Sitatemende seMhlangano weKhabhinethi ngevidiyo ye-inthanethi  ngaLesitsatfu, mhla tinge-21 INyoni 2022

A. Kwessies in die omgewing

1. Energie

1.1. Die kabinet is deur die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, ingelig oor Eskom se kapasiteit om die periodieke beurtkrag te verlig, en het ook ʼn vorderingsverslag van die tegniese komitee van die Nasionale Energiekrisiskomitee ontvang.

1.2. Daar sal verdere aankondigings gemaak word nadat intensief oor hierdie verslae beraadslaag is.

1.3. Die kabinet het sy spyt uitgespreek oor die onderbreking en ongerief wat besighede en huishoudings as gevolg van beurtkrag ervaar, veral op ʼn tydstip wat die regering aan die werk is aan die maatreëls wat in Julie 2022 deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.

2. Belegging

2.1. Die kabinet het die loods van die nuwe Sandvik Khomanani Vervaardigingsterrein in Kemptonpark verwelkom, wat deel uitmaak van die belegging van R350 miljoen wat by die vierde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie (SABK), wat op 24 Maart 2022 by die Sandton Konvensiesentrum in Johannesburg gehou is, beloof is.

2.2. Die nuwe fasiliteit van 62 000 m2 konsolideer bedrywighede wat voorheen by vyf afsonderlike terreine onderneem is en het ongeveer 550 werknemers in diens. Dit is een van Sandvik se grootste en mees gevorderde fasiliteite ter wêreld en beskik oor die vermoë om ondergrondse laaiers van meer as 60% Suid-Afrikaanse inhoud te vervaardig.

2.3. Die kabinet het ook die oorsigbesoek deur president Ramaphosa in KwaZulu-Natal tydens die loods van Hesto Harnasses se vervaardigingsfasiliteit op 13 September 2022 in Stanger, KwaDukuza, verwelkom. Hierdie fasiliteit is een van vyf kapitale beleggingsprojekte wat deel uitmaak van ʼn onderneming van R1,4 miljard deur Metair Investments Limited om die uitbreiding en lokalisering van die nuwe Ford Ranger te ondersteun.

2.4. Die president het ook die opening van die opgraderings- en uitbreidingsprojek van die Sappi Saiccor-meule ter waarde van R7,7 miljard in Umkomaas bygewoon, wat ten doel het om die kapasiteit en globale mededingendheid van die maatskappy te verhoog en ook kort- en langtermynwerksgeleenthede te skep.

2.5. Dié beleggings maak deel uit van beloftes wat by die SABK deur gemaak is. Elke nuwe belegging in ons land help met die heropbou en herstel van ons ekonomie en stel Suid-Afrika steeds as ʼn gesogte beleggingsbestemming voor.

3. Infrastruktuurontwikkeling

3.1. Die kabinet het die opening van die nuwe gedeelte van die Musina-ringpad in Limpopo verwelkom, wat dit makliker vir mense sal maak om rondom Musina te beweeg en ook verhoogde ekonomiese en handelsaktiwiteite tussen Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapslande, toelaat. Die R640 miljoen-projek het meer as 275 voltydse werksgeleenthede vir plaaslike mense geskep en geleenthede vir plaaslike gemeenskappe en klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) verskaf.

3.2. Die konstruksie van die Musina-ringpad is deel van die regering se infrastruktuurprogram deur die ekonomiese heropbou- en herstelplan (EHHP), wat poog om inklusiewe groei- en werksgeleenthede regoor verskeie sektore en gemeenskappe te skep.

4. Jagersfontein-ramp

1.1. Die kabinet het sy innige meegevoel betuig met die gesinne van diegene wat hulle lewens verloor het nadat die slykdam van ʼn plaaslike verlate myn op 11 September 2022 teen sonsopkoms in Jagersfontein in die Vrystaat gebreek en ʼn rampspoedige modderstorting veroorsaak het. Die ramp het ook plaaslike infrastruktuur, persoonlike eiendom soos voertuie en verskeie huise erg beskadig.

1.2. President Ramaphosa het op Maandag 12 September 2022, tydens sy besoek aan die rampgebied, sy waardering aan die reddings- en herwinningspogings wat in die gebied onderneem word, uitgespreek. Hy het ook belowe dat die regering die nodige steun aan die inwoners van Jagersfontein sal bied. Die kabinet is bemoedig dat die eienaars van die myn gesê het dat hulle gereed is om tegniese hulp en steun aan die regering te bied, sou dit deur die Mineraleraad van Suid-Afrika versoek word.

1.3. Die mynbou-industrie bly ʼn beduidende bydraer tot die ekonomie deur direkte en indirekte indiensneming, uitvoerinkomste en buitelandse direkte belegging, en speel ʼn beslissende rol in die verbetering van mense in mynbougemeenskappe se lewens.

1.4. Die regering en sommige nieregeringsorganisasies het onmiddellik betrokke geraak deur noodskuiling, traumaberading en basiese voorraad soos komberse, matrasse en voedselpakkies te verskaf. Watertoevoer en elektrisiteit in die gebied is intussen herstel.

1.5. Daar word verwag dat tegnici die huise struktureel sal assesseer sodra die terrein opgeruim is. Die kabinet het die nooddienste, burgerlike samelewingsorganisasies en lede van die publiek vir hulle ruimhartige bydraes en hulp bedank.

5. Ekonomie

5.1. Die kabinet het oor die stand van die ekonomie in die land beraadslaag nadat Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se onlangse syfers aangedui het dat die Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir die tweede kwartaal van 2022 met 0,7% afgeneem het. Faktore wat hierdie afname beïnvloed het, behels beurtkrag, die konflik tussen Rusland en Oekraïne en die hoë lewenskoste en inflasie.

5.2. Die ingryping deur die ekonomiese heropbou- en herstelplan (EHHP) het die land grotendeels teen die internasionale wind van voor beskut en ook werksgeleenthede en mense se lewensbestaan beskerm. Die regering se sterk ekonomiese ingryping is besig om vrugte af te werp, soos wat die resultate van Stats SA se onlangse kwartaallikse arbeidsmarkopname toon, wat aandui dat meer as 648 000 poste tussen die eerste en tweede kwartaal van 2022 bekom is.

B. Kabinetsbesluite

1. Moniterings- en evaluasieraamwerk (M&E-raamwerk) vir die Nasionale Jeugbeleid (NJB)

1.1. Die kabinet het die M&E-raamwerk, wat die doeltreffende monitering en impak-assessering van die NJB 2020-2030 se pilare moontlik maak, goedgekeur. Die raamwerk verskaf vyf hoë-vlak-aanduiders wat in ooreenstemming met die NJB se pilare is.

1.2. Die aanduiders is in samewerking met die betrokke belanghebbendes ontwikkel wat ʼn belang in die ontwikkeling en bemagtiging van die land se jeug het. Die dataversameling sal ingevolge ouderdom, geslag, gestremdheid, rassegroepering en die geografiese omgewing van dié intervensies opgedeel word.

1.3. Die monitering sal in alle regeringsfere, entiteite en die privaatsektor gedoen word. Die verslae sal kwartaalliks opgestel en twee keer per jaar gepubliseer word.

2. Beleidsraamwerk vir geïntegreerde beplanning

2.1. Die kabinet het die beleidsraamwerk vir geïntegreerde beplanning in die regering, wat poog om aandag te gee aan die vasgestelde beleidsbeplanningsgapings in die huidige beplanningstelsel, goedgekeur.

2.2. Die voorgestelde intervensies sal onder andere aandag gee aan die gebrek aan beplanningsbelyning binne die drie regeringsfere. Die intervensies sal ʼn moniteringsmeganisme wat op bewyse gebaseer is, bekendstel. Die beleidsraamwerk stel ook makliker voorspelbaarheid met lang- tot medium- en korttermynbeplanning regoor die regering bekend.

2.3. Dit sal bydra tot die bekendstelling van wetgewende hervorming om samehangendheid en voorspelbaarheid in regeringsbeplanning en -monitering te verbeter.

3. Bekragtiging van die verdrag vir die stigting van die Afrika-medisyne-agentskap (AMA)

3.1. Die kabinet het die ondertekening van die verdrag vir die stigting van die AMA en die voorlegging vir die bekragtiging daarvan aan die parlement, goedgekeur. Dit sal uitvoering gee aan die verdrag wat in 2019 deur die Afrika Unie-vergadering aanvaar is. Die verdrag stig amptelik die AMA vir die kontinent. Die agentskap sal mediese produkte reguleer en die veiligheid en doelmatigheid van mediese produkte vir die kontinent, verbeter.

3.2. Die ondertekening en bekragtiging van hierdie verdrag sal Suid-Afrika se globale en kontinentale verpligting teenoor die versterking van die kontinentale reguleringstelsel oor sy gesondheidsprodukte bevorder.

4. Verslag oor die prestasie van die belastingaansporingsprogram vir navorsing en ontwikkeling (N&O) – 2019/20 en 2020/21

4.1. Die kabinet het die voorlegging aan die parlement van die N&O-belastingaansporingsprogram vir die afgelope twee jaar (2019/20 en 2020/21), goedgekeur. Dit is in ooreenstemming met Artikel 11D (17) van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962) wat vereis dat dié verslae in die parlement ter tafel gelê moet word.

4.2. Die belastingaansporingsprogram poog om private maatskappye aan te moedig om in N&O te belê om sodoende beleggingsgroei te stimuleer. Dit maak die vooruitgang van wetenskap en innovasie moontlik sodat dit kan lei tot ekonomiese groei en bevorder ook mededingendheid.

4.3. Die kabinet is verheug dat die verslag aandui dat nuwe maatskappye om die belastingaansporing aansoek gedoen het. Dit moedig meer maatskappye aan om toegang tot hierdie skema te verkry as deel van die groei van hulle onderskeie beleggings en die stimulering van ekonomiese groei.

4.4. Die top vier maatskappye wat toegang tot die belastingaansporing verkry het, is betrokke by  landbouverwerking, mynbouveredeling, chemikalieë, skoonheidsmiddels, farmaseutiese en elektrotegniese- en inligtingstegnologiesektore wat die kabinet as prioriteitsgebiede in die industriële beleidsaksieplan goedgekeur het. Toegang tot die volledige verslag kan deur die Departement van Wetenskap en Innovasie se webwerf, www.dst.gov.za, verkry word.

5. Forum vir die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA in Engels) - 2023

5.1. Die kabinet het die aanbieding van die AGOA-forum in 2023 goedgekeur. AGOA is in 2000 deur die Verenigde State van Amerika (VSA) uitgevaardig om unilaterale handelsvoorkeurtoegang vir die meeste van die sub-Sahara Afrikalande en die VSA se binnelandse mark te verskaf.

5.2. Suid-Afrika se uitvoere onder AGOA behels eetbare vrugte, neute, voertuie, motorkomponente, yster, staal en chemiese produkte. Die werklike datum en plek sal nog aangekondig word.

6. Group on Earth Observations (GEO) se ministeriële spitsberaad– 2023

6.1. Die kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika in 2023 in Kaapstad die GEO-ministeriële spitsberaad aanbied. Die GEO is ʼn tussenregeringsliggaam wat in 2003 ná die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling van 2002, gestig is. Dit dien as multilaterale platform waar lande vrywillig kan bydra tot ʼn gemene doelwit tot die bou van die GEO-stelsels.

6.2. Die GEO het tans meer as 113 nasionale regerings, waarvan 30 vanuit Afrika is, asook ongeveer 140 deelnemende organisasies, waarvan 11 uit Afrika is. Suid-Afrika is sedert 2005 ʼn aktiewe lid van die uitvoerende bestuur en ons wetenskaplikes neem tans deel aan ʼn aantal navorsingsinisiatiewe wat deur die GEO gelei word.

7. Oktober Vervoermaand (OVM) – 2022

7.1. Die kabinet het die loods van die OVM-veldtog op Saterdag 1 Oktober 2002, goedgekeur, met die tema: “Sishov’ingolovane: bou saam vervoerinfrastruktuur wat lewensbestaan bou en ondersteun.”

7.2. Die jaarlikse OVM word gebruik om bewustheid oor vervoer as een van die noodsaaklike elemente in ekonomiese groei en ruimtelike ontwikkeling, te verhoog. Daar sal ʼn aantal aktiwiteite plaasvind om die verskeie aspekte van vervoerinfrastruktuur in lugvaart, seevaart, openbare vervoer en paaie uit te stal. Die aktiwiteite sal ook bewustheid bevorder aangaande vervoerveiligheid en -sekuriteit. Geleenthede met belanghebbendes sal ook gehou word om verskeie uitdagings in die vervoersektor te bespreek.

7.3. Die regering bly daartoe verbind om die land se vervoerinfrastruktuur in sowel landelike as stedelike gebiede te verbeter om sodoende ʼn doeltreffende en doelmatige beweging van goedere en mense moontlik te maak.

8. Verenigde Nasies (VN) se Menslike Nedersettingsprogram Habitatvergadering (VN-HABITAT-vergadering)

8.1. Die kabinet het goedgekeur dat die vergadering van die lede van die VN-HABITAT op 16 en 17 Oktober 2022 in Johannesburg gehuisves sal word.

8.2. Die Departement van Menslike Nedersettings sal dié vergadering wat oor twee dae strek, koördineer wat deur politieke kampioene, praktisyns en navorsers, waaronder belangrike lede van die Komitee vir Permanente Verteenwoordigers van die VN-HABITAT wat in Nairobi, Kenia, gebaseer is, bygewoon sal word. Sleutelkwessies wat bespreek sal word behels die soeke na transformasionele intervensies vir informele nedersettings en krotbuurte.

8.3. Die uitkomstes van hierdie beraadslagings sal kulmineer in die loods van die globale aksieplanraamwerk wat in 2023 in die VN-HABITAT se Vergadering vir bekragtiging ter tafel gelê sal word.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op die Nasionale Raad vir Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV) van 2021

1.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op die Nasionale Raad vir GGGV van 2021 vir verdere verwerking deur die parlement, goedgekeur. Hierdie wetsontwerp bied ʼn wetgewende raamwerk vir die stigting van die statutêre liggaam om ʼn gefokusde ingryping aangaande die hantering van GGGV, te verskaf.

1.2. Dit maak ook voorsiening vir die stigting van die raad se bestuursraad wat strategiese leierskap sal bied en toesig oor die implementering van die nasionale strategiese plan oor GGGV sal hou, wat in Oktober 2020 deur die kabinet vir implementering goedgekeur is. Die bestuursraad sal ʼn verteenwoordiging van 51% vanaf die burgerlike samelewing en 49% vanaf die regering hê. Die wetsontwerp is reeds aan ‘n proses van openbare beraadslaging deur die publiek onderwerp.

2. Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels van 2018

2.1. Die kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels van 2018 aan die Parlement, wat ten doel het om die huidige Wet op die Beheer van Tabakprodukte, 1993 (Wet 83 van 1993) te herroep, goedgekeur.

2.2. Die wetsontwerp poog ook om die land se openbare gesondheidsmaatreëls te versterk en dit in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se Raamwerkkonvensie oor Tabakbeheer, te bring. Die wetsontwerp stel onder andere die volgende voor: 100% rookvrye binnenshuise en sommige opeluggareas, ʼn verbod op die verkoop van sigarette deur outomatiese verkoopmasjiene, en die versterking van sigaretverpakking en waarskuwingstekens.

2.3. Daar was uitgebreide beraadslaging met verskeie belanghebbendes, waaronder die tabakindustrie, burgerlike samelewingsorganisasies en toepaslike regeringsdepartemente.

D. Toekomstige gebeurtenisse

1. Sewe-en-sewentigste sessie van die VN se Algemene Vergadering (UNGA77)

1.1. Suid-Afrika neem aan die UNGA77 deel wat vanaf 20 tot 27 September 2022 by die VN-hoofkwartiere in New York City in die VSA sal plaasvind, met die tema: “A watershed moment: Unlocking transformative solutions to interlocking challenges ”.

1.2. Die herstel van die ekonomiese en sosio-ekonomiese impak van die coronavirussiektepandemie (COVID-19-pandemie) is vir die globale Suide buite verhouding in vergelyking met die ontwikkelde Noorde, en dit vereis ʼn verenigde poging deur alle nasies om te verseker dat niemand agtergelaat word nie.

1.3. Die VN se Sekretaris-Generaal, mnr. António Guterres, sal voor die VN se Algemene Debat ʼn spitsberaad belê oor die “transformasie van onderwys” en ʼn hoë-vlak-vergadering wat op die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’e) fokus, aanbied. Daar word verwag dat die vergadering oor VOD’e maniere sal ondersoek om momentum terug te win en hulle implementering te bespoedig.

2. Erfenisdag

2.1. President Ramaphosa sal op Saterdag 24 September 2022 ʼn programrede by die nasionale Erfenisdagvieringe by die Uniegebou lewer. Die geleentheid sal gehou word met die tema: “Die viering van

2.2. die nalatenskap van Solomon Linda en Suid-Afrika se inheemse musiek”.

2.3. Hierdie jaar se erfenismaand fokus op Suid-Afrika se inheemse musiek, met die kollig op Isicathamiya-musiek en die ontsaglike bydrae daarvan tot ons sport, kuns, kultuur en erfenis. Die tema bring hulde aan die 60ste herdenking van die afsterwe van musikant, sanger en komponis Solomon Popoli Linda (1909-1962), ook bekend as Solomon Ntsele, wat veral bekend is as die komponis van die lied “Mbube”.

3. 2022 Wêreld- Maritieme Dag Parallelle Geleentheid

3.1. Suid-Afrika sal die 2022 Wêreldseevaart parallelgeleentheid vanaf 12 tot 14 Oktober in Durban aanbied. Die geleentheid sal tydens die OVM aangebied word, wat ook deel daarvan uitmaak om bewustheid van ons maritieme sektor te verhoog. Afgevaardigdes van verskeie lande sal die geleentheid bywoon en die Suid-Afrikaanse seevaartindustrie beleef. Suid-Afrika is sedert 1995 ʼn lid van die Internasionale Maritieme Organisasie, ʼn gespesialiseerde agentskap van die VN wat verantwoordelik is vir die regulering van skeepvaart.

4. Toerismemaand

4.1. Toerismemaand word hierdie jaar gevier met dieselfde tema as Wêreldtoerismedag (27 September), nl. “Heroorweeg toerisme”. Binnelandse toerisme is kernbelangrik vir die herstel van die toerismesektor, wat ʼn groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse BBP en werkskepping lewer.

4.2. Die kabinet is verheug dat die gasvryheidsbedryf ʼn toename in besoekers na die COVID-19-tydperk aangeteken het. Die 15,2 miljoen binnelandse reise wat in die eerste helfte van 2022 onderneem is, het ʼn verhoging van 114% aangedui vergeleke met dieselfde tydperk in 2021. Dit dui ʼn beduidende verbetering aan vir dieselfde tydperk in 2019, waartydens 8,6 miljoen binnelandse reise onderneem is. Die kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om, as deel van die viering van toerismemaand, ‘Shotleft’-toere na ons verskeie provinsie te onderneem.

4.3. Die kabinet het ook die besluit deur Air Belgium om van vandeesmaand (September) af seisoenale vlugte na Suid-Afrika aan te bied, verwelkom, wat toerisme sal bevorder en ons status as gesogte toerismebestemming verder sal verhoog. Dit sal weeklikse vlugte na Kaapstad en Johannesburg insluit.

E. Boodskappe

1. Gelukwense

Die kabinet het sy gelukwense en welmenendheid oorgedra aan:

  • President William Samoei Ruto van die Republiek van Kenia, wat op Dinsdag 13 September 2022, na ‘n vreedsame nasionale verkiesing wat op 9 Augustus 2022 gehou is, ingehuldig is. Adjunk-president David Mabuza het die inhuldiging namens president Ramaphosa, die regering en die mense van die Republiek van Suid-Afrika, bygewoon. 
  • Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en die Stad Kaapstad vir die suksesvolle aanbieding van die agste rugbywêreldbeker-sewestoernooi tussen 9 en 11 September 2022. Dit was die eerste keer dat hierdie toonaangewende geleentheid deur ʼn Afrika-land aangebied is en die duisende entoesiaste wat dit bygewoon het, het ʼn fees van rugby en die welbekende gasvryheid van Suid-Afrika beleef.

2. Medelye

Die kabinet het sy medelye betuig met die familie en vriende van:

  • die 18 skoolkinders en twee volwassenes wat op Vrydag 16 September 2022 in ʼn afgryslike ongeluk in Pongola, KwaZulu-Natal, oorlede is nadat ʼn vragmotor met ‘n leunwa kop-aan-kop met ʼn bakkie wat leerders vervoer het, gebots het.

F. Aanstellings

1. Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.

a. Mnr. Makgothi Samuel Thobakgale as Direkteur-Generaal (DG): Nasionale Kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste.
b. Dr. Malixole Percival Mahlati as Adjunk-DG: Hospitale, Tersiêre Gesondheidsdienste en Menslike Hulpbronontwikkeling in die Departement van Gesondheid.
c. Mnr. Siyabonga Blessing Mdubeki as Hoof-Landmeter-Generaal in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
d. Mnr. Phaswa Phineas Mamogale as Hoof- Finansiële Beampte in die Departement van Gesondheid.

2. Die kabinet gaan akkoord met die volgende aanstellings:

a. Mnr. Tshediso Matona as Kommissaris van die Kommissie vir Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging.
b. Lede van die Appèltribunaal van die Film- en Publikasieraad:

  • Mnr. Siyazi Tyamtyam (Voorsitter)
  • Me. Sohani Natasha Chundhur
  • Me. Sisanda Nkoala
  • Me. Shandukani Mulaudzi
  • Me. Nomaswazi Rachel Shabangu-Mndawe
  • Dr. Litheko Modisane
  • Mnr. Phuti Nehemia Phukubje
  • Mnr. James Shikwambana en
  • Me. Manko Thalitha Bufffel (heraanstelling).

Navrae: Me. Phumla Williams – kabinetswoordvoerder

Selfoon: 083 501 0139

Uitgereik deur: Regering se Kommunikasie- en Inligtingsdiens (GCIS)

Datum: Vrydag 23 September 2022

www.gcis.gov.za; www.gov.za

 

Share this page

Similar categories to explore