Verklaring van die Kabinetsvergadering van 4 Desember 2013

05 Dec 2013

1. Kabinet se posisie oor prominente kwessies in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet wens die Departement van Basiese Onderwys, skoolhoofde, onderwysers en leerders geluk met die suksesvolle afhandeling van 2013 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen.

Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die jaarlikse Nasionale Assesserings vir 2013 vandag, 4 Desember 2013, wat 'n uitstekende diagnostiese instrument is wat die Departement van Nasionale Opvoeding help om vordering met leeruitkomste na te speur en die gehalte van onderwys te verbeter

Die Kabinet loof ook die Departement van Basiese Onderwys en die Presidensiële Infrastruktuur-koördineringskommissie (PIKK) vir die gevorderde stadium van die aflewering van handboeke, werkboeke, meubels en die oorhandiging van een skool per week sedert 22 Julie 2013 as deel van die Nasionale Infrastruktuurplan.

1.2. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Stanley Nkosi Sinter-myn van die Kalagadi Mangaanmaatskappy, Hotazel, Noord-Kaap, wat die wêreld se grootste  mangaansinter-aanleg is. Dit vorm deel van die pakket van projekte wat deur die PIKK, onder leiding  van President Jacob Zuma, gekoördineer word. Deur hierdie projek het die Noord-Kaap 'n kapitaalinspuiting van ongeveer R6,5 miljard oor 4 jaar ontvang, minstens 3 000 direkte werksgeleenthede is geskep en vaardigheidsontwikkeling onder die plaaslike jeug het 'n hupstoot gekry.

1.3. President Jacob Zuma sal op 16 Desember Versoeningsdag herdenk met die tema: “Nasiebou, Sosiale Kohesie en Versoening”.

Die viering val saam met die 100-jaarherdenking van die Uniegebou as die regeringsetel. 'n Standbeeld van voormalige president Nelson Mandela, 'n steunpilaar en ikoon van vryheid en versoening in ons land, sal as deel van die herdenking by die Uniegebou onthul word. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die dag te gebruik om na te dink oor die ontsaglike vordering wat ons as 'n nasie tot dusver gemaak het om saam te leef en te werk.

1.4. Adjunk-president Kgalema Motlanthe sal vanaf 10 tot 12 Desember 2014 die Tweede Regeringsleierskapsberaad by die WNNR se Internasionale Konvensiesentrum in Pretoria lei. Hierdie beraad sal senior bestuurders uit al drie sfere van die regering byeenbring met die oog op die versterking van 'n gedeelde begrip oor die rol van die Staatsdiens om in Suid-Afrikaners se basiese behoeftes te voorsien en aan die voorpunt van ons ekonomiese ontwikkeling te staan.

1.5. President Jacob Zuma sal as gasheer optree vir die Koning van die Federasie van Maleisië, Tuanku Abdul Halim Mu'adzam Shah, tydens sy staatsbesoek by die Uniegebou op 10 Desember 2013. Die staatsbesoek sal ons bilaterale politieke en ekonomiese betrekkinge met Maleisië versterk en ook die geleentheid bied om ons Afrika-agenda te bevorder.

1.6. Die Kabinet beraadslaag oor die aanbieding van die Minister van Openbare Werke oor die Inter-ministeriële Taakverslag oor die sekuriteitsverbeterings by die President se Nkandla-huise. Die Kabinet bekragtig die aanbevelings en gee opdrag dat die verslag aan die publiek bekend gestel word. Die Ministers van die Sekuriteitskluster en die Minister van Openbare Werke sal op Dinsdag, 10 Desember 2013, 'n media-inligtingsessie hou.

1.7. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die 2de BRICS Urbanisation Forum and the 3de Friendship Cities and Local Government Cooperation Forum. Die Forum het gefokus op die behoefte aan die onderskeie regeringsvlakke om dialoog en samewerking op die terreine van infrastruktuur, gemeenskapsontwikkeling, groen ekonomie, kulturele uitruilings, belegging en tegnologie-oordrag te versterk.

1.8. Die Kabinet verwelkom die 16 Afrika-nasies en hul ondersteuners se deelname aan die derde Orange Afrikanasie-kampioenskap (CHAN) tussen 11 Januarie en 1 Februarie 2014 in Suid-Afrika. Deur as gasheer vir die toernooi op te tree, sal Suid-Afrika voortbou op die positiewe nalatenskap van die 2010 FIFA Wêreldbeker en die 2013 Afrikanasie-Kampioenskap, en sosiale kohesie en nasionale trots verder vaslê.

Die toernooi bied ook aan Suid-Afrikaners die geleentheid om ons land ten toon te stel as 'n lewenskragtige toerisme-, handels- en beleggingsbestemming.

1.9 Oor hierdie vakansieseisoen lei die regering verskeie veldtogte in vennootskap met alle sektore van die samelewing om verantwoordelike en veilige gedrag te verseker. Enkele van die belangrikstes is Healthy Lifestyles, Arrive Alive, 16 Dae van Aktivisme en Wêreld-VIGS-dagveldtogte. Alle Suid-Afrikaners moet hul deel doen om betekenis aan hierdie veldtogte te verleen. Die regering kan dit nie alleen doen nie.

In hierdie tydperk sal die verhoogde sigbaarheid van wetstoepassingsbamptes by padblokkades en landswye deursoekingsinisiatiewe Suid-Afrikaners se veiligheid help verseker. Padgebruikers word herinner om nie te drink en bestuur of te drink en loop nie. Diegene wat aan 'n oortreding van die reëls skuldig bevind word, sal met die volle omvang van die wet kennis maak.

1.10 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om ekstra voorsorgmaatreëls te neem om te verseker dat daar na ons kinders omgesien word en van gevaar weggehou word. Dit is ouers, voogde en die samelewing se verantwoordelikheid om ons kinders se veiligheid te verseker, veral gedurende die feesseisoen wat voorlê.

1.11 In hierdie laaste Kabinetsvergadering vir 2013 wens die lede van die Uitvoerende Gesag alle Suid-Afrikaners 'n rustige, vreedsame en veilige feesseisoen toe. Die Kabinet doen 'n beroep op almal van ons wat kan, om Ubuntu/Botho te beoefen deur daardie individue en families wat nie na hulself kan omsien nie te ondersteun, te help en om meelewing te toon as 'n nasie wat vir mekaar omgee en mekaar respekteer.

2. Sleutelbesluite van die Kabinet

2.1 Die Kabinet keur die Nasionale Breëbandbeleid, -strategie en –plan, wat as 'South Africa Connect' bekendstaan, goed. Dit sal 'n beduidende bydrae tot ekonomiese groei, ontwikkeling en werkskepping lewer. Die oorhoofse doelwit is om teen 2030 'n universele gemiddelde aflaaispoed van 100 mbps te bereik. Om hierdie mikpunt op 'n progressiewe manier te bereik, is hersienbare mikpunte neergelê, wat begin met 'n gemiddelde gebruikerservaringspoed van 5 mbps wat teen 2016 bereik moet word en aan 50% van die bevolking beskikbaar moet wees, en aan 90% teen 2020. Mikpunte word ook vir konnektiwiteit van skole en klinieke en algemene openbare sektor gestel. Die snelle ontwikkeling van breëbandtegnologie beteken dat hierdie mikpunte jaarliks hersien sal word.

2.2 Die Kabinet keur die publikasie in die Staatskoerant van die Groenskrif op die Nasionale Geïntegreerde Inligtings-en-kommunikasie- (IKT-) beleid vir openbare kommentaar goed. Die Groenskrif handel oor die nodigheid om beleide en regulasies te hersien om die snelle veranderings in IKT die afgelope paar jaar in ag te neem. Enkele van die kwessies waarop dit fokus is telekommunikasie, uitsaaiwese en posdienste. Openbare aanhore sal vroeg volgende jaar in al die provinsies gehou word.

2.3 Die Kabinet keur die wysigings aan die Beleid oor Digitale Uitsaai-migrasie goed, wat hoofsaaklik betrekking het op die vraag op die "Set Top Box" ) STB) (dekodeerders) 'n beheerstelsel moet hê of nie. Sommige van die kriteria op grond waarvan die besluit geneem is, sluit in:

• die behoefte aan spoed by digitale migrasie, veral vir die vrystelling van radiofrekwensie-spektrum;
• verseker dat die regeringsubsidie produktief aangewend word;
• stimuleer die plaaslike elektroniese bedryf en skep werksgeleenthede;
• bevoordeel opkomende entrepreneurs;
• verminder die kanse dat die Suid-Afrikaanse mark deur goedkoop STB's wat nie ten volle funksioneel is nie, oorstroom word;
• beskerm die belange van die SABC;
• wees sensitief vir die snelle veranderings in die uitsaaiwese en die IKT-sektor in geheel;
• verminder die omvang van monopolisering en moedig mededinging aan deur ruimte te skep vir nuwe toetreders tot die betaaltelevisiemark sonder om onregverdig by die regeringsubsidie te baat;
• verminder die kanse op regstappe deur uitsaaiers en entrepreneurs wat die migrasie-proses sal belemmer.

Gegewe hierdie en ander kriteria, besluit die Kabinet dat die gebruik van 'n beheerstelsel nie verpligtend moet wees nie, Die STB's sal egter wel 'n beheerstelsel hê om die regering se belegging in die gesubsidieerde STB-mark en die plaaslike elektroniese bedryf te beskerm en, met snelle tegnologiese veranderings, vir toekomstige gebruik deur uitsaaiers wat dit dalk nie nou wil gebruik nie.

Om te voorkom dat intekenaar-uitsaaiers onregverdig by die STB-beheerstelsel baat vind, sal die regering se belegging in die STB-beheerstelsel verhaal word uit daardie intekenaar-uitsenders wat gekies het om wel van die STB-beheerstelsel gebruik te maak.

Die Kabinet doen 'n ernstige beroep op alle partye om aan te beweeg van hul vroeëre verskille en met die regering saam te werk om in die land se beste belang digitale migrasie so vinnig moontlik te ontplooi.

2.4 Die Kabinet keur maatreëls goed wat gerig is op hulpverlening aan oorverskuldigde huishoudings en die versterking van finansiële stabiliteit.
Die Ministers van Finansies en Handel en Nywerheid is gemagtig om voorkomende maatreëls te implementeer om die risiko van oormatige skuldelas deur toekomstige lenings te beperk. Dit sluit in die voorsiening van 'n gesamentlike program van effektiewe stappe om huishoudings wat tans oorverskuldig is te help, en ook om te voorkom dat huishoudings in die toekoms oorverskuldig raak.

Die Minister van Finansies sal ook stappe doen om werkgewers aan te moedig om hul oorverskuldigde werknemers te help om die geldigheid van werknemers se skuldbeslagbevele te ondersoek en werknemers van finansiële-welstandmeganismes te voorsien.

2.5 Die Kabinet keur die Witskrif oor die Nasionale Omgewingsbestuursbeleid van die Oseaan goed. Die beleid sit 'n gekoördineerde sektorale bestuursbenadering oor omgewingsbestuur van die oseaan uiteen. Dit sal Suid-Afrikaners in staat stel om die toenemende uitdagings wat menslike impakte op die oseaan-omgewing het meer effektief te hanteer, terwyl die potensiaal vir ekonomiese ontwikkeling van die oseaan terselfdertyd gemaksimeer word.

2.6 Die Kabinet keur die finale Nasionale Waterbeleidsposisies goed en neem ook kennis van die openbare oorlegplegingsprosesse wat vir die finalisering van die Nasionale Waterbeleidshersiening gevolg is.
Die nuwe Waterbeleidsposisies aanvaar die posisie van ontwikkelingswaterbestuur, wat fokus op die koppelvlakke  tussen waterbestuur en die regering se ontwikkelings- en transformasiedoelwitte. Dit oorweeg die hele water-waardeketting met betrekking tot hoe water kan bydra tot die bereiking van billike, voordelige en volhoubare ontwikkeling regoor die land.

2.7 Die Kabinet keur die proses van die herbelyning van waterrade in nege Streekswaternutsmaatskappye goed. Dit volg op die finale verslag oor die voorgestelde hervorming van die Waterrade.

Dit sal die Streekswaternutsmaatskappye se kernbesigheid wees om streeks- grootmaatinfrastruktuur (watervoorsiening en waterhulpbronne) te ontwikkel en bestuur, met inbegrip van finansiering, projekontwikkeling en voortgesette bedrywighede en instandhouding. Dit sal beter verskaffing van ondersteuning aan die plaaslike regering moontlik maak, wat 'n sleutelvereiste is vir algehele sektorhervorming.

2.8 Die Kabinet verwelkom die implementering van die entstof teen die Menslikepapiloomvirus, wat deur middel van die Geïntegreerde Skoolgesondheidsprogram met 'n sesmaande-interval aan meisies van 9-10 jaar oud toegedien sal word. Dit is in ooreenstemming met die aanbeveling van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Die doel is om die risiko dat meisies servikale kanker later in hul lewens kan ontwikkel, te verminder, en sal bydra tot die verbetering van vrouens se lewensgehalte, die verbetering van hul lewensverwagting en ook die voorkoms van nie-oordraagbare chroniese siektes aansienlik verminder.

3 Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet keur die publikasie in die Staatskoerant van die Konsepwetsontwerp Agrément Suid-Afrika, 2013 en Memorandum oor die Doelwitte van die Wetsontwerp vir openbare kommentaar goed.

Die Konsepwetsontwerp maak voorsiening vir die erkenning van Agrément Suid-Afrika, as 'n openbare entiteit. Die Raad van Agrément Suid-Afrika se mandaat is om onder andere die doelmatigheid van nie-gestandaardiseerde konstruksieverwante produkte of stelsels vir die konstruksiebedryf en waarvoor daar nie 'n nasionale standaard bestaan nie, te evalueer.

Dit sal bydra tot die skepping van 'n dinamiese en innoverende konstruksiebedryf wat 'n positiewe impak op werkskepping het, en terselfdertyd tot die regering se infrastruktuurplanne bydra.

3.2 Die Kabinet keur die indiening van die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, 2013 by die Parlement goed. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, 1997.

Die strategiese fokus op die Wysigingswetsontwerp is om die uitbreiding van die bedrywighede van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika na enige nasionale grondgebied op die Afrika-kontinent en sy oseaan-eilande moontlik te maak. Dit sal die bank in staat stel om aan grootskaalse infrastruktuur en ander strategiese projekte buite die SAOG-streek wat oor die potensiaal beskik om handel en ekonomiese groei op die kontinent te versterk en Suid-Afrika se bi-nasionale kommissies en verbintenis tot streeksintegrasie ondersteun, deel te neem.

3.3 Die Kabinet keur goed dat die 'Financial Sector Regulation Bill' vir openbare kommentaar vrygestel word ten einde aan Suid-Afrika se G-20-verbintenisse gevolg te gee.

Die doel van die Wetsontwerp is om die finansiële sektor veiliger te maak deur die tweeledige sogenaamde ‘twin peaks’ reguleringstelsel te implementeer: een wat vir die veiligheid en gesondheid van finansiële instellings verantwoordelik is, en die ander wat verantwoordelik is vir die manier waarop finansiële instellings hul sake bedryf.

4 Aanstellings

4.1 Die Kabinet keur die aanstelling van Esther Sarah Makau in die pos van Hoof Finansiële Beampte in die Departement van Kuns en Kultuur goed.

4.2  Die Kabinet keur die volgende aanstelling in die Departement van Kommunikasie goed:
a) Reneva Fourie in die pos van Adjunkdirekteur-generaal: Inligtingsamelewing-ontwikkeling en -navorsing;
b) Tinyiko Moses Ngobeni in die pos van Adjunkdirekteur-generaal: IKT-infrastruktuurontwikkeling;
c) Sibongile Vulikhaya Makopi in die pos van Adjunkdirekteur-generaal: Toesig oor Ondernemings in Staatsbesit en IKT-ondernemingsontwikkeling.

4.3  Die Kabinet keur die aanstelling van Siyakhula Paradise Simelane in die pos van Hoof Finansiële Beampte in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming goed.

4.4 Die Kabinet keur die heraanstelling van Siyabulela Thomas Tsengiwe in die pos van Hoofkommissaris van die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie goed.

4.5 Die Kabinet keur die aanstelling van me Thezi Rosemary Mabuza as die Adjunk-kommissaris van die Nasionale Verbruikerskommissie goed.

4.6 Die Kabinet keur die aanstelling van mnr Themba Thomas Cyril Dlamini as die HUB van die Nasionale Dobbelraad goed.

4.7 Die Kabinet keur die aanstelling van adv Solomon Makhosini Msibi as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Padverkeerbestuurskorporasie goed.

4.8  Die Kabinet keur die volgende aanstellings op die Raad van die Padverkeerbestuurskorporasie goed.
a) Me Thembeka Mdlulwa (Nie-uitvoerende Lid)
b) Mnr Ike Nxedlana (Nie-uitvoerende Lid)
c) Me Nalini Maharaj (Nie-uitvoerende Lid)
d) Mnr Rowan Graham Nicholls (Nie-uitvoerende Lid)
e) Me Morwenyane Maria Mathabathe (Nie-uitvoerende Lid)
f) Mnr Zola Malvern Percival Majavu (Nie-uitvoerende Lid)
g) Mnr Sam Ledwaba (Nie-uitvoerende Lid).

4.9  Die Kabinet keur die volgende aanstellings van Nie-uitvoerende Direkteure op die Raad van die Suid-Afrikaanse Poskantoor goed:
a) Mnr Templeton Mageza
b) Mnr Sihle Joel Ngubane
c) Me Selebaleng Primrose (Boitumelo) Mothelesi
d) Mnr Sathiaseelan Gounden.

4.10 Die Kabinet keur die volgende aanstellings op die Stigtingsraad van die Nasionale Instituut vir die Wegdoening van Radio-aktiewe Afval goed:
a) Prof Gordan Sibiya (Voorsitter)
b) Clive Douglas Kneale
c) Eric Peter McDonald
d) Queen Nothando Gopo
e) Mathews Mateo Mathebe
f) Dr. Margaret Msongi Mkhosi
g) Nolwazi Zandile Cobbinah
h) Justin Daniel.

4.11 Die Kabinet keur die aanstelling van die volgende Werkgewergenomineerde Trustees van die Pensioenfonds vir Regeringswerknemers goed:
a) Mnr Stadi Mngomezulu (Nasionale Tesourie)
b) Mnr Bhekithemba Thabo Gamedze (Minister van Finansies)
c) Dr Renosi Mokate (Minister van Finansies)
d) Dr Malcolm Barry Kistnasamy (Departement van Gesondheid)
e) Me Gladys Modise (Departement van Basiese Onderwys)
f) Me Esther Euphane Aletta (Barbara) Watson (Departement van Staatsdiens en Administrasie)
g) Mnr Nkhangweleni Seth Makhani (Departement van Verdediging)
h) Me Moira-Anne Moses (Openbare Beleggingskorporasie).

Die Kabinet keur die aanstelling van die volgende Werkgewergenomineerde Substituut-trustees goed:
i) Me Lindy Ann Bodewig (Nasionale Tesourie)
j) Adv Lindiwe Grace Nkosi-Thomas (Minister van Finansies)
k) Mnr Abel Sithole (Minister van Finansies)
l) Dr Thamizhanban Pillay (Departement van Gesondheid)
m) Dr Mogenthiran Shunmugam (Morgan) Pillay (Departement van Basiese Onderwys)
n) Dr Lesiba Alex Mahapa (Departement van Staatsdiens en Administrasie)
o) Brigadier Johan David Griesel (Suid-Afrikaanse Polisiediens)
p) Me Rejane Woodroffe (Openbare Beleggingskorporasie).

4.12 Die Kabinet keur die heraanstelling van mnr Andrew Zaloumis as die Hoof Uitvoerende Beampte van die iSimangaliso Wetland Park Authority goed.

4.13 Die Kabinet neem kennis van die volgende heraanstellings van die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS)
a) Jeff Molobela (Voorsitter)
b) Mr Nico Vermeulen (Nie-Uitvoerende Lid)
c) Me Funzani Asnath Melato (Nie-Uitvoerende Lid)
d) Me Susanna Elizabeth Moolman (Nie-Uitvoerende Lid)
e) Prof Sadhasivan Perumal (Nie-Uitvoerende Lid)
f) Me Dora Ndaba (Nie-Uitvoerende Lid)
g) Mnr Paul Serote (Nie-Uitvoerende Lid)
h) Mnr Sipho Reginald Zikode (Nie-Uitvoerende Lid).

Uitgereik deur die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore