Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering van 24 Junie 2020

1.   Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingsplan

1.1    Die Kabinet het 'n vorderingsverslag oor die SAL se sakereddingsproses van die IMK oor die SAL, onder voorsitterskap van die Minister van Openbare Werke, Pravin Gordhan, ontvang.

1.2    Die Kabinet hou vol dat 'n positiewe besluit van krediteure om die sakereddingsproses te finaliseer, steeds die lewensvatbaarste en doeltreffendste manier vir die nasionale lugdiens is om sy sake te herstruktureer, insluitend bedrywighede, skuld en ander laste. Die Kabinet glo dat 'n herstruktureerde lugdiens die transformasie-agenda sal nastreef, veral ten opsigte van kwessies soos die gebrekkige bevorderingsgeleenthede van swart vlieëniers ná 26 jaar van demokrasie in die land.  

1.3    Die Kabinet steun die voorstel vir 'n nuwe lugdiens en die doelgerigte pogings om befondsing uit verskeie bronne te mobiliseer, insluitend van potensiële ekwiteitsvennote in die nuwe lugdiens. Dit is die enigste realistiese manier om 'n nuwe lewensvatbare, volhoubare, mededingende lugdiens te skep, wat 'n geïntegreerde binnelandse, streeks- en internasionale diens kan lewer.

2.   Ekonomie

2.1    Die Kabinet verwelkom die 2020/21 aanvullende aanpassingsbegroting wat op Woensdag 24 Junie 2020 deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, gelewer is. Hierdie begroting is deur die Koronavirussiekte (COVID-19)-pandemie en die gevolglike ekonomiese afswaai genoodsaak. Die aanvullende begroting sit 'n padkaart uiteen om skuld te stabiliseer deur ons bestedingspatrone te verbeter en 'n grondslag vir ekonomiese herlewing te skep.

2.2    Die Kabinet is optimisties dat die verbintenisse wat deur Minister Mboweni aangekondig is, ons ekonomie stewig op 'n soliede en volhoubare pad sal plaas, veral as almal saam met die regering werk om hierdie stappe in werking te stel.

3.  Jongste COVID-19-nuus

3.1    Die Kabinet het 'n vorderingsverslag van die Nasionale Koronavirusbevelsraad ontvang. As deel van die regering se reaksie op die nuwe risiko-aangepaste vlak 3 van die nasionale inperking, is wysigings aan die regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 200) voorgelê.

3.2    Hoewel die Kabinet waardering het vir die omvattende werk wat steeds gedoen word om 'n balans te handhaaf tussen stappe om volhoubare lewensbestaan te verseker en om lewens te red, keur dit die publikasie van die wysigings rakende die opening van restaurante, hotelle en casino's in die Staatskoerant goed.

3.3    Die Kabinet herbeklemtoon die beroep op ons almal om saam te werk om die verspreiding van infeksies in ons gemeenskappe te help beëindig deur gesondheidsprotokolle na te kom, soos om gereeld ons hande te was, 'n veilige sosiale afstand te handhaaf en 'n masker in die openbaar te dra.

4.    Geslagsgebaseerde Geweld (GGG)

4.1    Die Kabinet is uiters bekommerd oor die skerp toename in GGG-gevalle regoor die land. Na aanleiding van die onlangse vlaag moorde op vroue en kinders, het die regering 'n beroep op almal in Suid-Afrika gedoen om te verenig en saam te werk om hierdie slagting te beëindig. Die Kabinet loof wetstoepassingsagentskappe vir hul vinnige optrede om verdagtes in hegtenis te neem en doen 'n dringende beroep op hierdie agentskappe om onvermoeid te werk om almal wat by hierdie grusame moorde betrokke was, aan te keer.

4.2    Die Kabinet is onwrikbaar daartoe verbind om 'n reeks ingrypings wat op grond van die Nasionale Strategiese Plan oor GGG en Vrouemoord ontwikkel is, te implementeer. Die interministeriële komitee, onder voorsitterskap van die Minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, me Maite Nkoana-Mashabane, is steeds die vernaamste dryfkrag agter hierdie multidissiplinêre ingrypings. Die effektiefste ingryping behels egter dat alle Suid-Afrikaners hul deel moet doen om die kultuur van geweld teen die kwesbaarste lede van die samelewing te beëindig.

5.    Suid-Afrika se Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling (SIDSSA)

5.1    Die Kabinet verwelkom die eerste SIDSAA wat vandeesweek virtueel gehou is onder die tema: "Belê in infrastruktuur vir gedeelde welvaart: nou, hierna en in die toekoms".

SIDSSA is 'n platform wat kritieke rolspelers in die infrastruktuurbeleggingsruimte byeenbring wat almal om 'n sleuteldoelwit verenig is, naamlik om 'n infrastruktuurgedrewe beleggingsplan te bespoedig. Infrastruktuuringryping bly steeds 'n katalisator vir Suid-Afrika se ekonomiese herstelpakket.

5.2    Altesaam 276 projekte is reeds deur hierdie proses geëvalueer. Dit is almal katalitiese infrastruktuurbeleggingsprojekte met 'n vermenigvuldiger-effek om werksgeleenthede te skep en die ekonomie 'n hupstoot te gee.  

5.3    Agt-en-tagtig van hierdie projekte is beleggingsgereed en sluit in bedrywe met bewese uitstaande vermenigvuldiger-effekte in energie; water; vervoer; inligting-en-kommunikasietegnologie-infrastruktuur; menslike nedersettings; landbou en landbouverwerking.

5.4    Hierdie projekte sal hoofsaaklik deur drie strome befonds word – kommersiële finansiering, gekombineerde finansiering en fiskale toewysings. As deel van die ekonomiese herstelpakket bly openbare-private samewerking in Suid-Afrika steeds daarop toegespits om ruimtelike ongelykhede reg te stel, die ekonomie te transformeer en broodnodige werksgeleenthede te skep.

Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die tersaaklike klaring.

1.     Direksielede van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure:
1.1.    Me Martie Janse van Rensburg (heraanstelling);
1.2.    Mnr Iqbal Motala (heraanstelling);
1.3.    Mnr Madoda Petros (heraanstelling);
1.4.    Me Nombulelo Gumata;
1.5.    Me Thembeka Semane;
1.6.    Mnr Roy Andersen;
1.7.    Mnr Preston Speckmann;
1.8.    Me Jesmane Boggenpoels;
1.9.    Mnr Shauket Fakie; en
1.10     Prof Nirupa Padia.


2.    Direksielede van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Spesiale Risikoversekering:
2.1.    Mnr Moss Ngoasheng (Voorsitter);
2.2.    Me Priscilla Mokonyane (Adjunkvoorsitter);
2.3.    Me Moipone Ramoipone;
2.4.    Mnr Desmond Marumo;
2.5.    Me Japhtaline Mantuka Maisela;
2.6.    Mnr Christiaan Johannes van Dyk;
2.7.    Mnr Enos Ngutshane;
2.8.    Mnr Reginald Haman;
2.9.    Mnr Sathie Gounden;
2.10.    Me Margret Mosibudi Phiri;
2.11.    Me Refilwe Moletsane; en
2.12.    Me Nolwandile Mgoqi-Mbalo.

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore