Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 01 November 2023

A.    Omstandigheidskwessies
1.    2023 Rugby Wêreldbeker-kampioene 

1.1.    Die Kabinet wens die Springbokke geluk met hul 2023 Rugby Wêreldbeker-oorwinning, wat gemaak het dat Suid-Afrika die enigste land is wat die Rugby Wêreldbeker vier (4) keer gewen het en die tweede land wat daarin kon slaag om die titel agtereenvolgens te wen.
1.2.    In die geskiedenis van rugby in Suid-Afrika is hierdie die mees diverse Springbokspan wat Suid-Afrika se demografiese verteenwoordiging betref. Die samestelling van so ʼn diverse span was nie toevallig nie, maar ʼn doelbewuste poging deur die Springbokke se bestuur en afrigters om ʼn inklusiewe span te kies. Daardie waagmoedige besluit deur die destydse afrigter, Rassie Erasmus, en sy span demonstreer aan Suid-Afrikaners sowel as die res van die wêreld dat enigeen met vaardigheid, gegewe ʼn kans en die nodige ondersteuning, sukses kan behaal – ʼn bevestiging dat ons Sterker Tesame is.
1.3.    Allerbelangrik is hoedat die Springbokke se veerkragtigheid en vasberadenheid op die veld ʼn vergestalting is van dit wat aan die kern van Suid-Afrikanerskap lê, dit wat hierdie grootse nasie bo sy uitdagings laat uitstyg om telkens as oorwinnaar uit die stryd te tree. ʼn Paar van die uitblinkers in hierdie Springbokspan moes persoonlike struikelblokke oorkom onderweg na sukses.
1.4.    Die Kabinet se gelukwensings gaan aan Siyamthanda “Siya” Kolisi, die Springbokke se dubbele Wêreldbeker-wennerkaptein, met sy aanvoering van die span tot die Grootste van Alle Tye — en die vieringe duur steeds voort.

2.    AGOA Forum
2.1.    Die Kabinet verwelkom die bevestiging deur beide die Amerikaanse administrasie sowel as die kongres dat hulle voornemens is om AGOA te verleng, wat sekerheid bring aan die beleggingsgemeenskap in die lande wat vir AGOA kwalifiseer. 
2.2.    Die Kabinet verwelkom ook die aanbieding van die 2023 AGOA Forum in Johannesburg vanaf 2–4 November 2023, wat bygewoon is deur deelnemers uit 32 Afrika-lande vanuit die geledere van regeringslui, die besigheidswêreld, die burgerlike samelewing en — die eerste keer ooit — georganiseerde arbeid, asook verteenwoordigers van die regering van die Verenigde State. 
2.3.    Die Kabinet meen steeds dat AGOA ʼn geleentheid bied vir die Verenigde State van Amerika om sy ekonomiese verhouding met Afrika te versterk en dus vir ʼn betekenisvolle tydperk verleng en aangevul moet word sodat dit ʼn groter impak kan hê en aantrekliker vir deelnemers kan wees. 

3.    Vergadering van BRICS se Ministers van Toerisme
3.1.    Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afsluiting van 2023 se Vergadering van BRICS se Ministers van Toerisme wat in Kaapstad gehou is, waar lidlande hulself daartoe verbind het om nouer saam te werk en intra-BRICS-toerisme te bevorder asook roetes vir groter toerismemobiliteit en konnektiwiteit tussen die lidlande te ontwikkel. 
3.2.    Dit sal ʼn verdere hupstoot gee aan Suid-Afrika se toerismesektor, wat reeds tekens van herstel toon. Die land het 5,5 miljoen aankomste in die eerste agt maande van 2023 gehad, wat ʼn toename van 63,4% is, gemeet aan dieselfde tydperk in 2022.

4.    Kieserregistrasie 
4.1.    Die OVK het 18 en 19 November 2023 as die eerste kieserregistrasienaweek vir 2024 se algemene verkiesing aangekondig.
4.2.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle stemgeregtigde kiesers om te registreer om in 2024 se algemene verkiesing by hul naaste stemlokaal te stem.  
4.3.    Aanlyn kieserregistrasie is sedert Februarie 2023 beskikbaar, en burgers word versoek om die fasiliteit te gebruik om te registreer of hul besonderhede by te werk. 
4.4.    Suid-Afrikaners wat vir hul ID's aansoek gedoen het, word aangemoedig om hul plaaslike kantoor van Binnelandse Sake te besoek om dit af te haal. Daar is nog meer as 500 000 slim ID-kaarte wat by kantore van Binnelandse Sake regoor die land afgehaal moet word.

5.    Elektrisiteit 
5.1.    Die Minister in die Presidensie getaak met elektrisiteit het omvattende inligting oor die land se elektrisiteitsituasie verskaf.
5.2.    Die Kabinet loof pogings deur die Gautengse provinsiale regering in samewerking met Eskom om elektrisiteittoevoer te herstel na gebiede in Gauteng wat deur stroomonderbrekings weens diefstal of skade aan transformators getref is. 
5.3.    Gisteraand is ses nuwe elektriese transformators in Kagiso aan die Wes-Rand aangeskakel nadat gemeenskappe meer as drie jaar lank sonder krag was.
5.4.    Die Kabinet doen ʼn beroep op hierdie gemeenskappe om hierdie kritieke infrastruktuur teen diefstal, vandalisme en skade as gevolg van onwettige verbindings te beskerm. 

6.    Voedselvergiftiging
6.1.    Die Kabinet neem met kommer kennis van die vlaag voedselvergiftiging onder kinders as gevolg van die inname van verouderde en besmette voedsel afkomstig van spazawinkels en straatsmouse. 
6.2.    Dit is gerusstellend om te verneem van wetstoepassingspogings om voldoening aan voedselveiligheid af te dwing.  

7.    Werkwinkel met burgemeesters en tradisionele leiers oor internasionale migrasie 
7.1.    Die Kabinet is ingelig oor ʼn internasionale migrasiewerkwinkel, aangebied deur die Departement van Binnelandse Sake met die deelname van die DSBD, COGTA, Menslike Nedersettings en tradisionele leiers en burgemeesters van metro- en distriksmunisipaliteite, wat toegespits was op die bekamping van die gevolge van onwettige immigrasie, insluitend die bedrywighede van spazawinkels.
7.2.    Sleuteluitkomste sluit in die instelling van omnibusverordeninge om uitdagings aan te spreek wat verband hou met die afdwinging van besigheidsverordeninge deur munisipaliteite en tradisionele owerhede. Besighede, veral spazawinkels, sal onmiddellik gesamentlik deur die departemente van arbeid, gesondheid en kleinsake-ontwikkeling asook Binnelandse Sake se immigrasie-inspektoraatspanne geïnspekteer word om die nakoming van toepaslike wette af te dwing.
7.3.    ʼn Oudit van spazawinkels in dorpies en townships sal onderneem word, en meganismes sal ingestel word om hulle deur beide tradisionele leiers en munisipaliteite te registreer. Daar word ook gepoog om tradisionele owerhede te ondersteun om rekord te hou van buitelandse burgers in hul gemeenskappe.
7.4.    Besigheidslisensiewetgewing word tans gewysig om al diegene te ondersteun wat in die informele sektor wil handel dryf.  

8.    Geïntegreerde misdaadbestryding 
8.1.    Die Kabinet wens die SAPD geluk met die enorme slag wat hulle aan internasionale dwelmsindikate toegedien het nadat daar op 20 Oktober 2023 by ʼn pakhuis by Dube Handelshawe te King Shaka Internasionale Lughawe op kokaïen ter waarde van R80 miljoen beslag gelê is. Twee dae voor die beslaglegging is daar ook op ʼn verdere R70 miljoen se kokaïen in ʼn houer by die Durbanse hawe beslag gelê. 
8.2.    Die Kabinet loof die SAPD vir hul ontwrigting en aftakeling van oorgrens georganiseerde misdaad, wat ʼn wesenlike bedreiging vir ons gemeenskappe en nasie inhou.
8.3.    Operasie Veiliger Feesseisoen lewer reeds resultate op nadat die polisie meer as 140 verdagtes in hegtenis geneem het, insluitend ʼn beweerde sleutelfiguur in onwettige mynbou, en op talle ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê het.

9.    Presidensiële oorsigbesoek
9.1.    Die Kabinet verwelkom die presidensiële oorsigbesoek aan die Emfuleni Munisipaliteit, wat voorafgegaan is deur samesprekings met die gemeenskap tydens die Distriksontwikkelingmodelbesoek van 2022.  
9.2.    Tydens die besoek aan Emfuleni in 2022 is swak infrastruktuuronderhoud deur die munisipaliteit as ʼn probleem geïdentifiseer.
9.3.    Nadat die Departement van Water en Sanitasie ingegryp het, is noemenswaardige vordering gemaak met die oplos van water- en sanitasie-infrastruktuuruitdagings wat voorheen tot die ineenstorting van die Vaal-afvalwaterstelsel gelei het.
9.4.    Werk is onderneem om watervoorsiening en die funksionering van die afvalwaterinfrastruktuur te verbeter en sodoende die probleem uit te skakel van riooluitvloeisel wat in die strate en oor mense se erwe loop.
9.5.    Vordering wat tydens die besoek waargeneem is, sluit verbeterings aan kritieke grootmaat pypleidings en waterpompstasies in asook die hervlakking en herseël van paaie en die grootskaalse uitrol van straatligte om beligting en veiligheid op te skerp.

10.    Padkaart vir Suid-Afrika se vraglogistiekstelsel
10.1.    Die Departement van Vervoer het begin konsulteer oor die padkaart vir Suid-Afrika se vraglogistiekstelsel as deel van maatreëls om die probleme op te los wat die vrag- en logistieke sektor in die gesig staar en Suid-Afrika se ekonomiese herstelpogings te onderskraag.

11.    Infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding 
11.1.    Die Kabinet verwelkom die vordering in infrastruktuurontwikkeling en instandhouding met die voltooiing van 36 landelike brûe ingevolge die Welisizwe Landelike Brûe-projek, en konstruksiewerk aan 20 menslikenedersetting-, pad- en waterprojekte.

12.    Herbekendstelling van Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se internasionale roetes
12.1.    Die Kabinet verwelkom die herbekendstelling van SAL se internasionale roetes met die herinstelling van sy interkontinentale vlug na São Paulo, Brasilië, wat ook die herlewing van langafstandvlugte vanuit Kaapstad en Johannesburg inlui.
12.2.    Die SAL se herinstelling van internasionale roetes sal direk daartoe bydra om internasionale reise na die land te laat toeneem en die toerismesektor te help herstel na die verwoesting van die Covid-19-pandemie.

13.    Suid-Afrika stel die grootste hommeltuig in Afrika bekend
13.1.    Die Kabinet se gelukwensings gaan aan die verdedigings- en lugruimmaatskappy Milkor met hul suksesvolle bekendstelling van die Milkor 380 onbemande lugvoertuig (OLV), wat Suid-Afrika onder die lande plaas wat die toon aangee in hommeltuigtegnologie.
13.2.    Die Milkor 380 is die grootste hommeltuig wat nog in Afrika gebou is en sal deur die verdedigingsbedryf gebruik word vir gevegsituasies, grensbeheer en bewaringswerk, insluitend om stropery te bekamp. 

14.    Matriek- en jaareindskooleksamens
14.1.    Die gladde aanvang van 2023 se Nasionale Senior Sertifikaat- (matriek-) eksamen, wat op 30 Oktober 2023 begin het, is verblydend. Die Kabinet moedig ouers en voogde aan om leerders gedurende hierdie kritieke tydperk te ondersteun. 
14.2.    Die Kabinet wens ook al die ander leerders alles van die beste toe met hul jaareindeksamen.

B. Kabinetbesluite 
1.    Die situasie in Palestina

1.1.    Die Kabinet is teleurgesteld oor die weiering van die Israeliese regering om internasionale reg te respekteer en sy voortgesette ondermyning van die Verenigde Nasies se resolusies aangaande die implementering van ʼn wapenstilstand.
1.2.    Die humanitêre weë vir die mense van Palestina bly gesluit, met ernstige gevolge vir kinders, vroue en onskuldige burgerlikes. 
1.3.    Die moordende lugaanvalle deur Israel se regering op die mense van Palestina duur steeds voort, met ʼn stygende dodetal wat vroue en kinders insluit. Die afgelope twee dae het die wêreld hulpeloos gesit en toekyk hoe toenemende lugaanvalle op Gaza en die Wesoewer skole, gesondheidsfasiliteite, ambulanse en burgerlike infrastruktuur en paaie na die suide van Gasa wat veronderstel is om ʼn veilige roete te wees, vernietig.
1.4.    Die Kabinet het gevolglik besluit om alle Suid-Afrikaanse diplomate uit Tel Aviv te herroep vir konsultasie.  
1.5.    Die Kabinet neem ook met ontsteltenis kennis van die voortdurende neerhalende opmerkings van die Israeliese ambassadeur in Suid-Afrika, mnr. Eliav Belotsercovsky, oor Suid-Afrikaners en Suid-Afrika se leierskap binne sowel as buite regeringskringe, insluitend die burgerlike samelewing, wat hulle uitspreek teen die Israeliese regering se slagting van die Palestyne. 
1.6.    Ambassadeur Belotsercovsky se aanmerkings druis in teen die verklarings van twee voormalige Israeliese ambassadeurs in Suid-Afrika (Illan Baruch en dr. Alon Liel) wat konsekwent is in hul beskrywing van hul regering se optrede teen die Palestyne as ‘Apartheid’. 
1.7.    Hierdie neerhalende opmerkings oor diegene wat die gruweldade veroordeel en oor die land se leiers maak ambassadeur Belotsercovsky se posisie al hoe meer verwerplik. Die Kabinet het gevolglik die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking gelas om die Suid-Afrikaanse regering se misnoeë met die ambassadeur formeel deur diplomatieke kanale oor te dra.

2.    Mediumtermyn-begrotingsbeleidverklaring 
2.1.    Die Kabinet het die mediumtermyn-begrotingsbeleidverklaring (MTBBV) vir 2023 verwelkom, wat ʼn eerlike beoordeling van die huidige ekonomiese klimaat verskaf en die regering se stewige houvas op ons land se finansies te midde van moeilike inkomstebeperkings demonstreer.
2.2.    Die besluite in die MTBBV verbeter ons fiskale raamwerk en stimuleer ekonomiese groei terwyl dit ʼn ewewig bied vir die maatskaplike ondernemings waardeur ons ons nasie se kwesbares ondersteun.
2.3.    Die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan het tot talle groen lote in ons ekonomie bygedra. 

3.    Hoëspoedspoorontwikkeling 
3.1.    Die Kabinet het die hoëspoedspoorontwikkelingsraamwerk goedgekeur, en die finansiële implikasies van die implementering daarvan sal deur die Ministers van Vervoer en Finansies bespreek word.
3.2.    Die Kabinet het die prioritisering van die Johannesburg-na-Durban-korridor vir ʼn gedetailleerde uitvoerbaarheidstudie goedgekeur, terwyl dié van Johannesburg-Polokwane na Musina en van Johannesburg na Mbombela op tender gesit sal word.

4.    Konsep-witskrif oor burgerskap, immigrasie en vlugtelingbeskerming
4.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming vir openbare kommentaar goedgekeur. 
4.2.    Die konsepbeleid het ten doel om ʼn raamwerk te verskaf vir leiding oor die toekenning van verblyf en burgerskap aan buitelandse burgers sowel as die beskerming van vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika, met inagneming van die Republiek se nasionale veiligheidsbelange en in ooreenstemming met internasionale ooreenkomste en protokolle oor migrasie waarby Suid-Afrika ʼn party is.  

5.    Die 6de jaarlikse vorderingsverslag oor die implementering van die Witskrif oor die Regte van Mense met Gestremdhede
5.1.    Die Kabinet het sy goedkeuring verleen vir publikasie in die staatskoerant van die 6de jaarlikse vorderingsverslag oor die implementering van die Witskrif oor die Regte van Mense met Gestremdhede. 
5.2.    Die publikasie van die vorderingsverslag sal saamval met die internasionale viering van Gestremdheidsregte-bewusmakingsmaand van 3 November tot 3 Desember.
5.3.    Die vorderingsverslag dui ook op ʼn verhoging van die minimum diensbillikheidsteiken van 2% tot 3% vir persone met gestremdhede vanaf die 2024/2025 finansiële jaar, tot ʼn minimum 7% diensbillikheidsteiken vir persone met gestremdhede teen 2030.
C. Wetsontwerpe
1. Konsepwetsontwerp op die Afrika Renaissance en Internasionale Samewerkingsfonds (ARF)
1.1    Die Kabinet het die voorlegging van die ARF-wysigingswetsontwerp aan die Parlement goedgekeur. 
1.2    Die wetsontwerp het ten doel om die ARF-wet (Wet 51 van 2000) te wysig en die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsvennootskapagentskap tot stand te bring, wat sal dien as ʼn meganisme om Suid-Afrika se ontwikkeling en samewerking met susterlande deur die bevordering van demokrasie, goeie regering, die voorkoming en oplossing van konflik, sosio-ekonomiese ontwikkeling en integrasie te ondersteun. 

D. Aanstellings 
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en relevante klaring.
1.    Aanstelling van mnr. Ebrahim Rasool as Voorsitter van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika 
2.    Aanstelling van Me. Margaret Mosibudi Phiri as lid van die Nasionale Kernreguleerderraad
E. Komende gebeure

1.    Teenkorrupsie-dialoog
1.1    Die Teenkorrupsie-dialoog word op 8 en 9 November 2023 by die Birchwood Hotel in Ekurhuleni gehou om die samelewing in die stryd teen korrupsie in ooreenstemming met die land se Nasionale Teenkorrupsiestrategie te mobiliseer.
1.2    Die Kabinet het in November 2020 die Nasionale Teenkorrupsie-strategie (NACS 2020—2030) goedgekeur.  Dit is ʼn landswye strategie wat daarop gemik is om ʼn korrupsievrye samelewing te skep, terwyl dit ook burgers aanmoedig om geen korrupsie te verdra nie en die oppergesag van die reg te gehoorsaam.

2.    16 Dae van Aktivisme-veldtog vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders nie 2023
2.1    Vanjaar is die 25ste herdenking van Suid-Afrika se deelname aan die 16 Dae van Aktivisme-veldtog vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders nie wat sal plaasvind aan die hand van die tema: “Versnelling van aksies om gendergebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF) te beëindig: Niemand word agtergelaat nie”.
2.2    Hierdie wêreldwye veldtog strek vanaf 25 November, die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue, tot 10 Desember, Internasionale Menseregtedag. Dit het ten doel om geweld teen vroue te bekamp terwyl menseregte gehandhaaf word. 

3.    14de Beleidsdialoogforum
3.1    Suid-Afrika gaan in Januarie 2024 mede-gasheer van die 14de Beleidsdialoogforum wees in samewerking met UNESCO se Internasionale Onderwyserstaakmag (OTM) vir Onderwys, aan die hand van die tema "Hoe om onderwysertekorte aan te spreek en die beroep aantrekliker te maak”. 
3.2    Die forum sal regeringsamptenare, NRO's, onderwysers en onderwyskundiges bymekaarbring om kritieke kwessies te bespreek rakende die diensvoorwaardes vir onderwysers, onderwysersoutonomie en aanspreeklikheid, en hoe om ʼn aantreklike beroep van onderwys te maak.

 F. Boodskappe

1.    Gelukwense
Die Kabinet dra wense van geluk en voorspoed oor aan: 

  • Die Proteas vir hul vordering tot die halfeindronde van die IKR Wêreldbeker 2023 in Indië. Ondanks die terugslag in die span se wedstryd teen Indië gister staan die land bankvas agter hulle en is ons vol vertroue dat hulle sal aanhou bou aan hul prestasie en ons trots sal maak. 
  • Die Moto GP-renster Brad Binder, wat nou die premierklas podiumrekordhouer vir Suid-Afrika is nadat hy onder die top drie geëindig het by die Thailandse Grand Prix.
  • Suid-Afrika se eerste professionele rolstoelliggaambouer, Macethandile Kulati, vir die verdediging van sy titel by die 2023 Wêreldkampioenskap van die Internasionale Federasie van Liggaamsbouers en Fiksheid in Slowenië.
  • Suid-Afrikaanse geoktrooieerde rekenmeesters, nadat hulle die topposisie in Edelman se wêreldwye opname oor professionele vertroue behaal het.
  • Dr. Claude Mashego, nadat sy die eerste Mej. Wêreld Suid-Afrika-titel gewen het; sy sal Suid-Afrika in Desember vanjaar by die Mej. Wêreldkompetisie in Nieu-Delhi, Indië verteenwoordig. 
  • Advokaat Kholeka Gcaleka vir haar aanstelling as die nuwe Openbare Beskermer vir ʼn termyn van sewe jaar met ingang van 1 November 2023.

2.    Medelye
Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van: 

  • •    Die Paralimpiese gouemedaljewenner Zanele Situ, wat in Sydney in 2000 die eerste swart Suid-Afrikaanse vroulike atleet geword het om ʼn goue medalje by die Paralimpiese Spele te wen. 
  • •    Voormalige Bafana-Bafana-assistentafrigter en sokkerlegende Phil “Mnr. Jones” Setshedi.  
  • •    Adjudantoffisier Sthembiso Mazibuko van die Nasionale Intervensie-eenheid wat tydens ʼn skietgeveg met misdadigers in Ntuzuma, KwaZulu-Natal, doodgeskiet is.

Navrae:
Me. Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore