Verklaring van die Kabinetsvergadering van 6 November 2013

07 Nov 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1 Die Kabinet verwelkom die Goldman Sachs-verslag, Two Decades of Freedom, wat 'n breedvoerige uiteensetting bevat van 10 areas waarin Suid-Afrika sedert 1994 strukturele vordering gemaak het en 10 areas waarin die land afdoende stappe moet doen.

Die verslag is 'n welkome bevestiging van die Regering se eie beoordeling van die land se prestasie en bekragtig die prioriteite vir die toekoms wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan uiteengesit is.

Die verslag is 'n bron van hoop en inspirasie en lewer 'n belangrike bydrae tot openbare gesprekvoering om saam te val met die aanvang van feesvierings ter herdenking van Suid-Afrika se 20 Jaar van Vryheid.

Die Regering doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om saam te werk en hard te werk om Suid-Afrika selfs meer suksesvol te maak en om hul energie en gesprekke op hierdie kwessies toe te spits.

1.2 Die Kabinet verwelkom die oprigting van twee nuwe universiteite in die Noord-Kaap en Mpumalanga, wat die eerstes is wat gebou word sedert die aanbreek van demokrasie.

Die Mpumalanga Universiteit sal in Januarie 2014 sy deure open. Hierdie prestasie weerspieël die belangrikheid wat die Regering en alle Suid-Afrikaners heg aan onderwys as deel van die nasie se ontwikkeling. Die nuwe kampus sal dit ook vir Mpumalanga-studente moontlik maak om ná aan die huis te studeer en 'n verskeidenheid ekonomiese aktiwiteite genereer wat op die bediening van die universiteit en sy bevolking gerig is.

Suid-Afrika het met rasse skrede gevorder met die voorsiening van dienste en nuwe instellings aan gemarginaliseerde en behoeftige gemeenskappe. Die vernietiging van hierdie instellings maak die beduidende vordering wat ons gedurende ons nuwe demokrasie gemaak het, ongedaan.

1.3  Die Kabinet verwelkom ook die aankondiging dat Eskom se kragaanlegte Kusile en Medupi in 2014 elektrisiteit sal lewer. 

Die opwekking van elektrisiteit in 2014 deur die Kusile- en Medupi-kragaanlegte sal nog 'n mylpaal in die land se ontwikkeling wees en sal 'n bewys wees van die Regering se sukses in die implementering van 'n grootskaalse infrastruktuur-ontwikkelingsprogram wat ons ekonomie en samelewing hervorm.

Volhoubare energie is noodsaaklik vir huishoudelike en nywerheidsklante en ontsluit nuwe moontlikhede om die ekonomie uit te brei – wat sedert 2009 vir hierdie Administrasie 'n prioriteit is. Met soveel projekte van dié aard wat regoor die land in volle gang is, het Suid-Afrika 'n aantal belangrike treë op sy nuwe groeipad geneem en alle Suid-Afrikaners behoort ons prestasies te vier.

1.4  Die Kabinet loof die ondertekening van die Ooreenkoms oor die Grand Inga-hidroëlektriese skema gedurende die onlangse Staatsbesoek deur President Jacob Zuma aan die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Hierdie projek sal energie-toegang in Afrika uitbrei en ontsaglike voordele vir die landbou-, mynbou- en ander sektore in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-streek inhou.

Sodra al die fases voltooi is, sal die projek hernubare energie aan die helfte van die Afrika-kontinent verskaf. Hierdie projek sal werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en tegnologieoordragte in deelnemende lande aanwakker en huishoudelike en nywerheidsgebruikers bevoordeel. Dit is noodsaaklik vir ekonomiese groei en mededingendheid deur die hele SAOG-streek.

1.5 Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan, veral jongmense en diegene wat die eerste keer gaan stem, om hul demokratiese reg uit te oefen deur die eerste stap in die proses te doen, naamlik om op 9 en 10 November 2013 te registreer om te stem.

Ons vryheidstryd het vir elke Suid-Afrikaner die reg verwerf om aktiewe deelnemers aan ons demokratiese stelsel te wees. Ons kan op alle Suid-Afrikaners 'n beroep doen om ons geskiedenis te respekteer en voort te gaan om die wettigheid van ons demokrasie te versterk.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle stemgeregtigdes om te verseker dat daar tydens die 2014-verkiesing 'n groter opkoms van kiesers by die stembus is as in enige ander verkiesing sedert 1994. Al die kantore van die Departement Binnelandse Sake sal op die registrasiedatums oop wees om die registrasieproses met die nodige dokumentasie te vergemaklik.

1.6  Die Kabinet prys die meer as 3,6 miljoen belastingbetalers wat tot op hede reeds hul belastingopgawes ingedien het en daardeur die Regering help om broodnodige dienste te kan lewer om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter. Suid-Afrika is vandag 'n veel beter plek as wat dit in 1994 was, weens die toenemende aantal individue en maatskappye wat bereid en in staat is om by te dra tot die Staatskas waaruit dienste en geriewe befonds word.

Die Kabinet herinner belastingbetalers wat nog nie hul belastingopgawes ingedien het nie, dat die sperdatum van 22 November 2013 vir die elektroniese indiening van individuele belastingopgawes vir die 2013/13-belastingjaar om die draai is.

1.7  Die Kabinet veroordeel die onlangse vloed van geweld, vernietiging van privaat eiendom en plunder van goedere in Gauteng, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Die Kabinet loof die polisie vir hul ingryping en onderdrukking van die situasie.

Die vernietiging van openbare eiendom ontneem gemeenskappe van broodnodige openbare dienste en skep 'n bykomende las deur hulpbronne wat hierdie dienste dan moet herstel en vervang.

Die Regering sal nie toelaat dat misdadigers strukture en geriewe waar noodsaaklike dienste gelewer word, vernietig nie. Vandalisme help niemand nie, en dit is totaal onlogies om een diens te vernietig as deel van protesoptrede om 'n ander diens te verkry.

Gemeenskappe moet alle pogings deur misdadigers om ons kinders se onderwys gyselaar te hou deur te dreig om eksamens te ontwrig, beveg.
Ons moet gemeenskappe bou waarin ons mekaar respekteer en help, eerder as om mekaar te vrees.

1.8 De Kabinet spreek sy kommer uit oor die openbare verklarings oor die Suid-Afrikaanse  Jode. Die Kabinet erken die reg van Palestynse mense op selfregering en die reg van Israel om neffens 'n Palestynse Staat te bestaan. Hul pogings om 'n regverdige oplossing vir die konflik te vind, moet voortgaan. Die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap het niks te vrees nie. Die Regering het nie 'n verbod op reis na Israel deur Regeringsamptenare ingestel nie.

1.9 Die Kabinet bring hulde aan die prestasies van die Suid-Afrikaanse atlete wat aan die onlangse New York City Maraton deelgeneem het, waar die Paralimpiese atleet Ernst van Dyk die tweede plek in die rolstoelafdeling verwerf het, terwyl Lusapho April derde gekom het in die mans-elite-kategorie. Daarbenewens het Don Oliver en Abraham Mouton ook in die top-60 in die handfiets-afdeling geëindig.

2. Belangrike Kabinetsbesprekings en -besluite

2.1 Die Kabinet verleen sy goedkeuring dat die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (SACAA) saam met die International Civil Aviation Organisation (ICAO) die eerste Afrika Lugvaart-Ruimtegeneeskundekonferensie in Februarie 2014 aanbied. Dit sal beheerliggame en gesondheidspraktisyns in die lugruim-omgewing byeenbring om uitdagings waarvoor die sektor te staan kom, te bespreek.

Die aanbieding van hierdie konferensie sal help om bewustheid te bevorder van en Afrika-state aan te moedig om inligting oor die prestasie van hul vliegpersoneel, die veiligheid van vliegpersoneel en passasiers in vlug asook veiligheidsbestuur te deel.

3 Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:

3.1 Me Kholofelo Glorious Sedibe in die pos van Adjunkdirekteur-generaal: Leierskaps- en Bestuurspraktyk in die Kantoor van die Staatsdienskommissie (KSDK).

3.2 Direksie van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing
a) Me Nasima Badsha (Voorsitter)
b) Prof Relebohile Moletsane
c) Dr Botlhale Octavia Tema (heraanstelling)
d) Prof Shireen Abdool Aziz Hassim
e) Prof Lulama Qalinge (heraanstelling)
f) Prof Adebayo Olukoshi (heraanstelling)
g) Prof Amanda Lourens (heraanstelling)
h) Prof Enrico Orlando Uliana (heraanstelling)
i) Adv Roshan Rai Dehal
j) Dr Mark Bussin

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore