Wêreld-voedseldag vieringe by Murraysburg
12 Oktober 2007
Wêreld-voedseldag is 'n baie belangrike datum op die landboukalender, nie
net hier by ons nie maar dwarsdeur die wêreld, aangesien 16 Oktober die datum
is waarop die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) van die Verenigde Nasies in
1945 gestig is. Die tema vir Wêreld-voedseldag 2007 is "Die reg tot
vodsel".
Dit is die reg van elke persoon om gereelde toegang te hê tot genoegsame,
voedsame en kultureel aanvaarbare voedsel om 'n aktiewe gesonde lewe te lei.
Dit is die reg van elkeen om hom of haarself op 'n waardige wyse te voed eerder
as om gevoer te word.
Met meer as 850 miljoen mense wat dwarsdeur die wêreld honger ly is die reg
tot voedsel nie net 'n ekonomiese morele en politieke gegewe nie, maar rus daar
ook 'n wetlike verpligting op regerings dwarsoor die wêreld om seker te maak
dat daar genoegsame voedsel is vir die mense van die land.
Die Regering van die Wes-Kaap is baie ernstig oor voedselsekuriteit
aangesien die grondwet van ons land voedselsekuriteit as 'n basiese mensereg
beskou.
Daarom is dit die reg van elke Suid-Afrikaner om te alle tye toegang te hê
tot genoeg veilige en voedsame voedsel en maak die Departement van Landbou in
die Wes-Kaap jaarliks in sy begroting voorsiening vir die vestiging van
voedseltuine en ander projekte om van ons mense in staat te stel om
selfvoorsienend te wees deur middel van hierdie projekte.
We say that we recognise food security as a priority and it is our duty to
create sustainable interventions to prevent food insecurity through
agricultural solutions as a contribution to a sustainable safety net. And in
our Mission Statement it is very aptly stated and I quote: "To enhance the
economic, ecological and social wealth of the people of the Western Cape
through reducing hunger in the Western Cape."
Ek het reeds gesê dat die VLO bereken dat daar meer 850 miljoen mense deur
die wêreld honger ly. Tydens die wêreldvoedselberaad wat in 1996 in Rome gehou
is en ook weer vyf jaar later tydens die wêreldvoedselberaad in 2002, het
wêreldleiers onderneem dat hierdie syfer teen 2015 met die helfte verminder
moet wees.
Ons is gelukkig dat Suid-Afrika selfonderhoudend is wat die beskikbaarheid
van voedsel aanbetref, maar ten spyte hiervan is daar baie mense wat daagliks
honger ly en selfs gevalle waar mense aan wan- en ondervoeding ly. Die hartseer
hiervan is dat dit in baie gevalle ons kinders en bejaardes is wat die swaarste
getref word. In baie gevalle is die kos beskikbaar, maar mense het nie die
finansiële middele om dit te koop nie. Met ander woorde, mense ly honger as
gevolg van armoede.
Dit is om hierdie rede dat die voedselsekuriteitsprogram van die Departement
van Landbou in die Wes-Kaap op twee bene staan, naamlik om programme te volg
wat daarop ingestel is om mense in staat te stel om die nodige finansiële
middele te bekom en sodoende armoede te verlig en tweedens is ons daarop
ingestel om ons mense te help om hulle eie voedsel te produseer.
Binne die Departement van Landbou in die Wes-Kaap het ons oor die laaste
paar jaar 'n nuwe program gevestig met die naam van FSD of anders gestel Farmer
Support and Development. Die mandaat van hierdie program is om om te sien na
voedselsekuriteit, vestiging van nuwe boere, verdere ondersteuning van nuwe
boere en ook die ontwikkeling van plaaswerkers.
Die sub-program Voedselsekuriteit koördineer en vestig nuwe voedselproduksie
projekte wat op hulle beurt weer inpas by die geïntegreerde voedsel sekuriteit
strategie van die nasionale departement. Ons het ook amptenare in die vyf
streke wat baie nou met die gemeenskap werk om voedseltuine te vestig wat aan
families of gemeenskappe voedsel kan voorsien.
Dit het onder ons aandag gekom dat die werkloosheid in hierdie omgewing waar
u woon, amper 90% is, en daarom maak baie van u staat op die maatskaplike
toelae van die regering af. U area is deur die President geïdentifiseer as een
waar daar op 'n praktiese manier 'n oplossing gevind moet word om u kwaliteit
van lewe te verbeter.
By landbou is dit ons uitgangspunt dat waar mense gesond genoeg is en daar
'n wil is om te werk, daar probeer ons u in staat stel om u eie bestaan te
maak. Dit is dan ook om die rede dat ons hierdie 40 projekte op Murraysburg kom
vestig. Ons gaan vir 40 families 25 hoenders gee om 'n boerdery te begin, met
ander woorde ons gee 'n 1 000 hoenders vir die mense van Murraysburg om u
lewensomstandighede hier te verbeter.
Soos ek gesê het, is die departement by baie projekte betrokke so het ons
verlede jaar met die hulp van ons beamptes projekte ondersteun dwarsdeur die
provinsie, naamlik:
1. Kaap wynland: 30 projekte
2. Metropool: 21 projekte
3. Weskus: 30 projekte
4. Eden: 22 projekte
5. Sentraal Karoo: vier projekte
6. Overberg: 26 projekte.
Verder het ons met fondse wat ons van die provinsie af gekry het, nog
projekte ondersteun, naamlik:
1. Metropool: 17 projekte
2. Weskus: vyf projekte
3. Eden: vyf projekte
4. Sentraal Karoo: sewe projekte
5. Kaapse Wynland: agt projekte
6. Overberg: 10 projekte.
Dit is in totaal 185 projekte.
Hierdie jaar is ons besig om R4,5 miljoen aan nuwe projekte te bestee. Ons
hoop om 'n hoeveelheid voedselsekuriteitsprojekte, en hiermee bedoel ek
hoofsaaklik groentetuinprojekte, provinsiewyd met 20% uitbrei. So gaan ons
byvoorbeeld meer as R4 miljoen net in die Kaapse Metropool op projekte
spandeer. Terwyl landbou hoofsaaklik in die landelike gebiede gesentreer is, is
hierdie een van die maniere waarop Departement van Landbou sy bydrae lewer tot
die werkloosheid en dus hongerstryd wat ook in stedelike gebiede hoogty
vier.
Landbou speel 'n belangrike rol in elkeen van ons se lewe. Ek wil so ver
gaan as om vir u te sê dat sonder landbou kan ons nie bestaan nie. Kyk maar net
rondom u en u sal sien. Waar kom die klere vandaan wat u aan het? Waar kom die
kos vandaan wat u eet? Waar kom die hout vandaan waarmee baie meubels van
gemaak word en so kan ek aangaan.
Ons wil hê dat u ons vennote moet word om landbou in die Wes-Kaap te laat
groei. U moet saam met ons daaraan werk dat ons kan sorg dat daar genoeg kos op
die tafel is. Daardeur gaan u nie net sorg dat u nie honger ly nie, maar gaan u
ook sorg dat u 'n inkomste het om van te leef.
Hierdie regering het in die verkiesing van 2004 opnuut met u 'n kontrak
aangegaan om armoede te beveg deur planne te implementeer en projekte in
werking te stel waarby u as individue en as gemeenskap baat sal vind. So
byvoorbeeld spandeer ons in die Departement van Landbou in die Wes-Kaap amper
80% van ons totale begroting op programme en projekte wat daarop gemik is om
die ongelykhede van die verlede uit te wis.
Ek wil ook terselfdertyd vir u as gemeenskap vra om u kinders bewus te maak
van Landbou sodat hulle miskien eendag 'n loopbaan in landbou kan volg. Ons
stel beurse aan jong kinders van plaaswerkers beskikbaar om op Elsenburg te kom
studeer in landbou. Ons borg programme saam met ander regerings om van ons
plaaswerkers oorsee te stuur om te gaan leer hoe word kaas en wyn gemaak in
ander lande.
Ons wil hê dat u moet weet dat u nie alleen staan in u geveg teen armoede
nie. Ons wil nie hê dat u moedeloos moet wees nie. Ons wil hê dat u mense van
hoop moet wees.
Die Regering van die Wes-Kaap het 'n plan waarvan u deel is. Ons praat van
'n "tuiste vir almal" in die "Groeiende Kaap" of "Ikapa elihlumayo". Hierdie
twee begrippe is die basis waarvandaan die Regering van die Wes-Kaap werk om
vir al die inwoners van die provinsie te help veg teen werkloosheid, armoede en
sosiale verval sodat elkeen 'n ware lid van die tuiste kan wees waarna ons as
regering streef.
Elke huis het 'n fondament waarop dit gebou word, so het hierdie huis van
Ikapa Elihlumayo ook 'n fondament, en hierdie fondament is, waardigheid,
billikheid en welvaart. Ons wil hê dat elke persoon, ook jongmense, met
waardigheid en billikheid hanteer sal word sodat ons almal ewe menswaardig sal
voel. Dit is nie al nie. Ons wil welvaart skep sodat ons mense nie van
maatskaplike pensioene en kindergrants afhanklik moet wees nie. Die geleerde
mense praat van 'n paradigma skuif. Ek praat sommer van 'n kopskuif of
"mindchange" As ons 'n tuiste vir almal in die Wes-Kaap wil skep, sal baie
mense paradigma skuiwe moet maak sodat ons kan wegkom van maatskaplike
afhanklikheid om ekonomies selfstandig te word. U moet nie na ander mense kyk
om die dice vir jou reg te laat val nie. Jy moet jou eie dice skommel en
homself gooi. Hou op om na ander te kyk vir 'n aalmoesie anders gaan jy 'n mens
sonder hoop bly vir die res van jou lewe.
Ons het vandag hiernatoe gekom om vir u nuwe hoop te gee. Ek vra vir u om
saam met ons te werk en te sorg dat hierdie programme oor 'n jaar van nou af,
nie meer programme of projekte sal wees nie, maar volwaardige boerderye wat aan
u 'n behoorlike inkomste sal verskaf en terselfdertyd sal sorg dat daar kos op
die tafel is.
Navrae:
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: 021 483 4930
Fax: 021 483 3890
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za
Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial
Government
12 October 2007
Source: Western Cape Provincial Government (http://www.capegateway.gov.za/)