President Cyril Ramaphosa: Staatsrede 2023

Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa, Kaapstad-stadsaal, Donderdag 9 Februarie 2023

Speaker van die Nasionale Vergadering, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula, 
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, mnr Amos Masondo, 
Visepresident David Mabuza, 
Die Uitvoerende Burgemeester van die Stad Kaapstad, mnr Geordin Hill-Lewis, 
Voormalige President Thabo Mbeki,  
Voormalige Visepresident Baleka Mbete, 
President van die Pan-Afrika-Parlement, die Hoogedele Hoof Fortune Charumbira, 
Hoofregter Raymond Zondo en lede van die regsgesag, 
Hoofde van instansies wat demokrasie ondersteun,
Visepresident van die regerende party, mnr Paul Mashatile, en leiers van alle partye, 
Parlementslede, 
Mede-Suid-Afrikaners,   
 
Dit is ʼn groot eer om vanaand voor julle te staan om die Staatsrede te lewer.  
 
Want ons is ʼn nasie wat nie gedefinieer word deur die oseane en riviere wat die grense van ons land vorm nie.  
 
Ons word nie gedefinieer deur die minerale onder ons grond of die pragtige landskap daarbo nie. Ons word nie eers gedefinieer deur die tale wat ons praat of die liedjies wat ons sing of die werk wat ons doen nie.  
 
Ons as nasie word in ons diepste wese gedefinieer deur hoop en veerkragtigheid.  
 
Dit is hoop wat ons stryd om vryheid aan die brand gehou het, en dit is hoop wat ons seile in die wind laat bol terwyl ons ons land uit ontstuimige waters na kalmte stuur.  
 
Selfs in hierdie moeilike tye is dit hoop wat ons aan die gang hou en ons die vasberadenheid gee om selfs die grootste probleme te oorkom.  
 
Slegs drie jaar gelede is ons land deur die ergste wêreldwye pandemie in menseheugenis platgeslaan. Duisende het hulle lewens verloor, ondernemings het gesluit, werke is verloor.  
 
COVID-19 het ons nie op ons knieë gedwing of ons ontnugter nie. 
 
Ons het saamgewerk, ons het die krisis te bowe gekom, en ons het begin herstel.  
 
Vandag is ons ekonomie sterker as wat dit voor die pandemie was.  

Tussen die derde kwartale van 2021 en 2022 is daar ongeveer een en ʼn halfmiljoen werksgeleenthede in ons ekonomie geskep.   
 
Die Presidensiële Indiensneming-stimulus het werks- en bestaansgeleenthede vir meer as ʼn miljoen mense geskep.  
 
Verlede jaar het ons matrikulante die gevolge van die pandemie te bowe gekom en ʼn slaagsyfer van 80% behaal, en ons wens hulle geluk met daardie groot prestasie. 
 
Ons sien die gees van vasberadenheid in ons kunstenaars, musici, akteurs, outeurs en sportmanne en -vroue, wat opslae maak op eie bodem, op die Afrika-vasteland en in die buiteland.  
 
Banyana Banyana het ons trots gemaak toe hulle die Afrikabeker vir vrouesokker gewen en die Afrika-kampioene geword het.  
 
Zakes Bantwini, Nomcebo Zikode en Wouter Kellerman het ons trots gemaak by die Grammy-toekennings met hulle spanpoging, Bayethe.  
 
Die  prestasies wat ons ondanks ons uitdaging as ‘n nasie oor die afgelope jaar behaal het, herinner ons daaraan dat die belofte van Suid-Afrika lewend is.   
 
Die vordering wat ons gemaak het, behoort ons moed te gee terwyl ons na ʼn beter toekoms uitsien.  
 
En tog, terwyl ek vanaand met julle praat, is daar baie mense in huise oral in die land wat swaarkry, baie wat bekommerd is, baie wat onseker is en baie wat sonder hoop is.  
 
Maar hiervan is ek seker; wat ookal die probleme is wat ons tans ervaar of die krisisse wat ons in die gesig staar, sal ons saam opstaan, dit saam tegemoetgaan en dit saam te bowe kom.  
 
Ons sal dit kan doen as ons saamwerk en niemand agterlaat nie. 
 
Ons is nou hier saam in ʼn krisistyd.   
 
Ons land verduur nou al maande lank ʼn verlammende elektrisiteitstekort wat ons ekonomie ongelooflike skade berokken.   
 
En twee jaar terug is ons gemeenskap deur die COVID-19-pandemie platgeslaan wat groot lewensverlies en baie swaarkry tot gevolg gehad het.  
 
Die pandemie het die ernstige werkloosheidsyfer net vererger, aangesien die land twee miljoen werksgeleenthede verloor het. Die pandemie het ʼn negatiewe invloed op mense se lewensbestaan gehad en armoede vererger.   
 
In Julie 2021 het ons die ergste openbare geweld en vernietiging in die geskiedenis van ons demokrasie gesien, wat tot meer as 300 sterftes gelei het.  
 
Verlede jaar was daar katastrofiese vloede in dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Noordwes wat tot groot lewensverlies, verwoesting van huise en skade aan infrastruktuur gelei het.  
 
En nou verhinder volgehoue beurtkrag dat ons herstel van die gevolge van hierdie gebeure.   
 
Ons weet dat sonder betroubare kragvoorsiening, besighede nie kan groei nie, monteerlyne nie kan werk nie, gewasse nie besproei kan word nie en dat basiese dienste onderbreek word.  
 
Beurtkrag beteken dat huishoudings en supermarkte nie kos vars kan hou nie, watertoevoer word dikwels onderbreek, verkeersligte werk nie en strate is snags donker.  
 
Sonder ʼn betroubare bron van elektrisiteit sal ons pogings om ʼn inklusiewe ekonomie te bou wat werk skep en armoede verminder, nie suksesvol wees nie.   
 
Terwyl ons dus ons agenda vir die jaar vorentoe uitstippel, is ons dringendste taak om die hewigheid van beurtkrag in die komende maande drasties te verminder en om dit uiteindelik heeltemal te beëindig.    
 
Onder hierdie omstandighede kan ons nie soos normaalweg voortgaan nie.   
 
Die mense van Suid-Afrika wil aksie sien, hulle wil oplossings hê en hulle wil hê dat die regering vir hulle moet werk.   
 
Hulle wil eenvoudig weet wanneer ʼn probleem soos beurtkrag tot ʼn einde gebring gaan word.  
 
Ons fokus dus op aksies wat nou ʼn betekenisvolle verskil sal maak, wat daadwerklike vordering binne die volgende jaar sal bemagtig en wat ʼn grondslag sal lê vir volgehoue herstel in die toekoms.   
 
Ons lê nie nuwe planne voor nie, en ons sit ook nie die volle regeringsprogram hier uiteen nie.  
 
Ons fokus eerder op die kwessies waaroor Suid-Afrikaners hulle die heel meeste bekommer:   
 
Beurtkrag.   
 
Werkloosheid.   
 
Armoede en die stygende lewenskoste.   
 
Misdaad en korrupsie.   
 
Daar is geen maklike oplossings vir enige van hierdie uitdagings nie.   
 
Tog het ons die middele en die vermoë om dit te oorkom.   
 
As ons saamwerk en moedig en beslissend optree, en niemand agterlaat nie, sal ons ons uitdagings kan oorkom.   
 
Hierdie Staatsrede is daarop gemik om hoop te sien waar daar wanhoop is.   
 
Dit gaan daaroor om ʼn uitweg uit hierdie krisisse te kry.   
 
Vanaand gaan ons ʼn verslag gee oor ons vordering met die implementering van die verbintenisse wat ons by verlede jaar se Staatsrede gemaak het.  
 
Gedurende verlede jaar het ons ʼn ferm grondslag gelê, gebaseer op die verbintenisse wat ons gemaak het vir vinniger groei deur ons beleggingsinisiatief, ekonomiese hervormings, openbare indiensnemingsprogramme en ʼn program om infrastruktuur uit te brei.   
 
Wat duidelik blyk uit ons ervaring van die afgelope paar jaar – inderdaad uit ons geskiedenis as ʼn demokrasie – is dat ons nie ʼn nasie is wat ons lot net gedwee aanvaar nie. 

Toe die grootste uitdaging van apartheid ons in die gesig gestaar het, het ons nie aan die onderdrukking toegegee wat deur die apartheidsregime op ons mense afgedwing is nie.  
 
Ons het sterk gestaan en in die stryd getree, in die hoop dat ons saak sou triomfeer. En dit het. Teen alle verwagting in, het ons dit reggekry om die apartheidstelsel omver te werp. 
 
Ons kan, en ons sal, die omstandighede verander waarin ons ons vandag bevind.   
 
Ons het die vermoë en ons is vasbeslote om hierdie probleme te oorkom en ons ekonomie op die stewige pad na herstel te plaas.   
 
Ons dringendste prioriteit is om ons energiesekuriteit te herstel.   
 
Ons bevind ons in die greep van ʼn diepgaande energiekrisis, waarvan die saadjies al jare gelede geplant is.    
 
Ons kan nie die foute wat ons in die verlede gemaak het, die kapasiteit wat nie gebou is nie, die skade wat aan ons kragstasies aangerig is weens ʼn gebrek aan instandhouding of die uitwerking van staatskaping op ons instansies, ongedaan maak nie.   
 
Wat ons kan doen, is om die probleem vandag reg te stel, en om die ligte môre en vir die geslagte vorentoe te laat brand.   
 
In Julie verlede jaar het ek ʼn duidelike plan van aksie aangekondig om die energiekrisis die hoof te bied.  
 
Dit was om werk te maak van die elektrisiteitstekort van 4 000 tot 6 000 megawatt (MW). 
 
Die plan het vyf sleutelingrypings uiteengesit:  
 
Eerstens, herstel Eskom se steenkoolaangedrewe kragstasies en verbeter die beskikbaarheid van bestaande lewering.  
     
Tweedens, aktiveer en versnel private belegging in opwekkingskapasiteit.  
 
Derdens, versnel verkryging van nuwe kapasiteit uit hernubare bronne, gas en batteryberging. 
 
Vierdens, gee besighede en huishoudings die kans om in dak-sonkrag te belê.   
 
Vyfdens, hervorm die elektrisiteitsektor om langtermyn-energiesekuriteit te bereik.  
 
Deskundiges is dit eens dat hierdie plan die mees realistiese roete is om ʼn einde aan beurtkrag te maak.   
 
Gedurende die afgelope ses maande het ons daadwerklike vordering gemaak met die implementering van die plan.   
 
Ons het stappe geneem om die prestasie van Eskom se bestaande kragstasies te verbeter sodat die steenkoolaangedrewe kragstasies wat 80% van ons elektrisiteit voorsien, die hoeveelheid elektrisiteit kan lewer waarvoor hulle ontwerp is.  
 
Onder sy nuwe raad ontplooi Eskom mense en hulpbronne om die betroubaarheid van die ses kragstasies wat tot die meeste beurtkrag gelei het, te verbeter.   
 
Eskom is dringend besig om die konstruksie van ʼn tydelike oplossing te versnel om drie eenhede by die Kusile-kragstasie terug te bring nadat ’n skoorsteen verlede jaar ingegee het, terwyl hulle terselfdertyd die permanente struktuur herstel.  
 
Ons herbou die vaardighede wat verloor is en het reeds kundige personeel op senior vlakke gewerf wat by die onderpresterende kragstasies ontplooi sal word.   
 
Die Ingenieursraad van Suid-Afrika het aangebied om soveel bystand te verleen as wat nodig is deur ingenieurs beskikbaar te stel om saam met die bestuurspanne by kragstasies te werk.  
 
Ons het grondige vaardighede en kundigheid hier in Suid-Afrika – ons moet dit net benut.  
 
Die Nasionale Tesourie is besig om ʼn oplossing te finaliseer vir Eskom se R400 miljard skuldlas op ʼn manier wat billik en regverdig is vir alle belanghebbendes, wat Eskom in staat sal stel om die nodige beleggings in instandhouding en transmissie te maak.  
 
Die regering sal Eskom ondersteun om bykomende befondsing te verseker om diesel vir die res van die finansiële jaar te kan koop. Dit behoort die hewigheid van beurtkrag te verminder aangesien Eskom sy diesel-aangedrewe aanlegte sal kan gebruik wanneer die stelsel onder druk is.  
 
Eskom het met ʼn program begin om surplus krag by private opwekkers te koop en het reeds 300 MW by ons buurlande verseker.   

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ʼn toegewyde span met senior leierskap op die been gebring om die diepgaande korrupsie en diefstal by verskeie kragstasies wat tot die swak prestasie van hierdie stasies bydra, die hoof te bied. Inligtingsgedrewe bedrywighede by Eskom-verwante persele het tot dusver tot 43 inhegtenisnemings gelei.   
 
As deel van die breër hervormingsproses word daar voortgegaan met die herstrukturering by Eskom, soos voorheen aangekondig is, en die Nasionale Transmissiemaatskappy sal binnekort onder leiding van ʼn onafhanklike raad in werking wees.   
 
Later vanjaar sal ons die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering ter tafel lê om die energiesektor te hervorm en om ʼn mededingende elektrisiteitsmark te vestig.    
 
Soos daar in Julie verlede jaar aangedui is, en met die oog daarop om die beurtkragkrisis die hof te bied, gaan ons voort met die ontplooiing van dak-sonkragpanele.  
 
In sy Begrotingstoespraak sal die Minister van Finansies verduidelik hoe huishoudings bygestaan gaan word en hoe besighede by belastingaansporing sal kan baat.  
 
Die Nasionale Tesourie is besig met aanpassings aan die terugwip-leningskema om klein besighede te help om in sonkragtoerusting te belê en om banke en ontwikkelingsfinansieringsinstellings in staat te stel om direk by die skema te leen sodat hulle die verhuring van sonpanele aan hulle klante kan fasiliteer.  
 
Een van die kragtige hervormings wat ons onderneem, is om private ontwikkelaars toe te laat om elektrisiteit op te wek. Daar is nou meer as 100 projekte, en daar word verwag dat dit mettertyd meer as 9 000 MW nuwe kapasiteit sal voorsien.   
 
Verskeie maatskappye wat aan die hernubare-energieprogram deelgeneem het, sal binnekort met konstruksie begin en altesaam 2 800 MW nuwe kapasiteit lewer.   
 
Eskom sal noodkrag verkry wat binne ses maande ontplooi kan word om die onmiddellike gaping te dek.   
 
Ons belê in nuwe transmissielyne en substasies, veral in gebiede soos die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap.   

Al hierdie maatreëls sal oor die volgende 12 tot 18 maande en langer ʼn massiewe hoeveelheid krag by die netwerk voeg.   
 
Die krag sal in lyn wees met ons diverse verskeidenheid energiebronne, insluitend ons huidige steenkoolaangedrewe kragstasies, sonkrag, windkrag, gas, kernkrag, hidrokrag en batteryberging. 
 
Om hierdie plan ten volle te implementeer, het ons sterk sentrale koördinering en ferm optrede nodig.   
 
In ʼn krisistyd het ons ʼn enkele bevelspunt en ʼn enkele opmarslyn nodig.   
 
Net soos ons die oorsaak van die krisis aanpak, moet ons ook die impak daarvan aanpak.   
 
Die krisis het progressief uitgebrei, en beïnvloed nou elke deel van die samelewing.  
 
Ons moet optree om die impak van die krisis op boere, op klein besighede, op ons waterinfrastruktuur en ons vervoernetwerk te verminder.   
 
Die Nasionale Rampbestuursentrum het gevolglik die energiekrisis en die impak daarvan tot ramp verklaar.   
 
Ons verklaar dus ʼn nasionale ramptoestand in reaksie op die elektrisiteitskrisis en die gevolge daarvan.  
 
Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het pas die verklaring tot ramptoestand in die staatskoerant gepubliseer. Dit tree onmiddellik in werking. 
 
Die ramptoestand sal ons in staat stel om praktiese maatreëls te voorsien om besighede in die voedselproduksie-, bergings- en kleinhandelvoorsieningsketting te ondersteun, en dit sluit in die ontplooiing van kragopwekkers, sonpanele en ononderbroke kragvoorsiening. 
 
Waar tegnies moontlik, sal dit ons in staat stel om kritieke infrastruktuur, soos hospitale en waterverwerkingsaanlegte, van beurtkrag vry te stel. 
 
Dit sal ons ook in staat stel om energieprojekte te versnel en regulatoriese vereistes te beperk, terwyl ons streng omgewingsbeskermingsmaatreëls, verkrygingsbeginsels en tegniese standaarde handhaaf. 
 
Die Ouditeur-Generaal sal gelas word om te verseker dat uitgawes voortdurend gemonitor word om te verhoed dat die fondse wat vir die ramp nodig is, misbruik word.  
 
Om hierdie uitdagings doeltreffender en dringender te hanteer, gaan ek ʼn minister van elektrisiteit in die Presidensie aanstel om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir toesig oor alle aspekte van die reaksie op die elektrisiteitskrisis, wat die werk van die Nasionale Energiekrisiskomitee insluit.   
 
Die minister sal voltyds saam met Eskom se raad en bestuur werk om hom daarop toe spits om beurtkrag te beëindig en te verseker dat die energie-aksieplan sonder versuim geïmplementeer word.  
 
Om enige verwarring te voorkom, sal die Minister van Openbare Ondernemings steeds die aandeelhouerverteenwoordiger van Eskom bly, die herstrukturering van Eskom bestuur, die vestiging van die transmissiemaatskappy verseker en oor die implementering van die regverdige energie-oorgangsprogram en die vestiging van die Ondernemings in Staatsbesit -beheermaatskappy toesig hou.

 
Die proses om die regering te herstruktureer sal ons ʼn geleentheid gee om die posisionering van verskeie vlakke van verantwoordelikheid te bepaal en hoe die verskillende ministerieë en departemente ons nasionale doelwitte ten beste kan dien. Ons spits ons aandag tans toe op die energiekrisis, en ons sal die herstrukturering van die regering mettertyd aanpak. 
 
Dit is nodig want ʼn doeltreffende reaksie op hierdie krisis raak verskeie departemente en entiteite wat koördinering vanuit die kern van die regering vereis.  
 
Ons sal ander maatskaplike vennote by ʼn doeltreffende struktuur insluit, soortgelyk aan die een wat ons op die been gebring het om die entstofontplooiing te dryf.  
 
Buitengewone omstandighede noodsaak buitengewone maatreëls.   
 
Die energiekrisis is ʼn eksistensiële bedreiging vir ons ekonomie en ons sosiale struktuur.   
 
Ons moet geen moeite ontsien nie en daar moet geen vertraging wees met die implementering van hierdie maatreëls nie.  
 
Terwyl ons hierdie maatreëls toepas om die energiekrisis op te los, dink ons steeds aan die risiko's wat klimaatsverandering vir ons samelewing inhou.   
 
Uiterste weerstoestande in die vorm van droogte, vloede en wegholbrande hou ʼn al hoe groter risiko in vir mense se gesondheid, welstand en veiligheid.   
 
Ons sal voortgaan met die regverdige oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie teen ʼn pas wat ons land kan bekostig en op ʼn manier wat energiesekerheid waarborg.   
 
Ons sal ons regverdige oorgang op ʼn manier onderneem wat moontlikhede skep vir nuwe beleggings, nuwe industrialisering en, bo alles, die skep van nuwe werksgeleenthede.   
 
Die presidensiële klimaatskommissie rig baie van hierdie werk en bou sodoende ʼn nuwe model vir inklusiewe en kollektiewe besluitneming wat daardie individue, werkers en gemeenskappe insluit wat die meeste deur die oorgang geraak word.   
 
Deur die Regverdige Energie-oorgangsbeleggingsplan sal R1,5 triljoen oor die volgende vyf jaar op nuwe terreine in ons ekonomie belê word, soos hernubare energie, groen waterstof en elektriese voertuie.   
 
Verskeie nuwe sektore tree na vore in die ekonomie, soos belangrike groen waterstof, elektriese voertuie en brandstofselle.  
 
Verskeie projekte is reeds op dreef, onder meer die ontwikkeling van ʼn nuwe fasiliteit deur Sasol by Boegoebaai in die Noord-Kaap, die Prieska-kragreserwe in die Vrystaat en die Waterstofvallei-inisiatief in Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal.  
 
Die Noord-Kaap het reeds baie meer as R100 miljard se beleggings in hernubare energieprojekte gelok.  
 
Hierdie en ander massiewe beleggings in hernubare energie sal werk skep en plaaslike ekonomieë stimuleer, nie net in die Noord-Kaap nie, maar ook in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Mpumalanga, wat selfs die droogste woestyn in ’n reuse-energiebron sal verander.   
 
Bo alles, sal hierdie regverdige oorgang werkers en gemeenskappe in kwesbare bedrywe prioritiseer om te verseker dat niemand agterbly nie.   
 
Mede-Suid-Afrikaners, 
 
Ons ekonomie sal baie vinniger moet groei as ons werkloosheid sinvol wil verminder. 
 
In verlede jaar se Staatsrede het ons gepraat van ons voorneme om 'n omvattende maatskaplike kontrak te sluit wat alle maatskaplike vennote in 'n gemeenskaplike program byeen sal bring om ons ekonomie te herbou en sterker groei moontlik te maak.  
 
Ons was nie in staat om 'n maatskaplike kontrak binne die tydraamwerk wat ons in die vooruitsig gestel het te sluit nie, omdat verskeie nuwe situasies ontstaan het wat dit moeilik gemaak het vir maatskaplike vennote om konsensus te bereik.  
 
Die maatskaplike vennote het egter hul voorneme bekend gemaak om 'n maatskaplike kontrak te sluit, en het voortgegaan met die saamstel van 'n raamwerk vir gesamentlike optrede op sleutelgebiede soos energie, vervoer en logistiek, werkskepping en vaardigheidsontwikkeling, belegging en lokalisering, maatskaplike beskerming, misdaad en korrupsie. 
 
Hoewel ons daartoe verbind bly om 'n nuwe konsensus tussen alle sektore van ons samelewing te bewerkstellig, het ons ook met praktiese samewerking op spesifieke gebiede begin. Verskeie ander ooreenkomste is onder maatskaplike vennote gesluit. 
 
Ons sien die verbintenis van alle maatskaplike vennote in die ooreenkomste wat gesluit is om die COVID-19-pandemie te beveg en die grootste inentingsprogram in ons geskiedenis te onderneem.  
 
Ons het dit ook gesien in inisiatiewe soos die Solidariteitfonds wat die samelewing, burgeraktivisme en befondsing gemobiliseer het om gemeenskaplike doelwitte te bereik, en in vennootskappe om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF) te beëindig, asook om te reageer op die uitwerking van klimaatsverandering.  
 
Ons het die voordele van die benadering om belegging te bevorder en om meesterplanne te ontwikkel gesien in sektore van die ekonomie soos motors, klere en tekstiele, pluimvee, suiker, landbou en globale sakedienste. 
 
Die meesterplanne wat beklink is ondersteun die herlewing van die betrokke sektore, die inspuiting van belegging deur die private sektor en die skep van nuwe werksgeleenthede en lewensbestaan.  
 
Ons is bly dat maatskaplike vennote, veral besighede, ondersteuning bied om die Energie-aksieplan te implementeer in die gees van sosiale kontrakte. Net so het ons 'n noue werkende vennootskap met arbeid sowel as gemeenskapsontwikkeling om ander aspekte van die reaksie op die energiekrisis te ondersteun.  
 
Nie alleen is energie noodsaaklik vir ekonomiese groei nie, maar ook vir betroubare watervoorsiening en 'n doeltreffende vervoer- en padinfrastruktuurstelsel.   
 
Ons spoornetwerk kry swaar weens baie jare van onder-belegging, ’n gebrek aan instandhouding, kriminele aktiwiteite en ondoeltreffendheid. 
 
Om dit die hoof te bied, het ons verlede jaar die Nasionale Spoorwegbeleid goedgekeur om die modernisering en hervorming van die spoorwegsektor te lei, wat onder meer voorsiening maak vir derdeparty-toegang tot ons spoorwegnetwerk.  
 
Ons werk in alle sektore van die regering daaraan om 'n Transnet-padkaart te ontwikkel wat ons beleidsverpligtinge ʼn werklikheid sal maak, insluitend die herstrukturering van Transnet-spoorvrag om teen Oktober 2023 'n afsonderlike infrastruktuurbestuurder vir die spoornetwerk te skep.  
 
Transnet en privaatsektormaatskappye sal vennootskappe by die Durban- en Ngqura-houerterminale sluit om nuwe belegging in ons hawens moontlik te maak en die doeltreffendheid daarvan te verbeter. 
 
Dit sal ons hawens help om weer hulle wêreldwye posisie as van die doeltreffendste hawens te herwin. 
 
Beduidende sukses is behaal met die herposisionering van die Port Elizabeth-voertuigterminaal, wat sy kapasiteit meer as verdubbel het en reeds 'n toename in uitvoer bereik het.  
 
Nog talle voertuie wat vir oorsese markte bestem is, is van die Port Elizabeth-voertuigterminaal afkomstig.  
 
Transnet herstel ook sy ongebruikte lokomotiewe en brei sy vloot uit.   
 
Ons het uitdagings in die gesig gestaar wat die vervoer van pendelaars op die passasierspoorlyn betref. 
 
Ná die herstrukturering waarmee die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika besig is, is 13 pendelspoorlyne heropen, wat die reiskoste vir baie werkers aansienlik verlaag.   
 
Die betroubare voorsiening van water is noodsaaklik vir die welstand van mense en die groei van ons ekonomie.  
 
Om watersekerheid nou en in die toekoms te verseker, neem die Departement van Water en Sanitasie die voortou om in  groot infrastruktuurprojekte regoor die land te belê.   
 
Nadat dit vir etlike jare vertraag is, word daar vanjaar met volskaalse konstruksiewerk aan die tweede fase van die Lesotho-Hoogland-projek begin.   
 
Die Lesotho-Hoogland-projek is van kritieke belang om die sekuriteit van watervoorsiening aan Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en die Noord-Kaap te verseker.  
 
Etlike dekades nadat dit die eerste keer voorgestel is en nege jaar nadat ’n sooispitseremonie gehou is, sal die eerste fase van die Umzimvubu-waterprojek in die volgende finansiële jaar begin.  
 
Hierdie fase, wat die bou van die Ntabelanga-dam, besproeiingsinfrastruktuur en die verspreiding van water na gemeenskappe behels, sal deur die regering gefinansier word.  
 
Die volgende fase is die bou van die Lilane-dam, wat 'n hidrokragstasie sal insluit.
 
Groot projekte om die kapasiteit van die Clanwilliam-dam, Hazelmere-dam en die Tzaneen-dam te vergroot, sal die voorsiening van water aan die Weskus, eThekwini en die oostelike deel van Limpopo verbeter.   
 
Verlede jaar het ons ’n omvattende omkeerplan aangekondig om die proses vir watergebruikslisensie-aansoeke te stroomlyn, wat noodsaaklik is om groter belegging moontlik te maak.  
 
Sedertdien het ons die agterstand van watergebruikslisensies uit die weg geruim en die omkeertyd vir aansoeke tot 90 dae verminder.   
 
Ons infrastruktuurbouprogram tel spoed op deur die werk van die Infrastruktuurfonds en Infrastruktuur Suid-Afrika, wat op die been gebring is om strategiese infrastruktuurprojekte te ondersteun. 
 
Een van die grootste struikelblokke vir infrastruktuurbelegging is die gebrek aan tegniese vaardighede en projekbestuurskapasiteit.  
 
Om dit reg te stel, is R600 miljoen aan Infrastruktuur Suid-Afrika toegeken vir projekvoorbereiding, spesifiek in landelike gebiede en gebiede met gebrekkige hulpbronne.   
 
Die ondersteunings- en beplanningsmeganismes wat ons oor etlike jare in plek gestel het, begin nou vrugte afwerp ten opsigte van verhoogde openbare belegging in infrastruktuur.  
 
Teen Januarie vanjaar was projekte ter waarde van R232 miljard in aanbou en projekte ter waarde van byna R4 miljard is voltooi.   
 
Die voltooide projekte sluit in nuwe menslike nedersettings in Gauteng, opgradering van paaie en die ontwikkeling van klein hawens.  
 
In ’n belangrike ontwikkeling het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap – SANRAL – padboukontrakte ter waarde van R18 miljard oor die afgelope drie maande toegeken.  
 
Die konstruksie van die Msikaba- en Mtentu-brûe wat voltooi word, sal dit baie makliker maak om in die Oos-Kaap te reis. 
 
Hierdie belegging sal die konstruksiebedryf aansienlik bevoordeel en grootskaalse werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en armoedeverligting moontlik maak, veral in nabygeleë landelike gemeenskappe.   
 
Verlede jaar het ons gesê dat ons meer landelike brûe sal bou as deel van die Welisizwe-program, om inwoners in staat te stel om maklik en veilig by skole, werkplekke en geriewe te kom.  
 
Vier en twintig brûe in KwaZulu-Natal is tans in aanbou en terreine word vir ’n verdere 24 brûe voorberei .  
 
In die telekommunikasiesektor het die voltooiing van die spektrumveiling nuwe belegging ontsluit en R14 miljard tot die fiskus bygedra. 
 
Deur die loop van vanjaar sal ons die oorblywende huishoudings na digitale televisiesein migreer en die afskakel van analoë uitsendings sal voltooi word.   
 
Dit sal waardevolle spektrum vrystel vir die uitrol van 5G-selfoonnetwerke en sal die koste van data verlaag.   
 
Hierdie dinge sal ons nader bring aan ons visie van bekostigbare, hoëspoed-internettoegang vir almal.   
 
In verlede jaar se Staatsrede het ons gesê dat ons sal fokus op die mobilisering van groter beleggingsvlakke, wat noodsaaklik is om die ekonomie te laat groei en werk te skep.   
 
Ons het gesê dat ons stukrag sal verleen aan die veldtog wat ons byna vyf jaar gelede begin het om R1,2 triljoen in nuwe belegging te verkry.   
 
Verlede jaar het die 4de Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie (SAIC) R367 miljard in beleggingsverpligtinge verkry, wat ons vyfjaar-beleggingsteiken stewig binne ons bereik plaas.   
 
Oor die afgelope jaar het baie van hierdie verpligtinge daartoe gelei dat die maatskappye wat daardie verbintenisse aangegaan het, in nuwe fabrieke, oproepsentrums, sonkragaanlegte, ondersese optieseveselkabels, die uitbreiding van produksielyne en die aanvaarding van nuwe tegnologieë belê het.   
 
Dit is belangrik dat hierdie beleggings nuwe werksgeleenthede en nuwe geleenthede vir klein opkomende ondernemings tot gevolg gehad het.   
 
Op 13 April vanjaar gaan ons ons 5de SAIC hou.   
 
By hierdie konferensie sal ons ’n nuwe teiken stel om teen 2028 meer as R2 triljoen in nuwe belegging te mobiliseer.   
 
Die beleggings wat tot dusver in die ekonomie ingevloei het, het bygedra tot ’n aansienlike toename in plaaslike produksie.   
 
Hierdie beleggings het ons pogings om plaaslik te koop, aangemoedig.   
 
Verlede jaar het ek die Staatsrede gelewer met ’n pak klere en skoene wat trots in Suid-Afrika gemaak is.   
 
Ek drink vanaand water uit ’n glas wat verlede week in Wadeville gemaak is deur werkers van Katlehong, Vosloorus en Germiston.   
 
Suid-Afrika voer al vir baie jare sy drinkglase in.  
 
Nou vervaardig ons dit al hoe meer plaaslik.   
 
Maar dit is nie net glase nie.  
 
As jy hospitaal toe gaan vir ’n operasie, is die kans goed dat jy narkose sal ontvang wat in ’n wêreldklas-vervaardigingsfasiliteit in die Oos-Kaap gemaak is.   
 
Tydens my staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk verlede jaar het ’n Suid-Afrikaanse firma ’n lisensie gekry om vir die eerste keer hier in Suid-Afrika ’n orale entstof vir cholera te vervaardig.   
 
Ooreenkomste vir samesmelting met mededingers het daartoe gelei dat meer brandstof plaaslik geraffineer word en meer voedsel by plaaslike boere gekoop kan word.   
 
Verlede jaar het ons ons daartoe verbind om belegging in die hennep- en daggasektor te ontsluit.  
 
Ons werk daaraan om bemagtigende toestande te skep sodat die sektor kan groei.   
 
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en die Departement van Gesondheid sal die bestaande toestande vir die verbouing van hennep en dagga ondersoek om toe lat dat dit in die buitelug verbou kan word en oeste van tradisionele boere versamel kan word.   
 
Dit sal enorme ekonomiese energie in die landelike gebiede van die land ontsluit, veral in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.  
 
Dringende werk word deur die regering gefinaliseer om ’n bemagtigende regulatoriese raamwerk te skep vir ’n benadering wat die volledige plant en heeltemal wettige doeleindes steun vir die vervaardiging van komplimentêre medisyne, voedsel, skoonheidsmiddels en industriële produkte, in lyn met internasionale konvensies en beste praktyke.  
 
Dit sluit in die herprioritisering van departementele begrotings vir sektorontwikkeling en ondersteuning vir tradisionele, swart boere, en dat SAPD se wetstoepassing met regulatoriese hervormings in lyn gebring word.  
 
’n Groeiende ekonomie moet ook ’n toenemend inklusiewe ekonomie wees.   

Die eerste Konferensie vir Swart Nyweraars in Julie verlede jaar het die suksesse van swart Suid-Afrikaners getoon in die vervaardiging van voedsel, motoronderdele, meubels, klere, staal, chemikalieë en mynbouprodukte, wat baie duisende werkgeleenthede skep en tot ons bruto binnelandse produk bydra.   
 
Ons het nou byna 1 000 swart nyweraars wat aan die program vir swart nyweraars deelneem. 
 
Een voorbeeld van hierdie nyweraars se tegnologiese bekwaamheid is dat een van die pryswenners by die konferensie, Astrofica Technologies, 'n maatskappy is met 'n swart vrou, Jessie Ndaba, as medestigter, wat data-oplossings vir die bedryf van satelliete verskaf.  
 
Ons het die afgelope jaar vordering gemaak deur groter vlakke van werkerseienaarskap in die ekonomie te bereik.   
 
Daar is nou meer as 400 000 werkers wat aandele besit in die firmas waarvoor hulle werk.   
 
Groei en die skepping van werksgeleenthede in ons ekonomie sal gedryf word deur klein en mediumgrootte ondernemings, koöperasies en informele ondernemings.   
 
Verlede jaar het ons die terugwip-leningskema begin, wat deur banke en ander finansiële instellings geadministreer word en deur die regering gewaarborg word, vir maatskappye wat finansiering nodig het om van die uitwerking van die pandemie te herstel.   
 
Die Departement van Kleinsakeontwikkeling sal saam met die Nasionale Tesourie werk oor hoe die skema versterk kan word om klein en mediumgrootte ondernemings en besighede in die informele sektor by te staan.  
 
Om die uitdaging van jeugwerkloosheid aan te pak, is die Belastingaansporing vir Indiensneming uitgebrei om besighede aan te spoor om meer jongmense in groot getalle aan te stel.   
 
Verlede jaar het ek aangekondig dat ons sal poog om rompslomp te verminder sodat ons land ontslae kan raak van die onnodige burokrasie wat ons dikwels terughou.   
 
Die span in die Presidensie wat verantwoordelik is rompslompvermindering, onder mnr Sipho Nkosi, werk saam met verskeie departemente om dit makliker te maak om sake te doen.    
 
Hulle het ’n koöperatiewe benadering gevolg en saam met departemente en agentskappe gewerk op gebiede soos die mynregtestelsel, operateurlisensies vir toerismevervoer, visums en werkspermitte, vroeëkinderontwikkeling en die informele sektor.   
 
Ons sal vanjaar wysigings aan die Wet op Besighede, 1991 (Wet 71 van 1991) finaliseer om regulatoriese hindernisse vir klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO's) en koöperasies te verminder en dit vir entrepreneurs makliker te maak om besighede te begin.   
 
Deur die Small Enterprise Finance Agency beplan ons om R1,4 miljard se finansiering aan meer as 90 000 entrepreneurs te verskaf.   
 
Die regering werk in vennootskap met die SA KMO-fonds daaraan om 'n R10 miljard-fonds te stig om KMMO-groei te ondersteun. Die regering kyk na die moontlikheid om R2,5 miljard vir die fonds te voorsien en dan die balans van R7,5 miljard uit die private sektor te verkry.  
 
Die lisensiëring van die PostBank sal die grondslag lê vir die skepping van ’n staatsbank wat finansiële dienste aan KMMO's, besighede in besit van die jeug en vroue en onderbediende gemeenskappe sal verskaf.   

Terwyl die Nasionale Vergadering die PostBank-wysigingswetsontwerp oorweeg, hersien die PostBank sy diensaanbiedinge sodat dit ’n lewensvatbare en bekostigbare alternatief tot handelsbanke kan bied.   
 
Die mees doeltreffende en volhoubare manier om ’n ekonomie te bou, is om mense toe te rus met die vaardighede en kennis om dit te dryf.   
 
Ons werk dus daaraan om die skakel te versterk tussen die vaardighede wat ons ontwikkel en die vaardighede wat die werkplek nodig het.   
 
Die Nasionale Vaardigheidsfonds sal vanjaar R800 miljoen voorsien om vaardighede in die digitale en tegnologiesektor te ontwikkel deur middel van ’n innoverende model wat betaling vir opleiding aan indiensnemingsuitkomste koppel.   
 
Ons herhaal ons oproep aan maatskappye, departemente en SOE’s om die werkservaring vir jongmense wat intreevlakposte soek, te skrap.  
 
Verlede jaar het ons gesê dat ons meer as 10 000 kollege-gegradueerdes in Tegniese- en Beroepsonderwys en Opleiding (TVET) in diens sal plaas.   
 
Ons het daardie syfer verbygesteek en het nou ’n teiken vir 2023 gestel van 20 000 TVET-gegradueerdes wat in diens geneem moet word.   
 
Die aantal studente wat ambagsopleiding in TVET-kolleges kry, sal in die 2023 akademiese jaar van 17 000 tot 30 000 verhoog word.
 
Een van die sleutelbestanddele vir ekonomiese groei en mededingendheid is die vermoë om vaardighede te lok wat die ekonomie nodig het.   
 
Nadat ons 'n omvattende hersiening van die werkvisumstelsel voltooi het, sal ons vinnig optree om die aanbevelings wat gemaak is, te implementeer.   
 
Dit sluit in die vestiging van ’n meer buigsame punte-gebaseerde stelsel om geskoolde immigrasie te lok, die implementering van ’n betroubare werkgewerskema om die proses vir die uitreik van visums aan groot beleggers makliker te maak en die vereenvoudiging van aansoekvereistes.   
 
Ons sal ook ’n visum vir afstandwerkers en ’n spesiale bedeling vir hoëgroei-beginnerbesighede instel. 
 
Terwyl die hervormingsprogram aan die gang is, sal ons aanhou om openbare en maatskaplike indiensneming te ondersteun om werk te verskaf aan diegene wat dit nodig het.   
 
Verlede jaar het ons gepraat oor die waarde van die presidensiële indiensnemingstimulus vir die verskaffing van werk- en bestaansgeleenthede.  
 
Die inisiatief het nou meer as ʼn miljoen geleenthede geskep, en het elke provinsie en distrik in ons land bereik.   
 
Verlede week het ’n nuwe groep van 150 000 skoolassistente by meer as 22 000 skole begin werk, wat waardigheid, hoop en lewensbelangrike werkservaring bied aan jongmense wat werkloos was.   
 
Die Maatskaplike Indiensnemingsfonds is besig om 50 000 deelnemers in sy volgende fase te werf om werk vir die algemene welsyn te onderneem, en die hernude Nasionale Jeugdiens sal ’n verdere 36 000 geleenthede skep deur niewinsgewende en gemeenskapsgebaseerde organisasies. 
  
Die Departement van Binnelandse Sake het die eerste groep van 10 000 werklose jongmense aangestel om meer as 340 miljoen papiergebaseerde burgerrekords te digitiseer.  
 
Daar is nou meer as drie miljoen gebruikers geregistreer op SAYouth.mobi, ’n nul-tarief aanlynplatform vir jong Suid-Afrikaners om toegang te kry tot geleenthede om te leer en te verdien.  
 
Dit word gedoen in noue samewerking met die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), wat steeds waardevolle hulp aan jong entrepreneurs en werksoekers bied.  
 
Ek loof werklikwaar die NYDA vir die wyse waarop hulle die jeug help om werk te kry. 

Die presidensiële indiensneming-stimulus help mense ook om hulle eie bestaan te verdien.   
 
Ongeveer 140 000 kleinskaalse boere het insetkoepons ontvang om saad, kunsmis en toerusting te koop, wat ’n hupstoot is vir voedselsekuriteit en landbouhervorming.   
 
Hierdie inisiatief het tot die bewerking van sowat 640 000 hektaar grond gelei. 
 
’n Indrukwekkende 68% van hierdie boere is vroue.  
 
Vanjaar beoog ons om nog 250 000 insetbewyse aan kleinskaalse boere te verskaf.  
 
Hierdie is voorbeelde van die verskil wat die regering deur innovasie, kreatiwiteit en toewyding in mense se lewens kan maak.   
 
Mede-Suid-Afrikaners, 
 
Die stygende lewenskoste is besig om armoede en ongelykheid te vererger.   
 
Miljoene Suid-Afrikaners kan nie vir hulleself en hul gesinne voorsien nie.   
 
Daar is die enkelma in Alex wat bekommerd is oor hoe sy gaan oorleef terwyl die koste van mielies en taxi-tariewe aanhou styg.  
 
Daar is die fabriekswerker in Gqeberha wat nou deur ’n onsekere toekoms in die gesig gestaar word aangesien beurtkrag die monteerlyn tot stilstand bring.  
 
Dit is die staat se taak om ’n minimum vlak van beskerming te verskaf, en geen Suid-Afrikaner moet onder daardie vlak wees nie.  
 
Op die oomblik is daar meer as 25 miljoen mense in ons land wat die een of ander vorm van inkomstesteun ontvang.  
 
Daarbenewens ontvang ongeveer twee miljoen behoeftige huishoudings gratis basiese water, gratis basiese elektrisiteit en gratis vaste-afvalverwydering.  
 
Ongeveer 60% van ons begroting word bestee aan wat bekend staan as die maatskaplike loon; die verskaffing van verskeie vorme van ondersteuning, basiese dienste en bystand aan huishoudings en individue om armoede en honger te bekamp.  
 
Ter ondersteuning van hierdie werk en om die stygende lewenskoste teë te werk, sal ons voortgaan met die maatskaplike noodverligtingstoelaag, wat tans ongeveer 7,8 miljoen mense bereik.  
 
Ons sal verseker dat bestaande maatskaplike toelaes verhoog word om die armes teen stygende inflasie te beskerm.  
 
Dit sal deur die Minister van Finansies in sy begrotingsrede uiteengesit word. 
 
Werk is aan die gang om 'n meganisme te ontwikkel vir geteikende basiese inkomste-ondersteuning vir die kwesbaarstes, binne ons fiskale beperkings.  
 
Dit sal voortbou op die innovasie wat ons deur die noodverligtingstoelaag ingestel het, insluitend die koppeling van data regoor die regering om seker te maak dat ons almal bereik wat behoeftig is.  
 
Die Nasionale Tesourie oorweeg die haalbaarheid van dringende maatreëls om die impak van beurtkrag op voedselpryse te versag.   
 
Vanjaar sal ons stappe doen om massiewe waarde vir arm huishoudings te ontsluit deur die verskaffing van titelaktes vir gesubsidieerde huise te bespoedig.  
 
Die huidige agterstand in die verwerking van titelaktes is meer as ʼn miljoen huise, wat na raming bates van R242 miljard beloop, wat in die hande van Suid-Afrika se armste huishoudings behoort te wees.  
 
Ons sal nie net daarop fokus om hierdie agterstand uit te wis nie, maar om die titelaktestelsel doeltreffender en meer toeganklik te maak. 
 
Soos ons verlede jaar in die Staatsrede onderneem het, het die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur die oordrag van 14 000 hektaar staatsgrond vir behuising afgehandel.  
      
Toegang tot gehalte-onderwys vir almal is die kragtigste instrument wat ons het om armoede te beëindig.  
 
Ons moet begin met kinders wat baie jonk is, deur hulle toe te rus met die grondslag wat hulle nodig het om te kan skryf en lees om te kan verstaan, sodat hulle kan leer en ontwikkel.  
 
Dit is dus sinvol dat die aantal kinders wat die Vroeëkinderontwikkeling (VKO)-subsidie ontvang, meer as verdubbel het tussen 2019 en 2022 en een en 'n halfmiljoen kinders bereik het.  
 
Die Departement van Basiese Onderwys is besig om die vereistes vir VKO-sentrums te stroomlyn om toegang tot steun te kry en duisende meer studente in staat te stel om regeringsubsidies te ontvang.   
 
Aan die ander kant van die reis na basiese onderwys, moet ons applous gee vir verlede jaar se matriekslaagsyfer van 80%, met alle provinsies wat verbeterde resultate toon.   
 
Dit is in vergelyking met die 76% van die vorige jaar.   
 
Die baccalaureus-slaagsyfer in geen-fooi-skole het van 55% in 2019 tot 64% in 2022 verbeter.   
 
Dit beteken dat die prestasie van leerders van armer skole geleidelik verbeter, wat die waarde van die ondersteuning wat die regering aan hulle bied bevestig .   
 
Hierdie resultate openbaar dat daar ’n stille revolusie in ons skole plaasvind.   
 
Skole moet veilig wees en moet doeltreffende leer en onderrig moontlik maak.   
 
Die Sanitation Appropriate for Education-inisiatief – bekend as SAFE – het saam met die regering se Inisiatief vir die Versnelde Lewering van Skoolinfrastruktuur 55 000 gepaste toilette gebou met hulpbronne van die openbare en private sektor.  
 
Om die vaardighede wat ons land nodig het te lewer, brei ons beroepsonderwys- en opleidingstelsels uit deur die implementering van die goedgekeurde kurrikulum van die driestroommodel.   
 
Hierdie jaar beplan die regering om die Omvattende Studentebefondsingsmodel vir hoër onderwys te finaliseer, veral vir studente wat buite die huidige kriteria vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente val; sodoende word diegene bereik wat bekend staan as die ‘vermiste middel’.   
 
Agbare lede, 
 
Geweldsmisdaad eis ’n swaar tol op elke Suid-Afrikaner.  
 
Gemeenskappe regoor ons land leef in vrees vir die veiligheid van hulle gesinne.  
 
Hierdie situasie kan nie so voortgaan nie.  
 
Ons versterk die SAPD om misdaad te voorkom en verbeter die kapasiteit van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en howe om te verseker dat oortreders voor die gereg gebring word.   
 
Dit sluit in om meer polisie in die openbaar beskikbaar te stel en om gespesialiseerde spanne op die been te bring wat op spesifieke soorte misdaad sal fokus.  
 
Verlede jaar het ons onderneem om 12 000 nuwe polisiepersoneel te werf.   
 
Sedertdien het meer as 10 000 nuwe rekrute aan polisie-akademies gegradueer en ’n verdere 10 000 sal vanjaar gewerf en opgelei word.   
 
Die gespesialiseerde polisiespanne wat daarvan werk maak om misdade soos ontvoering, afpersing en onwettige mynbou aan te pak, het al verskeie deurbrake gemaak, tientalle verdagtes in hegtenis geneem en verskeie skuldigbevindings verkry.   
 
Daar word ferm opgetree om werk te maak van ekonomiese sabotasie en verwante misdade wat ernstige skade aan die ekonomie aanrig.   
 
Multidissiplinêre ekonomiese infrastruktuurtaakspanne is nou operasioneel in 20 geïdentifiseerde brandpunte.   
 
Verlede jaar het ek die aandag gevestig op die enorme skade wat veroorsaak is deur die diefstal van koperkabel en metaal uit ons elektrisiteitstelsel, spoorlyne en ander openbare infrastruktuur.   
 
Sedertdien tree die polisie strenger op teen kabeldiefstal.   
 
Die regering het in Desember ’n tydelike verbod op die uitvoer van skrootkoperkabel en sekere metale ingestel om kriminele sindikate te ontwrig en ’n nuwe handelstelsel in plek te stel.   
 
Net soos ons ekonomiese hervormings in elektrisiteit, water, telekommunikasie en logistiek deur Operasie Vulindlela begin het, begin ons ’n proses van hervorming om die doeltreffendheid van ons misdaadbekamping te verbeter.   
 
Ons sal ons mededingendheid ten opsigte van oproepsentrums gebruik om die behoorlike funksionering van die 10111-hulplyn te ondersteun, in samewerking met die private sektor.   
 
Dit is om te verseker dat wanneer mense die polisie bel hulle oproepe beantwoord word en daar aan hulle noodgevalle aandag gegee word.  
 
Ons sal ook datagedrewe metodes op ’n meer gesofistikeerde manier gebruik om misdaadbrandpunte te identifiseer en te teiken.  
 
Daar sal aansienlik meer befondsing in hierdie begroting beskikbaar gestel word vir die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Spesiale Ondersoekeenheid.  
      
Misdade teen vroue en kinders bly 'n diep ontstellende kenmerk van ons nasionale lewe.   
 
In November verlede jaar het ons die tweede presidensiële beraad oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF) gehou om vordering met die implementering van die Nasionale Strategiese Plan te evalueer, wat as 'n omvattende, doeltreffende en verenigde reaksie op hierdie pandemie aanvaar is.  
 
Een van die groot suksesse van ons poging om geslagsgebaseerde geweld (GBV) te beveg, is die mate waartoe maatskaplike vennote rondom die nasionale strategiese plan saamgewerk het.  
 
In Januarie verlede jaar het ek drie belangrike wetgewingstukke onderteken wat groter beskerming aan oorlewendes van GBV bied en wat verseker dat oortreders nie meer wetgewende skuiwergate kan gebruik om vervolging te ontduik nie.  
 
Ons verbeter steeds toeganklikheid en funksionering van howe vir seksuele misdrywe en brei die netwerk van Thuthuzela-sorgsentrums uit.  
 
'n Sleutelaspek van die Nasionale Strategiese Plan is die ekonomiese bemagtiging van vroue.  
 
Sedert ons ons vasbeslotenheid aangekondig het om ten minste 40% van openbare aankope aan besighede in vrouebesit te rig, het ons daaraan gewerk om 'n bemagtigende omgewing te vestig om vroue-entrepreneurs te ondersteun.  
 
Ons het meer as 3 400 ondernemings in vrouebesit opgelei om hulle voor te berei om verkrygingsgeleenthede aan te gryp.  
 
Deur die Ekonomiese Vergadering vir Vroue het ons gesien dat bedryfsverenigings en maatskappye hulle verbind tot bedryfswye geslagstransformasieteikens.  
 
Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het ongeveer R9 miljard geoormerk om te belê in ondernemings wat deur vroue gelei word.   
 
Ander entiteite, insluitend die Openbare Beleggingskorporasie en die Nasionale Bemagtigingsfonds, het hulle daartoe verbind om voertuie vir spesiale doeleindes beskikbaar te stel om ondernemings in vrouebesit te ondersteun.   
 
Ons moet almal ons deel doen, as individue, instansies en leiers regoor die samelewing, om hierdie misdade teen vroue en kinders te beëindig.  
 
Verlede jaar het ek gesê dat ons beslissend sal optree teen korrupsie en ’n oortuigende breuk sal maak met die era van staatskaping.   
 
Die Staatskapingskommissie onder leiding van Hoofregter Raymond Zondo het sy werk voltooi en die laaste deel van hul verslag in Junie verlede jaar ingedien.   
 
As land is ons groot dank verskuldig vir die buitengewone openbare diens van Hoofregter Zondo, die kommissie se personeel en almal wat getuienis gelewer het.   
 
Die aanbevelings van die Kommissie word geïmplementeer volgens die plan wat ek in Oktober verlede jaar aan die Parlement voorgelê het sodat die sistemiese swakhede wat deur die Kommissie geïdentifiseer is, die hoof gebied kan word en daar nooit weer ʼn staatskaping sal kan wees nie.   
 
Die Nasionale Teenkorrupsie-Adviesraad, wat bestaan uit mense van regoor die samelewing, is in plek om raad te gee oor geskikte meganismes om korrupsie te stuit, insluitend 'n hersiening van die institusionele argitektuur vir die bekamping van korrupsie.   
 
Ons werk daaraan om die Getuiebeskermingseenheid te bekwaam en sal wysigings aan die Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (Wet 26 van 2000) en die Wet op Getuiebeskerming, 1998 (Wet 112 van 1998) aanbring om beskerming vir fluitjieblasers te versterk.   
 
Werk is reeds aan die gang om toegang tot die getuiebeskermingsprogram vir staatsamptenare wat wanadministrasie, korrupsie en onetiese gedrag blootlê, te verbeter.   
 
Ons sal die konsepwetsontwerp op Openbare Verkryging finaliseer om aandag te gee aan die swakhede wat deur die Staatskapingskommissie geïdentifiseer is en om doeltreffendheid, waarde vir geld en deursigtigheid te verbeter.   
 
Nuwe lewe is in ons wetstoepassingsagentskappe geblaas en hulle neem ferm stappe teen maatskappye en individue wat na bewering by staatskaping betrokke was.   
 
Die NVG-ondersoekdirektoraat, wat ek in 2019 gestig het, het 187 beskuldigdes hof toe geneem in 32 sake van staatskaping en korrupsie.   
 
Meer as R7 miljard is tot dusver uit staatskapingsake aan die staat terugbesorg.   
 
Tot op hede is R12,9 miljard se fondse en bates gevries.   
 
Die Ondersoekdirektoraat sal vanjaar as 'n permanente entiteit binne die NVG gevestig word.   
 
Mede-Suid-Afrikaners, 
 
Om enige vordering te kan maak in die hantering van die dringende uitdagings waarmee ons te kampe het, het ons ’n bekwame en doeltreffende Staat nodig.  
 
Ons grootste swakhede lê in staatsbeheerde ondernemings en plaaslike regering.  
 
Baie van ons SOE's sukkel met beduidende skuld, onderbelegging in infrastruktuur, die gevolge van staatskaping en 'n tekort aan vaardighede.   
 
Ons sal die aanbeveling van die Presidensiële SOE-raad implementeer om 'n staatsbeheerde beheermaatskappy te stig as deel van 'n gesentraliseerde aandeelhouersmodel wat doeltreffende toesig oor SOE’s sal verseker.   
 
Ek het die Presidensie en die Nasionale Tesourie afsonderlik opdrag gegee om saam te werk om staatsdepartemente, -entiteite en -programme oor die volgende drie jaar te rasionaliseer.  
 
Die Nasionale Tesourie beraam dat ons op mediumtermyn ’n potensiële besparing van R27 miljard kan bewerkstellig as ons oorvleuelende mandate regstel, ondoeltreffende programme sluit en entiteite konsolideer waar toepaslik.  
 
Die swak prestasie van baie plaaslike regerings is steeds kommerwekkend.   
 
Te veel van ons munisipaliteite, 163 uit 257, is disfunksioneel of in nood weens swak bestuur, ondoeltreffende en soms korrupte finansiële en administratiewe bestuur en swak dienslewering.  
 
Die regering is besig om 'n aantal ingrypings te implementeer om mislukkings op plaaslike regeringsvlak die hoof te bied en basiese dienslewering te verbeter.   
 
Dit sluit in die verbetering van die kapasiteit van openbare verteenwoordigers en amptenare, die instandhouding en opgradering van plaaslike infrastruktuur, en die beroep op die magte van die nasionale regering om in te gryp waar munisipaliteite nie hulle verantwoordelikhede nakom nie.   
 
’n Professionele staatsdiens, beman deur bekwame, toegewyde en etiese mense, is van kritieke belang vir ’n doeltreffende staat en die beëindiging van korrupsie, patronaatskap en vermorsing.   
 
In reaksie op die Staatskapingskommissie en in ooreenstemming met die raamwerk vir die professionalisering van die staatsdiens, sal integriteitsassesserings ’n verpligte vereiste vir werwing in die staatsdiens word en toelatingseksamens sal ingestel word.   
 
Ons wysig wetgewing en versterk die rol van die Openbare Dienskommissie om te verseker dat gekwalifiseerde mense in senior bestuursposte aangestel word en om te beweeg na die daarstelling van 'n enkele, geharmoniseerde staatsdiens.  
 
Agbare lede, 
 
Net soos ons daartoe verbind is om die lot van ons landgenote en vroue te verbeter en om gedeelde welvaart vir almal te bevorder, is ons ook verbind tot die bereiking van ’n Beter Afrika en ’n Beter wêreld. 
 
Ons is baie bekommerd oor die onlangse toename in spanning tussen die Israeli’s en die Palestyne, en vra vir ’n einde aan vyandelikhede en vir ’n hervatting van die gestaakte vredesproses. 
 
Suid-Afrika betuig sy innige meegevoel met die regering en mense van Turkye ná die verwoestende aardbewing vroeër vandeesweek.  
 
As ’n land is ons geweldig trots op Gift of the Givers se pogings om diegene wat deur die aardbewing geraak is te help. 
 
Ons bly diep bekommerd oor die voortslepende Rusland-Oekraïne-konflik en doen 'n beroep op alle partye om vyandelikhede te staak en 'n vreedsame oplossing deur dialoog te vind.  
 
Suid-Afrika se lot is onlosmaaklik verbind aan dié van ons kontinent, en veral aan dié van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. 
 
Ter wille van ons eie stabiliteit en voorspoed is ons verplig om ingrypings te soek wat vrede, stabiliteit en ontwikkeling na ons kontinent sal bring.  
 
Ons sal voortgaan om handels- en beleggingsgeleenthede met ons wêreldwye handelsvennote uit te brei en sal poog om beleggings en finansiering na Suid-Afrika te lok deur ons deelname aan multilaterale forums soos die G20, wat ons in 2025 sal aanbied. 
 
Suid-Afrika hanteer vanjaar die voorsitterskap van die groep van lande Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. 
 
Ons sal fokus op samewerking rakende volhoubare ontwikkeling, regverdige energie-oorgang, industrialisasie en die implementering van die Afrika kontinentale vryhandelsgebied. 
 
Suid-Afrika, in samewerking met ons bure in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie, sal binnekort ons nywerheidsaanbod op die Afrika kontinentale vryhandelsgebied finaliseer. 
 
Sodra dit ten volle in werking gestel is, sal kontinentale vryhandel 'n ongekende geleentheid bied om ekonomiese integrasie in Afrika te verdiep, nasionale ekonomieë te laat groei en nuwe grense en markte vir Suid-Afrikaanse maatskappye te ontsluit. 
 
Mede-Suid-Afrikaners,   
 
ʼn Nasie se ware karakter kom na vore in tyd van krisis.   
 
ʼn Nasie word gedefinieer deur hoe sy mense die grootste probleme verwerk – werk hulle met mekaar saam en pak hulle hul uitdagings aan as een, verenig deur ’n gemeenskaplike doel, of sien hulle die probleme en gooi tou op?   
 
Ons is 'n nasie wat te kampe het met die uitdagings van die hede, maar ons is ook 'n nasie wat daarna streef om die belofte van ons toekoms na te kom.   
 
Toe ons ons eerste treë op die pad na demokrasie gegee het, het ons ’n duidelike visie gehad van waarheen die pad ons sou lei.   
 
Ons het ’n land gesien waarin alle mense gelyk is.   
 
Ons het ’n land gesien waarin die rykdom van ons hulpbronne deur almal geniet sou word.   
 
Ons het ’n land gesien waarin ons in vrede kon saamleef, waarin ons kon saamwerk om ’n gemeenskaplike identiteit en 'n gedeelde toekoms te bou.   
 
Ons nasie is gegrond op 'n Grondwet wat die demokratiese waardes van waardigheid, gelykheid en vryheid, asook die regte van ʼn ieder en elk van ons bevestig.   
 
Die aksies wat ons vanaand uiteengesit het, wat voortbou op die werk wat ons reeds gedoen het, sal ons nader aan daardie visie bring.   
 
Dit sal ons in staat stel om, terwyl ons saamwerk en ʼn doel voor oë het, as ’n getransformeerde nasie uit hierdie krisis te kom.   
 
Ons sal uit hierdie krisis kom met ’n elektrisiteitsnetwerk wat doeltreffender, betroubaarder en mededingender is.   
 
Ons sal na vore tree met hawens en spoorweë wat weer met die beste in die wêreld vergelyk kan word, met breëbandtoegang vir meer Suid-Afrikaners in meer dele van die land, en met ’n volhoubare voorsiening van gehalte-water.   
 
Ons sal meer toeriste in ons land verwelkom en die vaardighede wat ons ekonomie nodig het, ontwikkel en lok.   
 
Ons sal werk skep vir diegene wat werkloos is, en hoop gee aan diegene wat te lank gewag het.   
 
Met meer polisie op die strate, met funksionerende gemeenskapspolisiëringsforums en ’n doeltreffende en onafhanklike vervolgingsgesag, sal ons mense op die beskerming van die Staat kan staatmaak.   
 
Deur ekonomiese sabotasie en georganiseerde misdaad te beveg, sal ons infrastruktuur veiliger wees en sal sakeondernemings meer vrylik kan funksioneer.   
 
Deur ’n versterkte en uitgebreide maatskaplike beskermingstelsel sal minder mense in armoede leef en minder huishoudings honger wees.   
 
Ons moet al hierdie dinge doen, nie net om ons onmiddellike uitdagings te oorkom nie, maar om die belofte van Suid-Afrika te hernu.   
 
Dit is 'n belofte wat ons in ons harte en in ons dade lewend gehou het.   
 
Vanjaar sal dit 10 jaar wees sedert ons afskeid geneem het van Nelson Mandela, die eerste president van 'n demokratiese Suid-Afrika, ons geliefde Madiba. Dit sal ook 105 jaar wees sedert sy geboorte. 
 
Terwyl ons sy betekenisvolle lewe eer, laat ons inspirasie put uit sy woorde tydens sy inhuldiging in 1994: 
 
“Uit die ervaring van ʼn buitengewone, langdurige menslike ramp, moet 'n gemeenskap gebore word waarop die hele mensdom trots sal wees. 
 
“Ons daaglikse dade as gewone Suid-Afrikaners moet ʼn werklike Suid-Afrikaanse realiteit skep wat die mensdom se geloof in geregtigheid sal herstel, sy vertroue in die edelmoedigheid van die menslike siel sal versterk en ons hoop op ʼn wonderlike lewe vir almal sal onderhou.” 
 
Om so ʼn gemeenskap te bou, om die groot probleme van die hier en nou te oorkom, moet ons saamwerk. Ons moenie opgee nie.   
 
As nasie moet ons, nou meer as enige ander tyd, ons ware karakter na vore bring.  
 
Ons moet saamwerk en niemand agterlaat nie.  
 
Ek bedank julle. 

Share this page

Similar categories to explore