Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Dinsdag 8 Augustus 2023

A.  Kwessies in die omgewing

1.  Suid-Afrikaanse nasionale taxiraad (SANTACO) Wes-Kaap se taxistaking 
1.1.  Die Kabinet is ingelig oor die voortslepende dooie punt tussen SANTACO Wes-Kaap en die Stad Kaapstad, wat opgebou het tot ʼn gewelddadige staking as gevolg van die beslaglegging op taxi’s deur die Stad Kaapstad.
1.2.  Die Kabinet veroordeel die geweld en anargie in Kaapstad en het ʼn beroep op SANTACO gedoen om te verseker dat sy protesoptrede vreedsaam is en nie inbreuk maak op die regte van ander nie. Ons het in dié verband opgelet dat daar gedurende die afgelope 48 uur geen gewelddadige voorvalle was nie. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander wetstoepassingsagentskappe is egter aangesê om seker te maak dat die gewelddadige situasie onder beheer is sodat inwoners verseker kan wees van veilige beweging na die skool, werk en hulle normale daaglikse aktiwiteite.
1.3.  Die Kabinet is ook ingelig oor die Stad Kaapstad se oplegging van taxibedryfsvoorwaardes wat verskil van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wetnr. 93 van 1996) asook die Wet op Nasionale Landvervoer, 2009 (Wetnr.5 van 2009), wat die verkeersoortredings en toepaslike straf reguleer, insluitende die beslaglegging op voertuie. Die Kabinet het die Minister van Vervoer, me. Sindiswe Chikunga, opdrag gegee om te verseker dat enige taxibedryfsvoorwaardes wat strydig met die wette van die Republiek is, verwyder word.

2.  Stryd teen onwettige mynbou
2.1.  Die Kabinet het die ontplooiing verwelkom van ʼn spesiale polisie-eenheid, wat deur die weermag ondersteun word, in Riverlea, Johannesburg, om onwettige mynbou in die gebied te hanteer. 
2.2.  Daarbenewens het die Kabinet die inhegtenisneming van meer as 194 verdagtes weens onwettige mynboubedrywighede geprys en wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om dringend in te gryp teen dié en ander ernstige misdade in die land.  
2.3.  Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE) het hulle daartoe verbind om alle verwaarloosde oop skagte en mynputte in Riverlea teen die einde van September 2023 te sluit, terwyl planne gefinaliseer word om ander verwaarloosde oop skagte en mynputte in die hele land te sluit.

3.  Die sekuriteitsituasie in Niger
3.1.  Die Kabinet het gelet op die uitwerking van die sekuriteitsituasie in Niger op lugverkeer tussen Suid-Afrika/Suider-Afrika en Wes-Europa, met negatiewe implikasies vir sowel sakelui as individue en die lugvaartbedryf wat net begin herstel van die vernietigende uitwerking van die Koronavirussiekte 2019- (Kovid-19-)pandemie.
3.2.  Die Kabinet het die regering se veroordeling van die staatsgreep in Niger asook die beroep op die spoedige herstel van ʼn demokratiese orde herhaal en merk ook die inisiatief om normaliteit onder die ekonomiese gemeenskap van Wes-Afrikaanse state te herstel.

4.  Rusland-Afrika-spitsberaad
4.1.  President Cyril Ramaphosa was onder ander Afrika-leiers wat op 27 en 28 Julie 2023 die Tweede Rusland-Afrika-spitsberaad in Sint Petersburg in die Russiese Federasie bygewoon het. Dié spitsberaad het die Rusland-Afrika-vennootskapsaksieplan aangeneem, wat daarop fokus om samewerking op die gebied van politiek en sekuriteit, ekonomie, humanitêre sake en belange van wedersydse voordeel en welvaart te versterk.
4.2.  Staats- en regeringshoofde uit Afrika wat deel is van die Afrika-vredesinisiatief oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne het gedurende die spitsberaad het as ʼn bysaak opvolggesprekke met president Wladimir Poetin gevoer oor die bespreekte maatreëls wat vroeër bespreek is wat vertroue bou en toestande sal skep vir ʼn onderhandelde ooreenkoms om die oorlog te beëindig. 
4.3.  President Ramaphosa en Poetin het ook ʼn bilaterale vergadering gehou en geleenthede bespreek om handel tussen die twee lande te vermeerder en om die Russiese Federasie se beleggings in Suid-Afrika te vermeerder.

5.  Gereedheid vir aanbieding van BRICS-spitsberaad 
5.1.  Die Kabinet is daarvan in kennis gestel dat alles gereed is ten opsigte van Suid-Afrika se gereedheid vanaf 22 tot 24 Augustus 2023 die 15de BRICS-spitsberaad in Johannesburg aan te bied. 
5.2.  Die laaste van die BRICS-ministersvergaderings — die vergadering van die BRICS-ministers van landbou — geskied tans, terwyl die ministersvergaderings van buitelandse sake, sekuriteit, handel, nywerheid, onderwys, wetenskap, arbeid, kommunikasie, gesondheid en die verstedelikingsforum hulle verslae vir die leierspitsberaad voltooi het. 
5.3.  Die BRICS-uitreikprogramme vir verskeie sektore en gemeenskappe is ook afgehandel. 
5.4.  Dié geleenthede het aan regerings, organisasies, kundiges en akademici uit die BRICS-nasies die geleentheid gegun om sake van gemeenskaplike belang te bespreek wat ingeligte besluitneming gedurende die BRICS-spitsberaad sal moontlik maak.

6.  Tienjaaroorsig van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP)
6.1.  Die Kabinet het die tienjaaroorsig van die NOP deur die Nasionale Beplanningskommissie verwelkom wat aangedui het dat die ekonomie steeds op ʼn manier gestruktureer is wat nie die belange van alle Suid-Afrikaners bevorder nie; ʼn groot rede waarom vlakke van armoede en ongelykheid vermeerder. 
6.2.  Die regering bly daartoe verbind om die ekonomie te herstruktureer en te transformeer om in die belange van alle Suid-Afrikaners te voorsien.

7.  Energie 
7.1.  Dit was op 25 Julie was dit presies een jaar nadat president Ramaphosa die Energie-aksieplan aangekondig het.
7.2.  Die Kabinet het die vordering verwelkom wat tot dusver met die implementering van die Energie-aksieplan gemaak is, wat steeds ʼn verbetering in die energiebeskikbaarheidsfaktor en verbetering in die vlakke van beurtkrag teweegbring. 

8.  Toerisme 
8.1.  Die Kabinet is verheug dat die toerismestatistiek vir Junie 2023 toon dat ons toerismesektor stadig maar seker van die vernietigende uitwerking van die Kovid-19-pandemie herstel. Die statistiek vir Junie 2023 van Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) toon dat die aantal aankomste, vertrekke en reisigers in transito tussen Junie 2022 en Junie 2023 vir Suid-Afrikaanse inwoners asook as buitelandse reisigers vermeerder het. 

9.  Ekonomie 
9.1.  Die Kabinet het Stats SA se verslag verwelkom van ʼn daling in verbruikersinflasie van 6,3% in Mei na 5,4% in Junie 2023, wat die grootste daling sedert Mei 2020 is. Dié daling toon die veerkragtigheid van ons ekonomie, wat verder aangehelp word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die repokoers onveranderd op 8,25% te laat.

10.  Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)  
10.1.  Die Kabinet het verwelkom dat die Wetsontwerp op SAGT onlangs deur President Ramaphosa as wet onderteken is, wat SAGT die 12de amptelike taal in Suid-Afrika gemaak het. Dit sal die regte van sowat 600 000 gebruikers van SAGT in Suid-Afrika bevorder. 

B.  Kabinetsbesluite 

1.  Voorvrystellingskalender vir die publikasie van die kwartaallikse misdaadstatistiek vir die 2023/24-boekjaar 
1.1.    Die Kabinet het die voorafvrystellingskalender vir die publikasie van die kwartaallikse misdaadstatistiek vir die 2023/24-boekjaar goedgekeur. Die misdaadstatistiek sal in Augustus en November 2023 vir kwartaal een en twee, en in Februarie en Mei 2024 vir kwartaal drie en vier, onderskeidelik, vrygestel word. Die gereelde vrystelling van misdaadstatistieke is belangrik vir die monitering van misdaadtendense en beter besluitneming in die stryd teen misdaad.

2.  Beleid van finansiële insluiting  
2.1.  Die Kabinet het die beleid van finansiële insluiting vir implementering goedgekeur. Die beleid vorm deel van die regering se hervormings van die regulering van die finansiële sektor en is belyn met die Nasionale Tesourie se Twin Peaks-model.  
2.2.  Die beleid is daarop gemik om, onder andere, beter markgedrag en behandeling van klante in die finansiële sektor te verseker. Die doel is om seker te maak dat finansiële instansies sake doen op maniere wat billik teenoor klante is, praktyke verhoed wat die integriteit van finansiële markte ondermyn en vertroue in die finansiële stelsel bou. 
2.3.  Die implementering van die beleid sal verseker dat die land sy finansiële stelsels versterk om ekonomiese groei te ondersteun en om toegang tot finansiële dienste en finansiële insluiting vir alle burgers te bevorder. Dit is ʼn erkenning dat hoewel vlakke van toegang in transaksionele rekeninge verbeter het, dit nie in baie ander finansiële produkte en dienste weerspieël is nie.
2.4.  Die beleid is op die webwerf van die Nasionale Tesourie beskikbaar: www.treasury.gov.za 

C.  Wetsontwerpe

1.  Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) van 2023
1.1.  Die Kabinet het die indiening van die konsepwysigingswetsontwerp op die NVG van 2023 by die Parlement goedgekeur. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die NVG, 1998 (Wetnr. 32 van 1998), om vir die vestiging van die ondersoekdirektoraat as ʼn permanente entiteit binne die NVG voorsiening te maak en om ook sy ondersoekmagte te versterk.

2.  Die Wysigingswetsontwerp op die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasieverwante Inligting
2.1.  Die Kabinet het die indiening van die konsepwysigingswetsontwerp voor die Parlement goedgekeur, wat die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-verwante Inligting (RICA) (Wetnr 70 van 2002) wysig. 
2.2.  Die wysigings is hoofsaaklik om voldoende veiligheidsmaatreëls te voorsien ter beskerming van die reg op privaatheid soos verskans deur die reg van toegang tot howe, vrye meningsuiting van die media en regsvoorregte, in ooreenstemming met die uitspraak van die Grondwetlike Hof in 2021 wat bevind het dat die RICA van 2002 ongrondwetlik is. 

D.  Aanstellings 
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.   Mnr. Percy Sechemane as Hoof Uitvoerende Beampte van die Trans-Caledon-tonnelowerheid. 
2.  Me. Thathakahle Nonkqubela Jordan-Dyani as Direkteur-Generaal (DG) by die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie. 
3.  Mnr. Duncan Pieterse as DG by die Nasionale Tesourie. 
4.  Me. Qinisile Precious Delwa as Adjunk-DG (ADG): Ondernemingsontwikkeling en Entrepreneurskap by die Departement van Kleinsake-ontwikkeling (DKO).
5.  Me. Mosa Keneilwe Makhele as ADG: Sektorbeleid en -ontwikkeling by die DKO. 
6.  Mnr. Xolisa Mabhongo as ADG: Globale Bestuur en Kontinentale Agenda by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking.
7.  Me. Rosinah Nghaka Dumalisile as ADG: Bekostigbare Huur- en Maatskaplike Behuising by die Departement van Menslike Nedersettings. 
8.  Mnr. Thabo Kekana as ADG: Programme en Projekte by die DMHE.
9.  Nasionale radioaktiewe afvalverwyderingsinstituut se direkteursraad: 
(a)   Me. Lemao Dorah Modise (Voorsitter);
(b)   Dr. Wolsey Barnard (Adjunkvoorsitter);
(c)   Me. Gratitude Ramphaka;
(d)   Dr. Kgaugelo Chiloane (heraanstelling); en
(e)   Adv. Derick Block.

10.  Nasionale Kernreguleerder se direkteursraad:
(i)  Mnr. Protas Phili – Voorsitter (heraanstelling); 
(ii)   Me. Pinkie Deneo Peta (heraanstelling); 
(iii)   Mnr. Paul Heeger;
(iv)  Me. Nolubabalo Zolisa Zwakala;
(v)   Dr. Pathmanathan Naidoo;
(vi)   Dr. Nandi Malumbazo;
(vii)  Me. Theodorah Bahlekazi; en
(viii)  Mnr. Happy Khambule.

11.  Bestuursagentskap van die Inkomati-Usuthu-opvanggebied se direkteursraad:
(i)   Me. Linda Carol Zulu (Voorsitter);
(ii)   Adv. Geraldine Khoza (Adjunkvoorsitter);
(iii)  Me. Shivon Wiggins;
(iv)   Mnr. Sam Mthembu;
(v)   Mnr. Mokgobi Andrew Ramushu;
(vi)   Mnr. Steven Matome Mathetsa; en
(vii)   Me. Salome Chiloane-Nwabueze. 

12.  Staatsinligtingstegnologie-agentskap se raad van direkteure: 
(i)   Mnr. Kiruben Pillay (Voorsitter);
(ii)  Me. Lerato Petlele (Adjunkvoorsitter);
(iii)  Me. Khathu Sibanda;
(iv)  Dr. Lucienne Abraham;
(vi)  Mnr. Luvuyo Keyise;
(vii)  Mnr. Mandla Martin Mnisi; 
(viii)  Me. Renisha Naidoo;
(ix)  Me. Nolitha Pietersen; en
(x)  Me. Laura Mseme.

E.  Huidige gebeurtenisse

1.  Vrouemaand
1.1.  Suid-Afrika in Augustus vier Vrouemaand met die tema: “Bespoediging van sosio-ekonomiese geleenthede vir die bemagtiging van vroue” om hulde te bring aan die 20 000 vroue wat in 1956 na die Uniegebou opgetrek het om protes teen die onderdrukkende paswette van die apartheidsregering, aan te teken.  
1.2.  Die Kabinet doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om die maand te gebruik, nie net om vroue te vereer wat vir ons vryheid geveg het nie, maar ook om ons deel te doen om ʼn gemeenskap te bou wat die bemagtiging van vroue ondersteun en die veiligheid van vroue en kinders waarborg. 

F.  Boodskappe

1.  Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en beste wense oor aan: 

  • Netbal Spar Proteas, omdat hulle die top ses in die Netbalwêreldbeker bereik het. Die Kabinet het ʼn beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om sulke verenigende oomblikke as ʼn geleentheid te gebruik om uit te reik na mede-Suid-Afrikaners om maatskaplike kohesie te bou en nasiebou te bevorder in ʼn samelewing waar almal welkom voel.
  • Banyana Banyana, omdat hulle geskiedenis gemaak het deur tot die laaste 16 van die 2023-FIFA-vrouewêreldbeker deur te dring. Hul besondere prestasies op die sportveld het die nasie geïnspireer en hulle het die land se vaandel hoog gehou.     
  • Prof. Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer, omdat sy aangestel is as ʼn lid die Verenigde Nasies se Wetenskaplike Adviesraad vir Onafhanklike Advies oor Deurbrake in Wetenskap en Tegnologie.
  • Tatjana Schoenmaker, omdat sy die goue medalje in die 200m-borsslag en die silwermedalje in die 100m-borsslag by die Wêreldswembyeenkoms in Foekoeoka, Japan, verower het. 
     

2.    Medelye 

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die naasbestaandes en vriende van: 

  • Imam Achmad Cassiem (78), die voormalige Robbeneiland- gevangene, lid van die Pan-Afrika-kongres en stigterslid van die Qibla-beweging, wat ʼn veteraan van die stryd teen apartheid was.
  • Die mense wat hulle lewe gedurende die minibustaxistaking in Kaapstad verloor het.
     

Navrae: Me. Nomonde Mnukwa — Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore