Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 16 Augustus 2017

Die Kabinet het by die Uniegebou in Pretoria vergader.

1. Kwessies in die Omgewing

1.1. Terwyl ons Vrouemaand vier, wens die Kabinet me Getrude Shope geluk met haar 92ste verjaarsdag. MmaShope, soos sy liefdevol bekend is, is 'n doyen van die bevrydingstryd, veral wat betref vroue-emansipasie. Sy is 'n ontvanger van die toekenning Isithwalandwe/Seaparankwe, die hoogste eer wat deur die ANC aan mense verleen word vir hul opoffering en voortreflike bydrae tot die bevrydingstryd.

Die Kabinet wens ook vir me Zondeni Veronica Sobukwe geluk met haar 90ste verjaardag. Suid-Afrika is 'n beter land danksy die opofferings wat vroue soos sy gemaak het.
Terwyl die land Vrouemaand vier onder die tema "Die Jaar van OR Tambo: Vroue verenig om Suid-Afrika vorentoe te beweeg", bring die Kabinet saam met alle Suid-Afrikaners hulde aan die dapper vroue wat in 1956 na die Uniegebou marsjeer het in protes teen die paswette.

In die gees van OR Tambo se stelling oor 'Blomme van die Rewolusie', herdenk ons die rol van hierdie vroue as pioniers van die vrouebeweging in ons land, en gee erkenning aan die opvatting dat wanneer jy 'n vrou bemagtig, jy die nasie bemagtig.

As 'n land het ons baie bereik op die gebied van vrouebemagtiging. Voor 1994 het die Parlement uit slegs 2,7% vroue bestaan en ná die eerste demokratiese verkiesing het vroueverteenwoordiging in die Nasionale Vergadering op 27,7% gestaan. In 1999 het die getal tot 30% gestyg en in 2004 tot 32,7%. Ná die 2009 nasionale verkiesing, het vroue verteenwoordiging 42% bereik. Altesaam 43% van die ministers in die Kabinet is tans vroue.

Vandag beklee talle vroue leierskapsposisies en daar is gevestigde regeringstrukture wat vroue se status bevorder. Die Ministerie van Vroue is ook nou in die Presidensie gesetel.

1.2. Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing het goed saamgewerk om Vrouedag te vier. Die regering se progressiewe beleid gee steeds voorkeur aan die bemagtiging van vroue, veral dié wat in landelike gebiede woon en dikwels die harde werklikheid van armoede in die gesig staar.

1.3. Terwyl ons die vordering wat ons met die emansipasie van vroue gemaak het herdenk, herinner die Kabinet die land aan ’n vroulike anti-apartheidsaktivis wat op 17 Augustus 1982 doodgemaak is. Ruth First is wreed vermoor deur 'n briefbom wat in Mosambiek aan haar gestuur is. Sy het met haar lewe geboet vir haar meedoënlose strewe na vryheid vir die mense van Suid-Afrika.

Geslagsgebaseerde Geweld

1.4. Die Kabinet voeg sy stem toe tot die veroordeling van 'n video waarin 'n skoolmeisie deur 'n manlike leerling by 'n skool in KwaZulu-Natal aangrand word en verwelkom die inhegtenisneming van die verdagte. Die onlangse moord op 'n onderwyser wat deur haar lewensmaat voor haar leerlinge geskiet is, herinner ons aan die uitdagings wat ons steeds in die gesig staar rakend die misbruik van vroue.

1.5. Die skade en gevare van patriargie, wat tot geweld teen vroue en kinders lei, moet deur ons almal as 'n samelewing beveg word. Wetstoepassers en die strafregstelsel moet ook beslissend teen die oortreders optree.

SAOG-beraad

1.6. Suid-Afrika, as inkomende voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), bied van 9 tot 20 Augustus 2017 die 37ste Gewone SAOG-beraad van Staatshoofde aan. Die tema is: ‘Vennootskappe met die private sektor in ontwikkelende nywerheids- en streekswaardekettings’.

Suid-Afrika sal sy posisie gebruik om die land se nasionale belange, soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) uiteengesit, strategies te bevorder, streeks- en kontinentale industrialisasie en integrasie te bestuur, en die toepassing van die Afrika-Unie (AU) se Afrika Agenda 2063 te bevorder. Agenda 2063 is ’n strategiese raamwerk vir die sosio-ekonomiese transformasie van die vasteland oor die volgende 50 jaar. Dit bou voort en poog om die inwerkingstelling van vorige en bestaande kontinentale inisiatiewe vir groei en volhoubare ontwikkeling te versnel.

Drie potensiële groeiweë, naamlik agroverwerking, mineraalveredeling en stroomaf-verwerkingswaardekettings, is geïdentifiseer.

Die beraad sal ook hulde bring aan uittredende President José Eduardo dos Santos van Angola. Hy tree ná 37 jaar uit as president van sy land, wat hy uit 'n langdurige burgeroorlog gelei het.

1.7. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as die SAOG-fasiliteerder vir die Koninkryk van Lesotho, sal 'n verslag voorlê aan die SAOG se Dubbele Troika-beraad, wat op 18 Augustus in Pretoria plaasvind.

Lesotho se regering sal na verwagting ook 'n hervormingsplan ter tafel lê. Dit volg op oorlegpleging tussen die Adjunkpresident en die nuwe regering, sowel as leiers van opposisiepartye, die Raad van Hoofmanne en belanghebbendes van die burgerlike samelewing in die Koninkryk. Dit sal die weg sal baan na die volledige inwerkingstelling van die SAOG se besluite oor grondwetlike en sekuriteitsektorhervormings.

1.8. Die Kabinet verwelkom die resultate wat voortspruit uit President Ellen Johnson Sirleaf van die Republiek van Liberië se staatsbesoek aan Suid-Afrika met President Jacob Zuma as gasheer. Die twee lande het ooreengekom om 'n bemagtigende omgewing te skep wat die manier waarop sake in die onderskeie lande gedoen word, sal vergemaklik. Die Kabinet moedig meer maatskappye in die private sektor aan om in Liberië te belê.

Die partye het ook ingestem om die ondertekening van 'n ooreenkoms te finaliseer waarvolgens visas vir houers van diplomatieke en amptelike paspoorte opgehef sal word. Hulle het verder ooreengekom om onder meer samesprekings en die finalisering van ander bilaterale instrumente oor landbou, toerisme, gesondheid, energie en sanitasie te bespoedig.

1.9. Die Kabinet wens die mense van Rwanda geluk met hul vreedsame verkiesing wat tot die herverkiesing van President Paul Kagame gelei het. Nog 'n suksesvolle verkiesing in Afrika is ’n duidelike teken van demokratiese vooruitgang oor die hele vasteland.

1.10. Die Kabinet wens ook saam met die AU die mense van Kenia geluk met die suksesvolle verkiesing in hulle land. Alle burgers van Kenia moet nou die verkiesingsuitslae aanvaar en saamwerk om nasionale eenheid in die land te weeg te bring.

BRICS

1.11. President Zuma sal vandag, 17 Augustus 2017, voorsit tydens die amptelike bekendstelling van die Afrika-streeksentrum van die BRICS-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) se Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB), wat by die Michelangelo Hotel in Sandton plaasvind. Die bekendstelling van die Afrika-streeksentrum sal die NDB se diensaanbod bevorder en die potensiële rol wat die bank op die gebied van infrastruktuur en volhoubare ontwikkeling in ontluikende en ontwikkelende lande kan speel, beklemtoon.

1.12. Suid-Afrika is een van die BRICS-lande wat tydens 'n vergadering van die organisasie se ministers van nywerheid in Hangzhou, China, 'n sewepunt-aksieplan goedgekeur het, wat daarop gerig is om nywerheidsamewerking uit te brei. Hierdie lande sal ook saamwerk op gebiede soos die ontwikkeling van nuwe nywerheidsinfrastruktuur, tegnologie en -innovasie en klein en medium-grootte ondernemings.
1.13. Ministers van kommunikasie van die BRICS-lande het ook aan 'n tafelrondebespreking deelgeneem wat tot die publikasie van 'n ministeriële verklaring oor inligtingstegnologie gelei het. Hiervolgens sal BRICS-lande samewerking oor inligtingsekuriteit versterk aangesien digitale kommunikasietegnologie 'n toenemend belangrike rol in die bestuur van ekonomiese groei speel.

1.14. Die Kabinet bedank die voormalige goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, mnr. Tito Mboweni, vir sy professionaliteit en toewyding gedurende die twee jaar wat hy as nie-uitvoerende direkteur van die BRICS-NDB gedien het. Die Direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, mnr. Dondo Mogajane, sal by hom oorneem.

Maatskaplike Samehorigheid
1.15. Die Kabinet veroordeel onlangse rassistiese optrede deur sommige individue in ons samelewing. Sulke gedrag druis in teen die etos van ons grondwetlike regte, verantwoordelikhede en waardes en het geen plek in ons demokratiese samelewing nie.

Die Kabinet prys die bestuur van private maatskappye wat vinnig teen insidente van rassisme opgetree het. Rassisme is 'n plaag in ons samelewing wat deurentyd beveg moet word in die strewe na maatskaplike samehorigheid en om die pyn van die verlede te genees.

Ons het almal 'n verantwoordelikheid om daadwerklik op te tree wanneer rassisme en diskriminasie binne ons samelewing voorkom. Dit is elkeen se plig om ’n bydrae te maak tot die bou van 'n nuwe nasie soos ná die eerste demokratiese verkiesings in die vooruitsig gestel is.

1.16. Die Kabinet het sy kommer uitgespreek oor werksverliese in die land, veral in die kleinhandel- en mynbousektor. Die Kabinet verwelkom egter pogings deur die mynbousektor om gesprek te voer oor maniere om werksgeleenthede te behou. Die onlangse goedkeuring van Lonmin se aansoek om Anglo Platinum se aandeel van 42,5% in Pandora - 'n gesamentlike onderneming tussen Lonmin en Anglo Platinum - te verkry word verwelkom.

Hierdie gesamentlike onderneming, wat reeds meer as 3 000 werksgeleenthede gered het, bring verligting veral in die heersende wêreldwye ekonomiese klimaat. Die regering bly daartoe verbind om 'n omgewing te skep wat bevorderlik is vir ekonomiese groei en werkskepping.

1.17. Die Kabinet verwelkom die hofuitspraak wat bevestig dat die regering die reg het om beleidsbesluite te maak en opdragte te gee deur die aansoek van die Metal Recyclers Association of South Africa met koste van die hand te wys. Die Konstitusionele Hof het 'n aansoek, wat deur plaaslike uitvoerders van skrootmetaal ingedien is vir verlof om appèl aan te teken teen die uitspraak van die Hooggeregshof van Suid-Afrika en die Hoogste Hof van Appèl, van die hand gewys.

Die hof het die staat se uitvoerbepalings vir skrootmetaal, bekend as prysvoorkeur, vir huishoudelike gieterye, mini-meulens en sekondêre skrootmetaalsmelters bekragtig. Dit maak voorsiening vir 'n prys wat met 20% teen internasionale pryse verdiskonteer word voordat dit vir 'n uitvoerpermit kwalifiseer. Hierdie beleid sal help om die land se ekonomie te herontwikkel en werk te skep.

1.18. Die Kabinet verwelkom die Kanadese regering se onderneming om met Suid-Afrika saam te werk op die gebied van grensbestuur. Dit volg op die Minister van Binnelandse Sake, prof Hlengiwe Mkhize se vergadering vandeesweek met haar Kanadese eweknie, die Minister van Immigrasie, Vlugtelinge en Burgers, mnr. Ahmed Hussen. Hierdie ooreenkoms sal die bestaande verhouding tussen die twee lande verder versterk.

2. Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet keur die Mandaatverslag vir die 2018-begroting goed. Dit sal die inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan versnel. Die mandaat sal belyning van die begroting met die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk verstewig. Sodoende sal 'n stelselmatige grondslag gevestig word waarvolgens keuses gemaak kan word tussen mededingende prioriteite binne beperkte hulpbronne. Die Minister in die Presidensie, mnr Jeff Radebe, sal later 'n media-inligtingsessie hou.

2.2. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Implementeringsplan vir Kus- en Mariene Toerisme, wat onder beskerming van Operasie Phakisa se oseaan-ekonomie ontwikkel is. Die plan sal toerisme in die oseaan-ekonomie ’n hupstoot gee. Dit sal 'n wêreldklas en volhoubare kus- en mariene toerismebestemming bevorder, wat Suid-Afrika se mededingendheid ten opsigte van natuur, kultuur en erfenis sal verbeter. Die Minister van Toerisme, me. Tokozile Xasa, sal 'n media-inligtingsessie hou om hierdie plan uiteen te sit.

2.3.  Die Kabinet keur Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Internasionale Indiese Oseaan-ekspedisie vir 2017–2020 goed. Die deelname sal Suid-Afrika se voorsitterskap van die Indiese Oseaan-randvereniging in 2017/18 ondersteun.

Suid-Afrika sal sy navorsingskip SA Agulhas II gebruik om mariene navorsing te doen, terwyl daar terselfdertyd opleiding verskaf sal word om die wetenskaplike kapasiteit vir Suid- en Oos-Afrika te verbeter.

Die insamel van basiese langtermynomgewingsdata en -inligting sal die ontwikkelende lande van die Indiese Oseaan-rand in 'n beter posisie plaas om die integriteit van die oseaan te bewaar. Dit sal hulle ook help om maniere te vind om hul onderskeie potensiële oseaan-ekonomieë te ontsluit en die lewens van hul burgers te verbeter.

2.4.  Die Kabinet neem kennis van die Phakisa Labs-inisiatief vir die Chemikalieë- en Afvalekonomie, wat na verwagting in Augustus 2017 sal begin. Dit vorm deel van die land se ingryping om die bedreigings vir die omgewing en menslike gesondheid wat deur chemikalieë en afval veroorsaak word, te bestuur.

Dit sal 'n verdere geleentheid vir die Suid-Afrikaanse chemiese nywerheid bied om vervaardigingsnisse te identifiseer wat verband hou met Groen Chemie (die ontwerp van chemiese produkte en prosesse wat die produksie van gevaarlike stowwe verminder of elimineer).

2.5.  Die Kabinet is ingelig oor 'n aantal versoeke vir die herbepaling van die provinsiale grense van gemeenskappe in verskillende provinsies. Onder die gebiede wat geraak word is Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit, Marble Hall Plaaslike Munisipaliteit en Matatiele Plaaslike Munisipaliteit.

Hierdie gemeenskappe het verskeie redes vir hul versoeke vermeld, soos die geografiese ligging en toegang tot dienste. Die versoeke is deur die Munisipale Afbakeningsraad en die Departement van Korporatiewe Bestuur ontvang.

Daar word in die Grondwet voorsiening gemaak vir provinsiale grense. Enige oorweging van sodanige versoeke moet binne die grondwetlike raamwerk geskied.
Die Kabinet het ingestem dat 'n proses vir die herbepaling van grense, wat Matatiele insluit, aan die gang gesit moet word. Hierdie parlementêre proses sal ook openbare deelname insluit soos deur die Grondwet en die wet vereis word.

3. Toekomstige Gebeure

3.1.  Die Kabinet beklemtoon President Zuma se oproep wat lede van die publiek aanmoedig om verdienstelike mense uit alle vlakke van die samelewing te nomineer vir die land se hoogste eerbewyse, die Nasionale Ordes.

Die seremonie vereer Suid-Afrikaners en vooraanstaande buitelandse burgers wat op verskeie gebiede uitgeblink het.

Nominasievorms is beskikbaar op die Presidensiële webwerf (www.thepresidency.gov.za), asook by Thusong Dienssentrums, munisipale kantore en kiesafdelingskantore. 'n Kort motivering oor die genomineerde persoon moet aangeheg word. Die nominasies vir die 2018 Nasionale Ordes sluit op 31 Augustus 2017.

3.2.  Die Departement van Wetenskap en Tegnologie sal die 2017 Toekennings vir Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap aanbied. Die toekennings erken die prestasies van uitnemende wetenskaplikes en skep 'n platform om vroue- wetenskaplikes wat navorsing doen te motiveer.

Die wetenskaptoekennings sal onder die tema: ‘Vroue se ekonomiese bemagtiging in die veranderende wêreld van werk’ aangebied word. Dit is in lyn met die Verenigde Nasies se Kommissie oor die Status van Vroue as ’n prioriteitstema vir 2017.

3.3.  Die Kabinet bedank die lede van die Vyfde Nasionale Huis van Tradisionele Leiers (NHTL) wie se termyn tot 'n einde kom. Die NHTL is 'n liggaam wat saamgestel is uit tradisionele leiers wat afgevaardigdes is van die provinsiale huise van tradisionele leiers van Suid-Afrika en die provinsiale huise op nasionale vlak verteenwoordig. Die groep bestaan uit beide uitgaande lede van die NHTL en lede wat herverkies is om vir nog 'n kwartaal te dien. Hulle verteenwoordig tradisionele leierskap en hul gemeenskappe en bevorder die rol van tradisionele leierskap binne die grondwetlike bedeling.

Die Kabinet bedank saam met President Zuma vir Koning PP Maubane (Voorsitter), Koning SE Mahlangu (Ondervoorsitter) en al die lede van die Huis. Die Kabinet verwelkom die nuwe lede van die sesde NHTL, asook dié van die sewe provinsiale huise.

4. Boodskappe

4.1. Die Kabinet wens me Senamile Masango geluk dat sy die eerste vrou uit Afrika is wat die eerste Afrika-geleide eksperiment by die Europese Organisasie se Laboratorium vir Kernnavorsing (CERN) in Switserland uitgevoer het. Sy was deel van 'n groep studentenavorsers van die Universiteit van Wes-Kaapland wat die isotoop selenium-70 bestudeer het om beter te verstaan hoe sy kernvorm verband hou met sy energievlakke.

4.2.  Die Kabinet wens die organisasie Mense Teen Vrouemisbruik (POWA) geluk met 'n App wat hulle ontwikkel het om oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld in nood of dreigende gevaar te help met toegang tot geïntegreerde en gekoördineerde dienste. Met 'n skakel na die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Bevelsentrum, kan die App aan ander dienste verbind word, soos die polisie en maatskaplike werkers, wat die plek waar die boodskap ontstaan, kan identifiseer.

Deur 'n paniekknoppie op die selfoon te druk, sal 'n slagoffer aan die Bevelsentrum gekoppel word. Hierdie samewerking tussen regerings- en nie-regeringsorganisasies lewer ’n groot bydrae tot die bestryding van mishandeling.

4.3.  Die Kabinet wens lede van die Suid-Afrikaanse span geluk met hul uitstekende prestasies op die atletiekbaan en in velditems by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se wêreldkampioenskappe in Londen.

Caster Semenya, wat goud in die 800m en brons in die 1 500m vir vroue verower het, het in die proses ook haar persoonlike beste rekord gebreek. Semenya het die land trots gemaak en getoon dat sy ondanks negatiwiteit, sterk en veerkragtig bly. Sy volg in die voetspore van Zola Budd, asook die swemmers Natalie du Toit en Penny Heyns. Wayde van Niekerk het goud in die 400m vir mans en silwer in die 200m gewen. 'n Spesiale woord van dank gaan aan sy afrigter, me Anna Botha. Luvo Manyonga het ’n goue medalje gewen met sy sprong van 8,34m in die verspringfinaal vir mans. Ruswahl Samaai het brons in die verspring vir mans gewen en Akani Simbine het vyfde plek in die 100m finaal vir mans behaal.

Hul vertonings, wat die sportvaardigheid van ons nasie beklemtoon het, is 'n inspirasie en motivering vir alle Suid-Afrikaners, veral vir jong ontluikende atlete.

Hierdie atlete het ons nasie trots gemaak en ons landsvlag hoog laat wapper. Ons doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om voort te gaan om al ons nasionale spanne, sowel as ons sportlui, te ondersteun. Hulle is 'n verpersoonliking van ons nasie, en ons het geen twyfel dat hulle ander jongmense sal inspireer om in hul voetspore te volg nie.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
5.1.  Mnr AD Matseke as Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Broadband Infraco, met ingang van 1 September 2017 tot 30 Augustus 2022.
5.2.  Verlenging van die vastetermynkontrak van die huidige HUB van Broadband Infraco, me PV Kwele, met drie maande vanaf 1 September tot 30 November 2017.
5.3.  Heraanstelling van mnr. Ian van Niekerk as Hoof Finansiële Beampte van Broadband Infraco.
5.4.  Dr Moshibudi Priscilla Rampedi as HUB van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut.
5.5.  Me IL Mathenjwa as Adjunk Direkteur-Generaal (ADG): Monitering en Evaluering in die Kantoor van die Staatsdienskommissie.
5.6.  Me Wilhemina Reshoketswe Tshabalala as ADG: Sosiale Transformasie en Ekonomiese Transformasie in die Departement van Vroue.
5.7.  Mnr Matome Emmanuel Malatsi as ADG: Integriteit en Anti-Korrupsie in die Kantoor van die Staatsdienskommissie.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-Generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore