Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 9 Desember 2015

l

1. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die ondertekening van 26 ooreenkomste ter waarde van R94 miljard, tydens die onlangse staatsbesoek deur die President van China, Xi Jinping. Die ondertekende ooreenkomste sluit in R12 miljard vir die bou van ’n motor-vervaardigingsaanleg in Suid-Afrika, ’n lening van $500 miljoen aan Eskom vir die ontwikkeling van infrastruktuur en ’n befondsingswaarborg vir Transnet van $2,5 miljard van die Chinese Ontwikkelingsbank. 

As deel van die Tweede Forum vir Samewerking tussen China en Africa (FSCA), het President Xi Jinping $60 miljard vir ontwikkeling in Afrika beloof.

Die FSCA se aanvaarding van ’n nuwe verklaring en aksieplan (2016–2018) konsolideer die groeiende wedersydse vennootskap tussen Afrika en China, wat nuwe handels- en beleggingsgeleenthede sal ontsluit en sal help om ekonomiese groei te stimuleer.

Die ekonomie het ’n verdere hupstoot gekry met die aankondiging van Suid-Afrika se BMW-groep dat hy R6 miljard in sy aanleg by Rosslyn, Pretoria, gaan belê. Dit is ‘n aanduiding van die belangrike vennootskap tussen die sakesektor en die Regering, en die rol wat dié sektor in die ontwikkeling van die ekonomie speel.

1.2. President Zuma het nasionale ordes toegeken aan Suid-Afrikaanse burgers en vooraanstaande buitelandse burgers wat tot die opheffing van die mensdom bygedra het. Die toekenning van nasionale ordes is ’n geleentheid om te besin en ’n viering van ons trots in ons mense. Dit vier ons mense se prestasies, opofferings en pogings om Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Ons bring hulde aan die ontvangers van die 2015 nasionale ordes.

1.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om water spaarsamig te gebruik. Dit is ter ondersteuning van ’n aantal maatreëls om watertekorte te verlig, wat deur die hittegolf van die afgelope paar weke vererger is. Hoewel die onlangse reën in dele van die land verligting gebring het, gaan die land steeds onder ernstige watertekorte gebuk, wat ons almal noop om water spaarsamig en verantwoordelik te gebruik.

1.4. Die Kabinet het sy waardering teenoor alle Suid-Afrikaners uitgespreek vir deelname aan vanjaar se veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, wat gister ten einde geloop het. Onlangse navorsing dui op groot getalle nuwe MIV-infeksies, veral onder jong vroue en meisies in Afrika tussen die ouderdomme van 15 en 24 jaar.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om hul aktivisme verder te voer in hul alledaagse optrede as deel van die #365 Days Campaign-veldtog van Geen Geweld teen Vroue en Kinders en die #CountMeIn-veldtog wat volgende jaar heeljaar gehou sal word.
Deur die #365 Days Campaign en #CountMeIn, moet die land lede van die gemeenskap, veral mans, mobiliseer om met die Regering saam te werk om dié euwel te bestry.
Dit is die nasie se verantwoordelikheid, individueel en gesamentlik, om die verspreiding van die virus te stuit deur na ons eie gesondheid en dié van ander om te sien.

1.5. Die Kabinet waardeer die WNNR se vordering in die ontwikkeling van ’n bio-vervaardigingsproses vir MIV-teenliggaampies.
Dit bring die gesondheidsektor ’n stap nader aan ekonomies lewensvatbare voorkomende behandeling. Terwyl die land steeds na ’n geneesmiddel vir MIV en vigs soek, word van Suid-Afrikaners verwag om veilige seks te beoefen om nuwe infeksies te voorkom en by die ABC-beginsels van onthouding, getrouheid aan een lewensmaat en die gebruik van kondome te hou (Abstain, Be faithful and Condomise).

1.6 Die Kabinet loof alle leerders, studente, onderwysers, dosente, skole en hoëronderwysinstellings vir die suksesvolle voltooiing van die akademiese jaar, ondanks verskeie uitdagings deur die jaar. Die Kabinet wens leerders wat ingestem het om eksamens uit te stel wat vir 2016 hergeskeduleer is, sterkte toe met die eksamens wat voorlê.   

1.7   Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, in samewerking met die Departement van Verdediging en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, gaan vanjaar sy sesde Nasionale Jeugkamp hou. Dit is ’n jeugontwikkelingsprogram wat daarop gemik is om gedrag en gesindhede te verander en die jeug te bemagtig oor die geleenthede wat tot hul beskikking is. Die kamp help ook met mentorskap en leer jong seuns om verantwoordelike volwasse mans te word en vroue te waardeer en te respekteer.

1.8 ’n Ooreenkoms tussen die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, en BRICS-vennote – Brasilië, Rusland, Indië en China – is daarop gemik om ’n raamwerk vir toekomstige samewerking in die onderwys te ontwikkel.
Die ooreenkoms dek algemene onderwys, opvoedkundige beleidstrategieë, kolleges vir tegniese en beroepsonderwys en opleiding (TBOO) asook hoër onderwys. TBOO-kolleges het die potensiaal om ekonomiese geleenthede vir jong mense te ontsluit en die uitdagings van werkloosheid, ongelykheid en armoede wat gemeenskappe teister, die hoof te bied.
Die ooreenkoms sal die gehalte van onderwys en opvoeding van onderwysers verbeter en verbind BRICS-universiteite daartoe om gesamentlike navorsingsprojekte te ondersteun, gesamentlike programme op nagraadse, doktorale en nadoktorale vlakke asook die gesamentlike publisering van wetenskaplike bevindings aan te moedig.

1.9  Die Departement van Wetenskap en Tegnologie het die Wetenskapforum Suid-Afrika onder die tema "stimulering van gesprekke oor wetenskap" aangebied. Meer as 45 lande het aan die debat oor die wisselwerking tussen wetenskap, tegnologie en innovering en die samelewing, spesifiek in die konteks van ontwikkeling, deelgeneem. Die forum het ook gehelp om Suid-Afrika se strategiese internasionale vennootskappe vir wetenskap, tegnologie en innovering te versterk.

1.10 Suid-Afrika gaan op die Raad van die Internasionale Maritieme Organisasie verteenwoordig word. Dit is ’n groot stap ter verwesenliking van die land en die vasteland se potensiaal in die maritieme sektor.
Die organisasie is verantwoordelik vir die aanvaarding van besluite oor globale maritieme sake, wat wissel van die oseaan-ekonomie, reddingsinisiatiewe asook sake rakende veiligheid ter see.
Deelname aan hierdie liggaam sal help om die land se maritieme potensiaal deur middel van die Blou Oseane Ekonomiese Strategie en Operasie Phakisa te ontsluit. Die programme is daarop gemik om meer as een miljoen werksgeleenthede teen 2033 te skep.

‎1.11 Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die afgelope week begin met die opgradering van die Salisbury-eiland Vlootstasie in Durban tot ’n ten volle funksionele vlootbasis. Die opgradering sal verdediging verbeter en tot die oseaan-ekonomie bydra.

1.12 Die Departement van Gesondheid, in vennootskap met Soul City en Times Media, het ’n kanaal op DStv bekend gestel, wat gemik is op gesondheid en lewenstyl, genaamd The Good Life Network. Dit is beskikbaar op DStv-kanaal 199. Die kanaal bied diverse, vermaaklike en oorspronklike plaaslik vervaardigde inhoud oor voeding, gesondheid en fiksheid, menseregte, jeugseksualiteit, MIV en TB, asook die regte van verbruikers en geslagskwessies. Die Kabinet doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om na dié programme te kyk.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1 Die Kabinet het die publisering van die Witskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) vir Suid-Afrika, vir openbare kommentaar goedgekeur. Die NGV is deel van die Regering se omvattende hervormings in die gesondheidsektor.

Die beleid is ’n voorlegging van die Regering se vermoë om mediese dienste aan almal wat sy gesondheidsgeriewe besoek te bied. Dit sal deur ’n sentrale fonds gefinansier word wat ook vir private mediese praktisyns wat aan die skema wil deelneem beskikbaar sal wees. Sodra dit gefinaliseer is, sal beleid geleidelik ingefaseer word en hoofsaaklik op gebiede wat onderbedien word fokus.

Die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, het die media oor die bekendstelling van die NGV ingelig.

2.2 Die Kabinet het die Nasionale Geïntegreerde Vroeëkinderontwikkelingsbeleid (VKO) goedgekeur.

Die beleid is in oorleg met verskeie belanghebbendes in die sektor ontwikkel. Dit het in Februarie 2015 deur ’n openbare konsulteringsproses gegaan.

Die geïntegreerde VKO-beleid sal verseker dat alle jong kinders en hul versorgers toegang tot omvattende VKO-dienste, vanaf bevrugting tot graad R het. Ingevolge die beleid word die diens na agtjariges met ontwikkelingsprobleme uitgebrei. Die beleid maak verder voorsiening vir ’n moniterings- en evalueringsraamwerk om te verseker dat dit doeltreffend aan alle kinders, ongeag ras, geslag of geloofsoortuiging gebied word.

2.3 Die Kabinet het die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede en die implementeringsmatriks goedgekeur. Dit is in lyn met die gestremdheids-inklusiewe Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, wat in September 2015  deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering goedgekeur is.

Die beleid sal integrasie en gelykheid vir persone met gestremdhede versnel.

2.4  Die Kabinet het die publisering van die Nasionale Sanitasiebeleid vir openbare kommentaar goedgekeur. Die beleid plaas mense se welstand sentraal om ontwikkeling te verseker deur ’n balans te skep tussen die toekenning van finansiële hulpbronne om beleggings vir hoër vlakke van dienslewering te ondersteun, dienste aan huishoudings wat onderbedien is te verskaf, en bestaande sanitasie-infrastruktuur in stand te hou en op te knap.

2.5 Die Kabinet keur die voorlegging aan die Parlement van Suid-Afrika se Vyfde Periodieke Verslag (2009–2014) oor die implementering van die Konvensie oor die Uitwissing van Alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue goed. Die verslag gee ’n oorsig oor die doeltreffendheid van die verskillende wette, beleid en programme wat geïmplementeer is, en beklemtoon die land se prestasies oor die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid. Die verslag erken ook dat daar volgehoue uitdagings en struikelblokke is om ongelykheid en diskriminasie in die land die hoof te bied.

2.6 Die Kabinet het die publisering van die Konsep Nasionale Aksieplan om Rassisme, Rassediskriminasie, Xenofobie en Verwante Onverdraagsaamheid te bestry, vir openbare kommentaar goedgekeur.

Die plan is ’n geïntegreerde, stelselmatige nasionale strategie gemik op die bekamping van rassisme en die bou van ’n ware nie-rassige en nie-seksistiese demokratiese Suid-Afrika.

Dit bied ’n raamwerk vir volgehoue, gekoördineerde maatreëls om die nalatenskap van rassisme en rassediskriminasie die hoof te bied.

Dit help Suid-Afrika om sy internasionale, streeks- en nasionale verpligtinge, spesifiek die Durban Verklaring en Aksieprogram, wat deur die VN op die Wêreldkonferensie teen Rassisme aanvaar is, te bereik.

2.7 Die Kabinet is ingelig oor vordering ten opsigte van die digitale migrasieprogram en die aanvang van die tussentydse tydperk, waartydens analoog- en digitale seine op 1 Februarie 2016 in Suid-Afrika sal begin.

Die migrasie van analoog- na digitale uitsendings stel die broodnodige radiofrekwensiespektrum beskikbaar wat vir mobiele breëbanddienste gebruik kan word. Dit sal mededingendheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie verbeter deur nuwe lewe in die uitsaaibedryf te blaas, die elektroniese vervaardigingsbedryf te versterk, werk te skep en meer plaaslike en diverse inhoud te ontwikkel.

2.8 Die Kabinet is ingelig oor die bevindinge van die 2014-Verslag oor die Suid-Afrikaanse Aanwysers vir Wetenskap, Tegnologie en Innovering en die tendense in die uitvoering van die Nasionale Stelsel van Innovering (NSI) wat jaarliks deur die Nasionale Adviesraad oor Innovering vrygestel word.

Die verslag gebruik kritieke aanwysers om die prestasie en bydraes van die NSI te assesseer in terme van sleutel nasionale prioriteite soos verwoord in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) en ander beleidsdokumente wat tot sosio-ekonomiese ontwikkeling bydra.

2.9 Die Kabinet het die rasionalisering van landdrosdistrikte vir Limpopo en Mpumalanga, en die aanwysing van die Lephalale Landdroshof as ’n plaaslike setel van die Limpopo-afdeling van die Hooggeregshof, as ’n tussentydse maatreël goedgekeur totdat ’n afsonderlike permanente plaaslike setel van die afdeling in die gebied opgerig word.

Die rasionalisering van landdrosdistrikte en jurisdiksiegebiede van die afdelings van die Hooggeregshof is deel van die hervorming wat daarop gemik is om die nalatenskap van ruimtelike ongeregtighede van die verlede reg te stel. Dit is ook deel van die breër transformasie-opdrag om toegang tot die regstelsel te verbeter, ooreenkomastig die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.

2.10  Die Kabinet het die verslag oor die vordering ten opsigte van die implementering van die Kabinetsvoorskrifte in Limpopo kragtens artikel 100 (1) (a) van die Grondwet goedgekeur.

Die Kabinet het die onttrekking van Artikel 100 (1) (a) teen 31 Maart 2016 in die volgende provinsiale departemente in Limpopo goedgekeur: Gesondheid, Vervoer, Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur en Tesourie.

Die Kabinet het ook die voorwaardelike onttrekking van Artikel 100 (1) (a) oor onderwys goedgekeur om die weg vir die Provinsiale Tesourie te baan om artikel 18 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet 1 van 1999), in Limpopo se Departement van Onderwys doeltreffend in werking te stel, met die ondersteuning van die nasionale Regering.

Die Kabinet het die volgende opdragte aan die premier en die LUR vir finansies en van onderwys goedgekeur:
a) Bemagtiging van die provinsiale departemente deur die werwing van bekwame personeel;
b) Finalisering van die aanstelling van personeel in senior bestuursposte; en
c) Beslissend hantering van swak leierskap en korrupsie.

2.11  Die Kabinet het dit goedgekeur dat Suid-Afrika die hoëvlak Konferensie vir Dialoog teen Dwelms vanaf 11 tot 12 Maart 2016 onder die beskerming van die Afrika-unie, aanbied.

Dit dien as ’n opvolgsessie van die Rusland-Afrika-Dialoog teen Dwelms, wat daarop gemik is om ’n gekonsolideerde posisie in die stryd teen die wêreldwye dwelmprobleem te bied. Dit sal in April 2016 by die spesiale sitting van die Algemene Vergadering ter tafel gelê word.

Die stryd teen onwettige dwelms is in lyn met die NOP en die dialoog sal ’n platform bied om die Nasionale Dwelmmeesterplan (2013–2017) verder te versterk.

2.12  Die Kabinet het goedgekeur dat die Departement van Menslike Nedersettings sal help om die konferensie "Lei Verandering in die Stad: Van Krotbuurte tot Inklusiewe, Veilige, Sterk en Volhoubare Menslike Nedersettings” in oorleg met die VN se Program vir Menslike Nedersettings in Maart 2016 aan te bied.

Die konferensie ondersteun beide die internasionale ontwikkelingsagenda en die binnelandse ontwikkelingsagenda deur Doelwit 11 van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te versterk: Maak stede en menslike nedersettings inklusief, veilig, sterk en volhoubaar.

Die konferensie maak deel uit van die bespreking oor die implementering van die post-2015-ontwikkelingsagenda en die "Nuwe Stedelike Agenda" wat die VN in 2016 sal aanvaar.

2.13    Die Kabinet het goedgekeur dat die Landbounavorsingsraad die Derde Wêreldkonferensie oor Landbounavorsing vir Ontwikkeling in April 2016 aanbied. Die konferensie sal die volgende identifiseer: internasionale prioriteite oor navorsing en innovering asook behoeftes in nasionale innoveringstelsels om toekomstige ontwikkelingsdoelwitte, veral vir gesinsboere en arm gemeenskappe, te bereik.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het die publisering van die Wetsontwerp op Mariene Ruimtelike Beplanning van 2015 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp maak voorsiening vir ’n wetlike raamwerk om die potensiaal van die oseaan-ekonomie te ontsluit deur die bevordering van koöperatiewe ruimtelike beplanning.  Die wetsontwerp sal die bestaande institusionele strukture van Operasie Phakisa ondersteun. Dit poog om samewerking en verantwoordelike bestuur van die oseane te bevorder. 

4. Komende gebeure

4.1. President Zuma sal die land se Versoeningsdagvieringe op 16 Desember in Port Elizabeth, Oos-Kaap, lei onder die tema: “Oorbrug die gaping: Bou ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse nasieskap tot ’n nasionale ontwikkelingstaat”.

4.2.  Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, dr Siyabonga Cwele, sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging van 15 tot 16 Desember 2015 by die VN Algemene Vergadering lei oor die Wêreldberaad oor die Inligtingsamelewing (WSIS) waartydens die stand van Suid-Afrika se bydrae tot die WSIS+10-buitebesprekingsdokument voorgelê sal word.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Suid-Afrika het die Sewende Africities-beraad van stede en plaaslike regerings van Afrika in Johannesburg van 29 November tot 3 Desember 2015 aangebied onder die tema: “Vorm die toekoms van Afrika met sy mense: die bydrae van Afrika se plaaslike owerhede tot agenda 2063 van die Afrika-unie”. Die beraad, wat deur 15 000 burgemeesters en 500 000 raadslede bygewoon is, is een van die mees konkrete inisiatiewe vir die bou van eenheid in Afrika.

Die beraad het gefokus op die bevordering van plaaslike regering regdeur Afrika, veral finansiële bestuur en die vestiging van ’n veilige inkomstebasis, ter bereiking van Agenda 2063 – die Afrika wat ons wil hê.

Die beraad ondersteun die doelwitte van die NOP waarin stede en plaaslike regering ’n belangrike rol in algehele ontwikkeling speel.

5.2. Die Kabinet is vol vertroue dat ’n regverdige en bindende ooreenkoms bereik sal word tydens die onderhandelings by die 21ste sessie van die Konferensie van die Partye (COP21) tot die VN se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (VNRKKV).

Klimaatsverandering is ’n wêreldwye probleem wat ’n wêreldwye oplossing vereis; dit kan net doeltreffend aangepak kan word op multilaterale vlak, onder die breëbasislegitimiteit van die VNRKKV en as alle partye ’n bydrae lewer.

In Suid-Afrika kan ons met trots sê dat ons reeds progressiewe, innoverende en proaktiewe beleid en planne het om by ’n veranderende klimaat aan te pas. Hierdie beleid word gelei deur die oorkoepelende beginsel van volhoubare ontwikkeling, die hoeksteen van Visie 2030, soos in die NOP vervat.

5.3  Aangesien hierdie die laaste kabinetsvergadering vir 2015 is, dra die Kabinet sy beste wense aan alle Suid-Afrikaners vir die komende feestyd oor. In die gees van die feestyd en in ooreenstemming met die gees van ubuntu, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om behoeftige mense en gesinne in hul gemeenskappe by te staan. Ons is ’n nasie wat na mekaar omsien, mekaar respekteer en minderbevoorregtes ondersteun. Die komende nuwe jaar bied vir ons almal die kans om ons opnuut tot ’n beter toekoms vir almal te verbind.

6. Meegevoel

6.1. Die Kabinet betuig sy innige meegevoel teenoor die familie en vriende van Mohamed Ismail ("Issy") Dinat, wat op Dinsdag 8 Desember oorlede is. Sy onbaatsugtigheid en betrokkenheid in die vryheidstryd het tot ons vryheid bygedra.

7. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike uitklarings.

7.1. Waternavorsingskommissie:
a) Dr. Nozibele Mjoli (Voorsitter);
b) Prof. Sibusiso Vil-Nkomo (Ondervoorsitter);
c) Prof. Aldo Stroebel;
d) Me. Nompumelelo Msezane;
e) Dr. Mosidi Makgae;
f) Me. Masaccha Khulekelwe Mbonambi;
g) Mnr. Mxolisi Adolphius Cassius Ndhlovu;
h) Dr. Ntombifuthi Geduld Nala; en
i) Verteenwoordiger van die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

7.2. Amatola Waterraad:
a) Me. NN Mnqeta (Voorsitter);
b) Mnr. A Hadebe (Ondervoorsitter);
c) Mnr. EV Jooste;
d) Mnr. AP le Roux;
e) Mnr. BE Hollingworth;
f) Mnr. C Mbande;
g) Me. TF Maenetja;
h) Me. M Nzimande; en
i) Prof. L Louw.

7.3. Raad van die Ombudsdiens vir Gemeenskapskemas:
a) Mnr. Vukile Mehana Charles, (heraanstelling en Voorsitter);
b) Me. Beauty Nomhle Dambuza;
c) Mnr. Bhekumusa Gorden Dlamini;
d) Taureen Dylan Holmes;
e) Rajesh Jock;
f) Oupa Moshongoane Moshebi; en
g) Nomazotsho Yvonne Memani (heraanstelling).

7.4. Raad van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap:
a) Me. Judy Hermans (Voorsitter);
b) Mnr. Zolile Ngcakani Thando (heraanstelling en Adjunkvoorsitter);
c) Me. Suraya Bibi Khan (heraanstelling);
d) Mnr. Abram Stefanus Hanekom;
e) Me. Sebenzile Matsebula;
f) Me. Mashila Matlala;
g) Mnr. Moses Mabokela Chikane (Regeringsverteenwoordiger);
h) Me. Bernice Makgoro Mannya (Regeringsverteenwoordiger);
i) Me. Thabitha Shange (Regeringsverteenwoordiger);
j) Me. Farzana Suliman Varachia (Regeringsverteenwoordiger).

7.5. Raad van Regshulp Suid-Afrika:
a) Prof. Yousuf Abdoola Vawda;
b) Mnr. Nkosana Mabhuti Francois Mvundlela;
c) Me. Thulisile Mhlungu;
d) Me. Nonhlanhla Mgadza;
e) Me. Marcella Naidoo;
f) Mnr. Matome Leseilane; en
g) Me. Adila Chowan;
h) Me. Aneline Rhoda (alternatiewe lid); en
i) Mnr. Langelihle Ezrome Mtshali (alternatiewe lid).

7.6. Uitbreiding van die dienskontrak van mnr Thabane Wiseman Zulu as die Direkteur-generaal (DG) van die Departement van Energie.

7.7. Dr. Mmaphaka Efraim Tau as Adjunk-DG: Bosbou en Natuurlikehulpbronnebestuur by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

7.8. Me. Kelebogile Sybil Sethibelo as Adjunk-DG: Institusionele Bestuur by die Departement van Kuns en Kultuur.

7.9. Mnr. Omega Shelembe as Adjunk-DG: Ondernemingsontwikkeling van Toesig in Ondernemings in Staatsbesit en Inligtingskommunikasietegnologie by die Departement van Telekommunikasie en Posdienste (DTPS).

7.10. Mnr. Edward Xolisa Makaya as Adjunk-DG: Afrika by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking.

7.11. Me. Thulisile Glory Manzini as Adjunk-DG: Administrasie by die DTPS.

Ten slotte, bedank die Kabinet  alle Suid-Afrikaners wat hul belastingopgawes ingedien het en sodoende gesorg het dat altesaam 5,94 miljoen belastingopgawes vir nie-voorlopige belastingbetalers ontvang is.

Dit is 11,52% meer as in 2014, en die nakoming van belastingbetalers wat betyds hul opgawes ingedien het, het vir die derde agtereenvolgende jaar 90% oorskry.

Hierdie hoë nakomingsyfer stel die Regering in staat om dienste wat die lewensgehalte van al sy burgers verbeter, te lewer.

Tydens die feestyd, gaan die Regering verskeie veldtogte bekend stel wat van alle Suid-Afrikaners en besoekers vereis om hul kant te bring om te verseker dat almal die feestyd in 'n veilige omgewing geniet.

Die Kabinet doen ’n beroep op almal om met die Suid-Afrikaanse Polisiediens saam te werk en enige misdadige aktiwiteite in ons huise en gemeenskappe aan te meld.

Om voorsiening te maak vir die toestroming van oorgrensreisigers, gaan alle staatsdepartemente by grensposte van 10 Desember 2015 tot 14 Januarie 2016 hul kantoorure verleng. Dit sluit in Gesondheid, Landbou, Polisie, Binnelandse Sake en die Inkomstediens. Besonderhede is beskikbaar by www.home-affairs.gov.za.

Alle padgebruikers word aangemoedig om die verkeersreëls te gehoorsaam, soos om nie spoedbeperkings te oorskry nie, te verseker dat voertuie padwaardig is, nie onder die invloed van drank te bestuur nie en om veiligheidsgordels te dra. Voetgangers word dringend versoek om te verseker dat wanneer hulle paaie gebruik, hulle nie hul eie welstand of dié van motoriste in gevaar stel nie.

Wetstoepassingsagentskappe sal geen genade toon om oortreders vas te vat nie.

Navrae: Me. Nebo Legoabe (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Sel: 082 453 2874

Share this page

Similar categories to explore