Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 15 Maart 2017

1. Kabinetsbesluite

1.1. Die Kabinet het die Vorderingsverslae van die Derde Kwartaal se Uitsette oor die tydperk Oktober tot Desember 2016 evalueer. Dit monitor die implementering van die regering se Plan van Aksie ooreenkomstig die bepalings van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk en die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die ministers in die onderskeie groeperings sal, met behulp van die GCIS, mediavoorligtingsessies koördineer om departementele mylpale wat gedurende daardie tydperk bereik is, aan te bied.

Tydens die ministeriële groeperings se voorligtingsessies sal die volgende hoogtepunte uitvoerig bespreek word.

a. Ekonomiese Transformasie

1.2. Ekonomiese transformasie vereis radikale verandering in die produktiewe basis van die Suid-Afrikaanse ekonomie; dit vereis ook 'n verandering in die deelnemingspatrone van voorheen benadeelde mense aan die ekonomie.

1.3. Na aanleiding van die regering se aankondiging dat dit op die medium termyn 100 swart nyweraars sal skep om ekonomiese transformasie teweeg te bring, is 27 swart nyweraars reeds sedert die instelling van die program ondersteun, waarvan nege in hierdie kwartaal.

1.4. Die regering se steun het tot 'n geprojekteerde privaatsektorbelegging van altesaam R956 miljoen, gelei, terwyl 1 053 werksgeleenthede na verwagting geskep sal word. Daarbenewens het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se bruto befondsing vir swart nyweraars vanaf kwartaal een van 2015/16 tot kwartaal drie van 2016/17 altesaam R4.575 miljard bedra.

b. Belegging

1.5. In 'n poging om vertrouensvlakke te verhoog, het die regering deur Invest SA 40 hoë-impakprojekte geïdentifiseer wat gereed is om binne die volgende twee jaar geïmplementeer te word. Steun deur die Departement van Handel en Nywerheid het R4 miljard in privaatsektorbelegging gelok, met die potensiaal om ongeveer 3 614 werksgeleenthede in die kwartaal vanaf September tot Desember 2017 te behou en nuwe werksgeleenthede te skep. Die Dube-handelspoort het privaatsektorbelegging ter waarde van R1.3 miljard gelok, terwyl die OR Tambo Internasionale Lughawe Spesiale Ekonomiese Zone (SEZ)  R260 miljoen in privaatsektorbelegging ingebring het.

1.6. Inisiatiewe vir ekonomiese diplomasie, het die verkope van vervaardigde waardetoegevoegde uitvoere met R247 miljoen verhoog, wat die kumulatiewe totaal vir die jaar op R4.105 miljard te staan bring.

1.7. Direkte buitelandse belegging (FDI) bevestig dat Suid-Afrika steeds 'n voorkeurbeleggingsbestemming bly. Die Q3-toevoegings tot die pyplyn verteenwoordig potensiële FDI van R4.55 miljard, veral in die energie- en chemikalieësektor. Dit bring die totale potensiële FDI op R34.892 miljard te staan. Amptenare werk onvermoeid om hierdie potensiële beleggings 'n werklikheid te maak.  

1.8. President Jacob Zuma sal môre, Vrydag 17 Maart,  Invest SA se Nasionale Eenstopwinkel op die dti-Kampus in Sunnyside, Pretoria, bekendstel.

c. Kleinsakeontwikkeling

1.9. As deel van die implementering van die 30% ‘bestemde kontrakte' van totale verkrygingsbesteding aan KMMO's, het die Nasionale Tesourie die regulasies ingevolge die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid hersien en wysigings in Januarie 2017 geproklameer.

1.10. In die oorsigkwartaal het die Departement van Kleinsakeontwikkeling deur aansporingsmaatreëls ondersteuning gebied aan 1 388 townshipondernemings en 48 koöperasies.

1.11. Die nasionale en provinsiale regerings werk saam om plaaslike nywerheidsparke te laat herleef, ter ondersteuning van bestaande ondernemings en om nuwe ondernemings te lok. Die Komani Nywerheidspark (Oos-Kaap) akkommodeer reeds 30 maatskappye en het 555 mense in diens, terwyl Botshabelo Park (Vrystaat) ongeveer 10 000 mense help om ’n bestaan te maak.

d. Landbou en landelike ontwikkeling

1.12 Hoewel langdurige droogtetoetstande die land sedert 2014 geteister het, het toestande in die vierde kwartaal van 2016 begin verbeter namate goeie reënval nuwe hoop vir die ekonomie gebring het. Dit sal egter 'n hele paar maande duur voordat die positiewe uitwerking daarvan ervaar word. Die onlangse Herfs-kommandowurmplaag in Limpopo hou 'n nuwe risiko vir gewasse in.

1.13 Gedurende die kwartaal is 374 299 hektaar onderbenutte grond op plase ingevolge die Herkapitalisering- en Ontwikkelingsprogram bewerk. Ondanks die droogte is 50% van die voedselproduksiemikpunt bereik, vergeleke met die vorige drie kwartale.

1.14 244 073 mense het by voedselsekerheidinisiatiewe gebaat, insluitend dié wat by gemeenskapsvoeding- en ontwikkelingsentrums kos ontvang het. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het produkte ter waarde van R1 684 238.21 by 43 plaaslike koöperasies verkry, in ooreenstemming met voorstelle vir 75% plaaslike verkryging.
1.15    6 784 179 leerders van 10 300 (kwintiel 1-3) primêre en sekondêre skole het by die Nasionale Skoolvoedingsprogram gebaat. 5 408 diensverskaffers (1 142 gemeenskapsgebaseerde koöperasies, 3 112 KMMO's en 1 154 kleinhandelaars/groothandelaars)  is gekontrakteer om voedselprodukte aan skole te voorsien. 541 121 jeugdiges en 291 304 vroue het by die tussenkomste wat gedurende hierdie kwartaal in die landelike gebiede geïmplementeer is. gebaat.

e. Infrastruktuur

  • Energie

1.16 46 382 huishoudings is aan die nasionale elektrisiteitsrooster of mikroskema-elektrisiteit  gekoppel en 2 116 huishoudings is aan tegnologie wat nie aan die kragrooster gekoppel is nie, verbind. Daarbenewens het 141 191 landelike behoeftige huishoudings toegang tot gratis basiese elektrisiteit verkry. Die konstruksie van die Nwaabe Geïntegreerde Energiesentrum is voltooi.

1.17 Die Departement van Energie het die verkryging van 31 100 sonkraghuisstelsels vir installasie gefinaliseer (beplande jaarlikse mikpunt van 20 000). Installasie sal in die vierde kwartaal begin.

1.18 Die regering het die implementering van die Program vir Onafhanklike Kragprodusente (IPP) voortgesit, met die volgende prestasies: (i) ontsluiting van R201 miljard uit die Hernubare IPP-program; (ii) die hernubares voorsien nou 3 175MW aan die nasionale kragrooster; (iii) die projekinligtingmemorandum vir die gas-IPP is voltooi met die Versoek vir Voorstelle wat voor die einde van die nuwe finansiële jaar uitgereik sal word; en (iv) 900MW is van die steenkool-IPP verkry.

  • Versnelde Skoolinfrastruktuurlewering

1.19  Ter uitwissing van die infrastruktuuragterstand in landelike skole: een skooltoelae is voltooi wat deur die Versnelde Skoolinfrastruktuurinisiatief befonds is, 389 skole het toegang tot water verkry, 57 skole het toegang tot elektrisiteit verkry en 157 skole is van behoorlike sanitasie voorsien.

Daarbenewens is die volgende aan die implementeringsagentskappe toegewys: 293 skoolbouprojekte; 959 skoolwaterprojekte; 535 elektrisiteitsprojekte en 585 sanitasieprojekte.

  • Gesondheidsinfrastruktuur

1.20  Vordering met die uitwissing van infrastruktuuragterstande in gesondheidsfasiliteite sluit in: vordering met die instandhouding van 70 klinieke en gemeenskapsgesondheidsentrums, 18 hospitale en 67 gesondheidsfasiliteite in distrikte waar die Nasionale Gesondheidsversekering geloods word. Drie primêre gesondheidsorgsentrums en drie gemeenskapsorgsentrums is voltooi en vier gemeenskapsgesondheidsorgsentrums word tans gebou.

  • Water en sanitasie

1.21 29 626 huishoudings het gedurende die oorsigkwartaal toegang tot pypwater verkry. Die konstruksie van die Ncora-watersuiweringsaanleg en die pyplyn van Kalahari-Oos na Mier is voltooi; bouwerk by Jozini, Pongolapoort en Gariepdam is byna voltooi. Daarbenewens is 98 waterontwikkeling- en 51 sanitasieprojekte voltooi.

1.22 611 360 huishoudings het toegang tot sanitasiedienste verkry en die sanitasieagterstand by 20 599 huishoudings is deur die Landelike Huishoudelike Infrastruktuurtoelae uitgewis: 1 405 emmers in formeel gevestigde nedersettings is deur toereikende sanitasiedienste vervang.

f.  Onderwys

1.23 Teen die einde van November 2016 – 89% (4 107 uit 4 612) van die Funza Lushaka-gegradueerdes wat geregtig was op plasing in 2016, is in skole geplaas. Dit is 'n verbetering van 2% vergeleke met die vorige kwartaal, en is 4% bó die jaarlikse mikpunt.

1.24 Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders kon die aantal opvoeders wat vir deelname aan die Deurlopende Professionele Onderwyserontwikkelingsbestuurstelsel geregistreer het, tot 6 572 verhoog.

1.25 Sedert die implementering van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se invorderingstrategie, het maandelikse invorderings danksy die verskillende inisiatiewe verhoog; tot op hede is R268.4 miljoen ingevorder, vergeleke met die jaarlikse mikpunt van R285 miljoen.

1.26 Die hersiene Befondsingsraamwerk vir Universiteite is gefinaliseer en daar sal met die universiteitsektor daaroor beraadslaag word voordat dit gepubliseer word.

1.27 14 077 ambagsmanne is deur die Nasionale Vaklui-modereringsliggaam gesertifiseer.

g. Gesondheid

1.28 Voorkoming is die hoeksteen van die openbare sektor se pogings om MIV en vigs te bestry. As deel van MIV-berading en -toetsdienste is altesaam 3 022 988 kliënte vir MIV getoets, vergeleke met die mikpunt van 2 500 000 vir die derde kwartaal.

1.29  221 201 467 manskondome en 6 403 730 vrouekondome is versprei, vergeleke met die mikpunte vir die derde kwartaal van onderskeidelik 150 000 000 en 4 500 000. 155 188 mediese manlike besnydenisse is uitgevoer, vergeleke met die kwartaalmikpunt van 250 000.

1.30 Die suksessyfer vir die behandeling van tuberkulose (TB) by nuwe kliënte was 84,2%, wat hoër is as die derde kwartaal se mikpunt van 84%.

1.31 In die derde kwartaal het 66.3% swanger vroue gesondheidsorgfasiliteite voor 20 weke besoek, wat die kwartaalmikpunt van 63% oorskry.

1.32 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die instelling van die Komitee van Ministers onder voorsitterskap van die Minister vir die Staatsdiens en Administrasie, om bepalings oor bepaalde diensvoorwaardes te oorweeg, soos: jaarlikse salarisaanpassings, salarisskale of -peile, prestasiebonusse, vergoedingsaansporings en pensioenvoordele. Die Kabinet keur ook goed dat 'n implementeringsprotokol vir regeringsonderhandelinge ontwikkel word om 'n deursigtige inter-regeringsproses met toepaslike deelname te verseker.

Dit skep 'n doeltreffende struktuur om werknemers se diensvoorwaardes in verskillende sektore van die staatsdiens met mekaar te belyn en om te verseker dat die begrotings- en breër ekonomiese implikasies in aanmerking geneem word wanneer aanpassings oorweeg word.

1.33 Die regering se Program van Aksie het 'n beduidende aandeel in BBP-groei gehad, soos blyk uit die BBP-syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is. Ter ondersteuning van die Nasionale Ontwikkelingsplan gee die land se Negepuntplan 'n uiteensetting van spesifieke ingrypings wat gerig is op ekonomiese groei en transformasie, werkskepping en om belegging te lok.

Die grootste positiewe bydraers was die handelsektor, en die spyseniering- en akkommodasiebedryf sowel as finansiële, eiendoms- en sakedienste, wat onderskeidelik met 2.1% en 1.6% gestyg het. Elkeen het 0.3 persentasiepunte tot BBP-groei bygedra.

2. Implementering van Regeringsprogramme

2.1 Die Kabinet verwelkom saam met Adjunkpresident Cyril Ramaphosa die volle bekragtiging van die minimumloonooreenkoms soos ooreengekom deur die regering, die arbeidsektor en die sakesektor, onder die beskerming van NEDLAC se Komitee van Prinsipale.

Hierdie bekragtiging is 'n belangrike mylpaal in die proses om die nasionale minimumloon 'n werklikheid te maak, wat die verskynsel van die "werkende armes" sal omkeer en werknemers in staat sal stel om in hul families se daaglikse behoeftes te voorsien. Dit brei ook ons maatskaplike veiligheidsnet na die kwesbaarste lede van ons gemeenskap uit en help ons om 'n meer inklusiewe samelewing te bou.

2.2 Die regering werk daaraan om die geloofwaardigheid van kwalifikasies en die hoëronderwysstelsel te verseker. Die aankondiging deur die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding oor stappe wat teen die houers van vals kwalifikasies geneem sal word, soos vervolging en openbare bekendmaking van die skuldiges se identiteit, sal grootliks daartoe bydra om die toename in kwalifikasievervalsings te stuit.

Aan die einde van Januarie 2017 is altesaam 1 276 kwalifikasies (444 nasionale en 832 buitelandse kwalifikasies) op SAKO se lys van wanvoorgestelde kwalifikasies opgeteken en 78
beëdigde verklarings is aan die Valke vir vervolging oorhandig.

As deel van die regulerende stappe sal SAKO die houers van vals sertifikate se name op sy webtuiste registreer.

2.3. Die Kabinet is verheug dat die regering se nasionale teenkorrupsieblitslyn help om gevalle van bedrog te identifiseer. Teen 31 Januarie vanjaar is 18 778 gevalle na staatsdepartemente verwys en terugvoering is oor 17 249 gevalle ontvang. Negentig persent van al die sake is afgehandel en 3 600 amptenare is tussen 2004 en Januarie 2017 aan wangedrag skuldig bevind.

Die meeste staatsamptenare is eerlik en gaan voort om dienste te lewer en hul werk te doen.

2.4. In nog 'n belangrike teenkorrupsie-inisiatief het die regering stappe gedoen om te verseker dat staatsamptenare belet word om sake met staatsdepartemente of ander staatsorgane te doen. Die oorgangstydperk vir staatsamptenare om hul aktiwiteite ingevolge die 2016-staatsdiensregulasies te verklaar, het op 31 Januarie 2017 ten einde geloop. Teen 1 Februarie 2017 moes alle staatsamptenare wat steeds met 'n staatsorgaan sake doen, hetsy uit hul sakeondernemings of uit hul staatsdienspos bedank het.

Die Departement van Staatsdiens en Administrasie is tans besig om inligting in te win oor staatsamptenare wat versuim het om aan die nuwe regulasies te voldoen. Ná afhandeling van die proses sal dissiplinêre stappe teen die oortreders gedoen word.

3. Belangrike kwessies in die omgewing

3.1. Die Kabinet is opreg spyt oor die angs wat deur onsekerheid oor die betaling van maatskaplike toelaes aan begunstigdes veroorsaak is. Ons is 'n sorgsame regering en ons mense se behoeftes geniet voorrang. Ons werk saam om te verseker dat begunstigdes nie deur hierdie betreurenswaardige gebeure benadeel word nie.

3.2. Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat die kwessie op die hoogste vlak hanteer word. 'n Ministeriële Taakspan is ingestel en bestaan uit die volgende ministers: die Minister in die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering (sameroeper); en die Ministers van Maatskaplike Ontwikkeling; Finansies; Wetenskap en Tegnologie; Binnelandse Sake; Telekommunikasie en Posdienste; en Staatsveiligheid.

Die taakspan se opdrag is om die volgende kwessies te hanteer:

  • Na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak – oorweeg voorstelle met die oog op die versterking van voorwaardes asook gevolgbestuur (onmiddellik) en bepaal 'n toepaslike oorgangstydperk;
  • Verseker die uitbetaling van toelaes vanaf 1 April 2017;
  • Win regsadvies in oor die lewensvatbaarheid van verdere regstappe deur die Staat, veral ten opsigte van onwettige en onreëlmatige optrede waar nodig;
  • Hersien die optrede van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, veral met betrekking tot sy administratiewe en bestuursvermoë en maak aanbevelings;
  • Ontwikkel 'n gebeurlikheidsplan; en
  • Ontwerp 'n omvattende geïnstitusionaliseerde betalingstelsel vir toelaes.

3.3. Die Kabinet erken met waardering die toewyding en professionele diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens asook die magdom boodskappe van ondersteuning en landsburgers wat saamgewerk het om Baba Siwaphiwe Mbambo op te spoor. Dit bewys dat wanneer Suid-Afrikaners saamwerk ons 'n verskil in die lewens van die mees kwesbare mense kan maak.
President Jacob Zuma het die versekring gegee dat die regering sigbare stappe sal doen om misdaad te bestry in die Mhlabuyalingana Plaaslike Munisipaliteit in noordelike KwaZulu-Natal, wat spanning tussen Suid-Afrikaners en Mosambiekers veroorsaak.

Die Kabinet doen saam met die President 'n dringende beroep op die plaaslike gemeenskappe van Mhlabuyalingana en omliggende munisipaliteite van Mkhanyakude, Hlabisa en Jozini om hul vertroue in die polisie te hernu en saam met die polisie te werk om oorgrensmisdaad te bestry, veral ten opsigte van motorkapings in die gebied.

Nasionale departemente, veral die departemente van Polisie; Verdediging; Staatsveiligheid; Binnelandse Sake; Maatskaplike Ontwikkeling en ander, sal na afloop van die President se besoek in samewerking met die provinsiale regering en munisipaliteite daadwerklike stappe doen.

3.4. Hoewel groot dele van die land broodnodige reën gekry het en damme se watervlakke aansienlik verhoog het – sommige selfs tot volle kapasiteit – is die volgehoue droogte in die Wes-Kaap uiters kommerwekkend, ondanks die implementering van waterbesparingstrategieë.

Samesprekings tussen die nasionale- en provinsialesektordepartemente asook munisipaliteite duur voort in 'n poging om die negatiewe uitwerking sover moontlik te beperk.  Water bly 'n skaars hulpbron in Suid-Afrika en alle watergebruikers – huishoudelik en kommersieel – word dringend versoek om water doeltreffend te gebruik.

3.5. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma sy gelukwense aan President Nana Addo Akufo-Addo van die Republiek van Ghana oor met die mylpaalviering van Ghana se 60ste onafhanklikheidswording op 6 Maart 2017.

3.6. Die Kabinet dra ook saam met die Minister van Kommunikasie sy gelukwense oor aan die Suid-Afrikaanse nasionale wenners van die SADC-mediatoekennings.  Die toekennings erken uitnemendheid in joernalistiek en moedig mediapraktisyns in lidlande aan om streekskwessies te dek ter bevordering van streeksintegrasie en -samewerking. Die Suid-Afrikaanse media word uitgenooi om hul inskrywings vir die 2017 SADC-mediatoekenningskompetisie voor die sluitingsdatum op 20 Maart 2017 in te handig.

3.7. Die Kabinet is ingelig oor die vordering met en voorbereidings vir die O.R. Tambo Eeufeesvierings vir 2017 met die tema: “Die Lewe en Nalatenskap van O.R. Tambo”. Die jaarlange landswye program van bewustheidskepping, opvoedkundige, feestelike en vereringsaktiwiteite kulmineer in die volwaardige eeufeesvierings op 27 Oktober 2017, en eindig vroeg in Desember 2017 met 'n musiekhuldeblyk by die Wild Coast Casino, te Mbizana. Hierdie jaarlange nasionale aktiwiteite herbevestig die betekenisvolle rol wat O.R. Tambo in die stryd om vryheid en die bereiking van vryheid en demokrasie gespeel het.

Alle nasionale en herdenkingsdae vir 2017 sal as platforms vir die O.R. Tambo Eeufeesvierings gebruik word. Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore om hul programme en inhoud met die tema en doelwitte van die O.R. Tambo Eeufeesvierings te belyn.

4. Gelukwense

4.1. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Minister van Omgewingsake‚ Edna Molewa‚ met haar aanstelling as die eerste Kanselier van die Makgatho-universiteit vir Gesondheidswetenskappe.

4.2. Die Kabinet loof die vyf jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat deur die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika genomineer is, wat saam met 400 ander jong wetenskaplikes uit 76 lande gekies is om vanjaar aan die 67ste Lindau Nobelpryswennersvergadering in Lindau, Duitsland, deel te neem. Hulle is dr Hlamulo Makelane, Universiteit van die Wes-Kaap; Frederick Malan, Universiteit van Pretoria; Funeka Nkosi, Universiteit van die Witwatersrand; Retha Peach, Noordwes-Universiteit, and dr Mark Williams-Wynn, Universiteit van KwaZulu-Natal. Die vergadering sal van 25 tot 30 Junie 2017 plaasvind, en 31 pryswenners sal na verwagting daaraan deelneem.

4.3. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die span uitsluitlik vroulike navorsers van die Universiteit van Kaapstad, saam met Gasnat Shaboodien en Sarah Krause, en navorsers uit Italië wat die hartaanvalgeen ontdek het. Hierdie ontdekking is ’n mediese mylpaal wat oor die potensiaal beskik om elke jaar honderde hartverwante sterftes te voorkom.

4.4. Die Departement van Sport en Ontspanning Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens was die gesamentlike wenners van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad se Veeltaligheidstoekenning in die Regering/Staatsdienskategorie. Hulle het hierdie eerbetoon ontvang ter erkenning van hul daadwerklike pogings om veeltaligheid in Suid-Afrika te bevorder.

4.5. Die kommissievoorsitterskap van die Afrika-unie is deur dr Nkosazana Dlamini-Zuma aan Moussa Faki Mahamat van Tsjad oorhandig. Die Kabinet wens hom alle sukses vir die toekoms toe.

4.6. Die Kabinet wens Amajita geluk met hul prestasie by die Onder-20 Afrika-Sokkerkampioenskap, in Zambië. Hulle het die halfeindstryd gehaal en sodoende Suid-Afrika se plek by die 2017 FIFA Onder-20 Wêreldbekerkampioenskap in Suid-Korea verseker.

5. Meegevoel en Beterskapwense

5.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van diegene wat geliefdes verloor het in die brande wat Kaapstad se informele nedersettings vernietig en duisende mense haweloos gelaat het.

Die regering het twee markiestente opgerig waar mense wat sekuriteitsdokumente verloor het, kan registreer. Vir mense wat ontwortel is, bied vier sale huisvesting waar basiese lewensnoodsaaklikhede soos water en kospakkies beskikbaar sal wees.

Verskeie staatsdepartemente het ingegryp om ondersteuning en dienste te bied om die negatiewe uitwerking op gemeenskappe sover moontlik te beperk.

Die Kabinet bedank hulpverleningsorganisasies en vrywilligers wat met noodlenigingswerk in die omgewing help.

5.2. Die Kabinet wens ook die anti-apartheidsveteraan Winnie Madikizela-Mandela alles van die beste toe tydens haar hospitaalbehandeling, en doen 'n beroep op die volk om haar en haar familie in hul gedagtes en gebede te hou.

5.3. Die Kabinet wens saam met President Jacob Zuma die vryheidstrydveteraan Ahmed Kathrada 'n spoedige herstel toe. Hy is een van ons drie oorlewende Rivonia-verhoorbeskuldigdes en ons doen 'n beroep op die volk om hom en sy familie in hierdie moeilike tyd in hul gedagtes en gebede te hou.

Navrae:
Mnr Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore