conference on alcohol and substance abuse in rural areas
11 June 2007
Geagte seremoniemeester
Verteenwoordigers van verskillende organisasies wat 'n bydrae gaan lewer
Dames en here
Laat my toe om sommer heel aan die begin vir almal wat vandag hier
teenwoordig is dankie te se vir bereidwilligheid om hierdie konferensie saam
met ons by te woon.
Dit is vir ons 'n teken dat u saam met ons besorgd is oor die welstand van
ons mense op die platteland en dan veral met betrekking tot alkohol- en
dwelmmisbruik. Hierdie konferensie is 'n voortvloeisel van die pad waarop ons
begin loop het toe ons in 2004 aan bewind gekom het en besluit het dat veral
plaaswerkers se nood op vele terreine pertinente aandag moet kry. Meeste van u
weet dat die gevolg hiervan die strategiese plan vir plaaswerkers is wat in
Desember 2005 deur die Kabinet van die Wes-Kaap goedgekeur is. Ons het onsself
daartoe verbind om die lot van plaaswerkers en die hele plaaswerkergemeenskap
te verbeter en ons is elke dag doelgerig daarmee besig onder leiding van die
sub-program plaaswerkerontwikkeling binne die Departement van Landbou in die
Wes-Kaap.
Vir ons as regering in die Wes-Kaap is die welstand van die mense wat hier
woon die belangrikste. Ons sê die menslike element is die beginpunt van alle
aktiwiteite in ons strewe om 'n tuiste vir almal te skep. Dit is alom bekend
dat die Departement van Landbou in die Wes-Kaap 'n baie hoë premie plaas op die
lewensomstandighede van die plaaswerkergemeenskap.
Ek is besorg oor die morele verval wat daar onder ons plaaswerkergemeenskap
is. Ons het dit die afgelope 36 maande ons taak gemaak om by die plaaswerkers
self te hoor wat die probleme is waarmee hulle worstel en hulle het
alkoholmisbruik ook as een van die knelpunte op die agenda geplaas.
Baie van u wie vandag hier teenwoordig is, is reeds op een of ander manier
saam met ons by die implementering van die strategiese plan betrokke en sommige
van u organisasies kry op een of ander wyse steun van die Departement af om 'n
verskil aan plaaswerkers se lewe te maak.
Hoekom is dit belangrik dat ons 'n konferensie soos hierdie moet hou? Dit
word bereken dat die ekonomiese koste van alkoholmisbruik in die Wes-Kaap meer
as R1 biljoen jaarliks oorskry en dat meer as 'n kwart van mense wat alkohol
oor naweke in die Wes-Kaap gebruik die normale risikovlakke oorskry.
Die invloed wat alkohol op jou en my lewe en die ekonomie het, kan in die
volgende syfers gesien word: As gevolg van alkoholmisbruik bereik slegs 65% van
werkers hulle volle potensiaal in die werkplek. Mense wat alkohol misbruik is
vier keer meer in ongelukke betrokke as ander mense en is meer as vyf keer meer
af siek as mense wat nie alkohol misbruik nie. Tussen 40 en 60% van mense wat
in ongelukke sterf, was onder die invloed van drank.
Ons kan voortgaan om vele ander syfers vir u aan te haal, maar ek glo dat u
'n idee het waarvan ons praat.
Together with you, we need to tackle this problem of alcohol and substance
abuse. We need to understand the enormity of the problem and the devastating
effect it has on our communities.
We need to sensitise people to the fact that it is a social disorder that
causes many problems at high cost, not only in monetary terms but also in human
capital.
The social effect of alcohol abuse is manifold. It has an impact on the
family life, starting with a shortage of money in the household to violent
abuse of spouses and children. It affects the moral fibre of our society. It
impacts on our mental and physical ability with even more devastating affects
on pregnant women and their unborn children. It has an enormous impact on our
children where we find learning disabilities, early school dropout juvenile
delinquency, poverty, chronic unemployment, unwanted pregnancy and so the list
goes on and on.
Ons kan egter alkoholmisbruik oorwin net soos ons in die verlede ander
gesondheidsgebreke oorkom het. Voorkomings- en vroeë behandelingsprogramme
onder misbruikers van alkohol sal ons help om die verskil te maak daar waar dit
die belangrikste is, naamlik in die huishouding.
Daar is vandag al baie organisasies wat met baie kundigheid in hulle midde
rondgaan wat bereid is om betrokke te raak en ons sal beslis daaraan moet dink
om 'n formele aksie aan die gang te kry. Vroeë diagnose en nuwe
behandelingstegnieke, mediese behandeling, opvoeding en bewusmaking en
huisvesting kan geaffekteerde persone in staat stel om produktiewe lewes te lei
en sodoende miljoene rande te spaar wat weer benut kan word teen die siekte
asook vir armoedeverligting.
Ek wil u versoek om van hierdie konferensie gebruik te maak om na oplossings
te soek eerder as om beskuldigings te slinger. Ek wil hê u moet vir uself die
vraag afvra watter bydrae kan u organisasie verder lewer binne spanverband
eerder as wat u op u eie wil probeer om alles te vermag. Somtyds is ons besig
om ons kragte te vermors met duplisering van programme terwyl ons van mekaar se
kundigheid gebruik kan maak en dus meer tyd en energie kan spaar wat ons met
verdere onwikkelingsprogramme en navorsing kan doen.
Die vraag is hoeveel mense bereik ons werklik en op hoeveel mense se lewens
maak ons 'n impak. Hoeveel gemeenskappe leef nie maar van dag tot dag sonder
hoop nie en soek uiteindelik hulle hoop deur die nek van 'n bottel of die tuit
van 'n papsak nie.
Watter programme stel ons tot mense se beskikking sodat hulle hulle tyd meer
effektief kan deurbring. Watter vorme van tydverdryf is daar binne ons
gemeenskappe wat mense weghou van verveeldheid en uiteindelike vergrype aan
drank en dwelms.
Ons kan dit slegs doen as ons vennote het wat elke dag saam met ons werk om
hulle toe te rus om soos mense te leef wat hoop het op 'n beter toekoms. U wie
vandag hier is, is hierdie tipe vennote wat daagliks aangaan met u programme om
by skole, op plase en dorpe en elke moontlike geleentheid mense bewus te maak
van die probleem, omdat u saam met ons die lewensomstandighede van al ons mense
wil verbeter en omdat u glo in die mensemateriaal van die provinsie.
Daar is egter ook 'n ander aspek wat ek wil aanraak en dit is ons geestelike
lewe en die rol van die kerk.
Veral in landbou is 'n mens elke dag deeglik bewus van jou afhanklikheid van
die Skepper en u wat meestal ook op plase werk, sal weet dat die daar baie
faktore buite ons beheer is wat 'n rol speel in die sukses van boerdery, waar
ons totaal uitgelewer is aan die genade. So kan jy die wonderlikste oes op die
land hê, maar dit kan in 'n oogwink uitgewis word deur 'n haelstorm of ons kan
die beste planne hê, maar as die reën wegbly dan vrek die vee van dors of is
daar nie water om mee te besproei nie.
So praat die Bybel op baie plekke oor die landbouer en die saad wat op goeie
en slegte grond gesaai is, wat opgekom het en mooi gegroei het en van ander
saad wat deur die dorings verdring is. Dit praat ook oor die arbeider wat sy
loon werd moet wees en oor ons verhouding as werkgewer en werknemer teenoor
mekaar. So praat die Woord ook oor hoe ek as ouer teenoor my kind moet optree
en hoe ons as man en vrou teenoor mekaar moet optree. Dan is daar ook die groot
boodskap oor liefde van God vir ons as mense en die hoop wat Hy aan ons gee en
die mooi boodskap dat ons nie as hopelose mense moet leef nie, maar soos mense
wat vol hoop is vir die toekoms. Ek wil vandag vir die kerk vra om asseblief
ons hande te vat in die poging om ons mense te bevry van die slawerny van drank
en algehele morele verval. Kom word u ook deel van ons poging om ons mense op
te hef. Help ons om die grond voor te berei en die saad te saai.
As MEC in die Wes-Kaapse regering moet ek vir u sê dat ons as ANC Regering
werklikwaar hoop vir ons mense vir die toekoms wil gee. President Mbeki het
verlede jaar in sy openingsrede van die Parlement gesê dat ons as
Suid-Afrikaners 'n tydperk van hoop tegemoet gaan.
Ek wil weer eens 'n beroep op u doen dat ons hierdie konferensie sal gebruik
om oplossings te vind en planne op die tafel te plaas sodat ons wel vir ons
mense hoop vir die toekoms kan skep.
Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial
Government
11 June 2007
Source: Western Cape Provincial Government (http://www.capegateway.gov.za/)