Hoe om teen grondbesetting op te tree

Staatsgrond (grond onder die beheer van ’n nasionale of provinsiale regering of munisipaliteit) en grond in privaat besit kan onwettig beset word.

Die regering het ’n grondwetlike plig om te verseker dat – waar nodig en met die beskikbare hulpbronne – alle burgers hul basiese regte op toegang tot grond en behuising geniet. Waar grootskaalse besettings voorkom, het die regering ook ’n plig om privaat grondeienaars te help om hul grond te beskerm.

Waar onwettige besetters wie se basiese regte nie in gevaar is nie, uitgesit moet word, moet die privaat grondeienaar onverwyld die hof vir ’n uitsettingsbevel ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998) nader. Hierdie wet word tans deur die Departement van Menslike Nedersettings geadministreer en sal mettertyd aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming (DRDLR) oorgedra word.

As jou privaat grond beset is, kan jy:

  • onverwyld die hof nader vir ’n uitsettingsbevel ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998)
  • enige kantoor van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om hulp nader indien die besetters die grond beset het weens ’n behoefte aan landbougrond
  • die gebied se plaaslike munisipaliteit of, indien nodig, die provinsiale of nasionale Departement van Menslike Nedersettings om hulp vra indien die besetters behuising nodig het.

Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal:

  • onwettige besetters van enige staats- of privaat grond help wat landbougrond nodig het maar geen toegang tot geskikte landbougrond het nie
  • ander owerhede help om geskikte alternatiewe grond te vind vir die onwettige besetters wat behuising nodig het
  • waar nodig, en waar spesiale omstandighede bestaan, privaat landbougrondeienaars, wie se grond onwettig beset is, help om besetters wat landbougrond nodig het, te hervestig op geskikte alternatiewe grond.

Mense wat geen toegang tot landbougrond het nie, kan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nader vir hulp om geskikte landbougrond te vind.

Mense wat behuising nodig het, kan die plaaslike munisipaliteit of, indien nodig, die provinsiale of nasionale Departement van Menslike Nedersettings om hulp vra.

Vir meer inligting oor hoe om in geval van grondbesetting op te tree, skakel die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

 

Share this page