Wes-Kaap by die Bio Brandstof Simposium
15 September 2006
Ons het verlede Dinsdag 'n beraad gehou waartydens die landbousektor met my
gepraat het oor die breë algemene posisie van landbou in die provinsie. Ons het
ook indringend gekyk na die ekonomiese posisie van ons produsente en hulle
bydrae tot die totale ekonomiese groei in die Wes-Kaap. Ek was gister in
gesprek met die premier oor die beraad self en die pad vorentoe. Ek is van
mening dat hierdie simposium vandag dus op 'n baie goeie tydstip plaasvind.
Verder het President Mbeki in sy openingsrede vanjaar die landbousektor
geïdentifiseer as een van die sektore wat 'n beduidende rol moet speel in die
bereiking van die regering se doelwit om die ekonomie met 6% te laat groei deur
middel van die Versnelde Groei- en Ontwikkelingstrategie (AsgiSA). Ek glo dat
die sukses van AsgiSA gaan afhang van die mate waarin ons in staat is om
innoverend te dink sodat ons die kettings kan breek wat groei belemmer. Ek het
in die landboubegroting vanjaar die volgende oor bio-brandstof gesê:
âIn this regard I am proud to announce that our program Agricultural
Economics has made huge strides in its research on the development and
production of bio-fuels with special emphasis on wheat. In the wheat producing
areas of our Province, farmers are traditionally constrained by the lack of
alternative uses for their natural resources. It is to this end, and also in
response to the emphasis on bio-fuels as envisaged in the Accelerated and
Shared Growth Initiative for South Africa (AsgiSA) that we have embarked on a
study investigating the feasibility of bio-ethanol production in the Western
Cape and this will feed into the National strategy. From the completed first
phase of the study it is clear that Bio-Ethanol production in the Western Cape
will not only increase farm incomes, secure the existing jobs and create more
employment; the fuel from surplus wheat will supply 6% of the energy needs of
the Province. We have earmarked R125 000 for the continued investigation based
on the National strategyâ.
Wat is die geskiedenis hiervan?
Graan Suid-Afrika, by monde van mnr. Niekie Mouton het in die derde kwartaal
van 2005 die Departement van Landbou: Wes-Kaap genader met 'n amptelike versoek
om die lewensvatbaarheid van 'n bio-etanolbedryf in die Wes-Kaap te
ondersoek.
Die Departement het gehoor gegee en gedurende November 2006 het een van ons
landbou-ekonome die Universiteit van Minnesota in die Verenigde State van
Amerika (VSA), asook vier aanlegte wat etanol produseer, besoek. Die aanlegte
wat etanol uit koring produseer is hoofsaaklik in Kanada, naamlik Permolex by
Red Deer in Alberta, Okanagan Biofuels by Kelowna in Brits-Columbië en
Pound-Maker Agventures by Lanigan in Saskatchewan. Exol by Glenville in die VSA
produseer etanol uit mielies.
'n Model is deur ons landbou-ekonoom in samewerking met die Universiteit van
Minnesota en die aanlegte ontwikkel. Die model stel ons in staat om die
winsgewendheid van 'n etanolaanleg met mielies of koring as grondstof,
wetenskaplik te ondersoek. Dit is 'n eerste vir Suid-Afrika.
Hoewel die Wes-Kaap provinsie nie 'n genoegsame hoeveelheid plantaardige
olies soos kanola produseer om 'n grootskaalse bydrae tot energieverskaffing in
die vorm van biodiesel te maak nie, bied die produksie van kleingrane soos
koring, gars en veral korog 'n uitstekende geleentheid vir die vestiging van 'n
etanolaanleg.
Die provinsie produseer die afgelope sewe jaar 'n gemiddelde surplus van 286
000 ton koring. Die koring word tans na ander bestemmings in Suid-Afrika
uitgevoer. Dus sal die koringvoorraad wat vir menslike verbruik in die Wes-Kaap
bestem is, nie deur die oprigting van 'n aanleg wat jaarliks 286 000 ton
inneem, geraak word nie.
'n Groot aantal van ons plaaslike bevolking (insluitende mans, vrouens,
kinders en afgetredenes) is direk afhanklik van 'n bestaan uit hierdie
streeksurplus koring. Die resultate van die gesamentlike Koringverslag van 2005
opgestel deur die Departement van Landbou: Wes-Kaap, Universiteit van
Stellenbosch, Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat,
het duidelik onderstreep in watter benarde finansiële toestand hierdie bedryf
verkeer.
Dié surplus koring is genoeg om jaarliks 102 miljoen liter etanol te
produseer. Teen 'n insluitingskoers van ses persent etanol in petroleum behoort
die koringbedryf in die verwagte vraag na etanol vir die provinsie te kan
voorsien. Die Wes-Kaap verbruik nagenoeg 1 739 miljoen liter petroleum
jaarliks. Hierdie syfer sluit die bydrae wat gars en veral korog tot die
produksie van etanol kan maak, uit.
Die navorsingsresultate toon dat daar vir elke ton B3- en B4-graad koring
wat aan die beoogde aanleg gelewer kan word, 'n direkte Randwaarde van R243 per
ton toegevoeg word. Die aanleg toon 'n beraamde netto waarde van R69 miljoen in
die eerste jaar. Hierdie syfer kan met R25 miljoen verhoog word, indien die
aanleg etanol direk aan 'n petroleumaanleg lewer. Met ander woorde, indien dit
nie nodig sou wees om 'n denaturant by die etanol te voeg voor lewering nie.
Teen 'n eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen realiseer die belegging 'n
opbrengskoers van nagenoeg 30 %.
Die ontwikkeling van 'n etanolaanleg in die Wes-Kaap hou dus die volgende
voordele in;
* 'n Eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen sal 'n bate vir die Wes-Kaap
tot stand bring.
* Nuwe werksgeleenthede sal in lyn met AsgiSA geskep word:
- Tydens konstruksie sal 150 werkgeleenthede geskep word.
- Om die aanleg te bedryf sal tot 50 nuwe gespesialiseerde werksgeleenthede
geskep word.
- Bykomend sal die oprigting van die aanleg tussen 560 en 750 nuwe
werksgeleenthede in die ekonomie aanleiding gee.
- In die koringbedryf sal 7 650 individue (insluitende mans, vrouens, kinders
en afgetredenes) verseker wees van groter werkstabiliteit en 'n meer sorgvrye
toekoms.
* Die nasionale werkloosheidsyfer van 30 persent, wat sommige ontleders reken
selfs hoër mag wees, kan dus effektief deur die ontwikkeling van 'n etanol
aanleg verminder word.
* Nuwe geleenthede vir Swart Ekonomiese Bemagtiging word ook geskep
* Nuwe geleenthede vir entrepreneurs en opkomende produsente in die veevoer- en
intensiewe veebedrywe (pluimvee, varke, vleisbeeste en suiwel) mag ontstaan.
Die aanleg sal ongeveer 95 000 ton hoëproteïen-veevoer (gedroogde
distileergraan met oplossings) produseer.
* Met die groeiende mark vir koolsuurgas (CO2), veral vir toekomstige
watersuiwering, sal die 95 000 ton koolsuurgas wat geproduseer gaan word,
verwelkom word.
* Vir die produksie van petroleum sal die plaaslike geproduseerde etanol
Suid-Afrika minder afhanklik van ingevoerde ru-olie maak.
* Wêreldwye kommer oor die verwarming van ons atmosfeer (veroorsaak deur die
uitlaatgasse van voertuie wat koolstofdioksied bevat) word aangespreek deur
meer etanol in petroleum in te sluit.
* Internasionale ooreenkomste soos onder andere die Kyoto Protokol word in 'n
toenemende mate nagekom. Etanol word nie, soos die ander oktaanverrykende
bymiddels in petroleum, as 'n belangrike karsinogeen in uitlaatgasse beskou nie
en sal ook nie grondwater besoedel nie.
Dit is belangrik om wyer te kyk as die tradisionele losstaande aanleg wat
net etanol, voergraan en koolsuurgas (CO2) produseer. Ander tipe aanlegte moet
ook ondersoek word. Dit is dus van belang om die bestaande investering in silo-
en maalfasiliteite in ag te neem asook die produksie van produkte soos gluten,
bio-gas, surplus elektrisiteit, organiese kunsmis en ammoniak.
Verdere landbou-ekonomiese navorsing sluit die evaluering van aanlegte in
wat in hul eie energiebehoeftes (elektrisiteit) voorsien. Hierdie ondersoek
word tans in samewerking met 'n Kanadese konsultasiemaatskappy gedoen. Verder
heers daar onsekerheid oor die invloed wat 'n biodieselaanleg met ingevoerde
sojabone as grondstof, op die lewensvatbaarheid van 'n etanolaanleg, asook die
Wes-Kaap se ekonomie mag hê. Dit moet in die lig gesien word dat die
neweprodukte van 'n etanol- en biodieselaanleg waarskynlik in die veevoermark
sal meeding. Dit mag 'n onbekende impak op die kanola- en toerismebedryf in die
Overbergstreek hê.
Ek glo dat die ontwikkelende etanolbedryf dus saam met die surplus
kleingrane 'n uitstekende geleentheid vir groei en stabiliteit in die Wes-Kaap
se ekonomie bied en is van mening dat ons die pas sal moet versnel in ons
strewe om 'n voorloper in die bedryf te word.
Ek wil vir u baie sterkte toewens met die simposium en die hoop uitspreek
dat u vandag daarin gaan slaag om heelwat stene te vorm wat as boublokke sal
dien vir die toekoms.
Navrae: Alie van Jaarsveld
Cell: 084 604 6701
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za
Issued by: Ministry of Agriculture, Western Cape Provincial Government
15 September 2006