Provinsiale Minister of Landbou in die Wes-Kaap, Ladismith
6 September 2006
Ek moet my verskoning aanbied vir die feit dat ek nie die volle program van
vandag kon meemaak nie, maar ek moes op baie kort kennisgewing die Wes-Kaapse
Landbou aan die Russiese president gaan bekendstel.
Die skepping van inkomste- en werkgeleenthede geniet 'n hoë prioriteit in
ons strategieë, daarom is dit noodsaaklik dat daar altyd nuwe projekte soos
hierdie aangepak sal word waar al die mense in die omgewing baat by sal vind.
Ons het ook die hulp van ons kommersiële boere en entrepreneurs nodig om
werksgeleenthede te skep. Hierdie Bemagtigingsprojek wat deur Pieter Coetzee
van Assegaay Bosch Lodge aangepak is, gee aan baie van u die geleentheid om ook
nou nuwe hoop op die toekoms te hê.
Die projek saam met Meadow Feeds is 'n tipiese voorbeeld van die soort visie
wat ons in die provinsie nodig het, wat nie net 'n invloed op u as bemagtigdes
gaan hê nie, maar ook 'n groot invloed op die hele gemeenskap tot gevolg sal
hê.
Die Klein Karoo se ekonomie kry 'n ekstra dimensie by met die toetrede van
die veevoermaatskappy Meadow Feeds tot die streek.
Die toekomstige werksgeleenthede wat geskep gaan word, plus die feit dat
opkomende sowel as kommersiële lusernboere 'n afsetpunt vir hul produk op hul
voorstoep sal hê, maak die aankoop van die Ladismith voerverwerkingsaanleg nie
net ekonomies nie, maar ook polities volhoubaar.
Die twee bemagtigingsprojekte is rondom die veevoerverwerkingsaanleg
gestruktureer en is in twee maatskappye gevestig, naamlik Beavercreek Farms
(Pty) Ltd. en Moose Valley Farms (Pty )Ltd. Die twee maatskappye besit elf
plase en beslaan tans meer as 26% van die Buffelsrivier Besproeiingskema. Die
grondwaarde van hierdie twee projekte beloop R46 miljoen en is deur Assegaay
Bosch Ranch vanuit eie fondse befonds. Die First Rand Groep deur die filiaal
Wesbank het die implemente ter waarde van 'n verdere R7 miljoen befonds.
Met die betrokkenheid van Meadow Feeds by die veevoeraanleg, beteken dit dat
die aanleg voortaan 'n baie wyer inslag op die nasionale mark sal hê en nie net
vir die meng van volstruisvoer aangewend sal word soos tans die geval is nie.
Daarbenewens het Meadow Feeds 'n lusern-leweringsooreenkoms van 10 jaar met
Assegaay Bosh Ranch en die aandeelhouers vanuit ons voorheen benadelde
gemeenskap, in wie eienaarskap van die twee Swart Ekonomiese
Beamgtigings-maatskappye vestig, aangegaan. Die landbou-infrastruktuur en
ekonomieë van Ladismith en Van Wyksdorp is feitlik totaal deur die groot vloed
van 1981 vernietig. Veral besproeiingsgrond onder die Buffelsrivier
Besproeiingskema is vernietig.
Teen die tyd dat Assegaay Bosch Ranch in 1998 landbougrond onder die
Buffelsrivier begin aankoop het, was slegs sowat vyftig persent van die skema
herstel. 'n Grootskaalse konstruksiepoging is aangepak en teen 2004 is een
duisend driehonderd ha besproeiingsgrond hervestig en derhalwe die
Buffelsrivier Besproeiingskema tot sy voormalige glorie herstel. Hierdie lande
is vandag gevestig met grootmaat lusern, wingerd, olywe en 'n verskeidenheid
vrugte.
Ek wil egter aan u as begunstigdes sê om te kan boer is nie 'n reg nie, dis
'n voorreg. Die besit van grond is wel 'n reg, maar wanneer ons hierdie twee,
nl. boerdery en grondbesit bymekaar bring, word dit 'n onderneming wat met
groot verantwoordelikheid aangepak moet word en daarom is dit vir ons in die
Wes-Kaapse Departement van Landbou baie belangrik dat bemagtigingsprojekte
geslaagd en volhoubaar moet wees.
Dit was vir my 'n voorreg om hierdie aandelesertifikate aan u te oorhandig
en aan u alle sterkte toe te wens met u toekomstige planne. Ek wil die hoop
uitspreek dat u in die toekoms van krag tot krag sal groei in u strewe om saam
met die regering 'n tuiste vir al ons mense in die Wes-Kaap te skep.
Navrae:
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za
Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial
Government
6 September 2006
Source: Western Cape Provincial Government (http://www.capegateway.gov.za)