtenisneming van sewe mense in verband met die moord op Kiernan “AKA’ Forbes en sy vriend Tebello “Tibz’ Motsoane. Twee van die verdagtes is in Eswatini in hegtetenis geneem en moet nog aan die land uitgelewer word.
3.2. Die inhegtenisneming kon plaasvind danksy maande se moeisame polisiewerk. Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sluit in ’n koördineerder, skerpskutters, uitkykers en ’n persoon wat die voertuig en vuurwapens gehuur het. 

4. Internasionale Betrekkinge

4.1. 37ste Afrika Unie (AU) Beraad
4.1. Die Kabinet waardeer die vordering wat gemaak is by die 37ste AU-beraad wat op 17 en 18 Februarie 2024 in Addis Abeba, Ethiopië gehou is en Afrika se prioriteite vir 2024 en daarna uiteengesit het. President Ramaphosa het by ander Afrika-leiers aangesluit om die belangrikste kontinentale prioriteite te bespreek, insluitend vrede en veiligheid, klimaatsverandering, ekonomiese ontwikkeling en Afrika se rol in die breër globale multilaterale konteks.
4.2. Die beraad het die tweede 10-jaar-implementeringsplan van Agenda 2063 aanvaar, wat die versnelling van vlagskipprojekte soos die Afrika-kontinentale vryhandelsgebied insluit, waarin Suid-Afrika 'n leidende rol speel.
4.3. President Ramaphosa het ook in sy hoedanigheid as die leier van die AU se Covid-19-reaksie, 'n verslag oor die vasteland se reaksie op die Coronavirus (Covid-19) -pandemie en die stand van gereedheid teen toekomstige gesondheidsbedreigings, voorgelê. Die beraad het verder die erns van sosio-ekonomiese herstel ná Covid-19 beklemtoon, asook lesse uit die pandemie se paraatheid, reaksie, en die veiligheid van die Afrika-vasteland.
4.4. Die president het 'n beroep op Afrika-leiers gedoen om hul lande se vlakke van waaksaamheid teen toekomstige pandemies steeds te verbeter en het 'n beroep gedoen op die aanvaarding van 'n sterk gemeenskaplike Afrika-standpunt oor pandemiese paraatheid en die reaksie daarop.

4.2. Suid-Afrika se aanbieding van die Groep van Twintig (G20) en Presidensie in 2025
4.2.1. Die Kabinet het 'n verslag ontvang en oorweeg oor die voorbereidings vir Suid-Afrika se aanbieding van die G20-beraad in 2025, asook die oorname van die beraad se presidentskap. Dit is 'n belangrike mylpaal vir Suid-Afrika aangesien dit die eerste land in Afrika sal wees wat so 'n byeenkoms aanbied; dit is nie net uniek weens die verwagte getalle nie, maar ook weens die blywende impak wat dit na verwagting sal maak.
4.2.2 Die Kabinet is vol vertroue dat Suid-Afrika 'n suksesvolle G20-beraad sal aanbied, soos reeds met vorige groot geleenthede soos die Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS)-beraad, asook die African Growth and Opportunity Act-Forum. Die G20-presidentskap bied aan Suid-Afrika 'n geleentheid om die vooruitsigte van ontluikende markte te verdedig.
4.2.3. Terwyl Suid-Afrika die G20 aanbied, sal die land se deelname aan die forum steeds gelei word deur die verbintenis om nasionale belange sowel as dié van die Afrika-kontinent te bevorder. 

B. Kabinetsbesluite
1. Aanbied van die negende jaarvergadering van die Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB) 

1.1. Die Kabinet het dit oorweeg en goedgekeur dat die jaarvergadering van die NDB in Junie 2024 in Suid-Afrika aangebied word.
1.2. Dit is 10 jaar sedert die BRICS-lande die Aktes van Ooreenkoms van die NDB op 15 en 16 Julie 2014 by die 6de BRICS-beraad in Fortaleza, Brasilië onderteken het. Dit het die eerste multilaterale ontwikkelingsinstelling deur ontluikende en ontwikkelende lande tot stand gebring. Suid-Afrika het tot dusver R25 miljard bygedra tot die bank se inbetaalde kapitaal. Suid-Afrika sien daarna uit om die NDB-vergadering aan te bied en is daartoe verbind om hand-aan-hand met die bank en sy lidlande te werk om volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig en 'n beter Afrika-kontinent te skep. 

2. Strategie vir die aanstelling van professionele maatskaplike dienstewerkers (SSPs)
2.1. Die Kabinet het die Strategie vir die Indiensneming van SSP's goedgekeur as deel van die behoefte om die regering, nie-regeringsorganisasies en die private sektor se menslike hulpbronkapasiteit uit te brei as ’n proaktiewe reaksie op die maatskaplike euwels wat die land in die gesig staar.
2.2. Die strategie is 'n kollektiewe verbintenis tot die bou van 'n maatskaplike dienstesektor wat reageer op die behoeftes van ons gemeenskappe om maatskaplike euwels soos misdaad, geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, tienerswangerskappe, afknouery, huishoudings met 'n kind aan die hoof, geestesgesondheid en dwelmmisbruik die hoof te bied.
2.3. Die strategie is ook daarop gemik om die grondslag te lê vir 'n sosiaal-inklusiewe en veerkragtige toekoms en 'n samelewing wat omgee. 

3. Groenskrif  oor Omvattende Maatskaplike Sekuriteit 
3.1. Die Kabinet het oorweeg en goedgekeur dat die hersiene Groenskrif oor Omvattende Maatskaplike Sekuriteit gepubliseer word, en versoek openbare kommentaar daaroor.
3.2. Die groenskrif het ten doel om 'n verpligte pensioenstelsel vir sosiale sekerheid in te stel wat aftree-, ongeskiktheids- en sterftevoordele aan alle werkers bied. Lae-inkomsteverdieners se bydraes sal gesubsidieer word in ooreenstemming met bestaande bepalings. Die referaat stel verder die gelykmaking van die manier waarop ouer persone in die belasting- en maatskaplike toelaestelsel behandel word voor, om die ongelyke behandeling van ouer persone in die twee regimes reg te stel.
3.3. Die groenskrif is verder ook daarop gerig om institusionele hervormings voor te stel wat samehang in maatskaplike sekerheidsbeleid bevorder met die doel om administratiewe doeltreffendheid, verbeterde dienslewering en doeltreffende regulering, bestuur en toesig oor alle maatskaplike sekerheidsreëlings te verseker. 

C.  Aaanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1. Aanstelling van mnr Snike Thulani Sibuyi as Sekretaris vir Polisiediens by die Departement Burgerlike Sekretariaat vir Polisiediens.
2. Aanstelling van mnr Xolile Sizani as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van PetroSA.
3. Aanstelling van me Nombulelo Guliwe as HUB van Suid-Afrikaanse Toerisme.
4. Verlenging van me Totsie Memela-Khambula se kontrak as die HUB van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid.
5. Aanstelling van me Mapatane Elizabeth Kgomoas as die HUB van die Munisipale Infrastruktuur Ondersteuningsagentskap.
6. Heraanstelling in die Raad van die Sentrale Energiefonds (SEF) en aanstelling van me Ayanda Noah as Voorsitter.

7. Aanstelling van lede van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad:
7.1. Me Makhosazana Khanyile (Voorsitter);
7.2. Adv Lizelle Dominique Jordaan (Ondervoorsitter);
7.3. Dr Gregory J Davids;
7.4. Mnr Ikaneng Ephraim Pilane;
7.5. prof Motlhago Stella Bvuma;
7.6. Me Nqabomzi Haya;
7.7. Mnr Rajesh Mahabeer;
7.8. Mnr Ayanda V Mazibuko;
7.9. Me Maija de Rijk-Uys;
7.10. Dr Mzolisi Michael Toni; en
7.11. Me Uveshnee Pillay as verteenwoordiger van die Departement van Toeriesme.

8. Aanstelling van die Voorsitter en Ondervoorsitter van die Raad van Trustees van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust:
8.1. Adv Kwazikwenkosi Mshengu (Voorsitter); en
8.2. Ms Karabo Siyila (Adjunkvoorsitter).

D. Toekomstige gebeure

1. Menseregtemaand 
1.1. Vanjaar se herdenking van Menseregtemaand en Menseregtedag vind op 21 Maart, die vooraand van die land se viering van 30 Jaar van Vryheid in April, plaas.
1.2. Onder die tema: “Drie dekades van respek vir en bevordering van menseregte”, doen die Kabinet 'n beroep op almal om ’n bydrae te lewer tot die versterking van ons menseregte, en om ons vryheid en demokrasie wat ten duurste bereik is, te koester.

2. Distriksontwikkelingsmodel (DDM) Presidensiële Imbizo
2.1. Die President het die 12de DDM Presidensiële Imbizo op Donderdag 7 Maart 2024 by die Nkangala-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga aangebied.
2.2. Die Imbizo bring leiers van al drie regeringsfere byeen om met inwoners te kommunikeer oor diensleweringsuitdagings en sit planne uiteen vir die verbetering van dienslewering en gemeenskapsontwikkeling in die gebied.
2.3. Die DDM Presidensiële Imbizo en toesigbesoeke het in al nege provinsies plaasgevind as deel van pogings om voortgesette werk vir die verbetring van hul inwoners se lewens, te versterk.
2.4. Die Kabinet doen 'n beroep op inwoners van die Nkangala-distriksmunisipaliteit en omliggende gebiede om die Imbizo by te woon en hul openbare verteenwoordigers te betrek oor kwessies wat hulle raak.

3. Simposium vir Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling Suid-Afrika (SIDSSA) 42024 
3.1.  Alles is gereed vir SIDSSA 2024, wat van 17 tot 19 Maart 2024 in Kaapstad plaasvind. Dié simposium bring kritieke rolspelers in die infrastruktuursektor bymekaar, wat deurslaggewende bydraes kan lewer om die pas van infrastruktuurbeleggings in die land te versnel.
3.2. Infrastruktuurontwikkeling is die sleutelprioriteit van die regering en die Sesde Administrasie, aangesien dit bydra tot ekonomiese groei en werkskepping. Die SIDSSA sal sommige van die vordering wat met die implementering van die Infrastruktuurbeleggingsplan wat in Mei 2020 deur die Kabinet goedgekeur is, ten toon stel. 

4.  Tweede Swart Nyweraars- en Uitvoerderskonferensie
4.1. Die tweede Swart Nyweraars- en Uitvoerderskonferensie sal op Woensdag 20 Maart 2024 by die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg plaasvind.
4.2. Die konferensie sal erkenning gee aan sake-uitnemendheid en sal ondernemings vereer wat die gees van sukses en innovasie veteenwoordig, en werkskepping, goeie sake-etiek en kwaliteit demonstreer. Meer as 600 swart nywerheidsfirmas ondersteun deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het gedurende die 2023/24-boekjaar 'n omset van sowat R80 miljard getoon. Dit illustreer die tasbare resultate van meer swart entrepreneurs in die industriële ekonomie.

E. Boodskappe

1. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:
1.1. Ms Michelle Phillips met haar aanstelling as die Groep HUB van Transnet en me Nosipho Maphumulo as Groep Hoof Finansiële Beampte van Transnet. Hierdie aanstellings is van kritieke belang vir die voortgesette werk om die kapasiteit binne Transnet te herbou as deel van die werk om die land se vrag-, spoor- en logistieke kapasiteit te herstel.
1.2. Mnr Wamkele Mene met sy herverkiesing as die Sekretaris-generaal van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied.
1.3. Mnr Sibusiso Ngalwa, wat tans voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) is, vir sy aanstelling op die Uitvoerende Komitee van die Afrika-redakteursforum.
1.4. BanyanaBanyana, die nasionale vrouesokkerspan, vir hul oorwinning in die tweede been van die CAF Vroue se Olimpiese kwalifikaserende rondte. Die span het die tweebeen-uitdunne met ’n gekomineerde 4-0 gewen, en sal in April 2024 teen Nigerië in die finale rondte te staan kom.

2. Meegevoel
Die Kabinet spreek sy meegevoel uit teenoor die naasbestaandes, vriende en kollegas van: 

2.1. Kaptein Simon Mkhulu Bobe en Onderkorporaal Irven Thabang Semono van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, wat op 14 Februarie 2024 in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gesterf het. Hulle was deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sending in die DRK, algemeen bekend as SAMIDRC, wat ontplooi is om veiligheid, vrede en stabiliteit te herstel in ooreenstemming met die AU-agenda van "Silencing the Guns by 2030". Die Kabinet wens verder die drie ander soldate wat in die aanval beseer is 'n spoedige herstel toe.
2.2. Die nege mense van Mpumalanga wat hul lewens in 'n tragiese busongeluk in Paulpietersburg, KwaZulu-Natal verloor het terwyl hulle teruggekeer het van die African National Congress-saamtrek in eThekwini.

Navrae:

Me Nomonde Mnukwa
Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Uitgereik deur: Die Regering se Komunikasie en Inligtingsdiens (GCIS)
Date: Donderdag 29 Februarie 2024
www.gcis.gov.za; www.gov.za

More on

Share this page

Similar categories to explore