Verklaring deur president Cyril Ramaphosa oor vordering in die nasionale poging om die Covid-19-pandemie in bedwang te bring

My mede-Suid-Afrikaners

Ek het twee weke gelede ‘n addisionele stel maatreëls aangekondig om die verspreiding van die coronavirus onder bedwang te bring.

Toe op hierdie addisionele maatreëls besluit is, het die kabinet wetenskaplike advies gevolg wat deur die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 verskaf is, asook in oorlegpleging met die Nasionale Cornonavirus-bevelsraad.

Hierdie maatreëls is dringend en nodig om die derde golf te beperk wat deur die nuwe Delta-variant aangevuur word.

Dit bly ons prioriteit om die oordragketting te breek deur sosiale kontak te beperk.

Die land was die afgelope twee weke op ‘n aangepaste Vlak 4.

Dit was ‘n aanduiding van die hoë oordragrisiko.

Toe ek laas met julle gepraat het, het ek genoem dat ons die situasie na 14 dae weer sou beoordeel en dan bepaal watter aanpassings dalk gemaak moet word.

Soos sake nou staan, bly die infeksiesyfer uitermate hoog.

Ons ervaar ‘n derde golf weens die vinnig verspreidende Delta-variant, wat baie erger is as die eerste en tweede golf.

Oor die laaste twee weke het die land konsekwent daagliks ‘n gemiddelde van ongeveer 20 000 nuwe gevalle aangeteken.

Tans het die land oor die 200 000 aktiewe Covid-19-gevalle.

In die afgelope twee weke het oor die 4 200 Suid-Afrikaners hulle lewens verloor weens Covid-19.

Terwyl Gauteng vir meer as die helfte van nuwe infeksies verantwoordelik is, is infeksies vinnig aan die toeneem in die Wes-Kaap, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Ons gesondheidstelsel bly landwyd onder druk.

Teen volgende week behoort die daaglikse hospitaalopnamesyfer regoor die land die vlak te bereik wat dit tydens die piek van die eerste twee golwe was.

Covid-19-verwante sterftes in hospitale is ook aan die toeneem en het die syfer wat tydens die piek van die eerste golf waargeneem is, verbygesteek.

Gevolglik het die kabinet, na konsultasie met die provinsies, besluit om die land op ‘n aangepaste Vlak 4 te hou vir nog 14 dae.

Dit beteken dat van nou af tot die 25ste Julie, die volgende maatreëls in plek sal bly:

  • Alle sosiale, politieke, godsdienstige en ander byeenkomste sal verbode bly.
  • ‘n Aandklokreël vanaf 9pm tot 4am geld steeds, en slegs diegene met toestemming mag hulle huise in hierdie tydgleuf verlaat.
  • Die verkoop van alkohol bly verbode.
  • Die skole bly gesluit tot 26 Julie.
  • Dit bly verpligtend om ‘n masker te dra wat jou neus en mond bedek wanneer jy in die openbaar verskyn.
     

Ons het egter die volgende aanpassings aan die aangepaste Vlak 4-regulasies gemaak:

  • Restaurante en eetplekke kan sake doen terwyl hulle streng gesondheidsprotokol handhaaf. Sodanige ondernemings mag nie meer as 50 mense op ‘n slag akkommodeer nie, en kleiner plekke mag nie meer as 50% van hulle normale kapasiteit beset nie.
  • Sekere ander venues, soos gimnasiums en fiksheidsentrums, mag ook heropen en aktiwiteite soos vee- en wildveilings sal toegelaat word onderworpe aan die voorwaardes soos uiteengesit in die regulasies.
     

Sedert die aanvang van die pandemie is ons nasionale respons gerig deur die jongste beskikbare bewyse en kundiges se advies.

Hier is wat ons weet:

Ons weet dat om die gevalle te verminder waar mense in nabye kontak met mekaar is, help om die infeksies te beperk.

Ons weet dat die coronavirus by begrafnisse, kantoorbyeenkomste, partytjies, familiegesellighede, en restourante en kroeë versprei.

Dit is waarom ons op aangepaste Vlak 4 godsdienstige, sosiale en politieke byeenkomste moes verbied.

Ons weet ook dat, soos meer mense beweeg, die virus saam met hulle beweeg.

Weens die relatief hoë getalle in Gauteng twee weke gelede, het ons beweging in en uit die provinsie beperk om die verspreiding van die virus na ander dele van die land te vertraag.

Ons weet dat die aandklokreël beweging verminder en laatnag- sosiale byeenkomste, wat die potensiaal vir oordrag vergroot, beperk.

Ons weet dat die beperking op alkoholverkope die aantal mense wat by hospitale en noodeenhede opgeneem word weens alkoholverwante trauma, verminder, bv. motorongelukke en interpersoonlike geweld.

Deur beserings weens alkohol te verminder, skep ons noodsaaklike ruimte in ons gesondheidsorgfasiliteite om aandag te kan gee aan Covid-19- gevalle.

Alkoholmisbruik word ook geassosieer met byeenkomste en die nienakoming van openbare gesondheidsregulasies.

Terselfdertyd weet ons en erken ons die noodsaaklike bydrae van die alkoholindustrie tot ons ekonomie.

Op die ou end is die belangrikste maatreëls wat oordrag kan beperk, dié maatreëls wat binne ons elkeen se beheer is.

Omdat die Delta-variant so hoogs aansteeklik is, moet ons baie meer bedag daarop wees om die basiese voorsorgmaatreëls waarmee ons almal bekend is, na te kom.

Soos ons maatreëls implementeer om die aantal infeksies te beperk, tree ons ook op om soveel as moontlik mense te beskerm deur inenting.

Ons nasionale inentingsprogram is besig om teen ‘n snelle pas uit te brei.

Tot op datum het 4,2 miljoen mense in Suid-Afrika ‘n entstofdosis ontvang, waarvan een miljoen oor die laaste sewe weeksdae gedoen is.

Die pas van inenting het meer as verdubbel in die laaste maand, en sal steeds toeneem.

Tans word gemiddeld byna 190 000 mense per weeksdag ingeënt.

Die regering en die private sektor werk op ‘n ongekende wyse saam om addisionele kapasiteit te bou om meer mense per dag in te ent.

Ons ent tans die ouderdomsgroepe van 60+ sowel as 50+ in.

Vanaf komende Donderdag 15 Julie kan diegene ouer as 35 jaar op die Elektroniese Inentingsdatastelsel registreer (EVDS).

Ons hoop om op die 1ste Augustus te begin om die mense in die ouderdomsgroep 35+ in te ent.

Daar is programme op pad om die essensiële werkers in te ent deur te begin met basiese onderwys, die polisie en die weermag.

Die Departement van Gesondheid werk ook saam met die private sektor om inentingsprogramme by die werkplek te implementeer, wat ons kapasiteit verder as net openbare persele kan uitbrei.

Om dit vir mense makliker te maak, werk ons daaraan om te verseker dat inentingspersele nader kom aan waar mense woon.

Ons sal voortgaan om saam met gemeenskaps-, godsdienstige en tradisionele werkers te werk om gemeenskappe te mobiliseer om hulle te laat inent.

Planne is in alle provinsies in plek gestel om talle persele uit te brei om óf ses óf sewe dae per week inentings te doen.

Dit sal geskied deurdat fondse vir oortyd en die werwing van addisionele mediese personeel en studente in die gesondheidswetenskappe, beskikbaar gestel word.

Almal wat vir inenting kwalifiseer, word aangemoedig om vooraf te registreer om die proses by inentingspersele te versnel.

Alle persele laat egter ook toe dat ongeregistreerde mense kan instap en registreer.

Ek wil alle Suid-Afrikaners aanmoedig wat kwalifiseer om te registreer, om dit te doen en hulle inenting te kry.

Ons moet die boodskap versprei dat entstowwe werk en dat hulle doeltreffend is.

Een van die groot uitdagings wat ons tot dusver in die gesig gestaar het in die uitbreiding van ons inentingsprogram, is die beskikbaarheid van entstofdosisse.

Dit was vir sowel Suid-Afrika as die res van die Afrika-kontinent ‘n uitdaging.

In die afgelope paar dae het die Afrika-unie, deur ons kantoor as die AU Covid-19-kampioen, en die Europese Unie, ‘n historiese ooreenkoms aangegaan wat die verskaffing van entstowwe aan ons land en ons susterslande op die Afrika-kontinent beduidend sal verbeter.

Deur middel van hierdie ooreenkoms sal Aspen oor die 17 miljoen Johnson & Johnson-entstofdosisse aan Suid-Afrika en ander Afrika-lande oor die volgende drie maande lewer, en dit sal laat in Julie ‘n aanvang neem.

Hierdie getal sal vanaf Oktober maandeliks verdubbel.

Aanvanklike voorraad van miljoene dosisse sal vanaf Julie in sowel Suid-Afrika as ander Afrika-lande vrygestel word.

As deel van die poging om die gesondheidsekuriteit op die kontinent te versterk, is daar ‘n onderneming van Johnson & Johnson gegee om die huidige reëling so aan te pas dat ons die entstof in Suid-Afrika onder lisensie kan vervaardig eerder as onder kontrak, wat daartoe lei dat ons land en die kontinent beheer oor die entstowwe het.

Ons is aan die onderhandel dat binne die afsienbare tyd die middel self hier in Suid-Afrika vervaardig sal word, sodat ons ‘n entstof het wat ten volle in Afrika-besit is, wat op Afrika-bodem vervaardig is, in ‘n aantal lande op ons kontinent.

Ons verwelkom die aankondiging deur president Joe Biden dat die Verenigde State 15-20 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof aan Afrika-lande gaan skenk deur middel van die COVAX-fasiliteit.

Hierdie verwikkelinge, tesame met ons huidige ooreenkomste met vervaardigers, beteken dat Suid-Afrika ‘n pyplyn van entstofvoorraad sal hê wat voldoende is om ons inentingsteiken te haal.

Terselfdertyd werk ons daaraan om die reeks entstowwe wat in die land gebruik word, uit te brei.

Ons verwelkom die besluit deur SAHPRA om die CoronaVac-entstof vanuit China goed te keur vir gebruik in Suid-Afrika.

Die Entstofadviesraad werk daaraan om te sien hoe gou ons CoronaVac in die entstofprogram kan inbring.

Ons moes moeilike besluite neem, wetende dat byna elke besluit ‘n koste vir die ekonomie en die samelewing inhou.

Ten spyte van die ekonomiese impak van hierdie beperkings, moet ons besef dat dit die pandemie self is wat die grootste bedreiging vir ekonomiese herstel inhou.

‘n Langdurige tydperk van onbeheerde infeksies sal baie groter ekonomiese skade aanrig as die beperkings wat in plek gestel is, en sal produksie ontwrig en mense weerhou om uit te gaan na vermaaklikheidsplekke en openbare ruimtes.

Ons erken egter dat hierdie beperkings ernstige gevolge vir individue, huishoudings en besighede wat reeds onder druk was voor die pandemie, gehad het.

Ons bly toegewy om alles moontlik te doen om die impak te versag wat die inperking op mense se broodwinning het.

In navolging van die skuif na aangepaste Vlak 4, het die Werkloosheidsversekeringsfonds begin met onderhandelings met maatskaplike vennote om die moeilikhede van werknemers wat hulle inkomste onder die beperkings verloor het, aan te spreek.

Op grond van hierdie besprekings het die WVF besluit dat die COVID-19 TERS-skema uitgebrei sal word na sektore wat geraak word deur die aangepaste Vlak 4-beperkings.

Die besonderhede van die verlenging sal binnekort gepubliseer word nadat die volledige skema gefinaliseer is, wat verdere besonderhede sal insluit van wie vir hierdie ondersteuning in aanmerking kan kom.

Sedert die ontstaan van die COVID-19 TERS-skema verlede jaar, het dit reeds R60 miljard uitbetaal om die poste van 5,5 miljoen werkers te beskerm.

Verder het die kabinet besluit dat alle besigheidslisensies en -permitte wat tussen Maart 2020 en Junie 2021 verval het, geldig sal bly tot 31 Desember 2022.

Nuwe besigheidslisensies of -permitte wat vanaf die 1ste Julie uitgereik word, sal ook geldig wees tot 31 Desember 2022, en daar sal geen lisensiefooi gehef word nie.

Dit sal wel ‘n mate van verligting vir klein ondernemings bied.

Mede-Suid-Afrikaners,

Daar is nog ‘n saak van groot nasionale belang wat ek wil aanspreek.

In die afgelope paar dae het ons sporadiese maar toenemend gewelddadige protesaksie in sommige dele van die land gesien.

Sleutelinfrastruktuur, soos nasionale paaie, is geraak en het gelei tot die vertraging van die vervoer van goedere en dienste wat ons ekonomie aan die gang hou.

Eiendom is vernietig. Motors is met klippe gegooi. Mense is geïntimideer en gedreig, en sommige mense is beseer.

Hierdie dade stel lewens in gevaar en doen skade aan ons pogings om die ekonomie weer op te bou.

Ons Grondwet waarborg elkeen se reg tot die vryheid van uitdrukking en vreedsame protesaksie.

Alhoewel daar mense mag wees wat tans seergemaak en kwaad is, kan daar nooit regverdiging wees vir sulke gewelddadige, destruktiewe en ontwrigtende dade nie.

Dit is ‘n saak van kommer vir alle Suid-Afrikaners dat sommige van hierdie gewelddadige aksies gebaseer is op etniese mobilisasie.

Dit moet ten alle koste deur alle Suid-Afrikaners veroordeel word, aangesien ons as ‘n nasie verbind is tot nierassigheid en nie-stamgebondenheid, wat ondersteun word deur die diversiteit en eenheid van al die mense van Suid-Afrika, ongeag hulle taal, kultuur, godsdienstige oortuiging of ras.

Ons verbintenis tot ons demokratiese grondwet is gebaseer op die fundamentele beginsel dat alle mense gelyk voor die wet is, en dat alle mense die reg het op gelyke beskerming voor die wet.

Die oppergesag van die reg beskerm die mense teen die misbruik van mag.

Die oppergesag van die reg beskerm die armes en kwesbares.

Sedert die aanvang van ons demokrasie, is instellings soos die Grondwethof aan die voorpunt om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter.

Laat ons dit duidelik maak as ‘n nasie dat ons nie kriminele dade sal duld nie.

Diegene wat betrokke is by gewelddadige aksies, sal gearresteer en vervolg word.

Diegene wat daaraan skuldig bevind word dat hulle die inperkingsregulasies oortree het, sal die vasgestelde strawwe opgelê word.

Dit sal sonder vrees of voorkeur gedoen word.

Ons veroordeel ook pogings om verwarring te saai deur vals foto’s en video’s te versprei, dikwels van gebeure van jare gelede.

Ek vra dat julle mooi dink voordat julle enigiets op sosiale media of elders deel wat dalk nie akkuraat of geverifieer is nie.

Die oorgrote meerderheid landsburgers het getoon dat hulle in vrede en harmonie wil lewe.

Hulle wil werk en ‘n bestaan maak. Hulle wil sien dat ons land van hierdie pandemie herstel.

Ons konfronteer die Covid-19-pandemie tesame.

Ons werk saam om ons ekonomie weer op te bou sodat dat daar meer werk geskep kan word, sodat meer besighede ondersteun kan word, en sodat ons kos op die tafel kan sit, ons kinders kan skool toe stuur en ons gesinne kan onderhou.

Ons bou op, ons breek nie af nie.

Ons sal gefokus bly om gesondheid te beskerm en lewens te red.

Ons sal werk soos nooit te vore nie om seker te maak dat almal ingeënt word.

Ons sal ons ekonomie weer opbou en werk skep.

Ons moet altyd onthou dat al is dinge hoe moeilik, ons sal oorwin.

Mag God voortgaan om Suid-Afrika te seën en sy mense te beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore