Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa

Speaker van die Nasionale Vergadering, me Baleka Mbete,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), me Thandi Modise,
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Ondervoorsitter van die NRP,
Adjunhoofregter Raymond Zondo en gewaardeerde lede van die regbank,
Voormalige President, Mnr. Thabo Mbeki en me Mbeki,
Voormalige President, Mnr. Kgalema Motlanthe en me Motlanthe,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, dr. Frene Ginwala,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, mnr Max Sisulu,
Ministers en Adjunkministers,
Premiers en spreakers van provinsiale wetgewers,
Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging en uitvoerende burgemeesters,
Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, mnr. Lesetja Kganyago,
Hoofde van Hoofstuk 9-instellings,
Isithwalandwe, me Sophie De Bruyn,
Isithwalandwe, mnr. Andrew Mlangeni,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers, Ikosi Sipho Mahlangu,
Wes-Kaapse Khoi San Leier, Prins Jacobus Titus,
Kgosi John Molefe Pilane,
Hoofman Aaron Martin Messelaar,
2018 Konfederasie van Afrika-sokker Nasionale Vroue-afrigter van die Jaar, me Desiree Ellis,
Leiers van geloofsgebaseerde organisasies,
Leiers van akademiese en navorsingsinstellings,
Veterane van die bevrydingstryd,
Lede van die diplomatieke korps,
Genooide gaste,
Geagte lede van die Nasionale Vergadering,
Geagte lede van die NRP,
Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is 'n groot eer om vandag voor u te staan ​​om die 25ste Jaarlikse Staatsrede (SoNA) in 'n vrye en demokratiese Suid-Afrika te lewer.

Hierdie jaar vier ons, as 'n diverse volk en as 'n verenigde nasie, een van die grootste menslike prestasies.

Ons vier die oorwinning van vryheid oor onderwerping, die oorwinning van demokrasie oor rassistiese tirannie, die oorwinning van hoop oor wanhoop.

Ons vier die onwrikbare vasberadenheid van 'n onderdrukte volk om vry, gelyk en vervul te wees.

Ons sal hierdie tyd gebruik om die swaarkry en lyding wat geslagte van ons mense ervaar het, te herroep - hul stryd, hul opofferings en hul koersvas verbintenis om 'n Suid-Afrika te bou wat aan almal behoort wat hier woon.

Ons sal die verligting en opwinding van die dag toe ons bevry is onthou; die oomblik waarop ons 'n nasie geword het, 'n land met vrede in homself en die wêreld.

Gedurende die loop van die jaar moet en sal ons besin oor die reis van die afgelope 25 jaar.

As Suid-Afrikaners sal ons onsself moet afvra of ons die belofte van ons nasie se geboorte gerealiseer het.

Ons moet onsself hierdie jaar, die 25ste herdenking van ons vryheid, afvra of ons 'n samelewing gebou het waarin alle Suid-Afrikaners egelyk en sonder uitsondering hul onvervreembare regte op lewe, waardigheid en vryheid geniet.

Het ons 'n samelewing gebou waar die ongeregtighede van die verlede nie meer ons huidige lewens definieer nie?

Ons moet hierdie tyd gebruik om te besin oor die vordering wat ons gemaak het, die uitdagings waarvoor ons te staan gekom het, die terugslae wat ons ervaar het en die foute wat ons begaan het.

'n Jaar gelede het ons 'n pad van groei en vernuwing betree.

Uit 'n tydperk van onsekerheid en 'n verlies aan vertroue het ons besluit om weg te breek van alles wat ons verdeel; om alles wat ons verenig, aan te gryp.

Ons het besluit om ons land te genees van die vernietigende gevolge van korrupsie en om die integriteit van ons instellings te herstel.

Ons is daartoe verbind om die waardes van ons Grondwet te bevorder en weer eens die behoeftes van armes, werkloses, gemarginaliseerdes en vervreemdes voorop te stel.

Ons het ooreengekom dat ons ter ere van Nelson Rolihlahla Mandela en Albertina Nontsikelelo Sisulu se eeufeesvierings, al onsaksies, al ons pogings, al ons uitsprake sal wy aan die verwesenliking van hul visie van 'n demokratiese, regverdige en gelyke samelewing.

In ons manjifieke diversiteit, en ondanks al ons verskille, het die mense van hierdie land gehoor gegee aan die oproep van Thuma Mina (Stuur my).

In hul menigtes het Suid-Afrikaners nie gevra wat vir hulle gedoen kan word nie, maar wat hulle vir hul land kon doen.

Op verskeie maniere - groot sowel as klein, openbaar sowel as privaat, het Suid-Afrikaners besluit om 'n beter nasie te bou.

Baie het uitgereik na ander Suid-Afrikaners en bystand verleen waar hulle probleme ervaar het.

Ander het hul bereidwilligheid verklaar om die regering se pogings om die land te hervorm, te steun.

Vandag, terwyl ons terugkyk na die jaar wat verby is, kan ons daarvan getuig dat betekenisvolle vordering gemaak is.

Ons mense het die vernuwing wat die land ervaar aangegryp en is nou baie meer hoopvol dat daar ’n beter toekoms voorlê.

Ons mense se hoop is nie ongegrond nie; dit is gegrond op die vordering wat gemaak word. 

Gedurende die afgelope jaar het ons begin om ’n daadwerklike maatskaplike verbintenis te bou vir grondige maatskaplike en ekonomiese transformasie met kern belanghebbendes soos ons belowe het.

As maatskaplike vennote, herstel ons die bande van vertroue, dialoog en samewerking.

Ons reik uit deur verskillende vorms van dialoog en betrokkenheid, na daardie lede van ons samelewing wat vervreem, ongeïnterreseerd of gemarginaliseer geraak het.

Ons pogings tot dusver was moontlik ongelyk, en ons moet nog heelwat werk in dié verband doen, maar ons het gedurende die afgelope jaar ons gedeelde vasberadenheid om saam ons gemeenskaplike uitdagings die hoof te bied, gedemonstreer.

Ons het ons pogings daarop gefokus om groei en werkskepping weer te laat opvlam.

Ons het saamgewerk – die regering, arbeid, die saksektor, die burgerlike samelewing en gemeenskappe – om die struikelblokke in die pad van inklusiewe groei uit die weg te ruim en om baie hoër vlakke van investering na te streef.

Ons het ’n suksesvolle Presidensiële Werkberaad gehou, waar ooreengekom is oor vêrreikende maatreëls wat  –wanneer dit ten volle geïmplementeer word – die aantal wergksgeleenthede wat elke jaar in ons ekonomie geskep word byna sal kan verdubbel.

Versksie belanghebbendes het verlede jaar hul kommer uitgespreek oor beleidsonsekerheid en -onkonsekwentheid.

Ons het aandag gegee aan hierdie bekommernisse.

In reaksie op die droewige toestand van verskeie ondernemings in staatsbesit (SOEs) – waar wanbestuur en korrupsie hul doeltreffendheid ernstig ondermyn het – het ons daadwerklike maatreëls ingestel om hul bestuur te verbeter, leierskap te versterk en stabiliteit in strategiese entiteite te herstel.

Ons moes ook die uitwerking van staatskaping op noodsaaklike openbare instellings die hoof bied; dit sluit in ons wetstoepassingsagentskappe, wie se integriteit en vermoë om hul mandaat na te kom gedurende die afgelope jare stelselmatig afgebreek is.

Ons het derhalwe stappe gedoen om die geloofwaardigheid van instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS), die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) te stabiliseer en te herstel.

Ons het 'n nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging (NDPP), Advokaat. Shamila Batohi, aangestel om die herlewing van die NVG te lei en ons stryd teen misdaad en korrupsie te versterk.

Ons implementeer die aanbevelings van die verslag van die Nugent-kommissie van Ondersoek na SARS en is in die proses om 'n nuwe Kommissaris aan te stel om hierdie noodsaaklike instelling te lei.

Op grond van die verslag en aanbevelings van die hoëvlak-beoordelingspaneel oor die Staatsveiligheidsagentskap, wat onder voorsitterskap van voormalige Minister Sydney Mufamadi was, sal ek binnekort 'n aantal dringende stappe aankondig om die heropbou van 'n professionele nasionale intelligensiebevoegdheid vir Suid-Afrika te vestig.

Onder die stappe wat ons sal doen om 'n professionele nasionale intelligensiebevoegdheid te herbou, sal die herstelling van die Nasionale Veiligheidsraad onder voorsitterskap van die President wees, om sodoende beter koördinering van die Staat se intelligensie- en sekuriteitsverwante funksies te verseker, asook die hervestiging van twee afdelings van ons intelligensiediens, een wat fokus op huishoudelike intelligensie en een op buitelandse intelligensie.

Werk aan die heropbou van die Staat is in 'n gevorderde stadium.

Ons neem met waardering kennis dat baie Suid-Afrikaners in die gees van aktiewe burgerskap steeds groot belangstelling toon in die toekomstige heropgeboude Staat.

In die loop van die afgelope jaar het die Presidensie besondere aandag gegee aan die kwessie van geweld en mishandeling teen vroue en kinders in ons samelewing.

Ons het gereageer op nasionale besorgdheid en oproepe deur baie Suid-Afrikaners deur 'n Beraad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord te hou, wat 'n vaste grondslag gelê het vir 'n gekoördineerde nasionale reaksie op hierdie krisis.

Ons het ook in Oktober verlede jaar die eerste Presidensiële Gesondheidsberaad byeengeroep, wat kern belanghebbendes uit 'n wye spektrum afdelings in die gesondheidsektor bymekaar gebring het.

Deelnemers aan die beraad het die krisis in die gesondgeidsorgselsel ontleed en onmiddellike kort- en mediumtermynoplossings voorgestel om die doeltreffendheid van die gesondheidstelsel te verebeter. 

Ons begin hierdie nuwe jaar aangemoedig deur die vordering wat reeds gemaak is, deur saam te werk om ons ekonomie te laat herleef en ons land se demokratiese instellings te herstel.

Ons is vasberade om op koers te bly.

Ons laat ons nie afskrik deur die aansienlike struikelblokke wat ons nog moet oorkom nie.

As mede-Suid-Afrikaners moet ons almal die uitdagings en probleme wat voorlê onder die oë sien.

Die taak om 'n beter Suid-Afrika te bou is ons kollektiewe verantwoordelikheid as 'n nasie, as die mense van Suid-Afrika.

Dit is die middelpunt van die werk van elke regeringsdepartement, van elke agentskap, van elke openbare entiteit.

Dit is die inspirasie vir elke beleid, elke program en elke inisiatief.

Terwyl daar op alle vlakke van die regering 'n wye verskeidenheid kritieke take verrig word, wil ek vanaand die vyf dringendste take waaraan ons in hierdie stadium van ons geskiedenis aandag moet gee, bespreek.

Hierdie take sal alles wat ons hierdie jaar doen onderskraag.

Deur saam te werk, moet ons die volgende take onderneem:

  • Eerstens moet ons inklusiewe ekonomiese groei versnel en werksgeleenthede skep.
  • Tweedens vereis ons geskiedenis dat ons die onderwysstelsel moet verbeter en die vaardighede moet ontwikkel wat ons nou en in die toekoms nodig het.
  • Derdens is ons verplig om die lewensomstandighede vir alle Suid-Afrikaners, veral die armes, te verbeter.
  • Ten vierde, het ons geen ander keuse as om die stryd teen korrupsie en staatskaping te versterk nie.
  • In die vyfde plek, moet ons die kapasiteit van die staat versterk om aan die behoeftes van die mense te voldoen.

Die afgelope jaar het ons pogings aangewend om inklusiewe groei te versnel, beleggingsvlakke aansienlik te verhoog en maatreëls in te stel om meer werksgeleenthede te skep.

Verlede jaar is ons ekonomie gekonfronteer met die realiteit van 'n tegniese resessie.

Die regering het gereageer met 'n ekonomiese stimulus- en herstelplan wat openbare befondsing toegewys het aan gebiede met die grootste potensiaal vir groei en werkskepping.

Ons benadering was nie om ons uit ons ekonomiese verknorsing te koop nie, maar om die ekonomie op 'n pad van herstel te plaas.

Ons het 'n reeks maatreëls ingestel om ekonomiese aktiwiteit aan te vuur, beleggersvertroue te herstel, werkskepping te ondersteun en die dringendste uitdagings wat die lewens van kwesbare lede van ons samelewing raak, die hoof te bied.

Ons maak met genoeë bekend dat daar aansienlike vordering gemaak is met die herstel van beleidsekerheid oor mynbouregulering en die visumstelsel, wat die weg baan na die verspreiding van mobiele spektrum en die hersiening van pryse vir hawens, spoorvrag en elektrisiteit.

Ons het ook begin met die stabilisering en ondersteuning van 57 munisipaliteite, waar meer as 10 000 munisipale infrastruktuurprojekte in werking gestel word.

Die fokus wat ons op die opknapping van nywerheidsparke in townships en landelike gebiede geplaas het, het tot merkbare verbetering gelei, aangesien nywerheidsparke wat leeggestaan het, nou meer produktief word.

Ons het tot dusver die herlewing van 10 uit 16 geïdentifiseerde nywerheidsparke voltooi in plekke soos Botshabelo, Phuthaditjhaba, Garankuwa, Isithebe, Komani en Seshego.

Die groeivlakke wat nodig is om beduidende vordering ten opsigte van werkskepping te maak, sal nie moontlik wees sonder groot nuwe beleggings nie.

Die eerste Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie in Oktober verlede jaar het heelwat stukrag gegee aan ons strewe om R1,2 miljard in beleggings oor vyf jaar te mobiliseer.

Die beleggingskonferensie het sowat R300 miljard in beleggingsbeloftes deur Suid-Afrikaanse sowel as internasionale maatskappye gelok.

Daar was verlede jaar ook 'n beduidende toename in direkte buitelandse beleggings.

In 2017 het ons 'n invloei van direkte buitelandse beleggings van R17 miljard aangeteken.

Amptelike data toon dat daar net in die eerste drie kwartale van 2018 'n invloei van R70 miljard was.

Dit is 'n fenomenale prestasie in vergelyking met die lae vlak van belegging in die vorige jare.

Ons beleggingsgesante - Trevor Manuel, Mcebisi Jona, Phumzile Langeni en Jacko Maree - sowel as InvestSA, hou die status van die beleggings wat tydens die beleggingskonferensie aangekondig is, noukeurig dop.

Om te bewys dat ons beleggingskonferensie nie net 'n praatsessie was waar daar leë beloftes gemaak is nie, word projekte ter waarde van R187 miljard tans geïmplementeer, terwyl projekte ter waarde van nog R26 miljard in die voor-implementeringsfase is.

Danksy die waardevolle lesse wat ons deur 'n meer gefokusde poging geleer het, en deur die verbeterings wat ons in die sake-omgewing aanbring, mik ons daarna om vanjaar nog meer beleggings te lok.

Ons sal die sektore en maatskappye identifiseer wat ons in Suid-Afrika wil hê en nodig het en beleggers aktief lok.

Gegrond op ons ervarings oor die afgelope jaar, en om voort te bou op die momentum wat behaal is, sal ons hierdie jaar weer die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie aanbied.

Ons bedoeling is dat die beleggings wat ons genereer na projekte regdeur die land versprei moet word.

In dié verband het ek provinsiale regerings gevra om projekte te identifiseer waarin belê kan word en om te verseker dat beleggingsboeke vir elk van ons nege provinsies gebou word om aan potensiële beleggers voor te lê.

Na aanleiding van ons suksesvolle beleggingskonferensie het 'n groep Suid-Afrikaanse sakeleiers in die gees van Thuma Mina, die Inisiatief vir Openbare-Private Groei geïnisieer om gefokusde beleggingsplanne van voorste maatskappye in 19 sektore van die ekonomie te fasiliteer; van ontginning tot hernubare energie; van vervaardiging tot landbou.

Hierdie nywerhede sal na verwagting in die volgende vyf jaar wesenlik uitbrei en 'n groot aantal nuwe werksgeleenthede skep, veral as ons die vraag na plaaslike goedere kan verhoog, die arbeidsmilieu verder stabiliseer en die voorwaardes om sake te doen verbeter.

As deel van ons voortgesette werk om die beperkinge op groter beleggings te verwyder, het ons 'n span van Die Presidensie; InvestSA; die Nasionale Tesourie en die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering saamgestel wat aandag sal gee aan die beleid, wetlike, regulatoriese en administratiewe hindernisse wat beleggers frustreer.

Dit is 'n belangrike aspek van ons werk om dit makliker te maak vir beleggers om sake in Suid-Afrika te doen, wat noodsaaklik is om beleggings te lok.

Hierdie span sal maandeliks aan die Kabinet verslag doen oor vordering.

Die Wêreldbank se jaarlikse Doing Business Report plaas Suid-Afrika tans 82ste op ranglys van die 190 lande wat dopgehou is.

Ons het vir onself die mikpunt gestel om binne die volgende drie jaar onder die top 50 wêreldwye presteerders te wees.

Daar word al lankal erken dat een van die beperkinge wat die groei van ons ekonomie belemmer, die hoë vlak van ekonomiese konsentrasie is.

Die struktuur van ons ekonomie is ontwerp om bates in 'n paar hande te hou.

Dit het groei en ondernemingees onderdruk en het baie jong Suid-Afrikaanse entrepreneurs en klein ondernemings tot ’n groot mate uit die ekonomie gehou of hulle tot die kantlyn beperk.

As deel van ons pogings om belegging te laat toeneem, om meer inklusief te wees en meer geleenthede te skep, sal ek binnekort die Wetsontwerp op Mededinging as ’n wet onderteken.

Dit sal nie net die mededingingsgesag in staat stel om hierdie probleem die hoof te bied nie, maar nog meer belangrik, sal dit ook nuwe geleenthede skep vir baie Suid-Afrikaners om verskeie sektore van die ekonomie te betree en op ’n gelyke vlak mee te ding.

Om ekonomiese groei te stimuleer, meer sakeondernemings op te bou en meer mense in diens te neem, moet ons nuwe en groter markte vir ons produkte en dienste vind.

Ons sal dus meer aandag skenk aan die uitbreiding van uitvoere.

Ooreenkomstig die ondernemings van die werkberaad, sal ons ons toespits op die uitvoer van vervaardigde goedere en handel in dienste soos die uitkontraktering van besigheidsprosesse en die afstandslewering van mediese dienste.

Ons sal ook kyk na die oprigting van spesiale ekonomiese sones wat toegewy is aan die vervaardiging van spesifieke soort produkte, soos byvoorbeeld klere en tekstiele.

Om die mededingendheid van ons uitvoere te verbeter, sal ons die studies voltooi waarmee ons begin het om die koste van elektrisiteit, handel, kommunikasie, vervoer en ander dienste te verminder.

Ons sal ons ook daarop toespits om die gesofistikeerdheid van ons uitvoere te verhoog.

Die ooreenkoms oor die vestiging van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied bied puik geleenthede om Suid-Afrika op 'n pad van beleggingsgeleide handel te plaas en om met ander Afrika-lande te werk om hul eie nywerheidsvermoë te ontwikkel.

Die ooreenkoms sal lei tot die skep van 'n mark van meer as 'n miljard mense met 'n gesamentlike bruto binnelandse produk van ongeveer $3,3 triljoen.

Benewens 'n fokus op uitvoere sal ons maatreëls instel om die plaaslike vraag te verhoog deur onder meer die deel van plaaslike goedere en dienste wat deur die regering en die private sektor verkry word, te verhoog.

Dit is belangrik om die plaaslike vraag te verhoog en die verbruik van invoere te verminder, omdat dit die geleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente verbeter om 'n groeiende mark te bedien.

Hierdeur sal ons die "koop Suid-Afrika" -program versterk.

Gegewe die sleutelrol wat klein besighede speel om ekonomiese aktiwiteit en werk te stimuleer – en vir die bevordering van breë bemagtiging – fokus ons vanjaar op die aansienlike uitbreiding van ons Program vir Kleinsake-inkubasie.

Die inkubasieprogram bied ontluikende entrepreneurs fisiese ruimte, infrastruktuur en gedeelde dienste, toegang tot gespesialiseerde kennis, markverbindings, opleiding in die gebruik van nuwe tegnologie en toegang tot finansiering.

Die inkubasieprogram bestaan ​​tans uit 'n netwerk van 51 inkubators vir tegnologie-ondernemings, 10 inkubators vir ondernemingsontwikkeling en 14 vinnige jeug-inkubators.

As deel van die uitbreiding van hierdie program, sal die township digitale spilpunte, aanvanklik in vier provinsies gevestig word, waarná meer sal volg.

Ons verwag dat hierdie spilpunte die noodsaaklikste ondernemingsdienste aan klein en medium ondernemings in die plattelandse gebiede en townships, maar veral vir jong mense wat hul ondernemings wil begin, sal voorsien.

Ons grootste uitdaging is om werk te skep vir vandag se werkloses, terwyl ons werkers voorberei vir môre se werksgeleenthede.

Die Presidensiële Werksberaad verlede jaar het gelei tot daadwerklike ooreenkomste tussen georganiseerde arbeid, die sakesektor, die gemeenskap en die regering.

Hierdie ooreenkomste, wat nou deur maatskaplike vennote geïmplementeer word, beoog om elke jaar 275 000 bykomende direkte werksgeleenthede te skep.

Ons het met groot planne, platforms en inisiatiewe vorendag gekom waardeur ons die jeug steeds in baie groter getalle na produktiewe ekonomiese aktiwiteit lok deur inisiatiewe soos die Belastingsaansporing vir Indiensneming.

Hierdie aansporing sal vir nog 10 jaar verleng word.

Hierbenewens het ons die Youth Employment Service geloods, wat werklose jeug in betaalde internskappe in maatskappye in verskeie ekonomiese sektore plaas.

Ons doen 'n beroep op alle groot en klein maatskappye om aan hierdie inisiatief deel te neem en sodoende nie net by te dra tot die bou van hul ondernemings nie, maar ook om die ekonomie te help groei en om maatskaplike samehorigheid te bevorder.

Vordering word gemaak op die gebied van installasie-, herstel- en instandhoudingswerk, asook digitale en tegnologiese werk soos kodering en data-analise, sowel as wêreldwye sakedienste.

Dit stel ons in staat om meer jeugdiges te absorbeer - veral dié wat skole en kolleges verlaat, en diegene wat nie enige onderwys of opleiding ontvang of nie werk het nie - in produktiewe ekonomiese aktiwiteite en werksgeleenthede.

Ons, as regering, het besluit dat die vereiste vir werkservaring op intreevlak in staatsinstellings afgeskaf sal word.

Ons jeug moet 'n daadwerklike voorsprong in die arbeidsmark kry.

Hulle moet nie struikelblokke en hindernisse in die gesig staar as hulle werk soek nie.

Ons spits ons aandag, ons beleid en ons programme toe op die belangrikste dele van die ekonomie wat arbeidsintensief is.

Dit sluit in landbou, toerisme en die oseane-ekonomie.

Die potensiaal van landbou in Suid-Afrika vir werkskepping en ekonomiese groei bly steeds grootliks onderontwikkeld.

Suid-Afrika het steeds groot gebiede met onderbenutte of onproduktiewe grond.

Daar is sowat 250 000 klein ontluikende boere wat landbou beoefen en bystand nodig het om hul ondernemings ten volle te ontwikkel.

Landbou-uitvoere is 'n belangrike bron van inkomste vir ons ekonomie, en die ontwikkeling van ons landbousektor is die sleutel tot die verbetering van ons voedselsekuriteit en om beleggings te lok.

Ons is gelukkig om 'n landbousektor te hê wat goed ontwikkel, veerkragtig en gediversifiseer is.

Ons beoog om dit as 'n stewige grondslag te gebruik om landbou in ons land te help ontwikkel tot voordeel van almal.

Deur middel van 'n versnelde program van grondhervorming sal ons daaraan werk om ons landbouproduksie uit te brei en ekonomiese inklusiwiteit te bevorder.

Ons beleids- en wetgewende ingrypings sal verseker dat meer grond vir landbou, nywerheidsontwikkeling en menslike nedersettings beskikbaar gestel word.

Ek loof al die Suid-Afrikaners wat by die werk van die Grondwetlike Oorsigskomitee in dialoog betrokke was, wat oor die lengte en die breedte van die land plaasgevind het.

Ek prys die lede van die Grondwetlike Oorsigkomitee wat gedurende hierdie tydperk gefokus bly terwyl hulle deur die voorleggings wat deur gewone Suid-Afrikaners en hul organisasies gemaak is, sif.

Ons sal die werk van die Grondwetlike Oorsigskomitee, wat die taak opgelê is om Artikel 25 van die Grondwet te hersien, ondersteun om ondubbelsinnige voorwaardes uiteen te sit vir die onteiening van grond sonder vergoeding.

Behalwe hierdie grondwetlike hersieningsproses, het ons die Adjunkpresident opdrag gegee om die Interministeriële Komitee oor Grondhervorming te lei sodat grondhervorming bespoedig kan word.

'n Raadgewende paneel van kundiges onder leiding van dr Vuyo Mahlathi, wat op die been gebring is om die regering te adviseer oor sy grondhervormingsprogram, sal na verwagting einde Maart 2019 sy verslag voorlê.

As deel van versnelde grondhervorming het ons grond wat deur die staat besit word, geïdentifiseer vir herverdeling.

Strategies geleë grond sal beskikbaar gestel word om voorsiening te maak vir menslike nedersettingsbehoeftes in stedelike en peri-stedelike gebiede.

As deel van die stimuluspakket vir landbou, het ons aansienlik belê in omvattende ondersteuning vir die ontwikkeling van boere om te verseker dat grond wat teruggegee is asook gemeenskaplike grond produktief benut word.

Ons sal voortgaan om geteikende vaardigheidsontwikkeling en kapasiteitsbouprogramme vir kleinboere en ontluikende swart boere te prioritiseer.

In die komende jaar sal ons voortgaan om op landbouprodukte met ’n hoë waarde en uitvoerpotensiaal soos vrugte, wyn en groente, sowel as pluimvee en rooivleis, te fokus.

Tydens verlede jaar se Staatsrede het ons gepraat oor die groot potensiaal wat bestaan ​​vir die uitbreiding van die toerismesektor.

Ons gesamentlike pogings om Suid-Afrika as 'n toonaangewende bestemming vir toeriste te bemark het ’n positiewe uitwerking gehad, wat gelei het tot ’n beduidende jaarlikse toename in die aantal buitelandse besoekers.

In die afgelope jaar het 10 miljoen toeriste ons land besoek.

Ons beoog om dit teen 2030 tot 21 miljoen te verhoog, deur onder meer die grootste en vinnigste groeiende markte van Indië en China, sowel as sterk markte op ons eie vasteland te teiken.

Benewens direkte werk, kan hierdie uitvoerbedryf teen 2030 soveel as twee miljoen meer werksgeleenthede in bedrywe soos voedsel en landbou, konstruksie, vervoer, en kleinhandel, asook die kreatiewe en kulturele sektore genereer.

Ons sal die vennootskap tussen die regering en die sakesektor verdiep om hierdie visie te realiseer.

Ons hoogste prioriteit hierdie jaar is die bekendstelling van 'n wêreldklas eVisa-regime.

Dit, gekombineer met verbeterde bestemmingsbemarking en maatreëls om toerismesekuriteit te versterk, sal die vereistes skep vir die groei wat ons beoog, en die werk en geleenthede wat sal volg.

Ons pragtige land, Suid-Afrika, het een van die wêreld se langste kuslyne wat 3 000 kilometers om die kontoere van ons land, van die ooste na die weste, strek.

Die blote ligging van ons land beteken dat ons die potensiaal van ons oseane kan benut om die ekonomie te laat groei.

Sedert Operasie Phakisa vir die oseane-ekonomie in 2014 begin is, het ons beleggings van bykans R30 miljard verseker en meer as 7 000 direkte werksgeleenthede geskep.

Die beleggings was hoofsaaklik in infrastruktuurontwikkeling, mariene vervaardiging, akwakultuur en die olie- en gassektor.

Verwagte belegging in die oseane-ekonomie oor die volgende vyf jaar word geraam op R3,8 miljard deur die regering en R65 miljard deur die private sektor.

Hierdie beleggings sal na verwagting meer as 100 000 direkte werksgeleenthede en meer as 250 000 indirekte werksgeleenthede skep.

Gistraand het ek 'n oproep van minister Gwede Mantashe ontvang om my te vertel dat die olie-reus Total vandag 'n groot aankondiging sal maak oor 'n nuwe wêreldklas olie- en gasontdekking langs die Suid-Afrikaanse kus.

Ons is baie bemoedig deur die verslag vanoggend oor die Brulpadda-blok in die Outeniqua-kom, wat sommige mense as ’n katalistiese fonds beskryf.

Dit kan 'n groot veranderinge vir ons land meebring en sal beduidende gevolge hê vir energiesekuriteit en die ontwikkeling van hierdie bedryf.

Ons wens Total en sy vennote geluk en wens hulle sterkte toe met hul pogings.

Die regering sal voortgaan met die ontwikkeling van wetgewing vir die sektor sodat dit behoorlik gereguleer word vir die belange van alle betrokkenes.

Oor die afgelope vyf jaar het ons aansienlike vordering gemaak met die voorsiening van infrastruktuur.

Meer as R1,3 triljoen is belê om honderde skole en twee nuwe universiteite te bou, honderde duisende nuwe huise te bou, meer as 'n miljoen huise van elektrisiteit te voorsien, nuwe elektrisiteit te genereer en openbare vervoer uit te brei.

Hierdie infrastruktuurbeleggings het ook gehelp om ons ekonomie te laat groei en heelwat nuwe werksgeleenthede in konstruksie en ander sektore te skep.

Infrastruktuurontwikkeling is die aandrywer van ons ekonomie se enjin en het geweldige voordele vir die land gelewer.

Ons moet meer doen.

Ons infrastruktuurontwikkeling is weens verskeie redes vertraag.

Ons het ook besef dat ons infrastruktuurvoorsiening te gefragmenteer tussen die verskillende sfere van die regering is.

Dit integreer nie nuwe behuisingsontwikkeling ten volle met ekonomiese geleenthede en met die bou van damme, waterpypleidings, skole en ander geriewe nie.

Die Kabinet het 'n nuwe implementeringsmodel vir infrastruktuur goedgekeur om hierdie probleme die hoof te bied.

Dit sal ondersteun word deur die nuwe Infrastruktuurfonds wat in September verlede jaar aangekondig is.

Die regering is daartoe verbind om R100 miljard tot die Infrastruktuurfonds oor 'n tydperk van 10 jaar by te dra en dit te gebruik om finansiering van die private sektor en instellings vir ontwikkelingsfinansiering te steun.

As 'n eerste stap sal ons projekte wat reeds aan die gang is, soos studente-akkommodasie, uitbrei.

Ons beplan om dinge anders te doen; ons begin deur 'n sterker vennootskap te smee met ons gemeenskappe in die beplanning, bou en instandhouding van infrastruktuur.

Net soos met die Vaalrivier, waar die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ingegryp het om 'n rioolkrisis die hoof te bied, sal ons al die vermoëns van die staat en die private sektor inspan om infrastruktuuruitdagings die aan te pak.

Ons sal die regering se tegniese kapasiteit versterk om te verseker dat projekte vinniger vorder, deur die opbou van 'n poel van ingenieurs, projekbestuurders, ruimtelike beplanners en bourekenaars - 'n aksiespan wat dinge vinniger in die praktyk kan laat gebeur.

Die telekommunikasiesektor verteenwoordig groot potensiaal vir die bevordering van ekonomiese groei.

Die Minister van Kommunikasie sal binnekort ’n beleidsrigtingwyser aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika bekendmaak vir die lisensiëring van die hoë-aanvraag-radiofrekwensiespektrum.

As 'n waterskaars land, ervaar ons ernstige watertekorte in baie dele van die land.

Ons ontwikkel 'n omvattende geïntegreerde nasionale plan wat waterskaarste, veroudering van infrastruktuur en swak projekimplementering die hoof sal bied.

Ons is dringend besig om 'n inter-regering snelreaksie tegniese span, versterk deur professionele spesialiste, op die been te bring om in te gryp in gebiede wat erge waterskaarste ervaar.

In een van hierdie gebiede, Giyani, is uitgebreide werk aan die gang om inwoners in die onmiddellike termyn van water te voorsien deur die herstel van boorgate, wat opgevolg sal word deur die vinnige voorsiening van behoorlike infrastruktuur.

Die veiligheid van ons leerders in skole is van kritieke belang vir die skep van 'n gesonde leeromgewing.

Ons herinner ons aan die tragiese sterftes van Michael Komape, wat in 2014 in 'n puttoilet by die Primêre Skool Mahlodumela in Limpopo verdrink het, en Lumka Mkethwa, van die Laerskool Luna Junior in die Oos-Kaap, wat in Maart verlede jaar gesterf het.

Ons het verlede jaar 'n oudit uitgevoer en gevind dat byna 4 000 skole steeds ontoereikende sanitasiegeriewe het.

Gegewe die omvang en dringendheid van die probleem, het ons in Augustus verlede jaar die SAFE-inisiatief geloods, waardeur ons alle beskikbare hulpbronne, insluitend beloftes deur sake-ondernemings, strategiese vennote en die boubedryf gemobiliseer het om alle onveilige toilette in openbare skole te vervang.

Sedert ons die inisiatief geloods het, is 699 skole voorsien van veilige en toereikende sanitasiegeriewe en projekte in 'n verdere 1 150 skole is óf in beplannings-, ontwerp- of konstruksiefases.

Ons is vasbeslote om onveilige en ontoereikende sanitasiegeriewe binne die volgende drie jaar uit te roei.

Dit is 'n uitstekende voorbeeld van samewerking tussen die regering en die sakesektor om dringende aandag te gee aan ’n groot behoefte, wat 'n impak het op Suid-Afrika se kinders se reg op veiligheid en waardigheid in opvoedkundige fasiliteite.

Ons maak belangrike vordering met die herstel van die integriteit en kapasiteit van ons strategiese ondernemings in staatsbesit (SOE's).

Om behoorlike korporatiewe bestuur te herstel, is nuwe direksies met geloofwaardige, toepaslik ervare en etiese direkteure by Eskom, Denel, Transnet, SAFCOL, PRASA en SA Express aangestel.

Ons het die Presidensiële SOE-Raad gestig wat politieke toesig en strategiese bestuur sal voorsien om SOE's te hervorm, te herposisioneer en te vernuwe, sodat hulle hul rol speel as katalisators van ekonomiese groei en ontwikkeling.

Ons wil hê ons SOE's moet ten volle selfversorgend wees en in staat wees om hul ontwikkelings- en ekonomiese rol te vervul.

Waar SOE's nie voldoende finansiering van banke, kapitaalmarkte, instellings vir ontwikkelingsfinansiering of die tesourie kan verkry nie, sal ons ander meganismes soos strategiese aandelemaatskappye moet verken of nie-strategiese bates verkoop.

Wanneer ons dit doen, sal ons nie enige maatreëls ondersteun wat, in enige vorm, van die Staat se bates wat strategies vir die welstand van die ekonomie en die mense is, ontslae raak nie.

Ons het die taak en verantwoordelikheid om hierdie belangrike instellings vir toekomstige geslagte te beskerm, te bou en te onderhou.

Ons het direksies versoek om geloofwaardige planne op te stel om die regte vaardighede en kundigheid in plek te stel om hierdie maatskappye te bestuur sodat ons die fokus kan verskuif van onmiddellike stabiliteit tot langtermyn volhoubaarheid.

Ons poog ook om 'n pragmatiese en samewerkende verhouding tussen regeringsorganisasies, georganiseerde arbeid en private belanghebbendes te bou, waar ons gesamentlik 'n strategiese pad vir SOE's kan skep om werkgeleenthede te skep, inklusiewe groei moontlik te maak en operasioneel en finansieel volhoubaar te word.

Sekerheid van energievoorsiening is absoluut noodsaaklik.

Eskom is in 'n krisis en dit hou erntige risiko's vir Suid-Afrika in.

Dit kan ons ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsambisies ernstig benadeel.

Ons moet dapper besluite neem en beslissend optree.

Die gevolge kan pynlik wees, maar dit kan selfs meer rampspoedig wees as ons daarmee sloer.

In reaksie op hierdie krisis, word ons gelei deur die noodsaaklikheid om enige negatiewe ekonomiese koste vir die verbruiker en belastingbetaler te minimaliseer.

Terwyl ons aandag gee aan die uitdagings wat Eskom in die gesig staar, sal ons seker maak dat daar betekenisvolle oorlegpleging en dialoog met al die belangrikste belanghebbendes is.

Ons sal 'n proses met die arbeidsektor, Eskom en ander belanghebbendes, lei om die besonderhede van 'n regverdige oorgang, en behoorlike, geloofwaardige en volhoubare planne uit te werk wat die behoeftes van almal wat geraak word, in ag sal neem.

Terwyl ons aandag gee aan die uitdagings wat Eskom in die gesig staar, moet ons ook ons ​​nasionale fiskale raamwerk beveilig, 'n positiewe impak op ons soewereine kredietgradering behaal en aandag gee aan die regte en verpligtinge van Eskom se befondsers.

Eskom het 'n negepunt-omkeerplan opgestel. Ons ondersteun dit en wil graag sien dat dit in werking gestel word.

In lyn met hierdie plan, sal Eskom dringende stappe moet doen om sy koste aansienlik te verminder.

Dit sal meer inkomste deur middel van 'n bekostigbare tariefverhoging verg.

Ons moet stappe doen om munisipale nie-betaling te verminder en die kultuur van nie-betaling wat in sommige gemeenskappe bestaan, te konfronteer.

Dit is noodsaaklik dat almal wat elektrisiteit gebruik - bo en behalwe die gratis basiese elektrisiteit wat voorsien word - daarvoor moet betaal.

Die regering sal Eskom se balansstaat steun; die Minister van Finansies sal meer besonderhede hieroor in die Begrotingsrede bekend maak.

Ons sal dit doen sonder om die fiskus met onbeheerbare skuld te belas.

Om die geloofwaardigheid van die omkeerplan te verseker en oor 'n paar jaar 'n soortgelyke finansiële krisis te voorkom, sal Eskom 'n nuwe sakemodel moet ontwikkel.

Hierdie sakemodel moet rekening hou met die oorsake van die huidige krisis en die diepgaande internasionale en plaaslike veranderinge in die relatiewe koste en markpenetrasie van energiehulpbronne, veral skoon tegnologieë.

Dit moet rekening hou met die rol wat Eskom self moet speel in tegnologieë wat skoon energie genereer.

Om te verseker dat die omkeerplan geloofwardig is en om Suid-Afrika se kragsektor vir die toekoms te posisioneer, sal ons dadelik 'n proses begin om drie afsonderlike entiteite - kragopwekking, -transmissie en -verspreiding - onder Eskom Holdings te vestig.

Dit sal verseker dat ons koste isoleer en verantwoordelikheid aan elke toepaslike entiteit toewys.

Dit sal Eskom ook in staat stel om befondsing vir sy verskillende bedrywighede baie makliker van befondsers en die mark te verkry.

Van besondere en onmiddellike belang is die entiteit wat 'n onafhanklike oordragnet in staatsbesit bestuur, gekombineer met die stelseloperateur en kragbeplanning, verkrygings- en koopfunksies.

Dit is noodsaaklik dat ons hierdie maatreëls onverwyld onderneem om Eskom se finansies te stabiliseer, sekerheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker en om die grondslag vir langtermyn volhoubaarheid te vestig.

Die kern van al ons pogings om hoër en billiker groei te bewerkstellig, werksgeleenthede vir die jeug te skep en ons land voor te berei vir die digitale era, moet die prioritisering van onderwys en die ontwikkeling van vaardighede wees.

Met meer as 700 000 kinders wat in die afgelope finansiële jaar toegang tot vroeë kinderonderrig verkry het, het ons 'n stewige fondament geskep vir 'n omvattende Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) -program wat 'n integrale deel van die onderwysstelsel is.

Hierdie jaar sal ons die verantwoordelikheid vir VKO-sentrums van Sosiale Ontwikkeling na Basiese Onderwys migreer, en gaan voort met die proses van twee jaar verpligte VKO vir alle kinders voordat hulle tot Graad 1 toegelaat word.

Nog 'n kritiese prioriteit is om leesbegrip in die eerste skooljare aansienlik te verbeter.

Dit is noodsaaklik om kinders toe te rus om sukses te behaal in onderrig, die werksomgewing en in hul lewens - dit is moontlik die enkele belangrikste faktor in die stryd teen armoede, werkloosheid en ongelykheid.

Die departement se leesstudies in die vroeë grade dui die positiewe uitwerking aan wat die impak van 'n toegewyde pakket van leeshulpbronne, deskundige leesafrigters en lesplanne op leesuitkomste kan hê.

Ons sal die beskikbaarheid van hierdie vroeë leeshulpbronne oor die grondslagfase van skoolonderwys aansienlik uitbrei.

Oor die volgende ses jaar sal ons elke skoolkind in Suid-Afrika voorsien van digitale werkboeke en handboeke op 'n tablet

Ons sal begin met die skole wat histories die meeste benadeel is en in die armste gemeenskappe geleë is; dit sluit in multigraad-, multifase-, plaas- en landelike skole.

90% van handboeke in hoë inskrywingsvakke oor alle grade en alle werkboeke is reeds gedigitaliseer.

In lyn met ons Raamwerk vir Vaardighede vir 'n Veranderende Wêreld brei ons die opleiding van beide opvoeders en leerders uit om by te hou met ontwikkelende tegnologieë, insluitend die internet, robotika en kunsmatige intelligensie.

Verskeie nuwe tegnologie-vakke en spesialisering sal bekendgestel word, insluitend tegniese wiskunde en tegniese wetenskappe, maritieme wetenskappe, lugvaartstudies, mynwetenskappe, en aquaponika.

Om deelname aan die tegniese strome uit te brei, sal verskeie gewone openbare skole omskep word in tegniese hoërskole.

Ooreenkomstig die regering se verbintenis tot die reg op toegang tot hoër onderwys vir die armes, het ons verlede jaar gratis hoër onderwys vir kwalifiserende eerstejaarstudente aangebied.

Danksy hierdie inisiatief is skakels met alle instansies herstel. Institusionele hoofde en studenteleiers het 'n kritieke rol gespeel in die kommunikasie met studente.

Die skema word oor vyf jaar ingefaseer totdat alle voorgraadse studente wat kwalifiseer volgens die kriteria, daarby kan baat.

Stabilisering van die sakeprosesse van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) sal ook in die komende jaar 'n prioriteit wees, sodat dit behoorlik in staat is om sy kritieke rol in die ondersteuning van kwalifiserende studente uit te voer.

Ons is vandeesweek bekommerd oor die ontwikkelinge op sommige kampusse, veral gevalle van geweld en intimidasie.

Van besondere belang is die tragiese dood van Mlungisi Madonsela, 'n student aan die Universiteit van Durban.

Ons dra ons diepste meegevoel aan sy naasbestaandes oor en doen 'n beroep op wetstoepassingsagentskappe om die voorval deeglik te ondersoek.

Ons doen 'n beroep op studenteverteenwoordigers en universiteitsowerhede om saam te werk om oplossings te vind vir die uitdagings wat studente in die gesig staar.

Ons sal uitvoering gee aan ons verbintenis om menslike nedersettings in goed geleë gebiede te bou wat ekonomiese geleenthede en al die dienste en geriewe wat mense benodig, bymekaar bring.

Die Agentskap vir Behuisingsontwikkeling sal in die volgende vyf jaar 'n bykomende 500 000 wooneenhede bou en 'n bedrag van R30 miljard sal aan munisipaliteite en provinsies voorsien word om hulle in staat te stel om hul onderskeie mandate na te kom.

As ons egter die aansienlike behuisingsagterstand in ons land doeltreffend wil uitwis, moet ons verskillende modelle van finansiering vir menslike nedersettings ontwikkel.

Dit is om dié rede dat ons 'n Ontwikkelingsbank vir Menslike Nedersettings stig, wat openbare sowel as private sektorfinansiering ’n hupstoot sal gee om hulle in staat te stel om die lewering van behuising te ondersteun.

Ons sal ook die People's Housing Programme uitbrei, waar huishoudings toegerus wod om hul eie huise te bou, óf individueel óf deur gemeenskaps-geleide behuisingskoöperasies.

Suid-Afrika het een van die mees omvattende en verreikende sosiale sekerheidsnette ter wêreld, wat 'n buffer tussen arm huishoudings en armoede bied.

Elke maand word 17,5 miljoen maatskaplike toelaes aan Suid-Afrikaners verskaf.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling word geloof dat dit die Konstitusionele Hof se aanwysing om die dienste van kontantbetalingsagente uit te faseer, nagekom het.

Tot dusver is die meeste ​​begunstigdes van maatskaplike toelaes suksesvol na die Suid-Afrikaanse Poskantoor gemigreer, en die ou Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekuriteitsagentskap-kaarte is deur nuwes vervang.

Ons het beduidende vordering gemaak met die opstel van 'n omvattende sosiale sekerheidstrategie deur die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad.

Die hervormings fokus op die bereiking van omvattende maatskaplike sekerheids- en pensioenhervormings wat bekostigbaar, volhoubaar en toepaslik vir alle Suid-Afrikaners is.

Met behulp van die Nasionale Beplanningskommissie het ons konsensus bereik oor hervormings wat die Nasionale Fonds vir Maatskaplike Sekerheid insluit, asook institusionele reëlings, regulatoriese hervormings, verbeterde werkloosheidsvoordele, verbeterde dekking vir maatskaplike bystand en aktiewe arbeidsmarkbeleid vir burgers tussen 18 en 59 jaar.

Ons sal nou hierdie konsensusooreenkoms in 'n beleidsraamwerk inkorporeer om die implementering te lei.

Ons doen vanjaar 'n belangrike stap in die rigting van universele toegang tot gehalte gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners.

Na uitgebreide konsultasie sal die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NHI) binnekort gereed wees vir voorlegging aan die Parlement.

Die NHI sal Suid-Afrikaners in staat stel om gratis dienste ten opsigte van versorging in openbare- en privaat geakkrediteerde gesondheidsfasiliteite van gehalte te ontvang.

Deur die beginsel van maatskaplike solidariteit en kruissubsidiëring toe te pas, beoog ons om ongelykheid in toegang tot gesondheidsorg te verminder.

Met inagneming van die omvang van uitdagings in gesondheidsorg, het ons 'n NHI- en strategiekomitee (“war room”) vir gehalteverbetering in die Presidensie tot stand gebring, bestaande uit verskeie kerndepartemente om die krisis in die openbare gesondheidsorgstelsel te pak terwyl ons voorberei vir die implementering van die NHI.

Ons het 'n befondsde nasionale plan vir die verbetering van gehalte gesondheidsorg om elke kliniek en hospitaal op te knap wat deur die NHI gekontrakteer sal word.

Deur die NHI bekend te stel saam met 'n veelsydige gehalteverbeteringsprogram vir openbare gesondheidsfasiliteite, werk ons daaraan om 'n beduidende verandering in die gesondheidservaring van Suid-Afrikaners te maak.

Terwyl ons sedert 1994 vordering gemaak het om sekere kategorieë van ernstige misdaad die hoof te bied, word gemeenskappe regoor die land steeds geteister deur bendes en geweld.

As deel van ons gesamentlike poging om ons land veiliger te maak, is die Strategie vir Gemeenskapspolisiëring in Oktober verlede jaar bekendgestel.

Die strategie fokus op die bou van vennootskappe tussen gemeenskappe en die polisie; die beskikbaarstelling van meer hulpbronne vir polisiëring en beter kommunikasie tussen die polisie en gemeenskappe oor strategieë vir misdaadvoorkoming.

Dit sal polisielede in staat stel om meer proaktief te wees in die hantering van misdaad en breër openbare veiligheidskwessies.

Daarbenewens versterk ons ​​die funksionering van verskeie gespesialiseerde eenhede soos die Gesinsgeweld-, Kinderbeskermings- en Seksuele Misdrywe-eenhede en ons verbeter administratiewe en rekordhoudingskapasiteit op alle vlakke.

Die SAPD het met 'n herstruktureringsproses begin om meer polisiëringsbronne na die plaaslike vlak te verskuif.

Geweld teen vroue en kinders het epidemiese afmetings bereik.

Elke dag word Suid-Afrikaanse vroue gekonfronteer deur diskriminasie, mishandeling, geweld en selfs die dood, dikwels deur diegene wat die naaste aan hulle is.

Oor die afgelope jaar het ons begin om hierdie plaag op 'n meer ernstige en gekoördineerde wyse te pak.

Tydens die Presidensiële Beraad oor Geslagsgebaseerde Geweld- en Vrouemoord het vroue uit alle vlakke van die samelewing saam met die regering en die burgerlike samelewing 'n padkaart geskets om geslagsgebaseerde geweld te beëindig, die koördinering van beplanning te verbeter en 'n verbintenis tot hulpbronne en aanspreeklikheid te vestig.

Werk word tans gedoen om die besluite wat by die beraad geneem is in werking te stel, insluitend die voorbereiding van die Nasionale Strategiese Plan vir Geslagsgebaseerde Geweld.

Ons sal vanjaar met ons vennote in die burgerlike samelewing saamwerk om die besluite van die Nasionale Beraad oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord in werking te stel.

Ons is besig om meer fondse beskikbaar te stel vir plekke wat vroue ondersteun, soos die Thuthuzela- en Khuseleka-sorgsentrums.

Werk is ook reeds gedoen om te verseker dat howe vir seksuele misdrywe beter funksioneer.

Ons sal die gehalte van dienste in plekke van veiligheid verbeter en seker maak dat hulle ook lede van die LGBTQI+ -gemeenskap akkommodeer.

Ons sal die nasionale blitslyn-sentrum vir vroue wat geslagsgebaseerde geweld ervaar versterk en seker maak dat dit funksioneel is.

Ons het gehoor gegee aan die oproep om fondse beskikbaar te stel om geslagsgebaseerde geweld te bestry en het befondsing in die huidige begroting toegeken om die besluite wat tydens die beraad geneem is te ondersteun.

Die regering sal die veldtog om mans en seuns as aktiewe kampvegters in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld in te sluit, lei.

Die beëindiging van geslagsgebaseerde geweld is 'n dringende nasionale prioriteit wat die mobilisering van alle Suid-Afrikaners en die betrokkenheid van alle instellings vereis.

Suid-Afrika het uiters hoë vlakke van dwelmmisbruik, wat misdaad en geweld teen vroue en kinders voed, dit vererger armoede en veroorsaak baie swaarkry en pyn vir gesinne.

As regering gaan ons voort om in te gryp om maatskaplike euwels, soos alkoholisme en dwelmmisbruik, wat ons gemeenskappe uitmekaar skeur, te pak.

Omdat ons weet dat daar ’n sterk verband is ​​tussen dwelmmisbruik, dwelmhandel, misdaad en onsekerheid in gemeenskappe, fokus ons daarop om hierdie probleme by hul oorsprong aan te pak deur voorkomingsprogramme wat gerig is op kwesbare persone, veral ons jeug.

Ons is vasbeslote dat alle tavernes, sjebiens en ander plekke wat drank naby skoolterreineverkoop, gesluit moet word.

Ons erken, soos alle Suid-Afrikaners, dat ons grootste pogings om armoede, werkloosheid en ongelykheid te beëindig, nie suksesvol sal wees nir, tensy ons staatskaping en korrupsie in al sy manifestasies en op alle gebiede van die openbare lewe aanpak.

Die stappe wat ons nou doen om korrupsie te beëindig en om diegene wat daarvoor verantwoordelik is tot verantwoording te roep, sal die tempo en trajek van die radikale sosiale en ekonomiese transformasie waarna ons streef bepaal.

Die onthullings wat uit die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staatskaping en ander kommissies voortspruit, is baie ontstellend, want dit bring 'n breedte en diepte van kriminele oortredings aan die lig, wat die grondslag van ons demokratiese staat bedreig.

Ons loof hierdie kommissies vir die werk wat hulle doen, dikwels onder moeilike omstandighede, om die waarheid te ontbloot.

Hierdie kommissies moet hul werk sonder enige hindernis kan doen, en ons doen ’n beroep op almal wat hulle in hul ondersoek kan help om hulself beskikbaar te stel.

Terwyl hierdie kommissies weldra bevindinge en aanbevelings sal maak in ooreenstemming met hul mandate, moet bewyse van kriminele dade wat na vore kom, deur die kriminele regstelsel evalueer word.

Waar daar 'n basis is om te vervolg, moet vervolgings vinnig uitgevoer word en gesteelde openbare fondse moet dringend verhaal word.

Om hierdie rede het ons met die nuwe NDPP ooreengekom dat daar dringende behoefte is om in die kantoor van die NDPP 'n ondersoekdirektoraat te vestig wat ernstige korrupsie en gepaardgaande misdrywe hanteer, ooreenkomstig artikel 7 van die NVG.

Ek sal binnekort 'n proklamasie bekend maak wat die spesifieke opdrag van die direktoraat uiteensit.

In breë trekke sal die direktoraat fokus op die bewyse wat uit die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staatskaping, ander kommissies en dissiplinêre navrae gekom het.

Dit sal prioriteitsgevalle identifiseer wat ondersoek en vervolg moet word en sal bates wat geïdentifiseer is as die opbrengs van korrupsie, herstel.

Die direktoraat sal 'n reeks ondersoekende en vervolgingskapasiteit van binne die regering en in die private sektor bymekaarbring onder 'n ondersoekende direkteur wat aan die NDPP verslag doen.

Op die lang termyn sal ons met die NVG en ander wetstoepassingsagentskappe saamwwerk om 'n meer volhoubare oplossing te ontwikkel, wat die kapasiteit van die strafregstelsel sal versterk om korrupsie te hanteer.

Mede-Suid-Afrikaners,

Terwyl ons met die uitdagings van ons onlangse verlede worstel, en namate ons ons pogings om die ernstige ongeregtighede van die afgelope eeue te oorkom versterk, is dit noodsaaklik dat ons dit doen met ons visie standvastig op die toekoms gerig.

Die wêreld waarin ons nou woon verander in 'n tempo en op 'n manier wat ongekend is in die mens se geskiedenis.

Revolusionêre vooruitgang in tegnologie omvorm die manier waarop mense werk en leef.

Dit verander die manier waarop mense by mekaar aansluiting vind, die manier waarop samelewings funksioneer en die manier waarop hulle beheer word.

Die verwoestende gevolge van aardverwarming op ons klimaat word reeds gevoel, met uiterste weerstoestande wat lewensbestaan, gemeenskappe en ekonomieë benadeel.

As 'n jong nasie, slegs 25 jaar in ons demokrasie, word ons gekonfronteer met 'n skrille keuse.

Ons moet kies of ons deur tegnologiese verandering oorval gaan word of om dit te benut om ons ontwikkelingstrewes te dien.

Dit is 'n keuse tussen verskansing van ongelykheid of die skep van gedeelde voorspoed deur innovasie.

Tensy ons aanpas, tensy ons die aard van die diepgaande verandering verstaan ​​wat ons wêreld omvorm, en tensy ons die geleenthede wat dit bied aangryp, sal die belofte van ons nasie se geboorte vir ewig onvervul bly.

Vandag kies ons om 'n nasie te wees wat uitreik na die toekoms.

Deur dit te doen bou ons op 'n platform van buitengewone wetenskaplike prestasie.

Die suksesvolle konstruksie in die Noord-Kaap van die MeerKAT-teleskoop, die wêreld se grootste en sensitiefste radioteleskoop, en die ontwikkeling van die Square Kilometer Array (SKA), het Suid-Afrika in staat gestel om vaardighede op gebiede soos ruimtelike waarneming, gevorderde ingenieurswese en superrekenaarkunde te ontwikkel.

Hierdie vaardighede en vermoëns word gebruik om HERA te bou, 'n radioteleskoop wat ontwerp is om vir die eerste keer die eiesoortige radiosein van die eerste sterre en sterrestelsels wat vroeg in die bestaan van die heelal gevorm het, op te spoor.

Dit gaan nie net oor die bevordering van menslike begrip oor die oorsprong van die heelal nie - dit gaan daaroor dat ons op die uitdagings wat Suid-Afrikaners nou en in die toekoms in die gesig staar, moet reageer.

Dit gaan oor die ontwikkeling van tegnologie en die vermoëns wat 'n dinamiese en mededingende ekonomie sal bou wat behoorlike, volhoubare werk skep.

Dit gaan oor verbeterde voedselsekuriteit, beter bestuur van siektes en goedkoper, skoner en meer doeltreffende energie.

Dit gaan oor slim menslike nedersettings en oplossings vir maatskaplike ontwikkeling, wat gebou is met inagneming van mense se behoeftes en voorkeure. 

Dit gaan oor slimmer, meer responsiewe, meer doeltreffende staatsbestuur.

Om te verseker dat ons doeltreffend en met groter dringendheid tegnologiese verandering aanwend in die strewe na inklusiewe groei en maatskaplike ontwikkeling, het ek 'n Presidensiële Kommissie oor die 4de Industriële Revolusie aangetel.

Die kommissie, wat saamgestel is uit uitnemende persone uit verskillende sektore van die samelewing, sal dien as 'n nasionale oorhoofse raadgewende meganisme oor digitale transformasie.

Dit sal beleid, strategieë en planne identifiseer en aanbeveel, wat Suid-Afrika as 'n wêreldwye mededingende speler in die digitale rewolusie-omgewing sal posisioneer.

Gegrond op die werk wat reeds die afgelope jaar gedoen is, sal ons daarop fokus om die Staat se vermoëns verder te versterk.

Ons het vordering gemaak met die ondersoek na die grootte en struktuur van die Staat en sal die werk aan die einde van hierdie administrasie voltooi.

Ons nooi alle Suid-Afrikaners om voorstelle te maak oor hoe ons die regering beter kan struktureer om die behoeftes en belange van ons mense te dien.

Om die vermoë van staatsamptenare te verbeter, stel die Nasionale Bestuurskool 'n reeks verpligte kursusse in wat kwessies soos etiek en korrupsie, senior bestuur en voorsieningskettingbestuur dek, en om bestuurders ’n daadwerklike rol te laat speel by die verbetering en versterking van dienslewering.

Ons sal  Artikel 8 van die Wet op Openbare Administrasie en Bestuur, wat die verbod op staatsamptenare wat met die Staat sake doen versterk, in werking stel, wat die regering in staat sal stel om korrupte aktiwiteite meer doeltreffend te hanteer.

Hierdie bepaling sal die oplegging van groter boetes insluit, insluitend boetes en/of tronkstraf vir amptenare wat oortree.

Ons sal die Etiek, Integriteit en Dissiplinêre Tegniese Bystandseenheid stig om die bestuur van etiek en anti-korrupsie te versterk en om die bestuur van die gevolge te verseker vir oortredings van regeringsprosesse.

Mede-Suid-Afrikaners,

Suid-Afrika het vanjaar 'n nie-permanente setel in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad opgeneem.

Ons sal hierdie posisie gebruik om vrede op die vasteland en oor die hele wêreld te bevorder, deur Nelson Mandela se visie van 'n vreedsame, stabiele en regverdige wêreld uit te dra.

Mede-Suid-Afrikaners,

Oor 'n paar maande sal Suid-Afrikaners vir die sesde keer in ons demokrasie na die stembusse gaan om vir nasionale en provinsiale regerings te stem.

Dit is 'n geleentheid vir ons mense om hul reg uit te oefen om die rigting van hierdie land te bepaal; ’n reg waarvoor hulle hard geveg het.

Ek het met die Onafhanklike Verkiesingskommissie en met die premiers van alle provinsies gesprek gevoer en beoog om 8 Mei 2019 as die datum van die verkiesing aan te kondig.

Ons wil graag alle Suid-Afrikaners wat kwalifiseer om te stem en wat nog nie as kiesers geregistreer het nie, herinner dat hulle nog tot die verkondiging van die verkiesingsdatum het om te registreer.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons is 'n volk van veerkragtigheid, vasberadenheid en optimisme.

Ondanks die slegste gevolge van apartheid, het ons nie wraak geneem toe ons ons vryheid gewen het nie.

Ons demokrasie het ontluik en floreer, gevoed deur die welwillendheid van die manne en vroue van hierdie wonderlike land, wat baie goed verstaan ​​teen watter koste dit bereik is.

Maar die pad na ware vryheid is 'n lang pad, en ons het gesien hoe daar tweespalt in ons samelewing groei.

Tussen swart en wit, ryk en arm, tussen landelik en stedelik, tussen die geslagte, en tussen taalgroepe en kulture.

Soms het dit gelyk of die melk van menslike goedhartigheid wat versoening in 1994 moontlik gemaak het, versuur het.

Maar ons sal ons nie oorgee aan die magte van pessimisme en nederlaag nie.

Ons samelewing is geanker in die wortels van verdraagsaamheid en samehorigheid, en ons staan ​​vas, vasbeslote en verenig teenoor almal en alles wat ons wil verdeel of ons hard gewonne winste wil vernietig.

Hulle het gesê om 'n nie-rassige Suid-Afrika te bou was onmoontlik, en dat ons nooit werklik genees kon word van ons bitter verlede nie.

Tog het ons die storm oorleef en ons seëvier.

Dit was die ewige optimisme van die menslike gees wat die hoop tydens ons donkerste dae laat voortleef het.

Dit is hierdie optimisme wat ons sal voortdryf terwyl ons ’n dapper nuwe toekoms tegmoet gaan.

Dit is ’n Suid-Afrika waarin elke man, vrou en kind die geleentheid en middele gegun word om ’n beter lewe vir hulself te maak.

Dit is ’n Suid-Afrika wat gereed is om voordeel te trek uit die tegnologiese  veranderinge wat regoor die wêreld waai om ons ekonomie te laat groei en werk te skep vir ons mense.

Dit is ’n Suid-Afrika wie se mense visie, dryfkrag en ambisie het; wat dit ’n spilpunt van innovering, entrepreneurskap en ondernemingsgees maak.

Dit is ’n Suid-Afrika wat die probleme van die verlede erken, maar ’n ferm toekomsvisie het.

Dit is ’n Suid-Afrika met manmoedige leiers, wat dienaars van die mense bly – en vir wie die vervulling van hulle pligte die hoogste en enigste beloning is.

Bo alles, is dit ’n Suid-Afrika  waarin ons almal trots is op wat ons bereik het en waarheen ons hoop om te gaan.

Die taak  waarvoor ons te staan kom is ontsagwekkend.

Bo alles moet ons ons ekonomie weer goed te laat werk.

Ek doen ’n berope op elke Suid-Afrikaner om dit sy eie saak te maak.

Want wanneer ons sukses behaal  – en daarvan is ons seker – is dit die hele nasie wat daarby sal baat.

Laat ons saamstaan as die regering, die sakesektor, die arbeidsektor en as burgers, om die toekoms aan te gryp.

Laat ons ons gesamentlike toekoms met albei hande aangryp in die onsterfbare woorde van die Vryheidshandves: sy aan sy, sonder om krag of moed prys te gee.

Hierdie taak – om ’n beter Suid-Afrika te bou - is ons gesamentlike taak as ’n nasie, as die mense van Suid-Afrika.

Terwyl ons hierdie take en uitdgings aanpak, moet ons die woorde van Theodore Roosevelt in gedagte hou; hy het gesê:

“Dit is nie die kritikus wat tel nie; nie die man wat uitwys hoe die sterk man struikel nie, of waar die doener van dade dit beter kon gedoen het nie.

“Die krediet kom die man toe wat werklik in die arena is, wie se gesig geskend word deur stof en sweet en bloed; wat dapper streef; wat foute maak, wat telkens kortkom, want daar is geen probeerslag sonder foute en tekortkominge nie; maar hy wat werklik daarna streef om goeie dade te doen; wat weet van groot entoesiasme, die groot toewydings; wat homself aan ’n verdienstelike saak wy; wie ten beste uiteindelik die triomf van groot prestasie ervaar, en wie op die ergste, as hy misluk, ten minste misluk terwyl hy ’n groot waagstuk aanpak, sodat sy plek nooit by daardie koue skugter siele sal wees wat nie oorwinning of nederlag ken nie nie.”

Ons het almal ’n rol te speel as individuele Suid-Afrikaners, geloofgebaseerde organisasies, vakbonde, die sakesektor, studente, akademici en bugers.

Laat ons steeds die gees van burgeraktivisme aangryp ooreenkomstig die opdrag, Thuma Mina, in die voorwaartse mars na gelykheid, vryheid en voorspoed vir almal.

Ek bedank u.

Share this page

Similar categories to explore