C Dowry: South Easter Feast

Toespraak deur Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou,by
die opening van “Legende van die Suiderkruis” - Suidooster Fees

14 Januarie 2007

Op 1 Desember 2005 het ek n toespraak begin met hierdie woorde, en ek haal
aan: “Wat ‘n wonderlike, blye geleentheid! Ek is opgewonde en ek hoop u is saam
met my opgewonde oor hierdie mylpaal van die plaaswerkergemeenskap van die
Wes-Kaap. Dit was by die openingsaand van die musiekblyspel “Kampong”.

Ek het daardie aand die hoop uitgespreek dat ons in die toekoms nog meer van
die groep sal sien. Vandag is ons by hierdie fees bymekaar om die groei wat
daar plaasgevind het waar te neem.

As Minister van Landbou in die Wes-Kaap is ek diep bewus van die miskenning
van die regte van die plaaswerkergemeenskap oor baie jare. Om hierdie rede het
ek dan ook in 2004 opdrag gegee dat ons planne in werking moet stel om 'n
daadwerklike verandering in die kwaliteit van lewe van ons plaaswerkers te weeg
te bring.

Ek glo dat die bevrediging van die ontwikkelingsbehoeftes van die
plaaswerkergemeenskap 'n holistiese benadering verg waarin die sosiale,
kulturele, ekonomiese en politieke behoeftes van die gemeenskap op 'n
geïntegreerde wyse aangespreek word. My opdrag was dan ook dat enige aksie
gebaseer moet word op 'n konkrete strategiese raamwerk waarbinne duidelike
prioriteite en doelwitte uiteengesit moet word sodat ons nie verder op 'n
lukrake wyse met die lewe en toekoms van plaaswerkers sal omgaan nie.

My Departement het 'n bedrag van R304 000 beskikbaar gestel aan die
Plaaswerkerkuns en Mediagroep (PKMG) wat moet fokus op die bewaring en
uitbreiding van kultuuraktiwiteite in die plaaswerkergemeenskap om sodoende
beeldende en uitvoerende kunste aan te wend vir opheffing en
ontwikkelingsdoeleindes onder plaaswerkers.

Die Plaaswerkerkuns- en Mediagroep is sowat anderhalfjaar gelede gestig deur
mense wat ons droom gedeel het om onontdekte kunstepotensiaal in
plaaswerkergemeenskappe te ontsluit. Die werksaamhede van die groep word op 'n
totaal vrywillige basis gedryf deur Ria Olivier, Aubrey Lekeur en Charl Frank.
Charl is ook die skrywer van Kampong, die musiekblyspel wat in 2005 op die
planke gebring is en waarby Randall Wicomb ten nouste betrokke was. Charl is
ook die skrywer van die Legende van die Suiderkruis met Francois Toerien as
regisseur, wat ons vandag gaan sien.

Ons is ook trots op die ander projekte van die groep soos 'n CD deur 'n
sanggroep met die naam Likkewaan wat Afrikaanse liedjies sing, 'n
plaaswerkerkoerant wat binnekort amptelik geloods gaan word en 'n tweede CD wat
beplan word onder leiding van Louis Henn.

Die doel van die Plaaswerkerkuns- en Mediagroep is om onontdekte talent te
ontwikkel, die selfbeeld van die jongmense te bou en geleenthede vir
werkskepping daar te stel. Tien jongmense het verlede jaar 'n leerlingskap in
Uitvoerende Kunste deurloop en het die geleentheid gekry om by Louise du Toit
en Francois Toerien aan die teorie en praktyk van die uitvoerende kunste
blootgestel te word.

Omdat daar 'n hoë vlak van nie-geletterdheid op plase is, word teater ook
ingespan om bepaalde kwessies aan te spreek, soos gesinsgeweld, MIV/VIGS,
dwelmmisbruik, fetale alkohol sindroom, ens.

Ek bedank graag die amptenare van die Provinsiale Departement van Landbou
vir hulle betrokkenheid. So ook Isivuno vir befondsing en infrastrukturele
steun.

Daar is verskeie ander individue en instansies vir wie ek wil dankie sê
naamlik, Fred Duvenage en Ralf Williamson van Mapseta. Baie dankie aan Louise
du Toit vir haar toegewyde werk met die leerderskap. Francois Toerien verdien
groot lof, dank en waardering vir al sy harde werk en veral vir sy geduld, wat
ek verstaan, soms erg beproef is. Dankie ook aan die Universiteit van
Stellenbosch se dramadepartement wat hul studente beskikbaar gestel het. Dankie
aan die gesinne van die Plaaswerkerkuns- en Mediagroep vir hul begrip vir die
afwesigheid van hulle familielede.

In die laaste plek wil ek aan u as gehoor dankie sê vir u teenwoordigheid.
Ons vertrou dat u terug sal sit en die Legende van die Suiderkruis saam met ons
sal geniet.

Navrae: Alie van Jaarsveld
Spokesperson, Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za

Issued by: Ministry of Agriculture, Western Cape Provincial Government
14 December 2007

Share this page

Similar categories to explore