Verklaring van die Kabinetsvergadering van 29 Mei 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet doen ’n beroep op gemeenskappe om op hul hoede te wees vir ’n moontlike herlewing van kriminele geweld wat buitelanders teiken. Die Kabinet is versigtig om hierdie geweld as xenofobia te bestempel, aangesien voorlopige bewyse daarop dui dat die dade hoofsaaklik deur misdaad gedryf word. Die Kabinet prys die wetstoepassingsagentskappe vir hul vinnige en doelgerigte optrede.

1.2. Die Kabinet spreek hul medelye uit met die familie en vriende van die jong mans wat hul lewens verloor het as gevolg van onbehoorlike inisiasie-seremonies. Die Kabinet beaam die oproep deur president Jacob Zuma vir spoedige optrede en vra tradisionele leiers en lede van die gemeenskap om op hul hoede te wees vir mishandeling of verwaarlosing.

Die Regering ondersteun die tradisies en kulture van ons uiteenlopende samelewing ten volle, maar benadruk dat dit met grondwetlike regte moet strook.
1.3. Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se onlangse deelname aan die Afrika-Unie (AU) Beraad, waar Suid-Afrika ’n aantal kwessies op die agenda vooropgestel het. Dit het ingesluit die Strategiese Plan van die AU-kommissie vir die tydperk 2014–2017 en die AU-begroting vir 2014; die stand van vrede en sekuriteit in Afrika; alternatiewe befondsingsbronne vir die AU, die post-2015 Ontwikkelingsagenda; die vergadering van die Oriënteringskomitee vir Staatshoofde en Regerings van die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling; en die Afrika-gelyke-oorsigmeganisme (APRM) se Forum-beraad.

1.4. Die Kabinet het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se leierskap geprys vir hul leiding in die proses om Zimbabwe te help om ’n nuwe grondwet te aanvaar. Die Zimbabwiese grondwet is ’n beduidende mylpaal vir die suksesvolle implementering van die Wêreldwye Vredesooreenkoms.

1.5.  Op die vooraand van Jeugmaand doen die Kabinet ’n beroep op alle vlakke van die samelewing om die belangrikheid van programme wat dwelmmisbruik beveg te beklemtoon. Die Jeugmaand-tema is “Kom ons werk saam vir jeugontwikkeling en ’n dwelmvrye Suid-Afrika”.

Die Regering se daadwerklike optrede om dwelmmisbruik in Eldoradopark, Gauteng, hok te slaan, bring die mense in daardie gebied nader aan die verwerkliking van ’n dwelmvrye gemeenskap. Die Kabinet neem kennis van en verwelkom die vordering wat gemaak is deur die polisie, gemeenskapsleiers en ander strukture in Eldoradopark, onder die leierskap van die Gauteng Provinsiale Regering. Deur samewerking het hulle beduidende vordering gemaak om die euwel van dwelmmisbruik te beveg. Die Kabinet is bewus daarvan dat die situasie in Eldoradopark simptomaties is van die kwessies wat baie gemeenskappe in die res van die land in die gesig staar en doen ’n beroep op gemeenskappe dwarsdeur die land om vir ’n “dwelmvrye” Suid-Afrika in hulle onderskeie woongebiede te veg.

Kom ons herverbind onsself tydens Jeugmaand tot die stryd teen dwelmmisbruik en alkoholisme regoor die land.

1.6. Die Kabinet verwelkom die geleidelike bekendstelling van ’n Afrika-taal in Graad R en Graad 1 waar sodanige taal nog nie aangebied word nie.

Die Kabinet prys ook die aankondiging deur die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat dit verpligtend maak vir voorgraadse studente wat nie isiZoeloe magtig is nie om te registreer vir ’n kursus om gesels-vaardighede in isiZoeloe aan te leer.
Die Kabinet spoor alle Suid-Afrikaners aan om ’n inheemse taal aan te leer, aangesien dit veeltaligheid bevorder en nasiebou verbeter.

1.7. Die Kabinet neem kennis dat president Jacob Zuma vanaf 1 tot 3 Junie 2013 ’n amptelike besoek na Japan sal onderneem waar hy die 5de Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika Ontwikkeling (TICAD V) sal bywoon. Die tema vir TICAD V in Jokohama, Japan, is: “Hand-aan-hand vir ’n meer dinamiese Afrika”.

1.8. Die Kabinet het sy medelye uitgespreek oor die dood van veteraanjoernalis Vuyo Mbuli en dra hul medelye oor aan Mbuli se familie, vriende en kollegas in die mediabedryf. Mnr. Mbuli het ’n ongelooflike bydrae gemaak tot die nasionale diskoers oor sleutelkwessies en sy passie vir sy werk het die harte van Suid-Afrikaners aangeraak.

