Verklaring van die Kabinetsvergadering van 15 Mei 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet het sy kommer uitgespreek oor die onlangse arbeidsonrus by Lonmin se Marikana-myn, wat tot ’n staking en onderbreking in produktiwiteit gelei het. Die geskil handel na bewering oor kwessies van meerderheidverteenwoordiging rakende die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) en die Assosiasie vir Mynbou en Boubedryf-unie (AMCU). 

Die Kabinet doen ’n beroep op die leiers van albei unies (NUM en AMCU) om hul geskil vreedsaam op te los en die belange van die land en werkers bo alles te stel. Werkers moet bewus wees dat ’n onbeskermde staking ernstige gevolge kan hê – nie net vir hulle nie, maar ook vir die toekoms van die myn en hul werksekuriteit.

Die Kabinet doen ook ’n beroep op die Lonmin-bestuur om alles in hul vermoë te doen om te verseker dat probleme so gou as moontlik opgelos word, sonder verdere skade. Dit is in die beste belang van die land dat albei unies en die bestuur van Lonmin die nodige leierskap en arbeids-betrekkingebestuur aan die dag lê.

1.2. Die Kabinet ondersteun die voorlopige bevindings na die ondersoek rakende die ongemagtigde landing van ’n burgerlike lugvaartuig by Waterkloof-lugmagbasis ten volle.

Die Kabinet benadruk dat Suid-Afrika se veiligheid en soewereiniteit uiters belangrik is. Daar moet streng opgetree word teen oortredings teen die wette en reëls wat betrekking het op die toegangspunte en geriewe van strategiese nasionale belang sonder aansien des persoons. Diegene wat skuldig bevind word dat hulle regulasies oortree moet die gevolge van hul dade dra.

1.3. Die Kabinet verwelkom die werk van regeringsdepartemente waaroor daar deur die verskeie ministers verslag gedoen is tydens die departementele begrotingsredes. Die Kabinet is bewus daarvan dat mediadekking van die begrotingsredes, mense in staat stel om inligting oor die Regering te kry en om die Regering aanspreeklik te hou.

1.4. Die Kabinet verwelkom besprekings tussen die Departement van Basiese Opvoeding en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (SADOU), wat gelei het tot die opskorting van protesaksie.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbendes in die onderwyssektor om hul geskille op te los sodat ons jongmense die onderwys van nie agterweë bly nie.

1.5. Die Kabinet neem kennis van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname wat ’n toename van 24,9% tot 25,2% in die werkloosheidsyfer aandui.

Die Regering verskerp maatreëls, soos ’n staatsgedrewe infrastruktuurprojek, om meer werkgeleenthede te skep deur openbaresektor-ingrypings.

Die Regering, in samewerking met die arbeids- en sakesektor, het in April 2013 die Maatskaplike Akkoord op Jeug-werkskepping bekendgestel. Dit wys duidelik dat daar gesamentlike toewyding is om die kwessie van werkloosheid aan te pak. Die akkoord sit individuele sektore se voornemens uiteen om jeug-werkloosheid te bekamp, met tasbare teikens en tydsraamwerke vir suksesvolle uitvoering, monitering en gesamentlike evaluasie van die aangewese ingrypings.

Die Kabinet is vol vertroue dat die maatreëls wat reeds ingestel is die land sal help om nuwe werksgeleenthede te skep en die teiken van vyf miljoen nuwe werksgeleenthede teen 2020 te bereik.

1.6. Die Kabinet verwelkom die ondertekening van ’n aksieplan om die Memorandum van Verstandhouding oor die Bewaring en Beskerming van Biodiversiteit tussen Suid-Afrika en Viëtnam in werking te stel.
Die implementeringsplan sal tot 2017 geldig wees en sal help om misdaad teen wilde diere, in besonder renosterstroping, te beveg. Die Kabinet benadruk dat die Regering daartoe verbind is om die plaag van renosterstroping aan te pak en bevestig weereens dat oortreders vervolg sal word.

1.7. Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die Departement van Binnelandse Sake om die Slim-ID-stelsel van stapel te stuur, wat ons nasionale identiteit verder konsolideer en nasionale sekuriteit verbeter.
Hierdie sleutelmylpaal het die potensiaal om regeringsdienste te bespoedig en terselfdertyd misdaad en korrupsie wat met identiteitsdokumente verband hou, te bekamp.

Die Kabinet doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om hierdie proses te ondersteun sodat almal teen 2020 in besit sal wees van ’n Slim-ID-kaart as ‘n vorm van nasionale identifisering.

1.8. Die Kabinet veroordeel die aanval op ’n Verenigde Nasies-konvooi in Abyei, Soedan, wat tot die dood van ’n stamhoof en ’n Etiopiese vredebewaarder gelei het. Hierdie betreurenswaardige voorval bedreig die stabiliteit in Abyei sowel as die vordering wat onlangs deur Soedan en Suid-Soedan gemaak is.

1.9. Die Kabinet spreek sy misnoeë uit oor die aanval op Sirië deur Israeliese-sekuriteitsmagte. Die Kabinet doen ’n beroep op die Verenigde Nasies om die soewereiniteit van Sirië te respekteer en Siriërs toe te laat om gesamentlik hul geskille op te los.

1.10. Die Kabinet verwelkom die inhuldiging van advokaat Lawrence Mushwana as die nuwe voorsitter van die Internasionale Koördineringskomitee (IKK) van die Nasionale Instituut vir die Bevordering en Beskerming van Menseregte. Dit is die eerste keer dat Afrika as voorsitter van die IKK optree. Die posisie van IKK-voorsitter verseker toenemende aandag op die land se menseregtepogings en ons voldoening aan internasionale menseregteverpligtinge.

1.11. Die Kabinet verwelkom die feit dat die 50ste herdenking van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAU) op Afrika-dag, 25 Mei 2013, gevier sal word.

Die Kabinet benadruk dat die feit dat die OAU deur saam te staan in die uitsluiting van die apartheidsregering bygedra het tot die stryd om vryheid en die verkryging van demokrasie.

Suid-Afrika sal by die res van die kontinent aansluit om die 50ste herdenking van die Afrika-Unie (AU) te vier. Die aktiwiteite sluit ’n maand-lange uitstalling van hedendaagse visuele kunste in die SAOU-streek vanaf 24 Mei tot 28 Junie 2013. Die Afrika-instituut van Suid-Afrika sal ook die akademiese gemeenskap en diaspora betrek as deel van die vieringe van 19 tot 21 Mei 2013. Daar sal ook ’n uitstalling by die Ditsong-museum (Stad Tshwane) wees om Afrika-dag op 21 Mei 2013 te vier, met ’n tema van “50 jaar na die stigting van die Organisasie van Afrika-eenheid moet Afrika verenig of vergaan”. Dit sal opgevolg word deur ’n Afrika-dag-musiekkonsert by die Uniegebou op 25 Mei 2013.

1.12. Die Kabinet verwelkom president Jacob Zuma se spoedige aanvaarding van die uitnodiging deur ’n gemeenskapslid om op Dinsdag, 14 Mei 2013 die mense van Eldoradopark en aangrensende Kliptown te besoek. Die gemeenskap se versoek is om die toenemende onwettige handeldryf in en misbruik van dwelms in die gebied te bespreek.

Die Regering saam met die gemeenskap, het hom daartoe verbind om ’n ingrypingsprogram in te stel om die plaag wat jongmense se lewens verwoes te stuit.

1.13. Die Kabinet verwelkom ’n opvolgbesoek deur Adjunkpresident Motlanthe, vergesel van leiers van die drie regeringsfere, aan De Doorns in die Wes-Kaap op Saterdag, 11 Mei 2013.  Die besoek en samesprekings met belanghebbendes, insluitend plaaswerkers, spruit uit die aanvanklike besoek deur die Adjunkpresident op 12 Februarie 2013. Goeie vordering is reeds te bespeur by verskeie departemente om dienste in die gebied te verbeter. Die verbintenis deur alle partye wys op ’n stewige grondslag vir voortgesette betrokkenheid om ’n volhoubare landbousektor te verseker. 

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet is ingelig oor voorbereidings vir Kinderbeskermingsweek tussen 27 Mei en 2 Junie 2013, met die tema “Samewerking om kinders te beskerm”.

Die gesprekke oor kinders en die jeug word in alle provinsies gehou as ’n voorloper vir die Kinderbeskermingsweek en -konferensie. As deel van die bewusmaking sal Kinderbeskermingsweek saamval met die eerste Konferensie oor Weeskinders, Weerlose Kinders en die Jeug op 27 Mei by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konvensiesentrum in KwaZulu-Natal.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om tot die beskerming van ons kinders by te dra en om ’n veilige en beskermende omgewing te skep. Suid-Afrikaners kan hul ondersteuning wys deur ’n groen strikkie te dra as simbool van lewe, groei, sorg en steun vir ons toekomstige leiers.

Die fokus van Kinderbeskermingsweek en die Konferensie is deelname in ons gemeenskappe en land sodat kinders gehoor word oor kwessies wat hulle raak.

2.2.  Die Kabinet het die Nasionale Waterboerdery-beleidsraamwerk (NAPF) goedgekeur. Hierdie beleid bied ’n verenigde raamwerk vir die vestiging en ontwikkeling van ’n bedryf wat tot werkskepping en meer beleggings bydra.

Die NAPF is ontwikkel teen die agtergrond van die wêreldwye waterboerdery-sektor wat ’n hoër aanvraag na vissery-produkte ervaar. In Suid-Afrika bied see- en varswater-boerdery ’n goeie geleentheid om die plaaslike mark te bedien, by te dra tot voedselsekuriteit, werkskepping, ekonomiese ontwikkeling en landelike ontwikkeling en uitvoergeleenthede.

2.3. Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika in die vierde kwartaal van 2013 die Derde Wêreldwye Konferensie oor Landbou, Voedselsekuriteit en Klimaatsverandering, aangevoer deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, aanbied.

Voedselsekuriteit bly ’n groot bekommernis en die konferensie sal positiewe bydraes maak oor hoe ons kos produseer, bestuur en gebruik.

Sedert COP17/CMP7 is Suid-Afrika een van die voorste lande om klimaat-slim-boerdery te bevorder, wat die uitdagings van voedselsekuriteit en klimaatsverandering die hoof bied. Die wêreldwye konferensie poog om maniere van groei te ontwikkel wat vir gemeenskappe en die omgewing volhoubaar is.

2.4. Die Kabinet het Suid-Afrika se bekragtiging van die Bylae vir Gesondheid en Plantgesondheid  (GPG) tot die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Protokol vir Handel goedgekeur en dit sal aan die Parlement voorgelê word.

Die SAOG se Protokol vir Handel, waartoe Suid-Afrika toegetree het, dien om streeksamewerking en integrasie tussen lidstate te bevorder vir handel in goedere en dienste in die streek, insluitend landbouprodukte.
Die SAOG GPG-bylae tot die Protokol vir Handel bied ’n raamwerk wat GPG-samewerking moontlik maak. Dit bevorder ook harmonisering van GPG-maatreëls wat gegrond is op internasionale standaarde en riglyne om veilige en billike handel van landbouprodukte in die streek te verseker.

2.5. Die Kabinet is ingelig oor vordering rakende Suid-Afrika se aanbieding van die Kimberley-proses-sertifiseringskema (KPSS) se vergaderings in 2013, wat die intersessie- vergadering in Kimberley vanaf 4 tot 7 Junie en die KPSS volle sitting in Gauteng vanaf 26 tot 29 November 2013 insluit. Die aanbieding van die KPSS-vergaderings sal tot die bevordering van die diamantbedryf en toerisme bydra.

Suid-Afrika se posisie as voorsitter van die KPSS erken die sleutelrol wat Suid-Afrika in die internasionale diamantsektor speel. As die voorsitter beplan Suid-Afrika om internasionale handelsverhoudinge te versterk, om die Afrika-voetspoor binne die KPSS te konsolideer en te versterk en tot ’n veiliger wêreldwye omgewing by te dra.

3. Wetsontwerpe

3.1.  Die Kabinet het die uitreiking van die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte 2013 en die Memorandum vir die Doelstellings van die Wetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur.

Dit gee uitvoering aan die President se 2013 Staatsrede, waarin hy voorgestelde wysigings tot die Wet op die Herstel van Grondregte aangekondig het. Dit hou verband met die uitstel van die datum vir die indiening van eise vir herstel, om partye die geleentheid te gee wat nie teen die sluitingsdatum van 31 Desember 1998 eise ingedien het nie, of wat uitgesluit was uit die proses, om weer in te dien.

Die heropening van die indiening van eise word deur die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan gelei, sowel as die Omvattende Landelike Ontwikkelingsprogram en ander groeistrategieë wat daarop gemik is om nasionale versoening en maatskaplike samehorigheid te bevorder.

3.2.  Die Kabinet het die indiening by die Parlement van die Wysigingswet op Elektroniese Kommunikasie goedgekeur.

Hierdie wysiging was genoodsaak deur die bevryding van die elektroniese-kommunikasie-sektor en snelle tegnologiese vordering wat sommige bepalings van die Wet oorbodig gemaak het. Die wysigings poog om beperkings op kompetisiebevordering, toegang tot elektroniese-kommunikasie-infrastruktuur, die koste van kommunikasie sowel as beter omkeertye vir konsultatiewe prosesse aan te spreek.

Die Wysigingswet bring die Wet in lyn met wetgewing oor breë swart ekonomiese bemagtiging, gee duidelikheid oor lisensiëringskwessies, verbeter kompetisie-bepalings, verwyder regulatoriese bottelnekke en maak voorsiening vir kwessies rakende hierdie sake.

3.3.  Die Kabinet het die indiening van die Wysigingswet op die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA) goedgekeur. Die Wysigingswet volg op reaksie op sommige kwessies in die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die wysigings aan die Wet op die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid, No. 13 van 2002 (OKOSA-wet) word gesteun deur die behoefte aan institusionele verbeteringe om die onafhanklike owerheid te versterk. Dit sal wees deur die voorsiening vir duidelikheid oor kwessies rakende sy magte, om die Wet in lyn te bring met die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en om die doeltreffendheid van die owerheid te verbeter. Dit is daarop gemik om verantwoording en deursigtigheid te verbeter, wat sal bydra tot gesonde bestuurspraktyke binne OKOSA.

Die Regering moet ’n groter rol speel om te verseker dat die elektroniese-kommunikasie-sektor sodanig gereguleer word dat dit oorkoepelende nasionale doelwitte ondersteun. Dit moet nie gesien word as ’n poging om beperkings op OKOSA se onafhanklikheid te plaas nie.
Die belangrikheid van ’n onafhanklike en onpartydige reguleerder vir die kommunikasiesektor kan nie genoeg beklemtoon word nie.

4. Aanstellings
4.1.  Die Kabinet het die aanstelling van mnr. Ebrahim Mohamed as die Kommissaris van die Nasionale Verbruikerskommissie vir ’n tydperk van vyf (5) jaar goedgekeur.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore