Boodskap deur President Cyril Ramaphosa oor die COVID-19 pandemie

My mede-Suid-Afrikaners,
Goeienaand,

Dit is nou vier dae sedert ons land vir die eerste keer in die geskiedenis van ons demokrasie 'n landwye inperking het.

Dit is uiterste maatreëls wat ons moes neem in reaksie op die Covid-19-pandemie.

Die regering is bewus daarvan dat die inperking groot ontwrigting in almal se lewens veroorsaak het en ’n omwenteling in ons ekonomie veroorsaak het.

Maar ons almal weet en ons stem saam dat hierdie landwye inperking noodsaaklik is om die lewens van duisende, selfs tienduisende, van ons mense te red.

Baie lande op ons vasteland en in ons eie streek, die SAOG, het soortgelyke maatreëls ingestel.

Die siekte versprei vinnig in baie lande regoor die wêreld met ongeveer 740 000 mense wat reeds wêreldwyd besmet is.

Meer as 35 000 mense het hul lewens verloor.

Die gesondheidstelsels van baie lande, insluitend hospitale en klinieke, is onder geweldige druk as gevolg van die pandemie.

Ons eie navorsers en wetenskaplikes stem saam dat ons besluit om die land in te perk, die korrekte besluit was.

Hulle was bekommerd dat ons sonder vinnige optrede oor slegs 'n paar weke in soortgelyke situasies as ander lande wat nadelig geraak is, kon wees.

Daarom het ons die radikale stap geneem om die land vir 21 dae in te perk.

Suid-Afrikaners het grotendeels verantwoordelik op hierdie besluit gereageer deur tuis te bly, die regulasies na te kom en met groot sorg op te tree.

Ek wil die mense van Suid-Afrika bedank vir hulle gedissiplineerde optrede gedurende hierdie baie moeilike tydperk.

Ons is egter besorg oor diegene wat nog nie die erns van hierdie siekte besef nie.

As 'n nasie was ons baie hartseer om te verneem dat drie Suid-Afrikaners die laaste paar dae weens die siekte gesterf het.

Ons betuig ons innige meegevoel met hulle naasbestaandes, hul vriende en hul gemeenskappe.

Die aantal infeksies neem steeds toe en daar is nou 1 326 bevestigde koronavirusgevalle in Suid-Afrika.

Daarom doen ek 'n beroep op elke Suid-Afrikaner om die volgende 17 dae tuis te bly.

Verlaat u huis slegs as u kos en noodsaaklike items nodig het, 'n maatskaplike toelaag moet gaan haal, medisyne koop of dringend mediese sorg nodig het.

Die enigste mense wat kan gaan werk, is gesondheidswerkers, veiligheids- en noodpersoneel, diegene wat werk om mense te voorsien van voedsel, medisyne en basiese goedere en ander verskaffers van noodsaaklike dienste soos omskryf in die regulasies.

As u wel moet uitgaan, sorg dat u alles in u vermoë doen om nie besmet te word nie en niemand anders te besmet nie.

Sommige mense dink miskien dat hierdie siekte hulle nie raak nie, en dat dit hulle nooit sal raak nie.

Hulle dink dat dit iets is waaroor hulle net in koerante lees of berigte op TV sien.

Maar dit is ’n werklikheid, en dit hou 'n groot gevaar vir elkeen van ons en ons samelewing in.

Dit besmet ryk en arm, jonk en oud, swart en wit, diegene wat in die stede woon en dié in dorpe.

Laat ons nie die fout maak om te dink dat dit iemand anders se probleem is nie.

Elke keer as u die regulasies oortree wat die regering uitgevaardig het of probeer om die reëls teë te werk, stel u uself en ander in gevaar en help u die virus om te versprei.

Die volgende 17 dae sal vir almal moeilik wees.

Ouers is bekommerd oor die veiligheid van hul kinders.

Kleinsake-eienaars en informele handelaars verloor baie of al hul inkomste.

Werkers is bekommerd oor hul werk.

Bejaardes en verswaktes het mense nodig om vir hulle te sorg.

Sommige mense wat op straat woon, het geen skuiling of kos nie.

Studente mis hul lesse in die klas en is bekommerd oor die toekoms.

Almal van ons kry tans swaar en ervaar groot angs.
Ons ervaar verskeie uitdagings wat 'n geweldige las op ons mense plaas.

Daarom neem ons verskillende stappe om ondernemings in nood te ondersteun, werkers wie se werk bedreig word te help en finansiering aan klein sakeondernemings te bied.

Ons bied skuiling aan mense wat haweloos is.

Ons gaan voort om water af te lewer na gebiede wat nie water het nie, sodat ons mense goeie higiënevlakke kan handhaaf.

Ons is veral bekommerd oor die impak van die inperking op mense wat in eie diens is en informele ondernemings.

Ons is dringend besig om bykomende maatreëls te ontwikkel om hulle las gedurende hierdie moeilike tyd te verlig.

Ons weet dat daar baie Suid-Afrikaners is wat tans in die buiteland is en wil huis toe kom.

Ons gee aandag hieraan en sal hulp verleen waar moontlik binne ons beperkte hulpbronne.

My mede-Suid-Afrikaners,

Ons betree nou 'n nuwe fase in die stryd teen die Covid-19-pandemie.

In die komende dae sal die regering 'n keurings-, toets-, opsporing- en mediese bestuursprogram op groot skaal implementeer.

Ongeveer 10 000 veldwerkers sal huise besoek in klein gemeenskappe, dorpe en stede om inwoners vir Covid-19-simptome te ondersoek.

Mense met simptome sal na plaaslike klinieke of mobiele klinieke verwys word vir toetsing.

Mense wat met die koronavirus besmet is, maar wat geen simptome het nie of net matige simptome het, sal tuis in isolasie bly of by 'n fasiliteit wat deur die regering voorsien is, terwyl diegene met ernstige simptome na hospitale oorgeplaas sal word.

Met behulp van mobiele tegnologie sal 'n uitgebreide opsporingstelsel vinnig ontplooi word om diegene op te spoor wat met bevestigde koronavirusgevalle in kontak was, en om die geografiese ligging van nuwe gevalle in reële tyd te monitor.

Hierdie optrede is verreikend, dit is intensief en is ongekend in omvang.

Hierdie ernstige gesondheidsnoodtoestand vind plaas in 'n tyd waarin ons ekonomie onder groot druk verkeer.

Toe die land in ‘n staat van inperking geplaas is, het ons die nuus ontvang dat die graderingsagentskap Moody's, Suid-Afrika na 'n sub-beleggingsgraad afgegradeer het.

Dit sal die leenkoste aansienlik verhoog om staatsbesteding te befonds en sal die ekonomie negatief beïnvloed.

Hierdie ontwikkeling sal nie ons reaksie op die Covid-19-pandemie op enige manier verswak nie.

Ons gaan voort om die nodige gesondheidsingrypings en ekonomiese en maatskaplike maatreëls in werking te stel om die verspreiding van die siekte te stuit en die gevolge daarvan op ons mense te verlig.

Binne die beperkinge van die huidige krisis, bly ons daartoe verbind om strukturele ekonomiese hervormings in werking te stel om oplossings te vind vir swak ekonomiese groei, beperkte openbare finansies en sukkelende ondernemings in staatsbesit.

Ons werk saam met ons maatskaplike vennote om verdere maatreëls te identifiseer wat ons kan instel om die skade aan ons ekonomie te beperk, en om te verseker dat wanneer ons uit hierdie pandemie kom, ons ekonomie op 'n duidelike groeipad gestuur kan word.

Hoewel ons land op verskillende gebiede diep en dringende uitdagings ervaar, is daar geen twyfel by my dat ons dit sal oorwin nie.

Dit is omdat Suid-Afrikaners soos nog nooit tevore bymekaargekom het en saamstaan om die stryd teen hierdie virus te voer nie.

Baie besighede en individue lewer finansiële en ander bydraes hiertoe.

Benewens die finansiële beloftes wat verlede week aangekondig is, verwelkom ons die verbintenis van die Motsepe-stigting van R1 miljard en deur Naspers van R1,5 miljard in reaksie op die koronavirus.

Ons is ook baie dankbaar teenoor mnr. Jack Ma, die stigter van die Chinese maatskappy Alibaba, wat noodsaaklike mediese voorraad aan Suid-Afrika en ander lande regoor Afrika geskenk het.

Ons bedank ons verpleegkundiges, dokters en ander gesondheidswerkers, maatskaplike werkers en staatsamptenare, vrywilligers en NRO's wat die stryd teen die siekte lei.

Ons bedank die 18 000 veiligheidspersoneel, uit die geledere van die polisiediens, die weermag, metropolisie en ander instansies, wat vir ons veiligheid verantwoordelik is.

Ons het dit duidelik gemaak dat ons veiligheidspersoneel die taak het om ons mense te ondersteun, gerus te stel en te vertroos en om te verseker dat vrede en orde gehandhaaf word.

Hulle weet dat hulle te alle tye binne die wet moet optree en dat hulle nie ons mense skade mag berokken nie.

En dan is daar elkeen van julle, die 58 miljoen Suid-Afrikaanse burgers en inwoners wat saamstaan as een in hierdie nasionale gesondheidsnoodtoestand.

Onder ons is die mans en vroue wat elke dag teen dagbreek opstaan en deur die nag werk om hierdie land aan die gang te hou.

Ek praat van die plaaswerker wat help om ons van voedsel te voorsien.

Ek praat van die tegnikus in die kragsentrale wat skof na skof werk om die ligte aan te hou.

Ek praat van die versorger in die ouetehuis, die kinderhuis en die hospies wat elke dag inkom om die kwesbaarste van ons burgers te versorg.

Aan die taxibestuurder, die vullisversamelaar, die supermarkkassier, die hospitaalskoonmaker, die petroljoggie en al die noodsaaklike dienste, julle is ons onbesonge helde en ons huldig julle.

Te midde van hierdie onsekerheid is daar 'n verhaal wat vir ons hoop en bemoediging bring.

Gister het ek die 114 Suid-Afrikaners ontmoet wat uit Wuhan in China ontruim is en na twee weke in kwarantyn in Polokwane na hul huise gaan terugkeer.

Hulle is 'n groep wonderlike Suid-Afrikaners van uiteenlopende ouderdomme, ras, geslag en plek van herkoms.

Hulle was maande lank ingeperk, eers vir 51 dae in Wuhan en daarna vir 14 dae in Polokwane.

Nou moet hulle 'n verdere 17 dae van inperking tuis deurbring.

Ons moet almal bly wees dat hulle negatief vir die virus getoets het en dat hulle gesond is.

Hulle is opgeruimd en is baie dankbaar vir wat die land vir hulle gedoen het deur hulle veilig huis toe te bring.

Sommige is studente, ander is onderwysers, ander het in China gewerk.

Ons bedank die SAL-bemanning, die mediese span, die polisie, soldate en die wonderlike personeel en bestuur van die Ranch Hotel vir die sukses van hierdie operasie.

Die ervaring van die Suid-Afrikaners wat uit Wuhan teruggekeer het, gee ons moed om die uitdagings wat voorlê die hoof bied.

Dit is onbekende omstandighede vir ons almal.

Ons het nog nooit vantevore 'n soortgelyke situasie ervaar nie; ons sal 'n paar foute begaan, maar ons vra ons mense om te verstaan dat dit alles tot voordeel van almal gedoen word.

En ons sal aanhou om die foute reg te stel waar dit ook al gemaak word.

Ek is oortuig daarvan dat ons sal slaag, omdat ons die bedreiging van die koronavirus ernstig opneem; ons sal as 'n samelewing aanpas en ons sal almal verantwoordelik optree.

As ons saamwerk, as ons op die pad bly wat ons weet ons moet neem, sal ons hierdie siekte oorwin.

Ek twyfel geensins daaraan dat ons dit sal oorwin nie.

Ek wens u 'n goeie nag toe.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.
 

Share this page

Similar categories to explore