President Cyril Ramaphosa: Suid-Afrika se reaksie op die Koronavirus-Pandemie

My Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is nou presies sewe weke sedert die eerste geval van die koronavirus in ons land bevestig is.

Sedertdien, het ons almal se lewens wesentlik verander.

As ’n nasie was ons verplig om drastiese stappe teen die onsigbare vyand wat ons en ons geliefdes se lewens bedreig het, te neem.

Ons is binne ’n kort tydsverloop gedwing om by ’n nuwe lewenswyse aan te pas.

Namate ons die vyfde week van die ongekende landwye inperking betree – en na die toekoms kyk – moet ons onthou hoekom ons hier is.

Die ongewone koronavirus, wat in Desember verlede jaar in die Chinese stad Wuhan geïdentifiseer is, het spoedig regdeur die wêreld versprei.

Tot op datum is meer as 2,6 miljoen bevestigde gevalle wêreldwyd aangemeld.

Die werklike aantal mense wat met die virus besmet is, is heel waarskynlik veel meer.

Die koronavirus veroorsaak die siekte wat as Covid-19 bekend is. Dit is ’n respiratoriese siekte waarvoor mense tans geen immuniteit het nie en waarvoor daar nie ’n geneesmiddel bekend is nie.

Die koronavirus word van persoon tot persoon oorgedra deur klein druppeltjies vanaf die neus en mond, deur direkte kontak, of vanaf oppervlakke waaraan ons raak of wanneer iemand wat besmet is hoes of nies wanneer hulle naby ’n ander persoon is.

Die meeste mense wat met die virus besmet is, toon slegs matige simptome, terwyl sommiges geen simptome het nie.

Maar daar is mense wat uiterste simptome ontwikkel en gehospitaliseer moet word.

Dit is gewoonlik ouer mense en mense wat aan onderliggende siektes ly, soos hartsiekte, diabetes, chroniese asemhalingsprobleme en kanker.

Vir sommige mense is, Covid-19 dodelik.

Regoor die wêreld, het meer as 185 000 mense weens die siekte gesterf.

Hier in Suid-Afrika, het minstens 75 mense hul lewens verloor.

Omdat die koronavirus so vinnig deur ’n bevolking versprei, kan selfs die beste toegeruste gesondheidstelsels binne die bestek van ’n week daardeur oorweldig word.

Dit is wat in baie lande regoor die wêreld gebeur het en is presies wat ons, as Suid-Afrika, met groot moeite wil voorkom.

Baie min gesondheidstelsels regoor die wêreld – indien enige – is voldoende toegerus vir ’n skielike en eksponensiële toename in mense wat behandeling vir ’n ernstige asemhalingsiekte nodig het.

As die virus gevolglik te vinnig versprei, is daar nie genoeg hospitaalbeddens, intensiewesorgeenhede, ventilators, persoonlike beskermingstoerusting of medisyne vir almal wat dit nodig het nie.

Om sake te vererger, kan mense wat aan ander siektes ly of noodprosedures moet ondergaan, nie die behandeling kry wat hulle nodig het nie.

En in sulke omstandighede word baie lewens wat gered kon word, verloor.

Ek beklemtoon hierdie basiese feite – wat teen hierdie tyd waarskynlik reeds aan die meeste van julle bekend is – omdat hulle die stappe wat ons tot dusver geneem het toelig en betrekking het op die maatreëls wat ek vanaand aankondig.

Sedert die oomblik dat ons die koronavirus-pandemie op Sondag 15 Maart tot ’n nasionale ramp verklaar het, was dit ons doel om die verspreiding van die virus teë te werk.

Ons doel was om ’n massiewe toename in infeksies en ’n onbeheerbare toename in die aantal mense wat mediese behandeling nodig het, te vermy.

Ons benadering is gegrond op die beginsels van maatskaplike afstand, inperking van bewegings en die toepassing van streng basiese persoonlike higiëne.

Deur die verspreiding van die virus te vertraag, het ons tyd gehad om ons gesondheidsfasiliteite voor te berei en sommige van die noodsaaklike mediese voorraad wat nodig is om die onvermydelike toename in infeksies te hanteer te verkry.

En deur dit te doen, hoop ons dat ons tienduisende lewens sal red.

Daar is duidelike bewyse dat die inperking gewerk het.

Saam met die ander maatreëls wat ons ingestel het – soos om ons grense te sluit – en die gedragsveranderinge wat ons elkeen moes maak, het die inperking die vordering van die pandemie in die land vertraag.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Suid-Afrika geprys vir die land se vinnig optrede en dat ons wetenskaplike raad gevolg het om die verspreiding van die virus te vertraag.

Hoewel ’n landwye inperking waarskynlik die doeltreffendste manier is om die verspreiding van die koronavirus te stuit, kan dit nie onbepaald volgehou word nie.

Ons mense moet eet. Hulle moet geld verdien. Maatskappye moet vervaardig en handel dryf, hulle moet ’n inkomste genereer en hulle werkers in diens hou.

Ons het dus besluit om ná Donderdag 30 April, met ’n gefaseerde herstel van ekonomiese aktiwiteite te begin.

Ons sal ’n risiko-aangepaste strategie in werking stel, waardeur ons die huidige staat van inperking deur ’n omsigtige, doelgerigte benadering sal verslap. 

Ons het op hierdie benadering besluit omdat baie dinge oor die tempo en wyse waarop die virus binne ons bevolking versprei, nog onbekend is.

Die stappe wat ons nou neem, moet dus afgemeet en inkrementeel wees.

Hierdie benadering is gelei deur wetenskaplikes se raad, wat daarop gedui het dat 'n skielike en onbeheerde opheffing van beperkings 'n geweldige herlewing van infeksies kan veroorsaak.

Ons kan nie vandag iets doen waaroor ons môre baie spyt sal wees nie.

Ons moet 'n oorhaastige heropening, wat die risiko van ’n nuwe verspreiding kan inhou, verhoed, want dit sal gevolg moet word deur nog 'n totale inperking, soos in ander lande gebeur het.

Ons moet die behoefte om ekonomiese aktiwiteit te hervat, met die noodsaaklikheid om die virus te stuit en lewens te red, balanseer.

Om dit te bereik, het ons 'n benadering ontwikkel waardeur ons sal bepaal watter maatreëls ons moet instel op grond van die koers wat die pandemie in ons land inslaan.

As deel van hierdie benadering sal daar vyf koronavirusvlakke wees:

Vlak 5 beteken dat drastiese maatreëls nodig is om die verspreiding van die virus te stuit om lewens te red.

Vlak 4 beteken dat sommige aktiwiteite hervat kan word onderhewig aan uiterste voorsorgmaatreëls om die oordrag in gemeenskappe en nuwe uitbrekings te beperk.

Vlak 3 behels die verslapping van sommige beperkings, insluitend werk- en sosiale aktiwiteite, met inagneming van 'n hoë risiko van oordrag.

Vlak 2 behels die verdere verslapping van beperkings, maar die handhawing van fisiese afstand en beperkings op sommige ontspannings- en sosiale aktiwiteite om 'n herlewing van die virus te voorkom.

Vlak 1 beteken dat die meeste normale aktiwiteite weer hervat kan word, met voorsorgmaatreëls en gesondheidsriglyne wat te alle tye gevolg word.

Om te verseker dat ons reaksie op die pandemie so akkuraat en doelgerig as moontlik sal wees, sal daar 'n nasionale vlak en afsonderlike vlakke vir elke provinsie, distrik en metro in die land wees.

Ons is tans op vlak 5, wat 'n volledige nasionale inperking vereis om die verspreiding van die virus te stuit.

Dit is die hoogste vlak van inperking en is ingestel toe drastiese optrede nodig was om oordrag van die virus te bekamp.

Die Nasional Koronavirus Bevelraad sal die waarskuwingsvlak bepaal op grond van 'n beoordeling van die infeksiekoers en die vermoë van ons gesondheidstelsel om diegene wat dit nodig het te behandel.

Ons het 'n gedetailleerde strategie waarvolgens die verskillende dele van die ekonomie geklassifiseer sal word volgens die risiko van oordrag in daardie sektor, die verwagte impak van die inperking, die ekonomiese bydrae van die sektor en die uitwerking op mense se lewensbestaan.

Die betrokke ministers sal 'n gedetailleerde inligtingsessie hou oor die indeling van nywerhede en hoe elkeen op elke vlak beïnvloed word.

Ons sal alle bedryfsliggame die geleentheid gee om hierdie besonderhede te oorweeg en indien hulle wil, voorleggings te maak voordat nuwe regulasies ingestel word.

Die Nasional Koronavirus Bevelraad het vroeër vandag vergader en bepaal dat die nasionale koronavirus-waarskuwingsvlak vanaf Vrydag 1 Mei van vlak 5 na vlak 4 verlaag sal word.

Dit beteken dat sommige aktiwiteite hervat mag word, onderhewig aan uiterste voorsorgmaatreëls om oordrag in gemeenskappe en nuwe uitbrekings van die virus te beperk

Sommige ondernemings sal toegelaat word om hul bedrywighede voort te sit onder bepaalde omstandighede.

Elke onderneming sal moet voldoen aan gedetailleerde gesondheids- en veiligheidsprotokolle om hul werknemers te beskerm. Werkplekplanne sal ingestel word om toesig oor siektes moontlik te maak en die verspreiding van infeksie te voorkom.

Alle ondernemings wat toegelaat word om hul bedrywighede te hervat, sal dit in fases moet doen; eerstens moet die werkplek voorberei word vir 'n terugkeer na bedrywighede, gevolg deur die terugkeer van die arbeidsmag in groepe van hoogstens een derde.

In sommige gevalle kan 'n sektor nie na volle produksie gedurende vlak 4 terugkeer nie, terwyl die risiko van infeksie steeds groot is.

Dit sal volgende week uitgespel word na afloop van die laaste konsultasies.

Besighede sal aangemoedig word om 'n werk-van-huis-strategie aan te neem waar moontlik.

Alle personeellede wat tuis kan werk, moet toegelaat word om dit te doen.

Die betrokke ministers sal besonderhede verskaf oor die proses vir die fase-heropening van skole en ander onderwysinstellings.

Aangesien ons die beperkings geleidelik verslap, is dit noodsaaklik dat baie van die maatreëls om die verspreiding van die virus te stuit, in plek bly.

Wanneer die land op 1 Mei na vlak 4 beweeg:

Ons grense sal gesluit bly vir internasionale reis, behalwe vir die repatriasie van Suid-Afrikaanse burgers en buitelandse burgers.

Geen reis word tussen provinsies toegelaat nie, behalwe vir die vervoer van goedere en buitengewone omstandighede soos begrafnisse.

Openbare vervoer sal voortgaan, met beperkinge op die aantal passasiers en streng higiënevereistes, insluitend dat alle passasiers 'n gesigmasker moet dra.

Die publiek word aangemoedig om tuis te bly, behalwe vir noodsaaklike persoonlike beweging, noodsaaklike werk en werk in sektore wat onder beheerde opening is. Mense kan oefen onder streng openbare gesondheidstoestande.

Afgesien van begrafnisse en werk, sal alle byeenkomste verbode bly.

Bejaardes, en mense met onderliggende toestande, moet tuisbly en ekstra voorsorg tref om hulself te isoleer.

Die verkoop van sigarette word toegelaat.

Die reeks goedere wat verkoop mag word, sal uitgebrei word om sekere bykomende kategorieë in te sluit. Dit sal deur die betrokke ministers uiteengesit word.

Dit is belangrik om daarop te let dat verskeie beperkings in plek sal bly ongeag die vlak van waarskuwing, solank as wat die risiko van oordrag aanwesig is:

Kroeë en sjebiens sal gesluit bly.

Konferensiesentrums, vermaaklokale, teaters, bioskope en konserte sal gesluit bly.

Konserte, sportbyeenkomste en godsdienstige, kulturele en sosiale byeenkomste sal nie toegelaat word voordat dit veilig geag word om voort te gaan nie.

Die koronavirus word versprei deur kontak tussen mense.

As mense nie reis nie, reis die virus nie.

Ons weet byvoorbeeld dat net een begrafnis in Port St Johns en 'n godsdienstige byeenkoms in Mangaung tot 'n vlaag infeksies in hul onderskeie provinsies bygedra het.

Uit die getuienis weet ons dat 75% van die bevestigde gevalle van koronavirus in net ses metro-munisipaliteite aangetref word: Johannesburg, Ekurhuleni, Kaapstad, Buffalo City, EThekwini en Mangaung.

Dit is daarom noodsaaklik dat ons alles in ons vermoë doen om die beweging van mense te beperk en - hoewel dit strydig is met ons aard - om die kontak wat ons met mekaar het te verminder.

Uiteindelik is dit ons eie optrede, as individue, wat bepaal hoe vinnig die virus versprei.

As ons almal die voorskifte nakom en riglyne vir openbare gesondheid volg, sal ons die virus onder beheer kan hou en hoef ons nie drastiese beperkings in te stel nie.

Ons kan die verspreiding van die koronavirus voorkom deur 'n paar eenvoudige dinge te doen.

Was jou hande gereeld met seep en water of gebruik 'n handontsmetmiddel met ’n alkoholbasis.

Hou 'n afstand van meer as een meter tussen jou en die volgende persoon, veral mense wat hoes of nies.

Probeer om nie aan jou mond, neus en oë te raak nie, want jou hande kon moontlik aan die koronavirus op oppervlakke geraak het.

As jy hoes of nies, bedek jou mond en neus met jou gebuigde elmboog of 'n snesie, en gooi die snesie dadelik weg.

Namate ons die begin van Mei met die verslapping van inperkings begin, doen ons 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om 'n gesigmasker te dra wanneer hulle die huis verlaat.

Ons klere- en tekstielbedryf - insluitend talle kleinsakeondernemings - is gereed om hierdie maskers op groot skaal te vervaardig.

Die buitengewone maatreëls wat ons getref het om die koronavirus-pandemie te bekamp, ​​is gekoppel aan die buitengewone bydraes van baie Suid-Afrikaners.

Ons bring hulde aan hulle, die verpleegkundiges, die dokters, die wetenskaplikes en die gemeeskapsveldwerkers wat ons openbaregesondheidreaksie lei.

Ons is daartoe verbind om te verseker dat hulle oor al die hulpbronne beskik wat hulle nodig het - insluitend voldoende persoonlike beskermingstoerusting en ander noodsaaklikhede - om die werk wat van hulle verwag word, te onderneem.

Namate ons die inperkingsreëls geleidelik verslap, verbeter ons, ons reaksie op openbare gesondheid aansienlik en vinnig.

Daar was reeds 'n beduidende toename in gemeenskapsifting en -toetse.

Onder leiding van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, sluit ons by ander Afrika-lande aan om massasifting en -toetse ’n sentrale deel van die volgende fase van ons reaksie te maak.

Ek het vroeër die week 'n bykomende toekenning van R20 miljard tot ons gesondheidsorg aangekondig om te verseker dat ons voldoende beddens, medisyne, toerusting en personeel het wanneer die land die hoogtepunt van infeksies ervaar.

Vanaand wil ek ook hulde bring aan diegene wat noodsaaklike dienste en goedere lewer - die vragmotor-, taxi-, bus- en treinbestuurders; die werkers op plase, in winkels, in kragstasies, by wateraanlegte, by vulstasies, in banke en in oproepsentrums; die wetstoepassers en sekuriteitspersoneel.

Dit is danksy julle pogings dat ons sulke goeie vordering gemaak het met die bekamping van hierdie pandemie.

As deel van die uitbreiding van hierdie poging het ek meer as 70 000 weermagpersoneel in diens geneem om hulp te verleen met verskillende aspekte van ons koronavirus-reaksie.

Tot nou toe het die lede van die weermag wat ontplooi is, die Suid-Afrikaanse Polisiediens in hul verantwoordelikhede ondersteun.

Hulle sal voortgaan om dit te doen, maar hulle sal ook hulp verleen op ander noodsaaklike gebiede, soos watervoorsiening, instandhouding van infrastruktuur en gesondheidsdienste.

Dit is 'n belangrike oomblik in ons stryd teen die koronavirus.

Dit is 'n tyd om versigtig te wees.

Dit is 'n tyd om verantwoordelik op te tree.

Dit is 'n tyd om geduldig te wees.

Daar is niemand wat nie wil terugkeer werk toe nie.

Daar is geen maatskappy wat nie wil heropen nie.

Daar is geen student wat nie wil terugkeer na hul studies nie.

Tog word ons almal, op 'n sekere tyd in ons lewens, versoek om groot opofferings te maak vir ons eie toekoms en vir die toekoms van ander.

Daar is tye dat ons swaarkry en probleme moet verduur, sodat ons vryheid en voorspoed in die toekoms kan geniet.

Die afgelope vyf weke het ons aan die hele wêreld bewys wat 'n volk kan bereik met moed, vasberadenheid en solidariteit.

Ons moenie nou moed opgee nie.

Ek vra julle om sterk te bly.

Ek vra julle om verenig te bly.

Bly tuis, bly veilig.

Dankie vir alles wat julle gedoen het en steeds doen.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore