President Cyril Ramaphosa: Jongste inligting oor die veiligheidsituasie in die land

My mede-Suid-Afrikaners
 
Ek het vroeër vandag die kwaMashu-, Springfield-, Mobeni- en Umlazi-distrikte in KwaZulu-Natal besoek, wat areas is waar ongekende geweld en vernietiging die afgelope paar dae plaasgevind het.
 
Die strate en geboue wat ek gesien het, toon die tekens van plundery en chaos.
 
Maar wat die vernietigendste is, is die tol wat hierdie gebeure op mense se lewens, hulle lewensbestaan en hul gevoel van veiligheid geëis het.
 
Die menslike tol gaan baie langer neem om te herstel.
 
Dit is nou duidelik dat die gebeure van die afgelope week niks minder is nie as ‘n opsetlike, gekoördineerde en goed beplande aanval op ons demokrasie.
 
Die grondwetlike orde van ons land word bedreig.
 
Die huidige onstabiliteit en voortgaande aanhitsing tot geweld is ‘n direkte oortreding van die grondwet en die oppergesag van die reg.
 
Hierdie dade is bedoel om die ekonomie lam te lê, sosiale onstabiliteit te veroorsaak en die demokratiese staat erg te verswak of selfs te vernietig.
 
Die mense agter hierdie dade het probeer om onder die dekmantel van ‘n politieke kwessie ‘n populêre opstand uit te lok.
 
Hulle het probeer om die sosiale en ekonomiese toestande waarin baie Suid-Afrikaners leef, uit te buit – toestande wat verswak het sedert die aanvang van die coronavirus-pandemie – en om gewone burgers en kriminele netwerke uit te lok om deel te neem aan opportunistiese dade van plundery.
 
Die daaropvolgende chaos is gebruik as ‘n rookskerm om ekonomiese sabotasie uit te voer deur middel van geteikende aanvalle op vragmotors, fabrieke, pakhuise en ander infrastruktuur wat nodig is vir die funksionering van ons ekonomie en die verskaffing van dienste aan ons mense.
 
Deur middel van die sosiale media, vals nuus en verkeerde inligting het hulle probeer om rassespanning en geweld aan te jaag.
 
Die ergste van alles is hulle het probeer om die armes en kwesbares tot hulle eie voordeel te manipuleer.
 
Tog, ten spyte van die wydverspreide vernietiging, het hierdie poging tot ‘n opstand misluk en nie momentum gekry nie.
 
Dit het misluk weens die ywer van ons veiligheidsmagte, en dit het misluk omdat Suid-Afrikaners dit verwerp het en opgestaan het ten gunste van ons duur verworwe demokrasie.
 
Ek het vasberadenheid in aksie gesien vandag soos ek deur die strate van eThekwini gestap het.
 
Ek het mense gesien wat die strate skoon maak, hulle lewens herbou, wat verenig in hulle diversiteit saamstaan – jonk en oud, mans en vroue, swart en wit.
 
Hulle was dankbaar vir die ondersteuning van die veiligheidsmagte en het dit duidelik gemaak dat hulle verenig staan en saam met die regering sal werk om stabiliteit te herstel.
 
My mede-Suid-Afrikaners,
 
Sedert die uitbreking van hierdie geweld het ten minste 212 mense hulle lewens verloor.
 
Van hierdie 212, is 180 in KwaZulu-Natal en 32 in Gauteng.
 
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek 131 gevalle van moord en het geregtelike doodsondersoeke na 81 gestorwenes se dood gelas.
 
Ons gedagtes en gebede gaan uit na die families van diegene wat hulle lewens verloor het weens hierdie sinnelose geweld. Dit is ‘n pyn wat geen familie en geen gemeenskap behoort deur te maak nie.
 
Sedert die aanvang van die onrus, het die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture (NatJOINTS) oor die 118 gevalle van openbare geweld, brandstigting, plundery en ander onrusverwante gevalle aangeteken.
 
Hierdie insidente is gekonsentreer in Gauteng en KwaZulu-Natal.
 
Sedert die onrus Maandag en Dinsdag sy hoogtepunt bereik het, was daar ‘n skerp afname in die aantal insidente en is die meeste areas nou kalm en rustig.
 
Oor die 2 550 mense is gearresteer in verband met die onrus, en spesiale reëlings is besig om getref te word om seker te maak dat hierdie mense geprioritiseer word.
 
Die vernietiging van eiendom en diefstal van goedere, het besighede, verbruikers en die land in geheel miljarde rande gekos.
 
Volgens voorlopige verslae wat deur NatJoints opgestel is, is omvangryke skade aan 161 winkelsentrums, 11 pakhuise, 8 fabrieke en 161 drankwinkels en -verspreidingspunte aangerig.
 
Dit sluit nie die skade in wat aan paaie en ander infrastruktuur aangerig is nie.
 
Mede-Suid-Afrikaners,
 
As regering moet ons erken dat ons swak voorbereid was vir ‘n georkestreerde veldtog van openbare geweld, vernietiging en sabotasie van hierdie aard.
 
Alhoewel ons die dapper dade van ons veiligheidsmagte op die grond hoof op prysstel, moet ons erken dat ons nie die vermoë en planne in plek gehad het om vinnig en beslis op te tree nie.
 
Ons polisie het ‘n moeilike situasie in die gesig gestaar en het uitermate selfbeheersing aan die dag gelê om enige lewensverlies of verdere eskalasie te voorkom.
 
Toe daar egter addisionele personeel ontplooi is, was hulle vinnige in staat om rus en vrede in die meeste dele wat geraak is, te herstel.
 
As hierdie krisis eers verby is, sal ons ons gereedheid en respons deeglik en krities in heroënskou neem.
 
Ons prioriteit is tans die volgende:
 
Eerstens, om die land te stabiliseer.
 
Tweedens, om seker te maak essensiële voorraad en infrastruktuur word voorsien.
 
Derdens, om noodleniging te verskaf, en ondersteuning te bied met herbouing en herstelwerk.
 
Vierdens, om die aktiewe poging van burgers aan te moedig ter verdediging van lewens, lewensbestaan en die demokrasie.
 
Om die land te stabiliseer, het ons die aantal wetstoepassers en veiligheidspersoneel op die grond met groot getalle vermeerder in Gauteng en Kwa-Zulu-Natal.
 
Ek het die ontplooiing van 25 000 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag goedgekeur om die werk van die polisie te ondersteun.
 
Hiervan is tans 10 000 lede op die grond en die oorblywende magte sal deur die loop van die naweek in hulle onderskeie areas van ontplooiing arriveer.
 
Bestendige vordering word gemaak om ons logistieke infrastruktuur te beveilig:

  • Die N3-snelweg tussen eThekwini en Gauteng is weer geopen en veiligheidsmagte is op hulle pos om noodsaaklike verskaffingsroetes oop te hou.
  • Die veiligheidsmagte werk saam met besighede om die veilige vervoer van brandstof, kos, suurstof, farmaseutiese produkte, chemikalieë en ander kritieke voorraad te verseker.
  • Werksaamhede by die Durbanse en Richardsbaaise hawens word hervat sodat invoere en uitvoere kan voortgaan.
  • Regulasies in terme van die Mededingingswet is uitgevaardig om maatskappye wat betrokke is by die verskaffing van essensiële goedere, in staat te stel om inligting oor die beskikbaarheid en aanvraag na sekere goedere te deel. Dit is om te help voorkom dat daar ‘n tekort aan essensiële goedere is en om die billike verspreiding van skaars essensiële goedere regoor die land te bevorder.  


Hierdie maatreëls sal verseker dat verskaffingskettings in intakt bly.
 
Ek wil beklemtoon dat daar nie ‘n tekort aan kos of kosvoorsiening in die meeste dele van die land is nie, en dat paniekaankope net die situasie sal vererger.
 
Behalwe om die polisie te help om orde te handhaaf, is SANW-lede ook ontplooi om sleutelinstallasies en kommersiële persele te wat noodsaaklik is vir die funksionering van die ekonomie en die ononderbroke voorsiening van dienste aan landsburgers.
 
Gespesialiseerde eenhede van ons wetstoepassingsagentskappe werk dag en nag om diegene aan te keer wat verantwoordelik is vir die beplanning en koördinering van hierdie geweld.
 
Ons sal geen moeite ontsien om hierdie individue aan die pen te laat ry nie.
 
Daar was oproepe uit verskeie oorde vir die verklaring van ‘n noodtoestand om hierdie geweld en vernietiging te bekamp.
 
Dit is verstaanbaar, gegewe die vlak en omvang van die wetteloosheid.
 
Ons siening is dat ‘n noodtoestand slegs uitgeroep sal word wanneer alle ander middele om die situasie te stabiliseer, ontoereikend blyk te wees.
 
‘n Noodtoestand sal die drastiese inperking van die basiese regte soos vervat in die grondwet, behels, wat geen verantwoordelike regering sou wou doen nie tensy dit absoluut noodsaaklik is.
 
Vir nou is dit ons vaste beskouing dat die ontplooiing van ons veiligheidsmagte, in samewerking met ons gemeenskappe en maatskaplike vennote regoor die land, in staat sal wees om orde te herstel en verdere geweld sal voorkom.  
 
Ons sal die vure blus wat brand en elke liewe kooltjie doodblaas.
 
Ons sal diegene identifiseer en teen hulle optree wat die vlam aangesteek het, sowel as diegene wat dit versprei het.
 
Ons sal diegene uitsnuffel wat hierdie geweld aangestig het. Hulle sal aanspreeklik gehou word vir hulle dade. Ons sal niemand toelaat om ons land te destabiliseer en daarmee weg te kom nie.
 
Ons sal geen persoon of groep toelaat om die gesag van ons demokraties verkose regering uit te daag nie.
 
Alhoewel ons veiligheidsmagte stelselmatig besig is om beheer op die grond te hervestig, sal die nagevolge van hierdie geweld nog deur alle Suid-Afrikaners gevoel word in die dae, weke en maande wat voorlê.
 
Die skade wat aangerig is aan noodsaaklike ekonomiese infrastruktuur, gaan tyd neem om herstel te word.
 
Dit sal op sy beurt weer ‘n impak hê op die beskikbaarheid van kos, brandstof, medisyne en ander voorrade – nie slegs in Suid-Afrika nie, maar regoor suider-Afrika.
 
Die geweld en vernietiging het enorme skade aan ons ekonomie aangerig op ‘n tydstip waar ons reeds sukkel om te herstel van die impak van die coronavirus-pandemie.
 
Dit het besighede vernietig en sal ongetwyfeld lei tot verder werkverlies.
 
Op die ou einde sal dit die armoede vererger en tot selfs erger swaarkry vir miljoene Suid-Afrikaners lei.
 
Die wydverspreide plundery van die afgelope week gaan heel moontlik lei tot ‘n verdere toename in Covid-19-infeksies.
 
Hierdie gebeure het ook ons Covid-19-inentingsprogram in Kwa-Zulu-Natal en Gauteng ontwrig net toe dit momentum begin kry het.
 
Dit is nou gebiedend noodsaaklik dat ons verdere stappe moet neem om ondersteuning aan huishoudings te verskaf en om besighede te help om voorraad te bekom en die besighede weer op te bou.
 
Ons is in die proses om onmiddellike voedselverligting aan huishoudings te verskaf. Ons teiken areas wat geraak is deur die plundery en waar mense nie toegang tot voedsel het nie.
 
Die provinsiale departemente van maatskalike ontwikkeling en SASSA sal hulle oorblywende begroting in die maatskaplike verligtingsprogram (Social Relief of Distress) gebruik om ondersteuning in die vorm van kospakkies, kontant en koopbewyse te bied.
 
Ons werk hard daaraan om alle SASSA-kantore in werking te stel. Kontantbetalingspunte sal na verwagting vanaf die 19e Julie hulle dienste hervat in al die areas wat veilig verklaar is om te funksioneer.
 
Om die geaffekteerde gemeenskappe met hulle onmiddellike behoefte by te staan, het die Solidariteitsfonds ‘n menslikenoodlenigingsfonds gestig om diegene wat tans die grootste nood het, by te staan. Ons doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie fonds te ondersteun.
 
Ons waardeer die ondersteun deur die groot aantal maatskappye, organisasies en geloofsgebaseerde groepe wat reeds begin het om ondersteuning aan gesinne in nood te voorsien.
 
Maatskaplik vennote het vergader om ‘n reeks maatreëls te bespreek wat geïmplementeer kan word om onmiddellik verligting binne ons fiskale vermoë te verskaf.
 
Dit sluit die voorsiening van noodvoedselverligting en ander bystand aan diegene in die grootste nood in.
 
Ons sal ook ons klein sakeondernemings help, insluitend dié in townships en landelike gebiede, om te herstel van die skade wat hulle gelei het.
 
Ons besigheidsmense verskaf belangrike goedere en dienste in ons gemeenskappe, en ons sal hulle help om hulle besighede te herbou
 
‘n Span binne die Presidensie en die Nasionale Tesourie is hard aan die werk om ‘n omvattende ondersteuningspakket te ontwikkel wat deur die kabinet goedgekeur moet word.
 
Ons sal binnekort in ‘n posisie wees om ‘n verdere aankondiging hieroor te maak.
 
Oor die korrtermyn is dit noodsaaklik dat ons die inentingsprogram so spoedig moontlik weer op koers kry, en ons sal geen moeite in hierdie verband ontsien nie.
 
Mede-Suid-Afrikaners,
 
Terwyl rus en vrede na die grootste deel van Gauteng en KwaZulu-Natal teruggekeer het, bly die bedreiging wat dit vir ons land en ons demokrasie inhou, ‘n werklikheid.
 
Diegene wat verantwoordelik was om hierdie veldtog van geweld en vernietiging te organiseer, is nog nie aangekeer nie en hulle netwerke is nog nie ontbloot nie.
 
Ons moet dus waaksaam bly en enige pogings om tot geweld aangehits te word, weerstaan.
 
Ons verwelkom die standvastige ondersteuning van godsdienstige, tradisionele, politieke party-, arbeids- en sakeleiers.
 
Ons loof daardie individue, organisasies en gemeenskappe wat die inisiatief geneem het, op vreedsame wyse, om rus en vrede te herstel en lewens, eiendom en infrastruktuur te beskerm.
 
Ons bedank al die mense wat op hulle pos gebly het onder moeilike en gevaarlike omstandighede en dienste aan ons mens en ons nasie verskaf het – die wetstoepassingspersoneel, gesondheidsorgwerkers, maatskaplike werkers, veiligheidswagte, munisipale werknemers en talle ander openbare amptenare in die voorste linies.
 
Ons bedank die joernaliste wat verslaggedoen het soos hierdie gebeure ontvou het en sodoende gehelp het om te verseker dat Suid-Afrikaners ingelig en bemagtig is..
 
Ons doen ‘n beroep op gemeenskappe regoor die lang om saam met die polisie te werk deur middel van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s).
 
Geen persoon moet die wet in eie hande neem nie.
 
Ons moet waak teen vigilantisme en enigiets wat verdere spanning kan aanblaas.
 
Ons doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om kalmte en selfbeheersing aan te moedig, om hulle daarvan te weerhou om vals inligting te deel en om dadelik enige gevalle van geweld aan die polisie te rapporteer.
 
Deur hierdie basiese dinge te doen, kan ons almal help om Suid-Afrika te beskerm.
 
Komende Sondag sal Suid-Afrika by mense regoor die wêreld aansluit ter viering van Nelson Mandela-dag.
 
Soos ons ons verbintenis tot ons demokrasie herbevestig, laat ons Mandela-dag gebruik om kos aan die mees kwesbare lede in ons gemeenskap te voorsien, ons strate skoon te maak en om die taak van heropbou te begin.
 
Alhoewel die veiligheidsmagte noodsaaklik is in die herstel van orde en stabiliteit, sal hierdie aanslag op ons demokrasie uiteindelik misluk omdat die mense van Suid-Afrika dit nie sal toelaat nie.
 
As ons saamstaan, sal geen opstand of geweld in hierdie land slaag nie.
 
Ons is in ‘n stryd gewikkel om ons demokrasie, ons grondwet en ons lewensbestaan te beskerm.
 
Hierdie is ‘n stryd wat ons nie kan bekostig om te verloor nie.
 
Wanneer ons terugkyk na hierdie tydgleuf in ons geskiedenis, laat ons sê dat ons ‘n groot bedreiging in die gesig gestaar het en dit gesamentlik oorwin het.
 
Laat ons getuies wees van die krag en duursaamheid van ons demokrasie, nie sy ondergang nie.
 
Laat ons praat van die triomf van ons grondwet, nie sy vernietiging nie.
 
Ons sal nooit toelaat dat hierdie groot projek van die mensdom, ons Suid-Afrikaanse demokrasie, misluk nie.
 
Laastens wil ek my medelye oordra aan die families van die volgende Suid-Afrikaners wat die afgelope paar dae gesterf het:

IKosi Sipho Mahlangu (Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers), Tsepo Tshola (een van ons briljante kunstenaars), Prof Ben Ngubane (voormalige premier van KwaZulu-Natal), Aubrey Mokoena (Leier van die “Release Mandela”-veldtog en voormalige LP), Khehla Mthembu (sakeleier), Dr Sam Gulube (voormalige Sekretaris van Verdediging), Geoff Makhubo (Burgemeester van Johannesburg), Dr Vanguard Mkosana (voormalige Direkteur-Generaal van Arbeid) en Michael Zuma (jonger broer van oud-president Zuma).

Mag God Suid-Afrika seën en sy mense beskerm.
 
Ek dank u.
 

 

Share this page

Similar categories to explore