1.9. Die Kabinet het ook sy diepe medelye uitgespreek teenoor die burgers van Bangladesj en familie en vriende van die meer as 1 000 klerefabriekwerkers wat dood is toe ’n gebou ineengestort het. Ons gedagtes en gebede is by die mense van Bangladesj.

1.10. Die Kabinet is ook baie hartseer oor die lewensverliese en beserings weens die reuse-oorstromings in suidelike China.

1.11.  Die Kabinet het ook hul innige simpatie uitgespreek oor die dood van vyf leerders van Lwandile in Ngqeleni, Oos-Kaap, wat in ’n busongeluk dood is. Nog 30 leerders is beseer tydens hierdie tragiese voorval. Die Regering simpatiseer met die families, vriende, medeleerders en onderwysers van die slagoffers. Dit is hartseer wanneer Suid-Afrika toekomstige leiers verloor.

2. Sleutelbesprekings en besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Groenskrif vir Polisiëring in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar.

Sedert die stigting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in 1994 was daar baie veranderinge in die interne en eksterne omgewing wat ’n impak gehad het op die SAPD se begrip van en optrede ten opsigte van kwessies van misdaad en veiligheid.

Ná 1994 moes die Regering ook aandag gee aan ’n tweeledige doelwit, naamlik om ’n ontwikkelingstaat te vestig terwyl die polisie terselfdertyd getransformeer word tot ’n regeringsinstansie.

Die Groenskrif is ’n antwoord op die uitdagings wat geïdentifiseer is ná ’n assessering van die toepaslikheid van die 1996 Misdaadvoorkomingstrategie en die 1998 Witskrif vir Veiligheid en Sekuriteit. Onderliggend tot hierdie beleide was die idee om veiligheid en sekuriteit op ’n holistiese wyse te benader deur die ontwikkeling en implementering van geïntegreerde programme wat alle sektore betrek. Hulle het gepoog om gesamentlik ’n omvattende raamwerk te vestig om die breër kwessies van veiligheid en sekuriteit tot en met 2004 aan te pak.
Die Groenskrif het ten doel om “misdaad in ’n demokratiese Suid-Afrika te konfronteer, polisie-professionaliteit te bevorder en reëlings te institusionaliseer.” Die doelwit is om uiteindelik die SAPD te posisioneer om te reageer op ’n ewig-veranderende misdaad-landskap wat terselfdertyd voldoen aan die behoeftes van ’n ontwikkelingstaat.

2.2. Die Kabinet het die Nasionale Aksieplan vir Kinders 2012–2017 aanvaar as die omvattende plan om leiding en rigting te bied aan regeringsdepartemente, die burgerlike samelewing en ander vennote in die kindersektor ten einde kinderregte te beskerm.

Die plan ondersteun die Grondwet, internasionale en streeksooreenkomste, die ontluikende wetgewing oor kinders in Suid-Afrika, die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte en die Nasionale Ontwikkelingsplan se Visie vir 2030.
Die plan het vyf hooftemas: kinderoorlewing (bv. die vermindering van kindersterftes); kinderontwikkeling (bv. vroeë-kinderontwikkelingsdienste); kinderbeskerming (bv. beskerming teen geweld en seksuele misdrywe); lewenstandaarde van kinders (bv. toestande van verblyf vir kinders); en kinderdeelname (bv. kinders wat verantwoordelikheid neem terwyl hulle hul regte uitoefen).

Hierdie Nasionale Aksieplan vir Kinders 2012–2017 sal verder bespreek word tydens ’n aparte media-inligtingsessie.

2.3. Die Kabinet het goedgekeur dat die Handves van Afrika Kulturele Renaissance aan die Parlement voorgelê word vir goedkeuring en bekragtiging ingevolge artikel 231 (92) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.
Die bekragtiging van die handves deur die Regering is in antwoord op die Verklaring van Kulturele Renaissance en Gedeelde Waardes by die 16de Gewone Sitting van die AU Staatshoofde en Regerings, wat in Januarie 2011 in Ekwatoriaal-Guinee gehou is en die aanvang van die AU-veldtog vir die Handves van Afrika Kulturele Renaissance, wat laat in 2011 in Suid-Afrika plaasgevind het.
Die bekragtiging van die handves bevorder die beskerming van Afrika-kultuurwaardes en -erfenis, asook die gees van Pan-Afrikanisme.

Die handves bevorder die eenwording van kultuur, kuns, kultuurwaardes, taal, erfenis en die kulturele en skeppende bedrywe as noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling. Dit sal bydra tot ekonomiese groei en maatskaplike samehorigheid. Die handves is belyn met die Nuwe Groeipad, die Nasionale Ontwikkelingsplan, die Witskrif vir Kuns, Kultuur en Erfenis en die Mzansi Goue Ekonomie-strategie. Die Minster van Kuns en Kultuur sal ’n media-inligtingsessie in hierdie opsig hou.

2.4. Die Kabinet neem kennis van die aanbieding van die eerste Wetenskap, Tegnologie en Innovasie-beraad vanaf 20 tot 21 Julie. Die beplande dialoog tydens die beraad sal ’n platform bied om maniere te ondersoek om samewerking tussen die Regering en die privaat sektor te verbeter.
Die beraad sal deelnemers in staat stel om te ondersoek hoe wetenskap, tegnologie en innovasie ’n beduidende rol kan speel in ons reis na ’n kennis-gedrewe ekonomie en die verwesenliking van Visie 2030.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het die voorgestelde wysigings tot die Wetsontwerp op Openbare Administrasiebestuur goedgekeur, wat nou vir openbare kommentaar gepubliseer sal word.

Die wetsontwerp poog om ’n eenvormige wetsraamwerk vir mensehulpbronne en sekere organisatoriese en skwessies in nasionale, provinsiale en munisipale administrasies te vestig. Die doel is om dienslewering te verbeter deur ’n eenvormige stelsel van openbare administrasie, verbeterde aanwending van personeel en die skep van ’n sentrale punt vir burgers om regeringsdienste te bekom.

3.2. Die Kabinet het die Wysigingswet op die Openbare Dienskommissie vir openbare kommentaar goedgekeur, asook die voorlegging van die wysigingswet in die Parlement.

Die doel van die Wysigingswet is om die Wet op die Openbare Dienskommissie van 1997 in lyn te bring met die Grondwet. Dit poog ook om die Openbare Dienskommissie te bemagtig ten einde rigting te gee rakende die beginsels wat openbare administrasie beheer.

Dit is in lyn met die belangriker rol wat die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die kommissie in gedagte het.

3.3. Die Kabinet het goedgekeur dat die Wysigingswet op die Suid-Afrikaanse Weerdiens, 2013 vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Hierdie wysigingswet het ten doel om die Wet op die Suid-Afrikaanse Weerdiens 2001 (Wet 8 van 2001) te wysig, wat voorsiening maak vir die vestiging, doelwitte, magte en funksies van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Die wysigings sal hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse Weerdiens wetlike magte gee om inligting oor omgewings-lugkwaliteit te beheer en om as bewaker van die Suid-Afrikaanse-Lugkwaliteit-inligtingstelsel op te tree.

Dit sal bydra tot die beskerming en verbetering van ons omgewingsbates en natuurlike hulpbronne.

3.4. Die Kabinet het goedgekeur dat die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumbronne, 2012 in die Parlement voorgelê word.
Die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumbronne, 2012 (konsepwet) poog om die Wet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumbronne, 2002 (Wet 28 van 2002), soos gewysig deur die Wysigingswet vir die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumbronne, 2008 (Wet 49 van 2008), te wysig.

Die hoofdoelwitte van die wysigingskonsepwet is, onder meer, om die voorsiening van benefisiëring van minerale te bevorder ten einde industrialisering te bevorder en by te dra tot die nasionale doelwitte van werkskepping en ekonomiese groei, soos voorsien in die Nasionale Ontwikkelingsplan. ’n Afsonderlike media-inligtingsessie sal vir hierdie saak gereël word.

4. Aanstelling

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:

4.1. Mnr. Sithembiso Freeman Nomvalo as Hoof-Uitvoerende Beampte van die Staats-inligtingstegnologie-agentskap (SITA) en as uitvoerende lid van die Direksie vir ’n tydperk van een jaar.

4.2. Mnr. Trevor Gordon as Adjunk-Direkteur-Generaal: Chemikalieë en Afvalbestuur by die Departement van Omgewingsake.

4.3. Me. Yoliswa Makhasi as Adjunk-Direkteur-Generaal: Korporatiewe Bestuur by die Departement van Openbare Ondernemings.

4.4. Me Rose Mbono as Adjunk-Direkteur-Generaal: Ekonomiese Impak en Beleidsbelyning by die Departement van Openbare Ondernemings.

4.5. Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur by die Suid-Afrikaanse Maatskaplike-sekuriteitsagentskap (SASSA):
a) Me. Emmarentia Dianne Dunkerley in die pos van Uitvoerende Bestuurder: Toelae-administrasie,
b) Mnr. Frank Earl in die pos van Uitvoerende Bestuurder: Toelae-voordele-oordrag.

4.6. Die Kabinet neem kennis van die verlenging vir ’n tydperk van ses maande, van die dienstermyn van 20 lede van die huidige Raad van die Suid-Afrikaanse Raad vir die Geesteswetenskappe-beroepe, tot 30 September 2013.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore