Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 21 Junie 2017

Die Kabinet het op Woensdag 21 Junie 2017 teTuynhuys, Kaapstad vergader.

  1. Kwessies in die omgewing

1.1 Die Kabinet het besin oor onlangse aankondigings deur die drie belangsrikste graderingsagentskappe. Al drie graderingsagentskappe het soortgelyke kwessies uitgelig, soos, onder meer, die stadige tempo van hervormings wat groei verbeter, die prestasie van maatskappye in staatsbesit en politieke risiko's.

Die Kabinet het sy vertroue uitgespreek in die regering se stelselmatige ingrypings om die land se ekonomiese uitdagings te pak, asook in werk wat onderneem word om die prestasie van maatskappye in staatsbesit te verbeter. Die regering bly op koers in die handhawing van sy fiskale raamwerk, die versekering van beleidsekerheid, en stappe om inklusiewe groei en ekonomiese transformasie te bevorder.

Die Kabinet beklemtoon dat die grondslag vir 'n hoër groeikoers en sosio-ekonomiese ontwikkeling reeds gelê is. Dit konsentreer op die verbetering van beleggers- en verbruikersvertroue deur die implementering van strukturele hervormings vir ekonomiese groei te versnel.

President Jacob Zuma het die werksessie van die Adviesraad vir Swart Ekonomiese Bemagtiging op Dinsdag 20 Junie 2017 saamgeroep, waar die klem op radikale sosio-ekonomiese transformasie geval het. Die werksessie het onder meer aandag gegee aan die stelselmatige en strukturele implementeringsuitdagings van die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging, 2003 (Wet 53 van 2003) en die voorgestelde aanbevelings om die regering se doelwitte rakende radikale sosio-ekonomiese transformasie te bereik.

Die vennootskap tussen die regering, die saksektor, arbeid en die burgerlike samelewing is van kritieke belang om vertrouensvlakke te bevorder sodat ons deur saam te werk, ons beleggingsgraderings kan herwin en in stand kan hou.

1.2 Met die einde van Jeugmaand in sig, bedank die Kabinet alle sektore regdeur die land wat aan die aktiwiteite deelgeneem het. Dit is bemoedigend dat duisende jeugdiges by verskeie bemagtigingsaktiwiteite wat gedurende Jeugmaand deur departmente, regeringsentiteite en die private sektor aangebied is, betrokke was.

Vanjaar is die 41ste herdenking van die 1976 Soweto Studente-opstand en deur dié gebeurtenis te herdenk word ons daaraan herinner dat ons land se jeug aan die voorpunt van die vryheidstryd was. 

Die Kabinet doen ’n beroep op die jeug om gebruik te maak van al die ondersteuning en hulpmiddels wat die regering bied om hul vooruitsigte te verbeter en hul deelname aan die ekonomie te bevorder.

1.3 Die Kabinet veroordeel die onlangse geweld en intimidasie van pendelaars tydens die betogings deur taxi-eienaars. Sulke optrede hoort nie tuis in 'n demokratiese samelewing nie. Vreedsame ingrypings oor enige aangeleentheid sal altyd voordelig wees vir alle betrokkenes.

Die daaropvolgende ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxivereniging en SA Taxi Finance Holdings is verdere bevestiging dat vreedsame dialoog sulke kwessies kan oplos sonder om onskuldige mense te benadeel en die ekonomie te ontwrig. Die Kabinet verwelkom hierdie besluit, wat in die beste belang van pendelaars en die taxibedryf is.

Die Kabinet verwelkom die dialoog wat tans tussen die Departement van Vervoer en die leierskap van die taxibedryf plaasvind om 'n blywende oplossing te vind. Die departement sal samesprekings voer met ontwikkelingsfinansieringsinstellings om alternatiewe opsies vir taxi-finansiering te vind.                    

1.4 Die Kabinet betuig sy innigste meegevoel met almal wat geliefdes verloor het tydens die onlangse rampe in die Wes- en Oos-Kaap. 'n Aantal inwoners het ook ontheming en die verlies van eiendom gely.

Die Kabinet prys die vinnige geïntegreerde benadering en reaksie van die regering, die sakesektor en deursnee Suid-Afrikaners wat gesinne wat deur die rampe geraak is bygestaan het. Die Kabinet bring hulde aan die heldhaftige vrywillige brandweerman, Bradley Richards, en die vragmotorbestuurder, John Blaaw, wat brandweermanne gehelp het om water te vervoer en met hul lewens geboet om hul gemeenskap te red.

Die Kabinet spreek verder spesiale waardering uit teenoor die Working on Fire-span wat die woeste brande dapper beveg het. Hulle is ons trots! Die Kabinet wens die twee beseerde brandweermanne, waaronder Ian Barnard, wat beserings opgedoen het terwyl hulle Bradley Richards probeer red het, 'n spoedige herstel toe.

President Zuma het die gemeenskappe van Wit Lokasie en Knysna Heights besoek wat deur die brande geraak is. Die President het ook die gedenkdiens van mnr Richards bygewoon. In die ware spangees van vuurvegters was mnr Barnard in staat om die gedenkdiens van sy kollega, mnr Richards, by te woon.

Die President het humanitêre en ander ondersteuning aan al die gebiede wat deur die brande geraak is, gestuur. Dit is gekoördineer deur die Nasionale Gesamentlike Bedryfsentrum se Rampbestuurstruktuur, wat saam met die Wes-Kaapse Provinsiale Regering en provinsiale rampbestuurspanne werk.

Die Kabinet bedank alle nie-regeringsorganisasies, die private sektor, vrywilligers en gemeenskappe vir hul bystand aan die gemeenskappe wat deur die ramp geraak is.

1.5 Die Kabinet moedig gemeenskappe in Limpopo wat aan Zimbabwe grens aan, om waaksaam te wees en hul pluimvee dop te hou. Dit volg op 'n verslag dat ’n voël- en hoendergriepvirus genaamd H5N8 daar uitgebreek het. Die handel in voëls en pluimveeprodukte uit Zimbabwe is opgeskort. Die H5N8-virus is hoogs patogeen en uiters aansteeklik en lei tot 'n hoë vlak van mortaliteit. Kommersiële boere word ook aangemoedig om hul biosekuriteitsmaatreëls op plase te verhoog.

1.6 Die Kabinet verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof wat Artikel 18 van die Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977) ongrondwetlik verklaar het. Die 20-jaarperk om strafregtelike klagtes teen beskuldigdes van seksuele misbruik te lê, is opgehef. Hierdie uitspraak sal 'n belangrike rol speel in die versterking van ons regstelsel se vermoë om op te tree teen die skuldiges wat geweld teen vroue en kinders pleeg.  

1.7 Die Kabinet verwelkom die onlangse Internet vir Almal-gemeenskapsessie wat in Kliptown, Soweto gehou is. Die sessie – gelei deur die Minister van Telekommunikasie- en Posdienste, Siyabonga Cwele, in vennootskap met die Wêreld Ekonomiese Forum, die private sektor en die burgerlike samelewing – het daartoe gelei dat ongeveer 500 jeugdiges in basiese inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) -vaardighede opgelei is. Die Verklaring oor Internet vir Almal het ’n leierskapstruktuur goedgekeur en ook doelwitte vir implementering binne die volgende ses maande geïdentifiseer.

Die Kabinet verwelkom ook die ingryping deur die Departement van Telekommunikasie- en

Posdienste deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika en die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling deur die Mededingingskommissie, om ondersoek in te stel na die hoë koste van data, wat steeds beter toegang tot IKT verhinder.

1.8 Die Kabinet is bekommerd oor berigte dat dienste ontwrig word weens die voortslepende arbeidsgeskille by lykshuise in Gauteng. As gevolg hiervan, kan bedroefde gesinne nie hul naasbestaandes se liggame eis nie. Sterftes in enige familie lei tot kwesbaarheid en pyn vir die oorlewendes. Geen geskil in enige samelewing is sulke onsensitiewe optrede werd nie. Die Kabinet doen 'n beroep op alle betrokke partye om 'n vriendskaplike oplossing vir hul geskille te vind sonder dat die oorledenes se gesinne daardeur geraak word.

1.9 Die Kabinet verwelkom die vorming van die Plaaslike Regering-jeugontwikkelingsforum. Die forum is daarop gerig om 'n progressiewe stem van die jeug te wees in die implementering van verskeie jeugontwikkelingsinisiatiewe binne plaaslike regerings. Die forum het sy stigtingskonferensie op 20 tot 21 Junie in Muldersdrift, wes van Johannesburg gehou.

  1. Kabinetsbesluite

2.1 Die Kabinet verwelkom die Witskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NHI), wat as ’n beleidsdokument aangekondig sal word. Die Witskrif is ’n stap nader aan die doelwit om gesondheidsorg toeganklik te maak vir alle Suid-Afrikaners, ongeag hul sosio-ekonomiese status.

Die NHI is 'n gesondheidsfinansieringstelsel wat fondse toeken om toegang tot gesondheidsorg te bied.

Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se doelwit wat daarop gemik is om te verseker dat almal toegang tot gesondheidsorg kry, ongeag hul inkomste.

Die Departement van Gesondheid sal op 29 Junie 2017 'n inligtingsessie hou om die beginsels van hierdie Witskrif volledig uit te pluis.

2.2 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Hersiene Menslikehulpbronstrategie tot 2030. Die hersiene strategie gee aandag aan die swakhede wat in die afgelope vyf jaar in sommige dele van die onderwys- en opleidingstelsel geïdentifiseer is, en het ook die gebrek aan koördinasie tussen verskillende dele van die stelsel geïdentifiseer.

Die strategie is nou belyn met die NOP en die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2014-2019.

Dit fokus ook alle belanghebbendes wat by die saak betrokke is (owerheid, arbeid, burgerlike organisasies en private sektore) se aandag op die behoeftes van die ekonomie en die noodsaaklikheid om 'n nywerheidstrategie wat inklusiewe groei en ontwikkeling bevorder te ondersteun.

2.3 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die sleutelbevindinge van die 2015/16 opname oor staatsbefondsing vir wetenskaplike en tegnologiese aktiwiteite. Die 1996 Witskrif oor Wetenskap en Tegnologie vereis dat die Departement van Wetenskap en Tegnologie die regering se befondsing van die wetenskap- en tegnologiesektore, en die bydrae daarvan tot Suid-Afrika se groei en ontwikkeling, moet monitor.

Die resultate van die bevindings van 30 nasionale departemente dui aan dat 'n beraamde R23,4 miljard van die nasionale fiskus in die boekjaar 2015/16 bestee is. Die Kabinet neem kennis van die nominale toename van 6,6% in vergelyking met die vorige jaar gegewe die huidige fiskale beperkings.

Hierdie totale belegging verteenwoordig 1,7% van die totale nasionale begroting vir die jaar. Die Kabinet het begrip vir die feit dat die meeste van hierdie fondse aangewend is as deel van wetenskaplike dienste wat dienslewering in kerngebiede van regeringsbevoegdheid ondersteun, soos onderwys, gesondheid, minerale, energie, landbou en die omgewing.

  1. Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die Wetsontwerp op Tradisionele Inisiasie vir openbare kommentaar. Die wetsontwerp poog om tradisionele inisiëringspraktyke te beskerm, te bevorder en te reguleer. Sodra dit goedgekeur is, sal die wetsontwerp aanvaarbare norme en standaarde voorsien in die uitvoering van hierdie gebruike. Dit gaan oor die misbruik van die inisiëringspraktyk, wat tot die dood van talle  jong seuns in inisiëringskole gelei het.

Die regering en tradisionele leierskapinstellings het ’n standpunt van geen verdraagsaamheid ingeneem teenoor inisiëringspraktyke wat die dood van geïnisieerdes veroorsaak.

3.2 Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Navorsingstigting (NRF) van 2017 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp het reeds deur die volle proses van openbare konsultasies gegaan. Die wysigings gee ’n uiteensetting van die Minister van Wetenskap en Tegnologie se gesag oor die stigting, sowel as die NRF se verantwoordelikhede ten opsigte van wetenskapbetrokkenheid. Hierdie wysigings sal die minister se gesag uitbrei om die NRF te lei en doeltreffendheid te bevorder.

Hulle sal ook die doeltreffendheid van navorsing verbeter, sowel as die invloed van ontwikkeling en innovasie op die lewenskwaliteit van Suid-Afrikaners, deur dit beter te belyn met die regering se prioriteite.

3.3 Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Burgerlugvaart van 2017 aan die Parlement voorgelê word. Die wetsontwerp versterk die bepalingsraamwerk vir die veiligheid en beskerming van die lugvaart ten einde volhoubaarheid en stabiliteit van die burgerlike lugvaartbedryf te verseker.

Die wysigings sluit onder meer 'n bepaling rakende die operasionele onafhanklikheid van vliegongeluk- en voorvalondersoeke in; dit maak ook voorsiening vir die stigting van die Raad vir Lugvaartveiligheidsondersoeke. Verder wysig dit en voeg sekere definisies by die Wet.

3.4 Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Deeltitels van 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Die wysigings hersien die funksionering, toepassing en administrasie van die Wet op Deeltitels, 1986 (Wet 95 van 1986). Die huidige Wet op Deeltitels van 1986 verleen sekere regte aan eienaars van dele in deeltitelskema. Die voorgestelde wysigingswetsontwerp stel regulasies van hierdie regte op sinvolle wyse voor.

3.5 Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Kommunale Grondbesit van 2017 vir publieke kommentaar gepubliseer word. Die wetsontwerp poog om eienaars van gemeenskaplike grond te beskerm, veral kwesbare mense in landelike gemeenskappe.

  1. Toekomstige gebeure

4.1 President Zuma sal die 5de Spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU), wat op 23 Junie 2017 in Swaziland gehou word, bywoon. Staats- en regeringshoofde van die SACU-lidlande, wat Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland insluit, sal ook die beraad bywoon.

Die beraad sal verskeie kwessies rakende plaaslike handel en industrialisering bespreek, sowel as ’n werkprogram. Dit sal ook sekere aspekte van die SACU-ooreenkoms en sy opdrag hersien om die ontwikkeling van SACU-ekonomieë te fasiliteer. Deur SACU kan meer markte vir goedere en dienste uit die streek beding word deur verskeie voortgesette onderhandelings wat daarop gemik is om integrasie in die streek en op die vasteland verder te bevorder.

4.2 As deel van die voortgesette Imbizo vir misdaadbestryding, sal president Zuma op Saterdag 24 Junie 2017, die Siyahlola Presidensiële Moniteringsprogram in Lusikisiki, Oos-Kaap, besoek.

4.3 Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om die komende Knysna-oesterfees en die Knysna-marathon te ondersteun. Dit is een van die gewildste feeste en is veral gewild onder sportliefhebbers en gesinne. Alle belanghebbendes werk saam om te verseker dat Knysna ten volle operasioneel en oop vir besigheid sal wees.

4.4 Mandeladag dien as ‘n aansporing vir elkeen van ons om elke dag die wêreld 'n beter plek te maak. Die tema vir Mandeladag op 18 Julie is #ActionAgainstPoverty.

Deur elke dag 'n Mandeladag te maak, vier ons Madiba se lewe en nalatenskap op 'n volhoubare manier wat blywende verandering tot gevolg het.

  1. Meegevoel

5.1 Die Kabinet betuig sy meegevoel saam met President Zuma:

  • aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, en sy gesin met die afsterwe van sy ma, Nozipho Nzimande. Die geliefde Mama Nzimande het verlede maand 90 jaar oud geword. Sy het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en African National Congress-aktiviste hartlik in haar huis ontvang in moeilike tye toe Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal en omliggende gebiede in die laat 1980's en vroeë 1990's deur geweld verswelg is.
  • met die afsterwe van Lord Joel Joffe. Lord Joffe, wat op die ouderdom van 85 jaar oorlede is, was 'n prokureur in die Rivonia- en Little Rivonia-hofsake. Hy het anti-apartheidaktiviste heldhaftig verdedig en 'n enorme bydrae gelewer tot die ontwikkeling van demokrasie in Suid-Afrika.
  • met die mense van Namibië ná die dood van mnr Toivo ya Toivo, 'n revolusionêr in die stryd om vryheid in Namibië en 'n anti-apartheidsaktivis. Die Minister van Kommunikasie, Ayanda Dlodlo, sal die Suid-Afrikaanse regering amptelik verteenwoordig by die begrafnis wat op Saterdag 24 Junie 2017 plaasvind.
  1. Gelukwense

6.1 Die Kabinet wens geoloog Tshiamo Legoale geluk dat sy geskiedenis gemaak het deur die eerste Suid-Afrikaner te wees wat as die FameLab Internasionale Kampioen gekroon word. Sy het dié toekenning gekry vir 'n projek wat 'n metode ondersoek wat koring gebruik om goud uit mynhope te oes. Legoale is 'n begunstigde van een van die regering se beursprogramme en sy het die toekenning onlangs by die Cheltenham Wetenskapfees in die Verenigde Koninkryk ontvang.

6.2 Die Kabinet wens Span SA alles van die beste toe vir die komende 2017 Statebond-jeugspele, wat van 19 tot 23 Julie in Nassau, Bahamas aangebied word. Die spele word elke vier jaar gehou. Tydens die 2015-spele in Apia, Samoa, het Span SA die tweede plek op die medaljetafel behaal, met 'n totaal van 35 medaljes.

Die Statebond-jeugspele bly 'n integrale geleentheid vir ons toekomstige sterre. Span SA is 'n inspirasie vir die jeug om betrokke te raak by sport as 'n manier om hul lewens ten goede te verander.

6.3 Die Kabinet wens die Springbokke geluk met hulle indrukwekkende vertoning op die aanval sowel as die verdediging om oorwinnings te behaal in die laaste twee toetswedstryde teen Frankryk.

6.4 Die Kabinet wens die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, geluk met die ere-Doktorsgraad wat deur die Universiteit van Nova in Portugal aan haar toegeken is.

6.5 Die Kabinet dra sy goeie wense oor aan Moslems in ons land sowel as in ander dele van die wêreld met die vreugdevolle geleentheid van Eid-ul-Fitr aan die einde van Ramadaan. Ramadaan en die viering van Eid-ul-Fitr bied Moslems 'n unieke geleentheid om bande van vriendskap en familiebande onder mekaar en met hul mede-Suid-Afrikaners te versterk.

Navrae:
Me Phumla Williams
Waarnemende Direkteur-Generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore