Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 1 November 2017

Die Kabinet het by Tuynhuys in Kaapstad vergader.   

A. Kwessies in die omgewing

1. Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring  (MTBBV) 2017

1.1. Die Kabinet verwelkom die MTBBV wat verlede week deur die Minister van Finansies, mnr Malusi Gigaba, in die Parlement in Kaapstad gelewer is.
1.2. Die aanpassingsbegroting gaan voort om inklusiewe groei en fiskale konsolidasie te dryf, terwyl sosiale besteding aan onderwys, gesondheid, basiese infrastruktuur en maatskaplike sekerheid, waarop baie mede-Suid-Afrikaners vir ’n beter lewe staatmaak, beskerm en bevorder word.
1.3. Binne beperkte fiskale ruimte word die regering se verbintenis om uitdagings in Suid-Afrika aan te pak gedemonstreer deur intervensies om township- en landelike ekonomieë te ontwikkel en goeie beheer by maatskappye in staatsbesit te versterk, asook die beduidende bykomende toewysing van befondsing vir hoër onderwys.
1.4. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk om pogings om die ekonomie te groei, te versterk.

2. Arbeidsmagopname
2.1. Die Kabinet erken met waardering die onlangs vrygestelde Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die derde kwartaal van 2017, wat daarop dui dat werkloosheid sedert die vorige kwartaal onveranderd gebly het teen 27,7%. ’n Toename van 187 000 werksgeleenthede is gedurende die kwartaal in die formele sektor opgeteken; en werksverliese van 71 000 en 25 000 is in onderskeidelik die informele sektor en landbousektor opgeteken. Die regering bly daartoe verbind om alles in sy vermoë te doen om die uitdagings van werkloosheid te beveg en doen ’n beroep op die privaat sektor om hul deel te doen.

3. Eeufeesviering van  Oliver Reginald Tambo

3.1. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners vir hul deelname aan die vryheidsheld, OR Tambo, se eeufeesvierings, wat  op Vrydag, 27 Oktober ’n hoogtepunt bereik het by Nkantolo in die Oos-Kaap.
3.2. As deel van die eeufeesvierings het President Jacob Zuma by ’n aantal verbeteringsprojekte opgetree, insluitend:

  • Die oorhandiging van die Ludeke-dam in Mbizana, wat deur die Departement van Water en Sanitasie as deel van die Groter Mbizana-streeksgrootmaatwatervoorsieningskema gebou is;
  • ’n Besoek aan die Nyameni-familie in Ludeke Village, waar die president elektrisiteit aangeskakel het as deel van die regering se breër landelike elektrifiseringsprogram in Mbizana en omliggende gebiede;
  • Die verspreiding van fietse aan leerders by die OR Tambo Tegniese Hoërskool, as deel van die Departement van Vervoer se Shova Kalula-program, ter ondersteuning van leerders wat meer as drie kilometer ver skool toe stap;
  • Die skenking van rekenaars aan leerders in die Vukuzenzele Spesiale Skool vir leerders met gestremdhede, onder leiding van die Minister van Kommunikasie, Mmamoloko Kubayi-Ngubane.
     

4. Misdaadstatistiek

4.1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners en gemeenskappe om in vennootskap met wetstoepassingsagentskappe te werk om misdaad te bestry. Die misdaadstatistiek wat onlangs deur die Minister van Polisie, mnr Fikile Mbalula, vrygestel is, het aangedui dat daar op sommige terreine vordering met misdaadbestryding gemaak is, maar dat dit op ander gebiede steeds hoog bly.
4.2. Die Kabinet is oortuig daarvan dat ons almal slegs kan baat as ons saamwerk om veiliger gemeenskappe te skep wat in staat is om te ontwikkel.  
4.3. Die misdaadstatistiek help die regering en die Suid-Afrikaanse Polisiediens om sleutelmikpunte te monitor en dien as ’n vroeë waarskuwingsmeganisme om die misdaadbestrydingsoperasies en strategieë te versterk. Dit vorm deel van die misdaadvoorkomingstrategie om te verseker dat almal in ons land veilig voel en is.

5. Geslagsgebaseerde geweld (GGG)

5.1. Die Kabinet beklemtoon weereens sy veroordeling van die seksuele misbruik en mishandeling van vroue en kinders, ongeag die beweerde oortreders se posisies in die samelewing.
5.2. Die Kabinet moedig slagoffers aan om hierdie gruwelike misdade aan te meld by wetstoepassingsagentskappe, wat die bewerings van GGG moet ondersoek en daadwerklik binne die omvang van die wet moet optree om te verseker dat geregtigheid geskied.
5.3. Die 16-daeveldtog van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders is om die draai en die Kabinet keur vanjaar se tema goed, naamlik “Sluit My In: Saam Beweeg Ons ’n Nie-Gewelddadige Suid-Afrika Vorentoe”.
5.4. Die Kabinet doen ook ’n beroep op landsburgers om mekaar oor die regte van vroue en kinders op te voed, asook oor die onderskeie opsies wat beskikbaar is om slagoffers van geweld te help.
5.5. Die Veldtog van 16 Dae van Aktivisme het by die Verenigde Nasies (VN) ontstaan, en vind jaarliks vanaf 25 November (Internasionale Dag vir die Uitskakeling van Geweld teen Vroue) tot 10 Desember (Internasionale Menseregtedag) plaas.  
5.6. Suid-Afrikaners word aangemoedig om aktief by kampvegter- en bewusmakingsprogramme in hul onderskeie gemeenskappe en skole betrokke te raak.

6. Toerismetransformasieberaad

6.1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbers om die toerismesektor se transformasie-inisiatiewe te ondersteun, aangesien dit die ekonomie potensieel kan bevoordeel deur die bemagtiging van benadeelde gemeenskappe en die bevordering van werksverskaffing aan te dryf.
6.2. Die Departement van Toerisme het op 30 en 31 Oktober 2017 die Nasionale Toerismetransformasieberaad aangebied met die tema: “Toerisme vir Almal: Transformeer, Groei en Handhaaf”. Dit gaan gepaard met die vrystelling van die Stand van die Sektor Transformasieverslag en die bekendstelling van die Toerisme se Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging- (B-BBEE-) portaal en Toerismetransformasiefonds.

7. Staatsbesoek deur president Macky Sall van Senegal

7.1. Die Kabinet verwelkom die Staatsbesoek deur die President van die Republiek van Senegal, Sy Eksellensie Macky Sall, op 20 Oktober 2017. Suid-Afrika en Senegal het kritieke streeks- en internasionale vraagstukke bespreek en ooreenkomste oor verskeie kwessies onderteken.
7.2. Die twee lande het hartlike bilaterale politieke, ekonomiese en sosiale betrekkinge, wat op sterk historiese bande gegrond is en teruggevoer kan word  na die jare van die vryheidstryd.
7.3. Die Ondertekening van die Memorandum van Verstandhouding oor die vestiging van ’n tweelingstadverhouding tussen Robbeneiland (wat deur die rassistiese apartheidsregime gebruik is om vryheidsvegters gevange te hou) en Gorée-eiland (die roete waarlangs Afrikane verskeep is vir ’n lewe van slawerny) versterk ons lande se kulturele en historiese bande nog verder, gepaardgaande met die herdenking van die  Dakar-samesprekings in 1987.

8. Besoek aan Suid-Afrika deur Indonesiese afvaardiging

8.1. Die Kabinet verwelkom die besoek aan Suid-Afrika deur Sultan Husain Abubakar Syah van Tidore in Indonesië. Die Tidore-afvaardiging het onder andere Muhammad Amin Farouk ingesluit, wat ’n afstammeling is van Tuan Guru, ’n vryheidsvegter wat in 1780 deur die Nederlanders gevange geneem en na Robbeneiland toe gestuur is. Tuan Guru (Imam Abdullah ibn Qadi Abdussalam) en drie van sy landgenote is ongeveer 12 jaar lank opgesluit en daarna in ballingskap in die Kaap gehou, waar hy ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die plaaslike gemeenskap en die bou van die eerste moskee gelewer het. ’n Hele aantal Suid-Afrikaners se familiegeskiedenis kan na hom toe nagespeur word.
8.2. Die afvaardiging het die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies besoek, waar hulle deur die voorsittende beamptes, adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel, verwelkom is.
8.3. Die besoek het die aandag gevestig op die gemeenskaplike geskiedenis van koloniale heerskappy en die eeu-oue stryd om nasionale bevryding deur die mense van Indonesië en Suid-Afrika. Vandag vier ons handels-, toerisme- en ander ekonomiese bande tussen die twee lande.

9. Jaareindeksamens

9.1. Die Kabinet is tevrede dat die jaareindeksamens wat tans by skole en ander leerinstellings plaasvind, ongehinderd voortgaan.
9.2. Onderwys is een van die sleuteldryfvere om ’n beter toekoms vir almal in die land te verseker. Ouers en voogde word sterk aangespoor om leerders in hierdie tydperk steeds al die nodige ondersteuning te bied.
9.3. Die Departement van Basiese Onderwys se inhaalprogramme en ander inisiatiewe het leerders wat gedurende die jaar deur protesoptrede geraak is gehelp, en ’n positiewe uitkoms word verwag.

10. Maatskaplike samehorigheid

10.1. Die Kabinet loof die wetstoepassingsagentskappe en die samewerking deur die gemeenskappe wat gehelp het om die skuldigbevinding van Willem Oosthuizen en Theo Jackson te bewerkstellig. Die twee het Victor Mlotshwa in ’n doodskis ingedwing en gedreig om petrol oor hom uit te gooi.
10.2. Die uitspraak toon duidelik dat die Suid-Afrikaanse regstelsels die regte van alle landsburgers beskerm.  
10.3. Die Kabinet bevestig verder die reg van alle Suid-Afrikaners om as deel van ons konstitusionele demokrasie aan vreedsame protesoptrede deel te neem. Die regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 voorgeskryf word, is egter nie absoluut nie en moet nie op ander mense se demokratiese regte inbreuk maak nie.
10.4. Die Kabinet veroordeel die versperring van openbare paaie, die vertoon van simbole van vorige onderdrukking en die vernietiging van nasionale simbole wat ’n weerspieëling van ons swaarverdiende demokrasie is.
10.5. Die Kabinet is daartoe verbind om ’n samehorige samelewing vir almal te bou en doen ’n beroep op alle landsburgers om hul deel op ’n verantwoordelike wyse en in die gees van samewerking te doen ten einde ’n verenigde, nierassige, nieseksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika te bou.
 
B. Kabinetsbesluite

11.1. Die Kabinet keur die 2015/16 Verslag oor die Stand van Plaaslike Regering in Suid-Afrika goed. Die verslag bied ’n uiteensetting van die vordering wat met die implementering van die Back to Basics (B2B) -program gemaak is. Dit is ’n plan van aksie om die lewering van basiese dienste, goeie staatsbestuur en gesonde finansiële bestuur te verseker.

Die verslag beklemtoon uitdagings wat voorkom en bied ’n basis vir die implementering van die tweede fase van die B2B-program. Die verslag sal aan die Parlement voorgelê word.

11.2. Die Kabinet ondersteun die voorgestelde wysigings aan die drie B-BBEE-sektorkodes. Die wysigings het betrekking op sektoruitdagings en kenmerkende eienskappe van transformasie wat andersins nie ten volle deur die generiese kodes geraak sal word nie. Die drie sektore is Landbou, Finansies en Konstruksie. Die voorgestelde wysigings is met die tersaaklike belanghebbers bespreek. Al die gewysigde sektorkodes sal in die Staatskoerant aangekondig word.

11.3. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nasionale e-Strategie en die publikasie daarvan in die Staatskoerant. Dit is in April 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer. Die e-strategie verwoord ’n gedeelde visie en paradigmaverskuiwing vanaf ’n inligtingsamelewing na ’n kennisekonomie en -samelewing.

Dit pak uitdagings, insluitend die digitale kloof tussen ryk en arm, tussen rassegroepe, verskillende geografiese liggings en geslagskwessies. Dit bied aan Suid-Afrikaners ’n platform om tegnologie te integreer, wat tersaaklik en verwant is aan die bevordering van ontwikkeling en ekonomiese welvarendheid tot voordeel van die samelewing as geheel. Die Departement van Telekommunikasie en Posdienste sal meer inligting oor hierdie strategie voorsien.

11.4. Die Kabinet keur goed dat die Nasionale e-Regeringstrategie en Padkaart in die Staatskoerant gepubliseer word. Dit sal deur die ontginning van digitale tegnologieë digitale transformasie na die openbare dienste bring en die voorsiening van beter gehalte dienste moontlik maak. Die strategie is toegespits op onder meer die fragmentasie van e-regeringsinisiatiewe en duplisering van prosesse, databasisse, grootskaalse stelselonverenigbaarheid en ondoeltreffendhede.  Dit sal ook die gebruik van inligting-en-kommunikasietegnologie (IKT) uitbrei, en innovering in tegnologieë en toepassings vir e-Regering bevorder.

11.5. Die Kabinet keur die Ontwikkelingstrategie vir Klein-, Medium- en Mikrogrootteondernemings (KMMO’s) in die IKT-sektor goed. Dit is ’n sektorspesifieke ingryping om die uitdagings te pak waarvoor KMMO’s wat in die IKT-sektor sake doen, te staan kom.

Die strategie doen ingrypings aan die hand om die ontwikkeling en groei van klein sakeondernemings in die IKT-sektor te versnel, en terselfdertyd die opname en gebruik van IKT’s deur die algemene kleinsakesektor te bevorder.

Die strategie beoog om beginner-IKT-ondernemings te ondersteun, bestaande ondernemings te versterk en ondersteuning na potensieel lewensvatbare KMMO’s uit te brei.

11.6. Die Kabinet keur die publikasie van die Verslag oor die Evaluering van die Nasionale Skoolvoedingsprogram goed. Dit is ’n regeringsprogram met ’n jaarlikse begroting van R5,5 miljard, waardeur nege miljoen kinders uit arm gemeenskappe daagliks ’n voedsame maaltyd by die skool ontvang. Die verslag bied inligting oor areas van doeltreffende implementering asook areas waarop verbeter kan word.

Die verslag sal op die webtuiste van die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (www.dpme.gov.za) beskikbaar gestel word.

11.7. Die Kabinet ondersteun Suid-Afrika se kandidatuur vir herverkiesing tot die tweejaarlidmaatskap van die Raad van die Internasionale Maritieme Organisasie (IMO). Hierdie verkiesing sal tydens die 30ste Gereelde Sitting van die Vergadering vanaf 27 November tot 6 Desember 2017 in Londen, Verenigde Koninkryk, gehou word.

Suid-Afrika is ’n maritieme nasie met nagenoeg 80% van ons internasionale handel wat per see geskied. Suid-Afrika se lidmaatskap in die IMO-raad dra by tot groter werkskepping wat voortspruit uit Operasie Phakisa: Oseaan-ekonomie.

11.8. Die Kabinet keur goed dat die Wysiging aan die Montreal-protokol oor Stowwe wat die Osoonlaag beskadig om ook hidrofluoorkoolstof (HFK’s) in te sluit, aan die Parlement voorgelê en bekragtig word. Hierdie wysigings is gerig op die uitfasering van HFK’s (die Kigali-ooreenkoms), wat sommige van die kweekhuisgasse is wat tot die beskadiging van die osoonlaag lei. Suid-Afrika is reeds ’n ondertekenaar van die  Montreal-protokol.  

11.9. Die Kabinet keur ook goed dat die bekragtiging van die Minamata-konvensie oor Kwik aan die Parlement voorgelê word. Dit bied geleenthede vir die beskerming van kwesbare groepe teen die skadelike uitwerkings van kwik op die omgewing en menslike gesondheid, veral vir diegene wat in gebiede woon waar mynboubedrywighede voorkom.

11.10. Die Kabinet is ingelig oor die Verslag van die Kommissie van Ondersoek na Hoër Onderwys en Opleiding in die Republiek van Suid-Afrika. Die Presidensiële Fiskale Komitee sal binnekort vergader om die finansiële implikasies hiervan te ondersoek. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sal die tersaaklike beleide en wetgewing hersien, waar nodig. President Zuma sal die verslag binnekort aan die publiek vrystel en die President se woordvoerder, dr Bongani Ngqulunga, sal ’n aankondiging oor dié aangeleentheid maak.

C. Wetsontwerpe

12.1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Wetsontwerp op die Nasionale Minimumloon, wat die minimumloon aan die laags besoldigde werkers in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark ten uitvoer bring. Die Wetsontwerp vereis dat elke werker ’n loon betaal word wat nie minder as die nasionale minimumloon is nie, welke minimumloon jaarliks aangepas sal word.

12.2. Die Kabinet keur ook goed dat die Wysigingswet op Basiese Diensvoorwaardes van 2017 aan die Parlement voorgelê word. Dit wysig die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) om te verseker dat dit vir die Minimumloonwetsontwerp voorsiening maak.

12.3. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge van  2017 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp is ’n kulminasie van oorlegpleging met al die tersaaklike belanghebbers. Dit handel onder meer oor prosedures vir betooglinievorming, langdurige stakings en arbitrasie-adviesstrukture.  

12.4. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp: Munisipale Strukture van 2017 aan die Parlement voorgelê word. Dit wysig die Wet Op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998).

Die Wetsontwerp het ten doel om inter-regerings- en demokratiese bestuursreëlings te versterk. Dit beoog ook om vraagstukke rakende die administrasie en bestuur van munisipale verkiesings op te los, die doeltreffende implementering van die Wet te bevorder en om toesig en bestuur in munisipaliteite te versterk.

12.5. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Elektroniese Akteregistrasiestelsels van 2017 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp is reeds deur die proses van openbare raadpleging.

Dit maak voorsiening vir die ontwikkeling van ’n elektroniese akteregistrasiestelsel (e-DRS) vir die verwerking van aktes, met die oog op die registrasie van groot volumes aktes wat deur die regering se grondhervormingsinisiatiewe genoodsaak word.

12.6.    As deel van die gebruik van IKT’s om ’n inklusiewe ekonomie te bou, keur die Kabinet goed dat die Wetsontwerp op die iKamva Nasionale e-Vaardigheidsinstelling van 2017 (iNeSI-wetsontwerp) in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare raadpleging en kommentaar.

Die iNeSI-wetsontwerp maak voorsiening vir die instelling van iNeSI as ’n openbare entiteit met sy eie magtigingswetgewing, om die e-vaardigheidstekort wat belegging, sosio-ekonomiese ontwikkeling en kapasiteitsontwikkeling in die land belemmer, te help uitwis.

Dit sal IKT-produksiekerns in elke provinsie vestig, wat iNeSI sal help om toepaslike programme en opleidingsmateriaal te ontwikkel en ontwerp, innoverende navorsing te bevorder en onderneem, en navorsingskapasiteit aan nagraadse studente te voorsien.

12.7. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Posdienste in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit wysig die Wysigingswet op Posdienste No 124 van 1998.

Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die herstrukturering van die posdienssektor in die algemeen om by te dra tot die voorsiening van universele toegang tot innoverende e-dienste, terwyl dit steeds veilige tradisionele posdienste van hoë gehalte voorsien.

Dit dra by tot gelykheid en menswaardigheid deur middel van toegang tot inligting en bekostigbare posdienste, wat maatskaplike ontwikkeling bevorder en individue en gemeenskappe se lewensgehalte verhoog.

D. Toekomstige Gebeure

Die Kabinet erken ook enkele van die komende gebeure op die regering se kalender.

13. Presidensiële Siyahlola-moniteringsprogram

13.1. President Zuma gaan op Vrydag, 3 November 2017 die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Tshwane besoek om as deel van die Presidensiële Siyahlola-moniteringsprogram die lewering van gesondheidsorg daar te monitor.

Die hospitaal is een van die bes presterende openbare hospitale in die land. Dit is vernoem na Steve Bantu Biko, die ontslape held van die vryheidstryd en voormalige mediese student aan die destydse Universiteit van Natal (tans die Universiteit van KwaZulu-Natal).

President Zuma se besoek vorm deel van die voortgesette regeringsmoniteringsprogram wat daarop gerig is om die uitdagings wat openbare hospitale in die gesig staar te pak en om die land se gesondheidsorgstelsel, wat een van die regering se sleutelprioriteite is, te verbeter.

14. Nasionale Maand van Bewustheid van Gestremdes se Regte

14.1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die Nasionale Maand van Bewustheid van Gestremdes se Regte tussen 3 November en 3 Desember 2017 te steun. Dit val ook saam met die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede. Suid-Afrikaners word aangemoedig om bewustheid te verhoog, die regte van mense met gestremdhede te beskerm, en ook erkenning te gee aan die vordering wat reeds gemaak is om mense met gestremdhede se uitdagings die hoof te bied.

15. Nasionale Kongres oor Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling

15.1. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Departement van Kleinsakeontwikkeling sal op 9 en 10 November 2017 die eerste Nasionale Kongres oor Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling in Gauteng belê. Die konferensie is ’n strategiese platform vir dialoog tussen die openbare en privaat sektor oor aktuele en kritieke vraagstukke rakende die stimulering van plaaslike ekonomieë deur ’n bemagtigende omgewing te skep om inklusiewe ekonomiese ontwikkeling te bevorder.

E. Boodskappe

16.1. Die Kabinet verwelkom die aankondiging dat meer as een miljard Amerikaanse dollar oor die volgende paar maande in die Suid-Afrikaanse ekonomie in tegnologie, onderwys en agri-ondernemings belê gaan word. Die aankondiging is deur Ambassadeur Harold Doley Jr, die Goewerneur van die Afrika-ontwikkelingsbank gemaak.
16.2. Die Kabinet wens dr Nono Simelela geluk met haar aanstelling as die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Assistentdirekteur-generaal. Dr Simelela sal vanaf 13 November 2017 aan die hoof staan van die WGO se Afdeling vir Gesinne, Vroue, Kinders en Adolessente. Sy was die eerste swart vrou in Suid-Afrika wat as ’n ginekoloog gekwalifiseer het.  
16.3. Die Kabinet verwelkom die aankondiging dat Wêreldrugby Suid-Afrika as die voorkeurgasheerland vir die 2023 Rugbywêreldbekertoernooi aanbeveel het. Die Kabinet loof ook die werk van die Minister van Sport en Ontspanning, mnr Thulas Nxesi, adjunkpresident Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se bodspan. Wêreldrugby sal die finale besluit op 15 November 2017 aankondig.
16.4. Die Kabinet wens al die deelnemers en wenners van die 15de Jaarlikse Toekennings vir Innovering in die Openbare Sektor geluk. Hierdie toekennings gee erkenning aan suksesvolle en doeltreffende diensleweringsinisiatiewe wat deur die toepassing van innoverende benaderings, metodologieë en instrumente bereik is.
16.5. Die Kabinet wens SuperSport United FC geluk dat hulle tot die finaal van die CAF-konfederasiebeker deurgedring het deur die Tunisiese Club Africain met altesaam 3-1 en 4-2 te verslaan. Die span, wat algemeen as Matsatsantsa bekend staan, sal volgende maand teen TP Mazembe te staan kom in die einstryd van die tweedevlak kontinentale klubkompetisie.
16.6. Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van Ian McLeod, wie se heengaan ’n verlies vir Suid-Afrikaanse sokker is. Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat by ’n FIFA Wêreldbekertoernooi as skeidsregter opgetree het toe hy in 1998 in Frankryk in dié internasionale skouspel diens gedoen het.

F. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
17.1. Direkteure op die Direksie van die Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika SOC Beperk:
a. Me Lerato Herriette Mothae; en
b. Me Sisa Mayekiso.

17.2. Voltydse lede van die Nasionale Verbruikerstribunaal:
a. Me Hazel Viloshni Devraj; en
b. Adv John Rinton Simpson.

17.3. Heraanstelling van twee deeltydse lede van die Mededingingstribunaal:
a. Prof Imraan Valodia; en
b. Mnr Anton Roskan.

17.4. Direksie van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing:
a. Prof Mvuyo Tom (Voorsitter);
b. Prof Lindiwe Zungu;
c. Me Nasima Badsha;
d. Prof Relebohile Moletsane;
e. Prof Haroon Bhorat;
f. Prof Shireen Hassim;
g. Me Precious Nompumelelo Sibiya;
h. Prof Mark Bussain;
i. Adv Roshan Dehal; en
j. Dr Abdalia Hamdok.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore