Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 6 April 2021

A.    Kwessies in die Omgewing

1.    Vierde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie (SABK)

1.1.    Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afloop van die 4e SABK wat op Donderdag, 24 Maart 2022 by die Sandton konferensie-sentrum in Johannesburg aangebied is, waartydens plaaslike en internasionale beleggers nuwe verbintenisse tot belegging in ons land onderneem het. 
1.2.    Ons land het 80 nuwe verbintenisse tot belegging ter waarde van R332 miljard ontvang. Dit bring die totale beleggings waartoe verbind is tot R1.14 triljoen, wat nie net 95 persent van ons beleggingsteiken verteenwoordig nie, maar ons ook stewig op koers hou om ons beleggingsteiken van R1.2 triljoen oor vyf jaar te oorskry.
1.3.    Hierdie verbintenisse tot belegging bevestig ons land se status as ʼn voorkeurbeleggingsbestemming.
1.4.    Tot dusver is R316 miljard van hierdie verbintenisse tot belegging belê in 46 voltooide projekte en ʼn verdere 57 projekte wat steeds onder konstruksie is. Die Kabinet neem kennis van die sukses van vorige verbintenisse tot belegging soos vermeld tydens die konferensie, wat onder meer nuwe produksiekapasiteit in diverse sektore soos voertuie, voedselproduksie, farmaseutiese produksie en digitale sentrums ingesluit het. 
1.5.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle dele van die samelewing om hierdie kritiese ingrypings te ondersteun as deel van ons gesamentlike poging om ons werkloosheidskoers om te swaai. Die werkloosheidskoers het gestyg tot 35.3 persent, volgens die Kwartaallikse Arbeidsmagopname wat onlangs deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is. 

2.    Beëindiging van die Nasionale Ramptoestand 

2.1.    Die Kabinet verwelkom ook die beëindiging van die Nasionale Ramptoestand wat deur President Cyril Ramaphosa aangekondig is op Maandag, 4 April 2022. Hierdie mylpaal is moontlik gemaak deur die deursettingsvermoë van die mense van Suid-Afrika wat alle koronavirussiekte-veiligheidsmaatreëls nagekom het wat deur die regering daargestel is om lewens en lewensbestane te red. 
2.2.    Die pandemie sal voortaan bestuur word ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid, 2003 (Wet 61 van 2003). Die konsep gesondheidsregulasies wat die Wet op Nasionale Gesondheid, 2003 sal lei, is bekendgemaak vir publieke kommentaar tot 16 April 2022. 
2.3.    Die Kabinet herinner alle mense in die land om steeds voort te gaan om die nodige voorkomingsmaatreëls te volg om onsself en diegene te beskerm teen KOVID-19-infeksies. Dit sluit in die gereelde was van hande met seep en water of ʼn 70% alkohol-gebaseerde saniteerder, die dra van maskers wat beide die mond en neus bedek in binnenshuise ruimtes, die handhaaf van ʼn veilige afstand van minstens een meter, die oopmaak van vensters vir ventilasie, en deur ingeënt te word. 
2.4.    KOVID-19-inentings is doeltreffend om ernstige ongesteldheid, hospitalisering en sterfte te verhoed. Beskerm jouself en jou geliefdes deur jou naaste inentingspunt sonder ʼn afspraak te besoek om verniet ingeënt te word. 

3.    Migrasie na digitale uitsending

3.1.    Die uitstel van die analoog-afskakeldatum van 31 Maart 2022 tot 30 Junie 2022 verskaf genoegsame tyd aan die regering vir die voltooïng van die installering van staatsgesubsidieerde dekodeerders vir huishoudings wat betyds geregistreer het en kwalifiseer om hierdie dekodeerders voor die analoog-afskakeling te ontvang. 
3.2.    Die departement van kommunikasie en digitale tegnologie sal verseker dat al 507 251 huishoudings wat teen 31 Oktober 2021 geregistreer het, nie later nie as 30 Junie 2022 gekonnekteer is. Die 260 868 huishoudings wat tussen 31 Oktober 2021 and 10 Maart 2022 geregistreer het, sal teen 30 September 2022 gekonnekteer wees.
3.3.    Die Kabinet is vol vertroue dat die voltooïng van die proses as ondersteuning sal dien vir die digitale migrasie-proses en die gevolglike vrystelling van die hoë-frekwensie spektrum.

4.    Stryd teen misdaad en korrupsie 

4.1.    Die Kabinet wens die land se nuwe kommissaris van polisie, genl. Sehlahle Fannie Masemola, geluk na aanleiding van sy aanstelling deur President Ramaphosa. Genl. Masemola het ʼn uitnemende rekord van prestasie in polisiëring regoor Suid-Afrika. 
4.2.    Die Kabinet verwelkom die preserveringsbevele wat deur die Gautengse hooggeregshof aan die bateverbeuringseenheid van die Nasionale Vervolgingsowerheid (NVO) toegestaan is teen diegene wat betrokke was in die “finansiering” van die aankoop van die Optimum-steenkoolmyn vir R2.1 miljard deur die Gupta-besitte Tegeta Exploration and Resources-maatskappy in 2016. 
4.3.    Die uitsprake, wat die doeltreffende gekoördineerde benadering van die NVO en die prioriteitsmisdaaddirektoraat van die Suid-Afrikaanse Polisiediens demonstreer, stuur ʼn sterk boodskap oor die groeiende kapasiteit van die regering om korte mette te maak van staatskaping en te verseker dat diegene wat daarin betrokke is, tot verantwoording te bring – en gesteelde geld terug te kry en terug te gee. 
4.4.    As deel daarvan om diegene betrokke met korrupsie verantwoordbaar te hou, verwelkom die Kabinet ook die uitspraak van die Palm Ridge-gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Gauteng teen ʼn voormalige finansiële kontrolleerder van Eskom vir die bedrog van R35 miljoen teen die energieverskaffer deur vals fakture vir die vervoer van steenkool te verwerk. Die inisiatiewe om gesteelde geld terug te kry word ook verwelkom. 
4.5.    As ʼn belangrike mylpaal in ons nasie se stryd teen korrupsie, verwelkom die Kabinet die oorhandiging van die vierde deel van die Regterlike Kommissie van Ondersoek na Staatskaping se verslag. President Ramaphosa sal ingrypings om die kommissie se aanbevelings te implementeer aan die Parlement voorlê wanneer hy die volle verslag teen 30 Junie 2022 oorhandig. 

5.    Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Spesiale Troika-Spitskonferensie 

5.1.    Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die SAOG se Spesiale Troika-Spitsberaad wat op Maandag 4 April 2022 en Dinsdag, 5 April in Pretoria plaasgevind het. Suid-Afrika was die gasheer as deel van sy rol as voorsitter van die SAOG-ligaam vir politiek, verdediging en sekuriteits-samewerking. Die land se dienstydperk duur van Augustus 2021 to Augustus 2022.
5.2.    Die spitsberaad het onder meer die SAOG-missie in Mosambiek se vorderingsverslag ontvang. Die SAOG-missie in Mosambiek is ontplooi ter ondersteuning van Mosambiek se stryd teen terrorisme en dade van geweldadige ekstremisme. 

6.    Ekonomie 

6.1.    Die Kabinet verwelkom die kredietgradeerder, Moody’s se opgradering van hul beskouing van Suid-Afrika vanaf negatief tot stabiel, en die besluit om Suid-Afrika se langtermyn-skuldgradering in buitelandse en plaaslike geldeenhede as ‘Ba2’ te bevestig. 
6.2.    Die opgradering bevestig die regering se werk om die volhoubaarheid van die land se publieke finansies te herstel, wat gesteun word deur beter-as-verwagte inkomste-invordering.
6.3.    Inkomste-opbrengs vir die tydperk April 2021 tot Maart 2022 toon dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens meer as R1.5 triljoen ingevorder het. Dit verteenwoordig ʼn verbetering van 25 persent teenoor die vorige jaar en ʼn styging van 15 persent teenoor die laaste jaar voor die KOVID-19-pandemie.
6.4.    Die regering gebruik die ekstra inkomste om skuldstabilisering te versnel en dringende maatskaplike nood aan te spreek, werkskepping te bevorder by wyse van die Presidensiële jeugindiensnemingsinisiatief, en steun te verskaf aan die openbare sektor.

7.    Vryheidsmaand

7.1.    Suid-Afrika vier vanjaar Vryheidsmaand in April, met hernude hoop vir ʼn beter toekoms, nadat ons twee somber jare onder die wêreldwye KOVID-19-pandemie verduur het. Die jaarlikse Vryheidsdag sal op Woensdag, 27 April 2022 herdenk word. 
7.2.    Vryheidsmaand herdenk en eer almal wat opofferings gemaak het om dit moontlik te maak dat ons die menseregte en vryhede wat in ons wêreldbekroonde Grondwet vervat is, kan waardeer. 
7.3.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk in ons stryd om die impak van KOVID-19 te oorkom. Ons moet almal ons deel bring om ons ekonomie te herstel as deel van die ekonomiese herstel- en heropbouplan en meer besighede op die been te bring en sodoende meer werke te skep. 

8.    Heilige Maand van Ramadan 

8.1.    Die Kabinet wens Suid-Afrika se Moslem-gemeenskap ʼn geseënde Heilige Maand van Ramadan toe. Ramadan word jaarliks regoor die wêreld gedenk deur gebed, vaste en liefdadigheid. Die Moslem-gemeenskap is ʼn integrale deel van ons nasionale diversiteit en ons nasionale karakter.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Konsep Nasionale Geïntegreerde Kleinsake-ontwikkeling (NISED) Meesterplan 

1.1.    Die Kabinet keur die publikasie van die konsep NISED goed vir publike kommentaar. Die aanvanklike Geïntegreerde Strategie vir Entrepreneurskap en Kleinsake-ondernemings is in 2005 aanvaar. Dié strategie en die latere NISED bekragtig die 1995 Witskrif oor Nasionale Strategie op die Ontwikkeling en Bevordering van Kleinsakeondernemings in Suid-Afrika. 
1.2.    Sodra dit aanvaar is, sal die NISED die huidige Geïntegreerde Strategie vir Entrepreneurskap en Kleinsake-ondernemings vervang. Dit sal ʼn koördineringsraamwerk aan alle sleutelrolspelers in die ekosisteem van kleinsake-ontwikkeling bied. Dit lei ook die koördineringsmeganisme wat leiding sal gee aan alle programme wat steun verleen aan kleinsake-ondernemings. 
1.3.    Hierdie strategie streef daarna om die deelname van kleinsake-ondernemings in die formele ekonomie aan te moedig, burokratiese rompslomp uit te skakel en dit makliker maak om handelk te dryf, veral vir klein entrepreneurs. 
1.4.    Die NISED is die eindproduk van breedvoerige konsultasie met die betrokke departemente van die nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van die regering, handel, arbeid, akademikuste en verskeie relevante instellings. 

2.    Inlywing van die Agentskap vir die Finansiering van Kleinsake (Sefa) en die Ontwikkelingsagentskap vir Koöperatiewe Banke (CBDA) in die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap (Seda) 

2.1.    Die Kabinet het die 20-maand verlengingstydperk vir die samesmelting van die twee entiteite, die Sefa en die CBDA, na die Seda goedgekeur. Die samesmelting was aanvanklik verwag om van krag te wees vanaf 1 April 2022. Dít na die Kabinet die samesmeltings goedgekeur het om te verseker dat die regering ʼn enkele entiteit verskaf wat die regerings se werksaamhede in die steun van klein- tot mediumsake-indernemings en koöperasies sal ondersteun. 
2.2.    Die goedkeuring van die verlengingstydperk sal die departement van kleinsake-ontwikkeling die geleentheid gee om die regterlike hersiening te finaliseer om sodoende ʼn gepaste wetgewings- en beleidsomgewing te verskaf wat die vorming van die enkele entiteit – Seda – moontlik sal maak. ʼn Enkele entiteit met ʼn wye verskeidenheid hulpbronne tot sy beskikking sal meer vaartbelynde steun aan klein- tot mediumsake-indernemings en koöperasies kan lewer. Die Kabinet het ook die aanstelling van die interim-direksies van die Sefa en die Seda goedgekeur. 

3.    Regulasies met betrekking tot die beskerming, bevordering, ontwikkeling en bestuur van inheemse kennis (IK-regulasies) 

3.1.    Die Kabinet keur die publikasie van die IK-regulasies goed vir publike kommentaar. Die IK-regulasies sal die implementering van die Wet op die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis, 2019 (Wet 6 van 2019) bekragtig.
3.2.    Die Wet het die beskerming, bevordering, ontwikkeling en bestuur van inheemse kennis ten doel. Dit voorsien vir die vestiging van nasionale IK-stelsels en die bestuur van die regte van die inheemse kennis van gemeenskappe. Dit voorsien ook vir die totstandkoming van ʼn adviespaneel, erkenning vir voorgaande kunde en kennis, en die fasilitering en koördinering van IK.
3.3.    Die voorgestelde regulasies sal onder meer aan die volgende aandag gee: die opstel van die adviespaneel, akkreditasieprosesse, registrasie van vaardighede van IK-praktisyns, hoe om IK te gebruik en toegang daartoe te verkry, en die bewaring van IK-registers. Die regulasies voorsien ook vir dispuut-oplossingsmeganismes. 
3.4.    Die regulasies sal in die Staatskoerant gepubliseer word en sal ook beskikbaar wees op die departement van wetenskap en innovering se webwerf: www.dsi.gov.za. Dit sal beskikbaar wees in alle amptelike landstale. 

4.    Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelings en Samewerkingsraamwerk (UNSDCF) 2020-2025 

4.1.    Die Kabinet het Suid-Afrika se UNSDCF 2020-2025 vir implementering goedgekeur. 
Die raamwerk dien as ʼn verantwoordbaarsvennootskap tussen die regering, die breër samelewing en die VN se kantoor in Suid-Afrika. 
4.2.    Die UNSDCF onderskryf vier breë strategiese pilare om die volgende te dek: (1) inklusiewe, geregtige en volhoubare groei; (2) menslike kapitaal en maatskaplike transformasie; (3) doeltreffende, bekwame en transformerende bestuur; en (4) klimaatveerkragtigheid en natuurlike hulpbronne wat volhoubaar bestuur word. 
4.3.    Hierdie strategiese pilare skakel ineen met die land se Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030 en die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk, asook met die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte wat deur die VN-kantoor in Suid-Afrika aangedryf word. Die implementering sal plaasvind via ʼn gesamentlike mobiliseringstrategie. 

5.    Nasionhale Ingryping in die Mangaung metropolitaanse and Enoch Mgijima plaaslike munisipaliteite

5.1.    Die Kabinet het die ingryping goedgekeur ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet, saamgelees met artikel 150 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 (Wet 56 van 2003), in die Mangaung metropolitaanse and Enoch Mgijima plaaslike munisipaliteite. Beide munisipaliteite het noemenswaardige finansiële en diensleweringsmislukkings vir ʼn geruimde tyd ervaar. 
5.2.    Die Vrystaatse provinsiële uitvoerende gesag het die Mangaung metropolitaanse munisipaliteit in Desember 2019 onder ʼn verpligte ingryping geplaas ingevolge artikel 139(5) (a) en (c) van die Grondwet. ʼn Verpligte finansiële herstelplan is gevolglik in 2020 op die munisipaliteit geïmponeer. Nadat die metro vir twee jaar lank daarin misluk het om die herstelplan te implementeer, is die metro nou onder ʼn nasionale ingryping geplaas ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet.
5.3.    Die Enoch Mgijima plaaslike munisipaliteit is ook onder ʼn verpligte ingryping geplaas in 2018 deur die Oos-Kaapse provinsiale uitvoerende gesag, ingevolge artikel 139(5) (a) van die Grondwet. Nadat die munisipaliteit daarin misluk het om vordering te maak in die verbetering van finansiële en diensleweringsverrigting, het die Kabinet egter besluit om hierdie munisipaliteit ook onder ʼn nasionale ingryping te plaas.
5.4.    Die aanroeping van ʼn nasionale ingryping ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet impliseer dat die nasionale regering nou in beide munisipaliteite sal intree, in plaas van die provinsiale uitvoerende gesag. Hierdie soort ingryping in verpligtend en volg dieselfde prosedures as artikel 139(5) van die Grondwet, behalwe dat die nasionale regering nou direkte verantwoordelikheid neem vir hierdie ingrypings. 
5.5.    Om gevolg te gee aan die aanvaarding van verantwoordelikheid, sal nasionale kabinetsverteenwoordigers binnekort na beide munisipaliteite ontplooi word. Die minister van finansies sal gesag delegeer aan hierdie kabinetsverteenwoordigers en hulle sal verder deur ʼn multidissiplinêre span deskundiges ondersteun word. Geen besluit is tot dusver geneem om die munisipale raad te ontbind ingevolge artikel 139(5)(b) van die Grondwet nie.
5.6.    Die nasionale ingryping sal van krag wees nadat dit amptelik in die Staatskoerant gepubliseer is; die huidige ingryping luidens artikel 139(5) sal tot dan van krag wees. Die ingryping luidens artikel 139(1) betreffende die Enoch Mgijima plaaslike munisipaliteit sal ook vervang word deur ingrypings luidens artikel 139 (5) (a) en (c), wat ook die mislukking van die munisipaliteit om sy uitvoerende pligte en verantwoordelikhede te vervul, sal aanspreek. Die minister in die Presidensie, mnr. Mondli Gungubele, sal – in samewerking met die minister van finansies, mnr. Enoch Godongwana en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini Zuma – ʼn persverklaring uitreik om die nasionale ingryping te omskryf.

C.    Toekomstige Gebeure

1.    Distriksontwikkelingsmodel (DDM) Presidensiële Imbizo

1.1.    President Ramaphosa sal op Vrydag, 8 April 2022 en Saterdag, 9 April 2022 ʼn DDM Presidensiële Imbizo hou by die Petrus Molemela-sportkompleks in Mangaung in die Vrystaat.
1.2.    Die Imbizo, wat plaasvind onder die tema: “Laat niemand agter nie”, sal die vlak van dienslewering in die provinsie in oënskou neem, die vordering van die DDM volg, en toesig hou oor ingrypings en planne van kernbelang.
1.3.    Die DDM Presidensiële Imbizo is ʼn belangrike platform vir publieke deelname omdat dit aan burgers ʼn stem verleen en die President die geleentheid gee om na die mense te luister en ag te slaan op die dinge wat hulle kwel. Suid-Afrikaners kan op sosiale media hierdie gesprekvoering volg en daaraan deelneem onder die hutsmerk #PresidentialImbizo.

D.    Gelukwensings

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan die: 

  • Mnr. Nkosinathi Maphumulo, beter bekend as DJ Black Coffee, wat onlangs sy eerste Grammy-toekenning gewen het in die kategorie “Beste Dans-/Elektroniese Album” vir sy album Subconsciously by die 64e-toekenningseremonie wat plaasgevind het in Las Vegas in die Verenigde State.

E.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.    Mnr. Mpumelelo Tyikwe as hoof uitvoerende beampte en uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risiko-versekeringsvereniging.

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Sel: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore