C Dowry: Handover of Hex Valley empowerment projects (Afrikaans)

Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die
Wes-Kaap tydens oorhandiging van verskeie bemagtigingsprojekte in die
Hexvallei

11 November 2006

Landbou in die Wes-Kaap was die afgelope tyd baie in die spervuur oor
verhoudings en die beweerde onmenslike behandeling van plaaswerkers deur
produsente, en gepaardgaande onverantwoordelike optrede deur mense en
instansies wat aan hulle self die reg toe-eien om van landbou ''n politieke
speelbal te maak. Ek moes die afgelope ses maande by herhaling vrae beantwoord
en debatte voer in die parlement oor grondhervorming en afsettings en die
lewensomstandighede van mense op plase. Dit laat noodwendig by jouself vrae
ontstaan oor mense se werklike motiewe en of ons uiteindelik daarin gaan slaag
om die verlede uit te wis.

En dan beleef jy dae soos vandag waar jy ervaar wat ons in hierdie land kan
vermag en waartoe ons in staat is wanneer ons hande vat in opregte pogings om
bemagtiging 'n werklikheid te maak en dit te laat slaag.

In die projekte wat ons vandag oorhandig het is daar 'n verskeidenheid van
inisiatiewe en modelle wat aan elke projek sy eie unieke karakter verleen. Ek
dink dit is gepas dat ek kortliks na elkeen verwys.

Hoogland

In 2003 het die eienaar, Pieter Naude van Denau Boerdery, die Denau Werkers
Trust gestig wat bestaan uit 118 begunstigdes. In 2005 is 'n maatskappy gestig
wat handel dryf as Hoogland Boerdery. Die maatskappy het die plaas Kleinstraat,
geleë tussen De Doorns en Touwsrivier, by Denau Trust gekoop. Die twee trusts
het elk 50% aandeel in die nuwe maatskappy. Daar is reeds 24 ha tafeldruiwe
onder net gevestig en 'n verdere 14 ha is ook onder net ontwikkel. Die mikpunt
is dat oor 4 jaar 'n totaal van 50 ha ontwikkel moet wees.

Osplaas

Die projek bestaan tans uit 8 ha tafeldruiwe van verskillende kultivars. Die
eienaar is Osplaas Brd Edms Bpk en bestaan uit 36 aandeelhouers. Die eiendom
sal sy water verkry uit die nuwe Osplaasdam aanvullingskema wat teen Junie 2007
voltooi sal wees. Intussen voorsien die Hexvallei Besproeiingsraad water aan
die groep uit hul bestaande bronne. Gedurende 2005 is die eerste stokkies
geplant en vanjaar is die plaas vergroot na 8 ha. 'n Verdere 4 ha is beskikbaar
vir uitbreiding.

AM Thops Brd BK

André Thops is die alleeneienaar van die plaas Olyfkloof wat hy in 2004
gekoop het (42 ha). Die plaas het lank braak gelê nadat 'n varkboerdery daar
ten einde geloop het. André is reeds die afgelope vier jaar besig om olyfbome
op groot skaal te kweek. Op Olyfkloof is hy tans besig met die vestiging van
ses ha olyfbome en een ha Colombar. Makadamia- en pekanneutbome en
jojoba-struike is ook reeds geplant. Volgende jaar gaan die kwekery vergroot
word om ook laventel, roosmaryn, hoodia en boegoe te kweek.

Uitkoms Boerdery

Die Uitkoms boerdery is in 2006 aangekoop deur twee kommersiële boere,
Boetie Kriel en Theuns Rabie, met die uitsluitlike doel om 'n 40% aandeel aan
die Osplaas Brd beskikbaar te stel. Dit verseker ook onmiddellike toegang tot
pakfasiliteite aan die Osplaas aandeelhouers. Daar sal uiteindelik 16 ha
tafeldruiwe ontwikkel word waarvan twee ha reeds in 2006 aangeplant is.

Sanddrif Nuwe Boere

Die projek bestaan uit 1.7 ha Colombar wyndruiwe. Die eienaar is die
Sandrift Nuwe Boere BK en bestaan uit drie lede naamlik Andries Francies, Arrie
de Bruin en Andrew Kidelo. Die eiendom sal sy water verkry uit die nuwe
Osplaasdam aanvullingskema wat teen Junie 2007 voltooi sal wees. Intussen
voorsien die Hexvallei Besproeiingsraad water aan die groep uit hul bestaande
bronne. Die groep het gedurende 2006 hul eerste oes van 6.52 ton afgehaal.

De Doorns Saamwerkers

Die projek is in 2005 begin met nege aandeelhouers wat bestaan uit die
personeel van die De Doorns Wynkelder. 1.8 ha wyndruiwe (Colombar) is net langs
die Wynkelder gevestig op nuwe onbewerkte grond. Die verwagting is dat die
eerste oes in 2007 gelewer sal word.

Klipland Siyazama Brd en La Serene

Siyazama beteken "nuwe begin". Die projek is in Augustus 2006 aangepak deur
agt persone met Frans Hugo as mentor en behoort voor die einde van die jaar
gefinaliseer te word. Op Klipland (23.9 ha) word met ses kultivars
uitvoerdruiwe geboer. Hulle beoog ook om later ses ha wyndruiwe op oop grond te
vestig. Die ander plaas, La Serene, word van die Breedevallei Munisipaliteit
gehuur. Daar gaan 5.6 ha medisinale plante en later 9.6 ha wyndruiwe gevestig
word.

Amandelrivier

Die huidige eienaar, Francois Jourdan Familietrust, het die huidige
besigheid geherstruktureer sodat die al die werknemers van Amandelrivier nou 'n
30% aandeel in die besigheid besit. Die transaksie is gefinaliseer via 'n
leningsrekening vanaf die huidige eienaar. Effektiewe datum van implimentering
is 1 Julie 2006.

De Hoop Vineyards

Mnr De Villiers Graaff het die plaas De Hoop in 2005 in die Hexvallei gekoop
om 'n sinvolle bemagtigingsprojek daar te stel vir die mense wat al jare lank
in die Graaffs se diens staan. 'n 60% aandeel is aan die 213 aandeelhouers
verkoop. Die aandeelhouers is die werknemers van die plase De Hoop, The Pines,
en Naudeshof van mnr Graaff asook die plaas Zandhoek van mnr A Reyneke, sy
vennoot op The Pines. Die plaas bestaan uit 35 ha tafeldruiwe met 23 ha oop
grond wat vir verdere ontwikkeling bestem is vanaf 2007.Die projek is reeds in
volle gang met `n direksie wat maandeliks vergader en sake bestuur.
Aandeelhouers ontvang gereeld opleiding rondom die projek.

Ek wil u almal wat op een of ander manier betrokke is by enige van die
projekte bedank vir u bydrae en toewyding om van die projekte 'n sukses te
maak. Ek weet daar is van die produsente wat werklik diep gedelf het in hulle
eie sakke om die projekte te finansier en nog verder gaan terwyl hulle wag vir
die staat se bydrae.

Ek wil hê dat hierdie poging 'n aansporing vir produsente moet wees om nie
te sit en wag nie. Ek hoor dikwels mense sê hulle is gereed om bemagtiging te
laat plaasvind. Die vraag is hoe lank wil diesulkes gereed wees voordat hulle
oorgaan tot die implementering van projekte. Hier is van hierdie projekte wat
in 'n rekordtyd afgehandel is. Die positiewe is dat almal wat bemagtig is,
werkers op plase in hierdie streek is.

Die regering is op die oomblik baie ernstig oor versnelde implementering
aangesien ons ver agter is op ons doelwit.

Dit is dan ook om hierdie rede dat die nasionale Minister van Landbou en
Grondsake verlede week vir twee en 'n half dae met LURe, hoofde van
departemente op nasionale en provinsiale vlak, hoof uitvoerende beamptes van
staatsondersteunde entiteite en ander senior bestuurders, vergader het
om:
* voorraadopname te doen met betrekking tot die vordering wat gemaak is met die
implementering van programme.
* uitdagings te identifiseer;
* programme in lyn te bring en lewering te bespoedig.(Die woord is eintlik fast
track.)

Daar is gesamentlik besin oor die magdom uitdagings wat voorlê en vanaf
regeringskant het ons ons verbind aan Siyagijima, wat letterlik beteken om te
hardloop.

In lyn met die gees van Siyagijima is verskeie areas vir vinnige
implementering oor die volgende vyf maande tot aan die einde van die boekjaar,
geprioritiseer, asook vir die daaropvolgende twee jaar. Dit sal die volgende
areas insluit:
* Die finalisering van alle stedelike restitusie eise teen Maart volgende jaar
en die afhandeling van alle landelike eise teen 2008 soos deur die President
aangekondig tydens die opening van die Parlement in Februarie vanjaar.
* Versnelling van die implementering van die besluite wat tydens die
Grondberaad geneem is, met gepaardgaande terugrapportering aan belanghebbendes
oor die vordering wat gemaak is.
* Finalisering van die Swart Ekonomiese Beamgtiging vir die landbou (Agri-SEB)
handves teen die einde van hierdie jaar. Transformasie in die landbousektor en
die bemagtiging van vroue, die stedelike sowel as die plattelands armes en
spesifiek die jeug moet groot momentum kry.
* Biobrandstof - indien dit korrek ontwikkel word - hou groot groeipotensiaal
in vir die landbousektor en behoort ook opkomende boere te ondersteun. Die
regering is reeds besig om met opkomende boere in hierdie verband te
onderhandel. Ek is baie ernstig daaroor dat die Wes-Kaap ook sy regmatige
aandeel ten opsigte van die ontwikkeling van die biobrandstof bedryf sal
kry.
* Versnelling van die Ruimtelike Beplanningsproses om effektief met die
uitdagings van die gebruik van landbougrond vir ander tipe ontwikkelings te
deel en die bespoediging van die proses van grondvoorsiening vir
behuisingsdoeleindes. Die huidige vestigingstendense moet hersien word om
sodoende heeltemal te breek met die verlede.
* Die bestaande akteregistrasiemetodes sal moet hersien word sodat die proses
meer vaartbelynd sal wees om onnodige vertragings uit te skakel wat 'n
negatiewe impak op groei het en gevolglik die teikens van die versnelde en
gedeelde groei-initiatief vir Suid-Afrika (AsgiSA) negatief kan
beïnvloed.
* Landbank sal sy rol ten opsigte van sy mandaat moet vervul en sal gevolglik
sy operasionele aanslag moet verander en baie meer verbruikersvriendelik raak,
veral ten opsigte van opkomende boere en Agri-SEB projekte.

Ek wil weer eens die hoop uitspreek dat hierdie pragtige poging in die
Hexvallei, soos in die geval van die plaaswerkerkompetisie, 'n aansporing sal
wees vir ander streke om dieselfde te doen sodat ons die doelwit van 30% van
die grond vir bemagtiging, teen 2014 sal bereik.

Enquiries: Alie van Jaarsveld
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za

Issued by: Ministry of Agriculture, Western Cape Provincial Government
11 November 2006

Share this page

Similar categories to explore