Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 19 Februarie 2014

1. Kabinet se posisie oor belangrike kwessies in die huidige omgewing

1.1. Die 24ste staatsrede sedert die demokratiese bedeling was ’n kritiese blik op die implementering van staatsprioriteite vir 2009 tot 2014. Die inwerkingstelling van die uitkomstestelsel in 2009 het bewysgerigte en resultaatgedrewe monitering van implementerings moontlik gemaak, wat verseker dat die Regering se dienslewering doeltreffend en effektief is.
1.2. In die lig van die staatsrede en debat oor die staatsrede, bied die huidige reeks ministeriële media-inligtingsessies geleentheid vir skakeling met verskeie ministers wat die staatsrede sal toelig. Die verslag oor die einde van die termyn vir die tydperk 2009 tot 2014 sal aangevul word deur die bewysgerigte 20-Jaar Oorsigverslag, wat deel uitmaak van ons 20 Jaar van Vryheid Veldtog.

Alle Suid-Afrikaners word versoek om hul deel te doen om die nalatenskap van apartheid om te keer deur die 20 Jaar van Vryheid te vier, wat bewys dat Suid-Afrika beslis ’n beter land is as wat dit in 1994 was.

1.3. Die Kabinet herhaal President Jacob Zuma se boodskap oor protes. Protes wat lewens en eiendom bedreig en waardevolle infrastruktuur vernietig, wat bedoel is om gemeenskappe te dien, ondermyn juis die demokrasie wat die reg om te protesteer, onderskryf. As Suid-Afrikaners het ons almal ’n kollektiewe verantwoordelikheid om ’n samelewing te bou, gegrond op die oppergesag van die reg, respek vir mekaar, lewe en eiendom.

Die Kabinet verseker die publiek dat die verlies aan lewe deur polisienalatigheid in die hantering van protes nie misgekyk of verskoon sal word nie. Eweneens sal betogers in besit van wapens of die wat openbare geriewe afbrand of die lewens van ander bedreig, die volle mag van die gereg in die gesig staar.

Die Regering sal met gemeenskappe saamwerk om lewensomstandighede in alle dele van die land te verbeter. Gemeenskappe word versoek om raadslede by te staan om geskille oor dienslewering vreedsaam op te los. 

1.4. Onderhandelinge oor lone tussen platinummyne en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) word deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bemiddel. Die KVBA het senior kommissarisse aangestel om die proses te fasiliteer.

Die Kabinet is vol vertroue dat die partye ’n wedersyds voordelige ooreenkoms sal bewerkstellig, wat die regte van werkers en die ekonomie van die land sal beskerm.

1.5. Die Kabinet verwelkom die registrasie van meer as 80% van alle stemgeregtigdes danksy die suksesvolle registrasieveldtog deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Met die herdenking en viering van 20Jaar van Vryheid in gedagte is die Kabinet in sy skik met die OVK, politieke partye en lede van die gemeenskap wie se pogings gemaak het dat soveel stemgeregtigdes geregistreer het.

Die Kabinet is verder vol lof vir die aktiewe deelname van burgers wat verseker het dat hulle name op die kieserslys is.

Stemgeregtigdes wat nog hul registrasiebesonderhede moet nagaan en mense wat nog moet registreer, moet hul plaaslike OVK-kantoor besoek voordat die kieserslys sluit. Die kieserslys sluit wanneer die President 7 Mei as die verkiesingsdatum afkondig. Alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners word versoek om hul reg om te stem in die vyfde Nasionale Verkiesing uit te oefen. Die Kabinet versoek politieke leiers om verdraagsaamheid binne hul partye en onder hul ondersteuners aan te moedig. Verdraagsaamheid is noodsaaklik om ’n vry en regverdige verkiesing te verseker en om die waardes van ons Grondwet te handhaaf.

1.6. Die Kabinet verwelkom die eerste ronde van die inentingsveldtog teen die Menslike Papillomavirus (MPV), wat op 7 Maart 2014 sal begin. Inenting teen servikskanker sal op meisies tussen die ouderdomme nege en 10 gedoen word. Ouers en voogde van graad 4-skoolmeisies tussen nege en 10 word aangemoedig om hierdie veldtog te ondersteun deur hul toestemming te gee en die belangrikheid van hierdie inenting met hul kinders te bespreek.

Hierdie mylpaal in openbare gesondheid is in lyn met die aanbeveling Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevelings en sal na verwagting mortaliteit weens servikskanker onder vroue aansienlik verminder.

1.7. Die Kabinet verwelkom ook die bekendstelling van die hersiene beleid en diensleweringsriglyne oor voorbehoedingsbeplanning soos op 27 Februarie 2014 deur die Minister van gesondheid aangekondig. (Dit sal maak dat jong vroue hulle skoolopleiding kan voltooi en hul drome nastreef sonder om oor onbeplande swangerskap bekommerd te wees. Die Minister van gesondheid sal ook ’n veldtog vir ’n subdermale (onder die vel) inplanting van stapel stuur. Die inplanting is ’n langwerkende voorbehoedmiddel vir vroue.

1.8. President Jacob Zuma, as opperbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag  (SANW), sal op 21 Februarie 2014 die Gewapendemagtedag in Bloemfontein bywoon.

Hierdie jaarlikse geleentheid bring hulde aan die onbaatsugtige diens van ons manne en vroue in uniform en vereer hulle wat met hul lewens geboet het gedurende die uitvoering van hulle pligte. Dit bied ook ’n geleentheid vir die publiek om eerstehands die werk en die verantwoordelikheid van die SANW te kan sien.

Die Kabinet is tevrede met die aantal suksesvolle sendings wat die SANW op die vasteland uitgevoer het. Voorbeelde hiervan is Burundi, wat vandag ’n stabiele regering het, en die ooste van die DRK, waar die SANW as deel van die ingrypbrigade van die VN (FIB) vir gewapende groepe ’n ernstige knou toegedien het en sodoende honderde duisende lewens in die Darfoer-streek van die Soedan gespaar het.

Die Kabinet het verder kennis geneem van die SANW se sukses in die voorkoming van seerowery in Suider-Afrika deur ontplooiing en patrollering van die Mosambiekkanaal.

1.9. President Jacob Zuma sal ’n besoek aan die Verenigde Koninkryk van 2 tot 4 Maart 2014 bring waartydens hy die Nasionale Diens van Danksegging sal bywoon ter viering van die lewe en werk van voormalige President Nelson Mandela in Westminster Abdy, Londen, op 3 Maart 2014.

1.10. Adjunk-President Kgalema Motlanthe sal die 100-jarige herdenking van die eenwording van die Noord- en Suid-Nigerië in Abuja op 27 Februarie 2014 bywoon. Die Kabinet  wens die mense van die Federale Republiek van Nigerië geluk met hierdie mylpaal, wat in dieselfde jaar sal plaasvind as wat Suid-Afrika 20 jaar van vryheid vier.

1.11. Menseregtemaand sal onder die volgende tema gevier word: "Ter viering van 20 jaar van lewens verander deur menseregte."

President Jacob Zuma sal die hoofspreker wees op Menseregtedag (21 Maart 2014) tydens die hoofvieringe in Sharpeville.

Die Regering se program sal die 20 Jaar van Vryheid veldtog aanvoer deur op kwessies te fokus wat maatskaplike samehorigheid, nasiebou en eenheid in ons Suid-Afrikaanse samelewing bevorder.

1.12. Die Departement Ekonomiese Ontwikkeling, die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NJOA) en die Presidensie sal gasheer wees vir die Presidensiële Jeugindaba oor Werksgeleenthede en Vaardighede by die Birchwood Konferensiesentrum, Boksburg, vanaf 28 Februarie tot 3 Maart 2014 onder die tema: "Deur saam te werk om te bemagtig en om hoop aan die jeug van Suid-Afrika te bring."

Oor die afgelope 20 jaar het die Regering ’n meerledige strategie geïmplementeer om werkloosheid onder die jeug teen te werk. Die Nasionale Akkoorde oor Vaardighede, Basiese Onderwys en Jeugindiensneming vat verbintenisse deur maatskaplike vennote saam, aangevul deur verskeie openbare indiensnemingsprogramme en wetgewing soos die Wet op die Aansporing van Indiensneming, Wet No 26 van 2013.

1.13. Die Kabinet verwelkom die samekoms van alle vennote in die maatskaplike sektor tydens die komende Uitgebreide Openbarewerkeprogram (UOWP) se  Maatskaplikesektorkonferensie om die vordering van die UOWP te bepaal en hoe dit verder uitgebrei kan word.

Die konferensie sal gehou word onder die volgende tema: "Verenig in aksie om werkskepping te versnel deur die UOWP maatskaplike sektor.”

Die UOWP is in 2004 van stapel gestuur en is steeds ’n belangrike Regeringsinisiatief wat werk vir miljoene Suid-Afrikaners oor die kort tot medium termyn skep.

1.14. Die Kabinet wens die Bafana Bafana-span alle voorspoed toe met die komende vriendskaplike internasionale sokkerwedstryd op 5 Maart 2014 met die Wêreldbekergasheer Brasilië by die FNB-stadion.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om besoekers ’n warm ubuntu-verwelkoming te gee en ons nasionale span te ondersteun.

2. Belangrike Kabinetbesprekings en -besluite

2.1. Die Kabinet het die ontwikkeling van ’n beleid, implementeringstrategie en konsultasieproses vir ’n Nasionale Loopbaanontwikkelingsdiens goedgekeur.

’n Gekoördineerde loopbaanontwikkelingsdiens is dringend nodig om te verseker dat die jeug, studente, onderbenutte werkers en werkloses toegang tot loopbaaninligting en -dienste van gehalte het.
Dit sal hulle help om beter en meer ingeligte loopbaankeuses te maak wat hoër vlakke van indiensneming lewer en help om volhoubare ekonomiese groei in die land te verhoog.

2.2. Die Kabinet ondersteun die implementering van die eDisclosure-stelsel in die staatsdiens van April 2014 af wat die ou stelsel van indiening, prosessering en verifikasie van inligting met die hand vervang. eDisclosure is ’n elektroniese register, wat finansiële inligting van werknemers, van wie vereis word om hul registreerbare belange aan hul onderskeie uitvoerende owerhede teen 30 April van elke jaar bekend te maak, vaslê en bestuur.
Die e-Disclosure-stelsel is op die tuisblad van die Departement van Staatsdiens en Administrasie – www.dpsa.gov.za – en is aan ander relevante, bestaande databasisse, soos die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom, aktekantoor en eNatis gekoppel om verifikasie en bekragtiging te vergemaklik.

Die stelsel het ten doel om aanspreeklikheid te versterk in lyn met die Regering se beleid van geen verdraagsaamheid van korrupsie.

2.3. Die Kabinet neem kennis van die aanbieding van die Afrika-ombudsman-spitsberaad en verwante sake in Gauteng van 24 tot 27 Februarie 2014. Die Afrika-ombudsman-navorsingsentrum sal die beraad aanbied onder die tema: "Versterking van goeie bestuur in Afrika deur die rol van die Ombudsman".

Die doel van die beraad is om die bydraes van ombudinstellings om demokrasie en goeie Regering te konsolideer, en sodoende tot vrede en stabiliteit op die kontinent by te dra, te verken. Dit bied ook ’n platform om betrokke te raak by die bevordering van die begrip ombudsmanskap in Afrika.

Die beraad vind plaas op ’n tydstip wanneer daar meer klem is op skoon bestuur, aanspreeklikheid en regverdige dienslewering aan gewone mense in Afrika-state.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het ingestem dat die Wysigingswetsontwerp op Handelskeepvaart, 2014, in die Parlement ter tafel gelê word.

Aangesien die Wet op Handelskeepvaart, No 57 van 1951, lank voor die Grondwet in 1996 gepromulgeer is, is dit noodsaaklik om dit te wysig om in te pas by die waardes en bepalings van die Grondwet en huidige internasionale konvensies.

Die Wysigingswetsontwerp gee uitvoering aan die Maritieme Arbeidskonvensie van 2006 en die Werk in Vissery-konvensie van 2007. Albei konvensies is deur die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie aanvaar.

Die wysiging van plaaslike wetgewing in oorstemming met die konvensies bied Suid-Afrika 'n internasionale middel om internasionale beskerming van die reg van seevaarders en behoorlike werk- en lewensomstandighede te verseker. Dit sal Suid-Afrika in staat stel om in te gryp in gevalle waar buitelandse skepe wat ons hawens betree die regte van seevaarders oortree het.

Die wetsontwerp sal die bedrywighede en beeld van die maritieme bedryf, wat noodsaaklik is vir internasionale handel en die internasionale ekonomie.

4. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings gedoen:

4.1. Me Carlize Catherina Elizabeth Strydom – Hoofregistrateur van Aktes (ADG-vlak) in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
4.2. Mnr Eugene Malcholm Southgate – Adjunk-direkteur-generaal: Korporatiewe Dienste, in  die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
4.3. Die Kabinet het ook die heraanstelling van mnr Mohammed Riaz Jawoodeen as nie-uitvoerende lid van die Raad van die Sentrale Energiefonds (SOC) Bpk. goedgekeur.
4.4.  Die Kabinet het die aanstelling van die volgende persone as reguleerderlede vir die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika goedgekeur:
Deeltyds:
a) Mnr Jacob Rasetlhake Daniel Modise (Voorsitter)
b) Me Maleho Margaret Nkomo (Adjunkvoorsitter)
c) Mnr Fungai Khumbulani Sibanda
d) Me Khomotso Ramasela Mthimunye
Voltyds:
e) Me Nomfundo Maseti

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore