Aansoek om maatskaplike hulpverlening

Oor
Wat om te doen
Tydsduur
Hoeveel kos dit
Vorms om in te vul
Kontakbesonderhede

 

 

Meer oor maatskaplike hulpverlening

Maatskaplike hulpverlening is tydelike hulp aan mense wat weens ernstige materiële gebrek nie in hul gesin se mees basiese behoeftes kan voorsien nie.

Wie kan maatskaplike hulpverlening kry?

Jy kan maatskaplike hulpverlening van die staat kry as jy in ’n krisissituasie verkeer, byvoorbeeld omdat:

  • jy vir die staat wag om jou kinders se toelaes te verwerk
  • ’n krisis of ramp plaasgevind het, soos dat jou huis afgebrand het
  • jy nie vir ’n toelae kwalifiseer nie en jou omstandighede haglik is
  • jy nie kan werk nie omdat jy tydelik medies ongeskik is – dit beteken jy is vir minder as ses maande lank siek
  • die kind of kinders se ander ouer nie onderhoud aan jou betaal nie
  • die gesin se broodwinner gesterf het
  • die broodwinner vir ’n kort rukkie (minder as ses maande lank) tronk toe gestuur is of
  • jy deur ’n ramp getref is, maar die gebied of gemeenskap waar jy bly nie tot ’n rampgebied verklaar is nie.

Wat kry jy?

Maatskaplike hulpverlening kan in die vorm van ’n kospakkie wees, of ’n koopbewys om kos mee te koop. Sommige provinsies se hulp is in die vorm van kontant. Hulpverlening word net vir ’n kort tydjie gegee – gewoonlik vir hoogstens drie maande, en soms vir ses maande lank.

Wat om te doen

  1. Doen by jou naaste kantoor vir maatskaplike ontwikkeling aansoek om hulpverlening.
  2. Gee die ingevulde aansoekvorm saam met die volgende dokumente in:
    • Jou identiteitsdokument, wat ’n 13-syfer-staafkode bevat, en jou kinders se geboortesertifikate.
    • As jy nie ’n identiteitsdokument en geboortesertifikate het nie, kan jy ’n beëdigde verklaring deur jou plaaslike polisiekantoor, hoofman, raadslid of geestelike leier ingee.
  3. Jy moet ook bewys dat:
    • jy vir ’n toelae aansoek gedoen het
    • jy ’n noodsituasie beleef (gee bv. ’n polisieverslag in wat bevestig dat jou huis afgebrand het)
    • jy probeer het om onderhoud te kry
    • jy geen ander hulp kry nie
    • jy getroud, geskei of enkellopend is
    • jy geen inkomste het nie of
    • jy ’n korttermyn mediese ongeskiktheid het.

Tydsduur

  • Jou aansoek sal dadelik verwerk word.
  • Sodra jou aansoek ingedien is, sal daar gekyk word of die aansoek geloofwaardig is en of jy hierdie diens regtig nodig het.
  • Jy sal jou kospakkie, koopbewys of kontant vir die eerste maand kry, selfs al het jy nie al die dokumente wat gevra word nie.
  • Onthou egter om al die dokumente vir die beampte te vat voordat dit tyd is om die tweede maand se kos of betaling te kry. As jy dit nie doen nie, kan jy nie die tweede en derde maande se voedselpakkie, koopbewys of kontant kry nie.
  • As jy drie maande lank ’n toelae gekry het en jou omstandighede nog nie verbeter het nie, kan jy aansoek doen om die toelae met nog drie maande te verleng.

Hoeveel kos dit

Hierdie diens is gratis.

Vorms om in te vul

Tree asseblief met jou naaste SASSA-kantoor in verbinding.

Wie om te kontak

Suid Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA)

Share this page