President Cyril Ramaphosa: Suid-Afrika se reaksie op die Koronavirus Covid-19 pandemie

Mede-landgenote,
 

Goeienaand, Riperile, Dumelang, Sanibonani, Molweni, Ndi madekwana, Good evening.

Dit is presies tien weke sedert ons 'n nasionale ramptoestand in reaksie op die koronaviruspandemie aangekondig het.

Sedertdien het ons ernstige en ongekende maatreëls toegepas – insluitend 'n landwye inperking – om die verspreiding van die virus te stuit.

Ek is jammer dat hierdie maatreëls heelwat swaarkry veroorsaak het – dat dit julle reg om vrylik te beweeg, te werk en 'n bestaan te maak ingeperk het.

As gevolg van die maatreëls wat ons ingestel het – en die opofferings wat julle gemaak het – het ons daarin geslaag om die tempo van infeksie te vertraag en te verhoed dat ons gesondheidsfasiliteite oorweldig word.

Ons het die inperkingstyd gebruik om 'n omvattende openbare gesondheidsrespons op te bou en ons gesondheidstelsel voor te berei op die verwagte toename in infeksies.

Namate ons die volgende fase van ons stryd teen die koronavirus betree, is dit weer eens julle optrede wat die lot van ons mense sal bepaal.

As individue; as gesinne; as gemeenskappe, is dit julle wat sal bepaal of
die verwoesting wat soveel ander lande ervaar het, ons ook sal tref; of sal ons ons mense, ons samelewing en ons ekonomie van die ergste gevolge van hierdie pandemie gespaar kan laat bly.

Ons weet dat die doeltreffendste verdediging teen hierdie virus ook die eenvoudigste is.

Ons moet ons hande gereeld was, 'n masker dra, 'n afstand van minstens 1,5 meter van ander mense af hou, nie aan ons gesigte met ongewaste hande raak nie en oppervlakke waaraan ons gereeld vat, skoon hou.

As ons hierdie basiese reëls noukeurig en konsekwent nakom, sal ons die pandemie oorwin.

Daar is nou 22 583 bevestigde koronavirusgevalle in Suid-Afrika.

Ongeveer die helfte van hierdie mense het herstel, hetsy omdat hul simptome matig was, of weens die sorg wat hulle in ons hospitale ontvang het.

Ongelukkig is daar ongeveer 429 mense dood.

Ons betuig ons innigste simpatie met hulle naasbestaandes, vriende en kollegas.

Julle verlies is ons verlies.

Daar is nou net meer as 11 000 aktiewe koronavirusgevalle in die land.

Hiervan is 842 pasiënte in hospitale en 128 is in intensiewesorgeenhede.

Die getal besmette mense kon baie hoër gewees het as ons nie betyds opgetree het en drastiese inperkingsmaatreëls ingestel het nie.

Ons is gevolglik in 'n baie beter posisie as wat baie ander lande in dié stadium van die siekte se verloop was.

Danksy die drastiese inperkingsmaatreëls wat ons ingestel het, kon ons ons gesondheidsrespons versterk.

Ons het tot op hede meer as 580 000 koronavirustoetse en meer as 12 miljoen siftings gedoen.

Daar is bykans 60 000 gemeenskapsgesondheidswerkers wat regdeur die land moontlike koronavirusgevalle identifiseer.

Ter voorbereiding van die verwagte toename in infeksies, word daar ongeveer 20 000 hospitaalbeddens vir COVID-19-gevalle ingerig, en 27 veldhospitale word regoor die land gebou. ’n Aantal van hierdie hospitale is gereed om koronaviruspasiënte te ontvang.

Ons het ook voor verskeie uitdagings te staan gekom, waaronder 'n tekort aan
diagnostiese mediese voorrade weens die groot wêreldwye vraag daarna.

Dit het bygedra tot 'n lang omkeertyd vir koronavirustoetsing, wat op sy beurt weer die doeltreffendheid van ons programme beïnvloed het.

Die omvang en die spoed van die openbare gesondheidstelsel se reaksie op hierdie noodgeval was indrukwekkend, maar daar moet nog baie meer gedoen word.

Ons het deurentyd geweet dat die inperking die verspreiding van die virus sou vertraag, maar dit nie sou stop nie.

Totdat daar 'n entstof vir almal beskikbaar is, sal die koronavirus aanhou om onder ons mense versprei. Dit beteken dat ons daaraan gewoond sal moet raak om vir 'n geruime tyd met die koronavirus saam te leef.

Daar is 'n uitgebreide wêreldwye poging, waarvan Suid-Afrika deel is, om 'n entstof te ontwikkel.

Die regering ondersteun en finansier verskeie navorsingsprojekte, waaronder 'n plan om koronavirus-entstowwe plaaslik te vervaardig sodra kandidate beskikbaar is. Ons sal die bestaande vaardighede, kundigheid, infrastruktuur en organisasies binne die entstofbedryf gebruik om die entstof te vervaardig en te versprei.

Ons het aangevoer dat indien 'n entstof op enige plek in die wêreld ontwikkel word, dit vryelik en billik aan burgers van alle lande beskikbaar gestel moet word.

Soos wetenskaplikes voorspel het, het die infeksies in ons land nou skerp begin toeneem.

Een derde van die opgehoopte bevestigde gevalle is in die afgelope week aangeteken.

En ons kan verwag dat hierdie getalle nog verder en selfs vinniger sal styg.

Verskeie modelle is gebou om die verloop van die virus te voorspel en om inligting vir ons beplanning en begroting te voorsien.

Hierdie modelle wys vir ons twee belangrike dinge.

Eerstens dat die koronaviruspandemie in Suid-Afrika baie erger gaan word voordat dit beter word.

Tweedens, en die belangrikste, wys dit ons dat die duur, omvang en impak van die pandemie van ons optrede as 'n samelewing en van ons gedrag as individue afhang.

Deur basiese beskermende praktyke te volg, kan ons die aantal infeksies en die aantal sterftes verminder.

Die laaste keer toe ek die land toegespreek het, het ek gesê dat ons 'n proses van raadpleging sal onderneem om die stappe wat ons nou moet neem, te lei.

Sedertdien het ons met die leiers van politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig is, sowel as met sakelui, vakbonde en gemeenskapskiesafdelings gesprek gevoer.

Ons het met premiers, burgemeesters, verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering, tradisionele leiers en verteenwoordigers van intergeloofsgemeenskappe vergader.

Soos ons sedert die begin van hierdie krisis gedoen het, het ons ook die Ministeriële Advieskomitee oor COVID-19, wat 'n groep hoogs gekwalifiseerde, gerespekteerde en ervare wetenskaplikes, klinici, epidemioloë en kundiges in openbare gesondheid is, geraadpleeg.

Ons is baie dankbaar vir die werk wat hulle gedoen het en maak steeds seker dat ons respons deur die beste beskikbare wetenskaplike bewyse gestaaf word.

Ons waardeer die uiteenlopende en soms uitdagende sienings van wetenskaplikes en gesondheidswerkers in ons land, wat openbare debat stimuleer en ons reaksie verryk.

Ons word ook gelei deur raadgewing deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming.

Aangesien ons te doen het met 'n pandemie wat die lewens en lewensbestaan van alle Suid-Afrikaners beïnvloed, was dit belangrik dat ons so wyd as moontlik geraadpleeg het.

Hierdie raadpleging was nie net noodsaaklik nie, maar ook die moeite werd deurdat ons verskeie opbouende voorstelle ontvang het.

Dit het die regering se denke verryk deur ons in te lig oor ons mense se standpunte rondom die uitdagings waarmee hulle in verskillende kiesafdelings te kampe het.

Die groepe wat ons geraadpleeg het is net so uiteenlopend soos Suid-Afrika se mense, en almal is dit eens dat ons op gepaste en beslissende wyse opgetree het om die verspreiding van die virus te vertraag.

Hulle stem eenparig saam dat ons belangrikste doel moet wees om lewens te red en ons mense se lewensbestaan te beskerm.

Hoewel daar verskeie punte van verskil is, stem al hierdie groepe saam oor die benadering wat ons moet volg om voort te bou op die vooruitgang wat ons tot dusver gemaak het.

Hoewel die landwye inperking doeltreffend was, kan ons nie onbepaald daarmee voortgaan nie.

Ons het die vyf-vlak COVID-19-waarskuwingstelsel bekendgestel om die geleidelike verslapping van die inperking te bestuur.

Hierdie risiko-aangepaste benadering word deur verskeie kriteria gelei, waaronder die vlak van infeksies en die tempo waarteen die virus oorgedra word, die kapasiteit van gesondheidsfasiliteite, die omvang van die implementering van openbare gesondheidsingrypings en die ekonomiese en sosiale uitwerking van voortgesette beperkings.
 
Dit is op grond van hierdie kriteria – en na oorlegpleging – dat die Kabinet besluit het dat die waarskuwingsvlak vir die hele land met ingang van 1 Junie 2020 van vlak 4 na vlak 3 verlaag moet word.

Die verskuiwing na waarskuwingsvlak 3, is ’n belangrike verandering in ons benadering tot die pandemie.

Dit sal tot die onsluiting van die ekonomie en die opheffing van sekere beperkings op mense se bewegings lei; ons openbare gesondheidsingrypings sal terselfdertyd aansienlik uitgebrei en versterk word.

Hoewel ons na vlak 3 beweeg, is dit belangrik om daarvan bewus te wees dat die siekte in sekere dele van die land gekonsentreerd is en dat infeksies daar steeds styg.

Ons sal 'n gedifferensieerde benadering volg in die hantering van gebiede met veel hoër vlakke van infeksie en oordrag.

Hierdie gebiede sal tot koronavirus-gevaarpunte (“hotspots”) verklaar word.

'n Gevaarpunt word omskryf as 'n gebied met meer as vyf besmette mense per 100 000 mense, of waar nuwe infeksies vinnig toeneem.

Die volgende metro's is geïdentifiseer as koronavirus-gevaarpunte: Tshwane,
Johannesburg, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Kaapstad.

Die ander gebiede met gevaarpunte is die Weskus-, Overberg- en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap, die Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap, en die iLembe-distrik in KwaZulu-Natal.

Ons is veral bekommerd oor die situasie in Kaapstad en die Wes-Kaap in die algemeen, wat nou meer as die helfte van die totale infeksies in die land het.

Ons gee aandag hieraan as 'n dringende saak.

Afhangend van hoe die virus verloop, word die lys van die gevaarpunte elke twee weke hersien.

Met die hantering van die virus in hierdie gebiede sal ons intensiewe ingrypings in werking stel wat daarop gemik is om die aantal nuwe infeksies te verminder.

Ons is besig om verbeterde maatreëls vir waarneming, infeksiebeheer en bestuur in in gereedheid te bring.

Ons sal 'n voltydse span ervare personeel aan elke gevaarpunt toewys.

Hierdie span sal epidemioloë, gesinspraktisyns, verpleegkundiges, gemeenskapsgesondheidswerkers, kundiges in openbare gesondheid en mediese nooddienste, insluit, wat deur Kubaanse kundiges ondersteun te sal word.

Ons sal elke gevaarpunt aan toetsdienste, isolasie- en kwarantyngeriewe,
behandeling, hospitaalbeddens en kontakopsporing verbind.

Indien nodig, kan enige deel van die land na waarskuwingsvlakke 4 of 5 teruggeskuif word as die verspreiding van infeksie ondanks ons ingryping nie gestuit word nie, en as die risiko bestaan dat ons gesondheidsfasiliteite oorweldig word.

Dit sal egter ook mettertyd moontlik wees om gebiede waar infeksies, dansky ons pogings, laag is op vlakke 2 of 1 te plaas.

Die oorgang na waarskuwingsvlak 3 vanaf die begin van Junie, behels dat die meeste sektore van die ekonomie, onderworpe aan die nakoming van streng gesondheidsprotokolle en sosiale afstandreëls, weer in bedryf gestel sal word.

Die ontsluiting van die ekonomie en ander aktiwiteite beteken dat meer staatsamptenare sal kan teruggaan werk toe.

Dit sal in ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid gedoen word, soos gelei deur die Departement van Staatsdiens en Administrasie, in samewerking met al die ander regeringsdepartemente.

Ons waardeer die werk wat steeds deur staatsamptenare voortgesit word, veral dié wat in die voorste linie van die stryd teen COVID-19 werk.

Ons is besorg oor die veiligheid van alle werkers, insluitend staatsamptenare.
Ons sal steeds alles inspan om voldoende persoonlike beskermingstoerusting te verskaf om seker te maak dat alle werkers veilig is.

Ons prioriteit is om geleenthede vir die oordrag van die virus te verminder en 'n veilige omgewing vir almal te skep.

Ons vra daarom dat diegene wat nie hoef te gaan werk of na 'n opvoedkundige instelling hoef te gaan nie, liewer tuis moet bly.

Mense sal ook hul huise kan verlaat om goedere te koop of om dienste te bekom, insluitend mediese sorg.

Daarbenewens, sal mense enige tyd gedurende die dag kan oefen, mits dit nie in groepe gedoen word nie.

Die aandklokreël vir die beweging van mense sal opgehef word.

Alkohol mag slegs vir tuisverbruik en onder streng voorwaardes, op bepaalde dae en vir beperkte ure verkoop word.

Aankondigings sal in hierdie verband gemaak word sodra samesprekings met die sektor oor die verskillende voorwaardes afgehandel is.

Die verkoop van tabakprodukte sal op waarskuwingsvlak 3 steeds verbied word weens die gesondheidsrisiko's van rook.

Alle byeenkomste sal verbode bly, behalwe vir begrafnisse met hoogstens 50 mense of vergaderings in die werkplek vir werksdoeleindes.

Enige plek wat vir die publiek oop is waar kulturele, sport-, vermaak-, ontspannings-,
uitstallings-, organisatoriese of soortgelyke aktiwiteite gehou word, sal gesluit bly.

Ons het vrugbare samesprekings met leiers van die intergeloofsgemeenskap gevoer oor hul voorstelle vir die gedeeltelike opening van geestelike aanbidding en beradingsdienste onderworpe aan sekere norme en standaarde.

Ons het ooreengekom om verdere gesprekke hieroor te voer en ons vertrou dat ons 'n werkbare oplossing sal vind.

Ons wens ons Moslem-landgenote voorspoed toe vir Eid.
Hulle het die afgelope tyd baie opofferings gemaak met betrekking tot aktiwiteite wat normaalweg deur vierings gevolg sou word.

Ons wil hulle bedank dat hulle die nodige aanpassings rakende die vierings gemaak het, terwyl ons steeds hierdie pandemie beveg.

Met die onsluiting van die ekonomie sal ons op sosiale kompakte met alle belangrike rolspelers staatmaak om aandag te kan gee aan die belangrikste risikofaktore by die werkplek en in die koppelvlak tussen werknemers en die publiek.

Ons sal dus 'n aantal sektorprotokolle finaliseer en van elke onderneming vereis om 'n werkplekplan op te stel voordat hulle heropen.

Volgens hierdie planne sal ondernemings fasiliteite en maatreëls vir higiëne en sosiale afstand in werking moet stel; hulle sal elke dag werkers moet sif, diegene wat besmet kan word in kwarantyn plaas en reëlings tref om hulle te toets.

Hulle moet ook help met kontakopsporing as werknemers positief toets.

Personeel wat ouer as 60 is en diegene wat aan onderliggende toestande soos hartsiektes, suikersiekte, chroniese asemhalingsiektes en kanker ly, moet weens hulle kwesbaarheid verkieslik tuis te bly.

Werknemers wat tuis kan werk, moet toegelaat word om dit te doen.

Onderhewig aan hierdie maatreëls, sal alle vervaardigings-, mynbou-, konstruksie-, en finansiële dienste, sowel as professionele en besigheidsdienste, inligtingstegnologie-, kommunikasie-, regerings- en mediadienste met ingang van 1 Junie weer begin.

Gepaste heropenings- en infaseringsreëlings moet vir elke werkplek in gereedheid gebring word.

Groot- en kleinhandelondernemings sal weer ten volle kan handeldryf, insluitend winkels, spazawinkels en informele handelaars. E-handel sal steeds oop bly.

Ander sektore wat voorheen heropen het, soos landbou en bosbou, nutsdienste, mediese dienste, voedselproduksie en vervaardigers van higiëneprodukte, sal ten volle oop bly.

Om te verseker dat ons sosiale afstand behou, sal sekere hoërisiko-ekonomiese aktiwiteite verbode bly. Dit sluit in:

  • Restaurante, kroeë en tavernes, behalwe vir aflewering of afhaal van kos.
  • •Huisvesting en binnelandse lugreise, behalwe vir sakereise, wat ingefaseer sal word op datums wat aangekondig sal word.
  • Konferensies, geleenthede, vermaak en sportaktiwiteite.
  • Persoonlike versorgingsdienste, insluitend haarkappers en skoonheidsdienste.

Die proses van terugkeer na werkplekke sal ingefaseer word sodat alle werkplekke koronavirusgereed gemaak kan word. Dit moet op 'n manier gedoen word wat die risiko van infeksie voorkom en verminder.

Ons het gesprek gevoer met die toerisme-, hotel- en restaurantbedryf oor die uitdagings en swaarkry wat hierdie sektore ervaar.

Hulle het verskeie voorstelle gemaak oor die maatreëls wat hulle beoog om in te stel wanneer hul sektore heropen kan word. Ons oorweeg die voorstelle.

Verskeie maatskappye het reeds meer gedoen om die reaksie op die koronavirus te ondersteun as wat deur regulasies vereis word, byvoorbeeld om sifting-, toetsing- en selfs isolasiegeriewe vir hul werknemers te bied.

Ons sal ook met groter werkgewers gesprek voer oor hoe hulle kwarantyngeriewe
vir hul werkers beskikbaar kan maak.

Ons prys die maatskappye wat tot die Solidariteitsfonds bygedra het of op ander maniere bydraes gemaak het. Dit sluit in ondernemings soos Volkswagen, wat 'n veldhospitaal in 'n ongebruikte fabriek in Nelson Mandelabaai bou, wat 4 000 beddens kan huisves.

Die verhoogde risiko vir oordrag in openbare vervoer is een van die grootste uitdagings wat ons met die oorgang na vlak 3 in die gesig staar.

Ons moet in vennootskap met pendelaars, taxi- en busoperateurs, sowel as sakeondernemings en die regering, seker maak dat ons mense veilig kan reis.

Pendelaars sal altyd maskers moet dra, hulle hande voor en na hul reis moet was en nie aan hul gesigte met ongewaste hande vat nie.

Pendelaars sal ook 'n veilige afstand van ander pendelaars moet hou.

Taxi- en busoperateurs moet die regulasies nakom wat deur die Minister van Vervoer aangekondig sal word, insluitend om seker te maak dat hul voertuie gereeld ontsmet word.

Verskeie ondernemings het ons laat weet dat hulle maniere ondersoek om opeenhoping op openbare vervoer te verminder, insluitend om werkstye uit te sprei en om vervoer aan werknemers te verskaf.

Ons landsgrense sal gesluit bly, behalwe vir die vervoer van goedere en repatriasie van landsburgers.

Nog 'n groot uitdaging waaraan ons aandag moes gee, is die heropening van skole.

Die gesondheid en welstand van leerders, studente, opvoeders en werkers in hierdie instellings geniet voorrang.

Ons is ook besorg oor die vooruitgang en ontwikkeling van ons kinders en ons wil verhoed dat 'n hele geslag leerders deur hierdie pandemie permanent benadeel word.

Ons het dus 'n omsigtige en gefaseerde benadering tot die heropening van skole, wat gelei word deur mediese raadpleging in oorleg met alle belanghebbendes.

Ons sal van 1 Junie af klasse vir leerders in graad 7 en 12 hervat.

Streng infeksiebeheermaatreëls en, waar nodig, bykomende infrastruktuur vir water en sanitasie word in gereedheid gebring om sosiale afstand, gereelde hande was en leerders se veiligheid moontlik te maak.

Maatreëls word ook in gereedheid gebring om veiligheid te verseker wanneer kinders toegang tot die skoolvoedingsprogram en leerdervervoer kry.

Die skoolkalender sal hersien word, en die kurrikulum sal verkort word sodat die 2020-skooljaar voltooi kan word.

Dit is verstaanbaar dat daar ’n mate van kommer oor die heropening van skole is, en ek wil beklemtoon dat geen ouer gedwing sal word om hul kind skool toe te stuur as hulle nie gerus voel oor die kind se veiligheid nie.

Maar as ons almal saamwerk om alle voorsorgmaatreëls en protokolle noukeurig na te kom, sal ons ons skole veilig kan hou.

Ons het ook 'n fase-benadering tot die hervatting van klasse by hoëronderwysinstellings.

Van 1 Junie af word daar van alle openbare universiteite verwag om strategieë vir afstandsonderrig en -leer in gereedheid te bring om te verseker dat alle studente 'n billike geleentheid kry om die 2020 akademiese jaar te voltooi.

Met die aanvang van waarskuwingsvlak 3, mag nie meer as 'n derde van die studente na kampusse terugkeer nie mits hulle veilig gehuisves kan word nie.

Instellings sal verder heropen namate die waarskuwingsvlakke van die koronavirus verander word.

Terwyl ons ons gesondheidshulpbronne mobiliseer om aan die verwagte toename in koronavirusgevalle te voldoen, moet ons seker maak dat ons nie geleenthede skep vir die ontstaan van ander gesondheidskrisisse nie.

Roetine-gesondheidsdienste moet dus ten volle toeganklik gemaak word en dienste moet steeds gelewer word met die klem op inenting teen kindersiektes, voorbehoeddienste, voorgeboortesorg, diagnose en behandeling van tuberkulose en MIV, beheer van chroniese siektes en ondersteuning aan oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld.

Ons moet deurgaans bevestig dat die regte van al ons mense op lewe en waardigheid die middelpunt van ons reaksie op die koronavirus bly; ons moet vasstaan teen enige optrede wat inbreuk maak op hierdie en ander basiese menseregte.

Mede Suid-Afrikaners,

Ons kan getuig van die dapper mense wat regdeur die landwye inperking gewerk het, wat omgesien het na siekes, wat voedsel en basiese dienste gelewer het, om ons land onder moeilike omstandighede aan die gang te hou.

Die las van die inperking was die ergste vir diegene wat dit die minste kon dra.

Die tyd het nou aangebreek vir die meeste van ons om terug te keer werk toe en om dele ons lewens wat tydelike opsy geskuif moes word toe die inperking begin het, te hervat.

Ek wil egter beklemtoon dat die verslapping van sommige beperkings nie beteken dat die bedreiging wat die koronavirus inhou verdwyn het of dat ons stryd teen die siekte verby is nie.

Die risiko dat infeksies geweldig kan toeneem is trouens nou selfs groter as wat dit sedert die begin van die uitbreking in ons land was.

Dit is nou die tyd om ons pogings te verskerp en ons samewerking te verdiep.

Nou maak nou weer eens staat op julle; julle optrede en julle sin vir verantwoordelikheid.

Ons maak staat op julle om die onskendbaarheid van die lewe en die waardigheid van alle mense te respekteer.

Ons maak staat op julle om die swakste en kwesbaarste mense te beskerm.

Ons maak staat op julle om die solidariteit en deernis te demonstreer wat die Suid-Afrikaanse bevolking se reaksie op hierdie krisis gekenmerk het.

Met die aanpak van hierdie ernstige uitdaging, sal ons as een volk vorentoe beweeg, verenig in ons optrede, vasbeslote dat ons dit sal oorwin.

In hierdie tyd word ons, meer as ooit, herinner aan die woorde van Madiba, toe hy gesê het: 'Dit is nou in julle hande.’

Mag God Suid-Afrika seën en sy mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore