Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 5 Julie 2023

A.    Kwessies in die omgewing
1.    Energie

1.1    Die Kabinet verwelkom die verbetering in Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor, wat nou nader aan 70% is. Sowat 400 megawatt (MW) is by die netwerk gevoeg en beplande instandhouding het binne ’n kort tydjie verbeter.
1.2    Die Kabinet het ook kennis geneem van die besluit deur die Department van Bosbou, Visserye en die Omgewing se Nasionale Luggehaltebeampte om Eskom uitstel te gee om aan die minimum emissiestandaarde by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga te voldoen, onderhewig aan sekere streng voorwaardes.
1.3    Die uitstel sal Eskom in staat stel om herstelwerk te doen aan die skoorsteenpyp wat op 23 Oktober 2022 beskadig is. Die kragvoorsiener sal ook drie tydelike skoorsteenpype bou, wat na verwagting 2100 MW krag na die nasionale netwerk sal terugbesorg en beurtkrag met twee vlakke sal verminder.
1.4    Die Kabinet het beklemtoon dat die regering tot die Just Energy Transition (JET) -oorgangstydperk verbind is en vasbeslote is om die uitwerking van klimaatsverandering te verlig. Die JET-oorgangstydperk, wat in 2020 van stapel gestuur is, beoog om ’n vlak van “net zero” koolstofvrystelling teen 2050 te bereik.
1.5    Die Kabinet het Suid-Afrikaners wat elektrisiteit, veral tydens spitstye, spaarsaam gebruik, bedank. Ons gesamentlike energiepogings het gehelp om laer fases van beurtkrag te weeg te bring. 
1.6    Die Kabinet verwelkom verder die verbintenisse wat gemaak is by die Nuwe Globale Finansieringsverbondberaad, wat van 22 tot 23 Junie 2023 in Parys, Frankryk gehou is. President Cyril Ramaphosa het die beraad bygewoon, wat daarop gemik is om ’n nuwe kontrak tussen die Noorde en die Suide tot stand te bring om te help om kwessies van klimaatsverandering, ontwikkeling en skuld die hoof te bied.

2.    Uiterste weerstoestande
2.1    Die Kabinet het sy waardering uitgespreek teenoor provinsiale rampbestuurspanne vir hul vinnige reaksie om gemeenskappe wat deur die onlangse vloede in KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap geraak is, by te staan. Ons is almal diep geraak deur die verlies aan lewens in KwaZulu-Natal, en betuig ons meegevoel met die families en vriende van diegene wat hul lewens verloor het.
2.2    Die padinfrastruktuur, elektrisiteitstoevoer, rioolstelsels en huise in geaffekteerde gebiede in KwaZulu-Natal is erg beskadig, terwyl paaie in sommige dele van die Noord-Kaap strukturele skade opgedoen het.
2.3    Regerings- en humanitêre organisasies verskaf steeds dringende riool stelsels, soos kospakkies, komberse, plastiekbedekkings en noodhulppakette aan geaffekteerde gemeenskappe in KwaZulu-Natal.
2.4    Eskom en munisipale elektriese departemente is ook geaktiveer om krag na geaffekteerde gebiede te herstel.

3.    Gesamentlike werksbesoek aan Nederland en Denemarke
3.1    Die Kabinet het die suksesvolle gesamentlike werksbesoek tussen die 
Eerste Minister van Nederland, mnr Mark Rutte, en die Eerste Minister van Denemarke, me Mette Frederiksen, verwelkom. Die besoek het Suid-Afrika se verhouding met die twee lande op die gebied van groen waterstof, hernubare energie en die JET-oorgangstydperk verstewig.
3.2    Die besoek het ook ’n groep beleggers na Suid-Afrika gebring om die 
hoë vlakke van samewerking en goeie verhoudings tussen die land en die twee belangrike Europese vennote te versterk.
3.3    Tydens die gesamentlike amptelike samesprekings is ’n Memorandum 
van Verstandhouding op die gebied van groen waterstof tussen Suid-Afrika en Nederland onderteken, terwyl ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Denemarke oor Ontwikkelingsamewerking rakende die 2017-Energievenootskapprogram gewysig is. 

4.    KwaZulu-Natal se Distriksontwikkelingsmodel (DOM) -Presidensiële Imbizo
4.1    President Ramaphosa, saam met leiers van al drie regeringsfere (nasionaal, provinsiaal en plaaslik), het die 7de DOM-Presidensiële Imbizo van die Sesde Administrasie op Vrydag, 30 Junie 2023 by die uThukela-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal bygewoon. Regeringsleiers het hierdie geleentheid gebruik om met inwoners te kommunikeer oor diensleweringsuitdagings en planne vir die ontwikkeling van die distrik.
4.2    Die Kabinet het ’n beroep op inwoners gedoen om ’n aktiewe rol te speel in die bepaling van die toekoms van hul gemeenskappe deur betrokke te raak by die DOM-Presidensiële Imbizo-program.
4.3    Alle burgers word aangemoedig om ’n rol te speel in die ontwikkeling van hul gemeenskappe deur aktiewe burgers te wees. Deur saam te werk, kan ons kommerwekkende kwessies identifiseer en hindernisse tot geïntegreerde dienslewering uit die weg ruim.

5.    Ekonomie
5.1    Die Kabinet het besin oor die jongste kwartaallikse indiensnemingstatistiek wat deur Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) vrygestel is. Dit het ’n afname in indiensneming in verskeie sektore en winste in ander getoon het. Hoewel groei steeds stadig plaasvind, skep ons veerkragtige ekonomie steeds werk, al is dit nie teen die voorkeurtempo nie.
5.2    Ingrypings soos die Presidensiële Indiensnemingstimulusprogram help om die gety te laat draai. Dit is bemoedigend dat meer as 1,2 miljoen mense sedert die ontstaan van die program in 2020, teen Maart 2023 regstreeks by die program baat gevind het. Tot dusver is sowat 800 000 korttermynwerksgeleenthede, meestal vir jongmense, in die kritieke gebiede van onderwys, vroeë kinderontwikkeling en gemeenskapsveiligheid geskep.
5.3    Die program het verseker dat baie kwesbare Suid-Afrikaners by betekenisvolle werk betrokke raak en ’n stabiele inkomste verdien. Dit het gehelp om die ekonomiese swaarkry van duisende gesinne te verlig.

6.    Groen waterstof
6.1    Die Kabinet het verder ’n gesamentlike verklaring van voorneme om die Suid-Afrikaans-Duitse Waterstof-taakmag te stig, verwelkom. Dit is deur beide die Minister in die Presidensie verantwoordelik vir Elektrisiteit, dr Kgosientsho Ramokgopa en die Duitse visekanselier Robert Habeck, onderteken. Die taakspan sal kyk hoe die groen-waterstofmark geskep en ontwikkel gaan word, asook besigheid-tot-besigheid-geleenthede tussen die twee lande geskep word. Groen waterstof word deur hernubare energie opgewek en dit het aansienlike laer koolstofvrystellings as tradisionele waterstof.
6.2    Die regering het reeds planne in plek vir ’n waterstofvallei, wat na verwagting van Limpopo deur Johannesburg na Durban sal loop. Die vallei sal geleenthede skep vir projekte wat waterstofinisiatiewe in spilpunte sal begin met die doel om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder. 

7.    Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) se Staatshoofde- en Regeringsberaad
7.1    Die Kabinet het kennis geneem van President Ramaphosa se werksbesoek aan SADU se 8ste Staatshoofde- en regeringsberaad wat in die Koninkryk van Eswatini op Donderdag, 29 Junie 2023 gehou is. SADU, wat in 1910 gestig is, is die oudste doeane-unie in die wêreld.
7.2    Die beraad het beraadslaag en bywerkings verskaf oor die status van die implementering van SADU se Strategiese Plan 2022–2027. SADU se strategiese plan is in Junie 2022 aanvaar as ’n padkaart om streeksintegrasie in die doeane-unie te verdiep en sterker bande tussen die vyf lidlande te smee, sowel as om voordeel te trek uit geleenthede wat deur die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied geskep word.

8.    Mynbou
8.1    Die Kabinet is bekommerd oor die praktyk van onwettige mynbou en die regering neem stappe om dit te beëindig deur die Nasionale Koördinering- en Strategiese Bestuurspan (NKSB). Die NKSB poog om die regering se pogings te koördineer om onwettige mynbou en die handel in edelmetale te bekamp.
8.2    Onwettige ontginning en handel in edelmetale benadeel ons ekonomie en het ’n negatiewe uitwerking op die veiligheid en gesondheid van omliggende gemeenskappe. 

9.    Gemeenskapsbetogings
9.1    Die Kabinet het beklemtoon dat geweld nie ’n oplossing vir gemeenskapsprobleme is nie en het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om bestaande kanale te gebruik om hul geskille die hoof te bied. ’n Ministeriële taakspan is na Diepsloot in Gauteng ontplooi om saam met gemeenskapsleiers te werk om hul geskilpunte op te los.
9.2    Die Kabinet het ’n beroep op die gemeenskappe van Diepsloot en ander gebiede gedoen om saam met die regering, plaaslike raadslede en die polisie te werk om kwessies soos misdaad op te los.  

B.    Kabinetsbesluite

1.    Konsep-landbeleggingstrategie (LBS)
1.1    Die Kabinet het Suid-Afrika se konsep LBS vir implementering goedgekeur.
1.2    Die LBS, wat in 2022 vir openbare kommentaar gepubliseer is, poog om die land te posisioneer as ’n belangrike Afrika-beleggingsbestemming van keuse deur gehalte buitelandse en binnelandse direkte beleggings te benut.
1.3    Die strategie is gevestig in die land se prioriteitbeleggings- en ekonomiese ontwikkelingsdoelwitte soos om indiensneming te verhoog, armoede te verminder, en  ’n regverdige oorgang na ’n laekoolstofekonomie en energiesekuriteit te steun.
1.4    Dit skep beleggingsmeganismes om klein, medium en mikro-ondernemings te lok in die strewe na ekonomiese groei, veral die groen ekonomie. Die strategie maak ook gebruik van verskeie multilaterale, streeks- en bilaterale ooreenkomste wat deur Suid-Afrika onderteken is.
1.5    Die strategie is belyn met die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir Ekonomiese Transformasie en die Nasionale Infrastruktuurplan 2050, wat onlangs aanvaar is.
1.6    Die land se provinsies en hul metropolitaanse munisipaliteite sal ’n deurslaggewende rol speel om die strategie, wat voortdurend by veranderende ekonomiese omstandighede aangepas sal word, aan te dryf.

2.    Derde periodieke landverslag onder die Internasionale Konvensie teen Marteling en ander Wrede en Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf (KTM).
2.1    Die Kabinet het die voorlegging van Suid-Afrika se derde KTM periodieke verslag aan die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies (VN) goedgekeur. Die verslag gee ’n uiteensetting van die maatreëls wat Suid-Afrika tref om marteling en mishandeling van sy burgers te voorkom.
2.2    Suid-Afrika het die Konvensie in 2000 onderteken en dit in 2008 bekragtig. In ooreenstemming met Artikel 17 van die Opsionele Protokol tot die KTM, is een van die verpligtinge wat aan partye opgelê word om binnelandse meganismes vir die voorkoming van marteling in hul Nasionale Voorkomingsmeganisme, in plek te stel.
2.3    Oor die afgelope 29 jaar het die demokratiese regering in Suid-Afrika van ou apartheidswette en -instellings ontslae geraak, nuwe demokratiese instellings gebou en wette wat op grondwetlike regte en vryhede gegrond is, geskep.
2.4    Lede van die publiek kan bewerings van marteling en mishandeling direk by die Polisie se Onafhanklike Ondersoekdirektoraat aanmeld. Suid-Afrika het ook ’n goed funksionerende nasionale Menseregtekommissie, wat gestig is om grondwetlike demokrasie te ondersteun.

C.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klarings.
1.    Me Ntomboxolo Mbengashe as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van Post Bank South Africa vir ’n tydperk van vyf jaar.
2.    Mnr Sibusiso Bukhosini as HUB van Isimangaliso Wetland Park Authority (heraanstelling).
3.    Me Tamlyn Bouwer as Hoof Finansiële Beampte van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad.
4.    Mnr Morongwa Calvin Molongoana as Adjunk-direkteur-generaal (ADG): Statistiese Ondersteuning en Informatika by Stats SA.
5.    Me Daphne Yandiswa Morudu as ADG: Suid-Afrikaanse Nasionale Statistiekstelsel by Stats SA.
6.    Mnr Rory Gallocher as Bedryfshoof in die Presidensie.

D.    Wetsontwerpe

1.    Konsep-wysigingswetsontwerp op Maatskappye van 2023
1.1    Die Kabinet het die voorlegging van die Konsep-wysigingswetsontwerp op Maatskappye van 2023 aan die Parlement vir verwerking goedgekeur.
1.2    Die voorstelle in die wetsontwerp het ten doel om regulatoriese en administratiewe laste vir sake-eienaars te verminder en sal Suid-Afrika se aantreklikheid vir potensiële beleggers verhoog. Die meeste van die wysigings is tegnies van aard en is gemoeid met die vaartbelyning en opklaar van administratiewe kwessies.
1.3    Een van die sleutelprioriteite van hierdie demokratiese regering is werkskepping en dit kan nie bereik word as die gemak om sake in Suid-Afrika te doen, nie bespreek word nie.
1.4    Die wysigings voorsien ook meer duidelikheid oor verskeie klousules in die Wetsontwerp, wat poog om die regulatoriese reëls oor besighede te vermider; die teen-geldwasserygaping te verskerp; die openbaarmakingsvereistes te versterk en die aandeelhouersmagte in ’n maatskappy te versterk.
1.5    Buitensporige vergoeding, veral op die hoogste vlakke van ’n maatskappy, is ’n bron van groot kommer – internasionaal sowel as in Suid-Afrika.
1.6    Die wysigings in die wetsontwerp sal deursigtigheid bevorder en verantwoordelikhede tussen direkteure en senior bestuur aan die een kant, en aandeelhouers aan die ander kant uitklaar, asook openbare kommer oor hoë vlakke van ongelykheid in die samelewing die hoof bied.

2.    Wetsontwerp op Inter-regeringsmonitering, Ondersteuning en -Intervensies (IMOI) van 2022
2.1    Die Kabinet het die publikasie van die konsep IMOI-wetsontwerp van 2022 vir openbare kommentaar goedgekeur.
2.2    Die wetsontwerp sal gebruik word as ’n oplossing vir baie uitdagings wat ervaar word wanneer die regering hom op artikels 100 en 139 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 beroep, wanneer dit nodig is as gevolg van mislukkings in sommige regeringsfere.
2.3    Artikel 100 bemagtig die regering om in te gryp indien ’n provinsie versuim om sy administratiewe en diensleweringsverpligtinge na te kom, terwyl Artikel 139 die Provinsiale Uitvoerende Gesag bemagtig om in te gryp indien ’n munisipaliteit nie ’n verpligting ingevolge die Grondwet of wetgewing nakom nie.
2.4    Die IMOI-wetsontwerp word ingestel as die regulatoriese instrument om uitdagings aan te pak oor die afdwinging van Artikel 139, sowel as monitering en evaluering, en die impak van intervensies.
2.5    Die Wetsontwerp sal die implementering van Artikel 139 van die Grondwet reguleer, insluitend die toepaslike prosesse. Dit sal voorsiening maak vir geteikende ondersteuning aan munisipaliteite wat hulp nodig het, sowel as vir die monitering van munisipaliteite om hul uitvoerende verpligtinge ingevolge die Grondwet of ander wetgewing na te kom.

E.    Komende gebeure
1.    Belastingseisoen

1.1    Die Kabinet herinner almal daaraan dat die 2023-belastingseisoen op Vrydag, 7 Julie 2023 begin en tot 23 Oktober 2023 sal strek. Belastingbetalers word aangemoedig om hul opgawes op eFiling of op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se MobiApp in te dien.
1.2    Die belasting-indienproses is nou nog eenvoudiger en die SAID sal vanjaar voortgaan met outo-assessering. Tussen 1 en 7 Julie 2023, word belastingbetalers per SMS of e-pos in kennis gestel as hulle gekies is om ’n outo-assessering te ontvang. Sou jy die SMS ontvang, sal die volgende stap vir jou wees om die outo-assessering op die SAID MobiApp of eFiling te hersien. As jy saamstem met die outo-assessering, hoef jy niks te doen nie.
1.3    Die tydige en akkurate indiening van belastingopgawes verseker dat belastingbetalers voldoen aan die vereistes, en help die regering om dienste aan Suid-Afrikaners te lewer en die ekonomie te laat groei.

2.    2023 FIFA-wêreldbeker vir vroue
2.1    Banyana Banyana, die heersende Afrika-kampioene, en die trots van die nasie, sal die hoop en drome van Suid-Afrika dra wanneer hulle van 20 Julie tot 20 Augustus 2023 aan die 2023 FIFA-wêreldbeker vir vroue in Nieu-Seeland en Australië deelneem.
2.2    Die Kabinet wens hulle sterkte toe met hul soeke na glorie. Suid-Afrika is ondersteun hulle op elke tree van die pad en sien uit daarna dat hulle geskiedenis maak en toekomstige geslagte inspireer.

3.    2023 Netbal-wêreldbeker 
3.1    In die volgende paar dae sal die sportwêreld se aandag op Kaapstad in Suid-Afrika gevestig word vir die begin van die 2023 Netbal-wêreldbeker, wat van 28 Julie tot 6 Augustus hier gehou word. Dié gesogte internasionale pronkstuk, word vir die eerste keer op Afrika-bodem gehou.
3.2    Die Kabinet doen ’n beroep op almal in die land om ons spelers te ondersteun in hul strewe om geskiedenis te maak deur goud op Afrika-bodem te wen.

F.    Boodskappe

1.    Veels geluk
Die Kabinet het sy gelukwense oorgedra aan:

  • Die Universiteit van Suid-Afrika vir die mylpaal van 150 jaar van uitnemendheid in hoër onderwys, en vir sy status as die grootste en oudste instelling in Afrika suid van die Sahara, wat verbind is tot gehalte en universele onderwys.
  • Mnr Edward Kieswetter, die Kommissaris van die SAID vir sy aanstelling as voorsitter van die Wêreld Doeane-organisasie en die tweede Suid-Afrikaner om die organisasie se voorsitter te word.
  • Adv Pansy Tlakula vir haar herverkiesing tot die VN-komitee oor die uitskakeling van rassediskriminasie. Haar termyn sal van 2024 tot 2028 strek.
  • Adv Thembile Joyini vir sy verkiesing as Regter van die Internasionale Tribunaal vir die Seereg van 2023 tot 2032.
  • Die Film- en Publikasieraad (FPR), wat as ’n volle lid van die Netwerk van Globale Aanlynveiligheidsreguleerders aangestel is. Die lidmaatskap laat die FPR toe om op ’n globale vlak aanlyn-skade te beveg en aanlynveiligheid te bevorder in samewerking met reguleerders in Australië, die Verenigde Koninkryk, Fidji, Ierland en ander.
     

2.    Meegevoel
Die Kabinet het sy medelye betuig teenoor die naasbestaandes en vriende van:

  • Mama Sally Motlana (96), die veteraan Struggle-aktivis en gewaardeerde lid van die Nasionale Orde van die Kremetart in Silwer.
  • Mev Maggie Mathabatha (61), vrou van die Premier van Limpopo, Mnr Stanley Mathabatha.


Navrae:
Me Nomonde Mnukwa
Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore