Verklaring van die Kabinetvergadering van 7 Junie 2017

Die Kabninet het op Woensdag 7 Junie 2017 te Tuynhuys, Kaapstad vergader.

1. Kwessies in die omgewing

1.1. Die Kabinet herhaal President Jacob Zuma se oproep aan Suid-Afrikaners om saam te staan teen geweld en mishandeling van vroue en kinders en doen ’n ernstige beroep op alle Suid-Afrikaners om dringend op te tree om hierdie plaag in ons gemeenskappe uit te wis.

Dit volg op die President se besoek aan Elsiesrivier in Kaapstad ter ondersteuning van die Stryd teen Misdaad-Imbizo. Hierdie besoek het weer eens die die kwesbaarheid van vroue en kinders in ons gemeenskap na vore gebring.

Die President het onderneem om terug te keer na die gebied om ondersoek in te stel na al die uitdagings rakende misdaad en moord, veral met betrekking tot kinders, en hoe wetstoepassingagentskappe hul diens aan die gemeenskap kan verbeter.

1.2. Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die Algemene Huishoudelike Opname 2016, wat toon dat daar steeds vordering is met die implementering van regeringsprogramme om Suid-Afrikaners se lewens te verbeter, veral dié in voorheen benadeelde gemeenskappe.

Die statistieke toon dat die regering veral vorder met die voorsiening van behuising; die aantal Suid-Afrikaanse huishoudings wat in HOP- of gesubsidieerde wooneenhede woon, het van 5% in 2002 tot 13,5% in 2016 toegeneem. Die opname wys ook dat die regering se maatskaplike bystandsprogramme van 12,7% in 2003 tot 29,7% in 2016 toegeneem het.

Daar is ook 'n merkbare toename in toegang tot water, elektrisiteit en sanitasie. Dit is 'n belangrike aanduiding vir die Suid-Afrikaanse regering se strewe om die onreg van apartheid reg te stel en basiese dienste aan alle mense te bied.

Die Kabinet het egter opgemerk dat terwyl hoër onderwysinskrywings aan die toeneem is, hoewel teen 'n stadige pas, slegs 3,3% van swart Suid-Afrikaners tussen 18 en 29 jaar studeer, in teenstelling met 18,8% van Indiese /Asiatiese individue en 17,5% van die blanke bevolking in hierdie ouderdomsgroep. Slegs 3,5% van die gekleurde bevolking het gedurende 2016 studeer.

Die opname dui verder op 'n afname van 23,8% tot 11,8% van huishoudings wat honger ervaar het; dit dui op vooruitgang in bystand aan gemeenskappe wat in uiterste armoede leef.

1.3. Die Kabinet neem kennis van die Kwartaalikse Arbeidsmagopname vir die eerste kwartaal, wat daarop dui dat 144 000 werksgeleenthede deur die ekonomie bygevoeg is. Hierdie syfers spruit uit 'n toename van 433 000 bykomende werksoekers.

Die Kabinet bevestig sy verbintenis om in vennootskap met die private sektor en arbeid sy pogings voort te sit om die land se uitdagings rakende werkloosheid die hoof te bied.

1.4. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die opgeknapte Babelegi-nywerheidspark in Hammanskraal as deel van die regering se planne om ekonomiese ontwikkeling en werkskepping in die gebied te versnel.

Die projek van R42 miljoen is deel van die regering se Program vir die Hernuwing van Nywerheidsparke en is een van ses parke in die land wat hernu word vir groter ekonomiese en nywerheidsontwikkeling.

Die Kabinet moedig plaaslike nywerhede en besighede aan om dit te oorweeg om hul uitbreidingsbedrywighede na nywerheidsparke te neem en om gebruik te maak van die verskillende ondersteuningsmaatreëls wat beskikbaar is om hul ondernemings verder te ontwikkel.

1.5. Die Kabinet is deur die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, ingelig oor die jongste stand van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP), wat in die eerste kwartaal van 2017 met 0,7% ingekrimp het. Hierdie swakker-as-verwagte BBP-uitslag is aansienlik laer as die 2017-begrotingsoorsig, wat die 2017 BBP-groei teen 1,3% geprojekteer het.

Dit word onder meer toegeskryf aan die inkrimping van die vervaardigings-, handel-, spysenierings- en akkommodasiebedrywe.

Die ekonomie word nietemin ondersteun deur groei in die mynbou- en steengroefbedryf, wat met 12,8% toegeneem het. Die landbou-, bosbou- en visserybedryf het in die eerste kwartaal van 2017 met 22,2% verbeter.

Daar is belowende faktore wat die land ’n hupstoot kan gee om sy eie ekonomiese groeivooruitsigte te verhoog. Dit sluit in die verbetering van wêreldwye groei, stabilisering van kommoditeitspryse, gunstiger klimaatstoestande, betroubare kragvoorsiening en minder vlugtige arbeidsverhoudinge.

Die Kabinet doen ’n dringende beroep op die sake- en arbeidsektor, asook die breër samelewing om met die regering saam te werk om ons groeiprogram te versterk en vertroue te verbeter sodat ekonomiese agteruitgang gestuit kan word en om inklusiewe ekonomiese groei te bereik.

In dié verband sal die Minister van Finansies met sakeleiers vergader vir die formulering van strategieë om ’n ekonomiese resessie teen te werk en inklusiewe groei te bereik.

Die Kabinet onderskryf 'n volledige mediakonferensie deur die Minister van Finansies om Suid-Afrikaners in te lig oor ingrypings wat binne die huidige begrotingsraamwerk deur die regering gemaak sal word. Voorts herbevestig die Kabinet ook die goedgekeurde begrotingsraamwerk vir die land.

1.6. Die graderingsagentskappe Fitch en Standard & Poor's het Suid-Afrika se langtermyn buitelandse valuta skuldgraderings van 'BB +' bevestig.

Dit kom te midde van Minister Gigaba se betrokkenheid by die private sektor om te verseker dat die gesamentlike werk van die regering, die sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing voortduur, en dat die beloftes wat gemaak is, nagekom word.

Die Kabinet beklemtoon dat Suid-Afrikaners voortdurend moet saamwerk, veral tydens moeilike tye en nog harder moet werk om te verseker dat die land sy beleggingsgraadstatus herwin.

1.7. Die Kabinet verwelkom beraadslagings by die eerste Gesamentlike Administrasiekomitee vir die Gemeenskaplike Mark van die Suide (MERCOSUR) en die Suider-Afrikaanse Doeane-Unie (SADU) wat onlangs in die land gehou is.

Die partye het ingestem om gesamentlik oorweging te skenk aan geleenthede om die MERCOSUR-SACU Voorkeurhandelsooreenkoms (PTA) te bevorder deur hul handelsbevorderingsagentskappe, kamers van handel, privaatsektor en hul onderskeie ambassades en buitelandse missies te betrek. Die MERCOSUR-SACU-ooreenkoms bied plaaslike uitvoerders die geleentheid om 'n mark van meer as 280 miljoen mense te bereik.

Die Kabinet doen 'n beroep op al die land se uitvoerders om voordeel te trek uit die PTA, aangesien plaaslike produkte nou die MERCOSUR-blok kan betree teen voorkeur doeaneregte.

1.8. Die Kabinet betreur die besluit van die Verenigde State van Amerika (VSA) om uit die Parys-ooreenkoms te onttrek.

Die Parys-ooreenkoms, wat teen 2020 ten volle in werking sal tree, is vooropgestel deur bydraes wat deur lande self bepaal word teenoor gesamentlike ooreengekome globale doelwitte.

Suid-Afrika het die VSA versoek om sy posisie te heroorweeg en hom tot die multilaterale proses te herverbind.

1.9. Die Memorandum van Verstandhouding tussen Novartis, die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en die Departement van Wetenskap en Tegnologie, baan die weg om die volume en kwaliteit van kliniese proewe te bevorder en navorsingsvermoë op die vasteland te bou.

Die ooreenkoms sal gesamentlike navorsingsprogramme in bepaalde oordraagbare en nie-oordraagbare siektes toelaat, Suid-Afrikaanse pasiënte se toegang tot innoverende medisyne verbeter, en die land sowel as die vasteland se navorsings- en ontwikkelingsvermoëns bou.

Die Kabinet glo dat daar ruimte is vir meer openbare-private vennootskappe, en is daarvan oortuig dat dit die weg kan baan om die talle dringende uitdagings wat ons in die gesig staar die hoof te bied.   

1.10. Die Kabinet Verwelkom die 2017-verslag van die Internasionale Kongres- en Konvensievereniging, wat Suid-Afrika steeds op sy ranglys plaas as die voorste bestemming vir sakebyeenkomste in Afrika en die Midde-Ooste. Die verslag is in Mei 2017 in Frankfort, Duitsland, vrygestel.

Suid-Afrika bly een van die wêreld se gewildste toeristebestemmings en bly ook bo aan die ranglys van die Wêreld Ekonomiese Forum Reis se wêreldwye reis- en toerisme-mededingendheidsindeks, soos in April 2017 vrygestel.

Die Kabinet wil graag sien dat meer van Suid-Afrika se kleiner dorpe en stede kleiner vergaderings aanbied waar hulle aan die gasheervereistes kan voldoen. Dit sal help om die geografiese verspreiding van toerisme buite die groot sentrums te verbeter en die inkomste wat deur hierdie gebeure gegenereer word, meer billik te versprei.

1.11. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om te waak teen vals nuus, veral die toename in vals plasings op sosiale media oor vermiste, ontvoerde en weggevoerde meisies en vroue.

Die onlangse vlaag van geweld in KwaMashu, naby Durban oor vals verslae van kinders wat in die gebied ontvoer word en die beweerde wegvoering van 'n meisie in Naledi, Soweto deur persone in 'n Toyota Quantum met ’n bepaalde registrasienommer, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, en het later geblyk onwaar te wees.

Hierdie kullery, vals nuus en die verspreiding van vals inligting veroorsaak paniek in ons gemeenskappe en mors die polisie se tyd en hulpbronne. Ons doen 'n ernstige beroep op mense om nie goedsmoeds enige nuus op sosiale media te plaas alvorens hul die egtheid daarvan geverifieer het nie.

1.12. Die Kabinet het met groot kommer kennis geneem van die mediaverslae oor die sogenaamde ‘uitgelekte e-posse’ waarin berig word dat ministers, amptenare en private individue by beweerde oortredings betrokke is.

Die Kabinet bly ten volle verbind tot goeie bestuur en wys terselfdertyd daarop dat alle persone, ingevolge ons Grondwet, as onskuldig beskou word totdat hulle skuldig bevind is.

Die Kabinet doen ’n ernstige beroep op enigeen wat inligting oor enige oortreding deur regeringsamptenare of ministers het om dit by die wetstoepassingsagentskappe aan te meld sodat die nodige ondersoeke gedoen kan word.

Die Kabinet is bewus daarvan dat sommige sake reeds geopen is en dat die polisie dit ondersoek. Enigeen wat deur die e-posse geraak word, word aangemoedig om met die wetstoepassingsagentskappe saam te werk.

President Zuma het die bewerings wat deur 'n Sondagkoerant gepubliseer is, dat hy 'n huis in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate besit, weerlê.

2. Kabinetsbesluite

Die Kabinet is in kennis gestel van die vierde kwartaallikse prestasievorderingsverslae vir 2016/17 (Januarie-Maart 2017) oor die implementering van prioriteitsuitkomste.

Die Kabinet se toesig oor die implementering van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2014 tot 2019, lei tot verbeterde dienslewering. Dit bring ons nader aan die verwesenliking van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se Visie 2030.

Die regering het aansienlike vordering gemaak met die implementering van sy 14 prioriteitsuitkomste en die bevordering van die NOP-doelwitte. Uitdagings wat implementering beïnvloed en optrede wat nodig is om dienslewering te verbeter, is ook geïdentifiseer.

Die GCIS koördineer regeringsgroeperings se media-inligtingsessies wat geskeduleer is om van 9 tot 18 Junie 2017 plaas te vind. 'n Bygewerkte skedule sal op www.gov.za gepos word.

3. Toekomstige gebeure

3.1. President Zuma het Jeugmaand tydens 'n vergadering van die Presidensiële Jeugwerkgroep van stapel gestuur onder die tema ‘Die Jaar van OR Tambo: Bevorder Jeug Ekonomiese Bemagtiging’. Dit het die regering en leiers van jeugorganisasies bymekaar gebring, waar hulle bestek geneem het van vordering in die sosio-ekonomiese vooruitgang van ons land se jeug.

Ministers en adjunkministers sal betrokke wees by verskeie aktiwiteite wat daarop gemik is om jeugontwikkeling en bemagtiging te bevorder. Die Nasionale Jeugdag-herdenkingskonferensie vind op 16 Junie 2017 in Ventersdorp, Noordwes plaas. Hierdie jaar is die 41ste herdenking van die Soweto-opstand en die herdenking dien as 'n herinnering dat ons land se jeug aan die voorpunt van ons vryheidstryd was.

Die Kabinet moedig alle jeugdiges aan om deel te neem aan Jeugdagaktiwiteite en om gebruik te maak van al die hulp en hulpbronne wat die regering beskikbaar stel om hul vooruitsigte te verbeter en hul deelname aan die ekonomie te bevorder.

3.2. Jeugkonferensie oor plaaslike regering

Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Des van Rooyen, sal die Konferensie oor Plaaslike Regering van 19 tot 22 Junie 2017 belê onder die tema ‘Jeugdiges in beheer van ontwikkeling’. Die konferensie sal die Plaaslike Regering se Jeugontwikkelingsforum van stapel laat loop.

Dit sal jeugdiges in staat stel om die vordering van plaaslike regering teen die bereiking van die Nasionale Jeugbeleid 2020 te hersien. Dit sal ook vennootskappe tussen die regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing versterk in die ontwikkeling van jong leiers in die plaaslike omgewing.

3.3. Die Minister van die Staatsdiens en Administrasie, Faith Muthambi, sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Afrika-Staatsdiensdag lei, wat in Kigali, Rwanda plaasvind van 21 tot 23 Junie 2017. Vanjaar se tema is: ‘Vestig 'n Burgergesentreerde Diensleweringskultuur: Vennootskap met die Jeug vir Afrika se Transformasie’.

Die tema bied geleenthede om ondersoek in te stel na hoe die Staatsdiens 'n burgergesentreerde diensleweringskultuur definieer en daarop reageer, wat bepaal word deur die manier waarop dinge tans gedoen word.

4. Meegevoel

4.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van die pendelaar wat gesterf het tydens ’n botsing tussen twee Metrorail-treine naby die Elandsfonteinstasie in Ekurhuleni, en wens diegene wat in die ongeluk beseer is ’n spoedige herstel toe.

Die Kabinet versoek dat die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk versnel word om ’n herhaling van so ’n noodlottige ongeluk te voorkom.

4.2. Die Kabinet, saam met die internasionale gemeenskap, veroordeel die jongste terreuraanval in die Verenigde Koninkryk (VK) ten sterkste. Talle mense is in die aanval, wat op 3 Junie 2017 in Londen plaasgevind het, beseer en sommiges het gesterf.

Die aanval in Londen het binne twee weke ná die Manchester-aanval plaasgevind, waartydens talle mense, veral jeugdiges en kinders, gesterf het.

Die Kabinet betuig sy meegevoel met die regering en mense van die VK, veral die familie en geliefdes van die oorledenes, en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe.

4.3. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van prof Babatunde Osotimehin, wat hierdie week oorlede is. Prof Osotimehin was die Uitvoerende Direkteur van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds. Hy het die afgelope jaar ’n sleutelrol gespeel om die kwessies van seksuele en reproduktiewe gesondheid in Afrika aan te pak.

Hy het onvermoeid gewerk om die seksuele en reproduktiewe gesondheid en regte van vroue en jeugdiges in Afrika en wêreldwyd te bevorder. Hy was aktief betrokke by veldtogte vir lesbiese, gay, biseksuele, transseksuele en interseksuele regte.
4.4. Kaapse storms en knysna-brande

Die Kabinet neem kennis van die storms wat die meeste dele van die Wes-Kaap geraak het en die daaropvolgende skade.

Die Kabinet betuig sy meegevoel met die families van diegene wat lewens en eiendom verloor het tydens hierdie rampe; die jongste syfer is agt. Kaapstad se Rampbestuursentrum word aangemoedig om sy bes te doen om lewens en eiendom te red, insluitend in die Knysna-omgewing waar brande steeds woed. Ons doen 'n beroep op alle inwoners om alle veiligheidsmaatreëls na te kom.

5. Gelukwense

5.1. Die Kabinet verwelkom President Jacob Zuma se besluit om Luitenant-Generaal Lesetja Mothiba as die nuwe waarnemende Nasionale Polisiekommissaris aan te stel.

5.2. Die Kabinet wens ons atlete en sportlui geluk met hul nominasies in agt kategorieë van die 2017 Jaarlikse Streeksporttoekennings, wat in Suid-Afrika aangebied is.

Die Afrika-Unie se Sportraad Streek 5 is een van vyf streke wat die verantwoordelikheid het om sport in die Afrika-unie te ontwikkel. Lede van die streek is: Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië en Zimbabwe.

  • Wayde van Niekerk het die titel Sportsman van die Jaar gewen
  • Caster Semenya het die titel Sportvrou van die Jaar gewen
  • Anna Botha het die titel Afrigter van die Jaar gewen, en
  • Mamelodi Sundowns is as die Span van die Jaar aangewys.

5.3. Die Kabinet wens die mense van Lesotho geluk met hulle land se vreedsame verkiesing en wens ook die verkose eerste minister, mnr Thomas Thabane, en sy party geluk met hul oorwinning in die verkiesing.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

6.1.  Direkteur-generaal (DG): Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering, me Nompumelelo Zandile Mpofu.
6.2.  DG: Nasionale Tesourie, mnr Dondo Mogajane.

Navrae: Me Phumla Williams
Waarnemende Direkteur-Generaal (GCIS)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore