Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 7 Augustus 2019

Die kabinet het op Woensdag, 7 Augustus 2019, by die Uniegebou in Pretoria vergader

A.  Kwessies in die Omgewing

1.  Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling en verbintenisse van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC)

1.1.  Die kabinet is steeds besorg oor die hoë werkloosheidsyfer en die lae ekonomiese groeikoerse in ons land. Die uitslae van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2019 wat deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is, dui aan dat die amptelike werkloosheidsyfer met 1,4 persentasiepunte tot 29,0% gestyg het, vergeleke met die eerste kwartaal van 2019.

1.2.  Die kabinet bly daartoe verbind om strukturele uitdagings  wat ons land se prestasie en sy vermoë om op ontwikkelingsuitdagings te reageer negatief te beïnvloed, die stryd aan te sê.

1.3.  Die snelreaksie-ooreenkoms wat deur al die partye by NEDLAC onderteken is, verbind hulle daartoe om die belanghebbers op 'n maandelikse basis te ontmoet om vordering met die sewe-en-sewentig (77) verbintenisse uit die Werkeberaad te monitor. Maandelikse vergaderings sal vanaf September 2019 onder voorsitterskap van president Cyril Ramaphosa gehou word.

1.4.  Die verbintenisse deur al die belanghebbers – wat die regering, arbeid, sakesektor en burgerlike organisasies insluit – is toegespits op programme om werk te skep, meganismes om struikelblokke tot implementering te verwyder, asook ooreenkomste oor werksbehoud en maniere om werksverliese te voorkom. Inisiatiewe wat op spesifieke sektore afgespits is om die ekonomie te groei, is ook by hierdie verbintenisse ingesluit.

2.  Samewerking tussen Suid-Afrika en Japan

2.1.  Die kabinet verwelkom die samewerkingsinisiatief tussen Suid-Afrika en Japan om plastiekbesoedeling te bestry deur die ondersteuning van die oorskakeling van die plaaslike plastiekbedryf vanaf konvensionele plastiek tot meer omgewingsvriendelike, volhoubare alternatiewe.

3.  18de Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) Forum

3.1.  Suid-Afrika het onlangs aan die 18de AGOA Forum deelgeneem wat in die Ivoorkus gehou is onder die tema: “AGOA en die Toekoms: Ontwikkeling van 'n Nuwe Handelsparadigma as Riglyn vir Verenigde State (VS)-Afrika Handel en Belegging”.

3.2.  AGOA is 'n eensydige Amerikaanse handelsvoorkeurprogram wat  doeanevrye en kwotavrye behandeling bied aan meer as 6 400 tarieflyne uit 40 AGOA-kwalifiserende lande van Afrika suid van die Sahara, insluitend Suid-Afrika, na die Amerikaanse mark.

3.3.  Suid-Afrika se konstruktiewe en positiewe gesprekke met die Amerikaanse Handelsverteenwoordiger bied potensiële toegang tot die Amerikaanse mark en Amerikaanse belegging in ons ekonomie, wat belangrike maniere is om werkskepping en die uitskakeling van armoede te bevorder.

4.  Aanvalle op lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)

4.1.  Die onlangse aanvalle op lede van die SAPD in die uitvoering van hul pligte in die Stad Johannesburg mag nie geduld word nie. Die kabinet veroordeel die aanvalle ten sterkste en het ons polisie en ander wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om die verdagtes sonder aansien des persoons te vervolg.

4.2.  Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 bepaal dat die wetstoepassingsagentskappe, met inbegrip van ons polisiediens, misdaad moet voorkom, bestry en ondersoek, openbare orde moet handhaaf, sy inwoners en hul eiendom moet beskerm en beveilig en die wet moet handhaaf en afdwing.

4.3.  Enige aanvalle op ons wetstoepassingsagentskappe is 'n aanval op ons staat en sy soewereiniteit , en sulke aanvalle moet nie ongestraf bly nie. Ons doen 'n beroep op alle gemeenskappe om ons regeringsagentskappe te ondersteun, veral diegene wat ons wette toepas, en om teen hierdie skurkagtige aanvalle teen polisiebeamptes te verenig.

4.4.  Die kabinet doen 'n beroep op die wetstoepassingsagentskappe om voort te gaan om die wet af te dwing en beslissend op te tree teen diegene wat ons landswette oortree. Munisipale verordeninge moet te alle tye gehoorsaam word en ons doen 'n beroep op al ons munisipaliteite om die verordeninge  af te dwing. Ons bly 'n wetsgehoorsame land wat sal voortgaan om vrede, standvastigheid en welvaart vir sy landsburgers te verseker.

4.5.  Die kabinet verwag van almal wat in Suid-Afrika werk of woon om met ons wetstoepassingsagentskappe saam te werk om misdadige en onwettige aktiwiteite te bestry.

4.6.  Die kabinet verseker die nasie dat die land se wetstoepassingsagentskappe daadkragtig sal optree en mense wat wetteloosheid en geweld bedryf, sal arresteer.  

5.  Vernietiging van openbare eiendom

5.1.  Die kabinet verwelkom die einde van die onlangse staking in die Stad Tshwane. Dit is egter uiters betreurenswaardig dat busbestuurders die hoofroetes na die stad met munisipale busse versper het, en dat sommige stakers infrastruktuur beskadig en na bewering lede van die publiek geïntimideer het.  

5.2.  Die kabinet is besorg oor die toenemende aantal voorvalle van vernietiging van openbare eiendom wat met protesoptrede en stakings in ons land gepaardgaan. Die reg op betogings is in die Grondwet vasgelê en beskerm, en daar is verskeie vreedsame maniere om openbare griewe op te los sonder om openbare dienste en eiendom te vernietig. Herstelwerk aan beskadigde infrastruktuur hou massiewe finansiële en maatskaplike implikasies in, wat 'n negatiewe uitwerking het op landsburgers wat daagliks sulke geriewe gebruik.

6.  Silikose-skikking

6.1.  Die kabinet neem kennis van die R5-biljoen historiese skikking wat deur die Gauteng Hoë Hof goedgekeur is, wat 'n sterk boodskap aan mynmaatskappye stuur om die veiligheid van hul werkers te prioritiseer en om siektes te voorkom wat moontlik eers lank ná hul aftrede kan voorkom.

6.2.  Die uitspraak van die Hoë Hof sal tot gevolg hê dat duisende voormalige mynwerkers vergoed word vir die pyn en lyding wat hulle verduur het nadat hulle siektes opgedoen het wat verbind word met lang dienstydperke in die goudmyne.  

6.3.  Die kabinet loof ook die regspanne, insluitend die regshulpspanne, wat die onderskeie partye verteenwoordig het in die uitgerekte hofsaak, wat uitgeloop het op die vergoeding van die voormalige mynwerkers of hul wettige erfgename van reeds afgestorwe mynwerkers nadat hulle aan silikose of sekere tipes tuberkulose gely het wat hulle ná 12 Maart 1965 by bepaalde goudmyne opgedoen het.

6.4.  Ses goudmynmaatskappye – African Rainbow Minerals, Anglo American, AngloGold Ashanti, Gold Fields, Harmony en Sibanye-Stillwaters – tesame met die eisers se prokureurs, sal die Tshiamiso Trust oprig, wat sal verseker dat kwalifiserende mynwerkers of hul wettige erfgename die vergoeding ontvang.

7.  Mosambiek-verdrag

7.1.  Die kabinet verwelkom die ondertekening van die Vrede-en-Versoekingsooreenkoms in Mosambiek op Dinsdag, 6 Augustus 2019, as 'n teken van saamhorigheid met die mense van Mosambiek, en ter ondersteuning van vrede en stabiliteit in die land.

7.2.  Die ooreenkoms volg op die suksesvolle politieke dialoog tussen die regering van Mosambiek en die Mosambiekse Nasionale Weerstandsbeweging, wat op 1 Augustus 2019 uitgeloop het op die ondertekening van 'n ooreenkoms oor die beëindiging van vyandige militêre optrede.

7.3.  Suid-Afrika en Mosambiek deel hartlike en kollegiale bilaterale politieke, ekonomiese en maatskaplike verhoudings, wat berus op sterk historiese bande wat uit die jare van die vryheidstryd dateer. President Ramaphosa en baie ander staatshoofde van die SAOG het die ondertekeningseremonie bygewoon.

8.  Caster Semenya

8.1.  Die kabinet is teleurgesteld dat ons steratleet, Caster Semenya, nie toegelaat sal word om haar 800m-wêreldtitel tydens die Wêreldkampioenskap in Doha, Qatar, te verdedig nie. Dit volg op 'n uitspraak deur 'n Switserse hof ter ondersteuning van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se reël, wat van haar sal vereis om medikasie te neem om haar testosteroonvlakke te verlaag.

8.2.  Die kabinet steun me Semenya ten volle in haar appèl en stryd om haar basiese menseregte. Net soos alle ander atlete, is sy daarop geregtig om mee te ding sonder om verplig te word om haar liggaam met mediese middels te verander.

9.  Nasionale Ordes

9.1.    Die kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om persone te nomineer wat hulle as verdienstelik beskou vir die toekenning van die land se hoogste eerbewys, die Nasionale Orde.

9.2.  Hierdie toekennings eer Suid-Afrikaners en gesiene buitelandse burgers wat op verskeie maniere bygedra het tot die bereiking van 'n vrye, verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, welvarende en demokratiese Suid-Afrika.

9.3.  Nominasies vir die 2020 Nasionale Ordes sluit op 31 Augustus 2019 en die toekenningseremonie sal in April 2020 plaasvind. Nominasievorms is beskikbaar op die presidensie se webtuiste: www.thepresidency.gov.za. Lede van die publiek word versoek om ook 'n motivering oor die genomineerde persoon aan te heg.

B.     Sleutelbesluite

1.1  Uitbreek van Ebola-virus

Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Dr Naledi Pandor en die Minister van Gesondheid, Dr Zweli Mkhize, het die kabinet ingelig oor die uitbreek van en sterftes weens Ebola in die Demokratiese Republiek van die Kongo, asook die hoë risiko's wat dit vir nabygeleë lande inhou.

1.2.  Die siekte word van persoon tot persoon oorgedra deur direkte kontak met bloed en liggaamsvloeistowwe van mense met die siekte. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word Suid-Afrika geklassifiseer as een van die laerisikolande in Afrika.

1.3.  Die kabinet is ook ingelig oor die gereedheidstoestand om gevalle van Ebola wat in die land kan voorkom, te hanteer. Drie afsonderlike risikobeoordelings wat onderneem is, het Suid-Afrika se laerisiko-Ebolaprofielstatus bevestig aangedui. Kritieke gesondheidsgebeurlikheidsmaatreëls is in ons land geïmplementeer, soos die aanwysing van geïdentifiseerde hospitale in al ons provinsies, ingeval ons gevalle van Ebola moet hanteer. Benewens die identifisering van hospitale, sluit die gebeurlikheidsmaatreëls  ook siftingsfasiliteite in ons binnekomshawens, kommunikasie en koördinering asook aangewese laboratoriums in.

1.4.  Die kabinet bekragtig die gebeurlikheidsmaatrëëls wat getref is om te verseker dat die land effektief reageer indien die siekte bespeur word. Ons wil egter steeds die land verseker dat Suid-Afrika 'n lae Ebola-risikoland bly.

C.  Toekomstige Gebeure

1.  Nasionale Vrouedag

1.1.  Op Vrydag, 9 Augustus, vier die land Nasionale Vrouedag, wat die stryd om 'n geslagsgebaseerde geweldvrye, nierassige en nie-seksistiese land simboliseer, onder die tema "25 Jaar van Demokrasie: Groei Suid-Afrika vir Vroue-emansipasie”.

1.2.  President Ramaphosa sal die beleidsrede lewer by die Vryburg Skougronde in die Dr Ruth Segomotsi Mompati Distrik, Noordwes.

1.3.  Vrouemaand het reeds begin met die opbou van aktiverings wat op die bemagtiging en beskerming van vroue gerig is, insluitend president Ramaphosa se aanstelling van lede van die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG). Die KGG is 'n statutêre liggaam wat ingestel is om respek vir geslagsgelykheid te bevorder, asook die beskerming, ontwikkeling en bereiking van geslagsgelykheid.

1.4.  Vroue moet 'n belangrike rol speel in die ontwikkeling van die land se ekonomie, werkskepping en die opheffing van families uit armoede. Vrouebemagtiging is van sleutelbelang om die siklus van mishandeling wat ons Suid-Afrikaanse samelewing teister, te verbreek. Die kabinet doen 'n beroep op alle belanghebbers om die opheffing van vroue voorop te stel en deel te naam aan die aktiwiteite ter viering van Nasionale Vrouedag.

2.  Beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)

2.1.  President Ramaphosa sal Suid-Afrika se afvaardiging lei om op 17 en 18 Augustus 2019 aan die 39ste Beraad van Staats- en regeringshoofde van die SAOG deel te neem, wat in Tanzanië gehou gaan word.

2.2.  Tydens die beraad sal Tanzanië se president John Magufuli die voorsitterskap van die SAOG by sy Namibiese eweknie, president Hage Geingob, oorneem.

2.3.  Die SAOG Beraad sal na verwagting oor 'n wye verskeidenheid kwessies oorleg pleeg, soos die implementering van die streek se operasionele planne en prioriteitsprogramme soos industrialisasie, handel, infrastruktuurontwikkeling, vestiging van 'n streeksparlement, en konsolidasie van vrede en sekuriteit in die streek.

D.  Boodskappe

1.  Medelye

Die kabinet betuig sy medelye met die:
1.1.  mense van die Republiek van Tunisië, met die afsterwe van president Beji Caid Essebsi.
1.2.  familie en vriende van Toni Morrison, outeur en Nobelpryswenner, wat op 88-jarige ouderdom oorlede is. Die bekroonde outeur het oor vyf dekades heen die Afrika-Amerikaanse ervaring geboekstaaf in romans soos Beloved en The Bluest Eye.
1.3.  mense van Indië met die afsterwe van die Indiese veteraanpolitikus Sushma Swaraj, 67, in Nieu-Delhi. Swaraj was vanaf 2014 tot 2019 die land se Minister van Buitelandse Sake. Sy was die tweede vrou in Indië se geskiedenis om dié amp te beklee.

2.   Gelukwense en Beste Wense

Die kabinet:
2.1.  loof die 45 lede van die Working on Fire-span en hul senior bestuurders, wat byna 30 dae daaraan spandeer het om brande in die Provinsie van Alberta in Wes-Kanada te bestry. Die span is in reaksie op 'n versoek van die Kanadese Interagentskap-Veldbrandsentrum ontplooi om te help met die bestryding van die massiewe veldbrand in Chuckegg Creek, wat sedert Mei 2019 meer as 350 000 hektaar vernietig het.

2.2.  wens ons swemmers geluk, wat ons nasie trots gemaak het by die FINA Wêreldkampioenskap 2019 in Suid-Korea. Zane Waddell het goud verwerf in  die 50m-rugslag, Chad le Clos het twee bronsmedaljes losgeslaan in die 100m- en 200m-vlinderslag, en Tatjana Schoenmaker het silwer gewen in die 200m-borsslag.

2.3.  wens die Suid-Afrikaanse Onder 18-bofbalspan alles van die beste toe wanneer hulle ons vlag hoog gaan laat wapper by die Wêreldbekertoernooi in Suid-Korea vanaf 30 Augustus tot 8 September.

2.4.  wens Khanyisile Mthetwa, die talentvolle fluitspeler geluk, wat die eerste Afrikaan is om die (2019) Myrna Brown Internasionale Beurs te ontvang, wat deur die Nasionale Fluitvereniging van Amerika toegeken word.

Navrae: Ms Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore