Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor Suid-Afrika se reaksie op die koronaviruspandemie

My Mede-Suid-Afrikaners,

Ons land het hierdie week ‘n hartseeroomblik in die verloop van die koronaviruspandemie beleef toe die land se 219de sterfte weens die siekte aangeteken is.

Elke sterfgeval is ’n tragedie.

Die 219 mense wat gesterf het, het gesinne gehad, hulle het afhanklikes gehad en hulle het vriende en kollegas gehad.

Hulle lewens is kortgeknip deur ’n virus wat menslike en ekonomiese verwoesting oor die wêreld heen gesaai het.

Met die aanteken en bekendmaking van die daaglikse infeksie-, sterfte- en herstelsyfers, kan ons te maklik die feit dat ons met mense se lewens te doen het, uit die oog verloor.

Dié koronavirus lei tot swaar verliese, nie net wat ons mense se gesondheid betref nie, maar ook hul vermoë om geld te verdien, om hulle en hul gesinne te voed, om te leer en te ontwikkel en om baie van die basiese vryhede wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar, te geniet.

Laat ons vanaand almal wat met die koronavirus besmet is en almal wat geliefdes verloor het, asook diegene wat ernstige ontberings moes verduur en steeds verduur as gevolg van die pandemie, in ons gedagte en ons gebede hou.

Dit is nou byna sewe weke sedert ons die landwye inperking in werking gestel het.

Gedurende hierdie tyd het Suid-Afrikaners dapperheid, veerkragtigheid en verantwoordelikheid aan die dag gelê.

Ek bedank julle weer vir die opofferings wat julle tot dusver gemaak het.

Ek het dit reeds voorheen genoem, maar ek wil weer sê dat die inperking absoluut noodsaaklik was, ondanks die duur en die erns daarvan.

Sonder die inperking sou die aantal koronavirusinfeksies onbeheerbaar gestyg het; ons gesondheidsorgfasiliteite sou oorweldig gewees het en duisende meer Suid-Afrikaners sou gesterf het.

Ons reaksie is van die begin af gelei deur raadgewing van toonaangewende kundiges uit ons eie land en van regoor die wêreld.

Ons het ook voordeel getrek uit die Wêreldgesondheidsorganisasie se leiding.

Hierbenewens was ander lande se ervarings ook vir ons van onskatbare waarde.

Daar was verskeie vooruitskattings oor die moontlike rigting wat die siekte kon gevolg het as ons nie vinnig en beslissend opgetree het nie.

Namate meer data beskikbaar geword het, is hierdie vooruitskattings hersien en verfyn.

Die beste huidige skatting is dat minstens 80 000 Suid-Afrikaners teen hierdie tyd besmet sou gewees het sonder die inperking en die ander maatreëls wat ons ingestel het.

Die dodetal kon hierbenewens minstens agt keer hoër gewees het as wat dit is.

Toto dusver het 219 mense in Suid-Afrika aan hierdie siekte gesterf.

Daarteenoor, het die Verenigde State in 'n soortgelyke stadium van die siekte se vordering meer as 22 000 sterftes aangeteken en die Verenigde Koninkryk meer as 19 000 sterftes.

Ons moet nooit vergeet dat die inperking daarop gerig was om die verspreiding van die virus te verlangsaam en 'n groot toename in infeksies te voorkom.

 

Tot dusver het ons sukses behaal met die manier waarop ons as Suid-Afrikaners gereageer het en hierdie virus hanteer het.

Die persentasie gevalle wat geïdentifiseer is uit al die toetse – wat bekend staan ​​as die positiwiteitskoers – het laag en stabiel gebly.

Die bevestigde infeksies in Suid-Afrika is ongeveer 181 mense per miljoen van die bevolking.

Daarteenoor het lande soos die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Spanje, Italië en Singapoer tussen 2 400 en 4 600 koronavirusgevalle per miljoen mense.

Dit is betekenisvol dat ons uit die 12 074 bevestigde gevalle in Suid-Afrika, 4 745 gevalle van mense wat herstel het, aangeteken het.

Deur die verspreiding van die siekte te verlangsaam, kon ons die kapasiteit van ons gesondheidstelsel versterk en omvattende openbare gesondheidsprogramme in werking stel om die onvermydelike toename in infeksies beter te bestuur.

Ons het nou bykans 25 000 ekstra beddens beskikbaar vir kwarantyn.

Ons kon aansienlike hoeveelhede persoonlike beskermende toerusting vir gesondheidswerkers, noodsaaklike mediese toerusting en ander voorrade verkry en vervaardig.

Deur gebruik te maak van die waardevolle tyd wat ons danksy die inperking tot ons beskikking gehad het, het ons daarin geslaag om ons siftings- en toetsprogramme aansienlik uit te brei.

Ons veldwerkers het altesaam meer as 9 miljoen mense gesif, en ons het byna 37 000 koronavirustoetse gedoen.

Dit is die grootste en mees omvattende mobilisering vir openbare gesondheid in die geskiedenis van ons land.

Dit is moontlik gemaak deur die harde werk en toewyding van duisende gemeenskapswerkers, verpleegkundiges, dokters en ander gesondheidswerkers.

Hulle het enorme opofferings gemaak om die sukses van die inperking te verseker.

Deur die oproep om tuis te bly en veilig te bly, het julle, die mense van Suid-Afrika, ons gehelp om baie lewens te red.

Namate ons die land se reaksie op openbare gesondheid versterk het, het ons verskeie belangrike maatreëls ingestel om die ondernemings, werkers en huishoudings te ondersteun wat die swaarste deur die inperking getref is.

Ons het 'n ekonomiese en maatskaplike hulpverleningpakket ter waarde van meer as R500 miljard beskikbaar gestel om ondernemings in nood te help, werksgeleenthede te behou en informele werkers en arm huishoudings van ’n inkomste te voorsien.

Sedert die totstandkoming van die spesiale COVID-19-verligtingskema van die Werkloosheidsversekeringsfonds, is meer as R11 miljard aan 2 miljoen werknemers in diens van meer as 160 000 ondernemings in nood uitbetaal.

Dit sal daartoe bydra dat maatskappye op die been bly en miljoene poste behou word.

Die verskillende fondse wat ons tot stand gebring het om ondersteuning aan kleinsakeondernemings te bied, insluitend die inisiatiewe van die Departement van Kleinsakeontwikkeling, die Departement van Toerisme, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die South African Future Trust, bied direkte hulp aan meer as 27 000 ondernemings.

Die huidige COVID-19-leningswaarborgskema van R200 miljard, wat deur die regering gewaarborg is, het die aansoeke van klein en mediumgrootte ondernemings begin verwerk.

Aan die begin van hierdie maand het die regering 'n bykomende R5 miljard aan die ontvangers van maatskaplike toelaes uitbetaal om arm huishoudings te help ​​in 'n tyd waarin ander inkomstebronne ontwrig is.

Ons het aansoeke vir die spesiale COVID-19-toelaag van R350 per maand vir werklose Suid-Afrikaners wat geen ander vorm van hulp van die regering ontvang nie, geopen.

Teen die einde van die werksdag het ongeveer 3 miljoen Suid-Afrikaners reeds om hierdie hulp aansoek gedoen.

Dié tydelike maatreëls sal ses maande in werking wees.

Ons sal geen moeite ontsien om te verseker dat ons kwesbaarste burgers gedurende hierdie moeilike tyd ondersteun en beskerm word nie.

Die omvang van die maatreëls wat ons getref het, insluitend belastingverligting en ingrypings deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, is nuut in die geskiedenis van die land.

Die Solidariteitsfonds, wat gestig is om die reaksie op die koronavirus te steun, het ongeveer R2,7 miljard in beloftes deur meer as 175 000 individue en meer as 1 500 ondernemings en stigtings ontvang.

Ons is baie dank verskuldig aan die talle regerings en organisasies wat ons reaksie op die koronavirus steeds ruimskoots ondersteun.

Benewens dié wat ek voorheen bedank het, wil ek graag ons ​​waardering uitspreek teenoor die regering en die mense van die Verenigde State vir die skenking van 1 000 ventilators.

Ek gee ook erkenning aan die ELMA Group of Foundations vir hul belofte om R2 miljard te skenk om die impak van die koronavirus op kwesbare gemeenskappe in Afrika te verlig.

Dit sluit 'n onmiddellike bydrae van R250 miljoen tot Suid-Afrika se Solidariteitsfonds in.

Ons is oortuig daarvan dat ons reaksie op die krisis ooreenstem met die omvang daarvan en dat dit ons help om te verseker dat die basis van ons ekonomie beskerm word.

Sedert die begin van die inperking, was daar baie ontstellende berigte oor ’n toename in geslagsgebaseerde geweld.

Die plaag van geslagsgebaseerde geweld teister ons land steeds en dit wil voorkom asof ons mans oorlog teen die vroue verklaar het.

Ons het 'n nooduitweg vir oorlewendes ontwikkel om te verseker dat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bystand kry.

Een van die ingrypings is om te verseker dat inperkingsmaatreëls so gestruktureer is dat 'n vrou haar huis kan verlaat om mishandeling aan te meld sonder die vrees vir 'n boete, intimidasie of verdere geweld.

Twee maande nadat ons 'n nasionale ramptoestand verklaar het, is ons nou gereed om oor te skakel na 'n nuwe fase in ons reaksie op die koronaviruspandemie.

Op 1 Mei het ons na waarskuwingsvlak 4 geskuif en begin om die inperking geleidelike te verslap.

Dit was in ooreenstemming met ons risiko-aangepaste strategie waarmee ons probeer het om die tempo van infeksie te verlangsaam en die kurwe af te plat.

Ons berei ons nou voor vir 'n verdere verslapping van die inperking en 'n geleidelike opening van die ekonomie.

Ek wil herhaal wat ek reeds voorheen gesê het: as ons die inperking te skielik en te vinnig ophef, loop ons die gevaar dat infeksies vinnig en onbeheerbaar sal toeneem.

Ons sal dus met inagneming van die beste beskikbare getuienis en die raadgewing van plaaslike en internasionale kundiges, steeds met omsightigheid voortgaan.

Ons doel is om ekonomiese aktiwiteit geleidelik te verhoog terwyl maatreëls in plek gestel word om die oordrag van die virus te verminder en om voldoende versorging te bied aan diegene wat vir die virus behandel moet word.

Toe ek julle laas toegespreek het, het ek die koronavirus-waarskuwingstelsel met vyf vlakke van beperkings, wat ingestel is om hierdie proses te rig, uiteengesit.

Destyds was die land op waarskuwingsvlak 5, wat die strengste beperkings op beweging en ekonomiese aktiwiteit het.

Waarskuwingsvlak 4  wat die huidige vlak regoor die land is – behou die meeste van die inperkingsmaatreëls, maar laat die geleidelike opening van sekere dele van die ekonomie toe.

Waarskuwingsvlakke 3 tot 1 laat ’n geleidelike verslapping van die beperkings toe.

Soos ek destyds aangedui het, kan sommige dele van die land op 'n bepaalde waarskuwingsvlak gehou word, terwyl ander na ander vlakke kan vorder.

Dit sal ooreenkomstig die infeksiekoers van 'n gebied gedoen word, sowel as die gereedheid en die kapasiteit van gesondheidsfasiliteite om die behandeling van besmette mense te hanteer.

Voorlopig is infeksies meestal in enkele metropolitaanse munisipaliteite en distrikte in die land gekonsentreer.

Dit is belangrik dat streng beperkings in hierdie gebiede gehandhaaf word en dat reis uit hierdie gebiede na dele van die land met laer besmettingsvlakke beperk word.

Ons sal onmiddellik met 'n proses van oorlepleging met die betrokke belanghebbendes begin oor 'n voorstel dat die grootste deel van die land teen einde Mei op waarskuwingsvlak 3 geplaas word, maar dat die dele van die land met die meeste besmettings op vlak 4 bly.

Na afloop van die oorlegpleging sal ons verdere aankondigings doen.

Ons sal binne die volgende paar dae, ook sekere veranderinge aan vlak 4-regulasies aankondig om sakebedrywighede in die kleinhandelsektor en e-handel uit te brei en beperkings op fisiese oefening te verslap.

Sommige mense het gevra of ons benadering tot die hantering van die koronavirus nie ten koste van ons mense se lewensbestaan is nie.

Ons strategiese benadering is gerig op die red van lewens en die behoud van ons mense se lewensbestaan.

Ons belangrikste doelwit was nog altyd om die infeksiekoers te verlangsaam deur 'n aantal ingrypings deur die hulpmiddels wat ons tot ons beskikking het om die koronavirus te stuit.

Elk van hierdie voorkomingsmaatreëls is deurslaggewend en nie onderhandelbaar nie. Hulle is:

 

  • Inperking (om uiterste sosiale afstand te verseker)
  •  Sosiale afstand
  • Handhaaf van handhigiënepraktyke deur hande gereeld met water en seep of handontsmetmiddel te was.
  • Hoes-etiket, insluitend om in jou elmboog of ‘n snesie te hoes.
  • Dra van ’n lapmasker in openbare plekke.
  • Gebruik van persoonlike beskermingstoerusting deur alle gesondheidswerkers
  • Gereelde reiniging van die werksomgewing en ander openbare plekke.
  • Simptoomsifting
  • Toetsing, isolasie, kwarantyn en kontakopsporing.

 

Met die implementering van al hierdie voorkomende maatreëls sal ons hierdie siekte oorkom.

Die sukses van ons pogings om die oordrag van die virus te beperk, hang daarvan af dat diegene wat besmet is, sowel as die mense met wie hulle in kontak was, so gou as moontlik opgespoor en geïsoleer word, sodat hulle nie die virus na ander kan oordra nie.

Ons deur-tot-deur-siftingsveldtog in kwesbare gemeenskappe regoor die land het daartoe gelei dat meer as 100 000 mense vir toetsing verwys is.

Dit het ons 'n goeie aanduiding gegee van die omvang van infeksie onder die bevolking, maar ons het nou 'n siftings- en toetsprogram nodig wat gerig is op gebiede waar mense meer geneig is om besmet te word.

Dit behels die identifisering van gevaarpunte met behulp van 'n kombinasie van tegnologie, waarnemingsdata en epidemiologiese kartering, sodat die toegewyde siftings- en toetsspanne vinnig na die gebiede ontplooi kan word.

Diegene wat positief toets, moet hulself afsonder of hulle moet in geskikte en onafhanklik geïnspekteerde fasiliteite geïsoleer word.

Die belangrikste is dat hierdie nuwe fase van ons almal sal vereis om ons eie gedrag daadwerklik te verander.

Daar moet 'n fundamentele verskuiwing in ons denke en ons lewenswyse wees.

Ons moet persoonlike verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie gesondheid en die gesondheid van ander.

Ons moet onthou dat hoewel die inperking die oordragtempo verlangsaam, die koronavirus steeds aanwesig is – en nog lank in ons midde sal wees.

Ons is gewaarsku dat infeksies onvermydelik sal toeneem namate die inperkingsmaatreëls verslap word, soos in baie lande gebeur het.

Ons weet ook dat die koronavirus nog 'n geruime tyd 'n wêreldwye bedreiging vir mense se gesondheid sal wees, en dat die stryd teen COVID-19 deel van ons daaglikse lewens sal word.

Ons sukses om die koronavirus te oorwin sal uiteindelik bepaal word deur die veranderinge in ons gedrag.

Namate beperkings verslap word, moet ons sosiale afstand selfs meer nougeset toepas, gesigmaskers dra elke keer as ons die huis verlaat, ons hande gereeld met seep en water of ontsmetmiddel was, en kontak met ander mense vermy.

Ek is bemoedig dat soveel mense sedert die begin van waarskuwingsvlak 4 gesigmaskers in die openbaar dra.

Ons sal werkplekke, skole, universiteite, kolleges en ander openbare plekke moet herorganiseer om verspreiding van die virus te beperk.

Ons sal moet aanpas by nuwe maniere om te aanbid, te kuier, te oefen en te vergader wat die geleenthede vir verspreiding van die virus tot die minimum beperk.

Ons optrede nou sal bepaal of die voordeel wat ons uit die inperking getrek het, gehandhaaf kan word.

Dit is ons huidige optrede – individueel en saam – wat sal bepaal of die groot opofferings wat mense die afgelope twee maande gemaak het, uiteindelik die lewens van duisende Suid-Afrikaners sal red en sal verhoed dat die groot verwoesting wat hierdie pandemie kan veroorsaak, ons land tref.

Die oorgang na die volgende fase van die koronavirusrespons sal in baie opsigte moeiliker wees as die huidige.

Die risiko van infeksies sal toeneem namate meer mense terugkeer werk toe.

Dit verg waaksaamheid, verantwoordelikheid en dissipline van ons almal.

My mede-Suid-Afrikaners,

Die afgelope sewe weke is julle gevra om baie te verduur en baie op te offer.

By meer as een geleentheid het ek voor julle gestaan ​​en julle gevra om streng beperkings op jul daaglikse lewens te plaas in die wete dat dit baie ongerief sou veroorsaak.

Julle het gehoor gegee aan hierdie oproepe, oortuig daarvan dat die maatreëls noodsaaklik is vir die gesondheid en die welstand – ja, die voortbestaan – van ons jong volk.

In ruil vir alles wat van julle gevra word, is daar enkele basiese dinge wat julle van ons, jul leiers, vra.

En dit is die rede waarom ons moet erken dat, terwyl ons hierdie ongekende uitdaging in die gesig gestaar het, daar miskien tye was dat ons nie aan julle verwagtinge voldoen het nie.

Sommige van die stappe wat ons geneem het, was verwarrend, sommige was teenstrydig en ander is swak uiteengesit.

Die implementering was soms traag en die toepassing was soms inkonsekwent en te streng.

Vanaand wil ek my onderneming en die onderneming van die regering wat ek lei om die stappe te doen wat nodig is om die lewe, die waardigheid en die belange van die Suid-Afrikaanse bevolking te beveilig, bevestig.

Toe ek julle laas toegespreek het, het ek gesê dat ons binnekort die derde fase van ons ekonomiese reaksie op die koronaviruskrisis sal begin deur 'n duidelike strategie vir ekonomiese herstel uiteen te sit.

Die Kabinet is druk besig hiermee en dit sal aangekondig word sodra die werk voltooi is.

Ons is vasberade en toegewyd:

om te verseker dat alle regeringsbesluite in goeder trou geneem word, dat dit redelik is en op empiriese getuienis gebaseer is, en dat dit nie meer skade as goed sal doen nie;

om deursigtig te wees, die nasie in ons vertroue te neem en dit gereeld te doen;

om altyd openhartig te wees oor die stand van die pandemie. Julle wil weet wanneer dinge sleg is, en julle wil ingelig word wanneer dit erger kan word;

om aan te hou om met julle in gesprek te tree;

om te verseker dat ons voortgaan om elke hulpbron tot ons beskikking te mobiliseer om die kwesbaarstes te ondersteun, en om die meeste hulp te verleen aan diegene wat dit die nodigste het; en

om seker te maak dat die fondse wat vir ons reaksie op coronavirus toegewys word, nie gemors of gesteel word nie.

Bo alles belowe ek weereens om te verseker dat julle regte gerespekteer en gehandhaaf sal word, veral deur diegene aan wie hierdie verantwoordelikheid toevertrou is.

As julle President, as hierdie regering, is ons vasbeslote om aan die verwagtinge wat julle tereg van ons het, te voldoen.

Waar ons teleurgestel het, sal ons aanhou verbeter.

Waar ons foute maak, sal ons dit steeds regstel.

Ons gesamentlike stryd die afgelope maande het ons baie geleer oor onsself en oor mekaar.

Ons het ook baie oor hierdie virus geleer.

Hoewel daar verskillende opvattings en meningsverskille was, was daar ook vriendelikheid, empatie en deernis.

Daar was moed en solidariteit.

'n Baie anders Suid-Afrika en wêreld wag op ons.

Die grootste toets is ons bereidwilligheid om verandering te aanvaar.

Laat ons opstaan ​​om hierdie uitdaging die hoof te bied.

Laat ons saamstaan ​​as een familie en een volk om 'n nuwe en sterker samelewing te bou.

Die tyd wat voorlê sal moeilik wees.

Maar ons sal krag put uit wat ons bereik het.

Ons moet dink aan die woorde wat President Nelson Mandela 20 jaar gelede gesê het toe ons land deur 'n ander pandemie verwoes is

Hy het gesê:

“Te midde van die ernstige bedreiging wat MIV/vigs inhou, moet ons bo ons verskille uitstyg en ons pogings kombineer om ons mense te red.

“Die geskiedenis sal ons hard oordeel as ons dit nou nie doen nie.”

Ter afsluiting wil ek die woorde van Franklin Delano Roosevelt wat op 'n moeilike tydperk in sy eie land gesê is, herhaal:

Die toestand van hierdie nasie is goed

Die hart van hierdie nasie is gesond

Die gees van hierdie nasie is sterk

Die geloof van hierdie nasie is ewigdurend.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore