Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor die vordering in die nasionale poging om die KOVID-19-pandemie te bekamp

My mede-Suid-Afrikaners,

Dit is nou amper presies twee jaar sedert ek voor julle gestaan het om aan te kondig dat Suid-Afrika onder ʼn landswye inperking geplaas sou word om die verspreiding van die KOVID-19-virus te bekamp.

Dit was ʼn drastiese en ongehoorde stap wat geneem is.

Maar dit het die verspreiding van die virus vertraag om ons gesondheidsorgfasiliteite – en inderdaad, ons samelewing – tyd te gee om voor te berei vir die verwagte opwelling in infeksies.

Sedertdien moes ons ons reaksie op die pandemie voortdurend aanpas weens stygende en dalende infeksies en waar ons gesondheidsorgfasiliteite onder druk geplaas is.

Vir twee jaar het hierdie pandemie ons lewens regeer.

Suid-Afrika het meer as 3.7 miljoen vermelde gevalle en die land se dodetal weens KOVID-19 staan op nagenoeg 100 000 mense.

Die pandemie het die manier waarop ons werk, reis, godsdiens beoefen en sosialiseer omvergewerp.

Dit het baie mense se lewensbestaan tot niet gebring en ons ekonomie verwoes, wat daartoe gelei het dat baie besighede deure moes sluit asook tot die verlies van sowat twee miljoen werke.

Dog het dit ook getoon dat Suid-Afrikaners mense met omgee en deernis is, wat tot mekaar se hulp gesnel het tydens ons oomblik van grootste nood.

Toe daar op ons ʼn beroep gedoen is om beperkings op beweging, samekomste en verskeie aktiwiteite toe te pas, het ons as Suid-Afrikaners dit gevolg met die wete dat dit vir ons eie beswil was in terme van gesondheid en ons lewens, asook tot die beswil van die land.

In die afgelope twee jaar het ons ongehoorde aksies geneem om ons gesondheidsorgstelsel te versterk.

Ons het meer mense aangestel om die nagevolge van die pandemie te hanteer, meer hospitale gebou en laboratoriumkapasiteit verhoog en so verseker dat KOVID-19-pasiënte goed versorg is in ons hospitale.

Ons staan nou voor ʼn keerpunt.

Ons is nou gereed om ʼn nuwe fase in die bestuur van die pandemie te betree.

Na afloop van vier vlae infeksie is daar nou minder mense wat ernstig siek word en hospitalisering vereis. Daar is by verre minder sterftes as voorheen.

Ons wetenskaplikes deel ons mee dat dit hoofsaaklik die geval is danksy die feit dat ongeveer 60-80% van die bevolking ʼn mate van immuniteit teen die virus het, weens óf vorige infeksie óf inenting.

Vanuit die afgelope twee jaar se ervaring het ons gesondheidsorgdienste geleer om die siekte meer doeltreffend te bestuur.

Ons het gewoond geraak daaraan om maskers te dra en ons hande gereeld te was.

Van nog groter belang is dat 48% van alle volwassenes minstens een dosis entstof ontvang het.

Ons gaan gevolglik die derde jaar van die pandemie in met meer hoop as tevore.

Alhoewel die pandemie nog nie verby is nie en ons waaksaam bly, sien ons groot dele van ons normale daaglikse lewe wat terugkeer na normaal.

Ons sien ons ekonomie wat terugkeer na volle swang.

Ons voel hoe die vrees en wanhoop van die afgelope twee jaar van ons skouers lig.

Weens die wisselvallige aard van die pandemie en die vordering wat gemaak is danksy ons gesamentlike pogings, beoog ons om binnekort die nasionale ramptoestand te beëindig sodra publieke kommentaar oor die gesondheidmaatreëls soos gepubliseer deur die minister van gesondheid voltooi is.

Hierdie maatreëls, wanneer dit gefinaliseer is, sal die maatreëls van die nasionale ramptoestand vervang as die wetlike instrument om die pandemie te bestuur.

Alle Suid-Afrikaners word uitgenooi om kommentaar te lewer op die konsep-regulasies voor 16 April 2022.

Wat duidelik gemaak moet word is dat die einde van die nasionale remptoestand nie die einde van die pandemie beteken nie.

Dit beteken slegs dat ons die wyse waarop ons die pandemie bestuur verander en dat ons op gesondheidregulasies eerder as rampsbestuurregulasies sal staatmaak.

Dit beteken dat ons leer om saam te leef met die virus in ons midde.

Dit beteken dat ons sover moontlik terugkeer na die lewens wat ons geleef het voor die uitbreek van die pandemie.

Dit beteken dat ons ons ekonomie selfs verder gaan oopmaak en baie van die sosiale en kulturele aktiwiteite wat ons in die afgelope twee jaar gemis het, sal hervat.

Sedert Oktober verlede jaar is die land op aangepaste waarskuwingsvlak 1 wat beteken het dat baie normale aktiwiteite hervat is, met gesondheidsmaatreëls wat te alle tye gevolg is.

Baie van die beperking op die ekonomie is gelig.

Ons is nou in staat om die beperking verder te verslap.

Met die besluit van watter beperkings om te verslap en watter om te behou, is ons soos voorheen gelei deur die raad van die ministeriële advieskomitee vir KOVID-19.

Ons het ook gekyk na die ervaringe van ander lande, insluitend daardie lande waar die algehele lig van beperkings gevolg is deur ʼn opwelling in infeksies en sterfte.

Wetende dat ons ʼn nuwe fase in ons bestuur van die pandemie betree, het ons die tyd geneem om omvattende besprekings te voer met verskeie belanghebbendes, insluited godsdienstige liggame en tradisionele leiers.

Vroeër vandag het die presidensiële koördineringsraad ʼn vergadering belê wat premiers, burgemeesters van alle metro’s, ministers en adjunkministers, verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga), asook tradisionele leiers byeengebring het.

Gebaseer op hierdie konsultasies en die aanbevelings van die nasionale koronavirusbevelraad, het die Kabinet besluit om verskeie beperkings te verslap as deel van ʼn aangepaste waarskuwingsvlak 1.

Daar word veral veranderings aangebring aan die beperkings op samekomste.

In vorige regulasies was die klem op die plasing van ʼn boonste grens op die aantal mense wat ʼn byeenkoms kon bywoon.

Va nou af sal die benadering wees dat beide binnenshuise en opeluglokale tot 50% van hul kapasiteit mag vul, mits die kriteria vir toegang die bewys van inenting of ʼn KOVID-19-toets nie ouer as 72 uur is.

Waar daar geen voorsiening vir bewus van inenting of ʼn KOVID-19-toets is nie, sal die huidige beperking steeds geld, naamlik 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense in die opelug.

Hierdie veranderings aan die beperkings op samekomste sal in besonder van groot waarde wees vir die sport-, kultuur- en vermaaklikheidbedrywe.

Dit beteken dat indien ons ingeënt is of onlangs negatief getoets het, ons weer sport kan kyk in stadions en musiekkonserte, teateropvoerings, konferensies en ander sulke gebeurtenisse kan bywoon.

Die maksimum mense wat begrafnisse mag bywoon, sal verhoog word van 100 na 200. Soos voorheen sal nagwake, byeenkomste na begrafnisse en “after-tears”-byeenkomste nie toegelaat word nie.

Daar is ook belangrike veranderinge in die regulering van die dra van maskers. Soos voorheen is die verpligtend om ʼn lapmasker of soortgelyke bedekking oor die neus en mond te dra in binnenshuise openbare plekke.

Maskers word egter nie meer vereis in die opelug nie.

Dit beteken dat ons steeds maskers moet dra in winkels, winkelsentrums, kantore, fabrieke, taxi’s, treine en enige ander binnenshuise opensbare plekke.

Maar ons hoef nie meer maskers te dra wanneer ons in die straat loop of in oop spasies is nie, wanneer ons in die buitelug oefen of opelugbyeenkomste bywoon nie.

Die regulasies op sosiale distansiëring verander ook, met ʼn spasie van een meter wat voortaan te alle tye en plekke tussen mense behou moet word, met die uitsondering van skole.

Daar is ook veranderinge aan die regulasies op internasionale reis. Reisigers wat Suid-Afrika binnekom sal voortaan oor ʼn bewys van inenting of ʼn negatiewe PCR-toets nie ouer as 72 uur moet beskik.

Alle oningeënte reisigers wat die land binnekom wat ingeënt wil word, sal ʼn inenting aangebied word.

Hierdie maatreëls sal van krag wees vanaf môre, Woensdag 23 Maart 2022, sodra die nuwe regulasies in die Staatskoerant aangekondig is.

Met hierdie veranderings sal bykans alle beperkings op sosiale en ekonomiese aktiwiteite gelig wees.

Met die oog op die toekoms is ons belangrikste verweer teen die siekte eerstens inenting en tweedens die handhaaf van basiese maatreëls soos die dra van maskers binnenshuis.

Die verdere verslapping van die oorblywende beperkings sal vereis dat ons die inentingskoers onder Suid-Afrikaners verhoog.

Die bewyse toon dat die inenting ernstige ongesteldheid oogmerklik verminder.

Statistieke van ons gesondheidsorgfasiliteite toon duidelik dat mense wat nie ingeënt is nie, ʼn groter kans het om weens KOVID-19 gehospitaliseer te word of aan KOVID-19 dood te gaan.

Inenting verminder ook waarskynlik die ordrag van die virus tuis en in plekke soos skole en universiteite, waar daar nabye kontak tussen mense is.

Ten spyte van die feit dat meer as 68% van mense ouer as 60 jaar ingeënt is, is ons dus besorg daaroor dat slegs 35% van mense tussen die ouderdom van 18 en 35 al ingeënt is.

Dit is van kritiese belang dat heelwat meer mense tussen die ouderdom van 18 en 35 ingeënt word en dit is hoekom ons laasmaand die #KeReady-veldtog geloods het.

Hierdie veldtog sluit in boodskappe wat deur jongmense ontwikkel is en daarop fokus om mense tussen 18 en 35 jaar te motiveer om ingeënt te word.

Daarbenewens wil ons graag almal wat reeds ingeënt is, aanmoedig om hul versterkingsinenting (“booster shot”) te kry.

As ons almal ingeënt is, kan ons ons energie, hulpbronne en mannekrag terugwend na die herbou van ons ekonomie en die skep van broodnodige werksgeleenthede.

Twee jaar gelede, toe ek die begin van ʼn landswye inperking aangekondig het, het ek gesê dat ons vasberadenheid, ons vindingrykheid en ons eenheid as land in die komende weke en maande getoets sou word soos nooit tevore nie.

Ek het ʼn beroep gedoen op almal om hul kant te bring.

“Om dapper te wees, om geduldig te wees, en bowe alles, om deernis te toon.”

Die mense van Suid-Afrika het keer op keer gehoor gegee aan hierdie beroep.

Weereens word daar van ons gevra om ons kant te bring – om ingeënt te word en met hoop en vasberadenheid saam ʼn nuwe era te betree in ons stryd teen die pandemie

Ek dank U.

Share this page

Similar categories to explore