Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor die Vordering in die Nasionale Poging om die KOVID-19 Pandemie te Bekamp

My mede-Suid-Afrikaners,

Vroeër vandeesweek het ons wetenskaplikes ʼn nuwe variant van die koronavirus wat die KOVID-19-siekte veroorsaak, identifiseer.

Die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) het dit die naam Omikron gegee en aangekondig dat dit ʼn “variant van belang” is.

Die Omikron-variant is eerste in Botswana opgemerk en daarna in Suid-Afrika, en wetenskaplikes het ook gevalle in lande soos Hong Kong, Australië, België, Italië, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Oostenryk, Denemarke en Israel identifiseer.

Die vroeë identifisering van hierdie variant is danksy die uitstekende werk van ons wetenskaplikes in Suid-Afrika en ʼn direkte uitvloeisel van die beleggings wat ons departemente van wetenskap, innovasie en gesondheid gemaak het in ons genoom-waarnemingskapasiteit.

Ons is een van die lande in die wêreld wat ʼn waarnemingsnetwerk regoor die land opgerig het om ons te help om die gedrag van die KOVID-19-virus te monitor.

Die feit dat ons hierdie variant vroeër kon optel en die werk wat reeds gedoen is om die eienskappe en moontlike simptome en gevolge van die variant te verstaan, beteken dat ons beter toegerus is om op die variant te reageer.

Ons bring hulde aan al ons wêreldbekroonde en hooggeagte wetenskaplikes wat bewys het hoe diep hul omvattende kennis van epidemiologie strek.

Dit is danksy ons wetenskaplikes se werk in genoom-waarneming dat ons reeds ʼn paar dinge van die nuwe variant weet.

Eerstens weet ons dat Omikron by verre meer mutasies as enige vorige variant het.

Tweedens weet ons dat Omikron maklik opgetel word deur bestaande KOVID-19-toetse.

Dit beteken dat mense wat KOVID-19-simptome toon of in kontak was met iemand wat KOVID-19-positief is, steeds getoets moet word.

Derdens weet ons dat hierdie variant van ander variante in die omloop verskil en dat die nie direk verwant aan die Delta- en Beta-variante is nie.

Vierdens weet ons dat die variant verantwoordelik is vir meeste van die infeksies in Gauteng in die afgelope twee weke en dat dit nou waargeneem word in al die ander provinsies.

Daar is steeds verskeie dinge wat ons nie van hierdie variant weet nie, en wetenskaplikes in Suid-Afrika en elders in die wêreld werk hard daaraan om meer van die variant te leer.

Soos meer inligting in die volgende paar dae en weke beskikbaar raak, sal ons ʼn beter begrip hê van die volgende:

  • of Omikron makliker aansteeklik van persoon tot persoon is,
  • of daar ʼn groter risiko van herinfeksie is,
  • of die variant mense erger siek maak, en
  •  hoe doeltreffend die huidige inentings teen die Omikron-variant is.

Die identifikasie van Omikron het gepaard gegaan met ʼn skielike styging in KOVID-19-infeksies.

Gauteng is die middelpunt van hierdie styging, alhoewel gevalle in ander provinsies besig is om te styg.

Ons het ʼn daaglikse gemiddeld van 1 600 nuwe gevalle in die laaste sewe dae opgemerk, in vergelyking met slegs 500 gemiddelde nuwe daaglikse gevalle in die vorige week, en gemiddeld 275 nuwe daaglikse gevalle in die week daarvoor.

Die verhouding van KOVID-19-toetse wat positief is, het in minder as ʼn week van 2% tot 9% gestyg.

Dit is ʼn besondere skerp styging in infeksies in ʼn kort tydperk.

Indien infeksiegetalle aanhou styg, kan ons verwag om ʼn vierde vlaag infeksies binne die volgende paar weke te betree, indien nie vroeër nie.

Dit behoort niemand te verras nie.

Epidemioloë en ander siekte-modelleerders het ons gewaarsku dat ons ʼn vierdie vlaag vroeg in Desember kan verwag.

Wetenskaplikes het ons ook gewaarsku dat nuwe variante te voorskyn gaan kom.

Daar is verskeie redes tot kommer oor die Omikron-variant, en ons is steeds nie seker hoe dit gaan verder gaan optree nie.

Ons het egter al die wapens wat ons benodig om onsself teen dit te beskerm.

Ons weet genoeg van die variant om te weet wat ons moet doen om die oordrag daarvan te beperk en onsself teen erge siekte en sterftes te beskerm.

Die eerste en sterkste wapen in ons arsenaal is inentings.

Sedert die eerste KOVID-19-entstowwe laasjaar beskikbaar gestel is, het ons gesien hoe inentings ʼn dramatiese afname in erge siekte, hospitalisasie en sterftes in Suid-Afrika en regoor die wêreld tot gevolg gehad het.

Inentings werk. Inentings red lewens.

Sedert ons ons openbare inentingsprogram in Mei 2021 geloods het, is meer as 25 miljoen dosisse entstof in Suid-Afrika toegedien.

Dit is ʼn merkwaardige prestasie.

Dit is by verre die mees omvattende gesondheidsingryping wat ooit binne só ʼn kort tydperk in die land onderneem is.

Uit die volwasse bevolking het 41% reeds minstens een inentingsdosis ontvang en 35.6% van alle volwasse Suid-Afrikaners is ten volle teen KOVID-19 ingeënt.

Van groot belang is dat 57% van mense wat 60 jaar en ouer is ten volle ingeënt is en 53% van mense tussen die ouderdom van 50 en 60 ten volle ingeënt is.

Terwyl hierdie welkome vordering is, is dit steeds nie genoeg om dit vir ons moontlik te maak om infeksies te verminder nie, siekte en sterftes te voorkom nie en ons ekonomie te herstel nie.

Inenting teen KOVID-19 is gratis.

Vanaand doen ek ʼn beroep op elke persoon wat nog nie ingeënt is nie om sonder skroom na hul naaste inentingspunt te gaan en ingeënt te word.

As daar iemand in jou familie of in jou vriendekring is wat nog nie ingeënt is nie, doen ek ʼn beroep op jou om hulle aan te moedig om ingeënt te word.

Inenting is by verre die belangrikste manier om jouself en die mense om jou teen die Omikron-variant te beskerm, die impak van die vierde vlaag te verminder en om te help om die sosiale vryhede waarna ons almal smag, terug te kry

Inenting is ook noodsaaklik om ons ekonomie weer ten volle op die been te bring, ons toe te laat om weer te kan reis en vir die herstel van kwesbare sektore soos toerisme en gasvryheidsdienste.  

Die ontwikkeling van die entstowwe wat ons teen KOVID-19 gebruik is moontlik gemaak deur die miljoene gewone mense wat as vrywilligers deelgeneem het aan kliniese proewe om wetenskaplike kennis te bevorder tot die voordeel van die samelewing.

Hulle is die mense wat bewys het dat hierdie inentings veilig en doeltreffend is. Hierdie mense is ons helde.

Hulle word in dieselfde asem genoem as die gesondheidsorgwerkers wat al naastenby twee jaar aan die frontlinie van die stryd teen die pandemie werk en voortgaan om vir die mense wat siek word, te sorg; wat voortgaan om inentings toe te dien en lewens te red.

Ons moet sulke dapper mense in gedagte hou wanneer ons dit oorweeg om ingeënt te word.

Deur ingeënt te word, beskerm ons nie onsself nie; ons verminder ook die druk op ons gesondheidsorgstelsel en ons gesondheidsorgwerkers, en verlaag die die risiko wat hulle elke dag in die oë staar.

Suid-Afrika, soos verskeie ander lande, oorweeg aanspoor-dosisse vir mense wat die grootste risiko dra en vir wie ʼn aanspoor-dosis voordelig kan wees.

Gesondheidsorgwerkers in die Sisonke-proewe, baie van wie meer as ses maande gelede ingeënt is, word Johnson & Johnson aanspoor-dosisse aangebied.

Pfizer het ʼn aansoek by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte ingedien vir ʼn derde inentingsdosis wat na die aanvanklike twee-dosisreeks toegedien sal word.

Die Ministeriële Advieskomitee oor Entstowwe het reeds aangedui dat hulle ʼn gesteierde uitrol van aanspoor-dossise gaan aanbeveel, wat met die senior bevolking sal begin.

Mense met immuungebrekke, soos mense wat kankerbehandeling, nierdialise of steroïde behandeling vir outo-immuunsiektes ondergaan, sal op aanbeveling van hul dokters toegelaat word om aanspoor-dosissse te ontvang.

As individue, as maatskappye en as regering het ons ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat alle mense in die land veilig kan werk, reis en sosialiseer.

Gevolglik het ons tydens gesprekvoering met maatskaplike vennote en ander belanghebbendes onderneem om maatreëls in plek te stel wat inenting ʼn vereiste sal maak vir toegang tot werksplekke, openbare geleenthede en byeenkomste, openbare vervoer en openbare vergaderplekke.

Dit sluit in samesprekings wat tussen die Staat, arbeid, handel en die gemeenskapskiesers plaasgevind het by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling- en Arbeidsraad (Nedlac), waar daar breedvoerig ooreengestem is oor die behoefte aan sulke maatreëls.

Die Staat het ʼn taakspan aangestel wat breedvoerige konsultasies sal hou oor verpligte inenting vir sekere aktiwiteite en plekke.

Die taakspan sal verantwoording doen aan die Ministeriële Advieskomitee oor Entstowwe onder leiding van die Adjunkpresident, wat aanbevelings aan die Kabinet sal maak oor ʼn regverdige en volhoubare benadering tot inentingsmandate.

Ons besef dat die instelling van sulke maatreëls ʼn moeilike en ingewikkelde kwessie is, maar as ons nie hierdie saak ernstig en dringend aanspreek nie, gaan ons voortgaan om kwesbaar te wees vir nuwe variante en aanhou om onder nuwe vlae van infeksie te ly.

Die tweede wapen wat ons teen die nuwe variant het, is om steeds ons gesigmaskers te dra wanneer ons in die openbaar en in die teenwoordigheid van mense buite ons eie huishoudings is.

Daar is nou oorweldigende bewyse dat die korrekte en voortgesette dra van ʼn lapmasker of ander geskikte gesigbedekking oor die mond en neus die beste manier is om die oordrag van die virus van persoon tot persoon te verhoed.

Die derde wapen wat ons het in die stryd teen die nuwe variant het, is die goedkoopste en volopste van als: vars lug.

Dit beteken dat ons moet probeer om soveel as moontlik in die opelug te wees wanneer ons mense buite ons eie huishouding ontmoet. 

Wanneer ons in geslote spasies saam met ander mense is, hetsy in karre, busse of taxi’s, moet ons die vensters oophou om die vloei van vars lug deur die spasie te verseker.

Die vierde wapen om die nuwe variant te beveg is om byeenkomste, veral binnenshuise byeenkomste, te vermy.

Massa-byeenkomste soos konferensies en vergaderings, veral dié wat vereis dat ʼn groot aantal mense in nabye kontak is vir lang tydperke, moet na ʼn virtuele formaat verskuif.

Jaareindfunksies en matriekafskeide asook ander feesvieringe moet ideaalgesproke uitgestel word, en elkeen van ons moet eerder twee keer dink voordat só ʼn geleentheid bygewoon word. Wanneer só ʼn geleentheid wel plaasvind, moet alle nodige KOVID-19-voorsorgmaatreëls streng nagekom word.  

Elke geleentheid waar ons kontak met ander mense het, vergroot ons kanse om aangesteek te word of iemand anders aan te steek.

Mede-landgenote

Die Nasionale Koronavirusbevelraad het gister byeengekom om die onlangse styging in infeksies en die moontlike impak van die Omikron-variant te bespreek.

Vroeër vandag was daar vergaderings met die Presidensiële Koördineringsraad en die Kabinet, waar daar besluit is dat die land vir nou op waarskuwingsvlak 1 gehou sal word en dat die Nasionale Ramptoestand in plek sal bly.

Die besluit om nie verdere beperkings op hierdie stadium in te stel nie, was na aanleiding van die feit dat inenting nog nie so wyd beskikbaar was tydens die vorige vlae infeksies nie en dat minder mense op daardie stadiums ingeënt was. 

Dit is nie meer die geval nie. Inentings is nou gratis beskikbaar aan enigiemand bo die ouderdom van 12 jaar, by duisende inentingspunte regoor die land.

Ons weet inentings verhoed erge siekte en hospitalisasie.

Ons weet ook dat die koronavirus nog oor die langtermyn saam met ons sal wees. Ons moet dus maniere vind om die pandemie te bestuur en terselfdertyd die ekonomie so min as moontlik te ontwrig en ekonomiese samehangendheid te verseker.

Hierdie benadering sal egter nie volhoubaar wees as ons nie die inentingskoers verhoog nie, nie maskers dra nie, of as ons nie die basiese gesondheidsorgmaatreëls nakom nie.

Ons moet almal onthou dat in terme van waarskuwingsvlak 1 se regulasies:

  • Daar is steeds ʼn aandklokreël geldig vanaf 00:00 tot 04:00.
  • ʼn Maksimum van 750 mense mag binnenshuis vergader en ʼn maksimum van 2 000 mense mag in die opelug vergader. Waar ʼn vergaderplek te klein is om hierdie getalle te akkommodeer in terme van sosiale distansiëring, mag daar nie meer as 50% van die plek se kapasiteit toegelaat word nie.
  • ʼn Maksimum van 100 mense wat toegelaat word om ʼn begrafnis by te woon en geen nagwake, byeenkomste na begrafnisse en nabetragtingsbyeenkomste (“after tears”) word toegelaat nie.
  •  Dit bly verpligtend vir elke persoon om ten alle tye ʼn gesigmasker wat die mond en neus bedek in openbare plekke te dra, en verontagsaming van hierdie reël bly ʼn kriminele oortreding.
  • Die verkoop van alkohol word toegelaat soos per die normale lisensievoorwaardes. Geen alkohol mag tydens die aandkloktyd verkoop word nie.

Ons sal infeksiekoerse en hospitalisasiesyfers fyn dophou in die komende dae en die situasie oor ʼn week hersien.

Ons sal dan moet bepaal of die bestaande maatreëls voldoende is en of veranderinge aan die huidige maatreëls aangebring moet word.

Ons het met die proses begin om ons gesondheidsmaatreëls te wysig sodat ons die gebruik van die Nasionale Ramptoestand om ons reaksie tot die pandemie te bestuur, kan hersien met die oogmerk om uiteindelik die Nasionale Ramptoestand te beëindig.

Ons sal ook ons nasionale herlewingsplan implementeer om te verseker dat hospitale en ander mediese fasiliteite gereed is vir die vierde vlaag.

Ons fokus tans op doeltreffende kliniese bestuur, kontaksporing en sifting, doeltreffende kliniese sorg en die beskikbaarheid van gesondheidsorgpersoneel.

Om te verseker dat ons fasiliteite gereed is, sal alle hospitaalbeddens wat beskikbaar was of benodig was gedurende die derde vlaag KOVID-19, voorberei is vir die vierde vlaag.

Ons werk ook daaraan om te verseker dat daar ʼn voldoende voorraad suurstof beskikbaar is vir alle beddens wat vir KOVID-19-sorg opsy gesit is.

Ons sal voortgaan om deur die WGO gelei te word ten opsigte van internasionale reis, wat tans adviseer teen die sluit van grense.

Soos meeste ander lande het ons reeds die middele tot ons beskikking om die oordrag van variante na ander lande te bekamp. 

Dit sluit in die vereiste dat reisigers ʼn inentingsertifikaat verskaf en ʼn negatiewe PCR-toets binne 72 uur van vertrek en aankoms ondergaan, en dat maskers tydens die reistydperk gedra word.  

Ons is diep teleurgesteld met die besluit van verskeie lande om reis van ʼn aantal suider-Afrikaanse lande te verban na aanleiding van die identifisering van die Omikron-variant.

Dit is ʼn duidelike en heeltemal ongeregverdige vertrek van die verbintenis wat baie van hierdie lande gemaak het by die onlangse G20-byeenkoms verlede maand in Rome.

Hulle het hul by daardie byeenkoms verbind daartoe om internasionale reis te hervat in ʼn veilige en ordelike wyse in ooreenstemming met die werk van die relevante internasionale organisasies soos die WGO, die Internasionale Lugvaartorganisasie (ICAO), die Internasionale Maritieme Organisasie (IMO) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD).

Die G20 Rome-verklaring het kennis geneem van die verknorsing van die toerismesektore in ontwikkelende lande en ʼn verbintenis onderneem om ʼn “vinnige, veerkragtige, inklusiewe en volhoubare herstel van die toerismesektor” te ondersteun.

Lande wat ʼn reisverbod op ons land en sommige van ons susterslande in suider-Afrika geplaas het, sluit onder meer in die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State van Amerika, die Europese Unie-lande, Kanada, Turkye, Sri Lanka, die Verenigde Arabiese Emirate, Australië, Japan, Thailand, die Seychelles, Brasilië en Guatamala.

Hierdie reisbeperkings is ongeoorloof en diskrimineer onregverdig teen ons land en ons susterslande in suider-Afrika.

Die verbod op reis is nie op wetenskaplike feite gegrond nie, en dit sal ook nie doeltreffend wees om te voorkom dat hierdie variant versprei nie.

Die enigste gevolg van die reisverbod is dat die ekonomieë van lande wat geraak word, net verder sal verswak en sulke lande se pogings om te reageer op die pandemie en daarvan te herstel, ondermyn.

Ons doen ʼn beroep op al die lande wat ʼn reisverbod op ons land en ons susterslande in suider-Afrika geplaas het, om dringend hul besluite om te swaai en hierdie reisbeperkings te lig voordat ons ekonomieë en ons mense se lewensbestaan nog meer skade ly.

Daar is geen wetenskaplike regverdiging om hierdie beperkings in plek te hou nie.

Ons weet dat die virus, nes alle ander virusse, muteer en nuwe variante vorm.

Ons weet ook dat die waarskynlikheid dat erger vorme van hierdie variante te voorskyn kom noemenswaardig hoër is in plekke waar mense nie ingeënt is nie.

Dit is waarom ons saam met baie ander lande, organisasies en mense regoor die wêreld veg vir die gelyk toegang tot entstowwe vir almal.

Ons het al genoem dat die ongelykheid ten opsigte van entstowwe nie net lei tot die verlies van lewens en mense se lewensbestaan in lande wat toegang tot entstowwe geweier word nie, maar ook die globale pogings om die pandemie te bekamp, tot niet kan maak.

Die opwagting van die Omikron-variant behoort almal te laat wakker skrik en begryp dat ongelykheid in opsigte van toegang tot entstowwe nie langer kan aanhou nie.

Totdat almal ingeënt is, is almal in gevaar.

Totdat almal ingeënt is moet ons verwag dat nog variante te voorskyn sal kom.

Hierdie variante sal heel moontlik meer aansteeklik wees, mense meer siek maak en beter bestand wees teen die huidige entstowwe.

In plaas daarvan om reis en toerisme te verban, moet die wêreld se ryker lande eerder sonder skroom die ontwikkelende ekonomieë se pogings ondersteun om toegang tot entstowwe te kry en genoeg entstowwe vir hul mense te vervaardig,

Mede landgenote

Die nuwe Omikron-variant se verskyning en die onlangse styging in infeksies het net weereens duidelik gemaak dat ons gaan nog vir ʼn hele ruk lank saam met hierdie virus gaan moet leef.

Ons het die kennis, ons het die ervaring en ons het die hulpmiddele om hierdie pandemie te hanteer, om met baie van ons normale daaglikse aktiwiteite voort te gaan en om ons ekonomie te herbou.

Dit lê nou in ons hande om te besluit watter roete ons land gaan volg.

Elkeen van ons moet ingeënt word.

Elkeen van ons moet steeds die basiese gesondheidsmaatreëls nakom, byvoorbeeld die dra van maskers, gereeld handewas met seep of ʼn handsaniteerder, en besige en beknopte plekke vermy.

Elkeen van ons moet steeds verantwoordelikheid neem vir ons eie gesondheid asook die gesondheid van diegene langs ons.

Elkeen van ons het ʼn rol om te speel.

Ons sal nie deur hierdie pandemie verslaan word nie.

Ons het reeds begin leer om daarmee saam te leef.

Ons sal uithou, ons sal oorkom en ons sal gedy.

God seën Afrika en beskerm haar mense.

Ek dank U.

Share this page

Similar categories to explore