President Cyril Ramaphosa: Staatsrede

Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa

Speaker van die Nasionale Vergadering, me Thandi Modise,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, mnr. Amos Masondo,
Adjunkpresident David Mabuza,
Hoofregter Mogoeng Mogoeng en gewaardeerde lede van die regbank,
Voormalige President, mnr. Kgalema Motlanthe,
Voormalige President, mnr. Thabo Mbeki,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, dr. Frene Ginwala,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, mnr Max Sisulu,
Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, me Baleka Mbete,
Voorsitter van die Pan-Afrikaanse Parlement, mnr Roger Nkodo Dang,
Veterane van die bevrydingstyd,
Dr Dennis Goldberg,
Dr Andrew Mlangeni,
Advokaat Priscilla Jana,
Me Joyce Dipale,
Me Lillian Keagile,
Me Smally Maqungo,
Ministers en adjunkministers,
Premiers en speakers van provinsiale wetgewers,
Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Plaaslikeregeringsvereniging en Uitvoerende Burgemeesters,
Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, mnr. Lesetja Kganyago,
Hoofde van Hoofstuk 9 Instansies,
Leiers van geloofsgebaseerde organisasies,
Leiers van akademiese en navorsingsinstellings,
Lede van die diplomatieke korps,
Genooide gaste,
Geagte lede van die Nasionale Vergadering,
Geagte lede van die Nasionale Raad van Provinsies,
Mede-Suid-Afrikaners,

Ons vergader hier aan die begin van die sesde Demokratiese Parlement, 106 jaar tot die dag nadat die Wet op Naturellegrond - een van die mees verwoestende dade van ontneming, pyn en vernedering - in werking getree het.

Ons onthou die woorde van Sol Plaatje tydens daardie tragiese gebeurtenis toe hy gesê het:

"Toe inheemse Suid-Afrikaners op Vrydagoggend 20 Junie 1913 ontwaak het, het hulle hulself nie eintlik as slawe nie, maar as verstotelinge in hul geboorteland bevind."

Ons mense het swaar gely en mateloos swaargekry as gevolg van die implementering van die Wet op Naturellegrond. Die uitwerking van daardie wet is steeds met ons.

Meer as 'n eeu ná daardie ernstige onreg, word daar ’n beroep op ons gedoen om 'n Suid-Afrika te bou waar geen persoon ’n slaaf of verstoteling sal wees nie, net vry en gelyk en gerespekteer.

Ons vergader hier op 'n uiters moeilike en uitdagende tyd in die bestaan van ons jong demokrasie.

Tog is dit ook 'n oomblik in ons geskiedenis wat hoop en belofte inhou.

Oor die afgelope 25 jaar van demokrasie het ons merkwaardige vordering gemaak met die bou van 'n nuwe nasie waarin alle Suid-Afrikaners gelyke regte en uitgebreide geleenthede het.

Oor die afgelope 25 jaar het ons baie gedoen om in mense se basiese behoeftes te voorsien, armoede te verminder en 'n vernietigde ekonomie, wat net die belange van ’n minderheid gedien het, te transformeer.

Deur saam te werk, het ons 'n stewige fondament gelê waarop ons 'n land kan bou

waarin almal vrede, vertroosting en tevredenheid sal beleef.

Tog is dit ook 'n tyd waartydens ons land ernstige uitdagings in die gesig staar.

Ons ekonomie groei nie. Daar word nie genoeg werk geskep nie.

Dít is die kommer wat bo alle ander uitstyg.

Dit raak almal.

Dit raak jou, die jongman eMzimhlophe in Soweto, wat al vyf jaar uit die skool is en nog steeds nie werk het nie.

Dit beïnvloed jou, die enkelmoeder van Delft, wie se toelae nie net jouself onderhou nie, maar ook jou kleinkinders.

Dit maak jou ook seer, die werker in Nelson Mandelabaai, wat ondanks die feit dat jy 'n salaris verdien, steeds sukkel om die mas op te kom.

Dit is moeilik vir jou, die jong student van die Sol Plaatje Universiteit in die Noord-Kaap, wat moet staatmaak op 'n karige toelae van jou ouers om jouself te voed.

Die alledaagse werklikheid van ons mense is presies wat ek nou net beskryf het.

Julle stryd is die daaglikse stryd wat ons land se mense stry.

Ons het jou, en baie ander, gehoor.

Baie van ons wat verkose verteenwoordigers is, het die afgelope paar maande deur die lengte en breedte van die land gereis om na ons mense te luister.

Sibezwile abantu bakithi, bekhuluma nathi, singena siphuma ezindllini zabo.

Ro vha pfa hoṱhe he ra tshimbila hone. Ndi amba na he ha tshimbila Vho Maimane na Vho Julius Malema.

Lapho kuhambe khona u-Honourable Buthelezi naye uzwile ukuthi abantu bathini.

Ons het ook gesien dat Mnr Groenewald na al die uithoeke van die land gereis het en hy kan ook sê dat hy die mense gehoor het.

Sinizwile. Hi swi twile. Ro ni pfa. Re le utlwile. (We have heard you).

Deur die verkiesing wat in Mei gehou is, het julle vir ons almal ’n duidelike mandaat gegee vir groei en vernuwing.

Almal van ons het julle gehoor - ekself, Eerbare Maimane, sy Edele Malema, sy Edele Buthelezi, sy Edele Groenewald, sy Edele Meshoe, sy Edele Holomisa, sy Edele Zungula, haar Edele De Lille, haar Edele Magwaza-Msibi, sy Edele Galo, sy Edele Lekota, sy Edele Nyhontso en sy Edele Hendricks.

Die blywende ​​nalatenskap van apartheid het ons land met ernstige strukturele probleme gelaat - ekonomies sowel as sosiaal.

Terselfdertyd het ons te doen met die vinnige tegnologiese verandering wat 'n nuwe werksomgewing inlui; dit omvorm die globale ekonomie en herdefinieer sosiale verhoudinge.

Saam met ander nasies van die wêreld, word ons ook gekonfronteer met die verwoestendste veranderinge in die globale klimaat in menslike heugenis.

Die uiterste weerstoestande wat verband hou met die verwarming van die atmosfeer, bedreig ons ekonomie, dit bedreig ons mense se die lewens; as ons nie nou optree nie, sal dit ons voortbestaan ​​bedreig.

Ons het gehoor dat die jongmense wat verlede week na die Uniegebou marsjeer het, daarop aangedring het dat ons daadwerklik moet optree om ons planeet te beskerm.

Dit was om hierdie fundamentele uitdagings aan te pak dat ons in 2012 die Nasionale Ontwikkelingsplan (NGD) goedgekeur het as ’n riglyn vir ons nasionale poging om armoede, werkloosheid en ongelykheid die hoof te bied.

Maar met 10 jaar voordat die jaar 2030 aanbreek, het ons tot dusver nie genoeg vordering gemaak om die NDP-teikens te bereik nie.

Tensy ons buitengewone maatreëls tref, sal ons nie Visie 2030 verwesenlik nie.

Dit beteken dat ons moet prioritiseer.

Ons moet fokus op die optredes wat die grootste impak sal hê, optredes wat vinniger vooruitgang sal verseker, in die huidige termyn sowel as oor die volgende 10 jaar.

Dit is opmerklik dat die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk vir die afgelope vyf jaar meer as 1 100 aanwysers gehad het waardeur ons vordering met die implementering van die NDP sou meet.

Nou is die tyd om te fokus op implementering.

Dit is tyd om keuses te maak.

Sommige van hierdie keuses kan moeilik wees en sal nie al ons mense tevrede stel nie.

In 'n ekonomie wat nie groei nie, in 'n tyd waarin openbare finansies beperk is, sal ons nie alles op een slag kan doen nie.

Terwyl ons hierdie nuwe administrasie betree, sal ons op sewe prioriteite fokus:

  • Ekonomiese transformasie en werkskepping
  • Onderwys, vaardighede en gesondheid
  • Die konsolidering van die sosiale loon deur betroubare en gehalte basiese dienste is nog 'n belangrike prioriteit
  • Ruimtelike integrasie, menslike nedersettings en plaaslike regering
  • Sosiale kohesie en veilige gemeenskappe is nog 'n belangrike prioriteit
  • Die bou van 'n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat
  • 'n Beter Afrika en wêreld.

Al ons programme en beleide oor alle departemente en agentskappe heen, sal gerig word op die strewe na hierdie oorkoepelende take wat ons glo tot 'n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners sal lei.

Terselfdertyd moet ons die NDP herstel as die middelpunt van ons nasionale pogings, om dit lewendig te maak, om dit deel te maak van Suid-Afrikaners se alledaagse lewens.

By die inhuldiging het ons gesê dat dit 'n belangrike oomblik vir ons jong nasie is.

'n Nasie wat groot uitdagings in die gesig staar. 'n Nasie van 57 miljoen mense, wat oor die jare opgestaan ​​het en een van die verskriklikste stelsels wat ooit deur mense, saamgestel is, naamlik apartheid, verslaan het. 'n Nasie van mense met moed; 'n nasie van mense met groot toewyding.

Ons het ook gesê dat ons deur ons huidige dade ons lot sal bepaal.

Terwyl Suid-Afrika die volgende 25 jaar van demokrasie betree, en die doelwitte van die NDP nastreef, laat ons 'n dapper en ambisieuse doelwit verkondig, 'n verenigende doelwit waaraan ons al ons hulpbronne en energie wy.

Soos ons die laaste dekade van Visie 2030 betree, laat ons die Suid-Afrika waarna ons streef, selfs duideliker definieer en ooreenkom oor die daadwerklike optrede wat nodig is om dit te bereik.

Om te verseker dat ons pogings doelgerig is, stel ek voor dat ons binne die prioriteite van hierdie administrasie saamstem oor vyf fundamentele doelwitte vir die volgende dekade, wat deel uitmaak van hierdie sewe prioriteite.

Kom ons aanvaar as 'n nasie met mense wat verenig is deur hul aspirasises, dat ons binne die volgende 10 jaar vordering sal maak met die stryd teen armoede, ongelykheid en werkloosheid, om te verseker dat:

  • Niemand in Suid-Afrika sal honger ly nie. Dit is 'n kragtige plan en ek glo ons sal dit bereik.
  • Ons ekonomie sal teen 'n baie vinniger koers groei as ons bevolking.
  • Twee miljoen meer jongmense sal in diens wees.
  • Ons skole sal beter opvoedkundige resultate hê en elke 10-jarige sal kan lees vir betekenis.
  • Geweldsmisdaad sal gehalveer word, indien nie uitgeskakel nie.

Kom ons verbind ons nou tot hierdie doelwitte – vir onsself en vir mekaar – met die wete dat hulle ons hulpbronne en vermoëns sal uitbrei, maar met dien verstande ​​dat ons, ons samelewing fundamenteel sal verander as ons hierdie vyf doelwitte bereik.

Ons stel hierdie ambisieuse doelwitte nie ondanks die ernstige probleme van die hede nie, maar as gevolg van hulle.

Ons stel hierdie doelwitte sodat die besluite wat ons nou neem sterker is en ons met groter dringendheid optree.

Ons vasberadenheid dat binne die volgende dekade geen persoon in Suid-Afrika honger sal ly nie, is fundamenteel tot ons poging om armoede uit te wis en ongelykheid te verminder.

Benewens werkskepping en ander ekonomiese geleenthede, beteken dit dat ons die sosiale loon moet versterk en die lewenskoste moet verminder.

Dit beteken dat ons die bekostigbaarheid, veiligheid en integrasie van pendelvervoer vir lae-inkomste huishoudings moet verbeter.

Terwyl ons groot vordering gemaak het met die voorsiening van behuising, benodig baie Suid-Afrikaners steeds grond om huise te bou en ’n lewensbestaan ​​te verdien.

In die volgende vyf jaar sal ons die verskaffing van goedgeleë behuising en grond aan arm Suid-Afrikaners versnel.

Om Suid-Afrikaners se lewensgehalte te verbeter, om armoede in al sy dimensies te verminder en om ons ekonomie te versterk, sal ons aandag gee aan ons mense se gesondheid.

Ons moet aandag gee aan die kapasiteit van ons hospitale en klinieke.

'n 80-jarige ouma kan nie en behoort nie 'n hele dag in 'n tou te staan en wag vir haar medisyne nie.

'n Siek pasiënt kan nie weggewys word omdat daar 'n tekort aan dokters en verpleegsters is nie.

'n Vrou wat geboorte gee kan haar ongebore kind se lewe nie in gevaar stel omdat die ambulans te lank neem om op te daag nie.

As deel van die werk wat ons dringend moet doen om die gehalte van die gesondheidstelsel te verbeter, finaliseer ons die ooreenkoms vir die Presidensiële Gesondheidsberaad, wat die insigte en die vermoëns van al die betrokke belanghebbendes in ag sal neem en mobiliseer om die krisis in ons klinieke en hospitale die hoof te bied.

Ons het goed gevorder met die hersiening van die gedetailleerde implementeringsprogram vir die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NHI), insluitend om die gehalte van sorginisiatiewe in openbare fasiliteite, die bou van menslike hulpbronkapasiteit, die vestiging van die NHI-fondsstruktuur en die koste van die administrasie van die NHI-fonds, te versnel.

Ons bly bekommerd oor stygende MIV-infeksiesyfers, veral onder jong vroue, en die betreklike lae aantal mans wat vir MIV toets en met behandeling begin.

Ons sal ons werk versterk om die 90-90-90-Strategie te implementeer om MIV as 'n openbare gesondheidsbedreiging te beëindig. Dit beteken dat die aantal mense wat behandeling ontvang, met minstens twee miljoen mense moet toeneem.

As ons die uitdaging van armoede in ons samelewing suksesvol die hoof wil bied, sal ons vaardighede moet voorsien en ekonomiese geleenthede vir mense met gestremdhede moet skep.

Dit is dus baie kommerwekkend dat ongeveer 'n halfmiljoen kinders met gestremdhede wat van skoolgande ouderdom is, nie op skool is nie.

In reaksie op hierdie uitdagings het ons in die Presidensie die koördinering van gestremdheidsinisiatiewe na die sentrale regering verskuif.

Ons het die Presidensiële Werkgroep vir Gestremdheid weer aan die gang gesit en die Protokol oor die Regte van Persone met Gestremdhede in Afrika aan die Parlement voorgelê vir bekragtiging.

Om die probleme van die werkende armes die hoof te bied, is die nasionale minimumloon reeds ses maande lank in plek en vroeë aanduidings is dat baie maatskappye aan die voldoen.

Die Nasionale Kommissie op Minimumlone sal na verwagting teen einde September 2019 navorsing oor die impak van die minimumloon op indiensneming, armoede, ongelykheid en loonverskille, afhandel.

Ons kan nie ons ekonomie omkeer sonder 'n onverbiddelike fokus op ekonomiese groei nie.

Binne die volgende dekade is dit ons strewe om ons ekonomie te laat groei teen 'n koers wat veel groter is as ons bevolking.

Slegs wanneer ons konsekwent hoë groeikoerse bereik, sal ons die ekonomiese skade van die verlede kan omkeer.

Ons maak hierdie bewering op 'n tyd wanneer die ekonomiese vooruitsigte uiters swak is.

Ná die skerp inkrimping van groei in die eerste kwartaal, voorsien die Reserwebank dat die groei in 2019 laer sal wees as wat in die Februarie-begroting verwag is.

Een van die redes vir die tekort aan ekonomiese prestasies, is die instel van beurtkrag vroeër vanjaar, tesame met die volgehoue ​​onsekerheid oor die voorsiening van elektrisiteit en die stand van Eskom.

Die les is duidelik: om te groei, het ons betroubare en volhoubare voorsiening van elektrisiteit nodig.

Eskom het ernstige finansiële, operasionele en strukturele probleme.

Eskom het sedert beurtkrag vroeër vanjaar ingestel is, heelwat vordering gemaak met die implementering van sy Negepuntplan, wat beter onderhoud van sy kragopwekkingsvloot verseker, sowel as die vermindering van koste en voldoende steenkoolreserwes.

In ooreenstemming met die aanbevelings van beide Eskom se Taakspan vir Volhoubaarheid en die Tegniese Oorsigspan, ontplooi Eskom sy bekwaamste en mees ervare personeel waar dit die nodigste is.

Die elektrisiteitsvoorsiener se finansiële posisie bly 'n ernstige saak.

Met die huidige toegewyde befondsing deur die regering, soos uiteengesit in die 2019-begroting, het Eskom genoeg fondse om sy verpligtinge tot einde Oktober 2019 na te kom.

Vir Eskom om sy lenings nie te betaal nie, sal die oorblywende skuld oorskry word, wat 'n groot impak op die reeds beperkte fiskus sal hê.

Ons sal dus hierdie saak moet aanpak deur dringend 'n spesiale begrotingswetsontwerp op te stel om 'n beduidende deel van die fiskale ondersteuning van R230 miljard wat Eskom in die volgende 10 jaar in die vroeë jare benodig, toe te ken.

Ons moet dit doen omdat Eskom te noodsaaklik vir ons ekonomie is om toegelaat te word om te misluk. Eskom is ons kollektiewe verantwoordelikheid as 'n nasie en ons moet verseker dat ons dit ondersteun.

Verdere besonderhede sal mettertyd deur die Minister van Finansies aangekondig word.

Ons sal die aanstelling van 'n nuwe hoof uitvoerende beampte bekend maak, na aanleiding van mnr. Phakamani Hadebe se uittrede. Hy het op 'n baie moeilike tyd by Eskom aangeluit en het, saam met die direksie onder leiding van mnr. Jabu Mabuza, baie gedoen om die maatskappy te stabiliseer.

Ons sal binnekort 'n hoofbeampte vir herstrukturering aanstel, van wie verwag sal word om Eskom finansieel te herposisioneer met noukeurige aandag aan die balans tussen die inkomste, skuld en kostestruktuur van die maatskappy.

Eskom werk ook met die regering en ander belanghebbendes om sy breë strukturele plan en sy algehele skuld, sowel as die skuld wat deur munisipaliteite en individuele gebruikers verskuldig is, aan te pak.

As 'n land moet ons die beginsel handhaaf dat diegene wat elektrisiteit gebruik, daarvoor moet betaal.

Versuim om te betaal belemmer ons algehele elektrisiteitsvoorsiening, ons ekonomie en ons pogings om werk te skep.

Die tyd is verby om betalings te boikot. Dit is nou die tyd om te bou, dit is tyd dat ons almal ons eie bydrae lewer.

Daarom doen ons ’n beroep op al ons mense wat elektrisiteit gebruik om te betaal sodat Eskom in staat sal wees om krag te voorsien.

Mede-Suid-Afrikaners,

Om ons groeidoelwitte te bereik, sal ons die grondslag van ons ekonomie herbou deur die produktiewe sektore te laat herleef en uit te brei.

Dit vereis dat ons, ons nywerheidstrategie moet heroorweeg, private beleggings moet losmaak en die staat moet stimuleer om ekonomiese insluiting te bevorder.

Dit vereis dat die Staat sy rol doeltreffend speel as 'n instaatsteller wat basiese dienste en kritiese infrastruktuur bied, 'n reguleerder met reëls wat gelyke geleenthede vir alle spelers bied en 'n herverdeler wat verseker dat die kwesbaarste mense in die samelewing beskerm word en 'n kans kry om hul volle potensiaal uit te leef.

Daar is ook 'n ander rol wat ons wil hê die staat moet speel, naamlik die entrepreneursrol; 'n rol waar 'n Staat sekere risiko's kan neem om die ekonomie in staat te stel om te groei.

Ons sal voorkeur gee aan die ekonomiese sektore wat die grootste potensiaal vir groei het.

Op grond van ons suksesse in die motorsektor sal ons meesterplanne in werking stel wat saam met die sakesektor en arbeid in nywerhede soos klere en tekstiele, gas, chemikalieë en plastiek, hernubare produkte en staal- en metaalvervaardiginsektore toegepas word.

Ons gaan die landbou- en agroverwerkingsektor wesenlik uitbrei deur kern waardekettings en -produkte te ondersteun, nuwe markte te ontwikkel en ons afhanklikheid van landbou-invoere te verminder.

Ons sal die mynbedryf versterk deur die ontwikkeling van markte vir Suid-Afrikaanse minerale deur geteikende veredeling, verminderde insetkoste en verhoogde navorsing en ontwikkeling.

Deur ruimtelike tussenkomste soos spesiale ekonomiese sones, hernuwing van plaaslike nywerheidsparke, sakesentrums, digitale kerns en township- en dorpsondernemings, sal ons ekonomiese ontwikkeling na plaaslike gebiede bring. Ons sal ook fokus op klein en medium ondernemings in ons stede, townships en landelike gebiede en markte skep waar hulle hul produkte kan verkoop.

Ons sal ons onderneming nakom om internasionale toeriste-aankomste tot 21 miljoen te teen 2030 te verdubbel.

Dit sal bereik word deur die hernuwing van die land se handelsmerk, die bekendstelling van 'n wêreldgehalte-visumstelsel en 'n beduidende fokus op Chinese en Indiese markte, asook aankomste per vliegtuig uit die res van ons vasteland.

Ons is vasbeslote om te verseker dat toeriste wat na ons land kom, veilig sal wees.

Ons sal ons hoëtegnologiebedryf uitbrei deur te verseker dat die wetlike en regulatoriese raamwerk innovasie bevorder, vaardigheidsontwikkeling vir jongmense in nuwe tegnologieë uitbrei en die koste van data verminder. Waar ons ook al gegaan het, het jongmense voortdurend die probleem van die oormatige hoë datakoste in Suid-Afrika geopper.

Om die proses aan te moedig, sal die Minister van Kommunikasie binne die volgende maand die beleidsrigting aan die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid van Suid-Afrika uitreik om die spektrumlisensiëringsproses te begin.

Hierdie proses sal maatreëls insluit om mededinging, transformasie, inklusiewe groei van die sektor en universele toegang te bevorder.

Dit is baie belangrik om die koste van data, wat noodsaaklik is vir sowel ekonomiese ontwikkeling as geleenthede vir jongmense, te verminder.

Ons doen dus 'n beroep op die telekommunikasiebedryf om die koste van data verder te verminder sodat dit in lyn is met die pryse van ander lande in die wêreld.

Ons versterk ons ​​beleggingsveldtog.

Van die R300 miljard van beleggings wat verlede jaar by ons eerste beleggingskonferensie aangekondig is, is net meer as R250 miljard se projekte in die implementeringsfase.

Ons gaan voort om 'n pyplyn van beleggings te bou, wat tydens die tweede Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie van 5 - 7 November aangebied sal word.

In ’n onseker tyd, het die werk van die beleggingsafgevaardigdes belangrike brȗe tussen die regering en die sakegemeenskap gebou.

Dit is duidelik uit hul terugvoer, dat daar nog baie gedoen moet word om die beleggingsklimaat te verbeter.

Dit sluit onder meer in dat die manier waarop die regering werk koördineer om die uitdagings waarvoor beleggers te staan kom, hersien moet word, en dat ons beleid om beleggings aan te moedig, hervorm moet word.

Goeie vordering is gemaak deur die Openbare-Private Groei-inisiatief, wat deur Minister Nkosazana Dlamini Zuma, Mr Roelf Meyer and Dr Johan van Zyl Slabbert aangevuur word.

Die privaasektor het onderneem om oor die volgende vyf jaar R840 miljard in 43 projekte oor 19 sektore te belê en 155 000 werksgeleenthede te skep.

Tydens oorlegpleging met die sakesektor, het die regering onderneem om die beleistruikelblokke uit die weg te ruim en die implementering van hierdie projekte te versnel.

Ons werk met dringendheid aan ’n stel prioriteithervormings om die gemak waarmee sake gedoen word te verbeter deur reguleringsprosesse te konsolideer en te stroombelyn, permit- en ander aansoekprosesse te outomatiseer en die kostes van nakoming te verminder.

Infrastruktuur is ’n kritieke beleggingsprioroteit wat strukturele transformasie, groei en werkskepping ondersteun.

Dit is noodsaaklik vir ons ekonomiese vernuwing, om betekenis en uitvoer aan ons nuwe daeraad te gee.

Ons nuwe benadering tot infrastruktuurontwikkeling is gegrond op sterker vennootskappe tussen die openbare en privaatsektors, en met plaaslike gemeenskappe.

Dit sluit ’n spesiale pakket van finansiële en institusionele maatreëls in om konstruksie te bevorder en waterinfrastruktuur, paaie en studenteverblyf te prioritiseer deur begrotigsfondse meer doeltreffend aan te wend.

Soos in die vorige staatsrede aangekondig, het die regering R100 miljard opsygesit om die Infrastruktuufonds te voed.

Ons werk daaraan om die fonds, wat deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika bestuur sal word, te institusionaliseer, terwyl die nuutgevormde Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur ’n oorsigrol sal speel.

Ons het dit gedoen in oorlegpleging met die privaatsektore, soos pensioenfondse, wat entoesiasties is om betrokke te raak by die Infrastruktuurfonds.

Hierdie hervormings sal beter beplanning van infrastruktuurprojekte verseker, asook strenger uitvoerbaarheid en voorbereidingswerk, verbeterde strategiese bestuur, foutlose uitvoer en beter regeringsbestuur.

Dit sal die konstruksiebedryf, wat al 'n rukkie op die afdraende pad is, ’n broodnodige hupstoot gee.

Ons sal plaaslike vraag en Suid-Afrikaanse vervaardigingsgroei stimuleer deur seker te maak dat die 'Koop Plaaslik'-veldtog oral en altyd teenwoordig is.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om doelbewus en konsekwent plaaslike produkte te koop.

Die pak, die hemp en die das wat ek vandag dra, is plaaslik gemaak deur Suid-Afrikaanse tekstielwerkers by die House of Monatic, hier in Soutrivier in Kaapstad.

Kom ons koop plaaslik-vervaardigde goedere om die vraag in ons ekonomie aan te vuur.

Ons streef daarna om binne die volgende jaar probeer ons ooreenkomste met kleinhandelaars te sluit om meer Suid-Afrikaanse goedere op hul rakke te hou en om die goeie produkte wat deur Suid-Afrikaanse werkers gemaak word aktief te bevorder.

Terselfdertyd sal ons, ons produkte meer aktief in die res van die Afrika-vasteland en die wêreld bevorder.

Hierdie maatreëls word ondersteun deur ons sterk verbintenis tot 'n makro-ekonomiese en fiskale beleidsraamwerk wat die bevordering van vertroue en belegging voortsit.

Ons is verbind tot omsigtige lenings en streng uitgawesbestuur om ons openbare finansies te stabiliseer en die skuldlas te verlaag.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is 'n kritiese instelling van ons demokrasie, wat algememe geloofwaardigheid en ’n goeie aansien ​​plaaslik en internasionaal geniet.

Prysstabiliteit is 'n noodsaaklike, maar nie voldoende voorwaarde vir ekonomiese groei nie.

Stygende pryse van goedere en dienste erodeer die koopkrag van alle Suid-Afrikaners, maar veral die armes.

Inflasie ondermyn verder die mededingendheid van ons uitvoere en ons invoer-mededingende maatskappye, wat nywerhede en werksgeleenthede in gevaar stel.

Om hierdie redes gee ons Grondwet ’n mandaat aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die waarde van ons geldeenheid te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei.

Vandag herbevestig ons hierdie grondwetlike mandaat, wat die Reserwebank onafhanklik moet doen, sonder vrees, guns of vooroordeel.

Ons Grondwet vereis ook dat daar gereelde oorlegpleging tussen die Reserwebank en die Minister van Finansies moet wees om makro-ekonomiese koördinasie te bevorder in belang van werkskepping en ekonomiese groei.

As ons internasionaal mededingend wil wees, as ons belegging wil lok, moet ons aandag gee aan die hoë koste om besigheid in Suid-Afrika te doen en die ingewikkelde en langdurige regulatoriese prosesse.

Ons moet 'n punt bereik waar geen maatskappy meer as ses maande hoef te wag vir 'n permit of lisensie nie en nuwe maatskappye moet binne 'n dag geregistreer wees.

Ons sal die koste om sake te doen steeds verlaag deur hawe-uitvoertariewe te verlaag, die laagste koste-opsies vir elektrisiteitsopwekking na te streef, en spoorvervoer meer mededingend en doeltreffend te maak.

Met die NDP as riglyn, is dit ons verantwoordelikheid om inklusiewe, volhoubare ontwikkeling wat veerkragtig is na te streef met inagneming van klimaatsverandering.

In samewerking met die private sektor, arbeid en die internasionale gemeenskap sal ons ons aanpassings- en verligtingspogings versterk.

Ons het die geleentheid om aan die voorpunt van groen groei en lae koolstofindustrialisering te wees; om ’n baanbreker van nuwe tegnologieë te wees; en om kwantumspronge na die ekonomie van die toekoms te neem.

Ons moet die toevoeging van hernubare en skoon energie tot ons nasionale energieverbruik verhoog en die potensiaal van die waterstofekonomie ondersoek.

Vinniger ekonomiese groei vereis ook versnelde grondhervorming in landelike en stedelike gebiede en 'n duidelike eiendomsregstelsel.

Ons het die verslag van die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou, wat deur die Adjunkpresident gelei is, ontvang en dit sal aan die Kabinet voorgelê word vir oorweging.

Die aanbevelings van die paneel sal die finalisering van 'n omvattende, verreikende en transformerende grondhervormingsprogram inlig.

In die onmiddellike termyn sal die regering pogings versnel om openbare grond wat geskik is vir slim, stedelike nedersettings en boerdery, te identifiseer en beskikbaar te stel.

In die stimulus- en herstelpakket wat verlede jaar aangekondig is, het ons belowe om befondsing vir opkomende boere te prioritiseer.

Oor die mediumtermynbegrotingstyderk is R3,9 miljard aan die Landbank toegeken vir bystand aan swart kommersiële boere.

'n Noodsaaklike deel van Suid-Afrika se groeistrategie is die integrasie van ons ekonomie met dié van ons bure en die res van ons vasteland.

Die Afrika-kontinentale Vryhandelsgebied sal die beweging van goedere en dienste, kapitaal en produksiemiddele regoor die vasteland verbeter.

Ons herleefde nywerheidstrategie fokus op die uitbreiding van ons handels- en beleggingsbande met die res van die Suider-Afrikaanse streek en die vasteland as geheel.

Binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sal ons die ontwikkeling van grenswaardekettings in sleutelsektore soos energie, mynbou en mineraalbewerking, vervaardiging, infrastruktuur en landbouverwerking prioritiseer.

Mede-Suid-Afrikaners,

Die groei van ons ekonomie sal min waarde hê as dit nie op 'n veel groter skaal werk skep nie.

Die feit dat die werkloosheidsyfer onder jong Suid-Afrikaners meer as 50% is, is in wese 'n nasionale krisis wat dringende, innoverende en gekoördineerde oplossings vereis, waar ons almal sal moet saamwerk.

En omdat meer jongmense elke jaar die arbeidsmag betree, moet die ekonomie heelwat meer werk vir die jeug skep as wat tans die geval is; net om die jeugwerkloosheidskoers bestendig te hou.

Die naakte realiteit wat jeugwerkloosheid betref, is dat ons, ons pas moet versnel om net by te hou.

Dit is dus noodsaaklik dat ons onverwyld voortgaan met die implementering van 'n omvattende plan – gedrewe en gekoördineer deur die Presidensie – om binne die volgende dekade nie minder as twee miljoen nuwe werksgeleenthede vir jongmense te skep.

Hierdie plan sal oor regeringsdepartemente en al drie regeringsvlakke, in samewerking met die private sektor, werk.

Ons werk reeds saam met die private sektor om weë te baan na werk vir jongmense deur bestaande weë na bestuursnetwerke uit te brei.

Dit is netwerke wat jongmense toelaat om deur meer sigbaarheid, netwerkondersteuning en geleenthede hul beskikbaarheid vir werksgeleenthede en selfstandige werk aan te dui.

Hulle maak seker dat jong mense uit armer huishoudings – en veral jong vroue – die geleentheid kry om die nuwe geleenthede aan te gryp.

Die regering sal voortgaan om indiensneming deur die Uitgebreide Openbare Werkeprogram te lewer, veral in arbeidsintensiewe gebiede soos instandhouding, skoonmaak van plantegroei, aansluiting van waterlekkasies en die bou van paaie.

Ons sal voortgaan om programme te ontwikkel om te verseker dat jongmense wat ekonomies uitgesluit is, werkgereed is om geabsorbeer te word in sektore waar 'n vraag na werk groei.

Hierdie sektore sluit in globale besigheidsverwerkingsdienste, landbou waardekettings, tegniese installasie, herstel en instandhouding, en nuwe geleenthede wat deur die digitale ekonomie en die Vierde Industriële Revolusie verskaf word.

Die regering sal ook seker maak dat jong mense werk kry in die maatskaplike ekonomie, soos vroeë kinderontwikkeling en gesondheidsorg.

Ons sal die Nasionale Jeugdiens uitbrei om 50 000 jongmense per jaar in diens te neem.

Die regering sal tegnologie-geaktiveerde platforms vir selfstandige jeug in landelike gebiede en townships ondersteun.

Ons sal ons programme uitbrei om jong mense in staat te stel om betaalde werkservaring op te doen deur inisiatiewe soos die Jeugindiensnemingsprogram (Youth Emplyoment Service), en ook die fasilitering van werksgebaseerde internskappe.

Ons gaan klein inkubasie-sentrums van stapel stuur om jeuggedrewe aanvangsondernemings van finansiële en tegniese advies te voorsien wanneer hulle hul ondernemings begin.

Gister het ek die groot voorreg gehad om met verskeie jong Suid-Afrikaners te gesels wat wonderlike werk doen om ons land op te bou en ons mense te ontwikkel.

Hulle is entrepreneurs en gemeenskapsbouers, aktiviste en kunstenaars.

As daar een ding is wat ons geleer het uit ons gesprekke met die land se jeug, is dit dat ons nie ons oplossings op hulle kan afdwing nie: alles wat ons moet doen, moet deur jongmense self gelei word.

Hulle het ons vertel wat hulle wil hê, en wat hulle nodig het.

Hulle wil werk hê, ja, maar hulle wil ook werkgewers word.

Hulle is vol idees, hulle is aan die voorpunt van innovering en hulle wil dinge vir hulself doen.

Ons moet die vlam van entrepreneurskap aanblaas omdat die vooruitgang van hierdie land afhanklik is van die energie en kreatiewe talent van ons jongmense.

Mede-Suid-Afrikaners,

Om te verseker dat elke 10-jarige binne die volgende dekade kan lees vir betekenis, sal ons die hele nasie moet mobiliseer agter 'n massiewe leesveldtog.

Vroeë leeswerk is die basiese fondament wat 'n kind se opvoedkundige vordering bepaal, deur die skool, deur hoër onderwys en in die werkplek.

Alle ander ingrypings - van die werk wat gedoen word om die gehalte van basiese onderwys te verbeter tot die verskaffing van gratis hoër onderwys vir die armes, van ons belegging in opleidingskolleges vir tegniese en beroepsonderrig tot die uitbreiding van werkplekonderrig - sal nie die nodige resultate lewer nie, tensy ons seker maak dat ons kinders kan lees.

Dit is deur inisiatiewe soos die Nasionale Leeskoalisie dat ons hierdie nasionale poging kan koördineer.

Alle grondslag- en intermediêre fase-onderwysers moet opgelei word om in Engels en die Afrikatale te lees. Ons onderrig en ontplooi 'n menigte ervare dosente om onderrig van hoë gehalte aan onderwys in hul werkplekke te lewer.

Ons implementeer die Leesprogram vir Vroeë Grade, wat bestaan ​​uit 'n geïntegreerde pakket lesplanne, bykomende leesmateriaal en professionele ondersteuning aan grondslagfase-onderwysers.

Dit vorm deel van die breër pogings om die basiese onderwysstelsel te versterk deur skoolleierskapspanne te bemagtig, onderwysers se vermoëns te verbeter en 'n meer konsekwente meting van vordering vir grade drie, ses en nege te verseker.

Ons moet ook ons ​​jongmense voorberei vir die werk van die toekoms.

Daarom stel ons vakke soos kodering en data-analise op laerskoolvlak bekend.

Geagte lede,

Die Suid-Afrika wat ons wil hê, is 'n land waar alle mense veilig is en veilig voel.

Laat ons dus saamwerk om te verseker dat geweldsmisdaad ten minste oor die volgende dekade gehalveer word.

Die eerste stap is om polisiesigbaarheid te verhoog deur meer polisiemanne en mans in diens te neem, en ook om 'n meer aktiewe rol vir burgers te skep deur doeltreffende gemeenskapspolisiëringsforums.

Daar is tans meer as 5 000 studente wat vir basiese opleiding in ons polisiekolleges geregistreer is en ons beoog dat hierdie getal oor die volgende twee innames tot 7 000 per siklus sal toeneem.

Ons werk daaraan om sukseskoerse vir die ondersoek en vervolging van misdade te verbeter, en om beter opleiding en professionalisering deur die strafregstelsel te verseker.

Geweldsmisdaad is 'n samelewingsprobleem wat 'n samelewingsreaksie vereis.

Ons werk met organisasies in die burgerlike samelewing oor strategieë om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te beëindig.

Na intensiewe konsultasie en samesprekings werk ons ​​aan die totstandkoming van die Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoordbestuursraad en 'n Nasionale Strategiese Plan wat ons almal sal lei, waar ons ookal is, in ons pogings om hierdie nasionale plaag uit te roei.

Ons stel die polisie en hofstelsel in staat en rus hulle toe om oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld te ondersteun.

Ons versterk die stryd teen dwelmsindikate deur die implementering van die Nasionale Anti-Bende Strategie en die hersiene Nasionale Dwelmmeesterplan.

Dames en here, geagte gaste,

Om al hierdie doelwitte te bereik vereis 'n bekwame en ontwikkelende Staat.

So 'n Staat bied nie net die instellings en infrastruktuur wat die ekonomie en die samelewing in staat stel om te funksioneer nie, maar dit het ook die middele om transformasie te bestuur.

Vroeër hierdie maand het ons die hergroepering van 'n aantal staatsdepartemente aangekondig, wat hulle in staat sal stel om hul opdragte uit te voer

Ons besluit is gegrond op doeltreffendheid, kostebeperking, koöperatiewe regeringsestuur en strategiese belyning.

Dit is die begin van 'n wyer proses om die afname in staatskapasiteit te stuit en ons model van dienslewering te herstruktureer om ons landsburgers ten beste te dien.

Ons sal 'n distrikgebaseerde benadering aanneem - met die fokus op die 44 distrikte en agt metro’s - om dienslewering te versnel, om te verseker dat munisipaliteite behoorlik ondersteun word en voldoende hulpbronne kry.

Om te verseker dat die staat ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling effektief kan aktiveer, is dit noodsaaklik dat ons, ons ondernemings in staatsbesit (SOE's) versterk.

Deur die Presidensiële SOE-raad wil die regering belyning tussen alle ondernemings in staasbesit skep en hulle onderskeie mandate beter definieer.

Deur die raad sal ons met die leierskap van SOE's werk om 'n wetlike en regulerende omgewing te ontwikkel wat innovering en behendigheid bevorder en hul mededingendheid verhoog.

Ons sal voortbou op die werk waarmee ons reeds begin het om probleme rondom swak bestuur, ondoeltreffendheid en finansiële volhoubaarheid die hoof te bied.

Ons is daartoe verbind om 'n etiese staat te bou waarin daar nie plek is vir korrupsie, patronaatskap, bevoordeling en plundering van openbare geld nie.

Ons wil 'n korps van geskoolde en professionele staatsamptenare met die hoogste morele standaarde hê, wat hulle toewy aan openbare diens.

Die beslissende stappe wat ons geneem het om staatskaping te beëindig en korrupsie te beveg, insluitend maatreëls om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en Staatsveiligheid te versterk, toon beduidende resultate.

Maar daar is nog baie meer werk om te doen.

Ons het die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging gevra om 'n plan te ontwikkel om die kapasiteit en doeltreffendheid van die NVG aansienlik te verhoog, insluitend om doeltreffende bateverbeuring te verseker.

Ons moet verseker dat openbare geld wat gesteel is, terugbesorg word en gebruik word om dienste en broodnodige basiese infrastruktuur aan die armste gemeenskappe te lewer.

Ons verwag dat die nuwe SIU Spesiale Tribunaal sy werk binne die volgende paar maande sal begin om siviele eise voortspruitend uit SIU-ondersoeke te bespoedig, wat tans sowat R14,7 miljard beloop.

Suid-Afrika sal steeds 'n aktiewe rol in internasionale verhoudinge speel in die strewe na wêreldwye vrede en sekuriteit, mensgesentreerde ontwikkeling en voorspoed vir almal.

Ons hernu ons vasberadenheid om saam met die internasionale gemeenskap te werk om die reëlsgebaseerde multilaterale stelsel te behou en te beskerm met die Verenigde Nasies (VN) aan die hoof.

Ons sal ons lidmaatskap van die VN-Veiligheidsraad gebruik om die vreedsame oplossing van geskille, veral op ons eie vasteland, te bevorder.

Mede-Suid-Afrikaners,

Om die Suid-Afrika wat ons wil hê te bereik, benodig ons 'n nuwe sosiale ooreenkoms.

Ons moet duursame vennootskappe tussen die regering, besigheid, arbeid, gemeenskappe en die burgerlike samelewing vestig.

Dit plaas 'n verantwoordelikheid op ’n ieder en ’n elk van ons.

Die regering moet 'n bemagtigende omgewing skep, openbare hulpbronne verstandig gebruik en belê in die ontwikkeling van die land se menslike potensiaal.

Ons wil graag sien dat die sakesektor die land se nasionale strategiese doelwitte en maatskaplike oorwegings in hul besluite en optrede moet oorweeg.

Ons is dit eens dat arbeid die belange van werkers moet bevorder terwyl dit terselfdertyd die volhoubaarheid van ondernemings en werkskepping bevorder.

Die burgerlike samelewing moet voortgaan om sy rol te speel om die regering tot verantwoording te roep, maar moet ook by ons aansluit om ons gemeenskaplike doelwitte te bereik.

Ons versoek die partye in hierdie Parlement om 'n noodsaaklike deel van hierdie vennootskap te wees, ondersteuning te verleen, insig te gee en konkrete oplossings te bied en pogings om die nasionale belang te bevorder.

Hierdie sosiale ooreenkoms vereis 'n bydrae van almal.

Dit sal ook opofferings en kompromieë verg.

Dit is elkeen se optrede wat die lot van almal bepaal.

As ons die implementering van die NDP wil laat herleef, moet ons, ons visie op die wydste horisonne rig.

Ons wil 'n Suid-Afrika hê waarin almal gemak en voorspoed geniet.

Maar ons wil ook 'n Suid-Afrika hê waar ons, ons vermoëns ten volle sal benut, terwyl ons vordering maak op die super snelweg na vooruitgang.

Ons wil 'n Suid-Afrika hê wat sy spoornetwerke geprioritiseer het, wat hoësnelheidtreine vervaardig, wat ons land se megastede en mees afgeleë gebiede verbind.

Ons moet 'n land voorstel waar koeëltreine deur Johannesburg beweeg wanneer hulle van hier af na Musina op pad is, in Buffalo City stop op pad van eThekwini af en terugsnel na Kaapstad.

Ons moet 'n Suid-Afrika hê met 'n hoë-tegnologie-ekonomie waar vooruitgang in e-gesondheid, robotika en afstandsmedisyne toegepas word wanneer ons die NGV in werking stel.

Watter tipe Suid-Afrika wil ons hê?

Ons wil 'n Suid-Afrika hê wat nie net bloot sy grondstowwe uitvoer nie, maar wat 'n vervaardigingspilpunt geword het vir sleutelkomponente wat in elektronika, in motors en in rekenaars gebruik word.

Ons moet 'n land wees wat sy mense self kan voed en wat die nuutste vordering in slim landbou gebruik.

Ek droom van 'n Suid-Afrika waar die eerste stad wat van nuuts af in die demokratiese era gebou word, verrys met wolkekrabbers, skole, universiteite, hospitale en fabrieke.

Hierdie droom wat ek het, is aangevuur deur my gesprekke met vier wonderlike mense: dr Nkosazana Dlamini Zuma, dr. Naledi Pandor, me Jessie Duarte en president Xi Jinping van China, wie se weergawe van hoe China 'n nuwe stad 100 kilometer van Beijing bou, gehelp het om my droom te konsolideer.

Dit is 'n droom wat ons almal kan deel en waaraan ons saam kan bou.

Ons het nie 'n nuwe stad in 25 jaar van demokrasie gebou nie.

In 2030 sal 75% van Suid-Afrikaners in ons stedelike gebiede woon.

Johannesburg, Tshwane, Kaapstad en eThekwini het nie meer genoeg ruimte om almal te huisves wat na dié stede toe stroom nie.

Het die tyd nie aangebreek om dapper te wees nie; om verder as ons bekende bakens te reik en iets aan te pak wat onmoontlik lyk nie?

Het die tyd nie aangebreek om 'n nuwe slim stad te bou wat op die tegnologie van die Vierde Industriële Revolusie gegrond is nie?

Ek wil Suid-Afrikaners nooi om hierdie vooruitsig te beplan.

Ons is die Suid-Afrikaanse nasie wat met sy Grondwet hoop gee aan dié wat moed verloor het, regte aan dié wat onteien en gemarginaliseer is, en troos en sekuriteit aan ons mans, vroue en kinders.

Hoewel ons dalk gestruikel het, het ons nie vergeet wie ons is en waarvoor ons staan ​​nie.

Ons is nog steeds daardie nasie.

Julle mag dalk vra hoe ek hoopvol kan wees op so 'n moeilike tyd.

Ek is hoopvol omdat ek saam met die mense van hierdie land geloop het - die verpleegsters en gesondheidswerkers, ons mans en vroue in uniform, die onderwysers in ons skole, studente wat ondanks hul gesinne se swaarkry, vasbeslote is om te slaag, en die jeug wat probeer om hul eie besighede te begin, om dinge uit te dink en te skep, en bo hul omstandighede uit te styg.

Dit is julle wat my moed gee en aan wie ek wederkerig moed gee.

Hulle droom van 'n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners.

Deur saam te werk, is daar niks wat ons nie kan wees nie, niks wat ons nie kan doen nie, en niks wat ons nie kan bereik nie.

Niks is onmoontlik nie.

Al hierdie dinge berus by dié wat doen, die doeners wat in staat om die werk gedoen te kry. Die doeners wat 'n duidelike visie het van wat gedoen moet word en dit moontlik maak.

Ja, dit is daardie mense wat ons, die mense van Suid-Afrika, inspireer. Hulle is die mense wat na diegene kyk wat vorentoe kyk en 'n Suid-Afrika sien wat suksesvol is.

Ina, hi vona vanhu lava, lava hlohlotelaka vanhu va Afrika-Dzonga. I vanhu lava va hlayisaka volavo va kotaka ku languta emahlweni na ku vona Afrika-Dzonga leri humeleleke.

Ndi vhenevho vhane vha ri Afrika Tshipembe heḽi ḽashu vha ṱoḓa ḽi tshi ya phanḓa, ḽi vhe na mvelaphanḓa ine ya ḓo vhonwa nga vhathu vhoṱhe.

Dit is die Suid-Afrika wat ons moet inspireer.

Deur saam te werk, is daar niks wat ons nie kan doen nie, en daar is niks wat ons nie kan bereik nie.

Terwyl ons hierdie nuwe era betree, laat ons die woorde van Ben Okri ter harte neem wanneer hy sê:

Sal jy by die oes wees,

Onder die versamelaars van nuwe vrugte?

Dan moet jy vandag begin om jou

geestelike en spirituele wêreld te herskep,

En aan te sluit by die krygers en diensdoeners

Van vryheid, en dié wat groot drome verwesentlik

Jy kan nie die wêreld herskep nie

Sonder om jouself te herskep nie.

Elke nuwe era begin binne.

Dit is 'n innerlike gebeurtenis,

Met onvermoede moontlikhede

Vir innerlike bevryding.

Ons kan dit gebruik om

Ons innerlike ligte aan te skakel.

Ons kan dit gebruik om selfs die donker te gebruik

En negatiewe dinge positief.

Ons kan die nuwe era gebruik

Om ons oë uit te vee,

Om die wêreld anders te sien,

Om onsself duideliker te sien.

Net vry mense kan 'n vrye wêreld maak.

Besiel die wêreld met jou lig.

Help om die goue profesieë te vervul.

Beur die menslike genie vorentoe.

Ons toekoms is groter as ons verlede.

Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is hoe ons in 'n tyd van uitdaging moet begin om die Suid-Afrika wat ons wil hê, voor te stel.

Dit is wanneer ons land voor groot uitdagings te staan kom, dat ons ​​verby die horison moet kyk 'n Suid-Afrika sien met 'n groeiende ekonomie, met werkende jong mense en ’n Suid-Afrika wat wen en vasbeslote is om vorentoe te beweeg.

Dit is die Suid-Afrika waarna ons mense hunker. Dit is die Suid-Afrika wat alle Suid-Afrikaners gesê het hulle wil sien.

Kom ons staan saam en bou hierdie Suid-Afrika.

Baie dankie.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore